Читать книгу Onrus op Oshakati - Ena Murray - Страница 5
3
ОглавлениеLinda word daardie nag net drie keer in haar slaap gesteur – ’n besonder stil nag vir Oshakati, volgens een van die nagsusters. Sy voel ’n ander mens toe sy die volgende oggend die kantoor binnestap. Hoe laat haar hoof van sy blonde godin af tuis gekom het, weet sy nie. Hy lyk in elk geval ook fris en uitgerus, gereed vir die dagtaak.
Dis ’n vol dagtaak. Eerste op die lys is vyf operasies. Maar voordat hulle hulle na die operasiesaal begeef, word die saalrondes afgehandel.
Soos die vorige dag voel Linda ’n onwillekeurige bewondering vir haar nuwe hoof terwyl hulle van bed tot bed beweeg. Hy ken elkeen, weet presies wat sy ongesteldheid en vordering is, watter behandeling tot dusver toegepas is en twyfel vir geen oomblik aan die verdere behandeling nie.
Maar benewens die feit dat hy meester van sy vak is, leer sy ook nog ’n ander faset van hierdie man ken. Hy is meer as net ’n dokter vir hierdie mense. Hoewel ’n druk program op hom wag, luister hy geduldig en belangstellend na wat sy pasiënte hom te vertel het oor dinge wat niks met hul siektetoestand te doen het nie. Hy gee raad waar daar raad gevra word oor huislike probleme, luister simpatiek as daar van die een of ander skade of sterfgeval in die familie vertel word. Dis ’n ander mens wat Linda só leer ken – warm, menslik, heeltemal die teenoorgestelde van die man met wie sy tot dusver te doen gekry het.
Toe hulle terugkom in die kantoor, besef sy terdeë dat daardie deel van sy persoonlikheid vir ander mense gereserveer is – die pasiënte en ’n sekere blondine – en dat sý met die ander kant te doen sal kry.
Ook nou, terwyl hulle vlugtig die operasiekaart deurkyk, is daar ’n frons tussen sy wenkbroue toe hy na haar opkyk. Blykbaar is daar maar net iets in haar gesig waarvan hy nie hou nie, dink sy met wrange humor. Sy sal maar aan daardie frons tussen sy oë gewoond moet raak sodra sy skerp blik op sy assistente val. Hoe gouer sy leer om dit nie ter harte te neem nie, hoe beter.
“Weet jy iets van narkose af?” is sy kortaf vraag, en Linda voel hoe sy onwillekeurig verstyf. Die manier waarop hy die vraag stel, laat dit klink asof hy wonder of sy ooit weet wat vir ’n ding narkose is! Werklik, die man . . . Dan bedwing sy haar humeur en kyk ewe koel terug. Dr. Hoffmann doen blykbaar sy uiterste bes om die lewe vir haar op Oshakati so onsmaaklik te maak dat sy die aftog moet blaas.
Wel, laat hom maar probeer. Hoekom hy van haar ontslae wil raak, sal net hy alleen weet. Hy behoort die Vader te dank dat hy eindelik iemand gekry het om te help, al is dit ’n veragtelike vroumens, maar blykbaar verkies hy om alleen en sonder hulp aan te sukkel eerder as om haar as assistente te hê. Wat sy gesondig het, weet sy nie, maar hy gaan nie so maklik van haar ontslae raak nie.
Haar antwoord is bedees en onderdanig toe sy laat hoor: “Nie veel nie. Ek weet net dis iets wat ’n mens vir ’n pasiënt gee voordat jy aan hom begin opereer.”
Natuurlik verdiep die frons en sy sien die spikkels in sy groen oë flits.
“Dis nie wat ek bedoel het nie, dokter!”
“Nie? O! Ek is jammer, maar u vraag was nie baie duidelik gestel nie. Wat presies wil u weet?”
