Читать книгу Tahiti, verre land - Ena Murray - Страница 3
1
ОглавлениеMatrone Christa Olivier glimlag vriendelik. “Ek is bly jy het so gou op my oproep gereageer, Weda. Die sakie waaroor ek met jou wil gesels, is eintlik baie dringend. Sit gerus, dan kan ons die besonderhede bespreek.”
Weda neem gehoorsaam plaas terwyl sy nuuskierig wonder waaroor haar eertydse matrone haar so dringend wil spreek. Dalk oor ’n betrekking? Gedurende die maande dat sy na haar pa omgesien het, het sy en matrone Olivier kontak behou, want dit was vir die ouer vrou ’n groot teleurstelling toe Weda verplig was om haar beroep prys te gee pas nadat sy as operasiesuster gekwalifiseer het.
Maar albei het besef dat sy niks anders kon doen nie. Plig het geroep. Sy het haar verpleegstersuniform uitgetrek en haar pa agt maande lank pligsgetrou verpleeg totdat hy drie weke gelede eindelik uit sy lyding verlos is.
Die gryskopvrou in die netjiese blou uniform is iemand wat nie doekies omdraai nie. “Weda, hoe sal jy daarvan hou om, voordat jy weer hier by ons in die tuig val, eers op ’n lang bootreis te gaan en ’n paar dae op ’n tropiese eiland deur te bring?”
Weda kyk haar verward aan. Dan lag sy. “Dit klink wonderlik, matrone, maar ek het nie geld vir so ’n reis nie.”
“Maar as alles vir jou betaal word?” dring die matrone by haar aan, en moet glimlag vir Weda se algehele verbasing. “Die feite is kortliks dat ’n passasier op die Franse boot wat hier in Durban se hawe lê, skielik ernstig siek geword het en in die hospitaal opgeneem is. Sy is die privaat verpleegster van ’n jong Franse meisie wat saam met haar ma na Tahiti op pad is. Die dogter, verstaan ek, het kort gelede beserings in ’n motorongeluk opgedoen en hoewel sy onderweg is na herstel, het sy nog die hulp van ’n verpleegster nodig. Die Franse vrou, madame Levaux of sommer net kortweg Madame – soos sy verkies om aangespreek te word – het my gevra of ek nie van ’n verpleegster weet wat hulle verder op die reis kan vergesel nie. Ek het onmiddellik aan jou gedink. Dit sal jou die wêreld se goed doen om ’n bietjie weg te kom en uit te rus voordat jy weer begin werk. Alle koste word betaal en die salaris is ook goed.”
Toe die meisie haar net stomgeslaan aankyk, vervolg sy: “Dis natuurlik vir jou om te besluit, Weda, maar ek weet wat die afgelope agt maande van jou geverg het. Ek wil jou baie graag terughê in my hospitaal, maar ek hoop dat jy, ter wille van jouself, dié geleentheid sal aangryp. Die bootreis op sigself sal al ’n wonderlike vakansie wees. En madame Levaux het beloof om jou, wanneer jy wil terugkeer, op die eerste vliegtuig of boot te sit. Wel?”
Weda glimlag verdwaas. “Ek … Dis so skielik! U hét gesê … Tahiti, nè?”
Matrone Olivier kan nie help om te lag nie. “Ja, dis reg. Tahiti! Ek is bevrees dat ek jou nie lank tyd kan gee om daaroor te dink nie. Die boot vertrek oor twee dae, en daar is baie dinge wat gereël moet word as jy besluit om saam te gaan. Is daar enige rede hoekom jy nie kan gaan nie?”
“O, nee. Geen rede nie. Dis net … Ek het nooit in my lewe gedroom dat ek ook eendag op ’n bootreis sal kan gaan en ver plekke sien nie. Dis … wonderlik!”
“Dan sal jy gaan?”
“Wel, ja, dankie. As u ook dink dis goed so …”
“Ek sal madame Levaux dadelik bel en haar jou telefoonnommer gee. Dan kan julle twee self verder reëlings tref.” Sy staan op en soen Weda innig. “Gaan geniet elke oomblik, my kind. Moet nou net nie so onder die bekoring van daardie eiland raak dat jy glad nie wil terugkom nie, hoor?”
Weda lag. “O, nee, matrone, dít sal nie maklik gebeur nie. Ek kom seer sekerlik terug en hoop hier sal dan vir my ’n plekkie oop wees.”
“Jou betrekking wag op jou wanneer jy terugkom. Beskou hierdie tydjie nou as ’n wonderlike tussenspel in jou lewe, iets om altyd te onthou.”
Eers toe sy hul woonstel binnestap en Marina Roux, haar beste vriendin, nuuskierig opkyk, besef Weda werklik wat gebeur het.
“Wat wou matrone so dringend gehad het?”
Weda skud haar kop asof sy self nie kan glo wat matrone wou gehad het nie. “Sy het my gevra of ek nie met ’n boot na Tahiti wil gaan nie.”
