Читать книгу Junior in Saal 7 - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

__

“Ag, verpleegstertjie, bring tog gou vir my ’n bietjie water. Gou maak, hartjie, ek is só dors!”

Met ’n goedige glimlag verdwyn die junior verpleegster in die gang af, en ’n rukkie later kom sy terug met ’n beker water.

Terwyl tant Sannie dorstig drink, kyk sy die jong gesiggie liefdevol aan. “Hoe jy dit darem hou, hartjie . . . As ek maar sien, is jy aan die gang, en altyd so fluks.”

Louwrinda lag vrolik. “Ek is die belangrikste verpleegster in die saal, oumatjie! Dink net, as ek nie hier was nie, wat sou van julle almal geword het?” skerts sy.

Tant Sannie se oë vonkel ook. “Liewe kind, dit sou nooit deug nie. Maar nietemin, dit lyk my hulle laat jou darem te hard werk.”

“Ek is ’n junior, ouma. Ons juniors is die koeriers van die hospitaal. Jy word eers ná ’n paar maande . . . ag, soms eers ná ’n jaar, ’n verpleegster – ’n regte een. Tot dan . . .” sy help die ou tante om weer gemaklik te lê, “tot dan is ek maar ’n soort bode.”

Tant Sannie se oë verteder. Ag, sy is nog jonk, maar so geesdriftig en gewillig. ’n Liewe kind. “Jy moet tog vir my kom kuier as ek weer tuis is, hoor jy, hartjie? Dan kan ek jou so ’n bietjie vergoed vir alles wat jy so gewillig aangedra het.”

Louwrinda staan deur se kant toe. Daar is al weer ’n noodsein verder af in die gang. “Dankie, oumatjie. Ek sal beslis kom. Nie omdat ek vergoed wil word nie, maar omdat ek ook lief geword het vir u. U was nooit ongeduldig met my nie.”

“Dis dan ’n belofte, hoor? Ek sal jou my adres gee voordat ek hier uitgaan. Ek bly alleen in ’n groot ou huis.”

Terwyl Louwrinda haar weer haas om die nood verder af in die gang te gaan verlig, dink sy met deernis aan die ou dame. Om ’n junior in saal 7 te wees, is geen grap nie. Hier moet jy die klap van die sweep ken, of daar is chaos.

As rou junior het sy dikwels gewonder wat haar makeer het om van haar ouers en haar vyf broers op hul plaas in die Karoo afskeid te neem en in hierdie groot hospitaal haar bene te kom afhardloop. Maar ná drie maande gaan dit al heelwat beter. Sy het ten minste al die verpleegsterstappie aangeleer – ’n kruis tussen hardloop en stap – en sy verlang nie meer so erg na die plaas en sy mense nie.

Sy, wat haar lewe lank gewoond was om deel te wees van ’n groot gesin, altyd omring deur mense, was aanvanklik baie eensaam en verlore in die groot hospitaal. Totdat sy ontdek het dat daar baie alleenmense is – mense soos tant Sannie Landman. Al wat sy in die lewe oorhet, is ’n kleinseun, en dié is in Skotland. Daarom probeer Louwrinda altyd tydjies afknyp om ’n woordjie met dié oumatjie te wissel. Veral tydens besoekure wanneer al die ander pasiënte besoekers ontvang, glip Louwrinda altyd by tant Sannie se kamer in om die alleenheid te probeer verlig.

So het sy en die ou dame mekaar goed leer ken en lief geword vir mekaar. Sy sal haar beslis gaan besoek wanneer sy weer tuis is. Sy is juis soms maar opgeskeep met haar vry dae.

