Читать книгу Sê groete vir pappa - Ena Murray - Страница 5

3

Оглавление

Ook Rita Venter lê met haar hande agter haar kop in haar bed en staar na die maanverligte venster.

Dit was nie net Reino wat ’n brief gekry het nie. Sy het ook een gekry. Twee dae nadat Flip na die simposium toe vertrek het, was dit in haar posbus.

Op pad posbus toe het sy juis loop en wonder oor tant Stinie se vreemde oproep … of sy dalk weet waar mevrou is. Sy het gedink Chrisma is saam met haar man Kaap toe, maar blykbaar is sy nie. Eers toe sy die brief gelees het, het sy begin verstaan hoekom Chrisma Vos nie opgespoor kon word nie.

“… gaan nie simposium toe nie. Ek verander van werk. Ek pos saam met hierdie brief my bedankingsbrief aan die firma. Hulle skuld my nog verlof. Hulle kan dit beskou as my bedankingsmaand. Wat ek eintlik wil sê, Rita, is dat ek nie weer terugkom nie. Ek weet dis vreeslik om dit so blatant te stel, maar ek het op Chrisma Vos verlief geraak en ons twee gaan saam weg. Ek is jammer dat dinge so uitgedraai het, maar dit het net gebeur. Alles wat daar by jou agterbly, kan jy kry. Ek sal jou later deur ’n prokureur laat weet waar ek my bevind. Ek sal natuurlik vir die egskeiding betaal. En natuurlik ook onderhoud vir Edna. Jammer dat jy per brief van hierdie verwikkelinge moet uitvind, maar as ek jou self moes vertel, sou dit net groter onaangenaamheid meegebring het. Histerie sal sake nie verander of verbeter nie. Gee vir Edna ’n soentjie vir my. Jy sal my nie nou glo nie, maar ek is baie lief vir haar. Moenie dink dit was ’n maklike besluit nie. Flip.”

Stukkie vir stukkie, soos ’n roofvoël sy prooi uitmekaarskeur en dan insluk sodat dit deel van sy wese word, het sy die brief sin vir sin ontleed; ingeneem sodat elke letter soos ’n ysterklip êrens in haar gaan lê het – tot dit ’n berg ysterklippe in haar was.

Sy het gegryp na ’n strooihalm: Die brief is ’n siek grap … Maar nee, hierdie weglopery saam met Chrisma Vos is lankal beplan. Hy het al klaar ander werk! Lankal … lankal was hy besig om reëlings vir ’n nuwe toekoms saam met die predikantsvrou te tref … terwyl hy saam met haar gebly het. Terwyl hy haar man was, Edna se pa. Maar hy probeer vergoed. Hy gee haar alles wat hier agterbly, alles wat hy nie in een tas kon kry nie. Die huis, die meubels, alles wat hulle vyf jaar lank bymekaargemaak het, ook die kind wat hulle saam gemaak het. Sy kan maar alles vat. Hy het wat hy wou hê – die dominee se vrou. En hy dink dit is beter dat sy per brief van hierdie ding hoor! Histerie is seker die minste wat haar gegun kon word?

Nee, besluit sy, dis beter dat sy hiervan uitvind terwyl sy stoksielalleen is en haar tong stom in haar mond lê. Sy buk af, tel haar kind op wat so rustig op die mat voor haar voete speel, kyk in die onskuldige ogies en soen haar. Dis ’n soentjie van jou pappa, my klein liefling. Dis ’n soentjie van jou pappa wat weggeloop het.

En toe was daar die oomblik toe Reino Vos voor haar verskyn het. Daardie berg van ysterklippe was soos ’n latente vulkaan. Dit het gemaal, gekolk, geprut en haar van binne af verteer. Toe sy Reino Vos voor haar sien staan, het die vulkaan oorgekook, het die giftige gas en verterende lawa oor hom gestroom.

