Читать книгу Errol Tobias: Suiwer Goud - Errol Tobias - Страница 6

Оглавление

Sport en ras in Suid-Afrika: ’n Kort geskiedenis

Suid-Afrikaanse sport, kan ’n mens amper sê, is in politiek ontvang en gebore. Politici het al van vroeg af met sport begin lol. Dit was veral die kleur-samestelling van nasionale spanne wat hulle gepla het.

So het Cecil John Rhodes, aarts-imperialis en destydse premier van die Kaap, die bruin snelbouler Krom Hendricks se insluiting in die Suid-Afrikaanse toerspan van 1894 na Engeland afgekeur. Hendricks moes by die huis bly hoewel hy allerweë beskou is as een van die beste snelboulers van sy tyd.

Sy enigste “sonde” was die kleur van sy vel.

Sommiges het voorgestel hy moes die span as bagasiemeester vergesel, lees ’n mens in Dean Allen se Empire, War & Cricket in South Africa. Maar Hendricks was nie daarvoor te vinde om op hierdie manier verneder te word nie. A.B. Tancred, ’n lid van dié toerspan wat deur Rhodes geborg is, was kwaad omdat Hendricks nie sy spanmaats se tasse wou dra en miskien ’n wedstryd of drie speel as die toestande hom sou pas nie. Dit was nie net ondenkbaar om hom as gelyke saam te neem nie, het Tancred gesê. Dit sou volgens hom ook onhoudbaar gewees het.

Sulke houdings teenoor sportlui van kleur het vererger en mettertyd die norm in die wit Suid-Afrikaanse samelewing geword. Hulle kon glad nie saam met wittes aan sport deelneem nie, al was hulle ook hoe goed. Die moontlikheid van sogenaamde veelrassige of gemengde spanne was vir baie ondenkbaar.

Dit het erger geword in die jare van segregasie in die eerste helfte van die 20ste eeu voor dit in wetgewing vasgelê is nadat die Nasionale Party in 1948 met sy beleid van apartheid aan bewind gekom het.

Die lande teen wie Suid-Afrika op sportgebied meegeding het, het dié stand van sake aanvaar omdat internasionale sportliggame oor die algemeen deur konserwatiewe wittes beheer is. Hulle het steeds teen wit Suid-Afrikaanse spanne meegeding en nie enige spelers van kleur in hul eie spanne ingesluit nie. Die Nieu-Seelandse Rugby-unie het in 1949 en 1960, nes in 1928, nie Maori-spelers in sy toerspanne na Suid-Afrika ingesluit nie.

Die stille goedkeuring van Suid-Afrika se rasse- en sportbeleid sou egter nie vir lank nog voortduur nie. Die era ná die Tweede Wêreldoorlog met al sy gruwels was immers, so anders as in Suid-Afrika, een van gelykheid, bevryding en menseregte.

Druk van buite het oorsese sportowerhede anders laat begin dink. Die Springbok-toerspan van 1960–61 deur Brittanje en Frankryk het met betogers te doen gekry. Dit was op baie klein skaal in vergelyking met die teenstand wat later Springbok-spanne in die buiteland sou begroet, maar dit was ’n bewys dat daar mense was wat ontevrede was met Suid-Afrikaanse rassisme, ook op sportgebied. In Nieu-Seeland is al hoe meer in die openbaar kapsie gemaak teen die uitsluiting van Maori’s uit toerspanne na Suid-Afrika. Die manier waarop die Nieu-Seelandse rugby-owerhede keer op keer hul landgenote verneder het om Suid-Afrika se rassebeleid terwille te wees, het stemme ten gunste van die verbreking met sportbande met Suid-Afrika laat opgaan.

Dit het ook nie net by betogings en openbare uitsprake gebly nie. Suid-Afrika het in 1960 aan Rome die laaste keer vir meer as 20 jaar aan die Olimpiese Spele deelgeneem. Die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) het Suid-Afrika uitgeskop. Wit Suid-Afrikaanse spanne was duidelik nie meer oral in die wêreld welkom nie.

