Читать книгу Wag-'n-bietjiebos van die liefde - Ena Murray - Страница 3
Оглавление1
“A, Lisbe! Dis goed om jou weer op kantoor te sien!” Die ouer vrou se gesig toon duidelik dat sy bedoel wat sy sê en Lisbe kry nog ’n klapsoen ook.
Lisbe glimlag. “Het dit só rof gegaan?”
Madelyn Reynecke glimlag suur. “Gaan dit ooit anders as rof? Ek sê jou, ek sien uit na mý verlof en om die leisels in jou hande te plaas. Hoe was jou vakansie?”
“Heerlik, dankie, maar ek is bly om terug te wees. Glo dit as jy wil, maar ek het begin verlang!”
“Lisbe! Nou jok jy skaamteloos!” Dan lag die maatskaplike werker begrypend. “Nee, ek weet, wanneer die vakansie sy einde nader, begin ’n mens mos wonder hoe dit met almal gaan en of daar nuwe gevalle bygekom het. Ek erken die mense maak my soms só kwaad dat ek hulle iets kan aandoen, maar my werk verruil ek nie.”
Lisbe knik. “Ek ook nie. En soos ek vanoggend voel, kan ek berge versit en wonderwerke laat gebeur. Ek sien selfs kans vir ons dierbare Sieberhagens!”
Hulle lag saam in warm begrip en wedersydse respek. Hulle werk al vyf jaar lank saam en Madelyn weet dat sy vandag met ’n geruste hart kan vertrek. Die Sieberhagens is ’n ou kopseer wat Lisbe sal kan hanteer. En selfs die geval wat gedurende haar afwesigheid bygekom het, sal die jong meisie nie afskrik nie.
Die ouer vrou kyk Lisbe nou ernstig aan. “Die ou gevalle is nog almal hier. Daar is net een nuwe geval.”
Lisbe kyk haar belangstellend aan. “Ja?”
Madelyn tel ’n lêer op, hou dit na haar toe uit. “Hier is die lêer. Daar is maar baie min besonderhede beskikbaar. Dis nuwe intrekkers. Niemand weet iets van die man af nie en hy is nie gretig om te gesels nie.”
Lisbe vou die lêer oop. H.A. van der Merwe, Keerboomstraat. Sy kyk vraend op.
“Dis ’n man met twee kinders ... tweelingseuns van agt jaar oud.”
“Waar is die ma?”
“Niemand weet nie, en soos ek sê, die pa het niks te vertel nie.”
Lisbe knik begrypend. Dis niks nuuts nie. Sy het al telkemale te staan gekom voor ’n muur van vyandige swye. Mettertyd vind jy êrens ’n swak plekkie in die oënskynlik ondeurdringbare pantser, bereik jy tog die kern. Vir ’n buitestander lyk dit soos hardkoppige hardgebaktheid, ’n geval waaraan daar geen salf te smeer is nie. Lisbe se ervaring het haar egter geleer dat dit selfbeskerming is teen verdere slae en seer wat die lewe nog mag uitdeel. Ook meneer H.A. van der Merwe sal ’n swak plekkie in sy mondering hê.
“Hoe het dié geval onder jou aandag gekom?”
“Ene juffrou Van der Mescht het opgelet dat die kinders onversorg skool toe kom. Sy het toe besoek gaan aflê en haar teen ’n baie aggressiewe pa, wat redelik hoog in die takke was, vasgeloop. Sy is soos ’n hond weggejaag. ’n Lot wat my ook te beurt geval het.”
Lisbe frons. Die ou storie ... drank. “ ’n Alkoholis?”
“Ek is nie seker nie. Die tweede keer was hy heeltemal nugter, geskeer en skoon, selfs netjies geklee, maar ewe aggressief. Hy het my op ’n baie bytende toon beveel om my neus uit sy sake te hou, en gesê dat ek by die verkeerde adres is. Hy en sy kinders is nié ’n maatskaplike geval nie. Hy is in staat om vir sy kinders te sorg en hy is beslis nie hulpbehoewend nie.”
“Is hy nie?”
“Dit lyk nie so nie. Hy bly wel in ’n huurhuis, maar ek was verras oor die meubels.”
“Dan was jy al in die huis?”
“O, nee, maar van wat ek kon sien so van die voordeur se drumpel af, moet ons vriend iets besit ... of dalk in die verlede goed geleef het. Op die oomblik werk hy nie en, soos hy my prontuit verseker het, soek hy ook nie werk nie. ’n Mens weet nie hoe lank die neseier wat hy oënskynlik het, nog gaan hou nie.”
