Читать книгу Eensaam op Wegdraai - Ena Murray - Страница 4
Оглавление2
Die deur gaan oop op Tokkie se klop en Sannie Bester staan voor hulle.
Sy is net ’n paar maande ouer as die tweeling, maar ’n mens sal dit net glo as jy die geboortesertifikate langs mekaar sien. Want Sannie is ’n besonder ryp meisie vir haar dertien jaar; te ryp, soos juffrou Huizeman, wat ook haar klasonderwyseres is, haar kort en bondig opgesom het.
Tokkie bekyk haar klasmaat vandag met groter aandag en sy voel haar keel wil toetrek. Sannie se “ontluikende vroulikheid” het beslis darem seker al klaar ontluik, en as dit nie ... Tokkie sluk. Hierdie gemors wat sy en Bokkie aan hulle gesmeer het, móét net werk. En as dit nie werk nie en die ontluiking duur voort totdat hulle soos Sannie lyk ... Sy sal sowaar tant An se broodmes insteek.
“Ja?”
“Sannie, gee vir ons ’n paar van daardie tydskrifte wat jy altyd so lees, asseblief, jong.”
“Watter tydskrifte?”
“Ag, man, van daardie wat jy altyd in die klas onder die skoolbank lees.”
Sannie se oë rek verbaas. “Wat wil julle daarmee maak?”
“Dis ons saak. Ons wil dit net leen. Ons sal dit weer môre teruggee. Toe, man. Ek weet jy het stapels van hulle.”
Sannie is nog onseker. Hierdie tydskrifte het haar al in groot moeilikheid laat beland. Sy is al ’n paar keer in die klas betrap dat sy, pleks van na die juffrou te luister, sit en “vrystories” lees, soos die ander kinders daarna verwys.
“Ek wil eers weet wat julle daarmee wil doen.”
“Ons wil net ’n adres opsoek, dis al. Maar as jy nie wil nie ... Los! Onthou net, as ek jou weer daardie goed in die klas skelmpies sien sit en lees, gaan ek vir juffrou sê ...”
“Wag, ek sal gaan haal.” ’n Paar tydskrifte word ’n oomblik later oorhandig. “Maar julle bring dit terug!”
Bokkie is nog steeds verbysterd en in die duister waaroor dit alles gaan toe hulle agter die vyelaning op hul erf op die voor se wal gaan sit. Sy kon nog geen idee vorm in watter rigting haar tweelingsuster se verstand hierdie keer werk nie. Hulle wil ’n ma hê, een wat hulle self uitgesoek het, maar wat hierdie soort tydskrif wat Sannie soos ’n hongerige wolf verslind, daarmee te doen kan hê ...
Daar gaan ’n lig vir haar op toe Tokkie die eerste tydskrif op ’n plek oopvou.
“Hier! Hier is dit!”
Bokkie buk vooroor en lees met groot oë: “SOEK EN VIND! Ons hoekie vir eensames wat na liefde soek.” Dan frons sy en kyk vraend op. “Ek verstaan nog nie. Hoe gaan dit help? Ons soek nie liefde nie. Ons soek ’n ma.”
“Maar hier is hope ma’s, man. Kan jy nie sien nie? Hier is hope weduvroue en sulke goeters sonder man. Ons moet hulle deurkyk en ’n paar uitsoek en dan vir hulle skryf.” Sy sien die onsekerheid in die ander se oë en sê kwaai: “Kan jy aan ’n beter plan dink waar om ’n ma te kry?”
“Nee, ek ...” Bokkie sluk. Idees het nog nooit by Tokkie ontbreek nie, maar die moeilikheid agterna ook nie. Sy voel sommer aan hierdie ding gaan weer ’n onaangename nasleep hê. Maar soos Tokkie sê, watter ander plan is daar? En daar sal moet plan gemaak word, en gou ook. Die vorige kere het hulle nog nooit gehoor dat hul pa weer ’n huwelik oorweeg nie, maar hierdie keer ...
“Maar hoe gaan jy vir hulle skryf? Jy kan mos nie sommer reguit sê ons soek ’n ma voordat Pa dalk met ou juffrou Huizeman trou nie! Pa sal ons vermoor!”
