Читать книгу Asbesmiddag - Etienne van Heerden - Страница 5
1 Skaarsheidswaarde
ОглавлениеToe die skrywer vir sy sjampoe en kopmassering gaan sit, kyk hy terloops na regs. Hy sien dat die bejaarde man langsaan kop agteroor lê. Die vel wat oor die adamsappel span, is oud. Oënskynlik ontspanne sit die groot, benerige hande op die stoel se leunings. Maar in die vingers en die kromrugpalms sien hy die opgekroptheid van twee tiere.
Die neus is prominent. ’n Snawel. Groot ore, wat dieprooi word soos die stoom opwalm. Die mond is ontspanne en te gul vir die hande.
’n Reus van die industrie. Nou herken die skrywer hom – selfs vanuit hierdie ongewone hoek. Die beroemde magnaat lê daar onder die hande van ’n vrou wat daagliks vir drie skamele muntstukke ’n minibusrit oor die berg koop vanaf haar afgeleë gehuggie na hierdie dorp tussen die wynlande.
Terwyl hy daar langs die biljoenêr sit, maal sy gedagtes met die intuimelende beelde van die afgelope maande. Hy het pas ’n boek uitgegee. Hy moes deur die brandende hoepels van publisiteit spring en onderhoude voer met koerante en glanstydskrifte wat net op skinder uit is.
Nou werk hy weer aan sy skaarsheidswaarde. Op soek na ’n veilige hawe het hy vandag die donker tonnel van die arkade vinnig binnegestap, haastig met die saloneienaar bladgeskud, sy aktetas aan hom toevertrou, en nou lê hy terug in hierdie stoel.
Laat begaan hy, in hierdie wondbare posisie wat hom aan die oorgawe in ’n tandarts se stoel laat dink.
Hy lê agteroor en aanvaar die warm water wat deur sy hare stroom, die tere, ondersoekende vingers van die masseuse oor sy hoof.
Wat sou sy kon peil van sy onstuimige, opgejaagde gees?
En tog voel hy in haar vingers ’n wysheid, die slimte van die lyf, die instinktiewe vertroosting van die onderklas.
Dis ’n slinkse liefde: dis die blik van ’n hond wat na jou opkyk, of die reuk van ’n ou trui. Iets van ’n moeder se afwesige, bekommerde vertroosting.
Of ’n minnares wat belangstelling begin verloor.
Die salon gee sigself uit as Italiaans. In wese is dit expat-Italiaans. Die eienaar, die enigste gekwalifiseerde kapper, is kort en clichématig. Giuseppe se hare is swart en kort gesny. ’n Romeinse gesig, met opvallende lippe en ’n arendsneus. Kop effens te groot vir die liggaam. Borshare, gryserig, steek by die kraag van hemde uit wat meestal te blink en te goedkoop is. Soms is hulle van beter kwaliteit – maar altyd te styf aan die middeljarige lyf. Die goue kettinkie om die nek.
En die geselsies oor opera. Oor Sisilië. Oor blomme en olywe.
Hier kan die skrywer in vrede teruglê terwyl Andrea Bocelli neurie vanuit die stereostelletjie in die hoek. Agter die palm in sy pot staan die wynrak met bottels olyfolie wat wag om afgeswendel te word aan niksvermoedende kliënte met te veel geld. Meestal mense wat nie noodwendig hul hare wil laat sny nie, maar wat op soek is na die vertroosting van ’n kopmassering.
Giuseppe is gek na Ferrari’s en vertel dikwels hoe hy tot diep in die nag Formule 1 op TV sit en kyk. Hy’t sy aksent nooit afgeskud nie, selfs nie ná ’n leeftyd in Afrika nie. Ter hand het hy, asof getoor uit die niet, ’n Indiese fortuinverteller wat ruik na sweet en drome wat ontstig. Die maer man kom gereeld soos ’n dief in die nag verby die toonbank en die potplant gesluip, en neem by die stomende wasbakke die hand van ’n slagoffer in syne.
Ná ’n kort en intense pouse verklaar hy die Waarheid, teen ’n klein fooi.
Die skrywer was ook al die prooi van hierdie waarsegger. Tydens ’n besoek ’n halfjaar gelede het hy ook geswig voor die skisofreniese oë en die sweterige hande wat syne vashou en oopbuig. Hy is ’n mooi mens, dié Indiër met sy dubbele bodem. Hy stam af van suikerrietsnyers wat lank gelede die land ingebring is, het Giuseppe vertel. Mense wat in die swoel, subtropiese Natal van skepe afgelaai is en oor geslagte heen suikerriet moes sny. Jaar ná jaar moes hulle stry teen die groen oerwoud en wanneer die suikerriet op die regte tyd van die jaar aan die brand gesteek is, op hul hurke sit en kyk hoe die ligte laaie die heuwels bedek so ver as wat die oog kan sien. Die volgende dag het hulle vaal rondgeloop soos as uit die hemel neerdaal.
