Читать книгу Eensaam op Wegdraai - Ena Murray - Страница 5
Оглавление3
Die tweeling hou hulle deesdae taamlik eenkant en pouses staan hulle weer effens apart nadat hulle seker gemaak het watter kant die wind waai.
“Ons sal hierdie goed moet afhaal, jong,” pleit die een. “Hulle gaan die hele skool opbreek en niks kry nie!”
“Kom ons hou nog tot môre uit. Ek moet sê, ek kan myself beswaarlik verdra. Dit ruik darem onmenslik sleg, veral as jy jou neus laat sak.”
“Ek weet nie meer hoe dit is om deur my neus asem te haal nie! Ek het gesien Pa kyk vanoggend so na my oop mond.”
Toe hulle daardie Vrydagaand aan tafel sit, klink tant An by wanhoop verby.
“Ek het nou hierdie huis van hoek tot kant deurgesoek. Hier is nie ’n meubelstuk wat ek en Mieta nie verskuif het nie, maar daardie muis kry ek nêrens nie.”
Die hoof van die huis frons ergerlik, maar hy moet simpatie met tant An hê. Ook hier in sy eie huis ruik iets beslis nie lekker nie. Sy blik val op die tweeling wat net sit en peusel aan hul kos. Nie dat hulle nie honger is nie. Nee! Maar as ’n mens eet, moet jou mond tog die een of ander tyd toegaan en moet jy asem deur jou neus kry en daarvoor sien hulle nie meer kans nie. Die natuurlike kanale vir asemhaling is by hulle beslis taboe.
“Hoekom eet julle twee nie? En wat makeer julle om so onverfynd te kou? Maak toe jul monde as julle kou. Liewe aarde, julle is al groot meisies.”
Tant An bekyk ook die tweeling met meer aandag. Dis waar. Hul eetlus is die afgelope dae nie wat dit altyd was nie.
“Hulle lyk blekerig, Henk. Wat makeer, kinders? Voel julle siek?”
Hulle is lus om eenparig “Ja!” daarop te antwoord, maar skud dan eenparig die kop ontkennend. Maar hul pa is nie tevrede nie. Sy blik is skerp.
“Ek het al opgemerk dat hulle albei met oop monde asemhaal. Ek dink dokter Gerber moet na hul mangels kyk. Dis ’n teken van vergrote mangels, nie waar nie? Dan kan dit sommer eerskomende vakansie uitgehaal word.”
Twee paar blou oë rek verskrik oop, flits vlugtig na mekaar, keer terug na hul pa en asof uit een mond kom dit gelyk: “Ons mangels makeer niks nie!”
“Maak dan jul monde toe en haal deur jul neuse asem soos normale mense!” Henk Beukes se stem klink streng, strenger as wat hy dit bedoel, maar hy is ’n bekommerde man sedert ’n paar dae gelede.
Hoe meer hy oor die saak dink, hoe duideliker lê die pad van plig voor hom – ’n pad waarvan hy tot dusver nog weggeskram het. Maar omstandighede en die beloop van die lewe het hom begin inhaal. Die tweeling se ontluikende vroulikheid het eindelik ’n stopteken op sy pad aangebring. Hy sal aan trou moet dink. Hy het sy plig in daardie opsig reeds te lank versuim. Sy dogters het ’n ma nodig.
Hy voel soos iemand wat in ’n rigting gedryf word waarin hy nie wil gaan nie. Hy kyk weer na sy twee dogters wat vanaand duidelik moeite ondervind om hul kos opgeëet te kry. Sy kommer verdiep. Hulle het gewoonlik ’n baie gesonde eetlus, maar hy dink nie daar skeel iets fisieks met hulle dat hulle skielik sonder eetlus is nie. Hy weet sy kinders voel vanaand in ’n mate soos hy – hulle word ook in ’n rigting gedwing waarin hulle nie wil gaan nie. Maar nie hy, of hulle, het juis ’n keuse nie. Hulle sal nou moet leer en aanvaar dat hulle meisies is wat aan die grootword is. En hy ... hy sal moet aanvaar dat hy ’n vrou sal moet vat.
