Читать книгу Onrus op Oshakati - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

Linda Maartens vee die sweet sommer met die rugkant van haar hand uit haar oë, terwyl sy intens bewus is van die algehele matheid van haar liggaam. Haar rug pyn van die ure lange sit agter die stuurwiel en haar ligte somerrokkie knel om haar lyf, papnat van die sweet, terwyl haar hare – kort, ligbruin, natuurlik krullend – in klam, taai slierte oor haar voorkop en in haar nek val.

Sal daar dan nooit ’n einde aan hierdie lang reis kom nie? wonder sy met ’n swymelende verstand, haar diepbruin oë agter die donkerbril moeg op die pad voor haar gerig.

Sy lek eers oor haar droë lippe voordat haar mond wrang trek. Blykbaar is dit nou maar eenmaal haar lot in die lewe om altyd te laat haar foute te besef. Die wrangheid om haar mond verdiep, sak weg tot binne-in haar en weer eens, soos honderde kere die afgelope maande, voel sy hoe haar hart saamtrek in ontnugtering en skok, terwyl ’n gevoel van bitterheid van haar besit neem. Al die gevaartekens was daar, maar sy het haar soos ’n stomonnosel dier sonder verstand en rede daarop blind gestaar, tot haar oë te laat oopgegaan het . . .

Sy ruk haar gedagtes terug asof sy ’n span verwilderde perde onder beheer moet kry. Nee. Nee, sy mag nie, sal nie weer aan die afgelope maande dink nie. Dis verby. Goddank, dis verby.

As sy haar sinne wil behou en op die een of ander manier weer ’n soort toekoms wil bou, moet sy vergeet van wat agter lê. Twee dae gelede, toe sy die oggend om drie-uur Kaapstad se liggies agter haar in die truspieëltjie sien vervaag, het sy haar voorgeneem dat sy nie net die stad agterlaat nie, maar ook alles wat die afgelope jaar gebeur het. Sy het vinnig gery, asof sy aan die wegvlug was van die plek waar sy grootgeword het, waar sy skoolgegaan het en later universiteit toe is, waar sy haar hospitaaljaar in die groot provinsiale hospitaal voltooi het en toe ’n eie praktyk begin opbou het.

En dit was presies wat sy besig was om te doen – weg te vlug van alles en almal, van Kaapstad wat sy so liefhet, van die lewe wat sy geken het, van dié mense wat sy gedink het haar liefhet en haar vriende was . . . ’n oorvloed van hulle, maar wat eensklaps so dun gesaai was.

Weer moet sy met alle mag die stang hard terugruk. Nee, laat sy daardie foute vergeet. Laat sy liewer dink aan haar jongste fout – om alleen die lang pad van Kaapstad na ’n afgesonderde sendinghospitaal in Ovamboland, bo in Suidwes*, byna op die grens van Angola, aan te durf. Sy is vooraf gewaarsku dat dit dwaasheid sou wees. Nou besef sy hulle was reg, soos altyd, en sy, soos altyd, dwaas. Want dit ís dwaasheid vir ’n jong meisie van ses en twintig om in ’n klein motortjie dié geweldige afstand alleen aan te durf. Maar op daardie tydstip het sy nie meer rasioneel gedink nie. Al waaraan sy kon dink, was om weg te kom . . .

Weer moet sy die sweet van haar voorkop afvee. Dan vee sy die rugkant van haar hand ongeërg aan haar rok af. Van die doos sneesdoekies is daar lankal nie meer een oor nie. Solank sy nog op die teer gery het, kon dit gaan. Sy het ten minste gevorder. Maar sedert sy die teerpad agtergelaat het, voel dit vir haar asof sy met ’n slakkegang voortbeweeg, en die son begin reeds na die weste oorhel. Oor ’n paar uur is dit donker en sal sy vroualleen in die hart van nêrens wees.