Sy sien die lippe ferm opmekaar sluit asof hy, nes sy, teuels aan sy humeur moet sit, en binnekant kry sy ’n ligte rilling van lekkerte. Hoe gouer hierdie man besef hy gaan haar nie domineer nie, hoe beter. Sy is bereid om hom al die respek te gee wat ’n assistent haar hoof verskuldig is, maar sy gaan hom nie toelaat om haar te kleineer of te beledig of hier weg te dryf nie. Want vanoggend, voordat sy opgestaan het, het sy lank en ernstig gedink en besluit dat Oshakati haar ideaal pas.
Haar oë was somber voor haar op die muur gerig en sy het gewag dat die ou gevoelens van vernedering en ontnugtering en verbittering weer in haar moes opstu. Dit het – maar nie so intens soos altyd nie. Dit was amper asof ’n deel van daardie gevoelens in Kaapstad agtergebly het. Dit was meteens minder fel. En toe het sy besef haar instink – of was dit ’n hoër Wil? – het haar na Oshakati gelei. Oshakati was ’n blindelingse keuse, maar op daardie oomblik kon sy die Vader dank dat sy hierheen gekom het. Want hier is sy veilig. Dit is die belangrikste. Niemand hier op Oshakati weet iets van haar af nie. Die een wat die waarskynlikste kon geweet het, is dr. Hoffmann, en hy het nog geen teken getoon dat hy haar herken het of bewus is van die feit dat sy naelskraap ’n tronkvonnis vrygespring het nie. Indien hy die vaagste vermoede gehad het hoekom sy tot hier op Oshakati gejaag is, soos hy dit gestel het, sou hy seker nie geaarsel het om haar summier die pad te wys nie. Nee, die man het geen idee wie en wat sy assistent is nie, en solank dit so bly, is sy veilig hier. Hy hou nie van haar nie. Dis baie duidelik. Maar daarmee sal sy maar moet leer om saam te lewe. Solank sy net sorg dat sy haar werk onberispelik doen, mag hy haar nie wegjaag nie.
Toe hy eindelik weer praat, is dit nie om weer oor haar kennis van narkose uit te vra nie.
“Ek wil graag weet hoe lank u van plan is om hier te bly, dokter Maartens?”
Sy kyk hom ’n oomblik stil aan. Dan trek haar lippe ook ferm saam. “So lank dit my pas, en op die oomblik pas Oshakati my uitstekend.”
’n Geamuseerde laggie klink vanuit die deur op. Garth Jackson staan in die deur, weer in dieselfde ruwe bosklere, die breërandhoed in die een hand, die ander hand teen die kosyn gestut.
Sy blik ontmoet ’n oomblik die ontstoke paar bruin oë. Dan kyk hy na die ewe kwaai groenes. Sy wenkbroue gaan omhoog, en die glimlaggie om sy lippe is ietwat tartend.
“As ek geweet het jou nuwe assistent lyk só, was ek al gisteraand hier. Wel, gaan jy my nie voorstel nie?”
Hy kom nader en Louw Hoffman kan niks anders doen as om hulle voor te stel nie, hoewel duidelik teen sy sin.
Garth Jackson ignoreer egter sy bot houding en hou sy hand na Linda uit, en dié kan niks anders doen as om dit te neem nie. Sy oë lag in hare af.
“Aangenaam, dokter Maartens. Baie, baie aangenaam. Jy moet jou nie deur Louw laat ontstel nie. Agt jaar in die boendoe maak ’n mens maar so ’n bietjie eksentriek.”
Linda kan die antagonisme tussen die twee mans met ’n stok aanvoel en sy kyk vlugtig na Louw. Dié ignoreer die besoeker se aanmerking met hooghartige meerderwaardigheid, begin aanstap na die deur en sê kortaf, bevelend: “Ek wil u oor tien minute in die operasiesaal hê, dokter.”
Dan is hy by die deur uit en weer klink Garth se laggie op. Sy voel selfbewus onder sy goedkeurende blik. Die man is vriendelik, maar tog hou sy nie van hom nie. Dis vreemd. Eintlik behoort sy dankbaar te wees dat daar iemand is wie se goedkeuring sy wegdra.
