Читать книгу Sê groete vir pappa - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеReino Vos gaan nie dadelik bed toe toe hy sy woonstel aan die kant van die administratiewe gebou van die Sonop-kompleks bereik nie. Hy gaan sit op die stoep, sy blik dwalend oor dieselfde toneel waarna hy en Rita netnou gekyk het, maar hy sien dit nie werklik raak nie. Want sy blik is na binne gekeer – op die lang pad wat tot hier gelei het.
Hoekom staan die verlede vanaand skielik so helder voor hom? Miskien is dit Rita se woorde wat die hek na gister weer oopgemaak het, ’n hek wat hy byna veertien jaar al dig toehou. Maar vanaand … vanaand sien hy dat dit wyd oopstaan asof dit hom nooi om weer – al is dit net een keer – op die spore van gister terug te stap. Dis futiel, dit sal geen doel dien om in gister te wil ronddwaal nie. Tog, daar was mooi tye, mooi dinge, mooi gesigte – as jy verby al die hartseer en seerkry kan kyk.
Moenie, waarsku sy gesonde verstand hom. As jy dan nie aan die slaap kan raak nie, gaan bestudeer weer die rapporte oor die nuwelinge wat onder Sonop se beskermende dak opgeneem is en die een wat môre nog moet kom. Gaan lees weer Madelyn le Roux se besonderhede wat die maatskaplike werker verskaf het, die brief wat van die predikant saamgekom het. Maar hy ken dit uit sy kop.
Sy is dertien jaar oud. Sy is intelligent, besit ’n bogemiddelde IK, maar stel glad nie in haar skoolwerk belang nie. Trouens, sy stel in niks op aarde belang nie. Sy het ’n ongeërgde, traak-my-nie-agtige houding teenoor alles en almal. Sy het ’n muur om haar gebou en niemand word agter daardie muur toegelaat nie. Haar huislike omstandighede het so verswak dat die ma self gevra het dat Madelyn liewer onder die sorg van die welsyn geplaas word. Daar was ’n pa in die prentjie, maar dié het net verdwyn. Die ma weet glad nie waar hy is nie. Sy is ’n alkoholis, werk agter die sigarettoonbank van ’n groot kettingwinkel in die stad, bly in ’n motorhuis wat dien as slaap- en eetplek met ’n washoek agter gordyne in die een hoek. Die maatskaplike werker vertel dat sy al hoeveel kere in die verlede ernstig met hierdie vrou gepraat het en haar probeer oorreed het om vir behandeling te gaan, maar verniet. Juffrou De Klerk het ook hierdie keer haar bes probeer om die moeder te oorreed om, terwyl die dogter nou in die kinderhuis opgeneem gaan word, na ’n inrigting vir drankverslaafdes te gaan, maar sy verseg. Toe die werker haar daarop wys dat, indien sy kan rehabiliteer, dit moontlik is dat sy en haar kind weer eendag herenig kan word, was haar antwoord: “Ek wíl nie rehabiliteer nie. Daar is niks om voor te rehabiliteer nie. Vat my kind en los my uit.”
Ja, hy ken die besonderhede al uit sy kop, en dit maak seer. Met ’n sug laat sak hy sy agterkop teen die stoelkussing, sluit sy oë en stap deur die hek die verlede in …
Hy was ’n jong, begeesterde proponent wat in sy eerste gemeente bevestig is. Aan sy sy was sy jong bruid en dit was sy wat die toga om die breë skouers van dominee Reino Vos gehang het. Asof dit maar vanoggend gebeur het, staan haar beeld so helder voor hom dat hy die fynste detail kan onthou. Haar donkerblou pakkie het ’n breë wit kraag gehad en die donker breërandhoed het ’n wit randjie gehad. En haar oë was donkerblou van trots en geluk toe sy na hom opgeglimlag het. Hy het God gedank vir die groot oomblik wat hy met sy pragtige vrou kon deel. Vir hom en sy maat het vrugbare jare in sy diens gewag.