Wat het haar besiel om hierheen te kom? wonder sy vir die soveelste keer, terwyl sy die petrolpedaal wegtrap om elke druppel krag uit die klein motortjie te kry sodat hulle teen ’n sanderige opdraand kan uitkom. Hoekom juis ’n eensame sendinghospitaal uitsoek om in te gaan wegkruip?

Hoekom gaan wegkruip in die eerste plek? Sy is mos onskuldig. Die regter het self so gesê . . . Nee, hy het nie. Hy het gesê dat die getuienis teen haar onvoldoende is om haar skuldig te bevind. Dis heeltemal iets anders. Dit spreek haar vry, maar dit laat ’n stigma agter – en ’n stigma waarvan sy, veral as dokter, nooit weer ontslae sal raak nie. En daarom moes sy padgee, ver weg van die bekende dinge, na ’n eensame, afgesonderde plek waar mense nie die koerante so deeglik lees en so graag oor ’n ander se swakhede en foute en sondes praat nie. Dit moes ’n plek so ver van Kaapstad wees dat mense daar hulle nie steur aan wat in die Kaap aangaan nie, watter saak dié dag in die howe aandag geniet en hoofopskrifte in die dagkoerante haal nie. Dit moes ’n plek wees waar hulle nie in jou verlede belangstel nie, maar net in die diens wat jy kan lewer.

Sy het begin soek na so ’n plek . . . en dit gekry. Oshakati. ’n Vreemdklinkende naam, ’n kolletjie op die landkaart van suidelike Afrika, daar bo op die grens, so te sê uit die beskawing, want vir baie Suid-Afrikaners hou die beskawing by die Etoshapan op. Ander­kant Etosha lê Ovamboland en die Kaokoveld, die noordelike grens van Suidwes, waar die magtige Kunene die aarde oopbreek en lig van donker skei.

En daarheen is sy op pad . . . Duisende kilometers agter haar rug lê Kaapstad en haar verlede. Voor haar lê die wildernis, donker Afrika en die toekoms . . .

Dan, meteens, lê haar bestemming voor haar. Linda bring haar motortjie onwillekeurig tot stilstand.

Haar blik dwaal moeg oor die toneel voor haar en bekyk die laaste vesting van die beskawing soos sy dit ken. Benewens die hospitaal, wat van vooraf vervaardigde materiaal gebou is en wat sy dadelik eien as haar nuwe tuiste en werkplek, is daar ook ’n paar ander huise en dan stellasies en sementgeboue wat sy nie kan plaas nie. Voor haar is die groot bord wat haar vertel die Ovamboland-kanaalskema is hier gesetel.

En dan sien sy hulle – die mense onder wie sy gaan werk, aan wie sy dié talent en verstand en kragte gaan gee wat haar eie mense nie meer wil hê nie: die Ovambo’s.

Hulle is oral. Hulle stap in die stofpaadjies, sit gehurk onder ’n bos, party ooglopend verwesters, ander nog klouend aan die gewoontes en tradisies van ’n verlede wat vinnig deur ’n snel toenemende beskawing verdring en ingesluk word. Hulle stap by haar klein motortjie verby met die swaaiende ritme van die mens wat nog na aan die natuur lewe, die wit tande glinsterend in die moorddadige somerson, die voorhoofde blink en sonder ’n teken van sweet in die snikhete dag.

Stadig, baie stadig ry sy met die stofpaadjie langs, swenk regs, kom dan voor een van die geboue tot stilstand. Anders as in die stad waar ruimte ’n probleem is, is hierdie hospitaal met sy paar honderd pasiënte nie in een soliede, massiewe blok gebou nie. Dis ’n kompleks van vierkante en losstaande afdelings, want in hierdie deel van die wêreld is ruimte die een ding waarvan daar ’n oorvloed is, waarmee jy kan mors en speel asof dit jou eie skepping is.