Hy het netnou voorgegee dat hulle mekaar vir die eerste keer sien. Selfs plegtig haar hand geskud met die bekendstelling. Dat die antagonisme tussen hom en Louw Hoffmann aan vyandigheid grens, is duidelik. Wat is tussen hierdie twee mans aan die gang? Tog hou haar hoof baie van hierdie man se suster. Volgens haar broer is sy die enigste meisie aan wie hy aandag gee. Maar dat hy die broer nie kan verdra nie, is baie duidelik – net soos hy haar, om die een of ander rede, ook nie onder sy oë kan veel nie.
“Dankie.”
“Dankie waarvoor?”
“Dat jy my nie aan Louw verraai het nie. Jy het woord gehou. Ek en jy sal baie goed regkom. Ek weet dit sommer. Ek wil graag met jou gesels . . .”
“Ek het nie nou tyd nie. Jy het gehoor ek moet oor ’n paar minute in die operasiesaal wees,” sê sy vinnig, haastig om van hom ontslae te raak, en probeer die gesprek in ’n ander rigting stuur. Sy voel glad nie lus om met hierdie man te gesels nie. “Hoe gaan dit met . . . die pasiënt?”
“Hy leef nog. Luister . . .”
“U moet my asseblief verskoon, meneer Jackson. Ek het werk om te doen.”
Sy wil by hom verbystap, maar hy hou haar terug, sy oë meteens ernstig.
“Ek wil graag hê ons moet vriende wees . . . e . . . Wat is jou naam?”
“Linda. Maar . . .”
“My naam is Garth, soos ek reeds gesê het. Ek dink jy sal ’n vriend op Oshakati nodig hê, Linda. Louw Hoffmann is nie ’n maklike mens om mee klaar te kom of saam te werk nie. Hy dra ’n wrok teen die lewe en hy gaan dit op jou uithaal, as my afleidings korrek is. Ek sal graag jou vriend wil wees.”
Sy bedwing haar ongeduld. Die man bedoel dit seker goed, en miskien het hy gelyk. Louw Hoffmann ís besig om die lewe vir haar onaangenaam te maak. Sy sal miskien iemand se vriendskap hier nodig hê. Sy dwing ’n glimlag na haar lippe.
“Baie dankie, Garth. Ons kan later daaroor gesels. Maar op die oomblik . . .”
Hy glimlag en gee haar arm ’n drukkie.
“Gaaf. Ons sal weer die een of ander tyd vandag hier uitslaan. Dan kan ons verder praat.”
Hy kyk haar netjiese gestaltetjie agterna toe sy die gang afstap in die rigting van die operasiesaal, waar haar hoof reeds op haar wag. Die lig in sy oë is ingenome, tevrede. Hy is bly dat sy so haar man teen die moeilike en buierige Louw Hoffmann staan. Sy sal haar nie so maklik hier laat verwilder nie, en so ’n meisie het hy nodig . . . iemand wat haar nie maklik laat afskrik nie.
In die operasiesaal gekom, wag daar nog ’n skok op Linda. Louw Hoffmann is reeds besig om te skrop vir die eerste operasie. En langs hom, by die tweede wasbak, staan die blonde godin, ook besig om met ervare bewegings haar hande en voorarms tot by die elmboë met die sagte borsel te skrop. Albei het reeds die groen operasieklere aan, en hoewel die meisie se hare en die onderkant van haar gesig met die steriele groen masker en kopdoek bedek is, herken Linda haar dadelik.
Die man kyk op en gewaar haar waar sy onseker in die middel van die teater staan. Onmiddellik trek sy wenkbroue weer saam.
“Ons is byna gereed, dokter. Maak gou.” Hy gee van die wasbak af pad en hou sy hande uit na die Ovambo-verpleegster wat gereed staan om vir hom die steriele handskoene aan te trek. Sonder ’n woord skuif Linda langs die blonde godin in en begin skrop. Sy voel die blou oë wat haar takserend beskou en kyk op. Sy besef nie dat haar eie blik koel en ondersoekend is nie.
Agter haar hoor sy haar baas kortaf sê: “Suster Jackson – dokter Maartens. Suster Jackson is my regterhand in die operasiesaal, dokter. Sy weet omtrent net soveel van operasies af as ek self. Ek weet nie wat ek sonder haar sou gedoen het die afgelope ses maande nie.”
