Читать книгу Tahiti, verre land - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

In die dae wat volg, terwyl die groot passasiersboot sy pad deur die golwe van die Indiese en later die Stille Oseaan baan, leer Weda haar pasiënt goed ken en begin daar ’n mooi vriendskap tussen haar en die jong skeepsdokter ontwikkel. Juis omdat sy albei hierdie twee jong mense so jammer kry, gaan sy uit haar pad om gaaf teenoor hulle te wees. Baie dae moet sy haar humeur streng beteuel wanneer Eugenie in haar onmoontlike onweersbuie verval, maar andersins stryk hulle goed.

En sonder dat een van hulle dit besef, begin Eugenie al meer op Weda steun; raak sy hoe nader hulle aan hul eindbestemming kom, hoe afhankliker van die jong verpleegster met die sagte stem en helende hande.

Ook die jong skeepsdokter vind dat hy Weda se geselskap al meer opsoek, maar laasgenoemde besef dat dit nie soseer is omdat hy haar geselskap so interessant vind nie, maar juis om meer van Eugenie te hoor. Hoewel hy dit heftig sou ontken, weet Weda dat Franz Leucas haar as die enigste band tussen hom en Eugenie beskou. Sy is sy bron van inligting en met haar kan hy oor Eugenie praat, al is dit meestal met verbittering in sy stem.

Soos die dae verbysnel, raak Weda al meer oortuig daarvan dat hierdie twee jong mense, hoe hulle ook al probeer om die teenoorgestelde aan hulself, mekaar en aan haar te bewys, nog verlief is op mekaar. Sy het al begin wonder of sy nie iets aan die situasie kan doen nie. Maar om by Madame verby te kom!

Hierdie dame het byna ’n hartaanval gekry toe sy agterkom wie die skeepsdokter is. Sy het hom op die dek gewaar, onmiddellik omgedraai en haar dogter in haar kajuit gaan opsoek. Sy was so emosioneel oor haar ontdekking dat sy skoon vergeet het om Weda eers uit te stuur voordat sy praat.

“Ek sien Franz Leucas is ook op die boot! Het jy daarvan geweet?” Daar was duidelik agterdog in haar stem, maar Eugenie het kalm na haar ma opgekyk.

“Nee, natuurlik nie. Wat het ek met hom te doen?”

Haar ma was in ’n mate gerusgestel, maar het darem nog fronsend gewonder: “Ek wonder wat soek hy hier en waarheen hy op pad is?”

Weda het besluit dis tyd dat sy ook ’n stuiwer in die armbeurs gooi, en teen wil en dank kon sy nie help om half lekker te kry toe sy haar inligting verskaf nie: “Hy is die skeepsdokter, Madame, en op pad na Tahiti.”

Ook Eugenie het haar vinnig aangekyk. Dit het sy nie geweet nie. Tot dusver het sy die dek sover moontlik vermy en haar daaraan getroos dat die reis wel ten einde sal loop en dat sy Franz dan nie weer sal raakloop nie. Dis ook vir haar nuus dat hy dieselfde eindbestemming as sy het, en waar Madame se gesig slegs diepe misnoeë toon, skyn daar op hierdie oomblik ’n openlike vrees in Eugenie Levaux se oë. Sy sien kans om te doen wat haar ma van haar eis, maar dan moet sy Franz net nie weer sien nie.

“Waar kom jy daaraan?” vra Madame kortaf.

“Hy het my dit self gesê. Hy is besig om sy passaat oor te werk om ’n praktyk onder die Polinesiërs te begin.” Weda se stem klink ongeërg. Koel flits haar oë van die een na die ander. “Ek het nie geweet julle ken hom nie. ’n Oulike man, nè?”

Eugenie laat sak vinnig haar ooglede, maar Madame pen Weda met ’n ontevrede blik vas. “Van waar af ken jy die man so goed, suster Henkel? Dis nie die klas mens met wie ons geselskap hou nie.”

Weda voel hoe sy haar rug instinktief ’n bietjie meer regop trek. As daar een ding is waaraan sy ’n hekel het, dan is dit aan die soort snobisme waaraan hierdie vrou ly. Ewe koel kom haar antwoord: “Ek het hom hier op die boot ontmoet en ons het al baie gesels. Ek vind hom ’n uiters gawe, intelligente en opgevoede jong man en aangesien ons twee van dieselfde klas is, kom ons baie goed oor die weg …”

“Suster Henkel, ek verbied jou om weer iets met daardie man te doen te hê! Onder geen omstandighede wil ek sien –”

Tot Eugenie se ontsteltenis en madame Levaux se skok, word die hooghartige Franse dame uitdagend en koel in die rede geval.