Alte bewus van die bedremmelde figuur wat sy moet slaan, stap Linda die hoofingang binne, kyk hulpeloos om haar rond asof dit die eerste keer in haar lewe is dat haar voete die ingangsportaal van ’n hospitaal betree en dit algeheel vreemde terrein vir haar is. Dan kry sy die bekende reuk van ’n hospitaal en haal ’n paar keer diep asem, en dis asof sy meteens minder hulpeloos voel. Iets is darem bekend hier, al is dit ook net die reuk van eter en ontsmettingsmiddels.

Meteens is daar ’n glimlaggende swart gesig voor haar dowwe oë en sy vra sonder veel geesdrif: “Kan ek asseblief die dokter in bevel spreek?”

Sy word met ’n gang langs gelei tot by die deur waarop staan: Superintendent. Onderaan is ’n wit kaartjie vasgeplak: Dr. Louw Hoffmann. Sy hoor skaars toe die Ovambo-suster haar beleef vra om ’n oomblik te wag dat sy kan vasstel of die dokter beskikbaar is. Sy knik net vaag, haar oë verbaas op die kwalifikasies wat onder die van aangebring is. Die superintendent van die hospitaal op Osha­kati is ’n uiters goed gekwalifiseerde dokter, ’n man wat benewens sy gewone mediese graad ook ’n meestersgraad in die snykunde het. Wat soek so ’n man hiér?

Hy is ook ’n Afrikaner, dink sy met ’n bietjie meer belangstelling, haar nuuskierigheid onwillekeurig geprikkel deur die man se kwalifikasies. Of miskien ’n Duitser. Van watter nasionaliteit hy ook al mag wees, ’n man met ’n meestersgraad in snykunde hoort tuis in een van die groot stedelike hospitale – nie in ’n afgesonderde sendinghospitaal êrens in die gramadoelas nie. Of miskien is hy ook ’n soort Albert Schweitzer, ’n man wat sy lewe opoffer vir sy medemens. Of dalk ’n eksentrieke ou mens wat nie met die beskawing kan klaarkom nie, ’n man bedeel met ’n geniale verstand, maar andersins . . .

“U mag maar binnekom.”

Linda ruk haar gedagtes terug, knik weer, stap binne en hoor hoe die deur agter haar toeklik. ’n Man in wit tropiese drag en die bekende wit doktersjas sit agter ’n lessenaar, besig om te skryf. Sy staan en kyk na hom sonder om die prentjie werklik in te neem. Haar blik dwaal selfs weg, op soek na ’n verkrimpte mannetjie met ’n hoë, intelligente voorkop, ’n ouderwetse bril, geboë skouers en wakker, hoewel moeë oë. So behoort die superintendent van Oshakati se hospitaal immers te lyk.

Maar sy is verplig om terug te kyk na die enigste mens in die kantoortjie toe hy sy pen neersit en gesteurd opkyk, duidelik ongeduldig oor die onderbreking, en kortaf vra: “Ja?”

Toe sy nie dadelik antwoord nie, staan hy op en kom om die lessenaar gestap.

Hy is presies die teenoorgestelde van die ou, eksentrieke dokter na wie sy soek. Hy staan groot en sterk voor haar, vou sy arms oor sy bors en bekyk haar met skerp groen oë waarin rooibruin spikkeltjies van ongeduld ronddans. Sy sien die rooibruin word in sy ruie wenkbroue herhaal, dat dit voor die brug van sy neus ontmoet, en ook in die hare wat, ondanks duidelike pogings om dit te verhoed, ’n ligte golf na agter maak. Die skouers is nie geboë nie, maar breed. Die doktersjas span styf oor die skouerknoppe. Die res van sy gestalte is beslis nie verkrimp nie, maar gespierd en lenig en duidelik baie fiks.

Sy moet haar nek ver agteroor buig om na hom op te kyk en dit verskerp die pyn in haar werwels en moeë spiere, sodat sy verplig is om haar kop te laat sak. Sy stem klink weer ongeduldig op: “Ja, dame? Is daar iets wat ek kan doen?”