Die tweeling is dankbaar dat die aandete verby is en hulle maak spore kamer toe. Maar voordat hulle verdwyn, hoor hulle hul pa sê: “Ons gaan môreaand almal na ’n balletuitvoering toe. Juffrou Huizeman sal julle môreoggend kom haal om vir julle die regte klere vir die aand te koop. Julle sorg dat julle hier is wanneer sy kom.”
Bokkie is sommer van voor af ontevrede. “Ek is g’n lus vir die ou balletstorie nie. Die dansery is mooi, maar die mense se klere sit te styf en hulle is te vol knoppe en bulte en dinge. En hul gesigte is altyd soos spoke s’n opgemaak.”
“Dit sal nie help om te kerm nie, jong. Ons sal maar net moet gaan. Pa het nooit in die verlede so danig in sulke goed belanggestel nie. Dis weer ou Huizeman se dinge hierdie. En ons sal natuurlik moet rokke aantrek,” sug Tokkie met die grootste misnoeë. “Nou kom. Ons moet liewer maar hierdie goed afkry van ons af voordat ons mangels nog onnodig uitgehaal word en die hele skool afgebreek word.” Hulle glimlag teenoor mekaar. “Pa kry die aapstuipe as hy moet weet waar daardie reuk vandaan kom!”
Met goeie hoop begin Tokkie haar suster se verbande afdraai, en hoe verder sy vorder, hoe ondraagliker word dit om asem te haal.
Maar ondanks die goeie hoop en die stank – want met niks anders kan jy dit beskryf nie – kan duidelik gesien word dat die ontluiking hom geensins daardeur laat stopsit het nie. Die duiwelsmengsel het absoluut geen uitwerking gehad nie.
“Ek wonder as ’n mens dit baie styf vasdraai ...” begin Bokkie met haar nuwe plan van aksie. “As dit nie ruimte het nie, kan dit mos nie groei nie. Jy weet, soos die Japannese vroue hul voete verbind om nie groot voete te hê nie.”
“Dis nogal ’n idee. Ons sal dit Maandag op die proef stel. Môre moet ons mos gaan klere koop. Ou Huizeman kry ’n floute as sy op ’n spul verbande afkom.”
Hulle oorleef darem die naweek met balletuitvoering en al, en teen Maandagoggend is tant An oortuig dat Broekies weer sy muis uitgedra het en op ’n wonderlike manier het die slegte reuk oor die naweek uit die klaskamer verdwyn.
Maandagmiddag het hulle weer ’n ekstra naskoolse klas in klere opvou, en dis met verligting dat hulle hul leermeesteres sien gaan. Toe word die deur goed toegedruk en hul tweede poging kom in werking.
Tokkie voel blou in die gesig toe Bokkie met haar klaar is. Sy kan kwalik asemhaal. Teen die volgende middag voel dit vir hulle hul longe sit soos ’n paar ekstra mangels in hul keel vas en weer is hulle verplig om deur hul monde asem te haal. Hulle begin ook bleek lyk en Henk begin oortuig raak dat daar wel iets met sy kinders se gesondheid skort. Hul monde bly oophang en hulle eet omtrent niks meer nie. Toe hy fyner kyk, sien hy dat hulle ook snaaks en stokkerig beweeg asof hulle ’n laaistok ingesluk het.
Werklik bekommerd roep hy Estelle se hulp in. “Daar skort iets groots met die tweeling. Ek dink hulle moet maar dokter toe.”
“Ja, ek het opgemerk dat hulle die afgelope paar dae beslis nie hul gewone self is nie. Ek sal hulle neem, as jy wil.”
Dis eers toe juffrou Huizeman met hulle voor die dokter se spreekkamer stilhou dat hulle hond se gedagte kry.
“Kom saam,” is die kortaf bevel en hulle kyk haar met groot oë aan.
“Hoekom?”