“Nee, natuurlik nie, aap. Ons skryf namens Pa.”
“Namens Pa! Tokkie ...”
“Luister eers klaar, man! Ons soek ’n paar uit wat redelik klink. Dan skryf ons namens Pa. Hulle sal dan terugskryf en so kan ons hulle leer ken en later net een uitsoek wat die beste klink.”
Bokkie sien egter baie probleme. “As die vroue terugskryf, kom die briewe mos na Pa toe.”
“Ons onderskep dit voordat dit by Pa uitkom. Ons gaan haal gewoonlik altyd die pos. Dit sal nie moeilik wees nie.” Tokkie, self maar nog onseker oor hierdie plan en nog glad nie seker hoe sy dit eintlik in werking moet stel nie, klink sommer ongeduldig. “Ag, kom ons kyk eers wat is hier te kry. Dan kan ons verder praat. Vat jy daardie boek. Ek sal solank hierdie een deurkyk.”
“Goed. Kom ons kyk eers die kiekies deur. ’n Mens het darem dan ’n idee van hoe die vrou lyk.” Bokkie kyk fronsend na die blad. “Hier is een. I NEED YOU. ’n Vyftigjarige weduwee van ...”
“Moenie laf wees nie. Ons soek ’n ma, nie ’n ouma nie. Wag, hier’s een. GOUSBLOMMETJIE is ’n vyf en dertigjarige geskeide vroutjie met vier kinders en ...”
“Nee! Ons wil g’n boeties en sussies by hê nie. Net ’n ma! Hier is in elk geval ook nie slaapplek vir so baie mense in ons huis nie. Luister hier. ROOILOKKIES is ’n dertigjarige dame met natuurlike rooi hare ...”
“Nee, dankie. Mense met rooi hare is altyd beduiweld. Wag, hier is ’n LONELY LADY. ’n Regte dame, fyn opgevoed, gekul ... kul ... ti ... veerd – wat dit ook al mag beteken – en ...”
“Los maar. Sy klink vir my te veel na ou juffrou Huizeman. Dit lyk my nie ons gaan maklik ... HAAS DAS, lief vir die mooi dinge in die lewe, mooi musiek, mooi boeke en mooi mans ...” Bokkie kyk op. “Is ons pa mooi?”
Tokkie frons. “Ek weet nie. Maar sy klink ook maar vir my te ... stroperig. Hier is TOPS AND BOTTOMS, ’n jong weduweetjie, massa honderd kilogram ...”
“G’n wonder sy is net tops en bottoms nie!” Hulle giggel en kyk mekaar dan ietwat moedeloos aan. “Dit lyk my nie ons gaan hier iets kry nie.”
Tokkie sug. “Hier moet tog darem een tussen die bondel wees wat ’n mens sal kan gebruik. Laat ons weer kyk. Hier is ’n MADONNA, twintig jaar oud, ongetroud ...”
“Sy’s te jonk. Jy moet onthou, Pa sal met die vroumens moet trou, en twintig is darem seker te jonk vir hom ... of hoe?”
“Ons wil ook nie ’n ouma hê nie. Pa sal moet vat wat ons kan kry. Hy is ook nie meer so jonk dat hy kan kies en keur nie. HOMPIE K’DOMPIE, ’n geskeide twee en dertigjarige dametjie, lief vir voëltjies en diertjies en blommetjies en ... O, heiden, nee, sy klink vertraag.”
Dis ’n rukkie stil, ’n moedelose stilte, en dan is dit Bokkie wat weer ’n slag ’n blink plan kry. “Hoekom skryf ons nie self ’n advertensie nie?”
“Jy bedoel ons stuur Pa se naam in na hierdie hoekie?”
“Ja. Ons gebruik ’n skuilnaam. Niemand sal weet nie. Dan kan hulle mos skryf. Ons sal ’n groter keuse hê, dink ek.”
“Sowaar! Ek dink dis net die ware Jakob! Gee aan daardie pen en papier. Nou toe. Watter skuilnaam sal ons vir Pa gebruik?”