Ja, jy kan gerus gaan sit en ophou om my aan te kyk asof ek van ’n vreemde planeet afgeval het, dink Linda en vir die eerste keer voel sy minder afgestomp. Sy is moeg en voel miserabel. Sy weet sy lyk ellendig, maar dis nie nodig om haar so uit die hoogte aan te kyk nie! Haar stem klink egter gedwee genoeg toe sy eindelik antwoord: “Ek wil net aanmeld . . .”

“Aanmeld?”

Hy sê die woord asof hy dit vir die eerste keer in sy lewe hoor, en dis nou die bruin oë se beurt om ergerlik vanuit ’n nie alte skoon gesiggie nie te flits. Wat makeer die man? Hy lyk nie soos ’n idioot nie, maar . . .

“Ja. Of vir wie moet ek sê dat ek hier is?”

Sy frons verdiep en sy ruie wenkbroue trek in ’n reguit lyn, terwyl sy stem verraderlik bedaard klink toe hy ná ’n oomblik van stilte laat hoor: “Miskien sal ek kan sê as jy my eers sê wie jy is.”

“Ek is dokter Maartens, die nuwe assistent vir die Oshakati-hospitaal. Dit is mos hy dié, dan nie?”

Nou kyk hy haar aan asof hy seker is sy hoort in ’n gestig.

“Ja, dit is die Oshakati dié, maar . . . Schweinehund!”

“Ekskuus!”

Linda ken nie ’n woord Duits nie, maar sy is seker die man staan en vloek mos nou. Ondanks haar moegheid en dat sy tot op hierdie oomblik gedink het sy het geen veglus of moed vir die toekoms oor nie, steek haar kennetjie meteens uitdagend uit en voel sy iets van die ou wilskrag, ’n flenter van haar ou deursettingsvermoë in haar roer. Sy dwing haar stywe nek agteroor en kyk die groot man vas in die oë.

“Het u my gevloek, dokter?”

Hy lyk vir ’n oomblik uit die veld geslaan. Dan sien sy tot haar grootste genoegdoening ’n donker gloed onder die sonverbrande vel opstoot. Hy draai van haar af weg, gaan neem voor die venster plaas.

“Wat de duiwel makeer daardie mense om ’n vroumens hierheen te stuur? En hoe oud is jy? Het jy al jou hospitaaljaar gedoen?”

Sy doen haar bes om ietwat langer te vertoon.

“Ek is ses en twintig en het al twee jaar prakties agter die rug. Ek het . . .” Dan sluk sy haar woorde. “Miskien sal ek jou meer vertel as jy my sê wie jý is.”

Vir die tweede keer binne ’n kort tydjie lyk die man half uit die veld geslaan. Dan keer die onheilspellende frons terug.

“Ek is natuurlik dokter Hoffmann, die . . .”

“O. Ek vra om verskoning. U is . . . ietwat van ’n verrassing. Sien, ek het eintlik verwag dat die superintendent van ’n sendinghospitaal ’n ou, waardige, beleefde dokter sal wees . . .”

“Juffrou . . . e . . . dokter Maartens, sit, asseblief. Dit lyk of jy kan omval.” Hy druk ’n stoel na haar kant toe en hierdie keer gehoorsaam sy sonder teëpraat. Sy het ’n lang pad agter die rug en om dan so ’n verwelkoming te kry . . .

Hy neem ook agter die lessenaar plaas en bekyk haar nou nog skerper as tevore. Sy probeer dapper terugkyk, maar al die vurigheid en parmantigheid verlaat haar terwyl sy roerloos onder sy ondersoekende blik sit. Sal hy haar herken? Sou die superintendent van hierdie hospitaal op die hoogte bly van die nuus uit Suid-Afrika? Sou hy ’n gereelde koerantleser wees?

Hy het haar reeds herken toe hy daardie Duitse skelwoord laat uitglip het, of hoekom is hy so duidelik ontevrede?