So het vier goeie jare verbygegaan en toe was dit tyd vir die vierjaarlikse sitting van die Kaapse Sinode. Dit was die eerste keer dat hy dit as leraar kon bywoon en hy het baie uitgesien daarna. Hy was verbaas toe hy van sy vrou verneem dat sy nie van plan is om hom Kaapstad toe te vergesel nie.
“Maar, Chrisma, hoekom nie? Ek het gedink jy sal dit baie geniet. Daar is ’n interessante program vir die dames opgestel, en jy sal nog baie tyd hê om ’n bietjie in die Kaap rond te loop en inkopies te doen. En jy sal tyd hê om goed uit te rus. Ons het juis die afgelope vier jaar nie eintlik vakansie gehad om van te praat nie.”
Sy vrou het van hom weggedraai, afwysend gesê: “Ag, ek ken niemand in die Kaap nie.”
“Maar jy sal hope ontmoet, my skat. En die omringende gemeentes se predikantsvroue sal ook daar wees.”
“Reino …” Haar stem was beslis. “Ek voel nie so lekker die afgelope tyd nie. Ek wil liewer bly.”
Hy was dadelik bekommerd. “Wat bedoel jy … jy voel nie so lekker nie? Is jy siek? Hoekom …?”
“Nie siek nie, net … pap en effens gedaan. Ek bly aan die gang van die oggend tot die aand. Ek … wil liewer dié tyd gebruik om lekker te rus.”
“Maar hoekom hier? Hoekom gaan jy nie na my ouers …?”
“Ag, Reino, asseblief! Ek wil net ’n slag eet en slaap en kom en gaan soos ék wil. Is dit so moeilik om te verstaan?”
Hy het haar effens verbaas aangekyk toe sy onder sy aanraking wegdraai. Daar was ’n ongeduld in haar stem wat hy nog nie tevore gehoor het nie. Iets meer as dit. Irritasie.
“Nee, ek kan dit verstaan, maar … Chrisma, is jy seker jy is nie siek nie? Steek jy nie iets vir my weg nie? My vrou …”
Hierdie keer was die ongeduld onmiskenbaar in haar stem: “Reino, moet asseblief nie nóú broeis word nie! Dis ’n bietjie ontydig!”
Sy mond het oopgegaan, toe het hy dit weer vinnig toegemaak. Hy het haar onleesbare gesig bestudeer en ietwat verslae toegegee: “Nou goed dan, my skat. As jy dit werklik so wil hê … Maar dan moet jy saans by iemand gaan slaap. By Rita en Flip …”
“Nee! Nee, Reino! Dan kan ek net sowel na jou ouers toe gaan, of saam met jou. Ek is moeg daarvan om ander mense altyd in ag te neem. As ek twaalfuur in die nag wil eet, is dit my saak, en as ek agtuur in die aand wil gaan slaap, is dit ook my saak. O, asseblief …”
“Goed dan. Goed dan,” het hy vinnig gesus. “Maar ek hou nie van die gedagte dat jy alleen hier in die pastorie …”
Sy het hom in die rede geval: “Hoeveel nagte was jy nie al op ’n noodgeval uit nie en dan slaap ek die hele nag hier alleen? Hoeveel ure was jy al weg van die pastorie, dag en nag, en ek het nog nooit iets oorgekom nie? Hoekom op aarde sal daar nóú skielik iets met my gebeur?”
Hierteen het hy geen verweer gehad nie, maar hy was nie baie gelukkig toe hy haar groet om te vertrek nie.
“Pas jouself mooi op, my skat. Ek gaan baie na jou verlang. En jy weet waar om my te kontak as jy of iemand anders my nodig kry.”
Sy het geknik, hom begin aanjaag. “Jy moet nou ry, Reino. Oom Frikkie wag seker al op jou.”
