Читать книгу Sê groete vir pappa - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

Met ’n behaaglike sug sak hy in die leunstoel neer wat hy die afgelope twee jaar al as “sy” stoel begin beskou het – dis nou saans ná nege wanneer Sonop-kinderhuis tot ruste kom.

Die vrou wat oorkant hom plaasneem, glimlag begrypend. “Dit het maar ’n bietjie rof gegaan die afgelope twee dae, nè? Maar die ergste is darem nou verby. Van môre af sal dinge weer in roetine kom.”

“Ja. Dis maar altyd ’n bietjie soos ’n malhuis met die nuwe innames voordat die skooljaar begin. Dit kan in elk geval nie doller gaan nie, Sonop bars klaar uit sy nate.” Sy glimlag verdwyn en sy sien die skemering van ’n diepgewortelde hartseer in die grys oë. “Dit is en bly ’n tragedie dat die kinderhuise van ons land altyd oorvol is. Ek sou dat hierdie plek vanaand dolleeg kon gewees het …”

Sy knik instemmend, maar laat tog met ’n sagte glimlag hoor: “En jy sou totaal verdwaal en verlore gewees het, meneer Vos!”

Die somberheid in hom verlig en hy grinnik skeef. “Ja. Dit is so. Maar van die kinders se kant gesien …”

“Ek weet, Reino. Maar laat ons liewer na die ligter kant kyk, en die Here dank dat daar sulke plekke is waarheen ouerlose, verwaarloosde en mishandelde kinders hulle kan wend.”

“Natuurlik. Ek dank God elke dag vir Sonop … en nie net om die rede wat jy aanvoer nie. Ek dank Hom ook dat daar vir mý ’n Sonop was.” Hy verander dadelik die trant van die gesprek, wend ’n merkbare poging aan om ’n ligter toon te verkry. “Vertel my liewer van jou vakansie op die plaas. Wat het julle alles aangevang?”

Sy volg sy voorbeeld en laat vroliker hoor: “O, ek het geëet en geslaap, geëet en geslaap en weer geëet en geslaap. Kan jy dit nie duidelik sien nie?”

Hy glimlag, laat sy blik vlugtig oor haar gly. “Ja, jy sien daar goed uit, maar dit pas jou. En Edna?”

“Is tot in die afgrond bederf deur haar ouma en oupa, en as sy nie op die perd se rug was nie, was sy in die plaasdam. Sy lyk soos ’n blinkgevryfde kopersent. Terloops, my pa en ma laat weet baie groete en vra wanneer jy dan op ’n dag vir hulle kom kuier.”

“Dankie. Daardie welaangename dag sal nog aanbreek.”

“En jy? Wat het jy met jou vakansie gedoen? Weer net gestudeer?”

“Nee. Ek het ’n paar voetslaanpaaie gaan verken. Dit was baie aangenaam. Maar ek is ook bly om terug te wees.”

Hul oë ontmoet in volle begrip. “Ja. Ek ook. Het ek jou al ooit dankie gesê dat jy my destyds oorreed het om hierheen te kom? Dan doen ek dit vanaand, Reino. Baie dankie. Dis nie net gebroke kinders wie se lewens weer sin kry in Sonop nie. Dit het aan my lewe ook weer sin gegee … en rigting.”

Hy knik. “Ek weet. Aan myne ook.”

Sy staan op. “Ek gaan maak vir ons tee.”