Linda knik net styf en sien hoe die blou oë hul koelheid bokant die masker verloor toe die “regterhand” antwoord: “Jy oordryf, Louw. Ek is nietemin dankbaar dat ek tot hulp kan wees.” Die blik rus weer op Linda en sy sê gemaak vriendelik: “Ek kom net vir operasies in. Die Ovambo-suster het nog baie te leer en Louw is natuurlik ’n perfeksionis – soos jy self sal uitvind.”
Linda gaan swyend voort met die skroppery en wonder of die meisie maar net probeer vriendelik wees en haar wil waarsku omdat sy ’n nuweling is – en of, soos dit vir haar geklink het, haar woorde eerder ’n bedekte dreigement inhou. Daar is egter nie tyd om hieroor te tob nie, want die pasiënt word reeds op die operasietafel getel en daar is ’n swyende bevel in Louw Hoffmann se oë dat sy nader moet staan.
Gedurende die volgende paar uur wonder Linda telkens waaroor sy na die operasiesaal ontbied is. Sy voel soos ’n vyfde wiel aan die wa, en sy is dit ook. Hoewel sy aangesê is om van die apparate dop te hou, weet sy nie hoekom nie, want sowel die chirurg as sy operasiesuster kyk telkens daarheen soos hulle hulself vergewis dat alles wel is, al doen die nuwe assistent verslag dat alles vlot verloop. Verder kan sy maar net staan en toekyk hoe Louw Hoffmann en Laura Jackson as ’n briljante span saamwerk. Watter persoonlike gevoelens daar ook al in haar ontketen is, as dokter moet sy hierdie twee mense bewonder. Hulle verstaan mekaar volkome, en Louw het nie nodig om een keer na ’n betrokke instrument te vra nie. Dis of Laura Jackson presies weet wat hy verlang.
Linda besef dat sy na ’n meester in sy vak staan en kyk. Louw Hoffmann se vingers is seker, kalm, doelgerig. Hy weet wat hy wil en moet doen en voer dit uit. En langs hom, soos ’n tweede brein wat ook deur hom beheer word en uit ’n gesamentlike kennisbron put, reageer sy helper meganies.
Toe die laaste pasiënt na die saal teruggestoot word, stroop die chirurg sy masker af en glimlag dankbaar.
“Dankie, Laura.”
Sy haal die masker en kopdoek af en skud haar kop sodat die blonde hare weer tot by haar skouers val en glimlag terug.
“ ’n Plesier, Louw.”
Linda draai stil om en begin ook haar operasiedrag uittrek, wat nog net so skoon is soos sy dit aangetrek het. Sy volg hulle tot in die kantoor, waar tee op hulle wag. Asof dit haar reg is en sy daaraan gewoond is, stap Laura dadelik na die tafeltjie en begin inskink.
Linda hou haar dop. Laura Jackson is nie wat ’n mens sal noem mooi nie. Daar is eerder ’n soort dierlike aantreklikheid omtrent haar, wat beklemtoon word deur ’n lang, lenige liggaam en die growwe broek en hemp wat sy dra. Sy en haar broer het blykbaar albei ’n voorliefde vir dié soort bosklere. Die goue hare hang tot by die skouers, maar met ’n natuurlike karteling. Die gesig is skoon van enige grimering, behalwe vir ’n baie ligte lipstiffie. Sy is bruingebrand en lyk baie fiks en gesond. Weer, soos die vorige aand, is die boonste twee knope van die hemp oop en sorg dit vir ’n glimp van vroulike rondings wat afdein na die heupe, wat deur die stywe broek beklemtoon word. Sy het kapstewels aan, geen juwele nie. Die amper mansagtige drag bring die vroulikheid in haar na vore eerder as om dit te verberg. ’n Besonderse meisie, het haar broer haar genoem. Linda stem saam. ’n Meisie wat beslis indruk maak en selfs deur die harnas van Louw Hoffmann kon dring.