Sy kan die stilte nie langer verduur nie en laat hoor: “As u my net sal sê wat u teen my het, dan . . .”

“Oshakati is nie ’n plek vir ’n vroumens nie.”

“Hoekom nie? Hier is tog seker ander blanke vrouens ook, nie waar nie? U eie vrou . . .”

“Ek het nie ’n vrou nie en ek bedoel dit nie in daardie sin nie. Ek kan niks met ’n vroumensdokter hier maak nie. Ek het ’n man nodig wat hard kan werk en op wie ek kan staatmaak om . . .”

“En ek, net omdat ek ’n vroumens is, kan nie hard werk en vertrou word om dít wat van my verlang word te doen nie? Is u nie ’n bietjie onregverdig nie, dokter Hoffmann? U diskwalifiseer my sonder dat u my eens getoets het.”

“Dis nie vir my nodig om jou te toets nie. Ek weet jy is heeltemal . . . e . . . misplaas . . .”

“En wat presies beteken dit?”

“Jy verstaan my weer verkeerd, dokter. Ek weet ’n vrouedokter kan haar kant enige dag net so goed bring soos haar manlike kollegas – maar in die beskawing, nie op Oshakati nie. Hier het ’n mens . . .”

“Ja?”

“Wel, hier het ’n dokter meer as net kennis of vaardigheid nodig. Jy moet ook stamina hê. Die klimaat verg baie van jou . . .” Hy swyg effens en laat sy blik oor haar dwaal en dié sê uitdagend: Kyk hoe lyk jy net van een dag se motor bestuur in hierdie wêreld!

Hy sien ’n ligte blos oor haar ietwat bleek wange kruip – wange wat hy heel terloops opmerk gans te ingedoke is om normaal en gesond voor te kom – en vervolg kortaf soos ’n lektor wat kale, harde feite oordra aan ’n student wat nie te intelligent is nie: “Dis ’n harde wêreld hierdie, sy klimaat, sy eise, alles . . . Dis ’n groot wêreld en die afgelope tyd ook ’n gevaarlike wêreld.”

“Wat bedoel u?”

Hy sug effens, kyk haar dan vas aan.

“Daar is onrus rondom ons, dokter Maartens. Dis nie meer net op ons grense nie. Dit het reeds dieper ingesypel, heelwat dieper as wat baie vermoed – hierdie gees van haat, hierdie wrok teen wit mense.” Hy wink en sy volg hom na die kaart wat teen die muur agter hom vasgespyker hang. Sy hand beduie en sluit ’n groot stuk aarde saam. “Dis ’n groot gebied wat ons moet bedien, benewens die hospitaal self, wat kort duskant vyfhonderd beddens bevat wat altyd vol bly, behalwe vir die slaapplekke en lêplek wat dikwels tot in die gange op die vloere gemaak moet word. Hierdie hospitaal is maar ’n afdeling van ons werk. Ons is op roep oor ’n paar duisend hektaar, soos jy self hier voor jou kan sien. Kort bokant ons lê die Kunene en Angola-grens en reg oos die Caprivi-strook. Links is die Kaokoveld. Suid lê Etosha en die beskawing – ver suid hiervandaan.”

Hy kyk op haar af, na die koppie met die natgeswete krulle wat kwalik sy skouerknop haal, en die mismoedigheid wil hom oormeester.

Ses maande lank al behartig hy alleen hierdie hospitaal, wat die sentrale spil van hierdie groot gebied vorm, asook die noodoproepe uit enige deel van hierdie groot stuk aarde. Ses maande lank al doen hy so te sê dag en nag diens. Hy kon in sy spore neersak van uitputting én dankbaarheid toe hulle hom ’n week gelede in kennis stel dat hulle ’n assistent stuur. En dis wat hulle hom gestuur het – ’n klein stukkie vroumens wat lyk asof die eerste wind haar kan omwaai, ’n blote kind soos sy hier langs hom staan, die bruin oë groot en belangstellend op die kaart voor haar gerig, die neusie met ’n effense parmantige wip in die punt, ’n sagte mond wat op hierdie oomblik baie weerloos vertoon, twee klein, vuil handjies bedees voor haar saamgevat, en van daar onder loer twee verspotte klein voetjies in sandale na hom op. Hy het hulp so dringend, só dringend nodig en hulle stuur vir hom . . . dít!

