Читать книгу Onrus op Oshakati - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

Linda is verras met haar woonstel. Sy het ’n vae voorstelling van ’n sendinghospitaal gehad – van kleihutte en primitiewe geriewe. Die woonstelletjie wat die vriendelike Ovambo-suster vir haar aanwys, is ’n aangename verrassing. Dit bestaan uit ’n slaap-sitkamer en ’n eie private badkamer. Eenkant in die hoek is ook ’n afskorting wat sy as kombuishoekie kan inrig. Dit lyk ’n bietjie oninteressant, maar wanneer sy eers haar goedjies uitgepak het, en haar eie stempel op die blyplekkie afgedruk het, sal sy heeltemal tuis kan voel. Haar gesig versomber. Hier in haar woonstelletjie, ja, maar of sy ooit in die res van die hospitaal tuis sal voel . . . Dáár is sy beslis nie baie welkom nie.

Die woorde van suster Monica laat haar egter ’n bietjie beter voel toe eersgenoemde laat hoor, voordat sy na haar werk terugkeer: “Baie welkom op Oshakati, dokter. U weet nie hoe dringend ons u hulp nodig het nie. Dokter Hoffmann het op byna bomenslike wyse die afgelope ses maande alles alleen behartig, maar selfs hy sou nie veel langer so kon voortgaan nie. Ek hoop u sal baie gelukkig hier by ons wees. As daar iets is wat u kortkom of waarmee ek kan help, moet u net praat. Matrone is vanmiddag van diens af. U sal haar môreoggend ontmoet. Kan ek vir u iets te drinke hierheen stuur?”

Linda glimlag dankbaar. “Dankie, suster. Dis baie vriendelik van u. ’n Glasie koue lemoensap, as dit moontlik is?”

“Sekerlik. Ek stuur dit dadelik.”

Linda raak byna-byna in die bad aan die slaap. Sy voel minder moeg en gedaan toe sy eindelik aangetrek is en haar wit doktersjas optel. Nietemin weet sy dat sy ’n klompie moeilike ure tegemoetgaan. Die bomenslike dokter Hoffmann verwag blykbaar ook bomenslike eienskappe van sy assistente.

Sy drink twee glase lemoensap na mekaar en stap dan uit in die gang. Haar horlosie vertel haar dat sy net betyds is. Op pad na die kantoor, waar sy so uit die hoogte aangesê is om haar oor ’n uur aan te meld, loop sy by haastige Ovambo-verpleegsters verby en almal gee haar ’n vriendelike, verwelkomende glimlag. Dis darem een troos, dink sy meewarig. Die personeel van Oshakati gee blykbaar nie om dat sy van die vroulike geslag is nie.

Buite het ’n Suidwes-nag begin nader sleep en ’n windjie opgesteek wat effens verligting bring. Maar binne-in die hospitaal is dit nog drukkend warm en sy besef opnuut dat daar groot aanpassings van haar geverg gaan word. Soos die hoogedele superintendent uitgewys het, is dit ’n harde wêreld dié vir ’n vrou.

Sy ontmoet die groen oë koel en kalm toe sy voor die lessenaar gaan staan. Sy voel meer opgewasse teen hom noudat sy skoon is en haar doktersjas aanhet. Sy lyk ten minste nou meer na ’n dokter, dink sy, en dis maar goed dat sy nie sy gedagtes op hierdie oomblik kan lees nie. Dr. Hoffmann is beslis nie beïndruk deur die skoon gesiggie en wit doktersjas nie. Sy lyk nog steeds vir hom na ’n dogtertjie, nou net skoon gebad en gereed om in die bed te gaan klim. Sy gewete kla hom net so effens aan toe hy die afgematte trekkies om die oë en jong mond raaksien, maar sy stem is baie formeel toe hy laat hoor: “Ons kan maar gaan.”