“Ek is bevrees u oorskry u perke, Madame. Ek is aangestel as u dogter se verpleegster, maar wat ek met my vrye tyd doen en met wie ek gesels, is my saak.”

“Hoe durf jy …?”

“As u nie tevrede is met die gehalte van my diens nie, verbied niks u om my by die volgende hawe aan wal te sit en my plek terug te bespreek nie. Maar totdat ons daar kom, moet u my asseblief goed verstaan. Ek laat my nie voorskryf van wie ek moet hou of nie.”

“Weda! Moeder! Asseblief!” Eugenie is op die rand van histerie. Sy was ontsettend geskok om te hoor hoe Weda haar gevreesde ma aanspreek. Dit word net nie gedoen nie! Maar dat daar sprake is dat sy Weda gaan verloor sodra hulle weer by ’n hawe aandoen, kan sy glad nie verwerk nie. Sy kan nie meer sonder Weda klaarkom nie. Sy het al met die gedagte begin speel om Weda te probeer oorreed om, wanneer hulle Tahiti bereik, langer aan te bly.

“Moeder, ek kan nie insien waarom Weda nie met … met Franz vriende kan wees nie. Dit het mos niks met ons te doen nie.”

Dapper ontmoet sy haar ma se skerp, speurende blik en bid dat haar toneelspel oortuigend is. Haar blik dwaal koel na Weda. “Ek het niks daarteen nie. Dit kan my nie skeel nie. Ek gaan met Louis de Bougainville trou, en Weda kan maar die skeepsdoktertjie kry.”

Weda vererg haar bloedig. Hoe kan Eugenie haar eie hart so verraai! Ook haar oë is koel toe sy haar kop knik en styf glimlag.

“Dankie, Eugenie. Dis baie … vrygewig van jou. Ek sien ’n groot toekoms vir dié skeepsdoktertjie en …”

“Om tussen die Polinesiërs te werk!” Madame boet ’n bietjie van haar waardigheid in om ’n slag deeglik en hard te snork. “Maar dis presies soos hy is. Hy sal ewig ’n lamsak en ’n sukkelaar bly.”

Haar blik rus goedkeurend op haar dogter. “Ek is bly om te sien jou oë het uiteindelik oopgegaan, my kind. Louis de Bougainville is die man vir jou.” Sy draai by die deur terug, ’n ligte frons tussen haar wenkbroue. “Ek verstaan hier is vanaand ’n groot dansparty aan boord. Gaan jy en … die dokter ook?”

Weda kyk haar nadenkend aan. Wat broei nou weer in daardie slinkse kop?

“Hy het my gevra, ja, maar ek was nie seker of Eugenie my sal nodig hê nie.”

“Gaan gerus. Ek sal vanaand by haar kom sit.” Sy glimlag na die twee verbaasde gesigte. “Ons moet haar darem nie te hard laat werk nie, Eugenie. Sy ís geregtig op vrye tyd, nie waar nie?”

Weda se blik rus op die deur wat agter madame Levaux toegaan. Dit vra nie veel intelligensie om presies te weet hoe die ouer vrou se verstand op hierdie oomblik werk nie. Haar skielike ommeswaai is nie vir een van die twee meisies duister nie. Hoe hegter die vriendskap tussen die verpleegster en die dokter, hoe minder die gevaar dat Eugenie miskien weer haar hart op die skeepsdokter kan verloor.

Weda se blik keer terug na haar pasiënt en sy kyk in ’n paar donker, vyandige oë vas. “En presies hoe ver het die vriendskap tussen jou en Franz al gevorder?”

Weda se wenkbroue lig. Sy kry Eugenie jammer, maar op die oomblik het sy nie juis baie simpatie met haar nie. Hoekom veg sy nie vir haar liefde nie?

“Ek dog dan dit kan jou nie skeel nie.”

Die uitdrukking in Eugenie se oë verander en Weda kan, soos so dikwels die afgelope weke, die helder pyn daarin sien lê.

“Eugenie, ek is jammer.” Sy stap vinnig nader. “Ons gaan nou te kere asof daar al ’n vaste verhouding tussen my en Franz is, en dis ver daarvandaan. Ons stel nie ernstig in mekaar belang nie. Ons is bloot vriende. Jy het my woord daarvoor.”

Eugenie lyk meer gerus, maar kan nie nalaat om te sê nie: “Ek het nie eens geweet julle sien mekaar so baie nie. Jy het my nooit vertel nie.”

“Nee, ek het nie, want ek het nie die nodigheid daarvoor ingesien nie. Gee jy om as ek vanaand saam met hom gaan dans?”

Sy hou die ander fyn dop, sien hoe die oë versomber. “Nee, ek gee nie om nie. Solank dit jy is, weet ek … ek bedoel, hoekom sal ek omgee? Daar is mos niks tussen ons nie. Dit behoort tot die verlede.”