“Hy kan nie te oud wees as hy ’n tweeling van agt jaar oud het nie. Ek neem aan dit is sy eie kinders?”
“Ja, dis sy eie. Ek skat hom so middel dertig, maar hy kom ouer voor.”
Lisbe frons. “Waarvandaan kom hy?”
“Van die Witwatersrand af ... en jy kry niks meer uit hom uit nie.”
“En niemand hier rond ken hom of weet iets van hom af nie?”
“Nee. En hy meng hom ook met niemand nie.”
“Hmm.” Dit klink asof meneer Van der Merwe ’n moeilike kalant gaan wees, maar Lisbe skrik nie. “Die kinders ... wat vertel hulle?”
“Ek het nog nie tyd, of sal ek liewer sê, geleentheid gehad om by hulle iets te probeer uitvind nie. Hy het my openlik gewaarsku dat ek van sy kinders af moet wegbly. ’n Onderhoud met die kinders is dus buite die kwessie.” Sy knik bemoedigend vir Lisbe. “Ek laat dit aan jou oor, hoewel ek twyfel of hulle ons iets van belang sal kan vertel. ’n Seun van agt stel maar min in die detail van sy omstandighede belang. Solank sy maag vol is en hy kan speel en kom en gaan soos hy wil, is hy tevrede.”
Lisbe frons skerper. Dis gevaarlik vir ’n kind van agt om te kan kom en gaan soos hy wil. “Wat sê die juffrou ... hoe is hul gedrag?”
“Goed, behalwe dat hulle in die veertien dae wat hulle in die skool is, al in ’n paar gevegte op die skoolterrein betrokke was.”
“Wat heel normaal kan wees vir gesonde, lewenslustige seuns van agt jaar oud.”
Die ouer vrou glimlag vir die verwerende noot in Lisbe se stem. Lisbe is ’n koelkop, iets wat baie in haar guns tel in hierdie beroep van hulle. Sy het die gawe om ’n balans te behou. Sy sal wel raad weet met meneer Van der Merwe.
“Dit is so. Eintlik is daar nie veel verskil tussen Keerboomstraat se agtjariges en die elite se agtjariges nie. Wel, Lisbe, ek laat meneer Van der Merwe en sy tweeling in jou sorg. Alle sukses.”
Lisbe glimlag. “ ’n Verkeerde woordkeuse, mevrou, maar ek sal my bes doen. Is daar enige verwikkelinge met ons ander gevalle?”
“Nee. Elsie het nog ’n pak slae van haar dierbare Jan gekry, en natuurlik is die blou kolle op haar lyf en gesig as gevolg van haar voet wat gegly en haar toe laat val het.”
Lisbe swyg. Dit het die Sieberhagens se lewenspatroon geword: die vrou word gereeld deur haar man mishandel, maar weier om dit te erken.
Later die dag staan Lisbe voor Elsie in die deur van die huisie waarin sy en haar man en vyf kinders woon. Die kneusplekke lê nog duidelik op haar gesig. Vir die soveelste keer voel Lisbe die magteloosheid in haar opstu. In die soort werk wat sy doen, het sy geleer dat ’n mens net dié kan help wat gehelp wil word. Elsie Sieberhagen is een van dié wat hulp weier.
Is dit ’n laaste greintjie trots wat Elsie laat vasklou aan die onsinnige storie dat sy elke keer geval het wanneer haar gesig en liggaam vol blou kolle is? Maar kan daar nog trots in hierdie lewensmoeë, tenger liggaam oor wees? Of is dit liefde wat haar laat weier om ’n klag van aanranding teen haar bullebakman te lê? Is dit moontlik dat liefde werklik geen grens of perke ken nie? Is dit moontlik dat liefde nog kan seëvier wanneer alles binne-in jou verbrysel is? Of is dit maar dat jy later soos ’n stom, redelose donkie word wat gewoond geraak het aan die pak op die rug, aan die sweephoue oor die lyf en die uitgetrapte paadjie van blote bestaan? Dat die wil om een tree buite daardie gebaande paadjie te gee, saam met al die ander ideale gesterf het? Wat laat ’n vrou voortgaan met dié soort lewe wat Elsie Sieberhagen lei?
“Dag, Elsie.”
