Читать книгу Errol Tobias: Suiwer Goud - Errol Tobias - Страница 4

Оглавление

Voorwoord

– DOUGIE DYERS, voormalige spanmaat, afrigter en administrateur

ERROL TOBIAS het die smalle weg bewandel en met moed, suiwer geloof en sy buitengewone talent en vaardighede as rugbyspeler die mite die nek in geslaan dat mense van kleur nie goed genoeg is om Suid-Afrika op die rugbyveld te verteenwoordig nie.

Dit was ’n geskiedkundige dag toe die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie onder aanvoering van Cuthbert Loriston en sy komitee besluit het om nouer bande met die Suid-Afrikaanse Rugbyraad te smee en te eis dat mededinging en spankeuses suiwer op meriete geskied en ook op skool-, klub-, provinsiale en nasionale vlak geïntegreer word. ’n Maklike pad was dit nie, maar die Federasie se geloof in sy mense en die gehalte rugby wat hulle speel was allermins misplaas.

Ons is aan die diep kant ingegooi, maar het lofwaardige vertonings gelewer op rugbyvelde hier en reg oor die wêreld, waar ons onder meer teen Engeland, Frankryk en die All Blacks te staan gekom het.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie het verskeie uitstekende spelers opgelewer, maar Errol Tobias staan onder hulle uit as een van die grotes wie se spel ons spelers én ons mense geïnspireer het. Hy is sekerlik een van die beste spelers saam met wie ek gespeel het en wie ek ook later afgerig het. Errol was stil, statig en vreesloos – ONS EERSTE SPRINGBOK!

Errol het ook die weg gebaan vir ons jeug om op meriete Springbokke te word en hulle waardigheid te behou – en dít alles lank voor die demokratiese Suid-Afrika soos wat ons dit vandag ken ’n werklikheid was. Errol het ’n wonderbaarlike bydrae gelewer tot wêreldrugby en is die verpersoonliking van die klassieke gesegde Cometh the hour, cometh the man.

Errol Tobias: Suiwer Goud

Подняться наверх