“Hm. Wag. Laat ek sien ... Hoe klink PA-SOEK-MA?”
“Nee. Dit klink simpel. Dit klink of Pa ’n ma vir homself soek. Nee, dit moet iets wees soos ... e ... Wag, hier sien ek ’n naam. Hoe klink EK HET JOU NODIG?”
Maar Bokkie skud haar kop. “Nee, dit klink te ... sentimenteel. Ek dink ons moet die mees algemene een gebruik. EENSAAM.”
“Maar elke tweede een is EENSAAM.”
“Ons sit nog iets by. EENSAAM OP JAGERSHOEK ...”
“Jy’s laf! Die hele dorp sal weet en op hol wees. Ons kan nie ons dorp se naam insleep nie. Hope mense op Jagershoek lees hierdie goed, nie net Sannie nie. Nee, man, ons moet ’n ander naam soek. Wag. Kom ons gebruik Ouma-hulle se plaas se naam. Wegdraai. Wat van EENSAAM OP WEGDRAAI? Dit klink nie te oes nie.”
“Ja. Dit klink goed. Pa is EENSAAM OP WEGDRAAI. Wat verder?”
Tokkie byt die pen se agterkant. “ ’n Eensame, aantreklike wewenaar van sewe en dertig met tweelingdogters soek na ’n ma ...”
“Nee, jong, dis te openlik. Los die ma-deel uit. Dit skrik hulle naderhand af ... soek na ’n dame wat hom met raad kan bystaan ...”
“... en wat kennis van tweelingdogters het ...”
“... wat begin ontluik ...”
“Moenie stuitig wees nie, Bokkie! Jy klink nes juffrou Huizeman! Nee, wag ... Wat kennis van dertienjarige tweelingdogters het. Wat nog?”
“Ons moet sê hoe oud sy moet wees. Pa is darem nie te sleg nie. Ons moenie vir hom ’n ou lelike ding kry nie.”
“Ja. ’n Mens wil jou nie vir jou ma skaam nie. Goed. Kom ons sê dames tussen vyf en twintig en twee en dertig kan skryf. Goed?”
“Ja. En sy moet ’n kiekie stuur. Vollengte.”
“Hoekom?”
“Van hulle kan miskien wat die gesig betref nie te onaardig lyk nie, maar ondertoe onmoontlik wees. Pa sal nie van ’n vet vrou hou nie.”
“Goed. Vollengtefoto.”
Toe hulle terugstap van die posbus af, is hulle stil. Hulle albei weet diep binne-in dat hulle nou iets aangevang het wat beslis nie Pa se goedkeuring sal wegdra nie. Hulle weet ook nog steeds nie presies hoe hulle hierdie ding enduit gaan voer nie. Maar dis nou te laat vir bedenkinge en tyd bring raad. Hulle sal maar elke probleem wat opduik, afhandel soos dit kom.
“Ons sal van nou af die pos darem goed moet dophou,” laat Bokkie, klaar benoud, hoor. “As Pa skielik op ’n dag ’n swetterjoel briewe van vreemde vroue kry, kry hy ’n oorval.”
“Ja. Ons velle sal waai,” stem Tokkie saam. Miskien was hulle ’n bietjie te oorhaastig. Hulle het nie die ding goed deurdink nie. Maar daar is nie tyd nie!
Hulle kyk mekaar vinnig aan toe hulle weer die huis binnestap, en tant An hulle in kennis stel: “Juffrou Huizeman is in jul kamer.”
“In ons kamer? Wat soek sy daar?”
“Sy kyk jul kaste deur. Jul pa het gesê sy sal van nou af jul klere haar verantwoordelikheid maak – en daarvoor is ek innig dankbaar. Toe, loop kamer toe. Sy sal seker iets te sê hê vir julle. Sy het byna ’n floute gekry toe sy jul kasdeure oopmaak. Ek het haar gesê dit lyk maar altyd soos ’n uitgeskropte hoendernes.”