Weda sug en trek haar skouers op. As Eugenie teen haar eie hart wil veg, kan sy niks daaraan doen nie. Tog voel dit vir haar asof sy die Franse meisie aan die skouers kan gryp en haar goed skud. Sy sal moeilik ’n gawer man kry as Franz Leucas. Maar die Levaux-dames beskou Franz Leucas as ’n kerkmuis en ’n sukkelaar. Hy kan nie met die rykdom van die De Bougainvilles meeding nie. Weda het al so ’n teësin in die naam Louis de Bougainville ontwikkel dat sy hoop sy hoef hom nooit te ontmoet nie. Sy kan hom by voorbaat nie veel nie. Terwyl madame Levaux hom tydig en ontydig in Eugenie se keelgat afdruk, moet Weda ook oor en oor die basuingeskal oor al sy voortreflikhede aanhoor. Sy voel al sy kan skree as sy net sy naam hoor.

Die ergste is dat ook Franz die danige Louis de Bougainville se voortreflikhede gedurig besing. Dit was al baiekeer op die punt van haar tong om hom te vertel dat hierdie selfde man die meisie vir wie hy so lief is, voor sy neus gaan wegraap. Maar elke keer kon sy die woorde nog keer. Sy wil nie dieper in hierdie intrige betrek word as wat sy reeds is nie. Wanneer hulle Tahiti bereik, klim sy op die eerste die beste vliegtuig terug huis toe en kan Franz en Eugenie maar self hul heil uitwerk.

Australië lê agter hulle en die boot het reeds die golwe van die Stille Oseaan begin klief, toe Weda en Franz daardie aand ’n rukkie op die dek uitstap. Hoewel die jong skeepsdokter sy bes doen om vrolik mee te doen, kan Weda sien dat sy hart nie in die plesierigheid is nie. Arme Franz en arme Eugenie. Sy kan haar voorstel dat dit ’n vreeslik frustrerende stryd moet wees om teen jou eie hart te stry. Hulle kom langs die dekreling tot stilstand en toe hy diep sug, draai sy impulsief na hom.

“Franz, hoekom dóén jy nie iets nie?”

“Waarvan praat jy?” Hy frons.

“Jy weet goed waarvan ek praat. As jy wag dat daardie vroumens haar dogter op ’n silwerskinkbord na jou toe moet aandra, gaan jy tot in der ewigheid wag.” Weda is sommer weer vererg.

Franz verstyf en sy stem klink bot.

“Ek wil haar nie op ’n silwerskinkbord hê nie.”

“Ag, twak, man! Hier staan jy jou hart en uiteet van verlange en in haar kajuit lê Eugenie haar oë en uithuil en julle …”

“Wat? Weda, is dit so? Het jy …?”

“O, nood, daar praat ek my mond verby!” Sy kyk hom moedeloos en tog ook ’n bietjie geamuseer aan. “Maar julle maak dat ek dinge sê wat ek nie van plan was en geen reg het om te sê nie.”

“Maar is dit so? Dink jy werklik … sy … gee nog vir my om?”

Weda sug. Sy is nou so ver, sy kan seker maar met die res ook uitkom.

“Ja, ek is oortuig daarvan dat Eugenie nog vir jou omgee. Net so oortuig as wat ek is dat jy, ten spyte van alles wat jy al kwytgeraak het, nog vir haar omgee. Is ek reg? Jy het haar nog nie vergeet nie, het jy, Franz?”

Hy kyk lank oor die maanverligte see uit. Dan glimlag hy effens en knik sy kop.

“Ja. Dit help nie. Ek voel bitter teenoor haar, diep teleurgesteld in haar, maar … gek soos dit is – ek het haar nog lief.”

“Goed. En ek is oortuig dat Eugenie dieselfde teenoor jou voel. Maar jy sal iets daaromtrent moet doen, en gou ook, of jy gaan haar vir altyd verloor.”

“Hoekom sê jy so?”

Weda aarsel. Die een of ander tyd in die nabye toekoms gaan hy dit tog uitvind.

“Eugenie en haar ma het besluit dat sy met Louis de Bougainville moet trou. Dis met hierdie doel voor oë dat hulle op pad terug is na Tahiti. Wel? Wat gaan jy daaromtrent doen?”

Hy kyk haar geskok aan. Dan draai hy sy kop weer vinnig weg.

“Niks.”

“Niks! Maar, Franz, hoe kán jy …?”

