Читать книгу Junior in Saal 7 - Ena Murray - Страница 5
3
Оглавление__
In ’n hospitaal is daar baie werk. Dis nie ’n plek vir ginnegaap nie. Tog is daar altyd tyd om nuus met die bostelegraaf na al die uithoeke van die hospitaal te versend – so tussen inspuitings gee, beddens regtrek, rûe smeer, trollies stoot en panne dra deur.
Die bostelegraaf dring selfs tot binne-in matrone se kantoor – en dié dame is beslis ook onkant gevang, nes die res van haar personeel.
“Maar suster, ek kan dit kwalik glo. Is dit nie maar net lawwe stories van die juniors nie?”
Suster Behrens lag, maar haar stem is tog ernstig. “Na alle waarskynlikheid, ja, maar die storie is nietemin soos ’n veldbrand deur die hospitaal. Ek het gedink ek moet u maar inlig daaroor. Ek glo nie professor Landman sal daarvan hou as hierdie storie sy ore bereik nie.”
“Nee, beslis nie.” Matrone Hefer frons. “Maar sê nou dis waar . . .?” Sy swyg. Sy is nie verniet al vyftien jaar lank matrone van hierdie hospitaal nie. Hier is so te sê niks onmoontlik nie.
In haar tyd het sy mense hier sien uitstap, pasiënte wat, volgens alle mediese getuienis, nie kon lewe nie, maar wat die hospitaal as gesonde mense verlaat het. En dan was daar die gevalle waar skynbaar gesonde pasiënte onverklaarbaar gesterf het. Dat ’n professor op ’n junior verpleegstertjie kan verlief raak, is sekerlik ook moontlik . . .
Sy glimlag vir suster Behrens. “Dankie dat u my kom inlig het, suster. Op die oomblik hang alles daarvan af of daar waarheid in steek of nie. En al is dit ook waar, hang dit af van die gedrag van die betrokke partye. Ek kan kwalik ’n professor beveel om sy verhouding met iemand te verbreek net omdat sy jonk is. Solank hul verhouding die dissipline van die hospitaal geen skade aandoen nie, is daar nie juis iets wat ek kan doen nie. Die beste is om maar voorlopig die kat uit die boom te kyk en verwikkelinge dop te hou.”
Louwrinda sit soos ’n houtpop stokstyf op haar stoel, so selfbewus dat sy kan sterf daarvan. Die feit dat hy haar onmiddellik herken het as die onbeholpe junior wat die katastrofe in saal 7 veroorsaak het, maak haar verleentheid net nog groter. Met neergeslane ooglede sit en luister sy magteloos na tant Sannie se lofredes oor haar.
“Sy is van die knapste en fluksste verpleegsters in jou hospitaal, Len. Ek kan daarvan getuig,” sê tant Sannie met oortuiging.
Louwrinda waag dit om vlugtig op te kyk en sien dat hy ernstig en skynbaar met volle aandag sit en luister.
“Die arme kind hardloop haar bene af. Wat sy darem nie vir my beteken het toe ek dáár gelê het nie . . .”
“Ons is dus baie dank aan verpleegster Kemp verskuldig? Ons sal vergoed daarvoor.”
“Ja, jy kan haar gerus een aand uitneem vir ’n lekker ete. Foei tog, sy is so ver van haar ouers af.”
“Waar woon u ouers?”
Louwrinda is verplig om op te kyk en die verlangde besonderhede te verstrek. Dan staan sy vinnig op. “U sal my nou moet verskoon, oumatjie. Ek moet nou gaan.”
“Maar, hartjie, jy het dan gesê dis jou vry dag. Ek het dan gedink jy gaan die hele dag by my kuier.”
Louwrinda skud haar kop beslis. “Jammer, oumatjie, maar ek kan nie. Ek het ’n paar dingetjies te doen by die tehuis.”
Hy staan ook op. “Ek gaan ook nou terug hospitaal toe. U kan saamry tot daar.”
Sy sluk. “Dankie, professor, maar . . . maar ek het nog ’n paar inkopies ook om te doen. Ek gaan eers stad toe.”