Sy het eerste gepraat. “Moenie so skuldig lyk nie, dominee! Nie jy, óf ek, hoef skuldig te lyk óf te voel nie. Dis nie óns wat skuldig is nie. Dis nie jý wat ’n ander man se vrou afgerokkel het nie. Dis nie ék wat soos ’n dief in die nag met ’n ander vrou se man uit die dorp weggesluip het nie.” Hy het net daar gestaan, haar stom staan en aankyk … en sy kon rasend word. Rasend van woede teen Chrisma Vos wat haar man se oë só kon laat lyk, soos dié van ’n skuldige hond. Rasend van bitterheid teen Flip Venter wat hierdie afgryslike ding aan haar en aan haar kind gedoen het. Rasend van jammerte vir Reino Vos, vir haarself, vir haar kind. En sy het soos ’n viswyf begin tier: “Dis húlle wat skuldig is, veral jou vrou. Sý is die skuldige. Dis sý wat nie haar plek geken het nie! Die dominee se vrou – dié een wat ’n voorbeeld moet stel van hoe ’n Christen behoort te lewe. Dis sy wat die oorsaak is van alles, want as sy geweet het hoe om haar te gedra, sou hierdie ding nie gebeur het nie. ’n Man kan net só ver gaan as wat ’n vrou hom toelaat, dominee. En ’n man sal altyd te ver wil gaan. Maar sy, sý wat ’n predikantsvrou is …”

“Maar ’n predikantsvrou is ook net ’n mens, Rita. Sy …”

“Hoe durf jy haar nog verdedig? Jy het geen reg om haar te verdedig nie! Jy moet haar veroordeel soos jy elke ander vrou sou veroordeel het as sy so iets gedoen het. Of is daar een stel reëls vir die gemeente en ’n ander stel vir die pastorie? Is julle verhewe bo die wette wat jy Sondag vir Sondag in jou gemeente se kele afdruk?”

“Rita …” Sy stem het so moeg, so verskriklik moeg geklink. “Jy is nou onredelik en baie bitter …”

“Ja, ek is. Galbitter en wat daarvan? Want ek, dominee, is ook net ’n mens, ’n baie doodgewone mens. Ek is nie eens ’n pastoriemoeder nie. Ek is net ’n moeder … met ’n kind wat nou sonder ’n pa sit. ’n Kind wat my in die oë kyk en vra: Waar is Pappa, Mamma? En ek is nie ’n engel nie, dominee Vos. Ek is ’n sondaar. Want weet jy wat doen ek dan, wanneer my kind my daardie vraag vra? Ek lieg vir haar. Ek lieg vir haar terwyl ek vas in haar kinderogies kyk en ek sê vir haar: ‘Pappa werk, my skat. Hy kom later huis toe.’ En ’n Christen doen dit nie. Jy lieg nie. Jy sê reguit vir jou kind: Jou pa het weggeloop met tannie Dominee. Hy kom nie weer terug na ons toe nie.”

Sy het hom van haar sien wegdraai asof hy die kastyding nie langer kon verduur nie. Daar was ’n rukkerigheid in die breë skouers en sy het nie geweet of dit senuwees of snikke was nie. Sy het haarself skor hoor sê: “Ek is jammer. Ek … raas nou teen jou … Jou vrou dink nou sy het die engel aan die vlerk beet. Maar sy het nie. Daar wag vir haar ’n groot ontnugtering, dominee. Sy is nie die eerste een en sy gaan ook nie die laaste wees nie. Ek sal my lewe daarop verwed. Hy was tevore al ontrou, maar het darem nie vir my en Edna weggegooi nie.”

Sy het hom sien aanstap deur toe, en sonder om na haar terug te draai, het hy hees gesê: “Ek … sal later weer kom. Tot siens.”

En toe hy weg is, het sy gehuil – gehuil soos sy nie gedink het ’n mens kan huil nie – en die helfte van haar trane was vir Reino Vos.

