Читать книгу Die grafte jubel - Esta Steyn - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 2

Die kartonhart wat geskeur het

Een Donderdagmiddag het die vrou by haar wasbak gestaan. Dit was Desember en dit was vakansie. Haar man en haar tweede seun het Kaap toe gery vir besigheid. Uit die bloute het sy meteens bitterlik hartseer geword.

Sê nou daar is ’n ongeluk? Sê nou my man of my kind kom iets oor?

Die gedagte was verlammend. Sy het begin huil. Haar trane het in die skottelgoedwater geval.

Here, asseblief, moet net nie dat hierdie kind van my vandag iets oorkom nie. Here, hy is my geliefde kind.

Maar die ongewone angs het groter geword.

Hulle moes al drie-uur by die huis gewees het. Waar is hulle, Here?

Dit was vyfuur toe sy die motor in die oprit hoor. Sy het vinnig uitgestorm tot op die stoep, af met die trappe, tot onder by die motor.

Haar man en haar seun het rustig uit die motor geklim. Sy het haar tweede seun se groot, bruingebrande lyf omhels. Sy was te bly vir woorde.

“Hoekom is Mamma so bly?” het hy gevra.

“Ek is maar net verskriklik bly dat julle hier is.”

Dankie, Here! Dankie, dankie.

Sy het die onrus van haar af probeer wegskuif. Dit wou nie heeltemal wyk nie.

Daardie Sondagoggend het die vrou wakker geword en meteens het haar oudste seun se naam in goue letters voor haar oë geflits.

Wat wil u vir my sê, Here? het sy dadelik gedink, en toe: Hierdie kind moet vandag saam met my en my man kerk toe gaan.

Dan kan die tweede seun tuis bly om die kleintjie op te pas.

Sy het na haar oudste kind se kamer toe gegaan. Hy het onder ’n blou duvet gelê en slaap. Hy was groot en bruingebrand; sy liggaam vasgevang in die vreemde, mistieke tienerfase. Sy mond was sag en warm.

Hierdie kind lyk soos jy, het party mense vir die vrou gesê. Hierdie kind lyk soos jou man, het party ander mense gesê.

Sewentien is die brose ontwaking van mens tot man. In hom was ’n leeftyd van herinnering opgesluit, van kraamtyd tot kruiptyd tot kleutertyd tot Kinderkrans tot skooltoegaan tot hoërskool. Die eerste sokkie. Die eerste swart langbroek en bloedrooi hemp. Die eerste meisie.

Die vrou het die kind wakker gemaak en hom aangesê om te gaan stort, want dis kerk. Hy het sy nuwe voorstellingspak aangetrek en sy nuwe das.

En hy het baie mooi gelyk.

Toe is die vrou en haar man en die seun saam kerk toe. Die kerk was nie te vol nie, want dit was vakansie. Maar die vrou was vreemd bewus van haar seun langs haar in die bank. Sy het gedink aan die dag twee maande tevore toe hy voorgestel is. Sy het vir ’n oomblik die teksvers onthou, die een van die verstandige man wat sy huis op rots gebou het. En toe het sy gewonder of sy ’n poeding vir middagete moet maak. Miskien die pienk poeding.

Laat die middag het die seun vir die vrou gevra of hy by sy maat kan gaan oorslaap. Hy het haar by die voordeur gesoen met sy sagte mond. Hy het by die trappies van die stoep afgeloop en sy rugkant het om die hoek van die huis verdwyn. Sy het gehoor hoe sy 50cc-motorfiets oor die werf wegbrom.

Dit was die laaste keer dat sy haar oudste seun by die trappies van die stoep sien afloop het.

Want die aand het die foon gelui en die foon se gelui het haar hele lewe verander.

Daar was ’n fratsongeluk met die motorfiets. Sy valhelm se knippie was nie behoorlik vas nie.

Die kind is oorgeplaas na die Tygerberg-hospitaal in die Kaap. Die gesin het van die Weskus af daarheen gery.

Die kind was in ’n koma.

Hy was aan masjiene gekoppel.

’n Maandagoggend het grys oor die Kaap toegesak. Die vrou het deur die groot hospitaal se gange gedwaal.

Hoeveel mense kom sterwend hier in en gaan gesond huis toe? Hoeveel mense kom sterwend hier in en gaan nooit weer huis toe nie?

Hoeveel stemme en gebede net al in hierdie gange opgegaan? Hoeveel hulpgeroep?

Here, waar is U? Ek bewe van binne. My liggaam is verlam van skok. My kind, Here, my kind.

Die vrou het probeer bid.

Haar woorde het teen die somber grys mure van die hospitaal vasgeslaan en teen die plafon bly sit.

Dit het gevoel soos ’n foonnommer wat aanhoudend die besettoon gee. Of soos ’n sekretaresse wat sê: Jammer, maar Meneer is nie nou beskikbaar nie. Hy is in ’n belangrike vergadering.

Of weet ek nie werklik hoe om te bid nie? Het my gebede net ’n nuttelose geprewel uit gewoonte geword om my beter oor my godsdiens te laat voel?

Waar is Jesus vandag? Die Jesus van die swart-rooi-wit harte?

Watse kleur is my hart nou eintlik?

Swart? Somber soos my verbysterende gedagte aan die dood?

Rooi? Was Jesus se bloed ooit oor my lewe?

Want dis waaragtig nie wit nie.

My hart is kleurlose karton, wat nou aan stukke skeur.

Die grafte jubel

Подняться наверх