Die bruin oë draai na hom, nou nie meer vyandig nie.

“Maar die grootste moeilikheid is mos darem seker op die grense, nie waar nie?”

Sy mond trek en hy gee ’n kortaf, grimmige laggie.

“Die ooglopendste is daar, maar dis al veel dieper as die grens. Dis oral. Dis om ons. Dis al verby ons. Jy het tog seker gelees van die Ovambo-onluste ’n rukkie gelede, nie waar nie? Dit was in Windhoek. Maar dis nie net Windhoek nie. Dis maar net ’n kol waar dit na buite uitgeslaan het, soos masels wat kol-kol uitslaan. Maar die siekte is wydversprei binnekant. Dis oral.”

Sy kyk hom fronsend aan, nie seker of hierdie man doelbewus daarop uit is om haar bang te praat om haar hier weg te kry en of hy werklik ernstig en bekommerd is, soos hy op die oog af voorkom nie.

“Probeer u my sê dat dit gevaarlik, lewensgevaarlik vir ’n dokter hier kan wees – vir iemand wat hulle wil help, hul lewens red, pyn verlig . . .”

Sy humorlose glimlag bring haar tot swye.

“My liewe mens, as jy dink dat hulle jou sommerso as ’n engel van die lig sal aanvaar, en as dít jou beweegrede agter jou koms hierheen was, moet jy so gou moontlik weer hiervandaan vertrek.” Hy draai weg, gaan weer voor die venster staan, kyk uit na buite en lyk peinsend, strak.

“Ek is al agt jaar op Oshakati en ek dink ek het die Ovambo’s taamlik goed leer ken – en hulle vir my. Ek is nou nog dokter vir hulle, die een wat hulle gesond maak wanneer die toordokter nie verder kan nie. Maar ek is bewus van die gees van onrus wat selfs op Oshakati ingesluip het.” Hy draai weer terug na haar. “Jy sien dus, dokter Maartens, hoekom ek sê dat Oshakati nie die plek vir jou is nie. Jy moet liewer na ’n ander plek vlug.”

Sy ruk asof ’n elektriese stroom deur haar trek en die maer wange verbleek merkbaar. Die bruin oë lyk meteens swart in die bleek gesiggie.

“Wat . . . bedoel u?”

Hy gee ’n tree of twee nader, kyk weer met daardie speurende arendsblik op haar af, sien baie meer raak as wat sy vermoed. Hy sien nie net die hewige klop van ’n ontstelde hart in die kuiltjie in haar nek en die gespanne spiere in die kakebene nie. Hy sien ook die vreesflits in die bruin oë.

“ ’n Jong meisie van ses en twintig met jou kwalifikasies kom nie na Oshakati sonder ’n rede wat haar tot hier gejaag het nie. Wat jou rede ook al is, dokter, gaan soek liewer ’n ander plek om ’n gebroke hartjie te dokter of ’n plaende gewete te sus – of watter rede jou ook al aanjaag. Jy sal die vrede waarna jy miskien soek, nie hier op Oshakati vind nie.”

“So? Maar jy is al agt jaar hier, dokter. As Oshakati dan nie die plek is waar ’n mens vrede kan vind nie, hoekom bly jy dan so lank hier?” Dis nou haar beurt om hom noukeurig dop te hou, te sien hoe die gesig verstil, dan verstrak sodat die spiertjies in sy kake begin spring en die bloed duidelik teen sy slape pols. Tog waag sy dit verder: “ ’n Man met jou kwalifikasies moes seker ook ’n rede gehad het om hom tot op Oshakati te jaag.”