Daar is ook ondertone van die Mahatma in die man, ’n sieligheid. ’n Kombinasie wat boei: die vlamme wat soos die vuur van ’n revolusie lyk, plus – onversoenbaar – die pasifisme. Hy’t vertel dat sy vader Gandhi geken het toe die ghoeroe in Suid-Afrika was en deur ’n kondukteur uit ’n slegs-vir-blankes-treinwa gegooi is. Sy vader was daar langs die pad toe Gandhi moes uit, het hy vertel, sy vader het alles gesien.
Uit na die luisteraar gly die hand vir ’n fooitjie.
So het die fortuinverteller ook by die skrywer kom sit. “Jy het die konsentrasie van ’n tier,” het die man gesê en in sy oë gestaar.
“Ek is ’n skrywer.” En asof dit ’n verskoning is: “ ’n Romansier.” Hy wou byvoeg: my nering verskil nie veel van joue nie. Maar hy’t gewag op wat kom.
“Romanse? Gelukkige eindes?” Miskien was die Indiër slimmer as wat hy dag, want twee speldeprikkies satire het git getrek in die pupille.
“Inteendeel. Die onafgehandeldheid van dinge.”
Die fortuinverteller het nie geantwoord nie, maar na die skrywer se palm afgekyk en daaroor gestryk. Ná ’n rukkie: “Iemand gaan vroeg in die nuwe jaar probeer om jou grond toe te bring.”
Hy was onkant gevang. “Wie?”
“Iemand baie na aan jou.”
Paniek het hom beetgepak. Water het uit krane geproes en pype het geroggel totdat ’n lugblaas in die wit wasbak uitgehoes is. Hy’t gedink aan sy lewe. ’n Middeljarige skrywer wat sy skouers ooptrek na die kamera, na ’n steeds jonger wordende publiek. Na die terloopse, nomadiese blik van die internetgenerasie.
Toe die waarsegger dít aan hom sê, het die waaksame Giuseppe dadelik nader gestaan met ’n pierinkie. “ ’n Paar olywe, Professore?”
Só is Giuseppe se styl.
Die skrywer is nie verbaas om die magnaat hier te kry nie – Giuseppe se salon lewer sy kwota verrassings op. Die salon is verslons en uit pas met die tyd, versteek in ’n stil arkade wat nie werklik die naam mall verdien nie, al gebruik die klein besighede wat hier geleë is dié term. Die ingang tonnel in onder ’n grys woonstelblok wat op die rand van die universiteitskwartier lê. Digby sit die klubs, waaruit lugverkoelers soggens die vorige nag se reuke van urine, uitgestorte bier en sigaretrook pomp.
En tog kan die skrywer altyd staatmaak op ’n wending, iets wat hy nie verwag het nie in sy aanloop na die salon. Om dié bedryfie te bereik, moet hy verby die selfoonkiosk wat die nuutste Nokias verkoop. Hy staan dikwels daar en staar na die wondere van nuwe tegnologie. Dan stap hy verby die fietswinkel, ’n wegneem-eetplek en ’n fotostaatwinkel wat besigheidskaartjies druk terwyl die klant wag. Hy laat self gereeld nuwe kaartjies daar druk, altyd bedag op duursame papier, ’n effens ongewone formaat en ’n eenvoudige omskrywing. Author, moet daar staan. Romansier. En net ’n straatadres, geen titel of kwalifikasies nie. Niks fieterjasies nie.
Die indraai na die arkade is onverwags. Reg voor hom is die hoofkwartier van ’n charismatiese kerk wat sy geld verdien uit die onsekere siele van eerstejaars van die platteland. Oorkant sit die tuisnywerheid, met ’n daaglikse aanbod van koeke en ander gebak. Reg teenoor Giuseppe se salon is die tuxedowinkel. Op Vrydagmiddae wanneer die skrywer uitgeput vanaf die stad terugkeer, drom studente soos senuagtige bye saam om die pluiskeile, die strikdasse, die blink onderbaadjies en swaelsterte.
Die tuxwinkel se eienaar is ’n jong vrou wat opera haar lewe wil maak. Sy het digte swart hare en sy droom van ’n pupilskap in Wene. Sommige stil middae as dit net die skrywer, Giuseppe en die masseuse in die salon is, kom sing sy arias terwyl sy kop ingeseep word. Saggies sing sy, dankbaar vir die gehoor, en Giuseppe se oë blink van die trane. In die spieël kry die masseuse ’n vredige uitdrukking. Almal voel hulle in die nabyheid van jong talent, van ambisie en Wene wat wink.
Dis die begin van grootsheid, verseker Giuseppe die bestuurder van Tux Dudes elke keer opnuut, en dit in hierdie klein salon so diep versteek onder hierdie swaar, grys ou gebou.
Ten spyte van sy nederige omstandighede lok die salon interessante kliënte, en die skrywer is haas nie die vaalste lojalis nie. Toevallige besoekers wat drupsgewys opdaag, is daar natuurlik wel, maar vir hulle wag daar geen pierinkie olywe nie. Die Indiese fortuinverteller, bottel olyfolie of pastaresep word nie vir hulle opgetower nie. Die tuxwinkel se ster word nie nader geroep op ’n weemoedige namiddag nie.