Sy frons nou terwyl sy opvryf en wegpak. Voordat sy van diens af kan gaan, moet alles netjies wees. Haar maats in die verpleegsterstehuis het almal reeds mansvriende, maar nie sy nie. Sy het tot dusver nog geen behoefte daaraan gevoel nie. As enigste dogter tussen vyf broers en talle neefs, is ’n mansmens nie vir haar so ’n snaakse ding as vir ander meisies van haar ouderdom nie. Haar loopbaan as verpleegster het sy in alle erns aangepak, en sy wil nie nou al betrek word by verhoudings met die teenoorgestelde geslag nie. Die meeste jong mans wil ernstig raak (of dan ten minste’n bietjie flankeer), en sy is nog nie te vinde daarvoor nie. Sy is nie ’n meisie vir ligte flirtasies nie, en daarom is sy seker die enigste junior wat nie ’n kêrel het nie.

En dit het haar al baie ergernis besorg. Almal wil gedurig weet hoekom sy nie ’n kêrel het nie. Dis vir hulle net onverstaanbaar dat ’n meisie van agtien nie ’n kêrel wil hê nie. Dit het al aanleiding gegee tot baie gespot en geterg – en hoe meer sy sê sy is nie manmal soos hulle nie, hoe meer dink hulle dis net suur druiwe. Dis natuurlik glad nie die geval nie. Die jong mediese studente probeer voortdurend ogies maak oor die lengte van saal 7 wanneer hulle saam met hul professor ingestap kom. Haar volgehoue koel blik sal hulle wel nog hul aspirasies laat vergeet. Sy wíl nie nou al ’n kêrel hê nie en basta! Vriende wel, maar op agtien weet sy darem al dat daar kwalik ’n jong man bestaan wat bloot net ’n vriend vir ’n aantreklike meisie met ’n hartvormige gesig en kort, swart hare sal wil wees.

’n Week later het sy haar dag vry en gedagtig aan haar belofte aan tant Sannie Landman, besluit sy om te gaan kuier. Tant Sannie is drie dae gelede uit die hospitaal ontslaan en sy sal graag wil sien hoe dit gaan. Arme ou mens. Om op haar hoë ouderdom so ’n groot operasie te moes ondergaan, was ’n groot beproewing. Sy sal maar lank nog baie swak voel.

Sy is verras toe sy voor die tuinhekkie tot stilstand kom. Die huis staan in ’n gegoede woonbuurt en vertoon deftig en weelderig. Die ou tannie was altyd so nederig in die hospitaal dat Louwrinda haar nie met rykdom vereenselwig het nie. Maar na die uiterlike te oordeel, moet die tante goed daarin sit. Nie dat dit haar enigsins sal beïnvloed nie – sy kom self uit ’n ryk huis, maar dit het nog nooit na haar kop toe gegaan nie. Haar ouers het haar en haar vyf broers reg grootgemaak en geld sal nooit vir hulle ’n maatstaf wees nie.

Tant Sannie sit op die sonstoep en laat geen twyfel oor haar vreugde om Louwrinda weer te sien nie. “Kom sit, kindjie. Ai, maar dis lekker om weer jou ou gesiggie te sien! En jy lyk so anders vandag – amper groot!” terg sy.

Louwrinda lag. “Ek is ook bly om u weer te sien. Hoe gaan dit, oumatjie?”

“Goed, my kind. Nog swakkerig, maar dit sal ook weer regkom. Die eensaamheid is maar die groot klagte.”

“Bly u stoksielalleen in hierdie groot huis?”

“Ja – ek en Nellie, my ou huishulp sedert die jaar toet. Snags kom slaap die buurman se seun darem hier. Maar bedags is ek maar baie alleen.”

“Hoekom kry u nie maar vir u ’n kleiner plekkie nie, oumatjie? So ’n groot huis is ’n groot verantwoordelikheid, en dan is die tuin ook nog daar.”

“Ek sal, sodra Len terug is. Maar terwyl hy oorsee is, sal ek maar hier bly om sy plek vir hom op te pas.”

“Len? O, u kleinseun, bedoel u? Dan is dit sý plek hierdie?”

“Ja. Hy het dit van sy pa geërf. Hy wil dit nie graag verkoop nie. Hy sal seker maar hier kom bly wanneer hy klaar geleer het daar anderkant.”

