Читать книгу Junior in Saal 7 - Ena Murray - Страница 4
2
Оглавление__
“Liewe land, verpleegster Kemp, wat makeer jou? Het jy dan pap in jou hande? En dit terwyl die nuwe professor . . .”
Stafverpleegster Deneys sluk byna haar tong in van ontsteltenis, en terselfdertyd wens haar junior dat die aarde háár insluk. Ook die suster het in haar spore verstyf toe die geweldige geraas agter haar opklink. Sy draai om, en in haar oë staan die boodskap duidelik: Junior verpleegster Kemp het haar met hierdie flater ’n deeglike skrobbering op die hals gehaal . . .
“Kry onmiddellik ’n lap en maak skoon die gemors, verpleegster Kemp! Onmiddellik!”
Daar kom weer lewe in Louwrinda se lam bene. Hulle beweeg byna vanself. Hoewel sy beslis nie direk in daardie rigting gekyk het nie, is sy bewus van die mediese studente se glimlaggies en dat ’n paar reeds besig is om suggestief sakdoeke uit te haal. Die man wie se foto op haar lessenaar pryk, staan doodstil en toekyk. Op sy uiters aantreklike gesig is daar hoegenaamd geen uitdrukking te bespeur nie.
Die saalsuster se stem klink verskonend agter haar op: “Dit spyt my, professor. Die onhandigheid van die juniors . . . U moet asseblief die gemors verskoon . . .”
Louwrinda verdwyn in die pankamer waar sy desperaat om haar rondsoek na ’n lap. Dan spring sy koorsagtig aan die werk, terwyl sy die optog met een oog dophou. Gelukkig vertoef die nuwe professor by elke bed, natuurlik om sy pasiënte te leer ken en op die hoogte te kom met die aard van hul ongesteldheid. Sy is kwalik bewus van wat sy doen. Sy weet net sy moet weg wees wanneer hulle hierdie hoek bereik.
Toe die optog by die hoek kom, lyk dit reeds beter, maar van die mediese studente raak weer onnodig doenig met hul sakdoeke en van halfpad onder ’n bed uit werp sy hulle ’n moorddadige blik toe. Dis nie só erg nie! Buitendien, as hulle eendag dokters wil word, beter hulle aan alles gewoond raak.
Dan, met ’n hart wat bo in haar keel klop, kyk sy vir die tweede keer in daardie blouste van blou oë vas.
Heel bedaard sê hy: “Ons sal daarbo aangaan.”
Terwyl hy die optog na die bokant van die saal lei, kry Louwrinda kans om die vloer met ’n ontsmettingsmiddel te was en die vensters wyd oop te maak.
Met bewende knieë en na aan trane leun sy teen die wasbak aan. Sy sluit haar oë. Ek droom, maak sy haarself wys. Dis nie hý nie. Dit kán nie hý wees nie! Hulle lyk maar net baie na mekaar . . .
“Kemp, ek het my staan en doodlag vir jou daar agter die skerm!” hoor sy die ander junior se stem langs haar. “Suster gaan jou braai! Wat het jy dan gemaak, man?”
“Niks. Ek . . . weet nie wat gebeur het nie,” fluister sy flou en vee oor haar oë.
Haar kollega geniet nog steeds die situasie. “Ek wens jy kon jou gesig sien toe jy daar onder die bed uitloer! Jy was net oë! Ek dog jy kyk die nuwe professor middeldeur!” Sy frons effens. “Hy is ’n bak ou, nè? Geen filmster kom naby hom nie.” Sy frons effens. “Maar weet jy, dis al of die man se gesig bekend is. Ek weet ek het hom nog nooit tevore gesien nie, maar tog is sy gesig bekend.”
Louwrinda sluk en gryp die naaste pan en begin dit oordadig skoonmaak. “Waar sou jy hom dan ook gesien het? Hy kom so pas van oorsee,” sê sy vinnig en bid dat verpleegster Keuler nie verder in haar gedagtes moet delf nie.
“Dis waar, ja. Hy kom so pas van oorsee, nè? Oorsee . . .” Verpleegster Keuler frons peinsend.
Vinnig sê Louwrinda: “Gee pad hier, man. Jy staan in my pad. Het jy nie werk om te doen nie?”
“Ja. Ek moet gaan rûe invryf. Maar wag ’n bietjie . . . Kemp, daardie man lyk nes jou sleep! Ja! Dis hoekom sy gesig so bekend is!”