“Weda, hoe kan ek met ’n man soos Louis de Bougainville meeding? Ek is ’n armsalige kerkmuis. ’n Niks, het nie geld nie, het nie agtergrond nie. En Louis de Bougainville is ’n skatryk man, kom uit ’n familie wie se stamboom eeue ver teruggevoer kan word. Hy het ’n titel en is seker die beste vangs wat ’n jong meisie kan maak.”

Hy lag kortaf, bitter. “Hoekom probeer terwyl jy weet jy is aan die verloorkant?”

Weer voel Weda die antagonisme teenoor Louis de Bougainville in haar opstoot. As die mansmens tog net nie so ryk was nie, het die arme Franz darem ’n kans gehad. Hoekom moet die lewe so onregverdig wees? Hoekom het party mense alles en ander niks nie?

“Jy het haar hart,” hou sy koppig vol, en dis kompleet asof sy nie met Franz aan die stry is nie, maar ’n stryd met die volmaakte Louis de Bougainville aangeknoop het. “Dit is die belangrikste.”

“Nee, dit is nie, Weda. Moenie dat ons ons mislei nie. Vir mense soos madame Levaux en Eugenie, wat hul lewe lank gewoond was aan alles, is liefde nie alles nie. Liefde moet omsoom wees met goud, anders is dit nie aanvaarbaar nie. Wat meer is, dit sal nie lank neem vir Eugenie of enige ander meisie om op Louis de Bougainville verlief te raak nie. Hy is ’n aantreklike, wonderlike man. Ek het hom net een keer in Frankryk ontmoet, maar hy maak ’n geweldige goeie indruk, ook op ’n man. Nee, ek kan die stryd maar gewonne gee.”

Daar is soveel verlorenheid in sy stem dat Weda ’n harde stryd teen die trane moet voer.

“Franz, jy is verkeerd! Jy praat asof liefde na willekeur aan- en afgeskakel kan word, wanneer dit jou pas. Waar kom jy daaraan dat al wat meisie is op die man verlief móét raak? Julle gaan te kere asof die man ’n afgodjie is, vlekloos en sonder tekortkominge. Wel, ek sê jou nou, ek is die één meisie wat nie in ’n beswyming voor Louis de Bougainville gaan neerval nie, en dis eintlik jammer, want dan sal jy self sien dat jy onnodig behep is met die man. Jy is al net so erg soos Madame. ’n Mens sou sweer hy dra vlerke op sy rug!”

Franz moet lag vir haar ontstoke relaas en hy druk haar spontaan teen hom vas.

“Dankie, Weda. Jy doen ’n man se ego goed. Maar jy ken Louis de Bougainville nog nie. Moenie so gou praat nie. Wie weet wat gebeur nog alles op Tahiti. Dis glo ’n onvoorspelbare eiland. Miskien kom jy ook eendag op my skouer huil oor ’n gebroke hartjie. Moenie die gode uittart nie.”

“Jy’s laf! Ek wil niks te doen hê met ’n man wat ’n seerower vir ’n grootjie gehad het nie. Ja, ek weet die eerste Louis was glo ’n ontdekkingsreisiger, maar dis maar net ’n mooi naam vir ’n seerower. En daardie spul skatte waarmee die jongste Louis nou spog en as lokaas gebruik, is seker ook gesteelde goed. Hy is g’n so watwonders as wat jy en die Levauxs dink nie.”

Franz Leucas gooi sy kop agteroor en lag hartlik.

“Jy moet dat Louis de Bougainville jou dié dinge hoor sê! Kom, meisiekind, kom ons gaan dans!”

Die reis gaan voort, verby die Loyalty-eilandgroep, noordwaarts oor die Steenbokskeerkring na die Fidji-groep. Daarvandaan swenk hulle effens suid, verby die Cook-eilandgroep, dan weer effens noord en op ’n dag, die onmeetlike ruimtes van die Stille Oseaan om hulle, die tropiese son fel in ’n blou hemel, dein Tahiti soos ’n seemonster uit die blou massa voor hulle op. Hulle het die droomeiland van die Suidsee bereik!

Weda sal haar eerste indrukke van Tahiti met sy omringende eilande, almal deel van die Geselskapsgroep, nooit vergeet nie. Die stippeltjie op die landkaart lê eindelik in al sy werklike glorie voor haar.

Haar eerste indruk van die eiland is een van grootsheid maar ook geheimsinnigheid. Haar reisbrosjure vertel haar dat die lawagevormde riwwe en pieke meestal in wolke gehul is, soos vandag ook. Maar laer teen die hellings het die mis gewyk en sy sien die lower van tropiese flora. En nog laer die silwerwit strande en – tot haar verbasing – ook swart strande. Glo jare gelede gevorm deur die stof van lawa-uitbarstings. Origens het die prentjie wat die verspotte Marina daardie dag in hul woonstel se sitkamertjie duisende kilometers hiervandaan geskilder het, waar geword. Die smaraggroen see, ’n saffierblou hemel, rye en rye wiegende palms, die absolute groen van blaar en blad en dan die blomme – blomme en nogmaals blomme in helder kontras.