Maar wanneer die beroemde argitek met sy lang lyf opdaag en die stoel só geskuif moet word dat hy sy lyf met moeite daarin kan wikkel om sy kop op die wasbak neer te lê, is dit oestyd vir Giuseppe. Ook wanneer die afgetrede wynuitvoerder met sy geselsies oor sy mooi piano nobile met die mooi uitsig op die mooi kanaal in mooie Venesië op besoek is. Dan maak Giuseppe in die spieël oogkontak met die skrywer en sy wenkbroue lig.
Of die blinde dame arriveer. Sy is die vrou van ’n ryk landgoedboer en terwyl Giuseppe soos ’n impresario op die agtergrond huiwer, vergas sy almal met vertellinge oor die nuutste lasertegnologie, haar jaarlikse pelgrimsreis na ’n kliniek in Zürich en haar soektog na sig. Daar is ’n politikus, ’n dame wat prominent is in die plaaslike regering, wie se byekorfkapsel nes dié van Maggie Thatcher daagliks aandag verg. Sy is begaan oor korrupsie, die afdank van knap wit dorpsamptenary en die stadige meegee (“soos ’n vloer waaraan houtkewers knaag”) van plaaslike bestuur. Dit sal nog op ’n revolusie uitloop, meen sy, want ook die armes sukkel. Eendag gaan als nog in vlamme op. Pensioene daag nie betyds op nie, die klinieke word al vrotter, elektrisiteit word al om die hawerklap onderbreek. Die nuwe amptenary speel die perde, glip Vrydae vroeg weg casino toe en sê nie nee vir ’n bottel omkoopwhisky nie.
Daar is ’n heer, ’n oudburgemeester, wat begaan is oor die uitsterf van tale. Linguicide is sy geliefkoosde woord terwyl Giuseppe se skêr klik. In sy vrye tyd maak die oudburgemeester wyn. Dis sy manier om aan die tyd vas te hou, verduidelik hy. Biebouw Wyne, noem hy sy reeks. En vertel graag dat ons taal ’n viool is, en dat ons moet sorg dat dit oral gebruik word en nie verswelg word deur die klavier van Engels nie.
Dit terwyl Giuseppe olywe aandra en, terwyl stoom om die sittendes walm, uitroep: “En wat is Italiaans dan? ’n Mondfluitjie of ’n harp?”
Die laaste regular wat die skrywer dikwels aantref, is ’n staatspatoloog. Sy eis absolute stilte. Geen oordadige massering nie. Sy’s sensitief vir aanraking. Sy hou nie van musiek nie. Kennelik moeg gestaar na lyke met afgesnyde kele, skedels waardeur koeëls getrek het en dooie vroue met verkragte onderlywe, sit sy bleek in die spieël. Niemand waag dit om ’n woord te sê nie. Die fortuinverteller stap binne, gee die situasie een kyk en verdwyn vinnig. Met haar nat hare en wit handdoek om die skouers lyk die staatspatoloog asof sy vir die guillotine voorberei is. Haar kop gaan rol, dink die skrywer dikwels –waarom, weet hy nie.
In die twaalfde jaar van die nuwe republiek vorm hierdie groepie die elite van Giuseppe Professional Hair Stylists, Winkel 54, Erfenissentrum, waartoe die naam van die dorp nog gevoeg moet word.
Vir die skrywer word hulle almal gedaantes van sy gemoed. Selwe van sy self. Elkeen verteenwoordig ’n toertjie in sy repertoire. Ja, lyke kan hy oopsny. Na Italië mag hy smag. En blind is hy gebore.
Nie een van hulle sal vermoed dat ’n videokamera nog in die plafon geïnstalleer sal word nie. Dit het ’n klein lens wat byna onsigbaar is vir die blote oog. Getrou sal dit elke woord, elke klik van die skêr of storting van ’n kraan dokumenteer. Dit sal die pierinkie olywe dophou, die fortuinverteller aanhoor wanneer hy ’n niksvermoedende handpalm platstryk, dit sal kyk hoe Giuseppe indut wanneer dit stil is en niks sal dit ontgaan nie.
Maar dit lê nog voor, dit kom later.
Aan die begin is verwys na hierdie woonplek as ’n dorp. Helaas, eintlik is dit nie meer ’n dorp nie.
Nuwe en onoordeelkundige geld stroom in en die buitewyke is deesdae ’n woud hyskrane, ’n niemandsland van beton, ’n bloeiende woestyn met piramides badkamerteëls. Frenetiese loodgieters jaag in bakkies rond, verby donderende lorries met agterop opgerolde lappe gras wat soos reuserolmops lyk. Die sekuriteitskomplekse en hul strate het buitewêreldse name: Windsor Close, Montenegro, Manchester Village, Beverly Hills. Klaarblyklik voel ontwikkelaars dat potensiële kopers oral sal wil bly behalwe in Afrika. Pleks dat die Minister van Kultuur ou Afrikaanse plekname verander, dink die skrywer, moet hy eerder vergader met hierdie ontwikkelaars wat so ’n uitheemse taalkombers oor die landskap gooi. Oxford Place. Manhattan. Kamma-Toskaanse huise verrys uit die goeie aarde waar nie so lank gelede nie, en in vredevolle middae, herfserige lappe wingerd in skakerings van oranje, bruin, rubikonrooi en ougoud teen die heuwels uitgesprei het.