Sy het skielik besef dat sy ’n ekstra las op die jong man se skouers gelaai het. Dit wat gebeur het, was swaar genoeg om te verwerk. Maar nou het daar nog iets bygekom: Kommer oor die toekoms wat sy vrou vir haarself geskep het. Die wete dat Chrisma ’n man gekies het met ’n dwalende oog en dat daar geen sekerheid op geluk saam met hom wag nie; die vrees dat sy op ’n dag haar eie medisyne gaan terugkry en gaan uitvind hoe bitter dit werklik is.

Rita spring uit die bed, stap kombuis toe. Miskien sal ’n glas warm melk help om haar gedagtes onder beheer te kry en die ontwykende slaap hok te slaan.

“Wat makeer, Ma?” Edna staan in die deur, half deur die slaap. “Hoekom slaap Ma nie?”

“O, ek … ek het sommer lus gekry vir ’n bietjie warm melk. Wil jy nie ook hê nie?”

“Nee, dankie.” Die jong oë is skerp. Sy ken haar ma. Sy ken daardie uitdrukking in haar oë, daardie stem wat so half gejaag klink, net té nonchalant. Dis weer een van dáárdie tye wanneer haar ma uit die bed opstaan en begin huis skoonmaak, of kaste regpak, of ontelbare koppies tee of glase warm melk drink. Sy het met sulke tye grootgeword. Eers nie verstaan nie, later geweet waaroor dit gaan. “Ma, hoekom gaan ons nie hier weg nie? Weg van Sonop nie?”

Rita kyk vinnig op van die glas melk, eerlik verbaas. “Hoekom? Is … is jy nie gelukkig hier nie? Ek het dan gedink …”

“Ek is gelukkig hier, Ma. Ma weet dit. Dis beter as dat ons … net ons twee alleen in ’n huis bly. Maar ek weet nie of dit so goed is vir Ma nie.”

Rita sit die glas stadig neer. Haar dogter het ongemerk grootgeword. Sy is amper sestien, ’n klein grootmensie wat dinge begin raaksien en bevraagteken. Sy het nog altyd geglo dat dit tot Edna se voordeel was toe hulle twee jaar gelede hierheen gekom het. Edna het die kans gekry om in te sien dat hoewel sy sonder ’n pa grootgeword het, daar erger dinge in die lewe kan wees.

“Vir my? Wat bedoel jy?”

“Hou Sonop nie die verlede te lewendig nie, Ma?” kom die reguit vraag en met die ondeurdagte roekeloosheid van die jeug vervolg sy: “Oom Reino … Elke keer dat Ma hom sien, onthou Ma. Dis waar, nè? Ma kom nooit los van wat destyds gebeur het nie. Dis altyd dáár. Ek is seker Ma sal weer ’n goeie huwelik kan doen, as Ma nie gedurig herinner word aan wat destyds gebeur het nie.”

Rita staan verslae. Dit was nie sy wat haar kind in detail vertel het wat destyds gebeur het nie. Teen die tyd dat sy gedink het dis tyd dat sy Edna oor die besonderhede behoort in te lig, het Edna dit reeds by die skool gehoor. Sy onthou daar was trane in haar kind se oë toe sy haar vertel het van ’n misverstand tussen haar en ’n skoolmaat wat haar hou ingekry het: “Wie is jý om jou te wip? Jou pa wat met die dominee se vrou weggeloop het!” Rita wou die ergste seerkry afweer, maar het nie geweet hoe nie. “Is dit waar, Ma?” het haar kind gevra.

“Ja, my kind. Dis … waar.”

Edna wou daarna nooit weer daaroor praat nie, maar die moeder het geweet êrens in haar kind is ’n pen ingeslaan wat vir die res van haar lewe sou seermaak. Sy sien nou daardie seerkry in haar kind se oë.

“Ma weet dat oom Gerrie baie van Ma gehou het, maar toe gee Ma pad Sonop toe. As ons daar gebly het, was Ma en oom Gerrie al getroud teen hierdie tyd.”