Toe sy uit is, bly sy gedagtes besig met haar laaste woorde. Ja, Rita Venter was nie sommer dadelik bereid om as een van die tien huismoeders op Sonop in te val nie. Sy het allerhande verskonings gehad. Sy het nie ’n man nie. Hulle wil tog seker ’n huismoeder én -vader hê? Nie noodwendig nie. Daar bly van tien tot twaalf kinders in so ’n wooneenheid, óf seuns, óf meisies. Sy kan meisies kry en dan is ’n huisvader nie ’n absolute vereiste nie. Maar sy weet niks van kindersielkunde en daardie geleerde goed af nie. Nie een van die ander huismoeders het grade in sielkunde nie. Maar hoe sal sy weet of sy die kinders reg hanteer? Sy het geen kennis van probleemkinders nie. Elke moeder weet hoe om kinders te hanteer – en sy is ’n moeder, ’n baie goeie moeder vir haar dogter. En daar is nie probleemkinders in Sonop nie. Hulle is almal eintlik doodnormale kinders met net een ongelukkige nadeel: probleemouers. As hulle nie probleemouers gehad het nie, sou hulle nie in Sonop gewees het nie. En elke probleem wat mag opduik wat vir haar onhanteerbaar word, kan met hom persoonlik bespreek word en ook op die weeklikse vergaderings van huisouers. Sy sal nie alleen staan nie. Daar is sestien ander mense op die personeel wat haar vier-en-twintig uur van die dag sal bystaan met raad en daad en morele ondersteuning.

Maar sy het nog geskerm, amper kortaf gevra: “Hoe weet jy ek is ’n goeie moeder vir Edna? Jy is jare gelede hier weg, Edna was maar ’n dogtertjie van twee. Jy weet nie …”

“Ek weet, Rita,” het hy haar sag in die rede geval. “Ek het deur al die jare kontak met jou en jou kind behou sonder dat jy dit geweet het. Ek het net altyd goeie rapporte gekry.”

Sy het hom verontwaardig aangekyk. “Rapporte? Oor my en my kind? Wat het dit met jou te doen gehad, dominee Vos?”

“Ek moes net weet hoe dit met jou en Edna gaan. Terloops, ek is nie meer dominee Vos nie. Ek is net Reino Vos.”

Sy het hom verslae staan en aankyk. Al die jare – hoeveel? Elf, twaalf jaar? – het hy hom op die hoogte gehou van hoe dit met haar en haar kind gaan … En skielik was sy weer kwaad, só kwaad soos dáárdie dag. “Ek het jou al tevore gesê jy moet ophou om jou as ’n skuldige party in hierdie saak te sien. Jy is onskuldig, soos ek onskuldig is. Dis die ander twee wat die skuldige party is.”

Sy stem het kalm en bedaard gebly. “Ons sal nie nou ingaan op wie skuldig en wie nie skuldig is nie, Rita. Maar of jy daarvan hou of nie, ek voel tog ’n verantwoordelikheid teenoor jou.”

“Jy hoef niks teenoor my te voel nie, dominee … e … meneer Vos. Jy skuld my en my kind niks, totaal niks. En ek soek nie werk nie, ek hét werk.”

“Ek weet. Jy is nog al die jare by die prokureur. Ek soek nie vir jou werk nie. Ek soek ’n goeie moeder vir twaalf moederlose dogtertjies. Ek vrá jou of jy my nie asseblief sal kom help nie. Asseblief, Rita. Hulle het ’n ma soos jy nodig.”

Haar teenstand het begin verkrummel. Daardie grys oë was so sag, so pleitend. “Maar jy kan hope vroue kry wat beter as ek …”

“Nee, jy het dit mis. Prokureur De Bruin kan hope tiksters kry wat net so goed sy briewe sal kan tik soos wat jy dit doen. Maar dit vra ’n baie spesiale soort vrou om ’n moeder vir twaalf hartseer, geskokte, ontwrigte dogters te wees. Daardie soort kry jy nie agter elke bos nie.”

Sy het skielik weerloos gevoel. “En jy dink ek is só ’n vrou? Ek, ’n vrou wat te sleg was om haar man te behou?”

Sy gelaatstrekke het nie getoon dat haar woorde die mes ook in sy hart omdraai nie. “Ek weet jy is.”

Sy het haar vinnig van hom weggedraai, gedemp gesê: “Jy het ’n wanindruk van my … e …”

“Reino.”

“Goed dan, Reino.” Sy het teruggeswaai, hom vas in die oë gekyk. “Weet jy hoekom is ek nooit weer getroud nie?”