Sy draai na hulle en nou is daar geen teken van die soetsappige glimlaggie waarmee sy die tweeling gewoonlik wil versmoor, veral wanneer Henk in die nabyheid is nie. “Kyk, dis tyd dat ons mekaar goed verstaan. Wanneer ek julle ’n bevel gee, word daar nie gevra hoekom nie. Julle doen dit net. Verstaan? Julle het gans te lank jul eie besluite geneem. Van nou af neem ek dit. Verstaan julle dit ook? Dokter Gerber moet kyk of daar iets met julle skort, maar ek dink ek weet wat julle kortkom,” voeg sy dreigend by, en hulle moet haar maar gedwee volg.
Teen die end moet hulle hulle maar uittrek, en gelukkig laat die ontvangsdame hulle alleen. Dis ’n groot verligting om van die stywe lakenrepe ontslae te raak. Bokkie kyk wanhopig rond, op soek na ’n plek waar hulle dit kan wegsteek. Ten einde raad word dit onder die een punt van die mat ingebondel en ’n stoel daaroor getrek, waar die skoonmaakster dit die volgende oggend sal kry en nie die vaagste benul sal hê wat die betekenis van die lakenstukke is nie.
Toe hulle eindelik terug is in die motor, is die tweeling stil en is dit juffrou Estelle wat praat.
“Kyk, dokter sê daar skort absoluut niks met julle nie. Nes ek natuurlik vermoed het. Julle wil net aandag trek. Nou wil ek julle vooraf waarsku. Ek gaan geen twak verder van julle verdra nie. As julle my dogtertjies is ...”
Tokkie kan dit nie meer verdra nie. “Ons is nie juffrou se dogtertjies nie, en ons sal dit nooit raak nie.”
Bokkie wens in stilte dat hul pa nou die gawe juffrou Estelle kan sien. Hy sal onmiddellik van sy derde wind afgaan as hy nou in daardie blitsende oë moet kyk.
“Ek wil nie jou parmantigheid hê nie, dametjie. Jy praat nie weer so met my nie.” Haar glimlag is glad nie mooi vir die tweeling nie. “Moenie so seker wees nie. Ek kan dalk nog jul ma word en ... dan sal ons sien. Julle behoort in ’n kosskool gesit te word waar julle dissipline kan leer, en dit is presies wat gaan gebeur as ...”
Sy swyg en met ’n laaste blitsende kyk skakel sy die motor aan. Die tweeling staar mekaar woordeloos aan. Hier is sommer ’n groot lollery aan die kom. Hul enigste hoop lê nou in SOEK EN VIND. Mag dit gebeur dat hulle gou sal vind, anders ...
’n Hele klompie kilometer van Jagershoek af is daar ’n ander soort krisis aan die gang.
“As ek net iets kan kry, hoe gering ook al, waarin sy weer belangstelling sal toon,” laat Thelma Kirsten teenoor haar man hoor terwyl haar blik na buite dwaal waar ’n vrou, onder ’n reisdeken toegemaak, belangeloos oor die pragtige tuin sit en uitstaar.
“Dit sal seker mettertyd regkom, my vrou,” laat Bert hoor. “Jy moet onthou dat sy ’n geweldige skok en ’n ontsaglike verlies gehad het. Dit sal tyd verg om weer die lewensdrade saam te vat en opnuut te begin lewe.”
“Nogtans, Bert. Sy is darem nou al twee maande uit die hospitaal en die ongeluk het al vier maande gelede gebeur. Sy moes in hierdie tyd tog al besef het sy sal moet aanvaar wat gebeur het en alleen vorentoe stap. Haar absolute belangeloosheid begin my eintlik paniekerig maak. Ek is bang dat sy haar verstand nog gaan verloor.”
“Ag nee, kom nou, my vrou. Daarvoor is Lara ’n te intelligente en gebalanseerde mens. Hou maar moed. Op ’n dag gaan daar iets gebeur wat haar weer nuwe belangstelling in die lewe sal gee.”
Sy vrou sug. “Ek hoop jy is reg, Bert. Ek hoop van harte jy is reg en dat dit gou sal gebeur.” Sy tel ’n pak tydskrifte op. “Dis ’n klomp tydskrifte wat Lenie hier aangebring het. Ek sal dit vir haar gaan gee. Miskien blaai sy darem daarin.”