Die roetine waaraan die skrywer en ander kliënte – of dalk eerder gaste? – van Giuseppe Professional Hair Stylists hulself onderwerp, is eenvoudig. Dis bedink deur Giuseppe se geliefde, Maria. Sy is ’n vrou van omvang, maar haar liggaamsvet is nie van die slap soort nie. Sy is sterk gebou en strydlustig.
Sy is nog korter as Giuseppe, en stap met bak arms. Haar hande is uitgeswelde poffertjies en haar vingers stywe worsies. Haar kop is klein, met spits, alarmistiese haarpunte wat ’n beeld van konstante verontwaardiging wek. Haar oë, na aan mekaar, is baie donker, baie intens.
Die skrywer is lief vir Maria, en hierdie beskrywing moenie as pejoratief ervaar word nie. Normaalweg sou hy sy skryfstudente aan die universiteit in die stad waar hy hoogleraar is, waarsku oor leserreaksies teen so ’n polities verkeerde beskrywing, so ’n eksternalisering van ’n vrou. Maar dis nou eenmaal soos Maria lyk.
Preutse teorieë uit die akademie loop hulle dikwels teen die lewe vas. Hy vermy hierdie preutsheid doelbewus, welwetend dat die lang messe sal uitkom. Hy’t jare gelede al ’n opmerking van Michel Foucault oor Nietzsche bokant sy skryftafeltjie opgeplak. Hy kyk daagliks daarna: There is in Nietzsche’s work a roughness, a rustic simplicity, an outsideness, a kind of mountain peasantness, that allows him, with a shrug of the shoulder and without appearing ridiculous, to say with unavoidable force: “What non-sense that all is!”
In wese is hy nie konserwatief nie; dis net dat hy as skeppende gees ’n verweer nodig het teen die politiek korrekte geykthede om hom. Dié frase sit daar om hom die nodige hardkoppigheid te gee. Anders slaan die tye sy arms lam.
Maria herinner hom aan skaduwees uit sy kinderdae: ’n stoet gesette vroue, sommige stil en ander spraaksaam, van wie hy nie al die name onthou nie. Nie net het hul gul liggame hulle onderskei van sy moeder, die boer se vrou nie, maar hierdie bediendes het ’n ander reuk gehad as sy moeder. Vir hom as seuntjie ’n eksotiese geur, die reuk van die lewe wat gelei word in die werkershuisies anderkant die bult, buite sig van die plaashuis.
Hulle het geruik na Mum. Soms was die goedkoop reukweerder gedaan en dan was daar die reuk van sweet, ’n malse geur gemeng met dié van vuurrook en die beesmis waarmee hulle die vloere van hul strooise gesmeer het. Om hulle het die reuk van ongesoute vleis gehang. Hulle het soggens werk toe gekom met ledemate wat blink ingevryf is van die beesvet, en hom laggend in hul arms gevang as hy by die kombuisdeur uitstorm na waar hulle nog in aantog was met die voetpaadjie.
Apartheid het baie liefdes verbloem.
Hy was ’n onrustige kind en om hom stil te hou, het hulle hom oral oor sy lyf gevryf. Dit het ’n heerlike kalmte oor hom laat kom, ’n dromerigheid, ’n verliefdheid. Hulle was oppassers – in die taal van die tyd is hulle “kindermeide” genoem – en hulle had hul eie geheime. Van sy vroegste herinneringe is aan so ’n vrou, waar hy wiegend vasgebind op haar rug lê terwyl sy hande-viervoet rooi politoer aan een van die opstal se stoepe vryf. Dit was ’n nêrensgevoel, ’n gevoel van geborgenheid, van narkotika. Hy kan die herinnering nou nog na bo wil: die dik bruin hande wat die rooi politoer uitstoot, die borsel wat stewig vryf totdat die son in die stoep kom sit, so helder soos daar bo in die hemel. Hul verhale en hul taal het soos ’n kombers oor hom gevou en as hy kon, sou hy hulle nou elkeen gaan opsoek. Maar hulle het verdwyn in die naamloosheid wat die ruimte vorm vir soveel swart en bruin karakters in die verhale van hierdie land.
Hy vermoed dat Maria, nes Giuseppe, haar slagoffers versigtig kies. In ander omstandighede, en met ’n ander lyf, sou sy geliefde Maria ’n courtisane van groot faam kon wees.
Hy en die ander kliënte is mense wat hier kom wegkruip teen die dinge wat hulle jaag, en Maria, ondanks haar gebrek aan skranderheid, weet dit instinktief.
Hulle is hier om ou herinneringe op te soek, en dit het haar nie ontgaan nie, vandaar die rituele wat sy bedink het.
Hy kom hier as akademiese vlugteling – Engels het ’n beter woord: refugee – uit die moderne universiteit. Hy is een van daardie treurige siele wat instinktief sy rug draai op die omsendbrief, die agenda. Op wat hy beskou as die burokrate se aanslag op die ruimte van die dink.