“Dag, juffrou.”
Sy staan opsy sodat Lisbe kan binnekom, want ook die besoeke van die maatskaplike werkers word met dieselfde gelatenheid as al die ander dinge verduur.
“Ek sien jy het weer geval.”
“Ja, juffrou.” Haar oë is neergeslaan, die leuen kom skaamteloos oor haar lippe.
Lisbe laat dit maar daar. “Hoe gaan dit met die kinders?”
“Goed, juffrou.”
Lisbe staan op. Dit gaan altyd goed, want hulle weet nie van beter nie. “Werk Jan nog by die munisipaliteit?”
“Ja, juffrou.”
Wel, dis darem iets om voor dankbaar te wees, al kom skaars ’n kwart van sy salaris na die gesin toe. Die res gaan belê hy baie getrou by die drankwinkel. Nou ja ...
Lisbe stap aan deur toe, kyk af op die armsalige vroutjie, en dit skok haar opnuut om te weet dat Elsie net so oud soos sy is. Haar geloof vertel haar dat daar ook sin in Elsie Sieberhagen se skynbaar futiele, sinlose lewe moet wees, maar ... Sy sluit haar gedagtes. In hierdie werk vra jy nie hoekom en waarom nie. Jy doen net, al weet jy dat jou pogings dikwels tevergeefs is.
Skielik is daar ’n stryd in haar teen die negatiewe wat haar wil oorweldig. Net vanoggend nog het sy met soveel geesdrif van wonderwerke gepraat. Skielik is daar niks meer daarvan oor nie. Drie jaar lank gaan sy al met vakansie en laat sy die Sieberhagens agter; met nuwe planne en geloof in wonderwerke keer sy terug ... en wanneer sy weer met vakansie gaan, is die Sieberhagens nog altyd daar en het niks verander nie. Eintlik laat sy hulle elke keer slegter agter ... met nog ’n mond om te voed, nog ’n liggaampie om te klee, nog ’n mensie oor wie se toekoms sy haar bekommer en oor wie se lewe sy vergeefs probeer om die ouers te laat besin.
Soos haar senior gesê het, voel dit skielik vir haar of sy Elsie liggaamlike leed kan aandoen. Sy stry teen die drang om Elsie aan die skouers te gryp en die skraal gestalte te skud totdat haar tande op mekaar klap en daar miskien, ag, net miskien, ’n nuwe denkrigting in die moeë verstand ingeskud is.
Sy wil dit uitskree: Hoekom, Elsie? Hoekom het jy nie verder gaan leer nie? Hoekom het jy jou voor jou tyd by grootmensdinge ingelaat? Hoekom het jy met Jan Sieberhagen weggeloop? Hoekom drink jy nie gereeld jou pil nie? Hoekom bring jy elke jaar nog ’n arme kind in die wêreld wat jy saam met jou in die ellende dompel? Hoekom gaan gee jy nie vir Jan aan by die polisie wanneer hy jou moeë liggaam met sy vuiste en sy wellus verniel nie? Hoekom, Elsie? Hoekom? Hoekom!
Onverrigter sake stap Lisbe weg, en die hoekoms agtervolg haar.
Hoekom het meneer H.A. van der Merwe hierheen verhuis? Hoekom is daar nie ’n ma vir sy kinders nie? Hoekom is hy so aggressief? En hoekom, terwyl hy werkloos is en daglank niks het om te doen nie, haal hy nie hierdie yslike wag-’n-bietjiebos by die voorhekkie uit nie? Hoekom ...?
Daar is geen antwoord toe sy klop nie. Sy staan besluiteloos, stap dan om na die agterdeur. Dit staan oop en haar hand is halfpad uitgesteek om weer aan te klop, toe sy sy oë ontmoet. Haar hand val terug.
Hy sit roerloos langs die kombuistafel en die stoppelbaard verberg nie die lelike, bitter lyne op sy gesig nie.
“Goeiemiddag.” Sy kry geen antwoord nie. “Ek het aan die voordeur geklop ...”
“Ek het gehoor.”
Sy sluk. “Ek is juffrou Erwee.”
Weer kry sy geen reaksie nie. Hy wend nie eens ’n poging aan om op te staan nie.
“Mag ek binnekom?”
“Nee.”
Sy trek haar asem in, val dan saaklik weg: “Meneer Van der Merwe, ek ...”