By die motordeur het hy gewuif, geskree: “Ek bel jou vanaand.” Sy het net geknik, haar hand gelig en teruggewuif.
Die gedagte aan die vrou aan die bopunt van die pastorietrap wat hom agterna staan en kyk het tot hy om die hoek verdwyn het, laat hom nou die stoelleuning vasgryp sodat sy kneukels wit uitslaan.
Daar was ’n groot onrus in hom. As hy toe maar daarna geluister het, die motor omgedraai en na haar teruggaan het soos hy vir ’n oomblik wou. Maar hy het nie. Hy was reeds laat. Oom Frikkie het al staan en wag en hy het die gedagte om vinnig by Rita aan te gaan en haar te sê Chrisma bly en dat sy darem daar moet inloer, laat vaar. Dit sal nie nodig wees nie. Dis ’n klein dorpie en die mense sal gou genoeg uitvind Chrisma is nie saam nie. Trouens, tant Stinie, oom Frikkie se vrou, gaan ook nie saam nie. Van haar kinders kom kuier. Sy sal natuurlik ’n ogie oor Chrisma hou. Oom Frikkie en tant Stinie is soos tweede ouers vir hom en Chrisma en ware steunpilare in die gemeente.
Met ’n geruste gemoed vertrek hy ’n paar minute later. Tant Stinie se gerusstelling dat sy natuurlik gereeld by die pastorie sal inloer en ’n ogie oor die jong predikantsvrou sal hou, het die spoke verdryf. Tant Stinie sal haar mooi oppas.
En so is hy en die hoofouderling alleen Kaap toe. Die aand het hy huis toe gebel. Dit was pas nege-uur. Toe hy die telefoon na ’n rukkie neersit, het hy heeltemal gerus gevoel. Alles is wel … Chrisma klink tevrede … en sy gedagtes het sommer dadelik die loop geneem na die volgende dag se verrigtinge.
Toe oom Frikkie die volgende aand huis toe bel, vra hy terloops of sy vrou darem al ’n ogie by die pastorie gaan gooi het.
“Ek het vanoggend daarheen gebel, maar nie antwoord gekry nie. Toe is ek vanmiddag daarheen, maar mevrou was nie tuis nie. Seker maar na iemand toe. Ek sal weer môre gaan.”
Reino bel nie daardie aand nie, want dit het ’n bietjie laat geword. As Chrisma reeds slaap – sy is mos van plan om goed uit te rus – hinder hy haar net onnodig. Hy sal maar môreaand weer bel.
Die volgende aand is oom Frikkie hom egter voor met die bellery huis toe. Sy stem klink half snaaks toe hy vra: “Het dominee al huis toe gebel?”
“Nog nie, oom Frikkie. Ek gaan juis nou bel. Verskoon my.”
Oom Frikkie sit aan sy pyp en suig toe Reino weer by hom aansluit. “Daar is nie antwoord nie. Sy is seker maar êrens heen. Ek sal later weer probeer.”
Maar later is daar ook nie antwoord nie. “Sy sal my seker die een of ander tyd bel. Miskien het sy besluit om tog maar liewer saans by iemand te gaan slaap.”
Toe die twee mans die volgende aand by hul hotel aankom, is daar geen boodskap vir dominee Vos nie, maar wel vir meneer Frikkie Badenhorst. Hy moet dadelik huis toe bel wanneer hy inkom.
“Wat is dit, vrou? Is daar moeilikheid?”
“Nee, Frik, ek weet nie. Ek voel maar net ’n bietjie onrustig. Mevrou is nooit tuis nie. Daar is net geen antwoord as ’n mens bel nie, en die hele pastorie is dig toegesluit, gordyne toegetrek. Leentjie wat by Hettie werk, vertel Johanna, wat by die pastorie werk, sê mevrou het gesê sy hoef eers weer ná die sinodesitting in te kom. Ek het so ’n bietjie navraag gedoen, maar niemand hier weet waar mevrou is nie. Sy is definitief nie in die dorp of distrik nie. Ek het alle moontlike en onmoontlike plekke gebel, maar niemand weet iets nie. Nou weet ek nie …”
Oom Frikkie het kwaai gefrons. “Moontlik is sy na haar skoonouers. Ek sal vir dominee sê om na sy ouerhuis te bel.”