Vir die eerste keer sien sy sy oë voor hare huiwer, en sy stem klink koud toe hy sê: “Ek is ’n man. Dis anders.”

“Hoe anders? Die hart het geen geslag nie.” ’n Vasberade trek verskyn om haar lippe en weer ontmoet sy die groen, ontstoke oë onverskrokke. “Ek is beïndruk deur wat u my vertel het, dokter Hoffmann, maar nie banggepraat nie. Ek is in elk geval nie bereid om tou op te gooi voordat ek nog begin het nie. Ek is nou eenmaal ’n vrou, en ek is bevrees u sal daardie feit maar moet aanvaar. My geslag het in elk geval niks met my werk te doen nie.”

“Maar jou uithouvermoë het,” kap hy vinnig terug. “Was jy onlangs siek?”

Weer betrap hy haar onverhoeds met die vinnige vraag en weer sien hy die vlugtige vreesflits in haar oë. Maar sy ruk haar byna dadelik reg en antwoord koel:

“ ’n Effense senu-ongesteldheid, niks wat werk en vrede en Oshakati nie kan genees nie.”

Louw Hoffmann vou weer sy arms voor sy bors, ’n gebaar wat sy in die nabye toekoms as kenmerkend van hom sal leer ken.

“Dan is jy vasberade om te bly en dink jy sal vrede hier vind?”

“Ja. Hoekom nie? Jý het . . . nie waar nie?”

Hy antwoord haar nie, maar sy het ook nie een verwag nie. Hul oë meet mekaar, som mekaar op, takseer mekaar.

Sy stem is sag, maar klink dreigend toe hy eindelik sê: “Goed. Ek het my plig gedoen. Maar moenie by my kom huil nie en moenie dink ek gaan jou spaar nie. Ek gaan van jou presies dieselfde verwag as wat ek van ’n manlike kollega sou verwag.”

“Dis presies wat ek verkies, dokter. Ek is sover dit u aangaan, seksloos. Ek het gekom om te werk.”

“Gaaf, dokter Maartens. In daardie geval . . .” Daar is skielik ’n glinstering in die groen gespikkelde oë. “Ek het ses maande alleen gewerk. Ek dink ek verdien ’n vry aandjie. Jy is oor presies twee uur op diens vir die hele nag. Ek hoop vir jou onthalwe dis ’n taamlik rustige nag. Môre het ons vyf operasies behalwe die gewone daaglikse roetine. En miskien sal ons ’n oproep uit die boendoe gespaar bly. Maar moenie te veel daarop hoop nie.”

Linda kyk hom aan asof hy van sy verstand af is. Besef die man dan nie dat sy uit die Kááp kom nie? Sou hy ooit weet waar dit is, of dink hy miskien dit lê agter die tweede bult? Besef hy nie dat sy die hele dag in die hitte bestuur het en dat sy tot in elke vesel afgemat is nie?

Dis die glinstering in sy oë wat haar dwing om haar moeë skouertjies agteroor te trek en met ’n ongeërgdheid vreemd aan haar te laat hoor: “Dis heeltemal in orde, dokter. As u my net my verblyfplek sal wys sodat ek my kan bad en opknap, sal ek gereed wees.”

Hy druk ’n klokkie op die lessenaar en dieselfde suster van netnou maak haar verskyning. “Suster Monica, dit is dokter Maartens, die nuwe assistent. Wys haar asseblief haar woonstel.” Dan wend hy hom tot haar en sê formeel: “Meld jou asseblief oor ’n uur aan sodat ek gou saam met jou deur die hospitaal kan gaan.” Sy knik net, stap uit en hy sien hoe die deur agter haar stywe ruggie toegaan. Lank daarna staan en streel hy nog sy ken en vir die tweede keer daardie middag kry hy verligting: “Schweinehund!”

* Namibië

Onrus op Oshakati

Подняться наверх