Punt Punaauia lê soos ’n mespunt voor hulle met die wye en beskutte hawe van Papeete, hoofstad en ook hoofhawe van Tahiti, daaragter.

Weda voel half teleurgesteld toe hulle die hawe binnevaar. Sy het nie iets moderns verwag nie. Haar blik rus met weemoed op die groot olie-opgaartenks aan die een kant. Die droomeiland het al ’n deel van sy bekoring ingeboet ter wille van sy toerismebedryf. Hóé geweldig hierdie toerismebedryf reeds gegroei het, kan gesien word aan die luukse hotelle wat die een langs die ander op die agtergrond uittroon.

Weda betig haarself dat sy nou kinderagtig is. Die eiland wat sy in haar gedagtewêreld opgetower het, bestaan nie meer nie. Die aardbol het te klein geword. Dit is nou maar net ’n ronde balletjie en nêrens, nie eens op hierdie afgesonderde eiland in die hart van ’n ontsaglike oseaan, sal jy die misterie en wonder van die oorspronklike skepping terugvind nie.

Hoe jammer, dink sy. Hoe jammer dat daar nie ’n enkele stukkie van die oorspronklike Eden bewaar kon bly nie, waar die moeë reisiger van die twintigste eeu kan gaan kyk hoe die Skepper dit oorspronklik op daardie eerste skeppingsdag bedoel het.

Sedert die dag toe Wallis se matrose voet aan wal gesit het op die swart lawastrande van Tahiti, was hierdie paradys nie meer ’n paradys nie; dit het stadig begin verander, ontaard, totdat dit vandag soos die res van die aardbol lyk. Toeriste stroom elke jaar in hul duisendtalle na hierdie uithoekie van die aarde, maar dít wat hulle hier kom soek, is nie meer te vind nie – hulle het dit self vernietig. Dit kon net sowel Miami-strand in Amerika gewees het.

Tog het daar iets egs, al is dit ook net ’n afglansing van die oorspronklike, oorgebly. Waar hulle dit eers gedoen het uit suiwer lewensvreugde, doen hulle dit nou as deel van die toeristeaantreklikheid van die eiland: die meisie van die reisbrosjure met die swaaiende grasrompie het meteens verdriedubbel. Hulle staan in ’n ry op die kaai, die pragtige swart hare tot aan die ritmies bewegende blomme om die volmaakte rondings van die bolyf en nek. Die klaende tone van die kitaar en ukelele bring ’n byna dierlik ongebonde ritme in die swaaiende heupe en arms. Die hoelameisies van Tahiti in al hul Polinesiese prag en geheimsinnigheid!

Weda staan ’n entjie agter madame Levaux en Eugenie en laat haar blik ook oor die saamgedromde mengelmoes van mense voor hulle op die kaai dwaal. Sy weet nie of sy bly of spyt is dat sy binne enkele oomblikke die hooggeagte heer Louis de Bougainville sal ontmoet nie. Aan die een kant het sy gehoop dat hy nie sy gaste sal kom ontmoet nie. Sy is teësinnig om met die man kennis te maak. Aan die ander kant het vroulike nuuskierigheid haar deeglik beet.

Sy frons effens. Sy is geensins tevrede met die verloop van sake nie. Sy wou gehad het dat daar by hul aankoms in Tahiti vir haar ’n plek bespreek word op die eerste beskikbare vliegtuig terug. Dit was altans die verstandhouding van die begin af – sodra Eugenie op Tahiti aanland, is Weda se verpligtinge afgehandel. Eugenie het egter ander planne, het sy vanoggend gehoor.

Die Franse meisie het eers gesoebat, en toe dit nie slaag nie, begin huil en haar later in so ’n toestand opgewerk dat haar ma verplig was om Weda te vra om tog net ’n rukkie op Tahiti aan te bly. Nie dat Weda sou omgee om eers ’n paar dae op die lieflike eiland te kuier en dit beter te leer ken nie. Sy weet maar te goed dat sy nooit weer in haar lewe dié voorreg sal hê nie. Dit is egter die gedagte dat sy van Louis de Bougainville se gasvryheid gebruik moet maak en dat sy in sy huis sal tuisgaan, wat die vlieg in die salf is. Eindelik het sy teësinnig toegegee, want sy het besef dat Eugenie haar eintlik nog nodig het. Dis net sy wat iets met Eugenie kan uitrig wanneer sy deur pyn en spanning oorval word; net sy wat haar weer tot kalmte kan bring met massering.