Maar Reino se ma en pa weet niks van Chrisma af nie. Hulle was onder die indruk sy is saam met hom Kaap toe. Reino het ’n ligte frons op sy gesig toe hy hom weer by oom Frikkie voeg.
“Sy is nie daar nie. Miskien is sy nog op pad na hulle toe. Maar sy weet ek hou nie daarvan dat sy alleen ry nie. Ek sal maar weer so teen elfuur se kant bel.”
Maar teen elfuur die aand het Chrisma nog nie by haar skoonouers aangeland nie. Hy bel weer pastorie toe, maar nog steeds is daar geen antwoord nie. Hy voel ’n ligte ontevredenheid in hom opstoot. Sy kan hom immers op die hoogte hou van haar kom en gaan. Sy het tog sy nommer in die Kaap.
Hy is egter nie onnodig onrustig nie, want hy ken sy vrou. Sy is ’n verantwoordelike mens. Daar sal ’n rede vir haar uithuisigheid wees. Hy sal haar wel môre in die hande kry of sy sal hom kontak … natuurlik.
Dis oom Frikkie wat wakker lê en teen alle bevele in dik dampe uit sy pyp laat kom. Later staan hy maar op en gaan staan voor die venster na die stadsliggies en kyk.
Toe Reino laat die aand nog nie van sy vrou gehoor het nie, het oom Frikkie weer huis toe gebel, vererg vir homself dat hy toelaat dat allerhande gedagtes van hom besit neem. Tog …
“Hoekom bel jy so laat, my man? Is iets verkeerd?” wou tant Stinie dadelik weet.
“Nee. Ek hoop nie so nie. Stinie … Mevrou het jou nie dalk intussen gekontak nie?” het hy hoopvol gevra.
“Nee. Het sy nog nie vir dominee …?”
“Nee. Het jy óral gesoek, Stinie? Het jy die … Venters ook gevra?”
“Ja. Rita sê sy weet niks van haar af nie. Flip is nie by die huis nie. Hy is glo na ’n simposium.”
Stilte. “Nou goed dan maar, vrou. Sê groete vir die kinders. Het hulle darem veilig gery?”
“Ja. Frikkie … ek is so onrustig oor mevrou,” kom dit huiwerig.
“Natuurlik het daar niks gebeur nie! Jy is verniet op hol. Vergeet die kwaadwillige praatjies. Mevrou sal nooit … Dis twak, vrou! Nag dan maar eers.”
“Nag, Frikkie. Sê groete vir dominee.”
Die volgende oggend tienuur kry dominee Vos ’n dringende boodskap in die sinodesaal dat hy dadelik sy ouerhuis moet skakel. Dis sy ma wat antwoord. Reino kan onmiddellik hoor dat daar êrens groot fout is. Sy ma is nie ’n tranerige soort mens nie, maar hy kan aan haar stem hoor dat sy na aan trane is.
“Hier het ’n brief van Chrisma af aangekom vanoggend, my kind.”
Reino frons. Hulle skryf nooit huis toe nie, bel sommer altyd. “ ’n Brief, Ma?”
“Ja, my kind. Sy sê daarin sy het vir jou ook ’n brief op jou lessenaar gelos waarin sy alles verduidelik.”
“Verduidelik? Wat verduidelik?”
“Dis alles in die brief, my kind.”
“Ma … Maar wat skryf sy vir Ma?”
“Ek … Reino, my kind, jy moet maar terug huis toe en self jou brief gaan lees. Ek … kan nie verder verduidelik nie …” En toe huil sy ma, en Reino weet iets ergs het gebeur … iets vreesliks.