Louwrinda moet die begeerte onderdruk om haar kollega sommer met die pan oor die kop te slaan. Maar sy is reeds diep genoeg in die moeilikheid. Sy dwing haarself tot kalmte en probeer ongeërg wees. “Aag, hierdie professor kan gaan slaap teen my sleep.”
“Nee, regtig, sonder grappies nou. Hoe meer ek daaraan dink . . .”
Louwrinda se senuwees kan dit nie hou nie. Sy sê verwoed: “Keuler, gebruik jou verstand vir die toets môre en hou op om kaf te praat. Loop, loop vryf jou rûe in.”
Verpleegster Keuler kyk Louwrinda vererg aan: “Toe nou, dis nie nodig om jou te wip nie. Ek sê mos maar net . . . Goed, goed, ek loop – maar vanmiddag kom kyk ek weer na daardie foto van jou sleep. Ek kan sweer dis een en dieselfde mens. Wat het jy gesê is jou sleep se van?”
“Ek het nie gesê nie, en dit gaan jou nie aan nie, junior Keuler.”
Met ’n snuif verdwyn die ander meisie, en Louwrinda is weer alleen in die voorradekamer. ’n Benoude gevoel van naderende onheil oorval haar.
Terwyl Keuler en ’n ander verpleegster besig is om rûe in te vryf en die pasiënte weer gemaklik te maak, gesels hulle, soos die res van die personeel, ook net oor een ding – die nuwe professor.
Keuler en haar kollega lag weer opnuut oor die petalje in die saal, en dan sê Keuler fronsend: “Weet jy, hier is iets snaaks aan die gang.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek is nie seker nie. Jy is nie in ons groep nie, en jy het seker nog nie Kemp se sleep gesien nie.”
Die ander meisie kyk haar verward aan. “Jy bedoel die junior hier in saal 7?”
“Ja. Sy het ons ’n foto van haar sleep gewys. Die man op die foto en die nuwe professor lyk presies eenders.”
Haar maat lag openlik. “Hulle lýk seker maar net na mekaar. Jy kan tog nie bedoel . . . Moenie verspot wees nie, Keuler.”
Keuler lyk ietwat verleë. “Wel, dan is dit sy dubbelganger. Ek sê jou, hulle lyk kompleet eenders. Wat is die professor se naam?”
“Professor Landman.”
“En sy voornaam? Ken jy dit?”
“Ek het suster dit netnou hoor noem. Wag . . . O ja! Dis glo Len. Ja, hy is professor Len Landman.”
Verpleegster Keuler se oë blink en sy sê oorwinnend: “Nou ja! Ek sê jou mos! Kemp se kêrel se naam is ook Len. Dit staan op die foto. Met al my liefde – Len.”
Die ander verpleegster lyk onseker. “Dit kan blote toeval wees, Keuler. Kom! Jou verbeelding is aan die weghardloop met jou. Ons het nog drie rûe oor. Roer jou.”
“Dis darem groot toeval, is dit nie?” sê sy, maar volg dan haar senior gedwee na die volgende privaat kamer toe.
’n Vasberade verpleegster Keuler gaan daardie middag van diens af. Toe sy haar by haar maats aansluit, vra sy sommer met die bymekaarkomslag: “Vos, het jy die nuwe professor gesien?”
Verpleegster Vos glimlag van oor tot oor. “Wie het nie, my liewe mens? Jy kán hom net nie miskyk nie! Is hy nie te pragtig vir woorde nie?”
Dit word algemeen beaam, en verpleegster Keuler por weer: “Aan wie laat hy jou dink?”
Verpleegster Vos frons. “Noudat jy dit noem . . . Dis al vir my asof die man se gesig wil bekend wees. Na wie lyk hy?”
Verpleegster Keuler glimlag tevrede. Dit wás nie haar verbeelding nie. “Dink ’n bietjie. Jy het daardie gesig al op ’n foto gesien.”
“ ’n . . . Foto?”
“Ja. Die man op die foto het sy naam geteken – Len. Dis glo ons nuwe professor se voornaam ook.”
“Len? Wag ’n bietjie . . .” Sy kyk haar maats verbaas aan; dan kyk almal na verpleegster Keuler.
“Juistement, verpleegster Vos! Juistement! Ek wil nog net een keer daardie foto goed beskou, dan sal ek seker wees.”
“Seker waarvan? Ag, Keuler, jy is van jou trollie af! Waar sal ’n simpel junior soos Kemp nou aan ’n man soos professor Landman kom?”