Franz het gejuig van vreugde toe sy hom kort voor hul aankoms in die hawe gesê het dat sy nog ’n paar dae sal vertoef voordat sy huis toe vertrek.

“Ek is vreeslik bly om dit te hoor, Weda. Nou kan ons Tahiti saam verken!”

Daar was net tyd vir knik en toe het sy haar gehaas om toe te sien dat alles gepak en reg is. Sy kan die vreeslike spanning waarin Eugenie verkeer, duidelik in die donker oë sien, en weer eens voel dit vir haar of sy die meisiekind tot nugter denke kan klap. Maar dis ’n bietjie laat.

Haar blik val op ’n man wat die loopplank opgestap kom, en sonder dat iemand haar hoef te sê, weet sy dat dit net Louis de Bougainville kan wees.

Die trotse, koninklike wyse waarop hy sy kop op die breë skouers dra, laat hom uittroon bo die ander mense wat die loopplank opstroom. Daar is iets in die ritmiese beweging van die skraal heupe soos hy sonder haas nader stap, wat haar laat dink dat die De Bougainvilles deur die geslagte heen ook iets van die ongebonde Polinesiese ritme geërf het. Hy is in vleklose tropiese wit geklee en sy tande blink wit teen die sonbrand van sy vel toe hy sy gaste raaksien.

Weda staan doodstil terwyl sy toekyk hoe hy eers oor Madame se hand buig en dan weer oor Eugenie s’n, en sy weet, anders as Eugenie wat maar net ’n vae beskrywing van hom kon gee, dat sy Louis de Bougainville in die fynste besonderhede aan Marina sal kan beskryf wanneer sy terug is in Suid-Afrika. Teen wil en dank beïndruk hy haar, en Weda weet – of jy van Louis de Bougainville hou of nie, een ding is seker: ignoreer kan jy hom nie en vergeet sal jy hom nooit nie. Met watter gevoelens jy hom onthou, is ’n ander saak. Sy weet ook met ’n vreemde beklemming in haar binneste dat Louis de Bougainville, net soos die pragtige eiland, altyd deel van haar herinneringe sal bly.

En dis nou die man agter wie Madame haar dogter halfpad om die aardbol gesleep het; met wie Eugenie, ten spyte van ’n ander man se beeld nog helder in haar hart, vasbeslote is om te trou. Weer, asof deur ’n magneet getrek, gaan Weda se blik terug na die sterk gesig. Dis met die grootste teësin dat sy eerlik aan haarself erken dat Franz geweet het waarvan hy praat. ’n Meisie sal maklik op hierdie man verlief kan raak, baie maklik. Miskien sal dit Eugenie glad nie lank neem om Franz heeltemal te vergeet nie. In alle eerlikheid moet Weda erken dat Louis de Bougainville ander mans afgewater en oninteressant laat vertoon. Die arme Franz, self oulik en aantreklik, het nie verniet die stryd gewonne gegee voordat hy nog begin het nie.

Agter haar rug hoor sy ’n geamuseerde stem opklink.

“Wel, Weda? Sien jy nou wat ek bedoel het? Dit help nie om teen só ’n man mee te ding nie.” Daar is ’n treurige trek om sy mond, maar sy oë skerts in hare af toe sy omdraai na hom. “Moet jy tog nou nie ook die kluts kwytraak nie. Ek wil nie sien dat jy jou hartjie op Tahiti moet agterlaat nie.”

“Moenie verspot wees nie, Franz!” Sy kyk hom erg ontevrede aan. “Hy is nie my tipe nie. Glad nie. Ek wil hom nie present hê nie. Ek sal die stuipe kry as ek ’n man moet hê oor wie al wat vroumens is in ’n beswyming raak. Gewoonlik is daardie soort mans egoïstiese skepsels wat dink hulle is kaas. Nee wat, dankie, regtig. Eugenie is welkom.”

Dit tref haar skielik dat die glimlag van Franz se gesig verdwyn het en dat hy na iets of iemand agter haar kyk. Dis in haar gasheer se donker, priemende oë wat sy vaskyk toe sy omdraai. Anders as in die geval van madame Levaux en Eugenie, neem hy nie haar hand toe die bekendstelling gedoen word nie, maar knik net styf met die kop en gee dan dadelik sy aandag aan die jong dokter.

“Ek is bly om te sien jy het ook veilig aangekom, Leucas. Ek het vir jou ’n motor gekry. Dit wag reeds en sal jou na jou losiesplek toe neem. Ons praat later.”

Gedwee volg Weda die ander drie die loopplank af. Sy het die gevoel dat sy diep in die moeilikheid getrap het. Sou die man haar gehoor het? Nou wat daarvan as hy haar gehoor het? vra sy haarself af met ’n bravade wat sy nie werklik voel nie. Wat kan haar mening hom tog skeel?