Toe hy van die telefoonhokkie af wegdraai, staan oom Frikkie daar. “Dominee?”
“Daar is ’n brief in die pastorie op my lessenaar.” Hy sê die woorde asof hy nie verstaan wat hy self sê nie. “Tant Stinie moet dit asseblief gaan kry en dit vir my voorlees, oom.”
“Ek bel haar dadelik.”
Dis ’n verslae tant Stinie wat luister waar die spaarsleutel van die agterdeur weggesteek word. In die tweede potplant regs van die deur op die agterstoep.
“Bel sommer van die pastorie af as jy die brief gekry het, Stinie.”
Toe die telefoon lui, word dit van die mik gegryp.
“Tant Stinie …?”
“Ja, dis ek, dominee. Ja, dis … hier.”
“Skeur oop en lees asseblief vir my, tante.”
“Maar dis jou …”
“Lees dit asseblief, tante!” Stilte. “Tante …”
“Dominee … Dominee, sit liewer vir Frikkie op die lyn. Ek kan nie … ek sien liewer kans …” en weer hoor Reino ’n traangevulde stem in sy ore. Hy oorhandig die gehoorbuis aan oom Frikkie. “Luister asseblief daar, oom.”
Hy draai vinnig weg, sy oë stokstyf voor hom. Iets – Here, wat? – is vreeslik verkeerd!
“Stinie, dis nie nou die tyd vir huil nie! Lees die brief vir my voor, dadelik!” Oom Frikkie se stem is onvas van skok toe hy weer praat: “Vat daardie brief saam met jou huis toe en bêre dit goed. En nie ’n woord hiervan aan ’n lewende siel nie, Stinie! Verstaan jy, vrou?” Dan draai hy van die telefoon af weg, kyk na sy predikant se breë rug en sê stil: “Kom, dominee, kom dat ons eers êrens ’n sitplek kry.”
Reino maak sy oë oop, spring uit die stoel uit, gaan leun teen ’n stoeppilaar aan. Sonop se elektriese ligte swem dof voor sy oë.
Sal hy daardie oomblik ooit vergeet? Kan ’n mens so ’n oomblik ooit vergeet? Ná veertien jaar staan dit vanaand weer voor hom in al sy naakte skok … en steeds lê die ongeloof in sy hart soos in daardie oomblik. Dis nie wáár nie! Dit kán nie wees nie!
“Oom?” Stilte. “Oom Frikkie?”
Die ou man het sy hand op die dominee se skouer gelê en gesê: “Natuurlik is daar êrens ’n misverstand, ou seun.” Die formele aanspreekvorm het weggeval. “Ek dink ons moet maar huis toe gaan en … dinge daar gaan uitsorteer.”
“Maar …”
“Ek sal hulle hier binne sê … Hulle sal jou verskoon. Kom.”
“Maar, oom Frikkie, dis nie waar nie! Dis ’n misverstand,” het sy verlamde brein na oom Frikkie se woorde gegryp.
“Natuurlik. Ek sê mos so. Maar ons moet teruggaan en dit dadelik regstel. Kom, Reino, ou seun. Ons moet huis toe.” Vaderlik het hy ’n arm om die breë skouers geplaas en die verslae man weggelei.
Ure later, alleen gelaat in tant Stinie se sitkamer met die brief in sy hande, het die volle besef van wat gebeur het, van wat in die enkele reëls voor hom uitgespel lê, eindelik ingetree.