Marina kyk haar fronsend aan. “Ag, komaan, man, moenie laf wees nie. Wat wou sy gehad het? Het sy jou ’n pos as operasiesuster aangebied? Wanneer begin jy?”
Weda lag en sak langs haar vriendin neer. “Dis regtig waar, ou Rien. Ek vertrek oor twee dae na Tahiti, jy weet mos, die eiland …”
Marina sit regop en kyk haar vriendin aan asof sy so pas verklaar het dat sy saam met die volgende maanvlug gaan. “Kind, jy het sonstraal,” verklaar sy opgewonde. “Jy het natuurlik weer te lank gedraai en die bus verpas en die hele ent pad in die bloedige son geloop. Gaan lê dadelik. Ek sal iets vir jou bring …”
“Ek makeer niks nie, lawwe ding,” lag Weda opgewonde maar ook ’n bietjie senuweeagtig. Sy het so skielik besluit … “Dis waar! Onthou jy die Franse passasierskip wat nou hier in die hawe lê?”
Marina knik en sy verduidelik kortliks. “Matrone het my nie veel tyd gegee om te besluit nie. Om die waarheid te sê, ek moes dadelik sê of ek kan gaan of nie. Matrone is egter oortuig dat ek moet gaan. Dus … oor twee dae vertrek ek na Tahiti … Marina, maak jou mond toe! Netnou val daar ’n vlieg in!”
Marina klap haar mond hoorbaar toe, maar haar oë bly groot en rond. “Tahiti! Maar ek het dan gedink dis sommer net ’n liedjie wat Jurie Ferreira altyd sing. Jy weet mos – Taahiii-ti, vêêê-re laaand, oo skoonste paa-raa-dy-ys!”
Weda moet lag. “Nee, verspotte ding! Daar is werklik so ’n eiland op die aardbol. Maar ek verwag natuurlik nie dat ’n musiekonderwyseres iets van aardrykskunde sal weet nie!”
“O, hoor die slim verpleegster! Wel, vertel my dan waar lê dié wonderlike, skoonste paradys presies.”
“Ek weet nie,” erken Weda verleë en daar is nou ’n bietjie onsekerheid in haar oë. “Marina, ek wonder of ek so gou moes ja gesê het …”
“Natuurlik moes jy, jou aap! Waar gaan jy ooit weer só ’n kans kry, en dit nog op ander se koste? Wag, ek dink hier êrens moet nog ’n ou skoolatlas in die boekrak wees. Ja, hier is dit. Waar sal ’n mens begin soek?”
“As dit ’n eiland is, moet dit êrens in die see lê,” bied Weda aan en Marina glimlag geamuseer.
“Dis nou slim,” laat sy droog hoor. “Wel, hierdie kaart het die grootste stuk see. Kom ons soek eers hier.”
Weda frons. “Maar dis die Stille Oseaan waar jy nou soek. Dis halfpad om die aardbol!” protesteer sy.
“Wat daarvan? Jurie sing van ’n vêêê-re land en nie eens jou madame Le-dinges sal dit kan nader skuif nie. Hier! Hier staan dit. Uitdruklik: Tahiti.”
Weda buk nader en haar onsekerheid neem toe. “Dis dan net ’n stippeltjie in die blou oneindigheid! Kyk daar, dit lê in die middel van … van nêrens!”
“Hm.” Ook Marina klink nie meer so opgewonde nie, maar sy doen haar bes om haar vriendin op te beur. “Dis seker regtig ’n droomparadys. Kyk, dit lê net kort bokant die Steenbokskeerkring, dus in die trope. Dis natuurlik een van daardie droomeilande wat bestaan uit ’n volmaan, wuiwende palms, orgideë in die blom, ’n potblou see, ’n inkblou hemel, ryp papajas en avokado en piesangs en … al daardie klas goed. Vreeslik romanties en so meer!” Sy glimlag bemoedigend. “Ag, maat, die wêreld is maar net groot vir ons gewone, arm mense. Vir die rykes is dit so groot soos ’n tennisbal. Wat gaan soek dié madame Le-dinges en haar dogter daar?”
“Ek weet nie. Ek weet net hulle is op pad daarheen. Sy sal my vanmiddag bel sodat ons my paspoort en dies meer in orde kan kry.”
In die twee dae wat volg, is daar nie tyd om aan vertwyfeling aandag te gee nie. Dis of ’n warrelwind Weda getref het. Paspoorte en ander formaliteite word saam met madame Levaux afgehandel – ’n madame oor wie Weda nie met sekerheid ’n indruk kan vorm nie.
Daar is ’n meerderwaardige hooghartigheid in haar optrede teenoor Weda en laasgenoemde hoop maar net dat die dogter nie te veel na die ma aard nie. Nie dat Weda juis omgee dat madame Levaux duidelik toon dat sy ’n blote werknemer is en niks meer nie. Sy ken haar plek en sy het in haar loopbaan al met baie mense te doen gekry en geleer om haar by elke persoonlikheid en omstandigheid aan te pas.