Sy sit en luister swyend na die gesprek. Hulle gesels gemoedelik en dit lyk amper asof hulle van haar teenwoordigheid vergeet het. As stille toehoorder raak Linda nog meer wys oor hierdie blonde godin – soos sy haar in haar gedagtes gedoop het. Dat sy ’n vrou met vele bekwaamhede is, is nie altemit nie. Benewens die feit dat sy ’n besonder goeie suster is wat uit suiwer naasteliefde – of is dit liefde vir die chirurg? – haar diens gratis aan die hospitaal bied vir operasies, is sy ’n puik beesboer. Sy is maar die een wat eintlik die boer is, hoor Linda terloops. Garth is meestal weg op safari of om grootwild te jag. Wat sy nie van ’n bees af weet nie, is nie die moeite werd nie. Verder is sy ’n strawwe mededinger vir haar broer as dit by die skiet van grootwild kom. Daar is baie mans wat sy as skut die loef sal afsteek. Sy is ook bekwaam in die kombuis, kom dit voor, te oordeel na die tert wat sy saamgebring het om by die tee te geniet. Laura Jackson is, alles in ag genome, dus so na aan volmaak as wat Louw Hoffmann is, dink Linda wrang. Geen wonder dat dié twee so goed klaarkom en dat sy die enigste meisie is in wie Louw Hoffmann belangstel nie.
Sy voel amper bly om Garth skielik in die kantoordeur te sien verskyn. Sy het al so klein begin krimp in die teenwoordigheid van die bekwame Laura dat sy seker is sy sal ná dese aan chroniese minderwaardigheid ly. Haar glimlag vir die grootwildjagter is onnodig breed verwelkomend en dit kan haar nie skeel dat Louw Hoffmann se oë ’n oomblik fronsend op haar rus nie.
“Ek wil net gou ’n paar mediese joernale by Louw kry, Garth, dan kan ons maar ry. Ek stap sommer saam na jou woonstel, Louw,” laat Laura hoor en verdwyn dan saam met hom by die deur uit.
Garth sak op die stoel neer en sy oë bestudeer Linda se sedige gesiggie.
“Wat skort? Jy het openlik verlig gelyk om my te sien. Was jy en Hoffmann weer aan die stry?” vra hy reguit en ontvang ’n koppie tee van haar.
Sy skud haar kop en gooi vir haar ook nog ’n koppie in.
“Nee. Dis net . . . Jou suster is ’n baie bekwame mens, nè? Dit lyk my daar is omtrent niks wat sy nie kan doen nie, van ’n regterhand by ’n operasie wees tot leeus skiet.”
Hy lag hartlik, sy oë vonkelend.
“O! Ek begryp. Laura het jou ’n lesing gegee oor al haar talente! Sy is ’n baie bekwame mens, maar moenie dat dit jou ontstel nie. Jy het weer ander talente wat sy nie het nie.”
Linda kyk op. Sy het ook nogal gedink dat sy nie heeltemal onbekwaam en talentloos is nie, maar sedert ’n paar minute gelede twyfel sy daaraan. In vergelyking met Laura Jackson is sy maar ’n bra onbeholpe en hulpelose soort mens.
“Hoekom sal dit my ontstel? Wat die talente aangaan. . .” Sy glimlag half treurig. “Dit kom my voor of ek meer in die pad is hier as wat ek tot enige hulp sal wees. Tussen dokter Hoffmann en jou suster . . .”
Hy kyk haar liggies fronsend aan.
“Moenie verspot wees nie, Linda. En moenie dat Hoffmann en Laura se bekwaamhede jou versmoor nie. Hoffmann hou blykbaar van die soort vrou wat my suster is. Ek verkies weer ’n minder bekwame en volmaakte vrou. Ook maar goed smaak verskil. Ek hou nie van ’n vrou wat alles kan doen nie. Ek is byvoorbeeld nooit bekommerd oor Laura wanneer ek weg is op jag of safari nie. Ek weet sy kan haarself verdedig en na haarself omsien, beter as wat ek dit kan doen. Wel, Louw Hoffmann hou blykbaar van so ’n vrou. Ek nie. As ek eendag trou, wil ek iemand hê wat na my opsien en vir wie ek moet beskerm . . . iemand soos jy.”