In die burgeroorlog waarin die kampuslewe ontaard het, is dit nie ’n gewilde loopgraaf om te beman nie.
Maria begryp dat elkeen van hulle op vlug is: die argitek voor die vergrype wat nouveau riche-ontwikkelaars teen die landskap pleeg, die plaaslike politikus voor die inkalwing van ou instellings en die opmars van nuwe mag, die oud-burgemeester voor die ekologiese ramp van taalsterfte, en die blinde vrou ylings voor die niet. Die staatspatoloog vir die starende oë van die lyke wat sy oopslag ten einde aandadigheid forensies te kan bewys.
Terwyl die nuwe republiek twaalf jaar ná bevryding ylings en halsoorkop sy gang gaan, koek hulle hier saam, expats in die wagkamer van handdoeke en sjampoe, stoom en olies.
Hulle kom hierheen vir eenvoud. Vir die goedkoop stereo’tjie, so anders as die gesofistikeerde klankstelsels wat kristalhelder musiek deur hul huiskamers stoot. Hulle kom vir die pierinkie met vyf olywe daarin, deur Giuseppe opgedien soos ’n offerande van groot waarde, soms met ’n bewende hand. Hulle kom vir die koffie, wat spesiaal is en opvallend duur. Hulle kom veral vir die geskerts en kletsery met siele uit ’n wêreld wat kleiner en eenvoudiger is as die wêrelde wat elkeen van hulle bewoon.
So kry hy hier by Maria, die masseuse Sylvia en die sjampoe-assistent ’n blik op ’n lewe waar die prys van ’n tweedehandse motor-onderdeel en die naaste plek om dit in die hande te kry, van uiterste belang is. Hierdie vroue weet presies waar die winskopies van die dag – poeiermelk, vleispasteie of sopbene – te kry is. Die slapte van die munisipale kliniek en die probleme met gehuurde verblyf word eindeloos uitgerol terwyl hul vingers oor sy kopvel dool.
Toe die skrywer daardie dag vir die eerste keer langs die magnaat sit, is die ou heer nie in ’n goeie bui nie. Die koerante het pas berig oor ’n komplekse poging tot oorname, ’n vyandelike toenadering tot een van die ou heer se kleiner maatskappye. Geensins ’n verkwiklike verhaal nie. ’n Groep jong sakemanne (diegene wat verantwoordelik is vir die nuwe gholflandgoed wat nou die eens pragtige wingerdheuwels met kikoejoe en gekke klein vlaggies bedek) wil ’n vastrapplek in die magnaat se empire kry. Daar word geskinder dat die Jong Turke hul direksies volprop met “kwotas”, die pejoratiewe term vir onbekwame swart direkteure met goeie regeringskontakte.
Dalk is dit dít wat die magnaat ontstel het; dalk is dit die onlangse oorlye van sy eggenoot, wat voor haar afsterwe in hul villa in een van die dorp se stil ou buurte gelê het en aan wie miljoene rande geen lewenskrag kon teruggee nie. Almal het geweet van haar. Alhoewel die egpaar in die gewone gang van sake publisiteit vermy het, was hulle in ’n groot mate deel van die dorp se openbare bewussyn danksy hul bewilliging van fondse vir kuns en kultuur.
Tewens, in die lewe van elkeen in die salon wat deur daardie versteekte kamera in die plafon gedokumenteer sou word, had die Doktor, die ou nyweraar, ’n rol. Aan die oud-burgemeester met taalangs het hy geld bewillig om veeltaligheid te bevorder. Die argitek word besig gehou met die restourasie van die oudste geboue in hierdie dorp én ander dorpe om die Kaaps-Hollandse argitektuur vir die nageslagte te bewaar, alles befonds deur die magnaat. Die blinde vrou is na Zürich danksy ’n wenk en met behulp van fondse wat die magnaat diskreet deur ’n tussenganger beskikbaar gestel het. Giuseppe se seun is op kollege; sy klasgeld word betaal deur die ou Doktor, wat al jare hier kom.
Nie een regular weet van die ander se skatpligtigheid teenoor die magnaat nie. Dis net hy, die skrywer, wat dit vermoed. En natuurlik Giuseppe. Hy weet van als. Hy voer immers intieme fluistergesprekke met wie ook al elke dag onder die wit doek onder sy hande sit.
Wat die presiese rede vir die ou heer se grommerigheid is, weet die skrywer egter nie op hierdie dag nie. Toe hy die arkade – wat hom soms aan ’n steeg herinner – binnegekom het, het hy die magnaat se motor ’n paar tree weg voor die fietswinkel geparkeer sien staan, die chauffeur wagtend agter die wiel – ’n seker teken aan die buurt se winkeleienaars dat “die Doktor” se kop gemasseer word deur Sylvia. Later sal sy wel, fooitjie in die hand, spoggerig by die sentrum uitstap en daar in die straat tot in die fynste besonderhede rapporteer oor die stand van die magnaat se gesondheid en sy bui.
Die romansier kom al jare na Giuseppe se salon. Die magnaat kom gewoonlik soggens, wanneer die skrywer óf tuis aan die skryftafel sit óf op kampus is. Dis net sedert die ou heer se kragte weens verslegtende gesondheid so erg begin taan het dat hy hom wend tot middagbesoeke.