Sy en hierdie mense gaan egter ’n hele paar weke lank saamgehok wees in die beperkte ruimte van ’n skip, en dit kan dalk op die lange duur aan ’n mens begin krap. Sy is egter spesifiek vir mademoiselle Levaux se gerief aangestel, en dié is glo haar ouderdom. Sy hoop maar net dat hulle mekaar sal vind. Tot dusver het sy haar nog nie ontmoet nie, want Eugenie Levaux het nie die paar dae wat die boot in die hawe lê aan wal gekom nie.
Daar volg ook ’n besige paar uur saam met Marina in die winkels. Sy het ’n paar goedjies nodig, veral vir die tropiese klimaat, maar Marina gaan so roekeloos te kere dat Weda later verplig is om te protesteer: “Net ’n oomblik, vriendin! Jy moet darem weet dis met my geld wat jy so rojaal aangaan. Ek het nie al hierdie goed nodig nie, Marina. Dit lyk soos ’n bruidsuitrusting.”
Marina lag egter haar besware weg. “Natuurlik is dit ’n bruidsuitrusting! Hier in my hart het ek die geheime droom dat jy ’n miljoenêr gaan nader trek gedurende hierdie Tahiti-tussenspel van jou. En dan hoop ek jy onthou jy het ’n brandarm vriendin agtergelaat!”
“Marina, jy is regtig laf,” verweer Weda laggend. “Wat moet ek met ’n miljoenêr maak?”
“Hemel, kind, gee hom vir my as jy nie weet nie!” Dan versober haar gesig. “Nee, Weda, kry nou vir jou mooi goedjies. Moenie dat daardie ou madame haar neus vir jou optrek nie. Wat meer is, daar is ’n lewendige sosiale lewe op so ’n bootreis, en jy sal tog nie die hele tyd jou pasiënt se hand hoef vas te hou nie. Jy was agt maande lank tussen vier mure vasgekluister. Gaan en geniet nou elke oomblik van hierdie reis. Wanneer jy terugkom, kan jy weer begin spaar. As jy dan nie met ’n miljoenêr terugkeer nie, sorg net dat jy nie met ’n gebroke hartjie terugkom nie. ’n Mens kan glo nie anders as om op daardie eiland verlief te raak nie.”
“Wie sê so?”
“Ek. En dis ook hoog tyd. Al drie en twintig en het nog nie eens ’n kêrel nie! Suster, jy sal hierdie geleentheid moet aangryp, of jy gaan nog op die rak bly sit.”
Weda lag maar, en haar vriendin kyk haar ’n oomblik ernstig aan. Skielik is daar ’n beklemming om haar hart. Met grap gaan jy na bed, sê die ou spreekwoord. Sê nou maar Weda raak werklik tydens hierdie reis verlief en sy sien haar vriendin nooit weer nie?
“Luister, Weda, ek speel maar, hoor? Jy moenie gaan staan en verlief raak daar in die vreemde nie. Jy kom terug en kom vat vir jou ’n boerseun.”
Dis nou Weda se beurt om te terg. “Hoe praat jy dan nou? Ek het net begin dink jy het ’n puik gedagte beet!”
“Moenie stuitig wees nie! Weda, jy kan g’n aan die ander kant van die aardbol wil bly nie! Ek sal sterf van verlange.”
“Maar jy kan mos vir my kom kuier. As ek nou regtig ’n miljoenêr nader gehaak kry, kan hy mos jou passaat speel-speel betaal!”
“En jy sal hom sommer maklik nader gehaak kry met daardie blinkbruin krulle en oulike lyfie van jou.” Marina lyk nou behoorlik bekommerd. “Weda, maatjie, jy moenie met vuur gaan speel nie. Dis die trope daardie en in daardie klimaat … Dis ’n gevaarlike klimaat. Alles is warmer daar … ook die bloed. Moenie gaan kop verloor nie, nog minder jou hart. Moenie –”
Weda gooi haar hande laggend in die lug. “Hokaai! Hokaai!”
Marina druk haar maat ’n oomblik styf teen haar vas. “O, ek gaan my doodverlang en sal die hele tyd wil sterf van nuuskierigheid. Maar ek bedoel wat ek sê, Weda. Wees maar versigtig. Tahiti is ver om jou hart op agter te laat.”
Weda glimlag nou terwyl sy by die dekreling staan en sien hoe haar land se kuslyn al meer verswelg word deur die stygende kim.
Nog steeds is dit of die werklikheid nie ten volle tot haar wil deurdring nie, asof dit maar net ’n droom is.
Tog … sy is werklik besig om weg te vaar na ’n droomeiland, na ’n spikkeltjie op die wêreldkaart, ’n klein kolletjie aan die ander kant van die aardbol, ’n idilliese stukkie aarde in die onmeetlike Stille Oseaan.