“Jy sal jou redes hê en dit het niks …”

“Daar is net een rede, Reino. Omdat ek myself nooit sover kon kry om ’n man weer te vertrou nie. Ek sál dit ook nie weer regkry nie. Want is ek nie veronderstel om daardie kinders weer vertroue in die lewe, in hulself en in hul medemens te gee nie? Sal dit nie ook een van my take as huismoeder wees nie?”

“Beslis. ’n Baie belangrike deel van jou taak. En nou is ek nog meer oortuig dat jy in Sonop hoort.” Hy het die verwarring in haar oë gelees, ’n tree nader gegee en haar hande in syne geneem. “Dit het al so dikwels in die lewe gebeur, liewe vrou, dat terwyl jy ander probeer help, jy jouself ook help. Terwyl jy ander genees, genees jy self. Dit het met my gebeur.”

Vir laas het sy nog teengeskop. “Ek weet nie of ek graag genees wíl word nie, Reino. Dis … makliker om te voel soos ek nou voel. As jy anders voel, kry jy net weer seer.”

“Seerkry is deel van die lewe, Rita. Jy het jou hart gesluit, gesweer jy sal nooit weer ’n man vertrou nie, en so gaan jy keer dat jy nie weer seerkry nie. Maar op ’n duisend ander maniere kry ’n mens seer. Jy gaan vorentoe nog baie seerkry, want jy het nog lief. Daar is jou ouers, jou familie, jou kind, vriende … en jy is lief vir hulle. Op ’n dag gaan een van hulle jou seermaak, want hulle is mense en mense maak seer. Jy het geen sê in die seerkry wat wag nie, Rita. Waar jy wel ’n keuse het, is in die hantering van hierdie seerkry … wat dit van jou maak. Die enigste verweer wat die mens het teen seerkry, is om op te hou liefhê en …” Hy het sy kop geskud, vir haar geglimlag. “En geen mens kan dit regkry nie, nie eens jy nie, Rita. Daar sal altyd iemand wees vir wie jy lief is.”

Haar mond het oopgegaan om hom te sê hy kan maklik praat. Wat weet hy van die verskriklike vernedering van destyds, die verskriklike verlange; om in jou kind se oë te kyk en nie haar vrae te kan beantwoord nie? Toe het haar mond weer toegeklap by die besef hierdie man wéét waarvan hy praat.

Sy stem het haar teruggeruk uit die bitter verlede. “En dis wat ek jou vra om die kinders in Sonop te kom leer, Rita, asseblief. Daardie kinders wat in hul kort lewetjies op aarde alreeds hul kwota aan smart en seerkry ontvang het, moet jy kom leer dat enige smart, enige hartseer, hoe diep dit ook al sny, deur God se genade verwerk kan word.”

Sy kyk nou na hom waar hy so rustig sy koppie tee sit en drink. Daardie gesprek het twee jaar gelede plaasgevind en hier sit sy vanaand saam met hom in Sonop en bedank hom daarvoor. Want hy was reg. Nie dat dit maklik gegaan het nie. Daar was tye dat sy hiervandaan wou wegloop, sommer in die nag wou wegloop. Tye dat sy gedink het sy kan nie ’n dag langer bly nie, want hier kry ’n mens te veel en te baie seer. En sy hét mos haar deel van seerkry gehad, dan nie? Dan was sy in opstand teen Reino Vos omdat hy haar oorreed het om hierheen te kom. Sy het haar eie hartseer. Sy kan nie ander nog aan húl hartseer ook help dra nie …

Tye wanneer Reino met ’n dogtertjie aan die hand in haar “huis”, soos sy haar eenheid in Sonop begin noem het, se voordeur verskyn, sy stem gemoedelik soos almal dit ken.

“Tannie Rita, dis klein Betsie. Sy is vier jaar oud. Sy kom nou by jou bly.”