“Dit weet ek nie, my liewe verpleegster Weber. Maar ék sê vir julle, hier is ’n slang in die gras. Laat ek julle ’n bietjie vertel wat vanoggend in saal 7 gebeur het net toe die nuwe professor sy verskyning maak . . .”
Sy het die klomp half histeries aan die lag toe hulle die tehuis binnestap. “Nou vra ek – hoekom het Kemp haar so boeglam geskrik? Ek sê vir julle, sy het gelyk of sy ’n spook gesien het! Sy het die man herken, ek kan dit sweer.”
“Maar as hy haar sleep is, sou sy mos geweet het hy kom, Keuler.”
“Miskien, en miskien ook nie. Miskien wou hy dit vir haar as verrassing hou. En hy hét haar verras. Hoor! Met onaangename gevolge! Kom ons gaan kyk weer na daardie foto. Sy kom eers sewe-uur van diens af.”
Baie skepties, maar tog nuuskierig, volg die klomp haar, en nog nooit is ’n foto so intens beskou nie. Vos hou dit omhoog sodat almal dit duidelik kan sien, en ’n stilte daal oor die groepie neer. As hierdie man en die nuwe professor nie een mens is nie, het hy êrens ’n identiese tweelingbroer.
“Toe! Wat sê julle nou?” daag verpleegster Keuler hulle ingenome uit.
“Hulle lyk darem regtig eenders,” gee een toe.
“Ja, dit is so, maar ek weet darem nie. Kemp is ’n ou juniortjie. Waar sal ’n professor hom nou met so ’n jong meisietjie ophou?”
“Wat doen jy nou?”
“Ek haal die foto uit die raam. Miskien staan hier iets agterop wat ’n mens meer duidelikheid kan gee. Kyk hier!”
Die foto se rugkant word nou vir inspeksie omhoog gehou. Agterop staan baie duidelik in ’n stewige handskrif: Doctor Len Landman, University of Edinburg, Scotland.
“Dit . . . dit ís hy! Dis . . . sowaar hy!” laat Vos byna ademloos hoor.
“Dit kan nie anders wees nie!” laat ’n ander hoor, en: “Dit móét hy wees!”
“Ja. Kemp het tog gesê hy studeer in Skotland, in Edinburg, en sy naam is ook Len Landman. Dit móét een en dieselfde mens wees. Dit kan nie blote toeval wees nie!”
Versigtig word die foto weer in die raam geplaas en op sy plek neergesit. Hulle kyk mekaar verdwaas aan. Dan glimlag verpleegster Vos, haar oë nog vol ongeloof. “Maar so ’n rakker van ’n Kemp! Hou haar kastig so sedig, en al die tyd is sy besig met groot visse vang! Dink ’n bietjie! Een van ons niksbeduidende ou juniortjies het ’n professor aan die lyn! Liewe land, ek kry sommer groot respek vir my kollega!”
Die ander lag bewerig saam. Maar daar is tog iets soos ontsag en afguns wat opklink in hul kommentaar:
“Maggies, en ek het gedink ou Kemp sou nóóit ’n man gevang kry nie!”
“Die senior verpleegsters gaan groen wees van jaloesie! Ek het vandag gehoor hoe slyp hulle hul tande vir hom! Selfs dik suster Richter het van oor tot oor geglimlag toe sy die nuwe professor ontmoet! Arme ou ding!”
“Hete, die gedagte is nogal lekker. Die seniors sien mos altyd so neer op ons! Maar hierdie keer kyk hulle teen hul neuse vas! Een van óns het dié vangs van die hospitaal gemaak!”
Terwyl Louwrinda haar pligte fluks bly uitvoer, werk haar brein teen die hoogste versnelling. Daar is net een oplossing: Sy moet dadelik van daardie foto ontslae raak en sorg dat almal weet haar kys is verbreek. Sy weet dit sal agterdog wek as die foto nou skielik weer verdwyn, maar sy sal maar sê sy het dit opgeskeur.
Sy voel sommer ontevrede met oumatjie ook. Hoekom het sy haar nie gesê dat haar kleinseun terugkom nie? En hoekom het sy haar nie gesê dat hy ’n dokter is en dat hy hier aangestel is as professor nie?
Dan sug sy. Sy is nou onredelik. Sy kan niemand anders as haarself verkwalik vir die penarie waarin sy haar bevind nie.