Dit sal maar ’n kort tussenspel wees in die gang van haar gewone lewe, maar ’n tussenspel waarop sy nie gehoop, nooit van gedroom het nie. Weliswaar het sy, soos die meeste ander mense, ’n vae hunkering na veraf, vreemde plekke in haar hart gekoester. Maar sy is ’n nugter mens wat nie die vreugde van die alledaagse lewe met onmoontlike drome vertroebel nie.
Dit was net soms, veral wanneer sy by die reisagentskapkantore verbygestap het en die kleurryke brosjures haar oog getrek het, dat sy bewus geword het van die feit dat sy ook hier diep binne-in haar geheime droompies koester. Dit was in sulke oomblikke dat sy van ’n vae roering in haar bewus geword het, ’n skaars herkenbare begeerte om net een keer in haar lewe daardie plekke met haar eie oë te aanskou, die eksotiese atmosfeer van ’n tropiese eiland te smaak.
Dan het sy met ’n byna onhoorbare sug weggedraai en verder gestap. Daardie soort ding is nie vir mense soos Weda Henkel bedoel nie. Tot ’n paar dae gelede toe dit skielik moontlik geword het in matrone Olivier se kantoor.
En nou is sy op pad, werklik op pad na die droomeiland van die Suidsee, en sal sy alles met haar eie oë aanskou.
Sy glimlag nou weer. Geen wonder Marina het skielik ’n ander deuntjie begin sing nadat hulle die brosjures gelees het nie! Dis voorwaar die eiland vir liefde – Tahiti: Le pays de l’amour – die land van liefde, soos daar boaan gedruk staan.
Eindelik skeur Weda haar los van die reling en keer terug na die kajuit van haar pasiënt.
Sy het Eugenie Levaux maar pas ontmoet toe sy aan boord gekom het, en was verbaas oor die besondere tengerigheid van die Franse meisie in die rolstoel. Sy het ’n rugbesering in die motorongeluk opgedoen, en hoewel sy nie verlam is nie, het haar dokters haar aangeraai om haar, aanvanklik altans, nie te ooreis nie, en liewer ’n rolstoel te gebruik.
Die Franse meisie se houding is nie hooghartig soos dié van haar ma nie, maar eerder belangeloos en verveeld.
Weda se verbasing is dus eg toe sy die kajuit binnekom en die jong meisie ontevrede vra: “Waar was jy so lank? Het jy ’n kêrel weggesien?”
Weda se oë vernou effens. Dié soort pasiënt ken sy ook, die bedorwe brokkies wat hand en voet bedien moet word en al die aandag wil hê. Haar stem is egter egalig, selfs vriendelik toe sy antwoord. “Ek is jammer. Ek het seker te lank by die reling versuim. Ek het gestaan en kyk hoe my land verdwyn. Dis die eerste keer dat ek dit sien, weet jy? Is daar iets wat ek vir jou kan doen?”
“My rug is seer. Ek sit al ure lank in hierdie stoel,” sê sy bot. “Ek wil ’n bietjie gaan lê.”
Geduldig help Weda haar nuwe pasiënt uit die stoel in die bed. “Draai op jou maag, dan masseer ek jou rug ’n bietjie.”
Terwyl Weda se geoefende vingers oor die skraal rug gly, voel sy die spanning in die spiere en besef dadelik dat die grootste oorsaak van Eugenie se pyn juis in hierdie spierspanning setel. Sy werk geoefend terwyl sy die jong gesiggie bestudeer wat sywaarts op die kussing gedraai is. Daar is donker skaduwees onder die oë en fyn trekkies om die jong mond wat nog nie daar behoort te wees nie. Weda ken nie die besonderhede van die motorongeluk nie, maar aan die operasiemerke kan sy raai dat Eugenie ’n moeilike tydjie agter die rug het. Tog is daar iets ongerymds in haar toestand. Eugenie is nog jonk. Sy behoort al oor die ergste te wees; sy behoort beslis nie meer in ’n rolstoel te sit nie.
“Beter?” vra sy na ’n rukkie en die eerste keer sien Weda ’n glimlag om Eugenie se mond.
“Hm. Dis heerlik. Moenie ophou nie.”
Weda glimlag en gaan voort. Eugenie, kom sy agter, is soos ’n stout meisietjie wat met die grootste gemak van die een bui na die ander oorskakel. Wanneer dinge nie na haar sin verloop nie, of as sy verveeld is, kan sy baie onaangenaam en selfs onredelik wees. Maar sodra sy aandag kry, is die wêreld reg.
Hoewel hulle ewe oud is, voel dit vir Weda asof sy tog heelwat ouer is. Dis seker maar as gevolg van die verskil in agtergrond. Eugenie Levaux het baie duidelik ’n ryk agtergrond, terwyl Weda uit ’n gemiddelde ouerhuis kom en ná haar skoolopleiding moes uitspring om vir haarself te sorg. Miskien is dit daarom dat die verpleegster meer volwasse is as die rykmansdogter. Vir ’n gewone werkende meisie is daar nie tyd vir buierigheid nie. Dis ’n luukse wat net die Eugenies kan bekostig.