Dié teenstand het soms tot belaglike “hervormingspogings” in Suid-Afrika gelei. So het die regering onder meer ingestem dat swart boksers wel gekies kan word om Suid-Afrika te verteenwoordig, maar hulle mag onder geen omstandighede op dieselfde vliegtuig as hul wit spanlede na die buiteland reis nie. In ’n poging om Fifa te paai, het die plaaslike sokker-owerhede voorgestel dat ’n wit span in die kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker-toernooi van 1966 uitdraf en dat ’n swart span moet probeer om Suid-Afrika vir 1970 se toernooi te laat kwalifiseer. Swart mense kon hul land dus af en toe verteenwoordig, net nooit in een span saam met wittes nie.

Dit het, nodeloos om te sê, nie veel indruk elders in die wêreld gemaak nie. Die teenstand teen Suid-Afrika se rassistiese sportbeleid het verder toegeneem. In 1963 is die South African Non-Racial Olympic Committee (Sanroc) in Londen gestig om saam met ander Suid-Afrikaanse uitgewekenes stukrag aan dié veldtog teen rassisme in sport te gee.

Suid-Afrikaanse rugby is aanvanklik nie veel deur internasionale veldtogte geraak nie: in die eerste helfte van die jare 60 het die Springbokke in Brittanje, Ierland, Frankryk, Australië en Nieu-Seeland getoer en gasheer gespeel vir Skotland, die All Blacks, Ierland, die Britse Leeus, die Wallabies, Wallis en Frankryk. Bande met Argentinië is ook hernieu met ’n Junior Springbok-span (1959) en ’n Gaselle-span (1966) wat in dié Suid-Amerikaanse rugbyland getoer het.

Die Springbok-spanne was steeds wit en apartheid het op die paviljoene gegeld waar swart toeskouers luidkeels die oorsese spanne vanuit hul afgekampte swakker sitplekke (gewoonlik iewers hoog, skuins agter die pale) aangemoedig het. Dit het dan en wan tot opstootjies gelei, maar die rugbybase het nie omgegee solank die Springbokke nog in aksie was nie.

Tog sou die onversetlike houding van die apartheidsregering spoedig ook Suid-Afrikaanse rugby se internasionale verhoudings vertroebel. Die Springbok-toerspan van 1965 was nog in Nieu-Seeland toe dr. H.F. Verwoerd, die destydse premier, dit in sy berugte Loskopdam-toespraak duidelik gemaak het Maori’s sal nie welkom wees as lede van die All Black-toerspan in 1967 nie.

Die toer is afgestel.

Vir baie in Suid-Afrika was dit ’n skok. Die Franse het op kort kennisgewing ingestem om die All Blacks te vervang, maar die skade was gedoen. Hoe gemaak as een van jou mees getroue rugbyvriende nie meer teen jou wil speel nie? Die regering van adv. B.J. Vorster het besef dit sal versigtige toegewings moet maak as dit nie wou hê Suid-Afrikaanse rugby moes soos ander sportsoorte in die woestyn van isolasie beland nie. Hy het (nie lank nadat hy gesê het die Engelse krieketspan sal nie in Suid-Afrika welkom wees met die gebore Suid-Afrikaner Basil D’Oliveira in sy geledere nie) ingestem dat die All Blacks Maori’s mag kies vir hul toer van 1970. Hulle sou as “honorary whites” in Suid-Afrika kon toer.

Die Springbok-span sou egter wit bly.

Die toegewing oor Maori’s was te veel vir sommige van Vorster se ondersteuners en het bygedra tot die skeuring in die NP wat tot die stigting van die Herstigte Nasionale Party in 1969 gelei het. Dit het later in dieselfde jaar ook baie duidelik geword hoe ongewild Suid-Afrika se rassistiese wette en sportbeleid werklik was toe die Springbok-toerspan van 1969–70 oral in Brittanje deur ongekende betogings begroet is.

Betogers het in hul duisende na die Springbokke se wedstryde opgeruk om hul teenstand teen apartheid te kenne te gee. Peter Hain, ’n Suid-Afrikaanse uitgewekene, was een van die protes-leiers. Betogers het met die polisie gebots, buite die Springbokke se hotelle geraas gemaak en voorwerpe soos spykers op velde gegooi. Daar is selfs vir die spelers se lewens gevrees.