“Dan laai ek u in die stad af.” Sy stemtoon laat geen verdere protes toe nie.
Die middestad is nie ver van die huis af nie, maar dit voel vir Louwrinda soos ’n ewigheid voordat hy haar aflaai.
Hy het sy bes gedoen om gesellig te wees, maar elke vraag van hom was ’n pyniging vir haar.
“Hoe lank verpleeg u al?”
“Maar nog net drie maande.”
“Hou jy daarvan?”
“Ja.”
Mismoediger as ooit tevore stap sy na die bushalte toe nadat sy seker gemaak het sy motor het al om die hoek verdwyn.
“Haai! Waar ry jy en die professor hierdie tyd van die oggend rond?” hoor sy verpleegster Weber se stem agter haar.
Sy voel hoe haar rugstring spontaan styf trek en kyk met misnoeë na die breë glimlag om verpleegster Weber se mond. Dié neem langs haar stelling in met haar arms vol pakkies.
“Waar kom jý vandaan?” vra Louwrinda op die plek aggressief.
“Ek het gou vir my materiaal kom koop vir my aandrok. Die hospitaaldans is mos om die draai. Kyk hier. Is dit nie ’n pragtige patroon nie?”
Louwrinda kyk skaars na die patroon wat voor haar neus gedruk word, haar gedagtes met ander dinge besig. Moes Weber nou juis vanoggend uitgesoek het om haar aandrok se materiaal en patroon te gaan koop, en moes sy juis op dáárdie oomblik, toe professor Landman haar aflaai, klaar met haar inkopies wees? Ag nee, dis darem nie regverdig nie!
“Jy en jou professor sal seker ook gaan dans, nè?”
“Weber, asseblief, hou op om van die man te praat as mý professor.”
“Ag, hier is mos nou niemand naby wat sal hoor nie. Het jy al jou aandrok reg?”
“Ons . . . ek gaan nie dans nie. Daar kom die bus nou.”
Dankbaar om van Weber se geklets ontslae te wees, stap sy ’n ruk later haar kamer binne. Maar om in haar kamer weg te kruip, sal nie haar probleem oplos nie. Met ’n besliste doel voor oë stap sy daardie middag na die sitkamer waar die juniors gewoonlik vergader wanneer hulle van diens af is.
“Weber sê jy en jou sleep gaan nie hospitaaldans toe nie,” sê Vos met die intrapslag.
“Nee, Vos. Ons gaan nie, want ons sleep nie meer nie,” sê Louwrinda verbete.
Vos se oë peul byna uit haar kop, en die ander klomp staan vinnig nader. “Jy kan nie dit vir ons sê nie! Ag nee, wat het dan nou gebeur?” Dit klink asof Vos wil huil, asof dit vir haar ’n persoonlike verlies is. Hulle klomp juniors stap dan juis so breëbors rond. Louwrinda kan dit nie nou aan hulle doen nie.
Louwrinda lek eers oor haar droë lippe. “Ek het hom die trekpas gegee. Dis alles verby.”
“Haai, foei tog, mens! Wanneer het julle baklei? Vanoggend? Weber sê hy het jou by die bushalte afgelaai en . . .”
“Vos, daar bestaan niks meer tussen my en professor Landman nie. Die saak is afgehandel.”
“Maar wáároor het julle gestry?”
“Dis my saak,” sê sy bot.
Maar haar kollegas het ander idees. Nee a, hulle kan so iets nooit toelaat nie!
Vos sit haar arm vertroostend om Louwrinda se skouer. “Ag, toe maar, jong, dit sal weer regkom . . .”
Dit voel vir Louwrinda of sy kan gil. “Ek wil dit nie weer reg hê nie.”
“Jy praat nou sommer. Jou hart sê anders.”
“Vos! Asseblief!” Louwrinda voel haar oë begin brand, maar sy weet nie of sy aan die huil moet gaan of histeries moet lag nie. Kan hulle haar nie uitlos nie?
“Moenie huil nie, Kempie. Alles sal weer regkom,” troos Vos gevoelvol, en Louwrinda besluit sy sal maar liewer huil.