Hulle kyk haar beskuldigend aan, maar tant An verhard haar hart. Dit is hoog tyd dat iemand hierdie twee kortvat. Of juffrou Huizeman dit ooit sal regkry om van hulle dames te maak, wil sy nog sien. Maar al kan sy hulle ook net leer om netjieser te wees ... Aarde, kyk hoe lyk hulle!
“Bokkie, wat staan soos ’n sweer daar in jou broek se agtersak?”
“Dis my tolle.”
Tant An sug diep. “En hoeveel keer het ek jou nie al gesê die goed se punte steek gate in jou broek nie? Ag, loop tog kamer toe. Juffrou Huizeman sal vir julle regkry, hoop ek.”
Sleepvoetend gehoorsaam hulle, en twee paar oë kyk vyandig rond toe hulle die kamer binnestap. Hul kaste staan hulle dolleeg en aangaap en die inhoud lê oor die hele kamer versprei.
’n Soet, sagte glimlaggie sprei oor die juffrou se gesig toe sy hulle gewaar, maar die staal onder daardie sagtheid is onmiskenbaar.
“Kom binne, tweetjies. Ons gaan nou kaste regpak. Ek het alles voor die voet uitgehaal! Ons kan reg van voor af begin. Eers wil ek julle wys hoe ’n mens klere reg opvou voordat jy dit in ’n kas wegpak. Kom staan hier langs my, julle albei.”
“Wat is in hierdie boks?”
“Jy bedoel kartondoos? Dis ’n klomp goed wat ek in jul kaste gekry het wat ons later gaan verbrand. Dis nie goed wat in dametjies se klerekaste hoort nie.”
Die tweeling buk gelyk. “Wat ...? Maar dis ons goed hierdie!”
“Ek weet.” Steeds die glimlag. “Dit was. Maar dametjies gebruik nie sulke goed nie ...”
Tokkie trek iets tussen die ongelooflike variasie van rommel uit. “Dis my kettie, juffrou!”
“Dit gaan verbrand word, Tokkie. Dis seunsgoed daardie.”
“Maar dis ’n sonde, juffrou! En al ons albasters! Kyk, hier is my mooi groot ghoen ook! Daar is nie ’n seun in die skool wat so ’n ghoen het nie ...”
“Bokkie!” Die glimlag wil begin styf word. “Kom nou. Hier by die bed. Ek wys net een maal. Gee aandag, asseblief. Eers moet al die knope van die hemp vas wees, natuurlik.”
Hulle skuifel nader, kyk bot op die demonstrasie af.
“Hoekom? Dit moet los wees as jy dit moet aantrek,” brom Tokkie.
“Dis om dit netjies opgevou te kry. Dan lê jy dit só neer ...” Toe die demonstrasie klaar is, word die hemp weer losgeskud. “Nou goed, Tokkie. Vou dit nou weer vir my op, asseblief.”
Die man in die deur se effense geamuseerdheid verdwyn toe hy die uitdrukking op sy twee dogters se gesigte gewaar. Die bedenkinge in sy hart is weer helder op die voorgrond. Hy het sommer ’n voorgevoel gehad dat sy dogters nie hierdie nuwe fase in hul lewe maklik gaan aanvaar nie. Maar hulle sal moet. Nou eers sien hy werklik raak wat al ’n hele tydjie onder sy oë was. Sy hart trek effens saam. Hulle het gou grootgeword. Gister was hulle nog klein ... Hy onthou so goed toe hulle die eerste dag skool toe is ... Maar dit was sewe jaar gelede! besef hy amper met ’n skok. Sewe jaar gelede al!
Hy kom nou binne en die vyandigheid in die twee paar blou oë wat na hom opkyk, slaan hom op ’n teer plek. Maar soms moet ’n ouer dinge doen wat nie aangenaam is vir sy kinders nie, maar wat tot hul beswil strek.
Hy gaan sit op die een bed en hou sy hande uit. “Kom hier, Bokkie, Tokkie.” Hulle skuifel onwillig nader. “Luister mooi. Julle is nou vinnig aan die grootword. Eintlik is julle glad nie meer klein nie.” Hy sluk aan ’n lastige knop wat skielik in sy keel gevorm het, gaan moedig voort: “Eintlik is julle nou groot meisies. Juffrou Huizeman was so gaaf om aan te bied om julle ... e ... te wys hoe om groot meisies te wees.”