“Gaan julle vakansie hou op Tahiti?” vra sy belangstellend.
“Tahiti is my geboorteplek. Ons bly daar.”
Weda se oë rek. “Werklik? O, vertel my gerus meer! Is dit regtig so wonderlik as wat die reisbrosjures dit voorstel?” vra sy gretig.
Maar Eugenie Levaux deel nie haar entoesiasme nie. Sy roer haar skouers ongeërg. “Ja, dis seker wonderlik. Ek is al so gewoond daaraan. En eintlik gaan dit nou ’n tronk vir my wees.”
Weda frons. “Tahiti … ’n tronk! Aarde, hierdie eiland is al op baie maniere beskryf, maar sekerlik nog nooit as ’n tronk nie! Hoekom … hoekom sê jy so?”
Eugenie se oë is ontwykend, maar daar is ’n hartseer trek om die jong mond wat Weda nie ontgaan nie. Eugenie Levaux mag wel ’n rykmansdogter wees wat op ’n paradyseiland grootgeword het … maar sy is nie gelukkig nie. Daarvan is Weda baie seker. Die patos in die skraal gestaltetjie weerhou haar daarvan om aan te dring op meer besonderhede. Tog wil sy die gesprek ook nie net daar kortknip nie. Sy hou haar stem ongeërg terwyl haar geoefende hande voortgaan met hul werk.
“Is jou ouers aan die toerismebedryf verbonde? Ek verstaan dit het eintlik die slagaar van die ekonomie op die Suidsee-eilande geword.”
“Nee. My pa was daar in diens van die Franse regering. Hy is sowat ’n jaar gelede oorlede. Ek was toe in Frankryk. En nou het Moeder my kom haal …”
Haar mond trek wrang. “Ek het glo nou genoeg rondgerinkink. Ek moet bestendigheid in my lewe kry en sorg dat ons genoeg geld het vir die res van ons lewe … kortom, ek is eintlik op pad om te gaan trou.”
Weda se hande staak onwillekeurig hul ritmiese bewegings. Sy kyk fronsend op haar pasiënt af. Eugenie klink asof sy op pad is na die historiese skavot van haar voorgeslagte.
Weer vind sy dit moeilik om die nuuskierigheid uit haar stem te hou en normaal belangstellend te vra: “O, jy is dus verloof?”
Weer die kortaf, bitter laggie wat glad nie by so ’n jong meisie pas nie. “O, nee! Ek moet hom nog gaan aankeer, maar volgens Moeder is die stryd reeds halfpad gewonne. By haar is dit ’n uitgemaakte saak dat ek binnekort madame comtesse Louis de Bougainville sal wees.”
“O.” Weda weet nie eintlik hoe om op hierdie sarkasme te reageer nie. “Jy gaan dus met ’n bloubloed in die huwelik tree. Dit klink vreeslik romanties.”
“Ja, dit klink so, nè? Louis verpes die titel, maar Moeder kleef behoorlik daaraan vas. Dis een van die redes hoekom ek met hom moet trou … sodat my ma in die tuisland kan gaan praat van haar dogter, die comtesse Eugenie de Bougainville. Die feit dat Louis in werklikheid nie van koninklike afkoms is nie, maar dat die titel deur ’n voorvader van hom ‘verdien’ is, maak aan my ma hoegenaamd geen verskil nie. En aangesien daar ’n hele boel geld by die titel ingesluit is, is dit ’n uitgemaakte saak dat ek met hom, en niemand anders nie, sal trou. Sedert my pa se dood het ons finansies onrusbarend gekrimp, en daar is geen ander uitweg nie.”
Weda voel ietwat ongemaklik oor al die intieme besonderhede wat die Franse meisie lê en aframmel. Sy sien madame Levaux se streng gesig ’n oomblik voor haar, en sy weet dat hierdie dame niks daarvan sal hou as sy moet weet dat haar dogter se verpleegster van al hierdie dinge kennis dra nie. Maar dis of iets in Eugenie oopgebreek het en sy die woorde nie kan keer nie. Dis duidelik dat dit haar ’n mate van verligting gee om oor die saak te praat.
Tog probeer Weda die gesprek in veiliger kanale stuur. “Vertel my meer van dié De Bougainville. Wie is hy eintlik? En wat het sy voorvader gedoen om die titel te bekom?”