En dan kyk sy af na die dogtertjie, sien met oë wat reeds ervare geraak het al die tekens raak. Die groot, bang oë soos dié van ’n diertjie wat elke oomblik verwag om geskop te word. Die handjie wat oom Reino se groot hand so krampagtig vasklou. Die strak gesiggie. Die te maer armpies en beentjies, die haasbang hartjie wat sy byna letterlik onder die dun materiaal van haar verwaarloosde rokkie kan sien klop …

Reino se stem as sy vorentoe buk om die bondeltjie gekonsentreerde vrees in haar arms te neem en teen haar warm hart aan te druk: “Jy moet haar handjie vat.”

Haar oë wat opruk na syne … en sy lees in sy oë wat hy nie in woorde wil sê nie: Die lyfie is te seer om vasgedruk te word, Rita.

En dan, wanneer sy die klein, naakte liggaampie in die badkamer versigtig afspons, is daar ’n vreeslike pyn in haar. As sy die geel-blou kolle en die rowe behandel, huil sy na binne.

Eers wanneer die kleintjie veilig in die bed lê, die lang wimpers oor die bleek wangetjies, dan besluit sy weer: Môre … môre bedank ek. Maar so het twee jaar se môres al verbygegaan … en sy is nog hier.

Hy staan met ’n klein glimlaggie op. “Dis tyd om bedwaarts te keer.”

Sy spring skuldig op, besef verleë dat dit al ’n lang tyd stil is tussen hulle. “Ek is jammer. My gedagtes het ’n bietjie gedwaal.”

“So het ek gesien.” Sy stem is goedig. “Daar is altyd baie om ’n mens se gedagtes besig te hou aan die begin van ’n nuwe jaar.” Hy beweeg deur toe. “Jy is gelukkig om jou ou klomp so te sê almal terug te hê.”

Sy knik. “Ja. Dit was heerlik om al die ou gesiggies weer te sien. En almal het lekker gekuier by hul vakansie-ouers. Klein Betsie is behoorlik bederf. Sy het hier aangekom met die grootste slaappop wat ek nog gesien het en ’n tas vol splinternuwe klere.”

Hy knik, glimlag effens. Hy was maar ongewild toe hy aan die einde van verlede jaar geweier het dat Betsie saam met Rita en Edna plaas toe gaan. Hy weet Rita het effens seergemaak gevoel en hy weet sy verduideliking is nie ten volle aanvaar nie.

Reino Vos is ’n sagte mens, maar hy kan ook standpunt inneem as dit moet, en as daar reguit gepraat moet word, kan hy dit ook doen. Hy het nie doekies omgedraai nie.

“Ek weet Betsie sal heerlik saam met julle kuier, maar dis nie net ’n lekker vakansie wat op die spel is nie, Rita. Die Noltes is potensiële aanneemouers, soos jy goed weet. Dis Betsie se toekoms wat in die gedrang is.” Hy het die neergeslane ooglede gesien en met groot deernis voortgegaan: “Jy weet dat jy eendag van haar sal moet afskeid neem.”

Rita het haar gesig weggedraai, haar swemmende oë probeer verberg, maar haar stem het haar verraai: “Ek weet, en dis nie dat ek Betsie wil terughou nie … Dis net … sy is baie spesiaal vir my.”

“Ek weet. So spesiaal soos elkeen van jou kinders. Jy huil elke keer jou oë uit jou kop wanneer een weggaan. Jy sal dit weer doen wanneer Betsie moet gaan. En jy gaan dit nog baie in die toekoms doen, want jy kry seer om hulle te sien gaan. Maar watter wonderlike seer en watter wonderlike trane is dit nie, ’n seerkry wat uit liefde gebore is en trane wat vloei omdat jy liefhet. Miskien verstaan jy vandag beter wat ek daardie dag bedoel het toe ek jou gevra het om hierheen te kom.”

Sy het gesnuif, vinnig haar hand oor haar oë gevee, na hom opgeglimlag. “Ja, ek verstaan vandag presies wat jy bedoel het. Al maak dit seer om hulle te sien gaan, bly ek dankbaar dat hulle vir ’n tydjie, toe hulle my werklik nodig gehad het, myne kon wees.”

“Jy het ’n ver pad gekom, Rita.”