“Jy is by die verkeerde adres, juffrou. Ek weet nie na wie of na wat jy soek nie, maar hiér het jy niks verloor nie.”
Geduld, o geduld ... “Meneer, dit sal nie help om ...”
“Blykbaar nie, party mense se velle is baie dik.” Hy staan skielik voor haar en sy skroeiende blik laat die vlamme op haar wange uitslaan. “Verskoon my.” Die volgende oomblik word die agterdeur in haar gesig toegedruk sodat sy ’n tree moet terugstaan om te keer dat haar neus in die slag bly. Baie duidelik hoor sy hoe die deur gesluit word.
Sy is stom. Weliswaar is dit nie ongewoon om haar teen vyandigheid vas te loop nie, maar die vermetele onbeskoftheid waarmee sy vandag te doen kry, is die ergste wat sy nog ervaar het. Die maatskaplike werker word gewoonlik met gedwonge beleefdheid behandel. Almal weet jou verslag kan hul hele bestaan beïnvloed; die gang van hul lewe en toekoms hang daarvan af. Wat jy skryf oor hul gedrag en huislike omstandighede, bepaal hul lot én die van hul kinders. Daarom, al voel hulle lus om jou weg te jaag, nooi hulle jou maar binne en sit ’n allerbeste voetjie voor, want elke gebaar, elke woord word later op skrif gestel. Maar meneer H.A. van der Merwe weet hierdie dinge blykbaar nie – of as hy weet, kan dit hom nie ’n bloue duit skeel nie.
Koppig verseg sy om hierdie eerste rondte te verloor. Die kinders se juffrou het probeer, mevrou Reynecke het probeer, en elke keer het hy die beste daarvan afgekom. Dis nou vervlaks of hy dit hierdie keer weer gaan regkry. Sy lig haar ken.
“Nou goed dan, meneer Van der Merwe,” spreek sy die agterdeur aan. “As jy verkies dat ons deur die deur moet gesels ... Ek is ’n maatskaplike werker indien jy dit nie reeds weet nie.”
’n Doodse stilte begroet hierdie aankondiging.
“Jy het onder ons aandag gekom omdat jou kinders verwaarloos is. Daar word nie na behore vir hulle gesorg nie.”
Dít behoort hom te ruk, maar sy wag tevergeefs op reaksie van agter die gegrendelde agterdeur. Lisbe frons ontevrede.
“En jy is werkloos, nie waar nie?”
Nog is daar geen boe of ba nie.
“Dis die welsyn se plig om ondersoek in te stel ter wille van die kinders. As jy dan nie vir jou kinders omgee nie, óns gee om. Ons ...”
Uit die hoek van haar oog sien sy ’n beweging by die heining. ’n Ou tuinier loer grootogig na haar. Lisbe draai haar kop vinnig terug.
“Ons wil net vasstel of die kinders behoorlik versorg word. As jy niks het om weg te steek nie, hoekom is jy dan bang om op ’n paar eenvoudige vrae te antwoord?”
Sy skuif haar gewig na die ander been. Haar oog vang weer vlugtig ’n beweging by die heining. Ou tant Fênie het op haar agterstoepie verskyn, krullers in die hare. Sy vergaap haar, saam met haar ou tuinhulp, aan die petalje by die agterdeur.
Lisbe maak keel skoon. “Ek wil net weet of jy finansieel in staat is om jou kinders te versorg. Antwoord my!”
“Apools, wat de duiwel gaan daar aan?” hoor sy tant Fênie skril vra.
Apools se antwoord is duidelik hoorbaar: “Nee, ek verstaan ook nie. Die vrou staan en gesels met die deur. Miskien is sy nie reg in die kop nie.”
Sy voel nog die warm gloed op haar wange toe sy agter die stuurwiel inskuif.
Toe Lisbe haar kantoor bereik, sit sy eers ’n hele ruk stil agter die lessenaar. Opstandig skryf sy in die lêer voor haar dat sy vandag besoek aan meneer H.A. van der Merwe, Keerboomstraat, gebring het en dat dit op ’n volslae mislukking uitgeloop het. Die feit dat dieselfde op die boonste reël in Madelyn Reynecke se handskrif staan, troos haar nie.
Daar is natuurlik ’n maklike manier ... om die hulp van die predikant in te roep. ’n Mens kan dalk die moed hê om die deur in ’n jong meisie se gesig toe te druk, maar nie in ’n waardige predikant s’n nie. Maar sy besluit teen hierdie opsie. Dis mos darem nie die eerste keer dat sy met ’n ongemanierde mansmens te doen kry nie!