“Maar ek wíl nie weer trou nie!” Sy klap haar mond vinnig toe. Dis nie heeltemal waar nie. Sy het die afgelope tyd weer in daardie rigting begin dink, maar nie aan Gerrie Jonk nie …

“Hoekom nie? Op oom Gerrie se jare loop ’n mens nie so maklik weg met elke mooi gesig wat jy sien nie.”

“Edna …” Rita soek ’n stoel. Die gesprek het totaal hand uitgeruk.

Maar haar dogter het besluit vanaand is die aand vir reguit praat. Dit is vir Rita ’n skok om te ontdek wat haar dogter al raakgesien het. “Dis oom Reino, Ma. Dis hý wat Ma weghou van ’n verhouding met ’n goeie man.”

“Is nie …” Sy swyg weer vinnig. Is dit nie?

“Oom Reino sal nie weer trou nie, Ma.”

“O?” Sy kyk na haar dogter, wonder: Hierdie kind van haar se oë is skerp … of weet sy iets wat haar ma nie weet nie?

“Nee. Anders sou hy dit al lankal gedoen het. Hoekom wag tot hy stokoud is?”

Rita swyg. Ja, vir ’n tiener is hy seker stokoud. Maar sy glimlag nie. Edna kan gelyk hê. As Reino Vos weer wou trou, kon hy dit lankal gedoen het. Die teenoorgestelde geslag vind hom gaaf en aantreklik … en daar sou beslis al genoeg kandidate gewees het wat flikkers gooi. Maar hy het nog nooit getoon dat hy sulke aspirasies het nie. Tog … hy het haar vanaand gesoen … Dit beteken niks, vertel sy haarself heftig. Hy kon al hoeveel ander vroue ook gesoen het. Dit beteken geensins dat hy nou aan trou dink nie.

“Ma, kom ons gaan kuier vir ’n naweek op ons dorp.”

“Ag, nee, my kind, wat sal ons nou daar gaan soek?”

“Sommer net. Daar is nog baie van my ou maats en …” Oom Gerrie is nog daar, wou sy byvoeg maar laat dit daar. “Ek verlang nogal soms. Alles was darem nie sleg daar nie. Daar was lekker tye ook.”

Rita kyk weg. Ja. Dis waar. “Ons kan maar sien. Nou moet ons eers gaan slaap. Môre is ’n besige dag. Ek wil daardie kamertjie langs joune môre regmaak vir ons nuwe intrekker. Jy kan gerus aan idees dink om dit op te vrolik.”

“Wie kom daar in?”

“Madelyn le Roux. Sy is dertien.” Sy druk haar dogter skielik teen haar vas. “Dankie, skat.”

“Waarvoor?”

“Sommer net omdat … jy jy is. Jy was nog al die jare ’n wonderlike dogter vir my en jy help my so geweldig baie met die ander kinders. Jy sal eendag ’n baie goeie moedertjie uitmaak.”

Edna glimlag op na haar ma, sê kordaat: “Natuurlik! Ek is mos Ma se kind!”

Toe Rita in die bed klim, voel sy rustig, weet sy dat sy nou aan die slaap sal raak. Haar gedagtes is nou besig met haar dogter en vir die hoeveelste keer dank sy die Here vir haar. As Edna nie daar was nie … Hoe maklik sou sy die spoor destyds kon byster geraak het. Baie dae weet sy dis haar kind wat haar op die regte pad gehou het, nie die verbittering in haar hart nie. Want as jy ’n kind het, moet jy aangaan, voortgaan en ter wille van haar of hom reg trap, maak nie saak hoe jy hier binne voel nie. As sy heeltemal alleen gelaat was, sou die spore agter haar miskien nie so reguit gelê het soos wat dit wel die geval is nie. Daar is darem een ding waarvoor sy Flip Venter dankbaar moet wees. Hy het haar ’n kind gegee voordat hy geloop het.