Wit Suid-Afrikaanse propaganda, veral die radio-kommentaar van Gerhard Viviers, het die betogers probeer afmaak as nikswerd takhare wat betaal word om te betoog. Van hulle het nie juis daarvan gehou om hul (smerige en natuurlik lang) hare te was nie, is luisteraars wedstryd ná wedstryd vertel, en het glo nie eens geweet teen wie en waaroor hulle betoog nie. Sulke emosionele uitsprake het net die aandag probeer weglei van die ware probleme. Baie het van beter geweet.

Vir sommige het die prys van vriendskap met Suid-Afrikaanse rugby te duur begin word. Selfs jarelange tradisionele rugby-vriende het begin terugdeins van kontak met Suid-Afrika. Die wedstryd teen Skotland in 1969 was Suid-Afrika se laaste vir bykans 25 jaar teen die Skotte. Dié teen Wallis die laaste vir nagenoeg 24 jaar. ’n Springbok-span sou eers weer in 1992 welkom wees om in Engeland voet aan wal te sit.

Druk van dié aard het tot nog geringe toegewings gelei. Roger Bourgarel, die Franse vleuel, het in 1971 byvoorbeeld die eerste swart speler geword wat toegelaat is om in Suid-Afrika teen die Springbokke uit te draf. (Hy het ook diegene wat vas geglo het swartes is nie goed genoeg om teen wittes mee te ding nie op hul neuse laat kyk deur hul held, die veel groter Frik du Preez, op die hoekvlag plat te trek.) Maar geringe toegewings was lankal nie meer genoeg nie.

Die Springbok-toer deur Australië in 1971 het dít bewys. Die betogings was nóg erger as dié wat die Springbokke in 1969–70 verstom gelaat het. Vakbonde het geweier om die Springbokke se bagasie op lughawens te hanteer, botsings met die polisie was alledaags en wedstryde is ontwrig deur betogers wat op velde gehardloop het. Dit het só erg gegaan dat ’n noodtoestand selfs in die staat Queensland afgekondig is. Boonop het ses Wallabies in die openbaar verklaar hulle is nie bereid om teen die Springbokke te speel nie. Onder hulle was die vleuel Jim Boyce wat in 1963 self die gevolge van apartheid gadegeslaan het toe hy ’n lid van die destydse Wallaby-toerspan in Suid-Afrika was. Jim Roxborough het ook van standpunt verander oor Suid-Afrikaanse rugby ná sy ervarings op die Wallaby-toer van 1969.

Teenkanting van spelers was teen dié tyd nie meer vreemd nie. Die All Black-skrumskakel Chris Laidlaw het ná die toer van 1970 gereeld sy wrewel oor Suid-Afrika se rassebeleid in die openbaar te kenne gegee. Walliesers soos Carwyn James, John Taylor en Gerald Davies het ook geweier om teen die Springbokke te speel. Davies het in 1968 as lid van die Leeu-toerspan apartheid eerstehands ervaar. Dit het hom laat besluit om in 1974 uit Suid-Afrika weg te bly toe die Leeus ondanks al hoe hewiger teenstand in Brittanje weer in Suid-Afrika getoer het.

Die sport-deure het ná die Australiese toer al hoe vinniger vir Suid-Afrika begin toeklap. Die Springbokke se krieket-toer na Australië is afgelas en Gough Whitlam, Australiese premier, het in 1972 alle sportbande met Suid-Afrika verbreek. Die Springbokke en Wallabies sou eers 20 jaar later weer teen mekaar meeding. Die Springbokke was eers in 1993 weer welkom in Australië. Nieu-Seeland was ook nie langer bereid om in 1973 gasheer vir die Springbokke te speel nie.

In wit Suid-Afrikaanse rugby-geledere is al hoe meer planne beraam om dié teenstand te probeer ontlont. Dr. Danie Craven, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (SARR), was geen radikale hervormer nie. Sy plan was nooit om die Suid-Afrikaanse samelewing radikaal te verandeer of die heersende politieke stelsel te ondergrawe nie. Hy het wel besef sonder toegewings sal Suid-Afrika net al hoe meer geïsoleer word. Dit was noodsaaklik om spelers van kleur binne die beperkende raamwerk van die apartheidswette by wit rugby te betrek. Die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie (vir bruin spelers) en die Suid-Afrikaanse Rugbyvereniging (vir swart spelers) het saam met Craven-hulle gewerk.