Die skrywer vermoed dat die middag die magnaat goed pas. Die oggendenergieë wat deur hul mooi dorp vol jongmense bruis, het dan weggeëb. ’n Doodsheid lê oor die sentrum waar die salon is. Dis die stil ure. Water en seep wat gedemp klots; Maria en Sylvia wat fluister in die teenwoordigheid van soveel geld en mag.
Dus was hy voorbestem om die Doktor hier aan te tref. Dis ook lankal – jare, sou hy meen – Giuseppe se wens dat hulle twee hier in gesprek moet tree, die skrywer en die moeë ou sakereus.
Op sy manier is Giuseppe nuuskierig. Enersyds is daar die man wat deur keurigheid en fatsoen sy biljoene moes maak, en die deug moes opvoer in onderhoude en toesprake. Andersyds die man wat as kunstenaar juis die dissidente weg moet inslaan en sy eie konvensionaliteit deurentyd die stryd moet aansê.
Die een wat sukses via fatsoenlikheid moet najaag; die ander wat sy sukses juis vind in die onfatsoenlike.
Giuseppe, die klein impresario. Hy begryp dinge goed, want dekades al werk hy met pratende koppe.
In ieder geval, op hierdie middag van hul ontmoeting, terwyl die skrywer na die wasbakke gelei word, sê Giuseppe in sy sonore Italiaanse stem: “Doktor, die Professore is vandag hier.”
Die skrywer knik bloot (hy is immers hier vir die privaatheid) en gaan sit. Voor hom, in die spieël, sien hy homself sit. Verslons in swart denim. Grys hare platgeslaap aan die een kant. Baardjie, bril. Die tipiese akademikus van ’n eens liberale universiteit, wat nou ossilleer tussen sy tradisie van weerstand en die eise van gedienstigheid aan die nuwe orde.
Langs hom lê die magnaat agteroor in ’n duur, effe verwaarloosde swart pak. Agter die Doktor staan Sylvia glimlaggend. Sy hou die biljoenrandkop soos ’n trofee in haar hande vas. Net die magnaat se das, van die beste sy, is nuut en pragtig, soos ’n enkele pouveer wat oorgebly het. En sy knobbelrige ou hande het mooi versorgde vingers – die skrywer het gelees van die Doktor se gereelde manikure.
Daar was geen reaksie van die ou man op Giuseppe se woorde nie, en die skrywer lei af dat die Doktor uitgeput is deur bekommernisse. Die lewensmoegheid wat dit moes bring om ’n sakeryk in die apartheidsjare te vestig en dit deur die oorgang na die nuwe regime te bestuur! As skoolseun het die skrywer al gehoor van die probleme – sy vader se swaer was dekades gelede sekretaris van Doeane en Aksyns en het in ’n groot kantoor in die Uniegebou in Pretoria gesit. As jong sakereus moes die magnaat in daardie moeilike jare van sanksies met hóm onderhandel om sy produkte landuit te kry.
Al die kompromieë, al die nalatings; al die mooi toesprake oor hoop en harde werk; al die ambisie.
Die skrywer se instink is om die ou heer daar te laat waar hy ontvlugting soek onder Sylvia se hande. Boonop is die bui in die salon vanmiddag onnatuurlik gedemp. Beniamino Gigli is binnensmonds van agter die potplant hoorbaar, asof sy tjank afgetrap is, en dis asof die opgerolde handdoeke en die glansplakkate van pragtige mans en jong vroue met allerlei haarstyle alle geluid absorbeer.
Stilweg werk Sylvia aan die massiewe kop, en dis eers toe die skrywer hom regskuif en met ’n effense draai van sy kop die sjampoe-assistent se oorgooi van die handdoek oor sy skouers erken dat sy blik op die profiel langs hom val.
Almal het hul gode. Ons gode moet liefs nie gedefinieer word nie, lees hy anderdag in Henry James, aangesien hul blote bestaan hul verdediging is. Wie of wat die god van ’n magnaat is, weet hy nie; as skrywer is hy ’n man wat storie as god gekies het. Storie het gesag. Almag. Storie vergewe. Deel straf en seëning uit. Hy is beslis voorbereid daarop dat die antwoord kan wees dat die magnaat se god uiteindelik tog wel geld is! Maar ’n mens weet nooit. Soms lê verrassing in die mees voor die hand liggende dinge – bloot omdat hulle só voor die hand liggend is dat hulle natuurlik en daarom onsigbaar is.
Die arme magnaat, die ou Doktor, dink hy. Dat hy langs mý moet beland, en juis nou terwyl ek op soek is na ’n nuwe verhaal.
Die skrywer dink dikwels aan homself as ’n dier op jag. ’n Skuins, maer hond aan ’t drawwe deur tye van groot honger – ’n hongerte vir andersheid en storie, ’n groot, onblusbare aptyt vir dit wat onverwags en gevaarlik is.
Hy weet wat hierdie oerdrang genoem word. Talent. En talent is, in die laaste instansie, die kompulsie om met die oë en die ore te vreet.