Sy roer ongemaklik. Die gesprek het te ernstig geraak na haar smaak en sy hou niks daarvan dat sy gesig meteens so ernstig geword het en hy haar so diep in die oë kyk nie. Die een ding waarby sy beslis nie weer betrokke wil raak nie, is ’n verhouding met ’n man. Sy het een maal haar kop gestamp en toegelaat dat sy deur ’n man se vleitaal en gladde praatjies om die bos gelei word. Nie meer nie. Sy het geen romantiese aspirasies vir die toekoms nie, en beslis nie op Oshakati nie. Sy het hierheen gekom om alles te vergeet en vir haar ’n nuwe toekoms te bou, en in daardie nuwe toekoms gaan geen man ’n plek kry nie.
Hy staan op.
“Stap saam met my. Ek wil met jou praat.” Sy volg gedwee, en toe hulle langs die Land Rover tot stilstand kom, vervolg hy: “Linda, ek is al weer verleë. Wil jy nie asseblief vir my ’n klompie eerstehulp- en verdowingsmiddels laat kry nie? Ek vertrek volgende week op ’n jagtog en ek het die goed nodig. Jy het self gesien hoe skielik kan ’n ongeluk gebeur.”
Sy kyk hom stip aan. Iets trek styf binne-in haar en sy hoop maar hy kom nie agter dat hy haar met sy versoek ontstel het nie.
“Jy sal dit vir dokter Hoffmann moet vra. Hy is die baas hier.”
“Hy sal dit nie vir my gee nie. Jy sien mos self die man kan my nie verdra nie. Hy verduur my ter wille van Laura, maar dis al. Jy is tog ook ’n dokter hier. Jy kan tog seker van die goed bekom?”
Linda frons hewig en kyk weg. Weer is dit of iets haar intuïtief waarsku teen hierdie man, hoewel sy dit nie kan begryp nie. Sy versoek is tog heeltemal normaal. Sy verduideliking hoekom hy die goed wil hê, is heeltemal aanneemlik. Dis heeltemal verstaanbaar en net verstandig as ’n mens op ’n jagtog gaan dat jy sorg dat daar eerstehulpmiddels en so aan onder die voorrade is.
Maar sy hou nie van sy gunsvraery nie. Dis nou die tweede keer binne ’n kort tydjie. Gisteraand was dit die beseerde Ovambo. Vandag is dit weer verdowingsmiddels. En in albei gevalle moes sy in die geheim optree. Sy hou nie daarvan nie en sê dit ook.
“Dis byna onmoontlik dat ek sulke voorrade uit die apteek kan verwyder sonder dat dokter Hoffmann daarvan uitvind, Garth. Veral van verdowingsmiddels word streng voorraad gehou en aantekeninge gemaak. Nee, ek is bevrees . . .”
“Ag, jy sal darem seker die boeke so kan dokter dat hy niks agterkom nie? Asseblief, Linda. Hier is ’n lys wat ek nodig het.” Hy oorhandig vinnig ’n stukkie wit papier aan haar en sorg dat sy rug na die gebou gekeer is, sy oë pleitend. “Dink net hoeveel ek daardie Ovambo sou kon gehelp het. Ek sou sy pyn draaglik kon gemaak het as ek ’n bietjie voorraad by my gehad het. Dis net menslik om dit vir my te laat kry. Ek belowe jou ek aanvaar volle verantwoordelikheid as jy in die moeilikheid mag kom. Toe. Asseblief!”
Sy aarsel nog. As dit enigiets anders was, maar verdowingsmiddels . . . Sy probeer nog wegskram.
“Ek sal self vir dokter Hoffmann vra . . .”
“Nee! Jy weet so goed soos ek dat hy dit nie vir jou sal gee nie. Hy het blykbaar net so min ooghare vir jou as vir my. Asseblief, Linda,” pleit hy opnuut en dringend toe die ander twee hul verskyning maak en in die rigting van die Land Rover aangestap kom.
Linda kan nie verder weerstand bied nie en sê dan gedemp, en duidelik gespanne: “Nou goed. Ek sal kyk wat ek kan doen.”