Die South African Council on Sport (Sacos), wat hom sedert 1973 vir nie-rassige eerder as veelrassige sport beywer het, en die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) wou nie geloofwaardigheid verleen aan sulke geringe hervormings wat steeds op gesegregeerde grondslag deur wit rugbybase gelei is nie. Saru het sy eie kompetisies gereël en sy eie verteenwoordigende spanne gekies. Enige kontak met die SARR en sy filiale was taboe. Saru kon spelers of beamptes skors as hulle net na wedstryde van die SARR-groep gaan kyk het. Rob Louw, ’n wit Springbok, is byvoorbeeld by geleentheid toegang tot die paviljoene by ’n Saru-wedstryd verbied. Spelers van kleur buite die Saru-kraal is as “tokens” en “honorary whites” bestempel. Skeldname soos “verraaiers” is ook gebruik. Saru het geglo aan die slagspreuk: Geen normale sport in ’n abnormale samelewing nie. Hoe kan jy, het Sacos en Saru tereg gevra, goed genoeg wees om saam met wittes te speel, maar nie agterna saam met hulle ’n paar drankies te drink of in dieselfde hotel as hulle te bly nie? Tensy jy jouself verneder deur by die regering te pleit om vir ’n rukkie as ’n “honorary white” erken te word.

Spanne soos die (bruin) Proteas en (swart) Luiperds is aan die begin van die 70s “beloon” met toere na Engeland en Italië. Hulle het ook teen die Engelse toerspan in 1972 en die Britse Leeus in 1974 gespeel. ’n Verteenwoordigende, veelrassige Suid-Afrikaanse span het eers in 1975 teen ’n oorsese teenstander gespeel toe Morné du Plessis die Suid-Afrikaanse-vyftiental teen die Franse toerspan op Nuweland op die veld gelei het. ’n Soortgelyke span het ’n jaar later teen die All Blacks gespeel toe die Nieu-Seelanders se toer saamgeval het met die wydverspreide swart jeugopstand wat by skole in Soweto begin het. Die Nieu-Seelanders se toer het ook tot ’n grootskeepse boikot van die Olimpiese Spele in Montreal deur Afrika-lande gelei. ’n Jaar later is gemengde Springbok-proefwedstryde vir die eerste keer gehou. Swart en bruin spelers het agterna verteenwoordigende spanne gehaal wat met die inwyding van die nuwe Loftus Versfeld in aksie was.

Maar die Springbok-span het wit gebly vir die toets teen ’n Wêreldspan op die nuwe Loftus in 1977.

Die eerste toer in die buiteland deur ’n veelrassige Suid-Afrikaanse rugbyspan het twee jaar later gevolg. Dié Suid-Afrikaanse Barbarian-span het uit agt wit, agt bruin en agt swart spelers bestaan. Dit is destyds as ’n groot deurbraak gesien wat veelrassige sport in Suid-Afrika betref en het volgens sommige die weg gebaan vir die Britse Leeus se toer van 1980 in Suid-Afrika. ’n Veelrassige Suid-Afrikaanse-vyftiental was weer dié jaar teen die Leeus in aksie. Errol Tobias het ook vir die veelrassige Junior Springbok-span uitgedraf wat in ’n voorwedstryd vir die vierde toets teen ’n Barbarian-span gespeel het. Hugo Porta, die bekende Argentynse losskakel, was sy teenstander. Die toeskouers in Pretoria het geen twyfel gelaat oor wie hulle gedink het dié tweestryd gewen het nie: Tobias is staande toegejuig vir sy sprankelspel. Nie lank daarna nie het die laaste skans in wit Suid-Afrikaanse rugby begin wankel toe Tobias die eerste swart Springbok in 89 jaar geword het. Craven het uiteindelik sy sin gekry nadat hy vroeër verskeie keer onder druk moes toegee toe hy swart verteenwoordiging in Springbok-spanne wou hê. (As ’n mens die rasse-indeling van die apartheidsregering wil volg, moet Tobias as die eerste bruin Springbok beskou word. Vir die bevrydingsbewegings was almal wat onder apartheid gely het swart genoem, totdat hulle ook enger begin dink het.)