Hy draai na haar toe hulle buite op die stoep kom en saam kyk hulle na Sonop se huisies wat so vreedsaam in die nagkoelte om hulle lê. Sy sug diep, behaaglik. “Dis lekker om terug te wees,” herhaal sy.

“Ek is bly jy voel so. Nag, Rita.”

Onverwags, baie vlugtig, raak sy lippe rakelings aan haar voorkop. Sy staan doodstil, ongelowig, maar toe hy weer praat by die onderpunt van die trap, vertel sy stemtoon haar niks meer as gewoonlik nie.

“Terloops, ek het amper vergeet om dit te noem … Jy kry môre nog ’n kind. Madelyn le Roux. Dertien. Ek sal jou môreoggend die besonderhede kom gee.”

Sy kyk hom agterna totdat hy uit sig verdwyn, bly dan op die stoep staan, haar gedagtes weer na binne gekeer. Vir die eerste keer in die twee jaar wat hulle so intiem saamwerk, was daar ’n persoonlike gebaar van sy kant af. Beteken dit iets?

Sy kan nie sê wanneer die verandering by haar ingetree het nie. Veertien jaar lank het sy haarself vertel sy sal nooit weer ’n man vertrou nie. Maar hier in Sonop het sy weer leer vertrou … genoeg om weer lief te kry. Dit was ’n skok om dit op ’n dag aan haarself te erken: Sy vertrou weer ’n man – soveel dat sy hom liefhet en drome oor hom droom. Maar die man het geensins getoon dat sy vir hóm iets meer beteken as die ander huismoeders van sy kosbare kinderhuis nie. Sy het dikwels gewonder of dit dalk sy self is wat enigiets wat miskien kon ontwikkel het, daardie dag in die kiem gesmoor het toe sy hom so verbitterd verseker het dat sy nooit weer in haar lewe ’n man sal vertrou nie.

Wat haar ’n bietjie moed begin gee het, is die feit dat hy tot drie keer ’n week in die aand kom kuier. Die geselskap draai meestal om die kinders, maar dit het haar tog laat hoop kry dat Reino Vos ook begin moeg word vir die alleenpad wat hy nou al soveel jare stap. Op ’n dag moes sy egter uitvind dat dit maar sy gewoonte is om soms saans by ’n huis of twee in te val. Die feit dat hy haar meer dikwels besoek, moet sy liewer in die regte perspektief sien: Die ander huise het almal huismoeders én huisvaders, sy is vrou-alleen.

En vanaand soen hy haar die eerste keer … Wat lê daaragter? Was dit omdat hy so na haar verlang het soos sy na hom? Het hy haar gemis soos sy hom gemis het? Of was dit maar net ’n gebaar van sy kant teenoor ’n konsensieuse huismoeder op wie hy geleer het om te vertrou en op wie hy dikwels swaar steun? Soos nou ook met die geval Madelyn le Roux? Hy het geneig geraak om dogters by wie hy probleme verwag, by haar te plaas.

Sy sug en stap na binne. Sy is nie die soort vrou wat ’n man openlik kan wys dat sy vir hom omgee nie. Met Reino sal dit vir haar haas onmoontlik wees, veral ná alles wat sy destyds teenoor hom kwytgeraak het. Die eerste beweging sal van sy kant moet kom. Was daardie vlugtige soen vanaand dít? Sy moet glimlag toe sy bewus word van die klop van haar hart, van ’n vae, dowwe pyn. Om lief te hê is om seer te kry … en sy kry vanaand weer seer … maar wat ’n wonderlike seer! Tog … tyd gaan so vinnig verby … Sy was agtien toe sy getroud is. Sy was pas negentien toe Edna gebore is. Edna was twee … sy is nou amper sestien. Oor ’n week sestien. Dis byna veertien jaar … Sy is nou vyf-en-dertig. Reino is ses-en-veertig. Die jare stap aan …

Sy draai by ’n kamer in, skakel die lig aan, laat haar blik krities ronddwaal. Sy gaan môre hierdie kamer mooi regmaak vir Madelyn le Roux.

Sê groete vir pappa

Подняться наверх