“Dit was daar in die agtiende eeu rond dat die eerste Louis de Bougainville geleef het. Hy was ’n beroemde ontdekkingsreisiger en het glo net ná Wallis, die eintlike ontdekker van Tahiti, daar aangekom. Hy het glo so verlief geraak op die eiland dat hy vir homself ’n stuk daarvan toegeëien het. Later het sy nageslag teruggekeer na Tahiti, die grond wettig gekoop en sedertdien was daar nog altyd ’n De Bougainville op die eiland. As gevolg van die eerste Louis se ontdekkingsreise, het die Franse hof hom die titel van comte gegee en so is die huidige Louis natuurlik deur erfenis ook een. Louis self steur hom nie daaraan nie, maar soos ek reeds gesê het, is dit een van die redes hoekom hy as skoonseun so begeerlik is. Moeder is ook haastig dat die transaksie beklink word, want sy is bang die een of ander ryk en verveelde weduwee of geskeide vrou kry hom beet, want hy sal aan trou moet begin dink. Hy is al dertig en sal moet begin sorg vir ’n nageslag vir die De Bougainville-erflating.”
Weda moet teen wil en dank glimlag. “Liewe aarde, mens, haal eers ’n slag asem! My eie asem is glad weg! Dit klink soos die verkorte weergawe van ’n dik Victoriaanse roman! Jy ken hom dus goed?”
“Ja, redelik. Eintlik was hy en my pa bevriend. Ek dink nie hy hou juis van my ma nie, maar sy het darem daarin geslaag om ’n uitnodiging van hom te bekom. Ek en sy is genooi om ’n rukkie by hom te kuier wanneer ons op Tahiti aankom sodat ek kan aansterk. En dis gedurende hierdie tyd dat ek moet sorg dat ek sy ring aan my vinger kry. Volgens my ma was hy darem baie belangstellend toe hy van my … e … ongesteldheid verneem het, en het hy ons glo baie gul genooi. Vir Moeder is dit so goed soos ’n huweliksaanbod.”
Weda waag dit om te vra: “En jy? Hoe voel jy oor … e … al dié voornemens?”
“Hy is seker ’n goeie vangs,” kom die ongeërgde antwoord. “Ek kan beswaarlik beter doen.”
Weda frons nou openlik. “Hoe lyk hy?”
“Ek … kan nie so goed onthou nie. Ek weet hy is lank en donker met ’n fier houding. Ag, ek het nooit juis veel aandag aan hom gegee nie. Ek is meer as twee jaar gelede weg van Tahiti en was nie toentertyd geïnteresseerd nie.”
Tot Weda se ontsteltenis draai Eugenie meteens haar kop weg en bars in trane uit. Sy kyk magteloos op haar pasiënt af. Iets groots skort hier. ’n Meisie wat op pad is na ’n droomeiland om die ideale man aan te keer, bars nie in trane uit by die vooruitsig daarvan nie.
Sy neem op die kant van die bed plaas en streel die lang donker hare. Eugenie het haar foute, maar in Weda se hart is daar nou net jammerte vir die Franse meisie. Om die agbare Madame as ma te hê, is sekerlik nie ’n grap nie; om jou lewe, jou hele toekoms te laat reël deur so ’n dominerende mens is nie te beny nie.
“Jy wil nie eintlik regtig met hierdie Louis de Bougainville trou nie, nè, Eugenie?” vra sy sag maar reguit.
“Ja, ek wil. Ek moet! Maar dit is net soms … soms dat ek onthou …” Dan trek sy haarself orent en wend ’n daadwerklike poging aan om haar gevoelens onder beheer te kry. Asof sy meer met haarself praat, laat sy vasbeslote hoor: “Ek sal nie weer liefkry nie, maar ek wil graag trou en kinders hê – en sekuriteit. Dis die dinge wat Louis de Bougainville my kan gee. Natuurlik wil ek met hom trou. Ek gaan in elk geval my bes doen om hom aan te keer.”
As Weda haar beter geken het, sou sy met haar geredeneer het – haar daarop gewys het dat sy Louis de Bougainville se gevoelens geensins in ag neem nie en dat dit bitter onregverdig is om ’n man net om koelbloedige, selfsugtige redes in ’n huwelik vas te vang. Maar sy swyg. Dis nie haar besigheid nie. Trouens, haar mening sal nie geld nie, al sê sy ook wat. Dis blykbaar twee baie vasberade vroue wat op pad is na Tahiti.
“Hoe het die ongeluk gebeur?” vra sy om ’n wending aan die gesprek te gee, en sien hoe Eugenie nog bleker word.
“Ek dink ek … wou selfmoord pleeg. Ek … kan nie presies onthou nie, maar … ek weet ek wou nie meer lewe nie. Ek weet nie of ek die ongeluk kon verhoed het en of ek doelbewus teen die afgrond afgery het nie.”
Sy val weer terug teen die kussings en nou is sy nie meer in beheer van die histeriese snikke wat deur haar ruk nie. “As ek maar liewer gesterf het! Ek wou sterf! Hoekom het ek nie …?”
“Eugenie!” Weda buk ontsteld oor haar. “Jy is mooi en jonk en pragtig. Hoe kan jy so praat!”
Haar kennersoog vertel haar egter dat dit nie nou die tyd is om met haar pasiënt te redeneer nie. Wat Eugenie nodig het, is ’n kalmeermiddel, en sy stap dadelik na die skeepsdokter se kwartier.