Tobias was lid van die eerste Bok-toerspan na die buiteland in ses jaar; ’n span wat by die Suid-Amerikaanse rugby-agterdeur moes inglip waar hy in lande onder beheer van diktators soos Paraguay, Chili en Uruguay gespeel het en in twee toetse kragte gemeet het met ’n Argentynse span wat weens politieke redes as die Jaguars vermom was. Die Bokke was, ondanks die eerste swart speler in hul geledere in meer as agt dekades, nie in Argentinië welkom nie. Die Argentynse regering wou nie eens sy span toelaat om in die kleure van Argentinië elders op die vasteland of ter wêreld teen die Springbokke mee te ding nie.

Tobias het nie in ’n toets op dié toer gespeel nie. Hy het sy toetsbuiging eers die volgende jaar (as senter) teen Ierland op Nuweland gemaak. Hy het ook in die tweede toets in Durban gespeel en sy skaflike vertonings het hom ’n seker keuse vir die toerspan van 1981 na Nieu-Seeland gemaak. Dit was die eerste Springbok-toer in 16 jaar na Nieu-Seeland en niemand het eintlik geweet presies wat om te verwag nie. Dat daar teenstand sou wees, was gewis. Aktiviste in Suid-Afrika en Nieu-Seeland was hewig teen die toer gekant. ’n Organisasie genaam Halt All Racist Tours was aan die voorpunt van diegene wat die Springbokke nie in Nieu-Seeland wou hê nie. Maar dit was nie net politieke aktiviste wat die Bokke onwelkom wou laat voel in Nieu-Seeland nie. ’n Versoekskrif met meer as 3 000 handtekeninge waarmee inwoners van Auckland en Dunedin die Springbokke gevra het om uit hul land weg te bly, is na die SARR gestuur. Dit het bekend gestaan as die “Book of Unwelcome”. Bruce Robertson, ’n All Black wat in 1976 in Suid-Afrika getoer het, het geweier om teen die Springbokke te speel. So ook Graham Mourie, kaptein van die All Blacks. Naïewe Suid-Afrikaners het geglo die teenwoordigheid van Tobias en Abe Williams, ’n bestuurslid, in die toerspan sou genoeg wees om teenstand te laat vermurwe; om te wys Suid-Afrikaanse rugby-owerhede is ernstig in hul voorneme om weg te beweeg van apartheid; om rugby normaal te probeer maak in ’n abnormale samelewing.

Hulle is wreed ontnugter. Die toer het Nieu-Seeland as’t ware in twee geskeur. Dit het in ’n burgeroorlog ontaard met die polisie in die middel. Gewelddadige botsings was aan die orde van die dag. Die Springbokke moes in Hamilton magteloos uit die paviljoen toekyk hoe betogers die veld beset en die wedstryd afgelas word. Nog ’n wedstryd is weens veiligheidsredes afgelas. Glasstukke en rookbomme is op velde gegooi. Stadions is later met doringdraad omhein en deur die polisie bewaak. ’n Spesiale polisie-eenheid is op die been gebring om die Springbokke te beskerm. Die Springbokke kon dikwels nie eens in hotelle slaap nie en moes op ’n keer op ’n muurbalbaan oornag. Die derde toets in Auckland is voorafgegaan deur bloedige botsings tussen die polisie en betogers in die strate naby die stadion. ’n Ligte vliegtuig het gedurende die wedstryd op spelers afgepeil en hulle met meelbomme bestook. Een daarvan het Gary Knight, All Black-stut, neergevel.

’n Kort besoek van drie wedstryde daarna aan die Verenigde State van Amerika het óók tot betogings gelei. Die eerste toets ooit tussen Suid-Afrika en die VSA het gewys in watter benarde internasionale posisie Springbok-rugby was. Dit is in die geheim op ’n poloveld gespeel. Net meer as 30 toeskouers het dit na raming gesien. Selfs lede van die toerspan het nie eens geweet die wedstryd word gespeel nie. En dit in die VSA, ’n land wat anders as Nieu-Seeland nie juis vir sy rugby bekend is nie.