Die ander vorm ook nou ’n kring van simpatieke omstanders om haar.
“My ma sê altyd geen man is een enkele traan van ’n vrou werd nie,” klink dit wysgerig op. “Al is hy ook ’n professor, is hy nie een traan van jou werd nie, Kempie. Moenie huil nie.”
“Ja, professor of nie, hy bly maar ’n man. Ag, dinge sal weer regkom, Kempie, jong.”
“Ek is seker hy is klaar spyt, Kemp. Vos het reg. Jy moet sien, hy gaan vanaand nog weer kom opmaak.”
Dit help nie! Dit help alles niks nie! dink sy desperaat toe sy haar later losgeskeur kry van al die simpatiebetuigings en bemoedigings.
Sy is reeds in die bed toe haar naam meteens oor die luidspreker in die gang opklink: “Verpleegster Kemp . . . telefoon. Verpleegster Kemp, telefoon . . .”
Verbaas trek sy haar pantoffels en japon aan. Wie sou haar hierdie tyd van die aand bel? Dis wel net na nege, maar . . .
Toe sy haar kamerdeur oopmaak en in die gang uitstap, kyk sy vas teen ’n klomp glimlaggende gesigte. Al die ju-niors staan voor hul kamerdeure.
“Toe! Hardloop, man! Dis hý!”
“Ek het jou mos gesê hy sal bel!”
“Ons hou almal duim vas, Kempie! Sterkte en voorspoed!”
Sy kyk hulle kwaai aan. “Julle is almal verspot. Dis my . . . my broer. Ek verwag ’n oproep van my broer.”
“Aikôna, sussie. Ek voel dit sommer aan. Dis hý wat bel om op te maak. Hardloop dan nou, Kemp!”
Sy voel sy het beslis al die gelukwensinge van die hele junior personeel nodig toe sy met bewende hande die hoorbuis optel en die stem aan die ander kant herken. Dis sowaar hý!
“Juffrou Kemp? Dis Len Landman wat praat.”
“Ja. Ja . . . professor?”
“Ek is jammer ek bel so laat, maar ek was tot nou toe besig. Ek wil hoor of ek u eerskomende Saterdagaand kan kom haal vir ’n ete. Hallo? Is u daar?”
“Ja.” Haar keel dreig om totaal toe te trek en haar stem klink soos die gepiep van ’n muis in haar eie ore.
“Sal dit reg wees? Sewe-uur se kant?”
“Nee. Ek . . . is jammer . . . ek kan nie . . .”
“Dan het u reeds ’n afspraak? Dis jammer. Ons maak dit dan maar ’n volgende keer.” Dis duidelik dat hy aan die ander kant wag op ’n reaksie van haar kant, maar toe daar niks kom nie, praat hy weer. “Jammer dat ek so laat gepla het. Nag, juffrou Kemp.”
Die telefoon klik in haar oor en sy moet aan die kassie waarop die telefoongids lê, vashou. Sy weet hoekom hy gebel het. Sy ouma het hom met al haar praatjies onder ’n verpligting geplaas. Hy is seker in sy hart verlig dat sy nie die uitnodiging wou aanneem nie. Nou is hy van daardie verpligting onthef. Die feit dat sy stem teen die einde kortaf, selfs ietwat afgehaal geklink het, is natuurlik bloot haar verbeelding. ’n Man soos hy, met sý status en aansien, en só aantreklik, hoef hom regtig nie moeg te maak oor ’n junior verpleegstertjie nie.
Sy is behoorlik bang om terug te stap na haar kamer toe sy eindelik die telefoonhokkie verlaat. Soos sy verwag het, word sy ingewag. Die klomp juniors staan in ’n laer voor haar kamerdeur saamgetrek. Ag, liewe land tog!
Vos se oë blink. “Dit was toe hý, nè? Wat sê hy? Is hy jammer? Het julle opgemaak?”
Die vrae reën op haar af.
“Nee. Ek het hom gesê hy moet na sy peetjie gaan.” Sy troos haar dis min of meer waar. Sy het mos geweier om saam met hom te gaan eet.