Hy leun terug en dink: Hoe totaal onverras is ek om ’n man met internasionale sakebelange hier aan te tref, een van die rykstes in ons land, tewens, in die wêreld. ’n Man wat die eienaar is van handelsmerke wat daagliks op die lippe, aan die oorlobbe en om die liggame sit van mense van Tokio tot New York tot Parys.
Natuurlik sal die ou man hierheen kom, dink hy. ’n Man wat saam met konings kuier, smag na die vertroostende aanraking van die gewone.
Hy lê terug en maak sy oë toe.
Maria het ’n eenvoudige resep vir moeë oë.
Dié behandeling word gebêre vir spesiale kliënte – of so word dit aan hulle verduidelik. Maar die skrywer kan wel dink dat Jan Alleman, wat hier opdaag vir ’n haarsny en ’n blow-dry, nie juis lou-warm teesakkies op die ooglede sal waardeer nie. Dis ’n gebaartjie van gekheid, ’n totaal onpraktiese kuurtjie vir Giuseppe en Maria se rykes en beroemdes.
En inderdaad, die gaste waardeer die behandeling: hyself, die romansier, asook die lang argitek van kunsmuseums, boetiekhotels en gerestoureerde geboue. Ook die blinde vrou van die wynlandgoedeienaar en die afgetrede sakeman met die piano nobile met sy ongeëwenaarde uitsig oor ’n uitsonderlike kanaal in nooit volprese Venesië.
En ja, ook die magnaat.
Jy lê terug en die doek word om jou keel gebind. Jy word gevra of jy gemaklik is. Indien nodig, word ’n voetbankie nadergetrek. Jou geliefkoosde musiek word uitgesoek. Hulle ken almal die beperkte repertoire van Giuseppe se diskoteek en neem vir lief daarmee. Elke twee of drie maande word ’n nuwe CD egter juigend opgetower. Dis spotgoedkoop by die een of ander uitverkoping aangeskaf, en word met groot gebaar menige keer op dieselfde dag ingewy en gedurende die eerste maand gespeel, totdat al die gereelde kliënte deeglik op hoogte daarvan is.
Terwyl die CD draai, word die temperatuur van die water versigtig op die kroon van jou hoof getoets. Die eerste stroom tref jou soos die onverwagte gaan lê van ’n swart suidooster en die skrywer dink dan onwillekeurig aan die doop met die Gees wat deur die juigkerk in die arkade skuins oorkant die salon bemark word. ’n Vredige gevoel aai oor jou kopvel. ’n Narkotiese aroma van sjampoe vul jou neus.
Ná hierdie aanvanklike stroom plesier word jy gevra om jou oë te sluit. Warm teesakkies, wat intussen in die ketel langs die stapel handdoeke gebrou het, word teer op jou ooglede geplaas. Jy sit daar, in al jou gekke eksentrisiteit, en om jou styg en daal die kletsery saggies.
En dis op so ’n dag – die dag van die skrywer se eerste blik op die biljoenêr – dat die magnaat se bui vertroebel word deur die voormalige Bata-verkoopsdametjie se verhaal van haar oupa se kankerlong. Maar dit hoor die skrywer eers later. Dit het waarskynlik gebeur terwyl hy nog besig was om te parkeer, of sy hand met kleingeld uitgehou het na die swaar vrou met die afgemete voetstappe. Dalk terwyl hy afgestap het na die steeg en verby die Nokiawinkel gekom het, of toe hy gedraal het by die bergfietse in die fietswinkel se venster.
Alhoewel die pers die magnaat deur die jare met afstandelike respek gehanteer het, het ’n blog onlangs verskyn soos ’n rot wat vanuit ’n rioolpyp die helder daglig binneskarrel. Daarna het nog ’n blog die snoet uitgesteek. En gou was daar ’n swetterjoel opinies verstrooi oor die internet. Só gaan dit maar in hierdie tye dat nuus met ’n groot N aan die sterf is – jy is in die hande van enigeen wat ’n rekenaar besit. En dit help nie jy sê hulle moet koek kry as die brood gedaan is nie.
Die rotbloggers se tema was die magnaat se geskiedenis van asbesmynbedrywighede. Sy aftakelaars (en dalk was daardie BEE-opgepompte Jong Turke daaragter, wie sal ooit weet?) het aangevoer dat sy ryk, al het dit deur die jare vertak tot ’n groot empire wat baie industrieë en handelsmerke huisves, gebou is op die beskadigde longe van vele dooie en sterwende mans. Sy lojaliste (en in hierdie dorp is daar baie van hulle) het geargumenteer dat die kankerwekkende effek van asbes in sy dae as asbeskoning haas onbekend was.
Hoe ook al, toe die voormalige skoenwinkelassistent met plebejiese onskuld begin klets het oor haar sterwende oupa wat eens in ’n asbesmyn in die noorde gewerk het, het die magnaat skynbaar geïrriteerd gesê: “Vandag wil ek stilte hê.”