Die toer van 1981 deur Nieu-Seeland en die VSA het feitlik alle rugbydeure finaal vir Suid-Afrika laat toeklap. Die Springbokke sou in die volgende dekade net vyf keer in aksie wees: twee keer teen die Jaguars, een keer teen Engeland, hulle was in 1986 gasheer vir ’n rebellespan uit Nieu-Seeland (die Kavaliers) en het in 1989 twee toetse teen ’n Wêreldspan gespeel om die honderdjarige bestaan van die SARR te vier. Die All Black-toer van 1985 is afgelas en die Springbokke het toe maar noodgedwonge in daardie jaar van noodtoestande en toenemende politieke onrus deur Suid-Afrika getoer en ’n klompie wedstryde gespeel waarvoor amptelike nasionale kleure nie toegeken is nie. Die Britse Leeus het ook besluit om hul voorgenome toer in 1986 af te stel. In 1987 het ’n span van die Suidsee-Eilande, die Suidsee Barbarians, deur Suid-Afrika getoer. Hulle het nie teen die Springbokke gespeel nie.

Die toer van 1981 was allesbehalwe ’n hoogtepunt vir Tobias. Hy het ook onder betogers se tonge deurgeloop omdat hule hom as ’n “Uncle Tom” beskou het. Die skandalige manier waarop hy deur Johan Claassen, bestuurder, en Nelie Smith, afrigter, behandel is, is welbekend. Hy het hom egter nie laat onderkry nie. Sy grootste Springbok-oomblik het drie jaar later aangebreek met die toer van die Engelse toerspan deur Suid-Afrika. Hy was 34 jaar oud – effens lank in die tand vir ’n agterspeler en veral ’n losskakel, is in sommige kringe gebrom. Maar watter ware rugby-fynproewer sal ooit Tobias se spel vir die Proteas teen die Engelse vergeet? Sy dodelike kurktrekker-lopies waarin hy soms die spot met die Engelse verdedigers gedryf het deur die bal na hulle toe uit te hou; so al asof hy hulle uitgedaag het om dit by hom af te neem. “Hy is nie bruin nie,” het die Engelse afrigter, Dick Greenwood, opgemerk. “Hy is suiwer goud.” Die tweede toets in Johannesburg was seker sy beste in ’n Bok-trui. Hy het op Ellispark nóg ’n mylpaal behaal deur die eerste swart Springbok te word wat ’n toetsdrie vir Suid-Afrika druk. Tobias was teen dié tyd nie meer die enigste swart Springbok nie; die vleuel Avril Willliams het ook in die twee toetse teen Engeland gespeel. Vandag kan ’n mens net wonder hoeveel ander swart spelers deur die jare van apartheid nie soos Tobias en Williams ’n aanwins vir die Springbokke sou gewees het as die beginsel van normale sport in ’n normale samelewing gegeld het.

Dié slagspreuk het uiteindelik teen die einde van die 20ste eeu ’n werklikheid geword toe Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing ’n meerderheidsregering aan bewind geplaas het. Baie waarnemers van die Suid-Afrikaanse geskiedenis sal sê die druk wat organisasies soos Sascoc en Saru teweeggebring het, het gehelp om die einde van apartheid te verhaas. Hulle sal nie verkeerd wees nie. Hulle sal vra of mense soos Tobias werklik iets vermag het. Hy het tog nie die samelewing verander nie, sal hulle sê. Weer sal hulle nie verkeerd wees nie. Hy het wel vir die Springbokke gespeel. Maar die samelewing waarvan hy deel was, was allesbehalwe normaal. Dit het nie eens die skyn van normaliteit gehad nie: Tobias was beperk in waar hy kon bly, waar hy kon werk en vir wie, waar sy kinders kon skoolgaan, waar hy kon vakansie hou, waar hy kon koop, vir wie hy kon stem. Soos baie ander Suid-Afrikaners, ook wittes, kon hy nie eens lees wat hy wou nie. Die (wit) regering kon besluit het waar hy verpleeg word en waar hy eendag begrawe word. Bykans drie jaar nadat Tobias sy laaste toets vir die Springbokke gespeel het, kon mense soos hy nie eens swem waar hulle wou nie. Selfs nie eens as jy soos eerwaarde Allan Hendrickse ’n kabinetsminister was nie.