“Ja. Ek moet gaan. Ek gaan laat wees vir die vergadering. Tot siens, skat.”
Thelma kyk haar man agterna, en dan dwaal haar blik weer terug na die vrou in die tuinstoel. Haar oë verteder. Hoe sou sy gereageer het as sy Bert en die kinders op een dag, in een aaklige oomblik, verloor het? Sou sy die moed en die geloof gehad het om weer die lewe aan te pak ... alleen?
Sy sug weer saggies en stap dan uit. “Hier is ’n paar tydskrifte om te lees, sus. Kan ek nie vir jou nog ’n koppie tee bring nie?”
Die bleek gesig draai skaars na haar, die oë leeg, amper leweloos.
“Nee, dankie.”
“Nou maar goed. Ek gaan net gou na die kos kyk. Hier.” Sy sit die tydskrifte op haar skoonsuster se skoot neer en sien hoe sy dit belangeloos optel.
Sy bid byna hardop toe sy terug in die kombuis is. Iets, iets moet gebeur wat Lara weer belangstelling in die lewe sal gee. Sy kan nie so voortgaan nie. Elke dag is haar blik net na binne gekeer, lewe sy alleen in ’n wêreld van herinnering en smart. Hulle wat haar liefhet, doen enigiets om dit vir haar makliker te maak, maar dis of alles, die hele lewe, ver buite haar verbystroom. Sy is net nie meer deel daarvan nie.
En buite, op die stoep, neem die bewende vingers die boonste tydskrif op, maar haar oë sien nie eens watter tydskrif dit is nie. Ook sy bid, bid met woordelose, stom lippe. Ook in haar lê die besef hier diep binne waar dit so dood en gevoelloos geword het: sy kan nie so voortgaan nie. Die een of ander dag sal sy moet opstaan, weer moet begin lewe. Want dis Daan en die tweeling wat op slag dood is. Sy lewe nog. Sy het alleen agtergebly ... en sy sal alleen moet voortlewe ... Die een of ander dag ... maar nie vandag nie. Nog nie vandag nie! Sy het nog nie die moed en die krag om alleen verder te stap nie. Sy wil nog net vandag sit en staar ... en staar ... Nog net vandag die lewe buite haar sien verbystroom ... Nog net vandag ...
Haar blik sak moeg af na die tydskrif. Met willose vingers blaai sy die een bladsy na die ander om, sonder om werklik te sien waarna sy kyk, sonder om enigiets in te neem. Sy blaai maar net ... omdat Thelma gesê het sy moet blaai.
Lank rus haar blik op die vetgedrukte woorde: SOEK EN VIND. Sy knip haar oë. Dit maak nie vir haar sin nie. Soek ... Soek ken sy. Nagte lank, dae lank soek sy na hulle ... en dan kom die oomblik dat die besef, daardie vreeslike besef tot haar deurdring – sy soek tevergeefs. Sy sal hulle nooit weer terugvind nie. Hulle is vir altyd weg. Vir ewig ...
Sy kyk weer na die krul van die letters: SOEK EN VIND. Haar blik sak af, laer, al met die ry name af.
Vaag begin dit tot haar deurdring waarna sy kyk. Sy weet nou wat dit is. Baie tydskrifte het so ’n afdeling. In die verlede het sy altyd vinnig daaroor heen geblaai. Dit was nie vir haar nie. Haar lewe was vol. Sy was nie eensaam nie. Sy het ’n lewensmaat gehad. En daar was die tweeling ...
Maar vandag is dit of die lang rye name haar oë vashou, vastrek op hulle. Nou is sy een van hulle ... die eensames ... dié wat alleen is ... wat soek ...
’n Bietjie meer lewe kom in die blou blik terwyl dit van die een lang ry na die ander gly. Sy het altyd so vinnig oor hierdie bladsye geblaai, nooit besef nie ... nooit besef hoeveel eensame alleenmense daar is nie ... Dis rye en rye vol van hulle ... mense wat nie langer alleen wil stap nie ... nie langer alleen kán stap nie ...