“Reino.” Net so. Nie “liewe Reino” nie. Die brief begin sommer net: “Reino.” En dan herlees sy oë die woorde waarvan elke letter reeds in sy verstand gebrand is … “Ek gaan weg. Ek verlaat jou vir goed.” Here … Here? Hoekom? Hoekom, Chrisma? “Ek gebruik die weg van ’n lafaard omdat ek nie die moed het om jou in die oë te kyk nie. Ek is jammer, maar ek kan nie so voortgaan nie. Ek is nie die regte vrou vir jou nie. Ek is nie ’n pastoriemoeder of predikantsvrou nie. Ek het probeer, die Here weet ek het, maar dit werk nie uit nie.” Hoe kan jy so iets sê, Chrisma? Jy is ’n wonderlike vrou vir my, vir die gemeente …
En dan die laaste paar reëls … en elke keer sterf sy hart ’n bietjie meer wanneer die woorde soos vlamme uit die papier na hom opspring: “Wat in die tussentyd gebeur het, dra ek volle skuld voor, hoewel ek nie daarna gesoek het nie. Glo my, Reino, ek het nie daarna gesoek nie! Maar dit het gebeur en ek kan dit nie langer ignoreer nie. Ek gaan saam met Flip Venter weg.” Flip Venter … Flip, sy hoofdiaken, die man wat hy as vriend gewaan het … Chrisma is saam met Flip weg … Maar Flip is getroud! Flip het ’n vrou en ’n dogtertjie! Chrisma …? Chrisma! Nee! Néé, my vrou! Moenie dit vir my vertel nie! As jy my nie meer liefhet nie … nie meer kans sien om saam met my in Gods wingerd te werk nie … Goed. Goed. Ek kan dit nog aanvaar, maar … wegloop met ’n getroude man … Néé! Néé, Here, nie dít nie! Asseblief, net nie dít nie!
Maar dit is wat gebeur het.
Hy knyp sy oë styf toe, maak hulle weer oop, sien die sterre helderder as netnou. Hoe het hy deur hierdie tyd van sy lewe gekom? Hoe is dit moontlik dat hy nie net geknak en gebreek het nie, sommer net totaal en al ten gronde gegaan het nie? Mens alleen sou hy dit nooit kon oorleef nie … maar hy was nie alleen nie. God was daar, hoewel dit nie vir hom so gevoel het nie. In daardie eerste weke het dit vir hom gevoel dit was nie net sy vrou wat hom verlaat het nie. God het hom ook verlaat. Hy onthou hy het gebid, soms letterlik huilend op sy knieë, maar dit was versmaaide woorde, woorde wat nie wou opstyg na ’n genadetroon nie. Woorde wat, die oomblik dat hulle geuiter is, voor sy lippe weggewaai het na nêrens. Woorde wat soos gloeiende kole in sy rou hart gebrand het, tot dit later vir hom gevoel het daar word gate deur hom gebrand en dat die woorde tot as gesmoor het.
Hy het na ander se gebede vir hom geluister. Gebede om raad en leiding, om genade, om vertroosting. Maar dit was vir hom soos blare wat val – ’n oomblik daar en dan het die winde dit verstrooi.
Sy oë priem verby die sterre. Maar U wás daar, my Vader. Toe ek laat los het, het U nie gelos nie. U het my vasgehou hoewel ek dit nie gevoel het nie. U het my opgetel en in u Vaderarms gedra toe ek wou vergaan van smart. Dankie. Dankie dat U my toe gedra het … vanaand nog dra … vanaand ook noudat die smart van gister weer so vars in my lê.
Die smart wat skielik weer so fel en verterend in hom gebrand het, gaan lê; word getemper soos telkens in die verlede en hy weet hy kan nou bedwaarts keer. Miskien nie om dadelik aan die slaap te raak nie, maar met berustende kalmte. Die beker moes gedrink word, die pad moes geloop word.
In die bed, arms gevou agter sy kop, lê en kyk hy na die ligte speling van die nagwind teen die kantgordyn. Destyds het een voldonge feit bo alle ander dinge vir hom uitgestaan. Hy het besef dat sy predikantsdae verby is. Nooit weer sou hy die selfvertroue hê om voor ’n gemeente op die kansel te verskyn nie. Nooit weer sou hy met gloed en oortuiging die Boodskap kon uitdra nie. Geen mag ter wêreld sou sy voete toelaat om weer die trap na ’n kansel te klim nie.