Sy glip die lysie in haar sak en Garth lê sy hand ’n oomblik dankbaar en liefkosend op haar bruin hare. Dan is die ander twee by en Laura laat vriendelik hoor: “Ek het vir Louw gesê julle moet môreaand by ons kom eet. Die hospitaal kan darem so ’n rukkie sonder julle klaarkom.”
“Dankie, suster Jackson.”
“Ag, noem my gerus Laura. Ons is te min hier op Oshakati om formeel met mekaar te wees. Nou goed. Ons sien julle môreaand – as daar nie onverwagse operasies voor daardie tyd opduik nie.”
“Tot siens, Linda, Hoffmann. Sien julle môreaand, en dankie vir die tee, Linda.”
Hulle vertrek in ’n stofwolk en Linda wil terugdraai hospitaal toe, maar dan ontmoet sy Louw Hoffmann se fronsende blik. Móét die man altyd frons wanneer hy na my kyk? dink sy selfbewus.
“Dokter, ek het natuurlik niks met jou private lewe uit te waai nie, maar selfs op Oshakati is dit verstandig om mense maar eers ’n bietjie beter te leer ken en goed deur te kyk voordat jy besluit of jy van hulle hou of nie.”
Sy vererg haar onmiddellik. Watter reg het hy om so iets vir haar te sê?
“Dis net so ’n goeie lewensfilosofie om altyd te doen wat jy predik, dokter Hoffmann. Dit help nie om te preek en dan net die teenoorgestelde te doen nie. Dan dra dit geen krag nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Net wat ek sê. Jy het van die eerste oomblik af dat jy jou oë op my gelê het, besluit jy hou nie van my nie. Jy het my nog geen kans gegee om te bewys waartoe ek in staat is nie. Ek is nog nie eens ’n volle dag hier nie en jy het my klaar gevra wanneer ek weer weggaan.” Sy sien hoe sy gesig verstrak en vervolg heftig, sonder dat sy weet hoekom sy so ontsteld is: “Die een hou van die broer, die ander van die suster. Wat is die verskil?”
Hy frons onheilspellend.
“Ek weet waarvan ek praat, dokter. Ek ken hierdie mense langer as jy. Ek dink nie jy moet die vriendskap met Garth Jackson te veel aanmoedig nie.”
Juis omdat sy eintlik met hom saamstem, reeds ’n teësin in Garth ontwikkel het, maak sy stelling haar meer opstandig. Wat gaan dit hierdie man aan of sy van Garth Jackson hou of nie?
“Ek sou eerder sê dat die suster iemand is wat liewers eers goed deurgekyk moet word. Garth kom onskuldig genoeg voor vir my.”
“Wat bedoel jy?”
“Net dat ek nie volmaakte mense vertrou nie, dokter Hoffmann. Êrens is daar altyd ’n groot skroef los as ’n mens so na aan volmaak is.”
Sy stap met ’n stywe rug terug na die hospitaal, bewus daarvan dat die superintendent haar met priemende oë agterna kyk.
In die Land Rover kyk suster en broer mekaar aan nadat hulle Oshakati agtergelaat het.
“Wel?”
“Sy het beloof om te kyk wat sy kan doen. Sy was eers baie onwillig, maar ek dink tog ek sal die goed uit haar kry.”
Laura frons en kyk stip deur die voorruit, haar stem byna streng, met ’n klank daarin wat haar broer aan ’n styf gespanne staaldraad laat dink, ’n klank wat Louw Hoffmann nog nooit gehoor het nie. “Jy kan nie sonder daardie goed gaan nie. Jy móét dit kry.”
Haar broer knik en sy hande span stywer om die stuurwiel, sy mond vasberade.
“Ek sal dit kry. Ek weet hoe om met haar te werk. Ek is besig om haar mak te maak. Sy het my reeds ’n groot guns bewys en sy het maar gister eers hier aangekom. Maar gee kans. ’n Oorhaastige hond verbrand sy mond.”
Sy suster se oë flits in sy rigting. “Ja, en ’n stadige hond verloor sy prooi.”