Met Louis de Bougainville aan hul sy, neem dit ’n rekordtyd om by die doeanebeamptes verby te kom en eerlank sit hulle in die motor wat op hulle gewag het.

Voor in die motor langs hul gasheer is Madame nie ’n oomblik stil nie. Agter in die motor sit Eugenie met ’n aangeplakte, onnatuurlike glimlag wat gans te breed en oordadig is om waar te wees. Weda sug en kyk met verdeelde belangstelling by die venster uit. Sy neem haar die hoeveelste keer voor dat sy Eugenie gaan los om haar eie heil uit te werk.

Sy dwing haar gedagtes doelbewus na wat by haar oë verbyflits en weer eens kan sy nie help om ’n gevoel van teleurstelling te ervaar nie. Alles wat jy in Suid-Afrika te siene kry, kan jy ook hier sien – haarsalonne, reisagentskappe, apteke, supermarkte en, oorheersend oor alles, die een luukse hotel op die ander. Sy gewaar selfs ’n verkeerskonstabel, ’n fris Polinesiër in uniform, wat sy bes doen om die stroom voertuie op die kleurryke esplanade, die Quai Bir Hacheim, te reël.

Sy is nie bewus daarvan dat die teleurstelling so duidelik in haar oë weerkaats lê nie. Sy weet ook nie dat ’n paar donker oë elke gesigsuitdrukking van haar in die truspieëltjie dophou en opsom nie. Sy kom dit eers agter toe daar ’n oomblik van verposing in madame Levaux se gebabbel kom.

“Jy is teleurgesteld in Tahiti, mam’selle? Maar jy moenie so gou ’n oordeel vel nie. Dis verkeerd om sommer met die eerste oogopslag op sigwaarde te oordeel.”

Daar is iets in die blik wat hare ’n oomblik in die spieëltjie gevange hou, wat haar vertel dat hy nie net van haar indrukke van Tahiti praat nie. “Wat jy hier sien, is nie Tahiti nie. Dit is die Riviera van die Suidsee. Tahiti lê verder aan. Jy sal nou sien.”

’n Rukkie later, toe die Riviera van die Suidsee, soos hierdie deel van Papeete deur die ryk toeriste gedoop is, agter hulle lê, kronkel die pad verder, hoër en eindelik begin dit lyk soos Weda dit in haar drome gesien het en hoe die reisbrosjures dit aan reisigers voorstel.

In swyende bewondering en respek vir die tuin wat die Skepper hier tot stand laat kom het, kyk sy toe en sonder dat sy dit agterkom, verminder haar gasheer spoed. Weer is daar tonele van belaaide frangipani; rooi, geel en papierwit hibiskus; hangende bougainvillea van alle kleure, skarlaken opuhi; wit en geel jasmyn – asof die Skepper ’n hand vol saad oorgehad het nadat Hy die res van die wêreld geskape en dit toe hier uitgestrooi het. En tussendeur, in tropiese baldadigheid, groei die kokosneutpalms, broodbome, mango’s, avokado’s, ysterhout, die donker Tahitiaanse kastaiings, die stekelrige skroefpalm, tamarisk en boomvaring. Die aarde is oortrek met die kleur van blaar en blom, die mos hang soos lang, groen trane aan die takke van die ysterhoutbome, die rankplante slinger van die een boom na die ander soos geweefde gordyne.

Voor hul oë sprei ’n vallei oop met ’n roerlose, blouselblou meer, terwyl duiselingwekkende basaltpieke waghou oor al die paradysweelde aan hul voete, hul kruine nog steeds omhul deur mis asof die eeue oue geheime van die voorvaderlike Polinesiërs so teen vreemde oë bewaar word.

“Hierdie vallei heet Fautauna, en daardie pieke, die hoogste by die twee duisend vyf honderd meter, word Orofena genoem, en Aorai met die skerp punt en die laer een, Diademe. Papeete lê nou agter ons.”

Skielik verrys daar uit die tropiese lower ’n gebou wat Weda spontaan laat uitroep. Madame gee ook haar volle aandag, want hierdie plek, hoop sy, is haar dogter se – en dan ook haar eie – toekomstige tuiste. Dis ’n indrukwekkende dubbelverdiepinghuis, spierwit teen die groen lower wat tot teen die mure in natuurlike vryheid groei, feitlik oortrek met pers bougainvillea. Dis volgens die Victoriaanse styl gebou.

“Welkom by my tuiste,” sê hul gasheer. “Ek hoop jy sal hier volkome herstel, Eugenie.”