Hoewel Linda besef daar lê harde werk vir haar voor, soos hulle van die een afdeling na die ander deur die hospitaal vorder, kan sy ook nie help om diep beïndruk te wees deur wat hier gedoen word nie. Haar teësinnige bewondering vir die man langs haar neem toe. Die hoof van Oshakati mag miskien nie juis ’n aangename geaardheid hê nie, maar dat hy ’n briljante medikus is, is nie te bevraagteken nie. Dat hy oor byna bomenslike uithouvermoë moet beskik om hierdie geweldige kompleks ses maande lank alleen te kon behartig, is ook nie te betwyfel nie, des te meer omdat daar geen afdeling van die medisyne is wat nie hier gehanteer word nie. Hier op Oshakati is nie spesialisering nie. Wat ’n pasiënt ook al kan oorkom, van ’n bevalling tot ’n gewas op die brein, elke soort geval word hier opgeneem en daar is geen soort operasie wat nie gedoen word nie. En alles gaan deur hierdie man se twee bekwame hande.

Toe hulle eindelik terug is in sy kantoor, is daar ’n byna vreesagtige respek vir dié man as dokter in haar. Hy moet so na aan ’n perfekte medikus wees as wat ’n dokter kan kom, en weer kom die vraag in haar op: Wat soek só ’n man hiér?

Die hospitaal self is met die beste en modernste toegerus en dit bring natuurlik mee dat dit hom in staat stel om hier dieselfde operasie uit te voer as in enige ander goed toegeruste hospitaal in die hart van die beskawing. Oshakati is ’n betreklik nuwe projek, soos sy van hom op hul rondte verneem het.

Dit was een van die aanbevelings van die Odendaalkommissie dat ’n moderne hospitaal hier opgerig moes word, en dit is toe in 1966 voltooi en geopen deur die destydse administrateur van Suidwes, Wentzel C. du Plessis. In die begin is opgeleide personeel gewerf om die Ovambo’s eers te help tot tyd en wyl van hul eie mense opgelei is om self die verpleging waar te neem. Sedertdien is al hoe meer Ovambo-personeel aangestel, sodat die verpleegsters vandag uitsluitlik opgeleide Ovambo’s is. Die hospitaal is ’n belangrike opleidingsentrum vir Ovambo-verpleegsters – dis ook een van haar take, soos dokter Hoffmann uitgewys het, om lesings te gee.

Al hierdie en nog meer gegewens word haar meegedeel tydens die ronde. En wat haar nie vertel word nie, kom sy self agter. Sy het gehoor dat ’n ambulans-helikopter tot beskikking van die hospitaal is om noodgevalle duisende kilometers ver te gaan haal en met die minste tydverkwisting by die hospitaal te besorg. Wat haar natuurlik nie vertel is nie, maar wat sy opmerk, is dat die super­intendent van die hospitaal op Oshakati deur sowel pasiënte as personeel vereer en verafgod word, ondanks die bedenkinge wat hy in sy eie hart koester oor die lojaliteit en liefde van dié mense aan wie hy agt jaar van sy lewe en genialiteit geskenk het. Tot in hierdie stadium, altans, is daar een wit man in Ovamboland wat beslis diep spore in die hart van die Ovambo’s getrap het – dokter Louw Hoffmann.

Dat hierdie man iemand is met uiteenlopende en soms kontrasterende fasette in sy samestelling, vind Linda ’n rukkie later uit toe sy ’n motordeur hoor klap en terloops by die klein kantoortjie se venster uitkyk.

’n Land Rover, soos algemeen in hierdie wêreld gebruik word vir vervoer oor die swak en sanderige paaie, het voor die hoofingang stilgehou. Die persoon agter die stuurwiel klim nie uit nie, maar Linda kan duidelik die ligte hare en smal, langerige, mooi gesig sien. Sy kan ook sien dat die vrou of meisie nie grimering aanhet nie, maar dat haar klassieke gelaatstrekke geen hulp nodig het om pragtig te vertoon nie. Sy kan ’n growwerige hemp bokant die stuurwiel sien uitsteek waarvan die boonste twee knope ongeërg oopgeknoop is en ’n slanke hals blootlê vir enigeen wat wil kyk. Dat dr. Louw Hoffmann ook kan kyk as hy oë in sy kop het en dat daardie knope waarskynlik vir sy onthalwe oopgelaat is, kom Linda die volgende minuut agter.