Louwrinda het in die hospitaal ook al baie van dié kleinseun gehoor. Daar bestaan geen twyfel dat hy sy ouma se oogappel is nie.

“Waarvoor leer hy, oumatjie?”

“Ag, my kind, dis so ’n lang, hoë woord. Maar hy is ’n slimkop. Hy sal dit seker nog ver bring, maar ai, ek verlang darem so baie na hom. Wag, kyk, ek het netnou in die foto-album gesit en blaai. Hier. Dis nou Len hierdie. Wat dink jy van hom?”

Louwrinda kyk met aandag op die gesig af wat na haar opglimlag vanuit die foto. Eers is dit net ter wille van die ou vroutjie langs haar dat sy dit doen. Dan trek sy haar asem in en kyk weer. Die feit dat sy nie in ’n kêrel belang stel nie, maak haar nie immuun teen die teenoorgestelde geslag nie. En hierdie Len-kleinseun van oumatjie . . .

In alle opregtheid uiter sy haar gedagtes hardop: “Maar oumatjie, hy is . . . hy is sommer ’n bak ou!”

Tant Sannie glimlag ingenome. Sy het gedink die liewe kind sou sommer van haar Len hou. Amper oorgewillig slaan sy die een bladsy ná die ander om. “Kyk hier. Hier is hy ’n baba . . . Hier is dit die dag met sy doop . . . Hier is sy rugbyfoto’s van die skooldae . . . Hier is hy universiteit toe . . . en hier . . . ontvang hy sy graad . . .”

Van A tot Z volg Louwrinda Len Landman se ontwikkeling en luister nou diep geïnteresseerd na die tante se vertellings. Hierdie kleinseun van oumatjie is die mooiste mansmens wat sy nóg aanskou het! As sy nou só ’n kêrel kan kry . . .

Wat ’n verspotte gedagte, dink sy glimlaggend. Die man is natuurlik heelwat ouer as sy en hy het seker al ’n vaste nooi, as hy nog nie getroud is nie.

Skielik wil sy niks meer van hierdie Len weet nie. Sy is darem beslis by haar bakvissiedae verby toe sy nog op filmsterre en foto’s van mooi mans verlief geraak het. Sy voel eerlik verlig toe tant Sannie skielik die album toemaak.

“Jy is seker lus vir ’n bietjie tee, en hier sit ek en ginnegaap. Ag, hartjie, gaan sê vir Nellie sy moet vir ons tee en koekies sonstoep toe bring. En vat sommer die album saam en sit dit op die onderste rak van die oop boekrak in die gang neer, kindjie. Dan kom vertel jy my van alles wat al weer met jou gebeur het vandat ek uit die hospitaal is.”

Louwrinda gehoorsaam, en dit word ’n baie aangename dag.

Sy voel amper hartseer om tot siens te sê toe dit tyd word om terug te keer na die verpleegsterstehuis. Maar haar oumatjie kry die opregte belofte dat sy weer sal kom kuier sodra daar ’n kansie kom.

Louwrinda betrap haarself nou dikwels dat ’n sekere gesig voor haar geestesoog verskyn. En toe die ander juniors weer aan haar begin karring oor haar mannehatery, soos hulle tergend daarna verwys, wens sy roekeloos dat sy op ’n dag met die man op die foto voor haar kollegas kan kom staan en sê: “Ek het toe al die tyd ’n kêrel gehad . . . Wat dink julle van hom?” Sy kan in haar verbeelding sien hoe verslae die klomp sal lyk – en groen van jaloesie.

Uit hierdie verbeeldingspel begin daar ’n vae plan vorm aanneem. Eers verwerp sy dit subiet. Sy hou nie van oneerlikheid nie. Sy is streng grootgemaak en is geleer ’n leuen bly ’n leuen, al is dit ook uit nood gebore. Maar die duiwel wil nie van haar wyk nie. Die plan word by die dag aanlokliker.