Bokkie se lip bewe agterdogtig, en die blou oë kyk pleitend op. “Ek wil nie ’n groot meisie wees nie, Pa!”
Sy oë verteder verder. So vergroot die skuldgevoel in sy hart. Sy kinders moes lankal ’n ma gehad het. Hulle het te alleen en op eie stoom grootgeword.
“ ’n Mens kan dit nie keer nie, Bokkie. Dis iets wat net eenvoudig kom. Niks kan dit keer nie.”
Tokkie kyk haar pa fronsend aan. “Is Pa seker?”
“Heeltemal seker, Tokkie. ’n Mens word groot en jy kan dit nie keer nie. So word ’n mens ook oud, en jy kan dit ook nie keer nie,” sê hy met ’n skewe glimlaggie. Dis waar. Die jare het ongemerk verbygegaan. Hy self is nie meer so waffers jonk nie. Die beste jare snel vinnig ten einde. As hy dan nog wil, of moet, vrou vat, sal hy nie langer kan wag nie ...
Hy maak keel skoon. “Ek hoop julle sal juffrou Huizeman jul volle samewerking gee, want sy gaan iets baie groots vir julle doen. Ek weet dis lekker om saam met die seuns rugby te speel en om boom te klim en so meer. Maar daar kom ’n tyd dat ’n mens dit nie meer kan doen nie. ’n Mens moet dit dan net so aanvaar. Daardie stadium van julle is nou verby. Nou moet julle leer om meisietjies te wees, en juffrou Huizeman gaan julle help.”
Hy glimlag bemoedigend na die twee somber gesiggies. “Ek weet ek gaan nog baie spog met my twee mooi dogters!” Hy staan op. “Solank ek en juffrou gaan tee drink, kan julle oefen hoe om ’n hemp reg op te vou. En as julle daardie kuns bemeester het, kan julle gerus my hemde ook netjies gaan opvou – teen vergoeding, natuurlik!”
Maar nie eens die vooruitsig dat daar êrens ’n moontlikheid van ’n ekstra geldjie op hulle wag as hulle ’n hemp netjies kan opvou, laat hulle enigsins blymoediger voel nie. Inteendeel.
Toe hulle alleen is, kyk Bokkie die ander grootoog aan. “Het jy gehoor? Pa sê niks keer dit nie. Ons kan maar hierdie gemors afhaal.”
“Ag, man, Pa is ’n mansmens. Wat sal hy nou ook daarvan af weet? Toe, jong, vou op die hemp.”
“Ek kan nie meer onthou nie. Probeer jy eerste.”
En terwyl die tweeling staan en sweet met hemp opvou terwyl hulle honderd maal liewer saam met die seuns sou wou gaan sokker speel het, kyk juffrou Estelle Huizeman hul pa met haar soet glimlaggie aan.
“Moenie so bekommerd lyk nie, meneer! Die tweeling sal gou regkom. Jy het my woord daarvoor.”
“O.” Hy dwing ’n glimlag na sy mond. Sy ken nog nie die tweeling nie. “Wel, ek is seker hulle is in goeie hande. En terwyl ons in die toekoms baie met mekaar te doen gaan kry uit die aard van omstandighede, kan ons mekaar gerus minder formeel aanspreek wanneer ons buite die skool is. My naam is Henk.”
Die soet glimlag verwyd. “Goed, Henk. Ek is Estelle. Dit sal miskien ’n minder gespanne atmosfeer skep. Ek wil so graag hê die tweeling moet my as ’n maat aanvaar, en nie heeldag onthou ek is hul juffrou nie.”
Hy knik. Hy sal sy kant ook moet bring om dit vir almal makliker te maak. “Ja. Hoe lyk dit? Saterdagaand is hier mos ’n balletuitvoering. Sal dit nie goed wees as ons dit by die tweeling se ... e ... opvoedingsplan inwerk en almal saam daarna gaan kyk nie?”
“O, natuurlik! Dankie, dit sal wonderlik wees!”