Teen wil en dank voel sy hoe verbasing byna die oorhand oor haar kry toe sy sien dié man, wat oënskynlik so ’n hekel het aan al wat vroumens is, skuif met ’n breë glimlag langs die blondine in. Kan dit dieselfde man wees wat haar so met stille minagting en hooghartigheid bejeën het?

Nou toe nou! dink sy toe hulle in ’n stofwolk wegtrek. Die dokter is glad nie ’n vrouehater soos sy aanvanklik gedink het nie. Hy hou van blondines – beslis van een bepaalde blondine. Dis maar net dat hy nie van “vroumensdokters” hou nie, en beslis nie van die soort wat soos klein dogtertjies met kort bruin krulle en groot bruin oë lyk nie. Verder is hy blykbaar ’n doodnormale man en sy weet nie of sy daaroor bly of jammer moet voel nie. Sy voel amper effens teleurgesteld dat die byna volmaakte geneesheer ook menslike eien­skappe openbaar.

Sy dwing haar aandag terug na die pasiëntkaarte voor haar, maar dit gaan moeilik. Haar gedagtes dwing al om hul eie pad te volg, tot haar grootste ergernis. Geen wonder die man kon nie wag dat sy assistent darem eers behoorlik uitrus voordat sy ingespan word nie. Met so ’n blondine wat op ’n man wag, kan ’n mens hom seker nie te veel verkwalik dat hy nie verder gedink het nie. Wie sou sy wees en waarheen is hulle op pad?

Linda frons ergerlik en smyt die kaart in haar hand eenkant. Sy ruk soos sy skrik toe ’n laggie skuins agter haar opklink. ’n Groot man, grof gebou en ietwat ru geklee, staan haar hande in die sye en bekyk en lag haar openlik uit. Sy verskyning is so onverwags – sy het nie eens gehoor toe hy binnekom nie – dat sy hom net met groot bruin oë sit en aankyk. Hy kom stadig nader. “Goeienaand, dokter Maartens. Jy lyk nie juis ingenome met jou nuwe baas nie. Het julle dan al so gou stry gekry?”

Sy kyk die man fronsend aan. Sy hou nie van sy familiêre manier van praat nie, en nog minder daarvan dat hy blykbaar haar gedagtes en gesigsuitdrukking so reg vertolk het. Sy wonder ook waar kom hy aan haar naam. Sy het maar pas twee uur gelede op Oshakati aangekom. Haar stem en oë is koel.

“Goeienaand, meneer. Is daar iets wat ek vir u kan doen?”

Hy lag weer en gaan sit ewe tuis in ’n stoel, sy breërandhoed met die luiperdvelband oor sy knie gehaak.

“Toe nou! Toe nou! Dis nie nodig om jou humeur op my uit te haal omdat Hoffmann jou kwaad gemaak het nie. Ek het niks . . .”

“Meneer, ek weet nie waar kom u aan die dinge wat u sê nie, maar wat ook al die geval mag wees, dit het niks met u te make nie. As daar niks is waarmee ek kan help nie, moet u my asseblief verskoon. Ek is besig.”

“Hm.” Hy kyk haar peinsend, opsommend aan. “Parmantig, nè? Hoffmann sal nie daarvan hou nie.”

Sy is onbewus daarvan dat die man doelbewus Hoffmann se naam noem, net om die bruin oë weer te sien blits. ’n Oulike dingetjie, dink hy by homself. En ’n dingetjie wat hom handig te pas kan kom in die toekoms. Hy moet liewer ophou om haar te terg. Voordat sy iets kan kwytraak, vervolg hy vinnig, nou ernstig: “Maar laat ons nie oor Hoffmann gesels nie. As dit jou enigsins tot troos kan wees – ek kom ook nie met die man reg nie. Wat Laura aan hom sien . . . Ek het kom hulp soek. Sal jy my help?”

“In verband waarmee is dit?”

“ ’n Pasiënt, natuurlik. Daar was ’n klein . . . e . . . ongelukkie.”