Sy gaan moeg en bekommerd van diens af. Sy is nog skaars van die huis af weg en sy vergeet wat haar ouers haar geleer het. Sy het haar pa al dikwels hoor sê: “Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel.” Maar nee, toe begin sy mos slim leuens uitdink, en dit net om die monde van ’n spul verspotte bakvissies stil te kry!
Sy stap haar kamer binne, kyk kwaai na die foto wat bly terugglimlag. “Daar is niks om oor te lag nie!” sê sy boos. “Vir wat moes jy ook nóú teruggekom het! Kon jy nie ’n doodgewone klerk of ’n onderwyser gewees het nie? Maar ’n professor!”
Sy tel die foto op, kyk fronsend daarop af. Buitendien, ’n professor lyk nie so nie! ’n Professor is ’n ouerige persoon, met yl wordende haartjies, moeë lyne van jare se diens aan sy medemens om sy oë en mond en óf uitgedroog, óf kort en dik. Maar hy . . . Kyk hoe lyk hy! Hy lyk kwalik soos ’n dokter, wat nog te sê ’n professor!
Maar al hierdie kwaai gedagtes help niks nie. Die kommer wyk nie. Sy is in ’n penarie en sy weet dit alte goed.
Sy steek die foto met raampie en al diep onder haar onderklere weg. Dis meer as ’n penarie, dink sy: Ek is in ’n dik fieks. As die senior personeel darem moet hoor dat ek kastig met die professor sleep . . . Hulle sal my uitmekaar trek. Matrone het juis in die begin van die jaar gesê dis etiket dat daar nie iets soos ’n verhouding tussen ’n junior en ’n senior is nie . . . Dis weliswaar nie ’n geskréwe reël nie, maar dit staan ewe vas as die wette van die Mede en die Perse. Dis glo onbetaamlik dat juniors en seniors familiêr met mekaar verkeer. Dis sleg vir die dissipline van die hospitaal. Dis iets wat net nie gedoog word nie.
En nou is hier ’n rou juniortjie wat beweer sy en die nuwe professor is gekys! Louwrinda voel behoorlik ’n rilling langs haar ruggraat afgaan. As hierdie storie moet uitlek, sal dit so goed wees of ’n bom het die hospitaal getref.
Met haar vingers gekruis, in die hoop dat verpleegster Keuler haar vermoedens vir haarself gehou het, stap sy ’n rukkie later die eetsaal binne.
Sy kan dit eenvoudig nie ignoreer nie. Die juniors se glimlagge na haar kant toe is te breed en te vriendelik en net te ingenome om mis te kyk. Daar is selfs ’n paar van die seniors wat ondersoekend na haar kyk. Sy het skoon die bewerasie toe sy op haar plek neersak. Al haar honger het verdwyn.
“Hoekom skep jy nie vir jou kos nie, Kemp?” vra iemand.
“Ek is nie honger nie, dankie,” antwoord sy so kalm moontlik, maar daar is moordgedagtes in haar hart. As sy darem daardie Keuler in die hande kry, draai sy haar nek om!
“Los haar, man. Sy leef van liefde en koue water!” spot verpleegster Vos aan die hoof van die tafel.
“Wat wil sy ook nou met kos maak terwyl haar groot liefde by haar is?” wil ’n ander weet.
Daar breek ’n gegiggel uit.
Louwrinda swaai haar oë blitsend oor die tafel. “Julle is verspot!”
“Is ons, Kempie?” Vos bedaar effens toe Louwrinda haar kwaai aankyk. “Toe maar! Ons sal nie jou geheimpie verklap nie, hoor? Dis net tussen ons juniors.”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie!”
Almal lag en Louwrinda voel haar hart wild in die kuiltjie in haar nek klop. Hierdie klomp simpel goed het al die storie tot wie weet waar versprei!
“Nee. Nee, nie een van ons weet waarvan gepraat word nie. Moenie bekommerd wees nie. Ons vang die skimp. Nè, ouens? Ons weet van niks nie, nè?”
’n Klomp koppe knik om haar, maar die oë dartel terg-lustig in hare.
Louwrinda wend haar desperaat tot verpleegster Vos. “Vos, luister, daar bestaan nie so iets nie.”
“Wat?” Die oë terg. “Wát bestaan nie, Kemp?”
Sy trek haar asem in. Hulle wil haar in ’n hoek dryf. Sy slaan haar oë neer. Dis hopeloos. Niks wat sy sê, sal hierdie stuitige spul anders laat dink as wat hulle dink nie. Sy sug. Maar weer moet sy net vir haarself kwaad wees. Dit was immers syself wat hierdie ding aan die gang gesit het.