Toe sy ’n rukkie later weer die kamer binnestap, is dit duidelik dat daar nie veel vordering gemaak is nie. Hulle kan die flits in haar oë sien – ’n flits wat hulle al goed in die klaskamer leer ken het – maar vandag bly die soet glimlaggie om juffrou se mond. “Ons kan maar weer môre verder probeer. Ek sal gou opvou en julle pak weg. Ons kan môremiddag weer verder gaan.”
Hul oë flits ’n onuitgesproke boodskap na mekaar. Gaan dit dan nou elke middag se ellende wees? Juffrou Huizeman kyk op toe die tweeling geen aanstaltes maak om te beweeg nie. “Toe, toe, tweetjies. Wegpak. Ek is laat vir ete vanaand by die koshuis.” Dan verdwyn haar glimlag effens. “Bokkie, wat ... wat gaan met jou ... broek aan?”
Twee blou oë rek onskuldig. “Nee, juffrou. Niks.”
“Kom hier, Bokkie. Ek sê, kom hier!” Die juffrou stap self nader, en nou deins Bokkie terug en daar is ’n geskraap en geklingel. Die glimlag is nie meer so stewig om haar lippe nie en Henk Beukes kom ook vinnig nader.
Hy frons. “Bokkie, wat gaan hier aan? Wat raas so?” Hy klap op die agterstewetjie wat agterdogtig bulterig vertoon en absoluut niks met “ontluikende vroulikheid” te doen kan hê nie. “Wat het jy hier ingestop?”
Bokkie het nie ’n keuse nie. “Ons ... ons albasters.”
“Om liefdeswil, hoekom? Hoekom stop jy die goed daar in?”
“Juffrou ... juffrou wil dit verbrand ...”
Henk Beukes se frons verdiep en sy blik gaan na die ander tweeling. “Jy het ook iets by jou ingestop. Wat is dit, Tokkie?”
“My kettie ... en die tolle en ... Dis ons goed, Pa!”
Juffrou Huizeman het tyd genoeg gehad om haar gesig weer op die regte plooi te kry en sy laat vinnig hoor: “Maar ek het nie geweet julle is so lief vir jul goedjies nie, skatjies. Natuurlik kan julle dit maar hou as julle wil.”
Die blou oë kyk haar stip aan. Haar deuntjie is skielik baie anders. Henk Beukes voel dat dinge ’n bietjie gespanne raak en sê vinnig: “Haal uit daardie goed uit jul klere en sit dit terug in die kartondoos. Niemand sal jul goed verbrand nie, maar jul klerekas is nie die regte bêreplek daarvoor nie. Dit kan in die buitekamer gehou word.” Hy probeer op die onskuldige gesig langs hom af glimlag.
“Jy sal hulle maar eers baie moet verskoon, Estelle. Hulle het baie tyd nodig ...”
“Natuurlik, Henk. Ek verstaan. Moenie jou kwel nie. Nou toe, tweetjies, alles terug in die kartondoos.” By die deur draai sy om, haar glimlag breed, onheilspellend. “Môre gaan ons verder!”
Sy is nog skaars by die deur uit, toe die twee hulle begin uitskud.
“Tweetjies! Skatjies!” Tokkie trek haar geliefde kettie uit. “Sy laat ’n mens gril!”
“En het jy gehoor dis al Estelle en Henk? Ek sê vir jou, ons sal vinnig ’n ma moet kry of hier’s groot moeilikheid!”
“As Pa hom net kan inhou totdat ons van daardie hoekie gehoor het ... Watse koorsigheid is dit dan ook nou skielik met hom?”
Bokkie trek weer haar broek reg nadat alles uit is. “Hy is seker nou op sy derde wind.”
“Op sy wat?” Tokkie kyk haar fronsend aan. “Watse ding is dit? Waar kom jy daaraan?”
“Ek weet self nie wat dit is nie, maar ek het nou die dag gehoor ou tant Sofie sê vir tant An die ou wewenaar wat nou by haar kuier, is nog glad nie so gedaan nie. Hy is nog op sy derde wind.”