Maar hierdie een is so ’n bietjie anders as die Jan Sieberhagens wat tot dusver haar pad gekruis het. Met meneer Van der Merwe het sy die gevoel gekry dat sy presies is wat hy haar so onomwonde laat verstaan het sy is: ’n dikvellige, bemoeisieke vroumens. In plaas daarvan dat hý die gevoel moes kry dat sy daar is om leiding te gee, het sý die gevoel gekry dat sy haar neus insteek waar dit nie hoort nie. Sy wou hóm laat verstaan dat sy daar is om hulp te verleen aan iemand wat hulp nodig het, maar hy het háár laat voel dat sy ’n oorlas is en dat haar belangstelling in die Van der Merwes van Keerboomstraat totaal misplaas is.
En natuurlik is dit nie! Die paar feite wat wel beskikbaar is, vertel tog duidelik dat die geval hul aandag verg. Sy tik die feite af: Hulle bly in Keerboomstraat, en dit sê al baie. Keerboomstraat is een van die probleemstrate van hierdie dorp. Dis nie net ’n kopseer vir die welsyn nie, maar dikwels ook vir die polisie. Indien meneer H.A. van der Merwe nie ’n welsyngeval wil wees nie, moet hy nie in ’n vervalle ou huis in Keerboomstraat woon nie. Die feit dat hy wel daar bly en duidelik nie omgee of ’n wag-’n-bietjiebos die voorhekkie toegroei en hoe die res van die werf lyk nie, vertel ook sy eie storie. Die feit dat sy kinders nie altyd skoon en versorg skool toe gaan nie, wys nog ’n vinger. En die feit dat hy laatmiddag nog ongeskeer en werkloos in die huis is, voltooi tog die prentjie. ’n Baie bekende prentjie vir Lisbe.
As sy net meer feite kan kry! Met so min feite tot haar beskikking is dit haas onmoontlik om by die takke aan die Rand te probeer uitvind of hulle ene meneer H.A. van der Merwe op lêer gehad het.
Intuïtief voel sy aan dat hierdie man eers onlangs in sy toestand van verval en agteruitgang beland het. Sy aggressiewe houding verraai dat hy nie daaraan gewoond is dat mense hom konfronteer nie. Die gewone gevalle is gewoond daaraan; beantwoord gelate die vrae wat gestel word, of lieg daaroor, maar hulle antwoord. Die meubels in die huis vertel dat hy eens op ’n hoër trappie as Keerboomstraat was. Dit sal nie die eerste keer wees dat die pendule van die een uiterste na die ander geswaai het nie.
Maar wat kon gebeur het? Het die afwesigheid van ’n vrou iets daarmee te doen? Is sy dood ... of is hulle geskei? Die antwoorde op dié vrae sal sy op ’n ander plek moet vind, want meneer Van der Merwe sal dit beslis nie verstrek nie.
Lisbe se motor staan die volgende middag voor die skoolhek toe die skool uitkom. Sy voel skuldig en wil liewer nie dink wat die pa sal kwytraak as hy hiervan moet uitvind nie.
Die twee seuntjies kyk haar woordeloos aan, en Lisbe begin ongemaklik raak onder hul direkte blik. Dis so goed of die twee paar oë sê: Jy weet goed ons pa sal niks hiervan hou nie!
Sy kug. “Hallo.”
Hulle staar haar aan, kompleet nes hul pa die vorige dag.
“Ek het gewonder of julle nie wil saamry nie.”
Die ogies kyk net terug.
Sy probeer weer, dié keer met ’n breë glimlag. “Ek ry in Keerboomstraat se rigting ...” Dis nie regtig ’n leuen nie, stry sy met haar gewete. Sy was van plan ...
Sy maak die deur oop. “Kom, klim in.” Die twee standbeeldjies bly bewegingloos. “Wil julle nie saamry nie?”
“Ons mag nie by vreemde mense in die motor klim nie.”
Sy knik. “Dis reg, ja, maar ek ... ek is nie regtig vreemd nie. Ek ... e ... het al jul pa ontmoet.”
“Veral nie tannies nie,” voeg die ander een by. “Pa sê daar is tannies op hierdie dorp wat ons wil kom rondf-”
“Jy mag nie daardie woord sê nie!”
“Pa het dit dan gesê!”