Franz Leucas is ’n oulike jong dokter met wie Weda dadelik goed oor die weg kom. Hy is heeltemal bereid om haar van kalmeerpille te voorsien, maar eers nadat hy self die pasiënt ontmoet het. Saam stap hulle na Eugenie se kajuit.
Eugenie lê met haar kop in die kussing gedruk toe hulle binnekom, en daar is niks wat Weda waarsku teen wat kom nie. Sy skrik geweldig toe die jong dokter ’n geskokte uitroep gee wanneer hulle langs die slaapbank tot stilstand kom.
“Parbleu! Dit … kan nie wees nie! Eugenie!”
Asof ’n elektriese straal haar skok, swaai Eugenie om en staar terug na die man in die wit doktersdrag.
“Franz!”
’n Onheilspellende, gespanne stilte volg waarin Weda net verbaas van die een na die ander kan kyk. Sy het geen benul van wat aan die gang is nie. Albei lyk asof hulle ’n spook gesien het. Dan val Eugenie weer terug en dis onnodig vir die dokter om te sê dat die pasiënt flou geword het. Met ’n wit gesig gee Franz Leucas haar ’n inspuiting. Sy eens vriendelike gesig is strak toe hy by die kajuitdeur omdraai.
“Ek sal die pille stuur.”
Weda weet nie wat om te dink terwyl sy by haar pasiënt waak nie. Dit staan soos ’n paal bo water dat die twee mekaar ken. Hoekom hulle albei egter so uitermate ontsteld was toe hulle mekaar herken het, kan sy nie begryp nie. Sy oordink die gesprek tussen haar en Eugenie en dis of die twee se vreemde optrede nie meer so onverstaanbaar is nie. Eugenie het vertel sy wou selfmoord pleeg; sy wou nie meer lewe nie. ’n Rukkie later het sy ook beslis verklaar dat sy nie weer ’n man sal liefkry nie. Kan dit wees dat die jong skeepsdokter êrens in die prentjie pas? Dit sal dan ook sy hewige ontsteltenis verklaar.
Dis reeds donker daardie aand toe Eugenie haar oë oopmaak. Weda is dadelik by.
“Hoe voel jy, meisie?”
Maar Eugenie beantwoord nie haar vraag nie. “Was dit … werklik hy? Wat … maak hy hier … op die boot?”
Weda probeer nie voorgee dat sy nie weet van wie gepraat word nie. Sy antwoord reguit, omdat dit nie sal help om te jok nie. Eugenie is nog ver van gesond en dit kan gebeur dat sy gedurende die reis die skeepsdokter se hulp moet inroep.
Eugenie is opnuut ontsteld en Weda vervolg vinnig, haar blik skerp: “Hy het jou ’n inspuiting gegee en pille gestuur.”
“Het … hy niks gesê nie?”
“Nee.” Weda frons. Sy wil so graag help, want sy weet hoe noodsaaklik ’n rustige, kalm gemoed vir herstel is. Tog is sy bang. Sy wil haar nie opdring nie. “Julle ken mekaar, nie waar nie?” waag sy dit versigtig.
“Ja. Ons … het mekaar geken. O, hoekom, hoekom moet hy juis op hierdie boot diens doen? Net toe ek begin dink het, geglo het, dat ek hom vergeet het … O, ek wil hom nie weer sien nie! Ek wil nie!”
“Stadig, Eugenie.” Weda lê ’n kalmerende hand op haar, seker dat haar vermoedens juis was. “As jy jou weer so gaan opwerk, sal ek verplig wees om hom weer in te roep en sal jy hom weer moet sien. Dit hang dus van jouself af of jy hom weer sal sien.”
Sy kan sien dat haar woorde tref, want Eugenie ontspan merkbaar.
“Goed. Ek sal nie weer nie. Een ding net, Weda – dit is mos jou naam, nè? Al gebeur wat ook al met my gedurende hierdie reis, jy roep nie weer die skeepsdokter in nie. Verstaan ons mekaar?”
“Maar Eugenie, dis …”
“Daar is geen maars nie. Moeder sal jou stenig as sy moet weet jy het vir Franz Leucas na my kajuit gebring, al het jy dit onwetend gedoen. En ek self wil hom nie weer hier sien nie.”
Weda waag impulsief ’n skoot in die donker.
“Hoekom nie? Is jy bang?”
Eugenie hyg na asem, pyn naak in haar donker oë. Weda kan haarself skop. Dan is dit of ’n sluier oor die mooi oë trek en Eugenie se stem klink amper soos dié van Madame. “Ek het jou reeds vertel ek is op pad na Tahiti om te gaan trou. Ek gaan met Louis de Bougainville trou, verstaan? Franz … Franz Leucas pas glad nie in die prentjie nie. Ek stel nie meer in hom belang nie. Laat my nou asseblief alleen.”
“Eugenie …”
Dis weer die buierige, bedorwe rykmansdogter wat na haar kyk.
“Laat my alleen, asseblief!”