“O ...” Tokkie knoop ook weer haar klinknaelbroek vas. “Wel, op watter wind Pa ook al is, moet dit hom nie nou begin pla nie, in elk geval nie met ou Huizeman nie. Kom. Kom ons gaan steek self hierdie goed weg. Daardie ou gifangel was vas van plan om ons goed te verbrand.”
Toe hulle met die kartondoos verbykom buitekamer toe, kyk tant An op van die stoof, jammerte in haar oë, maar wetende dat sy haar nie durf inmeng nie. “Julle moet sommer voor aandete gaan bad. Jul Pa moet net ná aandete klaarmaak om na ’n vergadering te gaan.”
Toe hulle klaar is in die badkamer, is daar niks aan die natgespatte vloer of die sopnat handdoeke wat tant An kan vertel daar is nie gebad nie. Sy sug maar by haarself en maak ’n bietjie aan die kant voordat Henk die badkamer moet gebruik. Soms kry sy die tweeling jammer, maar daar kom tye soos nou wat sy juffrou Huizeman alle seën en sukses toewens.
Dis aan etenstafel dat tant An skielik haar neus in die lug hou en snuif.
“Iets ruik nie lekker nie. Dis weer Broekies wat ’n muis ingedra het en dit net hier êrens laat lê het,” beskuldig sy die groot, vet huiskat wat op sy bespreekte plek tussen die tweeling se stoelpote sit en wag vir sy snapsies van die tafel af.
Broekies knip net sy oë en kyk meerderwaardig eenkant toe. Die tweeling loer vinnig na mekaar, kyk dan blitsig op hul borde terug. Waar hulle ander kere gou hul geliefde kat verdedig, laat hulle hom vanaand skandelik in die steek.
Die volgende dag in die klaskamer wil dinge ook net lol. Almal kom agter dat iets vandag nie hier pluis is nie.
Juffrou Estelle Huizeman is ná pouse na die hoof se kantoor. “Ek wonder of daar nie miskien iets op die een of ander manier onder die klaskamer se vloer ingekom en toe daar doodgegaan het nie. Dis net in ’n sekere hoek van die klaskamer waar dit baie duidelik ruikbaar is – daar waar die tweeling is. Daar sal beslis ondersoek ingestel moet word.”
Maar hoe die skoolhoof en die skoolopsigter ook al soek, kan hulle nêrens ’n plek, binne of buite, kry waar ’n dier onder die vloer van die klaskamer kon inkom nie. Hulle besluit om maar nog so ’n dag of twee kans te gee. As dit dan nie anders kan nie, sal die vloer eenvoudig opgebreek moet word.
April het skielik enkele warm dae voordat die winter in sy volle glorie begin. Teen die derde dag besluit die skoolhoof dat die hoek van die klaskamer se vloer maar opgebreek moet word.
Tant An besluit dat elke meubelstuk in die huis verskuif moet word. Daardie muis moet eenvoudig gevind word. Broekies lewe swaar. As hy dit waag om sy kop by die deur in te steek, word hy na buite verwilder. Dis net snags dat hy skelmpies deur die tweeling se kamervenster getel word. Maar ná twee nagte binnenshuis, besluit hy uit eie vrye wil dat dit verkiesliker is om buite te slaap, want nie eens meer die koel nagwind deur ’n wawyd oop venster wil ’n kat laat asem kry in daardie kamer nie.
Tant An se lugverfrisser gewaar dit. Sy is later heilig oortuig ou Peet Veldman verkoop halwe kannetjies aan haar, want soos wat dié goed darem op en gedaan raak in hierdie huis is ongelooflik.
Teen die derde dag is juffrou Estelle Huizeman saam met die skoolhoof en skoolopsigter dronkgeslaan. Die hele hoek van die klaskamer se vloer is opgebreek, maar niks kon gekry word nie. Maar die reuk bly hang in die lug, en nou moet Henk Beukes saam met sy personeellid stem: iets moet êrens onder hierdie klaskamer se vloer lê en ontbind. Die prikkeling in jou neusgate is ’n onomstootlike bewys.
“Ons sal maar oor die naweek kyk wat ons kan doen, Estelle. Dis gelukkig vandag Vrydag.”