Читать книгу Die grafte jubel - Esta Steyn - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk 4

Die vrou wat nie voorberei het nie

Die hospitaal het die seun se klere in ’n plastieksak vir hulle teruggegee.

Die vrou het die dik, donkerblou baadjie teen haar bors gedruk. Dit was uitgevoer met warm wol. Aan die buitekant het daar ’n wit skraapmerk gelê.

Die broek was nog taamlik nuut. Hulle het die een pyp oopgeknip met ’n skêr. Sy T-hemp ook.

Die vrou het die stukke klere gewas en gewas en gewas. Die bloed het uitgekom. Sy het dit op die wasgoeddraad gehang. Sy het gekyk hoe die stukkende repe in die wind wapper.

Daar was ’n R50-noot in die seun se beursie. Die vrou het dit in ’n koevert gesit en na die Kersfonds gestuur. Sy het ’n briefie saamgestuur en gesê dit kom van ’n hartseer mamma.

Die begrafnisondernemer het gebel en gevra dat sy klere vir die kind moet stuur. Klere?

Die vrou het voor die kind se klerekas gaan staan.

Wat dra ’n kind in ’n kis?

Sy voorstellingspak? Dis nog te nuut!

’n Gemaklike sweetpak? Met tekkies by?

Nee, hy gaan nie kerk toe nie, hy gaan nie draf nie.

Die vrou het sy groen ski-pajamas uitgehaal.

Die kind gaan slaap.

Wat van sy voete? Sy pantoffels van handdoekstof? Of sokkies?

Sy was bly oor sy toonnaels wat so netjies geknip was dat die begrafnisondernemer kan sien hoe goed versorg hy was.

Die dominee en sy vrou het gekom. Hulle het die seun geken, want hy was soos ’n kind in hul huis. Hul jongste seun was sy vriend; hy was die aand van die ongeluk saam met hom.

Die dominee se vrou, wat maklik klam oë gekry het, was in trane. Die vrou ken haar goed. Hulle het saam Kinderkrans gehou. Sy was al jare lank die vrou se Bybelstudie-leidster. Maar toe hulle saam om die tafel sit en die begrafnisreëlings tref, wou die vrou hardop uitroep: Dis maklik vir julle om te praat oor die Here se heerlikheid en sy wederkoms en dat ons tydjie op aarde maar net geleende tyd is. En dat dit die Here is wat die kind kom haal het.

Dit was vir my ook voorheen maklik om só te praat. Maar nou is my kind dood. En nou is dit die uur waarin geloof gemaak of gebreek word.

Dit was voorheen maklik om die onsienbare dinge te glo. Om die geloofsbelydenis af te lê: Ek glo in die opstanding van die vlees! Dit het alles so eenvoudig geklink.

Maar nou word ek gedwing om vir myself uit te maak wat geloof is.

Wat ís geloof? Net ’n vorm van troos vir hierdie troostelose aardse lewe?

Om te glo is nie meer vir my genoeg nie. Ek wil voel ek wil sien ek wil hoor.

Die Here van die leërskare en al sy engele en serafs en gesante sal self na my toe moet kom en ’n bietjie vir my moet kom sê hoe dit alles werk. Is ek iewers verneuk?

Want geloof is toe al die tyd nooit so eenvoudig soos swart, rooi en wit nie.

Vir die Kinderkranskindertjies miskien, ja.

Maar nie meer vir my nie. Hóór julle?

Tussendeur het die foon gelui. En die mense het gekom. Hulle het blomme gebring en skons en muffins en toebroodjies.

Die hele dorp se arms was liefdevol gevou om die vrou en haar huismense. En sy het nie geweet wat om met al die goedheid te maak nie. Dit was te veel op een slag.

Die bloemiste het aanhoudend ruikers afgelaai. Die blomme was oral. Ook in die kind se kamer. Selfs in die badkamer.

Geen normale huis het ruikers met strikke en swaar geure in hul badkamers nie. Net huise waar daar dood is.

Wanneer die vrou toevallig by die kind se kamer verbygeloop het, het ’n maat droewig daar op die bed gesit.

“Praat van hom,” het die vrou gesê, “vertel my wat jy van hom af weet.”

“Dit voel vir my ek wil maar net sê: Hy’t nie vyande gehad nie, Tannie. Almal was lief vir hom.”

Die maat wat die aand van die ongeluk saam met hom was, het ’n briefie in die vrou se hand geprop. Die vrou het die kind bitterlik jammer gekry. Hy het so alleen gelyk.