Haar blik haak vas op ’n woord: tweeling. Sy frons effens. Iets van ’n tweeling ...
Hier binne trek dit pynlik saam. Tweeling ... Vlugtig verskyn twee gesiggies voor haar ... dan konsentreer sy weer op die woorde voor haar ... raad kan bystaan ... tweelingdogters ...
Die hande wat die tydskrif vashou, bewe merkbaar. Vir die eerste keer in baie maande is daar weer ’n glinstering van lewe, van bewustheid, in die blou oë. Êrens het iemand tweelingdogters ... wat raad nodig het ... Haar oë soek na die eerste deel. Eensame wewenaar soek raad. Hul ma is dus dood ... Hulle het alleen agtergebly, soos sy alleen agtergebly het ... Êrens is ’n tweeling wat iemand nodig het, soos sy iemand nodig het ...
“Hier is jou tee.”
Sy kyk vinnig op, en haar skoonsuster laat val byna die koppie tee uit haar hand. Wat sou gebeur het dat daardie oë skielik, ná soveel weke, weer lewe? “Lara ...? Wat ...? Het iets gebeur?”
“Thelma, kyk hier. Kyk wat staan hier. Wag, ek lees dit vir jou.”
Thelma lyk steeds verward, selfs nou ’n bietjie verdwaas toe Lara se stem stil word. “Ek ... verstaan nie ...”
“Kan jy nie? Hier is ’n tweeling, tweelingdogters soos myne ... soos wat ek gehad het ... en hulle is sonder ma ... hulle het ’n ma nodig. Dit spreek tog so duidelik uit die beriggie. Die pa vra raad, iemand wat hom kan help met sy tweelingdogters. Hulle is dertien, staan hier. Op die moeilikste stadium. Myne was maar ... ses ...”
Thelma se stem is waaksaam. “Jy bedoel ... jy voel om vir die man te skryf?”
“Ek ... weet nie ... Ek ... is nog so verward, maar ...” Sy kyk op, haar oë pleitend. “Onder gewone omstandighede sou ek nooit droom om aan so ’n persoon te skryf nie. Ek bedoel, dis nie dat ek dink daar skort iets mee nie, maar ... Hierdie geval is anders. Dis nie soos die ander nie.”
Haar skoonsuster sit haar koppie tee neer en neem die tydskrif uit Lara se hande. Haar blik gaan vlugtig oor die beriggie. Dis nie presies soos al die ander nie, nie die gewone ding soos jy dit maar altyd in hierdie soort rubriek aantref nie. Maar tog ... Eensame wewenaar ... Dit kan iemand wees wat deur sy dogters vroue soos Lara in ’n situasie wil betrek. Hy stel darem nie net belang in die raad wat ’n gewillige dame hom kan gee nie. Hier staan dit tog duidelik. Dames tussen vyf en twintig en twee en dertig kan skryf. As hy net in raad belanggestel het, sou die ouderdom nie saak gemaak het nie. Sy sou dink hoe ouer ’n vrou, hoe meer ervare sal sy wees om hom met raad by te staan. En hy wil ’n vollengtefoto hê. Dit word duidelik versoek.
Sy kyk onseker op, sien dat daar al weer minder lewe in die mooi oë is, sien dat daardie doodse belangeloosheid weer stadig in hulle terugkruip.
“Vergeet daarvan. Ek ... ek het maar net gedink ... dit kan nie kwaad doen om te skryf nie ...”
“Nee, natuurlik kan dit nie, en ek dink dis ’n puik idee wat jy het, sus,” laat Thelma teen haar beterwete vinnig hoor. Wat maak dit saak wat die man beoog? Vir die eerste keer in maande het Lara weer ’n opflikkering van belangstelling in iets buite haar eie smart getoon. Sy durf nie hierdie flou vlammetjie demp nie. Sy moet dit aanblaas. Sy het dan netnou nog in die kombuis gestaan en bid dat die Vader iets, enigiets moet stuur wat hierdie gebroke mens weer tot die lewe sal laat terugkeer ... En hier is dit nou, hier voor haar op die wit bladsy met sy warboel swart letters. Daar kan nie juis iets hieruit voortspruit wat miskien later nuwe probleme kan meebring nie, want Lara se volle en enigste belangstelling in hierdie beriggie is net in die tweeling. Die pa van die tweeling is net ’n bysaak.