Teësinnig en met ’n gewete wat pla, luister sy tog na die duiwel se influisteringe: Watter kwaad kan dit doen? Die man sit oorsee. Hy sal nie eens daarvan weet nie. Niemand in hierdie hospitaal ken ’n Len Landman nie. Die kans dat hulle hom ooit sal ontmoet, is ’n ronde nul. Dis mos nie dat sy die man enige persoonlike kwaad of skade sal aandoen nie. Sy . . . e . . . leen mos maar net sy foto vir ’n rukkie sodat die klomp verspotte verpleegsters kan ophou om haar siel uit te trek.

Sy gaan besoek weer vir tant Sannie. Dié is al heelwat sterker en toe sy in die rigting van die kombuis verdwyn, neem Louwrinda haar kans waar.

Die album lê nog op sy plek. Sy buk en begin vinnig blaai. Oumatjie sal nie die foto mis nie, maak sy haarself wys. Hier is so baie van hom.

Maar sy soek ’n bepaalde een uit, laat glip dit dan met bewende vingers in haar handsak, en toe die tante weer verskyn, staan en bestudeer sy die varings wat so welig op die sonstoep groei.

Sy voel ineens sleg en maak verskoning dat sy vandag vroeër moet terugkeer tehuis toe. Weer probeer sy haar gewete sus: Sy steel mos nie die foto nie. Sy léén dit net vir ’n rukkie! Sy sal dit weer in oumatjie se album gaan terugsit sodra dit die doel gedien het.

In haar kamer aangekom, voel sy éérs skuldig toe sy haar ouers se foto uit die raam op haar lessenaar wegneem en met die geleende foto vervang. Sy maak dit weer staan, staan dan ’n entjie terug en bekyk dit met ’n skewe kop. Elkeen wat by die deur instap, se oog moet dadelik daarop val. Sy kom weer nader, bekyk dit met nougetrekte oë. Dis eintlik ’n sonde dat ’n mansmens só mooi moet wees.

Dan stap sy na die juniors se sitkamer en toe sy binnestap, hoor sy een sê: “Allan het ’n vriend wat gestrand sit. Is hier nie iemand wat sy maat vir vanaand wil wees nie? Ons wil gaan dans.”

Die koppe skud. “Dankie, maar ons is almal geholpe vir vanaand.”

“Wat van verpleegster Kemp?” stel een voor.

Alle oë draai na Louwrinda toe. Sy gaan sit ongeërg. As hulle darem dink sy sal sommer uitgaan met ’n man wat sy nie van Adam af ken nie, het hulle ’n hoop.

“Aag, sy!” sê ’n ander. “Sy is mos ’n mannehater.”

“Toe, asseblief, Kemp, man,” soebat die eerste een nou weer. “Dis ’n ordentlike ou. Jy hoef nie bang te wees nie. Allan ken hom goed.”

Sy skud haar kop beslis. “Ek gaan nie met ’n man uit wat ek nie ken nie, Vos. Jammer.”

“Maar liewe land, op hierdie trant sal jy nooit ’n enkele man leer ken nie!” sê verpleegster Vos vererg. “Jy gaan so wragtie ’n oujongnooi word – eendag miskien nog die matrone van dié hospitaal. Hulle is mos almal versuurde oujongnooiens.”

Louwrinda vererg haar ook ’n bietjie. Sy is ’n meisie met sterk oortuigings en haar ma se ernstige waarskuwing voordat sy van die plaas af weg is stad toe, was: “Pasop vir vreemde mans, my kind. ’n Stad is ’n ander soort plek as ons plattelandse dorpie waar almal mekaar ken. Jy is pas uit die skool. Daar sal baie wolwe wees wat ’n mooi jong meisie soos jy sal wil verlei.”

Sy laat nou haar blik vlugtig oor haar groepie kollegas dwaal. Hulle is, nes sy, so pas van die skoolbanke af. Maar reeds is hulle besig om met oop hande na hul nuutgevonde vryheid te gryp, en sy glo hulle is nie aldag seker wat presies hulle in daardie hande beetgekry het nie. Die meeste van hulle kom ook maar van plattelandse dorpe, maar soos hulle te kere gaan, sou ’n mens sê hulle is gesoute stadsjuffers. Sommige van hulle gaan hulle vasloop. Hierdie skielike grootmens wees het na hul koppe toe gegaan.