Net vir ’n oomblik talm haar gedagtes nog by gister, kom die vrae wat in die verlede al in haar opgekom het weer na vore. Sou Flip en Chrisma die geluk smaak waarop hulle gehoop het? Wat was hulle lewe die afgelope dertien, veertien jaar? Is hulle toe getroud? Is hulle nog bymekaar? Is hulle gelukkig? Het hulle miskien kinders gehad?

Hul egskeiding is baie gou afgehandel en daar was nooit weer enige kontak nie. Die eerste twee jaar is Edna se onderhoudsgeld direk deur ’n debietorder aan haar betaal. Toe het dit skielik opgehou en sy het nie die moeite gedoen om hom te gaan verkla of om hom te probeer opspoor nie. Sy sou self vir haar kind sorg. Nie sy of Edna het iets van Flip Venter nodig nie.

Van sy kant af was daar nooit enige poging tot kontak nie, nie eens met sy kind nie. Die eerste jaar het daar darem ’n kaartjie met haar verjaarsdag aangekom. Daarna niks nie. Nie ’n telefoonoproep nie, nie ’n brief nie, nie ’n wens om haar vir ’n naweek of vakansie op te eis nie … waarvoor sy baie dankbaar was.

Dit was eers toe sy reeds in Sonop was en sy en Reino weer een aand rustig sit en tee drink het, dat die onderwerp wat sedert haar koms na Sonop nooit tussen hulle te berde gebring is nie, baie kortliks aangeraak is.

Dit was Reino wat skielik gevra het: “Het jy nooit weer enige kontak met Flip gehad nie?”

“Nee. Niks. Ek weet nie waar hy is of wat hy doen nie. Ek verkies dit natuurlik so.” Daar was ’n rukkie stilte. “En jy?”

“Nee. Ek het probeer …” Hy het vinnig geswyg, vervolg: “Ek kon haar nie opspoor nie. Sy het net verdwyn.”

Ná ’n lang stilte het Rita sag gesê: “Dis beter so, Reino. As daar dan gebreek moet word, maak dit ’n skoon breuk. Dit help nie om met gister se dinge voort te ploeter terwyl jy weet daar is geen toekoms nie.”

“Ja. Dis … seker … die beste.”

Tog het sy die gevoel gekry hy stem nie heeltemal saam nie. Sou Reino vandag nog soms wonder? Rita draai haar op haar sy, maak haar oë toe. Gister is verby. Veertien jaar gelede al verby. Nie Flip Venter of Chrisma Vos sal ooit weer in hul lewens verskyn nie. Dis vandag en môre wat saak maak, veral môre. Haar dogter het vanaand haar oë oopgemaak vir ’n feit, vir ’n paar feite, waarvoor sy haar tot dusver doelbewus blind gehou het. Die belangrikste is dat die lewe verbygaan. Daar is al veertien jaar verby. Die volgende veertien jaar sal nog vinniger verbygaan en sy gaan skielik op ’n dag besef sy is aan die einde van haar lewe. Wat sal sy hê om te wys? Menslik gesproke lê daar nog baie jare voor … maar dan moet sy nou oor hulle begin besin. Dis ’n sonde om jou lewe in ontnugtering en verbittering te laat omgaan. Miskien ’n groter sonde om vir die res daarvan drome na te jaag wat drome sal bly. En miskien … miskien is Reino Vos net ’n tevergeefse droom. Miskien het haar dogter gelyk. Miskien sal dit goed wees om ’n slag op hul ou dorp te gaan kuier.

Sy sal môreoggend die ekstra bedval wat sy vir Edna se kamer het oor daardie bed trek en haar twee kerspitkussings op die bed neersit. En sy sal sorg dat daar blommetjies op die bedtafeltjie is voordat Madelyn le Roux arriveer. Dit sal haar tuis laat voel. Toe oorweldig die slaap haar.

Sê groete vir pappa

Подняться наверх