Liewe Tannie en Oom

Sy heengaan was vir almal ’n groot skok en ek kan nog nie glo dat hy nie meer daar sal wees nie. Hy was vir my soos ’n broer en ek het hom liefgehad soos een. Ons vriendskap was blywend en is steeds. Ek besef dat alles tyd gaan vat. Dankie vir jul gasvryheid en ek sal beslis kom kuier. Ek mis hom vrek baie, maar ek weet dat hy nou op sy gelukkigste is. Tannie en Oom moet sterk staan en op God vertrou, want Hy is altyd daar om vertroosting te gee.

Liefde.

Toe dink die vrou: Ek sal hul matriekjaar volgende jaar volg. Ek sal saam met hulle matriekafskeid hou en eksamen skryf. Ek sal hul loopbane volg.

En eendag wanneer hierdie tieners trou, dan nog sal ek die ma wees van die maat wat hulle op sewentien verloor het, toe hulle kwesbaar en jonk was en toe die lewe hulle skielik so hard geslaan het. Want al is my kind dood, is ek nog altyd sy ma.

Die mense het bly kom. Die familie het gekom. Die vrou het ál moeër geword. Die flukse buurvrou van oorkant die straat het gekom en help tee maak. Sy het die skottelgoedwasser binne-in uitgeskrop. Sy het alles skoongeskrop. Sy het liefdevol gesê: “Ek sal sommer jou vadoekies oorkant by my in die Jik laat lê.” Iemand by wie die vrou vroeër nuwe kombuisgordyne bestel het, het gekom om dit op te hang. “Ek sal nie steur nie,” het sy sag gesê, “ek wil net gou die blindings en die gordyne ophang.”

Die vrou het haar aangestaar. Jy sal alles versteur! Die kombuis moet liewer bly soos die kind dit geken het. Ek kan nie nou blou goed hier ophang nie. Hy was gewoond aan die bont.

Maar teen die laatmiddag het die nuwe gordyne in die kombuis gehang. Nog mense het gekom. Nog blomme het gekom. Die vrou moes tee maak in die kombuis wat meteens vreemd gelyk het.

Ek wil nie tee maak nie. Ek wil nie praat nie. Ek wil nie ander gordyne hê nie. Ek wil nie ge-Jik-te vadoeke hê nie. Ek wil niemand sien nie. Ek wil nie lewe nie. Ek wil my kind hê.

Julle wat die blomme bring en die brood en die briefies, julle wat die pakke kaartjies en troosboekies na my huis toe stuur, dis julle wat die dood hier inbring. Gaan huis toe. Vat julle blêrrie brood en blomme en boeke en laat my huis stil word. Want as dit stil word en weer normaal word en as die foon nie aanhou lui nie en die ketel nie aanhou kook nie . . . miskien is dit dan alles net ’n nare droom. En miskien kom my kind dan weer terug.

Die kind het nie gekom nie.

Die lykswa het gekom.

Dit het op die werf stilgehou.

Daar was kranse en blomme. Dit was tienuur in die oggend. Dit was 16 Desember.

En die bougainvillea het sy kleure in trosse oor die stoep afgestort. En baie, baie skoolkinders in skoolklere het rondgestaan onder die kleur daarvan. Maar nie die vrou se kind nie.

’n Entjie af in die straat het die kerkklokke begin lui. Soos honderd keer tevore het die klank oor die werf weergalm. Maar nou het die klank daarvan diep by die vrou se hart ingedring:

Die klokke lui vir my kind. Dit is sy dag. Dit is die dag wat die Here gemaak het. Hoe vreemd tog. Wanneer ’n vrou se kind trou, word daar maande voor die tyd voorberei. Daar word nuwe klere gemaak.

Nuwe skoene gekoop. Die huis word skoongemaak, miskien geverf ook. Die tuin word beplant met nuwe blombeddings. Uitnodigingskaartjies word gestuur. Haarbestellings, eetgoed. Blomme vir die kerk, blomme vir die saal. Die kantdoeke op die tafels. Alles word maande vooraf gereël. En wanneer die klokke lui, is alles klaar.

Maar wanneer jou kind doodgaan, betrap die tyd jou onverwags, op ’n doodgewone weeksdag. Al sou jy al die wit rose in die hele wêreld drie maande vooraf wou bestel.

Jy staan voor jou klerekas en weet nie wat om te dra nie. Daar is nie ’n spesiale rok tussen jou klere nie. Jou hare is nie versorg nie. Jou grimering spoel af onder jou trane. Jy is gestroop. Jy is ontbloot. En jy gaan die dag in met die swart rokkie met die pienk rose, want jou kind het eendag gesê dis ’n mooi rok.

En jy hoor hoe lui die klokke. Dit lui oor jou werf. Dit lui in die strate en dwarsoor die dorp. En dis nie gewone klokke nie.

Die grafte jubel

Подняться наверх