Sy glimlag net bewerig terug en dis Madame wat vinnig sê: “Maar natuurlik sal sy. O, Louis, elke keer dat ek jou huis sien, gryp dit my opnuut aan. Dis darem net iets fantasties!”

Hy glimlag en hou die deur oop; kyk ondersoekend na Weda. “En jy, mam’selle? Jy het nog niks gesê nie.”

Weda ontwyk die donker blik, haar oë stip op die huis voor haar gerig. Sy sal vir hierdie man moet oppas. Daardie donker oë kyk vinnig en diep. Hy moet iets in haar oë gelees het, iets van die gedagtes wat deur haar gegaan het – die vae jaloesie teenoor Eugenie wat in hierdie idilliese plek kan kom bly, eendag die heerseres hier sal wees. Sy betig haarself onmiddellik. Moenie verspot wees nie, Weda Henkel, hierdie soort lewe was nog nooit vir jou bedoel nie. ’n Ou Victoriaanse huis op ’n droomeiland, verbeel jou. Dis belaglik om selfs net vaag jaloers te wees. Jy het reeds meer ontvang as wat jy ooit van kon droom. Moet nou nie na die onmoontlike begin verlang nie. Maar tog … ’n Oomblik laat Weda haarself toe om te wonder … te wonder hoe dit moet voel om in só ’n huis te bly, om elke dag hierdie uitsig van ’n potblou meer, hemelreikende basaltpieke en baldadige natuurweelde om jou te hê en … en dit alles te kan deel met ’n man soos … Louis de Bougainville. Want hoewel sy nie van hom hou nie – natuurlik hou sy nie van hom nie – is en bly hy ’n baie aantreklike man.

Sy lig haar blik op en kyk hom vas aan. “Dit pas perfek in my droombeeld in, m’sieur.”

Sy wenkbroue lig. “Droombeeld? Maar soms raak droombeelde werklikheid, mam’selle.”

Sy skud haar kop laggend en klim uit toe hy die deur vir haar oophou. “Nie vir mense soos ek nie. Ek sal nog skaars besef dat ek hier was, dan vertrek ek al weer.”

Hy frons. “Ek begryp nie. Is jy dan nie Eugenie se privaat verpleegster nie?”

“O ja. Maar dit was net vir die reis. Nou is sy veilig hier en ek is nie meer nodig nie.”

Sy draai direk na haar pasiënt wat baie fyn en delikaat in Louis de Bougainville se arms vertoon. Hy het haar uit die motor getel en dring daarop aan om haar huis toe te dra, aangesien sy vir hom bleek en swak lyk.

“Onthou dat ons so gou moontlik my plek bespreek, Eugenie. Hier doen mos darem gereeld vliegtuie aan, nie waar nie?”

Die donker kop knik en nog steeds fronsend kyk hy Weda stip oor Eugenie se kop aan.

“Ja. Ons is heeltemal by die res van die wêreld ingeskakel. Meer as twaalf verskillende rederye bedien Tahiti. Maar is daar rede vir soveel haas?”

Eugenie kyk Weda ook ontevrede aan. “Maar jy het belowe, Weda, jy sal ’n rukkie bly! Jy kan nie nou op jou woord teruggaan nie! Louis, praat met haar …”

Weda blik vererg na Eugenie. “My betrekking wag op my. Jy weet dit, Eugenie. En ek sien mos jy is in goeie hande. Ek is nie meer nodig nie.” Sy draai beslis om en begin dadelik aanstap huis toe, haar blik dwalend om haar.

Ja, sy moet liewer hier wegkom. Die plek sal ’n houvas op ’n mens kry. Sy sal later nie wil teruggaan nie. En sy het niks hier te soek nie. Sy het Eugenie veilig in haar toekomstige man se arms afgelewer, en hulle is ’n baie oulike paartjie, dit kan sy eerlik sê. Die lang, donker man met die fyn Franse meisie in sy arms. Geen wonder Madame lyk soos ’n kat wat op ’n kan room afgekom het nie.

Daar is ontsteltenis in Eugenie se oë terwyl sy Weda sien wegstap. Sy draai vinnig na die man wie se gesig net ’n paar sentimeter van hare verwyder is.

“Louis, ek is nie meer werklik siek nie, maar ek het nog haar hulp nodig. Ek kry nog pynaanvalle en dan weet sy presies wat om te doen. Asseblief, jy moet met haar praat en haar oorreed om nog ’n rukkie te bly.”

Hy kyk op die skraal gesiggie af, glimlag gerusstellend en begin met sy ligte vrag aanstap. “Moenie bekommerd wees nie, kleintjie. Weda sal vertrek wanneer ek so sê – nie voor die tyd nie.”

Tahiti, verre land

Подняться наверх