“Ja, maar jý mag dit nie sê nie. Dis woorde vir grootmense sê Pa.”
Twee paar oë keer terug na die tannie voor hulle en vra woordeloos: Is tannie miskien een van hulle?
Lisbe sluk. “Ek verseker julle ek wil julle nie rond ... e ... beveel nie. Ek het maar net gedink ... op pad Keerboomstraat toe is daar ’n kafee op die hoek wat baie lekker roomys verkoop.”
“Ons weet. Daar is draairoomys met sjokolade binne-in en ’n kersie bo-op en neute ...” Daar is beslis nou belangstelling. Lisbe glimlag verlig. ’n Roomys maak baie deure oop. Sy hoop monde ook.
“Dis waarvan ek praat. Ek het gewonder of julle nie saam met my een wil gaan eet nie. Dis nie lekker om alleen daar te gaan sit nie.”
Hulle kyk mekaar vlugtig aan. Pa het gesê hulle mag by niemand in die motor klim nie, maar hy het niks van roomys gepraat nie ...
Die een kry ’n blink gedagte. “Goed, ons kry tannie by die kafee. Kom, Hansie!”
Hulle spring soos een man weg en Lisbe kyk hulle half vererg, half geamuseer agterna. Hulle sal nie in haar motor ry nie, maar die roomys wat sy koop, sal hulle eet!
Op pad kafee toe begin haar gewete haar sterk aankla. Sy hou nie van omkopery nie, maar wat anders moet sy doen? Sy móét net meer inligting oor die Van der Merwes bekom.
Die twee wag haar uitasem by die kafee se deur in. Hulle het die afstand in rekordtyd afgelê.
“Maggies, maar julle kan darem vinnig hardloop. Julle is saam met my hier.”
Hulle glimlag vir haar. “Ons was bang tannie is soos alle ander vroumense,” sê Hansie.
“O? Hoe is alle ander vroumense?”
“On ... on ...”
“Onbetroubaar,” help sy broer hom.
“O ja? Wie sê so?” Natuurlik is dit ’n dom vraag.
“Pa sê so! Pa sê vroumense is álmal so ... Hulle sal nou vir jou iets belowe en netnou weet hulle niks daarvan af nie.” Dadelik is daar weer agterdog in die ogies en sy word onmiddellik aan haar belofte herinner: “Tannie het vir ons ’n roomys beloof.”
“Ja, ja, natuurlik het ek en natuurlik gaan julle dit kry. Kom ons gaan sit.” Onder twee paar wakende oë gee sy die bestelling: “Drie groot draairoomyse met sjokolade binne-in en kersies en neute bo-op, asseblief.” Sy glimlag in die gesiggies af. “Tevrede?”
Met sugte van verligting word daar teruggesit. “Is tannie ’n vroumens?” vra Hansie in alle erns.
Sy kyk hom verbaas aan. “Wel, ja, ek is, sover ek weet. Hoekom?”
“Tannie is nie beduiweld nie, en Pa sê alle vroumense is befo-”
“Hansie, jy sê nie weer daardie woord nie!” word hy betyds gemaan.
Hansie kyk sy broer vererg aan: “Man, ek wou sê van die duiwel besete. Hy het nog gisteraand gesê dit lyk vir hom hierdie dorp se vroumense is van die duiwel besete.”
Lisbe kry dit reg om haar gesig niksseggend te hou. Hy’s ’n mooi een om te praat! Sy sluk haar ergernis af, glimlag gerusstellend. “Nee, ek verseker jou, Hansie, ek is nie van die duiwel besete nie. En wat is jou naam?” wend sy haar tot die ander een. Sy het immers nie roomys vir hulle gekoop om op húl vrae te antwoord nie. Sy het self ’n klompie te stel, en sy sal haar moet roer. Die tweeling eet deur die roomys soos sywurms deur moerbeiblare.
“Pietie,” kom dit tussen ’n hap roomys deur.
“Hansie en Pietie. Hm, dan is julle eintlik Johannes en Pieter.”
“Haai, hoe weet tannie dit? Sy is slim, nè, Pietie?”
Pietie kyk haar fronsend aan. Sy is ’n vroumens en sy is nie veronderstel om slim te wees nie. Pa sê vroumense het net genoeg verstand om so ver as hul neuse lank is te dink ... en hierdie tannie se neus is glad nie lank nie. Haar neus is korterig met so ’n wippuntjie.