Sy kollegas in die Ring het dit so maklik moontlik vir hom gemaak, maar daar was ’n prosedure wat gevolg moes word. Geen vrou loop sommer sonder rede van haar man af weg nie, veral nie ’n predikantsvrou nie …?
Hy het daar voor die Ringskommissie gestaan en eerlik op die reguit vraag geantwoord: “Ek wens in hierdie oomblik ek kon sê dit en dat is die rede, of dit en dat kon die rede wees, maar … ek weet nie. Ek weet voor God nie hoekom my vrou my verlaat het nie. Ek wens ek het.”
En tog was die gemeente nie werklik so verbaas as wat hul dominee was nie. Oom Frikkie was verplig om die sluier te lig oor iets wat hy tot dusver geweier het om as die waarheid te aanvaar.
“Hier was stories, dominee Spies,” moes hy teenoor die Ringsvoorsitter bieg.
“Watse stories, oom Frikkie?”
“Dat Flip Venter te veel by die pastorie kom, al was hy hoofdiaken. En …”
“Ja, oom?”
“Ek moet liewer swyg, dominee. Ek het hulle nie self gesien nie. Dis skinderstories wat die afgelope tyd die rondte gedoen het. Ek wou dit nie glo nie, wíl dit nog nie glo nie … Tag, dominee, mevrou was ’n liewe mens. Ons was lief vir haar …”
“Wat was die stories, oom?”
“Nee, dominee, sien, mevrou het graag gaan stap. Almal op die dorp het geweet sy gaan stap graag saans so teen skemeraand. En toe begin sy die afgelope tyd dorpuit stap. Ek het self een aand by haar stilgehou op die grootpad, haar vriendelik gewaarsku dat dit gevaarlik kan wees, maar sy het net gelag en gesê sulke dinge sal nie op ons klein dorpie gebeur nie! Daar was ander wat Flip se motor soms ook in dieselfde rigting sien ry het … En mevrou het die afgelope tyd nie altyd die weeklikse gemeentebiduur bygewoon nie. Dominee het gesê sy is bietjie moeg of ’n bietjie besig, maar … daar was oë wat gesien het hoe sy by die pastorie se agterhekkie uitkom en in ’n motor klim wat in die donker onder die bome op die hoek geparkeer gestaan het.”
“En oom het nie daaraan gedink om met dominee Vos of dan met mevrou Vos daaroor te praat nie?”
Oom Frikkie se oë het geflits. “Natuurlik nie, want ek het dit nie geglo nie! Sê my, dominee Spies, sou jy dit geglo het?”
Die waardige predikant het hom ’n antwoord skuldig gebly. Chrisma Vos se beeld het voor hom verskyn en hy het sy kop verslae geskud. Nee. Nee, hy sou dit vir geen enkele oomblik geglo het nie!
Dit was die swaarste ding in sy lang loopbaan as predikant toe hy daardie Sondagoggend op die kansel moes klim en aankondig dat Reino Vos sy amp as predikant van die gemeente neerlê. Of miskien was dit die swaarste om te sien hoe ’n jong, belowende, begeesterde prediker van Gods Woord met toe, strak lippe luister na die kerkklok wat die gemeente oproep na die erediens, die hande wat die seën oor sy gemeente moes uitspreek, slap en willoos op die lessenaar. En daardie gebroke, rou fluistering: “Oom Jan, as ek net weet hoekom? Hoekom?”
Reino Vos se hart krimp ineen toe hy terugdink aan daardie oggend toe hy deur die studeerkamervenster sy geliefde gemeente sien kerk toe stap het terwyl hy in sy … nee, in die gemeente se studeerkamer gestaan het – koffers gepak – met die skreiende wete hy moet padgee – soos ’n skelm, soos iemand wat iets verfoeiliks aangevang het. As iemand, iémand, hom net wil sê wat?