Sy spring op. Voordat alle belangstelling weer verdwyn, moet sy optree. “Ek gaan haal sommer dadelik die skryfblok. Dan skryf jy sommer nou aan hom.”
Lara kyk weer op, onsekerheid in haar oë. “Dink jy ... ek moet, Thel? Dit was maar net ’n impulsiewe gedagte ... Miskien moet ek liewer nie ...”
“Natuurlik moet jy.” Sy sluk, bid in haar hart dat sy nie nou haar skoonsuster van die wal af in die sloot help nie. “Eintlik sal dit baie selfsugtig van jou wees as jy nie hierop reageer nie. Jy is die ideale persoon om die man te help. Jy het intieme kennis van tweelingdogters. Jy het self tweelingdogters ... gehad. Dis mos ook nie oor die man wat jy skryf nie. Dis mos eintlik ter wille van die tweeling.”
“Natuurlik, ja.” Sy aarsel, kyk weer af op die tydskrif en sê dan: “Goed. Gaan haal die skryfblok.”
Toe Bert later die middag van sy vergadering terugkeer, kan sy vrou nie wag om hom eenkant alleen te kry nie. Sy wink met die hand en wys deur die venster.
“Kyk daar.”
“Wat maak sy? Dit lyk of sy skryf!” laat haar man verbaas hoor, en sy vrou lag, maar lyk steeds onseker.
“Ja. Al twee uur lank!” Sy vertel wat gebeur het, en eindig glimlaggend teenoor haar man se verbaasde gesig: “En daar sit sy nou al hoe lank en sukkel om die regte brief geskryf te kry. Ek het al die eerste klomp pogings gaan optel en weggegooi. Maar ek het een gehou om vir jou te wys. Kyk hier. Lees daar.”
Bert neem die brief en lees hardop:
“Geagte Meneer, ek reageer op jou berig in die SOEK EN VIND-rubriek waarin jy raad vra in verband met jou tweelingdogters. Ek het besluit om aan jou te skryf, omdat ek self tweelingdogters gehad het en daarom miskien vir jou tot hulp kan wees. As jy aan my jou probleme skets, sal ek my bes doen om jou te help.
“My man en my dogters – hulle was ses jaar oud – is my onlangs ontneem in ’n motorongeluk. Ons was op pad om vakansie te gaan hou en ...”
Hier eindig die brief. Die laaste paar woorde is so onduidelik soos die ink in die papier ingevloei het, dat dit onleesbaar is. Bert kyk op in sy vrou se traangevulde oë en frons.
“Thelma, is dit die regte ding? ’n Mens weet nie altyd met wie jy te doen het in sulke rubrieke nie.”
“Ek weet, en ek besef dit, maar ... Onder normale omstandighede sou Lara self nooit gedroom het om te skryf aan iemand wat so adverteer nie, maar dis ’n uitsonderlike geval met uitsonderlike omstandighede. Jy weet, ek het net ’n paar minute voordat sy op dié ding afgekom het, hier gestaan en bid en opreg gevra om hulp – dat Lara uit hierdie doodsheid kom. En net daarna, toe ek haar tee neem, toe kry ek haar daar, die oë weer vir die eerste keer lewendig en vol belangstelling. Ek staan en kyk nou al hoe lank vir haar en ek word al meer oortuig dat hierdie ding ’n antwoord op my gebed is. Besef jy nie hoeveel goed daaruit kan kom soos sy nou daar sit en skryf nie – deur net gedwing te word om die naakte feite swart op wit voor haar te stel nie? Jy weet dat ’n groot deel van haar nog nie Daan en die kinders se dood, die finaliteit daarvan, aanvaar het nie. ’n Deel van haar glo nog dat hierdie ding nie werklik gebeur het nie, dat dit maar net ’n nagmerrie is wat sal verbygaan. Jy weet self hoe sy snags in haar slaap na hulle roep ... en dan daardie verskriklike, hartverskeurende snikke wanneer sy wakker word ...”