“O, pragtig!” Verpleegster Weber lyk asof sy in ’n beswyming kan gaan van opgewondenheid. “Kemp, jy weet net hoe om met ’n man te werk. Dit was nou net die regte ding om te doen. Hy moet eers so ’n bietjie swaarkry voordat jy hom vergewe. Ons vroumense vergewe te gou en te maklik. Daarom dat die mans met ons maak nes hulle wil. Wat sê hy toe?”
Louwrinda skud haar kop stilswyend. Hierdie klomp sal haar nog heeltemal gek maak.
“Ek hoop jy was darem nie te snaaks met hom nie,” sê Vos onrustig. “Jy weet, daar is baie wat maar te gretig sal gryp as jy los.”
“Ek dink ook Kemp het die regte ding gedoen. As hy haar regtig liefhet, sal hy weer probeer. Kempie, jy moet net sorg dat julle opmaak vóór die hospitaaldans.”
“Ja-nee, ons nuwe professor lyk nie vir my na ’n man wat hom sommer los en vas die trekpas sal laat gee nie. Kemp het hom nou net iets gegee om oor na te dink. Hy sal weer terugkom. Hierdie romanse is te pragtig om sommerso dood te loop.”
Louwrinda druk by die klomp verby en stoot haar kamerdeur met mening toe. As sy ’n oomblik langer na hierdie maansiek gesanik moet luister, sal sy ’n koelbloedige moord pleeg.
Maar sy kan nie aan die slaap raak nie. Elke keer betrap sy haarself dat sy wonder hoe dit sal voel om saam met professor Len Landman ’n aand uit te gaan vir ete. Haar verbeelding is sterk geprikkel en sy kan haar die toneel voorstel. Hy sal haar by die tehuis kom haal, só aantreklik. Die ander verpleegsters, ook die ou spul seniors, sal bekaf en met begerige oë toekyk hoe hy die motordeur vir haar oophou. Hulle sal by een van die beste eetplekke in die stad instap, en dadelik sal daar ’n kelner – nee, die hoofkelner – byderhand wees om hulle na ’n uitgesoekte tafeltjie te lei. Daar sal gedempte ligte wees en ’n orkes sal strelend in die een hoek speel. Die kelner sal yskoue sjampanje uit ’n silwerysemmer haal en in twee glase skink. Hulle sal die glasies teen mekaar klink en hy sal glimlag en diep in haar oë kyk. Hulle sal tussenin eet, maar die meeste van die tyd sal hulle dans op die ritme van die dromerige musiek. Later, baie later, sal hulle terugkeer tehuis toe. Hy sal reg onder die trap se lig kom stilhou, haar saggies nader trek en met ’n diep stem bedank vir ’n aangename aand. Miskien . . . miskien sal hy haar ligweg op die voorkop soen . . .
Dat sy in geen droomwêreld leef nie, kom sy die volgende dag gou agter. Sy is besig om saam met die stafverpleegster beddens op te maak, toe dié guitig laat hoor: “En jy sê, Kemp, jy slaan toe ons almal se hand sommer daar en dan in die as!”
Sy knip haar oë en kyk haar senior verward aan. “Staf . . .?”
Haar senior lag openlik. “Ek kan jou dít sê, verpleegster Kemp: ek gee nou nie so erg om nie, want ou Daan is goed genoeg vir mý, maar jy is beslis nie die gewildste junior in hierdie hospitaal nie! Daar is van die seniors wat jou graag sou wou teer en veer as hulle net kon.” Sy gee Louwrinda ’n ligte, goedige stampie in die rigting van die volgende bed. “Ek kan nie help nie – ek vind die hele ding geweldig amusant. Dis die eerste keer dat ’n junior ’n klomp seniors so lekker koudsit.”
“Staf . . .” Louwrinda swyg. Dis tog onmoontlik om alles nou breedvoerig en oortuigend aan haar te verduidelik en dit terwyl hulle besig is om pasiënte se beddens op te maak. En die volgende bed is juis ou tant Nellie s’n. Dié dame het reeds laat blyk dat sy ’n angel vir ’n tong het. Sy leun nou ook gretig nader.