Iemand soos Tobias was ook nie vir almal in sy eie rugbywêreld aanvaarbaar nie. Wit spelers het oor hom gebrom. Beamptes was hom openlik vyandiggesind. Gits, in 1987 het twee rugbybase (Boetie Malan van Noordoos-Kaap en Daan Nolte van Oos-Transvaal) hulle tot verkiesbaar gestel as kandidate vir die Konserwatiewe Party (KP). Die KP, onder die uiters konserwatiewe leiding van die voormalige skrumskakel van die Suidwestelike-Distrikte, dr. Andries Treurnicht, het glad nie aan normale sport geglo nie. Hulle wou sport én die samelewing abnormaal probeer hou. Die Konserwatiewes was onder meer heftig gekant teen gemengde Cravenweek-rugbyspanne. Springbok-spanne met Tobias en Williams in die geledere was vir hulle ’n spreekwoordelike steen des aanstoots.

Die feit dat Tobias sy rugby in ’n grootliks rassistiese samelewing gespeel het en volgens sommiges bloot op siniese wyse deur wit rugbybase misbruik is om die wêreld oor die ware toedrag van sake in Suid-Afrikaanse sport te probeer mislei, word nou nog soms teen hom gehou. Maar die geskiedenis se oordeel is nooit só eenvoudig nie; al is dit ook net sport-geskiedenis. Die Tobias-verhaal het ook ’n ander kant. Dit móét vertel én gelees word. Dit is ’n verhaal wat vertel van ’n man wat sy hele rugby-loopbaan moes veg teen vooroordele en ’n onregverdige bestel. ’n Dapper en talentvolle man wat die geringe kanse wat hy laat in sy loopbaan gekry het aangegryp het en gebruik het. ’n Man wat grense, rassegrense, oorgesteek het in sy verdeelde land waar geen keuse ooit maklik was nie. Anders as Saru-spelers en beamptes wat in die apartheidsdae vir wittes meestal gesigloos en anoniem was en maklik as “agitators” afgemaak is, was Tobias op hul rugbyvelde en televisieskerms te sien. Hy het bewys swart spelers is net so goed, indien nie beter nie, as wittes. Daarom wil ’n wit man jare later in ’n lughawe-restaurant graag Tobias se hand skud omdat hy hom soveel rugby-plesier verskaf het, omdat hy gehelp het om oë oop te maak, gesindhede te verander. Daarom het toeskouers op Loftus Versfeld hom staande toegejuig. Daarom het wit seuntjies van ’n konserwatiewe Vrystaatse dorp soos Hoopstad al in 1980 op die Vrystaat-stadion tou gestaan om net aan Tobias te raak of sy handtekening te kry; iets wat bykans ondenkbaar was in die Suid-Afrika van daardie dae. Ek weet. Ek was een van hulle.

Daarom moet ’n mens Tobias dalk eerder beoordeel soos wat ’n Engelstalige Kaapse dagblad in 1903 met die senter Japie Krige gedoen het. Krige was een van Suid-Afrikaanse rugby se helde toe ’n Britse span in 1903, skaars ’n jaar ná die Anglo-Boereoorlog, deur ’n Suid-Afrika met sy verdeelde (wit) bevolking getoer het. Met elke tree wat Krige op die rugbyveld gevorder het, het die koerant dalk ietwat té entoesiasties in ’n hoofartukel opgemerk, doen hy meer as al die toesprake van politici om Engelstaliges en Afrikaners nader aan mekaar te bring. Met elke tree wat Tobias op die rugbyveld gevorder het, het hy dekades later gehelp om grense tussen wit en swart af te breek; het hy nes Saru-spelers soos die Watson-broers, uitgewekenes en politieke aktiviste stukkie vir stukkie help wegkalwe aan die muur van apartheid. Dalk onthou die geskiedenis hom eendag eerder daarvoor as vir enigiets anders.

Gert van der Westhuizen

Sportredakteur van Beeld

Errol Tobias: Suiwer Goud

Подняться наверх