Dit verbaas haar nie dat hulle dit so gou reggekry het om talle mans te leer ken nie. Die klomp mediese studente doen groot moeite om die nuwelinge “tuis” te laat voel. Louwrinda weet teen hierdie tyd dat die beweegredes nie altyd so eerbaar is nie.

Boonop werk meer as vyftig persent van haar groep in mansale en dáár kry jy gou nuwe vriende as jy daarvoor te vinde is. Die res het hul vriendekring uitgebrei deur kennis te maak met van die familie en vriende van pasiënte tydens besoekure. Veral die ooms en tannies met aantreklike seuns en kleinseuns kry besondere aandag.

Louwrinda grinnik. Dis seker nie mooi of lojaal van haar om hierdie dinge te erken nie, al is dit maar net teenoor haarself, maar blind is sy ook nie. Die senior verpleegsters het al bewys dat hulle later verstandiger word, maar tot tyd en wyl dit gebeur, is ’n junior verpleegster ’n manmal ding, sê sy pront aan haarself.

Sy lig nou haar ken uitdagend. “Ek sal nie ’n oujongnooi word nie, dankie, Vos. Ek hét ’n kêrel.”

Elke oog kyk haar ongelowig aan en verpleegster Vos lag haar sommer openlik uit. “O, regtig? En van wanneer af?”

Louwrinda sluk. Sy haat dit om leuens te vertel, maar hierdie klomp het haar siel nou lank genoeg vertoorn. “Ek het ’n vaste kêrel, as julle dan moet weet.”

“Nou werklik! En hoekom het jy ons nie al lankal daarvan vertel nie?” hou verpleegster Vos knaend vol.

“Is jy dalk skaam vir hom – as hy ooit werklik bestaan?” wil ’n bitsige rooikop weet.

Louwrinda kyk hulle uitdagend aan. “Julle is ’n klomp katte, is julle nie? Nee, ek is beslis nie skaam vir hom nie, en hy bestaan wel.”

“Hoekom het ons hom nog nooit met ’n oog gesien nie?” wil verpleegster Keuler weet. “Hoekom kom neem hy jou nooit uit nie?”

Louwrinda pers haar lippe opmekaar. Nee, sy sal nie wegkom nie. Sy sal deeglik moet lieg om hierdie klomp tevrede te stel. “Omdat hy oorsee is. Hy studeer daar.”

Weer rek die oë ongelowig. “O, jy hou ’n slimkop aan? Kom nou, Kemp, verwag jy werklik ons moet jou glo?”

Louwrinda voel vasgekeer, maar sy laat dit nie blyk nie, kyk net kalm terug. “Sy foto staan op my lessenaar. Jy kan gaan kyk as jy wil.”

Keuler draai na verpleegster Vos. “Gaan haal dit dat ons ook kan sien hoe lyk hierdie geheimsinnige kêrel van Kemp. Toe, Vos . . .”

Toe verpleegster Vos met die foto terugkom, is daar ’n half verdwaasde uitdrukking in haar oë en sy oorhandig dit stilswyend aan die wagtendes.

’n Stilte neem van die groepie besit wat in ’n kring saamgedrom staan. Dan kry een haar asem terug en lees hardop: “Met al my liefde – Len.”

Die koppe draai gelyktydig in Louwrinda se rigting waar sy uiterlik ongeërg besig is om vir haar ’n koppie tee uit die groot konfoor op die teetafel te skink.

“Dit kan nie wees nie!” sê een hardop.

“Ek glo dit nie!” laat ’n ander hoor.

“Ek het nog nooit hierdie foto in jou kamer gesien nie. Waar kom dit nou skielik vandaan?” wil ’n derde agterdogtig weet.