Dit was oom Jan wat hom by sy ouerhuis kom besoek het, spesiaal kom besoek het. Want waarheen gaan ’n predikant wat hom skielik sonder vrou, sonder gemeente en sonder amp bevind? As jy gelukkig is om nog ’n ouerhuis te hê, dan gaan jy daarheen, al weet jy daar wag verdere seerkry.
In hom het dit geskryn toe hy die twee geliefde gesigte voor hom sien: bedroef, hartseer en onseker.
En toe, later, die onafwendbare vraag. Hy was daarop voorbereid, maar toe dit kom, het elke woord soos ’n hamerhou op sy reeds verbryselde hart geval.
“Hoekom is sy weg, Reino? Wat het jy aan Chrisma gedoen?”
Hy onthou hoe swaar hy sy lippe van mekaar gekry het om te antwoord, vir die honderdste keer te antwoord: “Ek weet nie. Ek weet nie wat ek gedoen of nagelaat het om te doen nie, Ma. Ek wéét nie!”
“Maar as alles reg was tussen julle, hoe kon ’n ander man haar so maklik wegvat? Daar móés iets tussen julle geskort het.”
“Ek was nie bewus daarvan dat daar iets skort nie, Pa.”
Die gebroke moederhart het naarstiglik probeer om regverdig te wees. “Ek ken jou, my kind. Ek weet jy sou nooit doelbewus iets doen om jou vrou seer te maak nie, maar … ek ken Chrisma ook. Sy sal nie sommer sonder rede skielik ’n ander man aanhang en met hom … wegloop nie.”
“Ek weet, my moedertjie. Ek weet. Maar ek kan geen verduideliking gee nie. Ek hét nie een nie.”
En toe het dominee Jan Spies gekom. “Reino, ek … ons het jou hulp nodig. Die Sonop-kinderhuis in die stad het dringend ’n hoof nodig. Jy het seker van die tragiese gebeure gelees in die koerant?”
Reino het sy kop ontkennend geskud. Nee, hy het lanklaas koerant gelees. Wanneer jou wêreld tot stilstand kom, stel jy nie belang of die res van die wêreld nog bly draai nie.
“Mevrou Theunissen, wat die hoof van die kinderhuis was, het tragies saam met haar man verongeluk op pad terug van ’n begrafnis. Ek het gedink … tot tyd en wyl jy jou weer beroepbaar stel …”
“Ek is nooit weer beroepbaar nie,” het hy strak gesê. Uitdrukkingloos het hy gedink: Die lewe gaan tog voort. Die een word gebore … en die ander sterf …
“… gedink as jy hulle daar kan uithelp, al is dit net tydelik, sal hulle dit baie waardeer.” Die ouer man se oë was skerp. “Reino, het jy gehoor wat ek gesê het?”
Reino het sy oë geknip. “Ja …” ’n Kinderhuis. Maar hy is ’n predikant. Wás ’n predikant. Hoekom nie? Hy en die kinders sal iets gemeen het. Hulle is almal weggegooi – hulle deur hul ouers; hy deur sy vrou. Min kinders in kinderhuise is wesies.
“Dink daaroor, Reino, maar ek sal bly wees as jy my binne redelike tyd kan laat weet.”
Reino was stil. Hoekom nie? Op ’n dag moet daar weer koers in sy lewe kom, maak nie saak in watter rigting nie.
“Ek sal bly wees as jy ja sê, Reino. Miskien is dit ’n oplossing vir jou. Solank jy ander genees, genees jy self. Solank jy ander leer om weer te vertrou, leer jy ook self weer vertrou. En dit sal jou goed doen om te sien daar is ander wat ook smart ken … Wanneer jy eers met rou kindersmart in aanraking was, sal jy weet daar is min smart in die lewe wat soos hulle s’n is.”