Iemand leun nader en fluister oor die tafelblad: “En toe verwelkom jy hom met ’n . . . ’n ongeluk, Kempie!”
Van die senior verpleegsters se aandag word onwillekeurig na die juniors se tafels getrek. Die juniors is vandag uitsonderlik vrolik. Daar is beslis iets onder hulle aan die gang. Dan draai hulle maar weer hul koppe terug. Dáárdie klompie is nog half-rou, half-gaar. Dit sal nog lank neem om waardige verpleegsters van hulle te maak. Maar dan – almal moet onder begin.
Louwrinda is die volgende oggend innig dankbaar dat sy die dag vry het. Vir die eerste keer is sy bly om nie aan diens te gaan nie. Tot dusver het sy haar werk baie geniet en het sy elke oggend gretig daarna uitgesien om saal 7 binne te stap. Maar vandag is sy dankbaar dat sy onder al daardie oë uit is. Vandag moet sy ’n plan maak om die vure dood te gooi wat sy self aangesteek het en wat nou blykbaar tot hoë vlamme deur die ander juniors aangeblaas is.
Maar skielik is sy nie in staat om te dink nie. Toe! raas sy met haarself, jy kon gou leuens uitdink toe dit jou gepas het. Wat is dit dan nou met jou? Maar dit help nie. Dis of haar verstand botstil gaan staan het. En sy moet, sy móét aan ’n plan dink om hierdie stories dood te smoor voordat dit by verkeerde ore uitkom.
Ten einde raad besluit sy om maar vir tant Sannie te gaan kuier. Sy het geen vrees dat sy oumatjie se kleinseun tuis sal raakloop nie. ’n Professor werk dié tyd van die oggend . . .
Tant Sannie is weer baie bly om “die liewe kind” te sien, en sy het skaars gegroet of sy borrel oor van haar blye nuus. “En toe, my hartjie? Het jy toe al vir Len gesien? Hy is mos nou ook daar by julle.”
Louwrinda kyk die ou dame beteuterd aan. “Hoekom het u my nie vertel hy kom nie?”
“Ek het self nie geweet nie, kindjie. Len het dit vir my vir ’n verrassing gehou. Maar wás ek bly toe hy my vertel hy gaan nou hier by my woon! Ek kan jou nie vertel nie! Nou is die huis sommer weer vol. Ag, hy is so ’n dierbare kind. Jy sal hom nog goed leer ken.”
“Dis te betwyfel, oumatjie. Die juniors en seniors kom nooit met mekaar in aanraking nie, behalwe in hul werk. En u kleinseun is baie senior.”
Tant Sannie lyk ontsteld. “Maar dis sommer nonsies daardie. Ek wil dan so graag hê julle tweetjies moet mekaar goed leer ken. Jy is so ’n liewe kind en Len is so ’n pragtige mens . . .”
Louwrinda twyfel of hy steeds ’n pragtige mens sal wees as hy moet weet watter stories op hierdie oomblik van hom en ’n junior verpleegster versprei word. Sy wonder skielik of sy nie maar die hele storie aan oumatjie moet bieg nie. Maar sy besluit daarteen. Nee, wat sy aangevang het, is verdoemend. Sy het nie die moed om dit oor te vertel nie.
Te laat hoor sy ’n motordeur toeklap en sy voel weer net so desperaat soos gisteroggend toe sy onder die hospitaalbed rondgeskarrel het. Sy kan net hulpeloos terugkyk in daardie blou-blou oë wat haar uitdrukkingloos betrag en dan skielik ’n vonkie van herkenning toon.
Tant Sannie is alte bly dat haar kleinseun iets by die huis vergeet het. “Ek weet jy is haastig, Len, maar kom ontmoet eers vir verpleegstertjie Kemp. Julle twee werk in dieselfde hospitaal. Julle sal mekaar nog daar raakloop.”
Louwrinda sit vasgenael op haar stoel en dis die man wat nader kom, hand uitsteek en met ’n diep stem sê: “Ons het mekaar al . . . e . . . raakgeloop, nie waar nie, verpleegster Kemp? Aangename kennis, in elk geval.” ’n Fyn glimlaggie verskyn om sy mondhoeke. “Hierdie keer darem onder baie aangenamer omstandighede, nie waar nie?”