Weda het geen ander keuse as om te gehoorsaam nie. Sy stap uit op die dek en trek die seelug diep in haar longe in. Wat ’n veelbewoë eerste dag! Sy onthou nou weer die eerste keer dat sy op pad is na ’n droomeiland! ’n Droomeiland …?
’n Stem langs haar laat haar opskrik uit haar gedagtes.
“Dis die eerste keer dat ek jou op die dek sien, suster. Ek het gewonder of jy al jou seemansvoete gevind het.”
“O, dokter Leucas! Goeienaand. Nee, om die waarheid te sê, het ek nog nie tyd gehad om vas te stel of ek ’n goeie matroos is of nie!”
“Jou pasiënt is dus baie veeleisend. Jy moenie toelaat dat sy al jou tyd in beslag neem nie. Jy is geregtig op vrye tyd.” Hy kyk fronsend op haar af.
“Sy is siek …”
“Nie regtig nie. Rykmanshisterie … dis waaraan sy ly. Selfsug en eiebelang vreet daardie soort mens van binne af op, nie siekte nie.”
Weda kyk hom fronsend aan. Sou sy tog verkeerd wees in haar vermoedens?
“Eugenie is werklik siek, dokter,” verweer sy. “Dit sal haar nog lank neem …”
“Ek dink ek ken haar beter as jy, suster Henkel. Ek verseker jou my diagnose is korrek.”
Sy kyk hom stip in die aandskemerte aan. Hy klink so bitter.
“Ek wonder, dokter. Ek wonder regtig … Sy het ’n moeilike tydjie agter die rug.”
“Ja? Ek kan jou verseker Eugenie Levaux het nog nie een dag van swaarkry in haar lewe geken nie. Met ’n silwerlepel gebore … dis sy.”
“Wel, ek sou nie graag met haar wou ruil nie, silwerlepel ofte nie. Om ’n liggaam te hê wat byna heeltemal vergruis was …”
“Wat?” Hy kyk skerp op haar af. “Waarvan praat jy?”
“Ek praat van die ongeluk, die motorongeluk waarin sy byna dood was.”
Hy staar haar net aan. Dan kom sy stem gedemp, asof hy huiwer om meer te wil weet. “Vertel my daarvan. Ek … weet daar niks van af nie.”
“Ek weet self nie wat gebeur het nie. Sy weet blykbaar ook nie. Sy sê sy weet nie of sy doelbewus wou selfmoord pleeg nie. Sy weet net sy wou nie meer lewe nie.”
’n Lang ruk is dit stil tussen hulle. Dan vra hy dieselfde vraag wat Eugenie ’n rukkie gelede gevra het. “Het sy … niks gesê nie … in verband met my, bedoel ek?” Toe hy sien sy aarsel, vervolg hy: “Jy vermoed tog seker al hoe die prentjie inmekaar steek. Ek en Eugenie was op ’n tyd … baie lief vir mekaar. Toe het daar … moeilikheid gekom en … ek het haar nooit weer gesien nie. Vandag was die eerste keer ná daardie tyd.” Hy sug. “Waarheen is sy op pad?”
“Na Tahiti.”
Hy lag kortaf. “Die ironie van die saak!”
“Is … is jy dan ook op pad daarheen?”
“Ja. Ek het ’n pos daar aanvaar en is besig om my passaat oor te werk.”
Weda frons. Dinge begin al meer gekompliseerd raak.
“Maar het jy dan nie geweet dat Tahiti Eugenie se tuiste is nie?”
“Ja, maar ek het gedink ná haar pa se dood sal sy en haar ma in Frankryk gaan nesskop. So het ek verstaan. Ek het nooit kon droom dat ons albei terselfdertyd op Tahiti sal beland nie. Maar miskien bekommer ek my verniet. Ons sal tog nie in dieselfde kringe beweeg nie, dus bestaan die gevaar nie juis dat ons mekaar te sien sal kry nie. Ek het van m’sieur De Bougainville verstaan dat ek meestal in die boendoe sal wees.”
’n Rilling trek deur Weda. “M’sieur De Bougainville? Louis de Bougainville?”
“Ja. Ken jy hom? Hy is die man wat my eintlik finansieel sal bystaan om my praktyk op te bou. Ek gaan nie as elitedokter vir die ryk toeriste nie. Ek gaan onder die Polinesiërs werk en die kliniek is grootliks van Louis de Bougainville se steun afhanklik. ’n Wonderlike man, daardie. Ken jy hom?” vra hy weer en Weda weet nie hoe sy dit regkry om met so ’n naar kol op haar maag so kalm te antwoord nie.
“Nee … ek ken hom nie. Net … van hom gehoor.”
“O. Wel, ek neem aan Eugenie en haar ma kom sakies maar net regmaak op Tahiti voordat hulle hulle permanent in Frankryk gaan vestig.”
Weda kyk hom stil aan en antwoord nie, maar in haar hart sê sy met beklemming: As jy maar net weet!