Sy stoot haar ergerlikheid op die agtergrond en staan op. Dis waarvoor sy hier is – om te werk. Sy moenie toelaat dat ander dinge haar ontstel en haar verblyf hier onmoontlik maak nie.

“Waar is hy . . . of sy?”

“Hy is buite in my bakkie. Dit staan agter die gebou geparkeer. Ons kan daarheen stap.”

“Bring hom na die ongevalle-afdeling. Ek kry solank een van die nagsusters . . .”

Sy is op pad uit toe ’n groot hand om haar arm vou en haar terughou.

“Nee. Ek wil hê jy moet sommer saamstap bakkie toe. Ek verkies dat jy daar na hom kyk en doen wat daar te doene is.”

Sy kyk hom verbaas aan.

“Ek verstaan nie, meneer . . . Dis soveel makliker om die man in ongevalle te . . .”

“Ek weet, en as ek hom daar wou gehad het, sou ek hom daarheen gebring het. Maar ek wil hom nie in die hospitaal hê nie. As jy nie bereid is om na hom te kyk waar hy nou is en hom daar dokter nie, dan kan dit bly.” Toe sy hom net verward staan en aankyk, vervolg hy op ’n meer gemoedelike toon: “Ek en Hoffmann kan mekaar nie verdra nie. Ek wil nie van sy hospitaal gebruik maak nie. Daarom vra ek jou om uit te kom bakkie toe.”

“En wat as ek nie hier was nie? Ek het maar netnou hier aangekom? Na wie toe . . .?”

“Laura sou so goed sy kan gedokter het en die res aan die gode oorgelaat het. Kom jy of kom jy nie?”

Hy kyk haar strak aan en Linda se frons verdiep. Sy hou glad nie van die man se houding nie, maar dan gee sy maar toe. Hoe gouer sy van hom ontslae kan raak, hoe beter. Die bakkie staan agter die hospitaal getrek, ’n hele entjie daarvandaan en half agter ’n boom. Haar frons keer terug. Sy optrede is uiters kinderagtig, maar sy bly maar stil. Hy skakel ’n sterk flits aan toe hulle by die bakkie kom en sy ruk haar asem in.

“Liewe hemel, wat het hy oorgekom? Hy is omtrent verrinneweer!”

“Ek het jou gesê daar was ’n ongelukkie. Hy het voor ’n buffel beland. Dink jy jy kan iets vir hom doen?”

Sy klim vinnig agter op die bak en sidder weer. Dit lyk of stukke uit die liggaam hier voor haar geruk is. En dan noem hierdie man dit ’n ongelukkie!

“Ek moet hom dadelik in die hospitaal kry. Ek kan hom onmoontlik hiér behandel. Hy is besig om dood te bloei . . .”

“Buite die kwessie, dokter. Jy behandel hom net hier of jy laat staan.”

Haar oë blits in die lig van die flits na hom.

“Is jy besete? Ek het niks hier by my nie en . . .”

“Dan gaan haal jy wat jy nodig het en bring dit hierheen.”

“Maar ek moet hulp hê . . .”

“Ek sal jou help. Jy kan net sê wat ek moet doen.”

Sy trek haar regop en dit voel vir haar sy kan die groot man te lyf gaan. ’n Mens is besig om voor hul voete te sterf en hy staan en redeneer nog!

“Ek weier. Jy bring hom onmiddellik in hospitaal toe . . .”

“In daardie geval . . . tot siens, dokter. Jammer dat ek jou gepla het.”

Sy voel hoe sterk arms haar van die bak aftel en op die grond neersit.

“Wat . . . wat gaan jy doen? Waarheen gaan jy?”

“Ek gaan terug huis toe. Goeienag.”

“Maar wat van . . .?”

“Hy gaan sterf, soos jy self weet. Jy wil hom nie help nie. Wat kan ek verder doen?”

Die onregverdigheid van hierdie aantyging tref haar soos ’n hou tussen die oë. Maar weer is sy verplig om persoonlike gevoelens op die agtergrond te skuif. ’n Mens is besig om hom dood te bloei.