Louwrinda hou haar besig met haar tee. Sy kyk nie eens op nie. “O, ek het dit maar net gister in die pos gekry.”

“Waar, sê jy, studeer hy?” wil ’n ander weet, nou met ontsag in haar stem.

Louwrinda dink vinnig. Waar, het oumatjie gesê, studeer haar kleinseun? O ja! “Hy is in Skotland – Edinburg.”

Weer is daar ’n rukkie stilte, en weer kyk almal na die foto. Maggies, met só ’n ou op sleeptou sal hulle ook nie met ander mans bodder nie! Louwrinda kry haar foto terug en een laat amper onwillig hoor: “Hy is ’n . . . e . . . bak ou, Kemp. Geen wonder jy het nie ooghare vir ander ouens nie.”

Louwrinda glimlag maar net en sê kalm.: “Verskoon my, ek wil dit net gou gaan terugsit.”

Sy is bewus van ’n storm van stemme wat agter haar rug losbars toe sy by die deur uitstap. Sy stap vinnig na haar kamer toe, plaas die foto weer terug op sy plek, haar oë onseker daarop gerig. Sy is oortuig dat hulle haar ná dese in vrede sal laat, maar . . . dis amper vir haar asof die oë uit die foto haar vermanend en ontevrede aankyk, asof hulle wil sê: Sulke vermetelheid!

Sy sluk en draai haastig weg. Sy is nou verspot om so skuldig te voel. Dis tog net ’n ou foto! Sodra daar ’n redelike tyd verbygegaan het, sal die foto weer verdwyn en teruggesit word in oumatjie se album.

Toe sy eindelik weer terug is in die sitkamer, is sy dankbaar om te hoor hulle is uitgesels oor haar geheimsinnige kêrel en is besig met ’n ander onderwerp: die nuwe professor wat in die ginekologiese fakulteit aangestel is.

“Hy moet glo môre begin. Ek hoop tog hy is net so gaaf soos ou professor Maritz. Dié oubaas het ’n mens nooit soos ’n junior laat voel nie.”

“Wat is sy van?”

“Nee, om die waarheid te sê het ek nog nie gehoor nie.”

“Ek het gehoor suster sê vanoggend hy moes eintlik aan die begin van die jaar begin het, maar hy het uitstel gevra tot nou. Glo nog ’n ekstra kursus wat hy eers wou loop. Hy het glo vreeslik baie grade.”

Toe Louwrinda die volgende dag aan diens gaan, is die nuwe professor baie ver uit haar gedagtes toe sy saal 7 binnestap. Eintlik hoef sy geen werklike belangstelling in die nuwe hoof van die ginekologiese fakulteit te hê nie. Sy sal hom net in die saal sien. ’n Professor is ver verhewe bo ’n junior verpleegster. Dis dus met ’n halwe oor dat sy na die onderlangse gesprekkies van die senior verpleegsters luister.

“Suster Behrens het hom glo gesien. Sy sê hy is ’n behoorlike hartebreker.”

“Ag so? Dis darem ’n aangename verandering. Die ou spul professors is almal bejaard en beduiweld. So ’n jong professortjie sal baie welkom wees!” lag die stafverpleegster.

“Jy sê vir my! Hy is ook ongetroud, hoor ek. Daar is dus ’n kans vir een van ons om Mevrou Professor te word!”

“Sjuut. Ek hoor voetspore. Ja, daar is hy met die klomp studente in die deur. Genugtig! Wat ’n professor!” fluister suster Bester toe sy haar na die deur toe haas.

Louwrinda staan met ’n pan in haar hand en kyk oor haar skouer na die dubbeldeure waar die nuwe professor en sy gevolg verskyn het.

’n Gevoel van totale verlamming trek deur haar. Selfs toe die pan kletterend uit haar hand val en – met inhoud en al – oor die vloer rol, kan sy nie roer nie, al weet sy elke oog in die saal is nou op haar gerig.

Junior in Saal 7

Подняться наверх