“Waarvan praat jy, staf? Wie het vir wie koudgesit, hè?”
Stafverpleegster Deneys knipoog vir Louwrinda en verkies om nie die waarskuwende blik raak te sien nie. “Nee, tannie, hierdie dametjie het mos die beste vangs in die hospitaal vir haarself gemaak en ons ander hoog en droog laat sit!”
“Staf, asseblief . . .” probeer Louwrinda ontsteld keer, en gelukkig roep die suster op daardie oomblik na haar stafverpleegster.
Louwrinda besef dat as stafverpleegster Deneys van die storie weet, elke ander senior ook daarvan sal kennis dra. Haar maag maak ’n draai. As die storie al só ver is, is dit nog net ’n hanetreetjie tot in matrone se kantoor – as dit nie reeds daar is nie – en totdat dit die professor se ore bereik.
Toe sy later tee drink, aanvaar sy dat haar vermoedens juis is. Sy onderskep telkens ’n onderlangse blik in haar rigting – ook van die seniors se kant af. Haar maag maak nie meer draaie nie. Dit voel of ’n ton ysterklippe daarin rondmaal. Wat op aarde gaan sy doen?
Toe professor Len Landman daardie oggend sy rondte in saal 7 gedoen het, het sy gesorg dat sy druk besig bly om op te ruim. Maar die middag ontglip sy hom nie so maklik nie. Sy is besig om ’n pasiënt se verbande gemakliker te maak, toe hy skielik alleen in die saal verskyn. Sy kyk angstig om haar rond. Wat het van die ander verpleegsters geword? Suster is reeds van diens af, maar saam met die stafverpleegster is daar nog drie ander verpleegsters aan diens. Gewoonlik, wanneer hy met sy groep studente verskyn, hoef ’n verpleegster nie saam met hom te stap nie. Maar as hy alleen kom, soos vanmiddag, is dit die gebruik dat ’n senior verpleegster die rondte saam met hom moet doen. Louwrinda het geen ander keuse as om nader te stap nie.
Dit kos al haar moed om hom in die oë te kyk. “Ek sal gaan kyk waar staf is, professor.”
“Dis nie nodig nie, verpleegster Kemp. Jy kan ook saamstap.”
“Maar . . .” Sy wil verduidelik dat dit nie so gedoen word nie, maar hy het reeds na die eerste bed gedraai, en sy het geen ander keuse as om hom te volg nie.
Nadat haar senuwees ’n bietjie begin bedaar het – hy skenk geen aandag aan haar nie, maar hou hom met die pasiënte besig – begin sy hierdie nuwigheid geniet. Vir die eerste keer voel sy ook soos ’n verpleegster. Sy kan nie anders as om beïndruk te word deur die wyse waarop hy sy pasiënte benader nie. Selfs die moeilike tant Nellie is soos klei in sy hande, en Louwrinda kan nie help om ietwat geamuseerd te voel nie. Selfs ’n ou dame soos tant Nellie kan nie help dat die aantreklike professor die wind totaal uit haar seile neem nie!
Sy staan al ’n rukkie in sy gesig en opkyk voordat sy besef dat hy haar direk aangespreek het. Sy knip haar oë verward en kyk om haar rond. Hulle het blykbaar die rondte voltooi en staan steeds by die dubbeldeure.
Sy voel ’n blos teen haar hals opstoot en vra verbouereerd: “Ekskuus, professor. Het u . . . het u iets gevra?”
Daar is ’n vonkie geamuseerdheid in die blou oë wat in hare afkyk. “Ja. Ek het gevra of jy regtig Saterdagaand ’n ander afspraak het.”
Sy voel die blos hoër opstoot en sy sien hom vir die eerste keer werklik breed glimlag. “Toe maar, ek begryp. Wat sal ’n oulike nooientjie soos jy haar nou ook moeg maak met ’n verstokte ou professor soos ek?”
Sy kyk vinnig op. “Maar dis nie . . .”
“O, professor, ek is jammer, ek was in een van die privaat kamers besig. Verpleegster Kemp, jy moes my dadelik kom roep het!” klink die ontevrede stafverpleegster se stem langs hulle op.