“Ek sal die goed gaan haal. Wag hier en draai solank ’n klemverband om daardie been.”

“Waarmee?”

“Skeur jou hemp stukkend as jy niks anders het nie.”

Sy is binne rekordtyd terug en vir die volgende driekwartier word daar nie veel gepraat nie. Sy is bebloed en besweet toe sy eindelik agteroorsit en na haar handewerk kyk. Dis die beste wat sy kan doen in die omstandighede. As sy hom net in die operasiesaal kon kry, sou sy haar soveel beter van haar taak kon gekwyt het.

“Dankie. Dink jy hy sal oorleef? Hy’s een van my beste manne.”

Linda kyk moeg na hom op, haar oë veroordelend.

“Hy sou ’n vyftig persent beter kans gehad het as ek hom in die hospitaal kon behandel het en daar kon hou.”

Hy kyk kalm terug in die lig van die flits.

“Hy sal maar sonder daardie vyftig persent moet klaarkom. Dankie, dokter Maartens. Eendag rol ek weer vir jou ’n klip uit die pad. Kom. Ek sal saam terugstap.”

Hy neem die dokterstas by haar en hulle begin aanstap in die soel somernag. Vreemde diergeluide klink uit die verte op . . . klaend . . . in hierdie aanduur selfs vreesaanjaend vir die dametjie wat net die polsende geraas van ’n groot stad ken.

Sy vra kortaf, om haar aandag daarvan af te trek: “Hoe het dit gebeur dat hy voor ’n buffel beland het? Vir my lyk dit eerder asof hy uitmekaar geskiet is.”

Sy merk nie sy vinnige, sydelingse blik nie. Sy stem en verduideliking klink egter aanneemlik toe hy antwoord: “Ek is ’n grootwildjagter. Dit was ’n gekweste buffel wat ons probeer opspoor het. Die dier het ons onkant betrap en was reeds bo-op ons toe ons hom gewaar. Hier is jou tas. Dankie, dokter, en . . . terloops, laat hierdie voorval van vanaand maar tussen ons twee bly, hoor? Hoffmann hoef nie te weet nie. Goed?”

“Nee, ek sal hom liewer nie hiervan vertel nie, want hy sal mý uitkryt, nie vir jou nie. Nag, meneer, en onthou, dis die eerste maar die laaste maal.”

“Dankie, nogmaals, meisie. Jy is ’n dokter uit een stuk, wat jou hoof ook al mag dink en sê.”

Sy ignoreer dit liewer.

“Kom binne. Ek wil vir jou pille vir die man gee om infeksie te keer.” In die apteek van die hospitaal hou sy haar doenig by die rak en probeer nie te bewus wees van die man wat haar staan en dophou nie. Tog kan sy haar nuuskierigheid nie bedwing nie. “Waar kom jy daaraan dat ek en dokter Hoffmann reeds woorde gehad het en dat hy nie juis ’n hoë dunk van my het nie?”

“Die uitdrukking op jou gesiggie toe jy hom agterna staan en kyk het, was duidelik genoeg. En ek weet sommer hy sal dit verpes dat ’n vrou sy assistent moet wees. Daardie man het ’n allergie vir die teenoorgestelde geslag.”

“O?” sy hoop haar stem klink nie te nuuskierig nie. “Ek sou dít nie sê nie. Of die blondine is die uitsondering. Hy het nie juis allergies vir háár gelyk nie.”

Sy diep lag klink op en hy knik sy kop terwyl hy die pille van haar neem.

“Dankie. Nee. Die blondine is sover ek weet die enigste van jou geslag met wie hy oor die weg kom. Maar dan . . . Laura is ’n besonderse vrou.”

Linda kyk op, haar stem droog.

“Ja. Dit kon ek sien. Wel, daar is die pille. Ek het op die etiket geskryf hoe dit gegee moet word.”

Hy bedank haar weer en by die deur draai hy terug na haar.

“Ek het jou belofte dat Hoffmann niks van vanaand te hore sal kom nie?”