“Waar het julle gebly voordat julle hierheen gekom het?” kom die ongeërgde vraag terwyl sy ’n lekkie van haar roomys neem.
“Ver!” swaai die een armpie.
“Hoe ver?”
“Ver, ver hiervandaan.”
“Wat is die plek se naam?”
“Dis ’n snaakse naam.”
“Het julle lank daar gebly?”
“Net kort.”
“Het jul ma toe ook nog by julle gebly?”
“Nee. Sy het in ons eerste huis by ons gebly.”
“Waar is sy nou?”
“Ons weet nie. Pa sê hy twyfel of sy is waar sy graag wil wees.”
Lisbe frons. Dit klink ingewikkeld. “Dan is sy nie dood nie?”
“Ja, sy is dood.”
“Maar jy sê dan ...” Sy swyg vinnig. Daardie man! Daardie man! Hoe durf hy sulke goed oor sy oorlede vrou teenoor die kinders kwytraak! “Is sy al lankal dood?”
“Ja, ’n hele ruk al.”
“En julle drie bly nou maar so alleen?”
“Ja.”
“Watse werk het jul pa gedoen voordat julle hierheen gekom het?”
“So ’n ander werk ... Hy het ’n wit jas gedra.”
“ ’n Wit jas? Het hy in ’n slaghuis gewerk?” Hulle kyk haar half onnosel aan en sy sien dat hul belangstelling begin verflou. Hul roomyse is op. Sy deel hare vinnig vir die twee, probeer dan weer: “Wie kook vir julle kos by die huis?”
“Pa, maar meestal sny ons sommer blikkies oop. Pa sê dan is daar tog nie kastrolle om te was nie.”
Natuurlik, ja! En hy dink twee groeiende seuns kan daarop grootword! “Jul pa ... e ... slaan hy julle baie?”
“Hy foeter ons goed wanneer hy ...” Die stemmetjie draal weg en die antwoord word deur ’n ander stem voltooi.
“Ja, juffrou Erwee, hul pa foeter hulle goed, maar net wanneer hulle dit verdien, of hoe, seuns?”
Twee koppies knik en sak vooroor terwyl Lisbe se kop omhoog ruk. Sy herken hom amper nie. Hy is geskeer en netjies geklee, maar sy oë is nog net so afkeurend soos gister ... en hulle skiet vuur op haar en die twee seuns. Die blos wat op haar wange uitslaan, verraai dat sy weet sy is op heter daad betrap. Maar dan ruk sy haar reg, ontmoet sy sy blik parmantig.
“Ek wonder of jy altyd in ’n toestand is om te weet of jy regverdig straf uitdeel of nie.”
“En jy is die engel van regverdigheid wat daaroor sal kan oordeel. Goed, dan kom jy vandag saam huis toe.”
Sy word summier aan die pols geneem en opgetrek. Net ’n knik van hul pa se kop laat die tweeling soos springhase reageer. Rooi in die gesig betaal sy die nuuskierige man agter die toonbank ... natuurlik bied hý nie aan om te betaal nie ... en dan word sy by die kafee uitgedruk.
Die tweeling kry hul bevele: “Wanneer ons by die huis stilhou, moet julle reeds daar wees.” Sy word aangedruk na haar motor toe, agter die stuurwiel ingeprop en ongenooid vou hy hom dubbel langs haar op die passasiersitplek. “Toe, juffrou, jy weet waar die huis met die wag-’n-bietjiebos staan.”
Sy skakel die motortjie aan, kyk stip voor haar. “Meneer Van der Merwe, jy moet verstaan ...”
“Spaar jou asem tot by die huis ... en moenie so rukkerig wegtrek nie!”
“Hoekom bestuur jy dan nie?” vra sy opstandig.
“Ek mag nie bestuur nie.” Hy ontmoet haar blik, en sê reguit: “Heeltemal korrek, juffrou Erwee. Ek het my lisensie verloor weens dronkbestuur.”
Sy kyk vinnig terug straat toe. Sy weet sy waag baie. “Is dit hoe jou vrou dood is?”
Dis stil, selfs toe sy al die motor voor die huis tot stilstand gebring het. Eindelik moet sy haar kop draai, teen sy bleek gesig vaskyk. Dan kry sy haar antwoord: “Daar is baie mense wat vandag nog daaroor wonder.”
“Waaroor wonder hulle?”
“Of ek iets met my vrou se dood te doen gehad het. Klim uit.”