Haar man knik. “Dis waar, ja. Die spesialis het ook gesê dat as sy net eers by daardie punt kan kom dat sy ten volle besef en aanvaar dat Daan en die kinders dood is ...”
Sy blik dwaal weer na buite en dan glimlag hy. “Jy weet, skat, ek dink jy’s reg. Sy word nou gedwing deur hierdie skrywery om dit met haar eie hand op papier neer te pen: die feit dat haar man en kinders dood is. Al kom dit dan ook niks verder as hierdie skrywery nie, gaan dit haar nog goed doen.”
“Ja. Dis soos ek ook gedink het.” Thelma sug saggies, vee met haar hand oor haar oë en kyk ook uit na die vrouefiguur buite in die tuin. “Maar my hart het al hoeveel keer vanmiddag vir haar opnuut gebloei, Bert. Met rukke het haar hele liggaam geruk van snikke asof ’n elektriese lading deur haar gegaan het.”
“Ek weet, my vrou. Maar laat ons hoop dis genesende trane. Laat ons hoop dat die eensame wewenaar van Wegdraai die geneesmiddel vir haar wonde gevind het.”
Lara voel uitgeput toe sy eindelik besluit dat hierdie een goed sal wees om weg te stuur. Sy sak terug teen die stoelleuning en sluit haar oë. Die trane het droog geword op haar wange en daar is skielik ’n vreemde stilte in haar. Vir die eerste keer het sy dit werklik erken – die feit dat haar man en kinders dood is. Vir die eerste keer aanvaar sy daardie feit ten volle. Daan en Estertjie en Esmétjie sal sy nooit weer sien nie. Hulle is dood ... soos hierdie man se vrou dood is ... en die onbekende tweeling se ma dood is ... En hulle moes vorentoe ... soos sy sal moet vorentoe.
“Is jy klaar? Ek sal dit vir jou adresseer en pos as jy wil.”
Sy oorhandig die skryfblok, maak haar oë stadig oop. “Dankie, Thel. Ek sal bly wees. Ek ... voel moeg.”
“Natuurlik. Jy het lank buite gesit. Kom, ek help jou huis toe en dan gaan rus jy eers ’n paar minute voor aandete. Ek sal sorg dat hierdie môre weggaan.”
Haar man kyk haar vraend aan toe hy ’n rukkie later vanuit die tuin binnekom en haar in hul fotoalbum sien blaai. “En nou?”
“Ek soek ’n vollengtefoto van Lara. Dit moet saamgaan met dié brief. Sy het totaal daarvan vergeet, of sy het nie weer daaraan gedink dat die man vir ’n foto gevra het nie. Ek het gedink ek moet dit miskien los, maar aan die ander kant weer ... ’n Foto sal dalk help dat hy weer terugskryf. Ek is bang as sy geen antwoord op haar brief kry nie, sak sy weer terug na waar sy was.”
“Ja. Sit maar ’n foto by. Uit sy oogpunt gesien, weet hy ook nie met wie hy te doen het wanneer hy ’n reaksie terugkry nie. Ons hoop maar hy stuur met sy brief ook ’n foto van homself saam. Die uiterlike is bedrieglik, maar ’n mens kan darem ’n paar afleidings van ’n foto maak.”
“Ja. Ek is lus en stuur ’n foto van Lara se tweeling saam. Dit kan nie kwaad doen nie. Wag, hier is twee pragtige foto’s van haar en die kinders. Dis sowat ’n jaar gelede geneem.”
Thelma sorg self dat die brief, geadresseer aan EENSAAM OP WEGDRAAI, p/a SOEK EN VIND, die volgende oggend gepos word. En toe sy terugstap van die rooi posbussie op die straathoek, hoop en bid sy maar dat hulle die regte ding gedoen het. Die tyd sal maar moet leer.