Sy knik net en hy stap uit. Sy bly peinsend staan. Hoekom dring die man so daarop aan dat dokter Hoffmann nie van vanaand se gebeure kennis moet dra nie? Sy is op pad deur toe toe sy kop weer om die kosyn verskyn.

“Ja, ek het amper vergeet . . . Ek is Garth Jackson . . . en die blondine is my suster. Goeienag.”

Toe Linda in die kantoor terug is, sien sy haar aandete eenkant toegemaak staan. Sonder veel eetlus lig sy die deksel op. Die kos is goed voorberei en aantreklik voorgesit, maar sedert ’n paar maande gelede moet sy haarself dwing om te eet. Vanaand ook, met so baie vreemde gedagtes en indrukke om haar besig te hou, peusel sy maar net.

Daar is ’n ligte frons tussen haar wenkbroue terwyl sy aan die aand se vreemde gebeure dink. Garth Jackson se optrede is baie vreemd. Sy kan nie aanvaar dat die antagonisme tussen hom en dokter Hoffmann die enigste rede is dat hy so summier geweier het om die beseerde Ovambo in die hospitaal te laat behandel nie. Dis tog nie dokter Hoffmann se hospitaal nie. Daar móét ’n dieperliggende rede agter sy houding skuil.

Sy kwel haar ook oor die beseerde Ovambo. Noudat sy met meer nugterheid aan sy beserings kan terugdink, is sy daarvan oortuig dit was nie ’n buffel wat daardie vreeslike wonde en verminking veroorsaak het nie. Sy weet niks van wilde diere af nie, maar Garth Jackson se verduideliking klink nie meer vir haar aanvaarbaar nie. Is dít miskien waarom hy gewag het tot dokter Hoffmann met sy suster verdwyn voordat hy die Ovambo na die hospitaal gebring het, wetende dat sy makliker om die bos gelei sou kan word as die superintendent? Is dít ook die rede dat hy nie eens wou toelaat dat een van die susters haar help nie, geweier het dat die pasiënt na die ongevalle-afdeling geneem word? En sy herhaaldelike versoek, eintlik bevel, dat dokter Hoffmann niks van vanaand moet weet nie, wek haar agterdog verder.

Sy sug en staan op. Wat die werklike storie ook al is, dit kan haar nie raak nie, troos sy haarself, min wetend dat sy haar reeds in ’n web van intrige en lewensgevaar laat intrek het die oomblik toe sy ingewillig het om die beseerde Ovambo te behandel. Sy weet nie dat sy reeds binne ’n paar uur ná haar aankoms op Oshakati ’n belangrike skakel in ’n ketting geword het nie – in die nabye toekoms ’n byna onontbeerlike skakel.

Nadat sy van die nagsusters van die verskillende afdelings verneem het dat alles onder beheer is, gaan sy na haar woonstel en trek uit. Sy is die hele nag op diens, maar dis nie nodig dat sy heelnag regop moet sit nie. Indien iemand haar nodig kry, sal sy ontbied word. Haar kop raak skaars kussing of sy is weg in droomland, vir die eerste keer in maande in ’n nagmerrielose slaap versink.

Die nag lê wyd en uitgestrek en stil toe die Land Rover met die stofpad aankom. Dis eers toe die voertuig verby is en in die rigting verdwyn waar Oshakati se liggies in die verte blink dat hy die bakkie aanskakel, agter die bultjie uitstoot en die wiele weer in die pad swaai. Daar speel ’n glimlag om Garth Jackson se lippe. Wat ’n genade dat Hoffmann se nuwe assistente juis vandag op Oshakati aangekom het. Dis ’n nog groter genade dat die assistente ’n jong meisie is met ’n sagte hart en ’n groot bewustheid van die Hippokratiese eed wat sy afgelê het, en ’n derde genade dat sy hierdie wêreld en sy omstandighede nie ken en van buffels niks af weet nie. Louw Hoffmann dink sy gaan nie vir hom van veel waarde wees op Oshakati nie, maar daar is beslis ander mense hier wat die nuwe, jong dokter Linda Maartens van onskatbare waarde gaan vind – reeds gevind het.

Onrus op Oshakati

Подняться наверх