Die professor se kalm stem bring haar ’n bietjie tot bedaring. “Verpleegster Kemp wou, maar ek het dit nie nodig geag nie, staf. Daar is niks belangriks om by te voeg nie.” Die blou oë keer terug na die junior en hy knik sy kop. “Dankie, verpleegster Kemp.”
Sy staar hom agterna. Hy het haar ’n oulike nooientjie genoem . . .
“Verpleegster Kemp! Kemp, ek praat met jou!”
Teësinnig kyk sy na stafverpleegster Deneys wat gewoonlik nie onaardig is nie, maar beslis vererg is op hierdie oomblik.
“Dit gebeur nie weer nie. Verstaan ons mekaar? Die feit dat jy gekys is met ’n professor, maak jou nog nie volleerd nie. Jy is ’n blote junior – beslis nie bevoeg om ’n dokter op saalrondtes te vergesel nie. Begryp jy dit goed, verpleegster Kemp?”
“Ja, staf.”
Maar nie eens hierdie skrobbering kan die skielike ligte gevoel binne-in haar vertroebel nie. Hy dink sy is oulik. Hy aanvaar sy wil nie saam met hom gaan eet nie omdat sy dink hy is ’n verstokte ou professor. Hoe verkeerd is hy tog! Sy sal haar laaste paar sente vir die maand gee om een aand saam met hom uit te gaan. Hoekom het sy nie maar ja gesê toe hy haar gevra het nie? Wat maak dit saak wat die res van die hospitaal sê en dink?
“Kemp! Verpleegster Kemp, kom terug aarde toe!”
Weer moet sy haar met wilskrag terugbring na haar onmiddellike omgewing. Weer kyk sy in die ontstoke stafverpleegster se gesig vas. Sy knip haar oë. Wat is dit nou weer? Sy het mos nie nou weer iets verkeerd gedoen nie?
“Jy kan bly wees suster is al van diens af, anders het jy net môre in matrone se kantoor beland.”
“Staf . . .?”
“Die hele saal se klokkies is aan die brand en jy staan hier die pan en vasdruk asof . . . asof dit professor Landman is wat jy omhels!” Louwrinda kyk vinnig af en laat dan die pan skuldig sak. Sy is sowaar besig om die blink voorwerp soos ’n wafferse minnaar teen haar boesem te staan en vertroetel! “Luister, Kemp, ek is nie onsimpatiek nie. Ek was ook al verlief. Maar daar is perke. Dis duidelik dat jy die skoot omtrent hoog deur het, maar probeer jou in toom hou wanneer jy aan diens is. Loop deel die medisyne uit!”
Die ander junior kom sit hand by, dik van die lag. “Julle twee het te pragtig gelyk daar in die deur, jy so blosend gelukkig en hy besig om jou met sy oë te verslind! O, dis so romanties! Moet jou nie aan staf steur nie. Sy is ook maar jaloers, al is sy verloof. Sy sal môre haar kêrel los as sy jou professor kan kry.”
Louwrinda se mond gaan werktuiglik oop om weer te protesteer, maar sy swyg. Dit sal tog nie help nie. Wat meer is . . . sy wens dit was regtig waar . . . dat hy haar met sy oë wou verslind.
“Verpleegster . . . Verpleegstertjie, maar . . . ek wil die ding nie onder my kop hê nie!”
“Kemp, is jy gek? Hoekom druk jy die pan onder die pasiënt se kop in?”
Verdwaas sien Louwrinda hoe verpleegster Keuler net betyds die pan onder mevrou Wiese se kop uitruk voordat staf dit sien.
Louwrinda staan ietwat deur die wind. Sy het geen idee hoe die pan onder die pasiënt se kop beland het nie. “Wie . . . wie het dit daar ingedruk?”
Keuler skuif die pan op die regte plek en skree soos sy lag agter die beddeken. “Jy . . . jou maansiek ding! Gits, maar jy is verlief, is jy nie?”
Louwrinda glimlag bewerig terug, en knik dan oorwonne. Ja, sy is verlief . . . hoe erg, besef sy nou eers.