Natuurlik was sy heeltemal onskuldig; sy is maar ’n eenvoudige jong vrou uit die township. Al wat sy weet, is dat hy ’n man van onmeetlike rykdom is, ’n waardige ou gentleman wat weekliks deur ’n chauffeur gebring word vir sy afspraak met seep en water.
Dit alles het die skrywer eers agterna gehoor, nadat die ou magnaat daardie middag die salon verlaat het. Toe sou hy die hande op die stoel onthou: verknot en woedend.
Dit was ’n slegte oomblik vir ’n ou man wat al teenoor Giuseppe opgemerk het dat hy jaloers is op diegene wat eendag sy rykdom gaan erf. ’n Vreemde gevoel, het hy gesê: afguns teenoor diegene vir wie jy die hardste gewerk het.
En toe kom hy, die skrywer, boonop die salon binne. ’n Skrywer wat bekend is daarvoor dat fiksie en werklikheid ’n sluierdans in sy werk uitvoer. Die Doktor, dink hy agterna, het presies geweet wat die nering is van die man wat langs hom kom sit het. En hoe die woord niks minder as knaagdier is nie.
Gedagtig aan daardie hande moet hy dink aan sy eie treurige tiere. Die vernaamste is sy obsessie met sy kuns, wat sy gees aan die verskeur is – en dit aan ’n universiteit wat in die nuwe republiek moet oorleef. Hy is, nes sy kollegas, gewikkel in onophoudelike gevegte waarin hulle hul navorsingsgebiede moet motiveer, hul doseermodules moet verdedig, hul kantoorure opsom, hul dosent-student-ratio bereken. Helaas moet hy ook die verkoopsyfers en inkomste uit sy boeke aan die dekaanskantoor verklaar.
Sy ander tiere hou hy voorlopig geheim. Laat hulle vir eers in hul bamboeswoude bly. En gloei, soos dit tiere betaam.
En so het dit gekom dat die skrywer besef het dat hy en die magnaat al twee skuiling soek teen die wêreld in Giuseppe se salon. Die ou Doktor het ook ’n neiging na die minderes, nes hy – hy herken dit aan die manier waarop die magnaat Maria en Sylvia met vrae peper, aan sy nuuskierigheid.
Hulle is albei, vermoed hy, besonder weerlose mans. Hy is in die woud van sy keuse ’n papiertier – hy gebruik dié term in sy swakste oomblikke helaas nie ironies nie. Die magnaat is ’n roofdier in ’n wêreld waarvan hy as skrywer geen snars weet nie.
Maar nou het ’n wens in hom begin groei. En dis om daardie groot hand vol lewervlekke te sien oopvou in die sweterige vingers van die dubieuse Indiese fortuinverteller – die man wat deesdae, so hoor hy, motors was in die parkeerarea langs die sentrum om sy skamele inkomste aan te vul sodat hy sy swierige tulbande kan bekostig.
Die geur van teeblare is kalmerend, so het die skrywer agtergekom in die salon. Daar is iets in die klamte op die ooglede wat die gees sus. Laat hy hom verstout met die goedkoopste van alle metafore: Miskien onthou jy, onbewustelik, die baarmoeder. Dalk is dit weens die gedwonge duisternis van ’n vogtige en strelende wêreld waarbinne daar geen sig is nie.
Jy kan na binne luister.
Hy het ’n groot vrees vir blindheid. Dis ’n vorm van noutevrees, ’n fobie. Hy het ’n diepe oortuiging dat hy eendag twee keer sal sterf. Hy sal sterwe wanneer hy sy sig verloor, en dan weer wanneer sy hart ophou klop.
Aan wie kan hy dit vertel? Daar is niemand.
Terwyl hy daardie middag langs die ou reus van die nywerheid, die markgenie, gesit het, het hy besef dis vrese soos dié wat hom na die salon jaag. En dat die magnaat op sy beurt ook die slagoffer van spoke moet wees. Waarom anders sou hy dan die glanssalonne in die winkelsentrum ’n skamele twee straatblokke verder vermy, daardie hoëtegnologie-stiliste in die toeristebuurt? Waarom laat kom hy nie ’n kapper na sy huis of kantoor nie?
Nee, hy kom na Giuseppe se salon. Om gewoon te wees. To go bush.
En die romansier kry die geur van vleis. Die jag. En sy tier grom.
Hy huldig geensins ’n romantiese opvatting van kuns óf besigheid nie. Hy mag hom dalk bedien van simbole soos tiere, bamboeswoude en ander el cheapo-goeters, maar in sy hart is hy sinies. Hy glo in pyn.
Hy weet dat almal aan die hardloop is, weg van pyn. Sommige hardloop net vinniger as ander, en in hul vaart slaag hulle daarin om munt uit die lewe te slaan. Hulle kan uitmunt in geld, of in goeie boeke. Maar dis vleis. En om die honger te stil, is om die pyn te verdoof.
Om iets deur die mond te neem, is die groot metafoor. Of jy nou ’n minnaar se siel drink deur diep te soen, en of jy ’n heerlike reep wildsvleis proe. Of jy wyn sluk of asbes inasem of ’n goeie storie verorber of ’n medeskrywer met jou vlymtong afkam. Jy eet die lewe; jy stil jou honger; jy herwin energie en proteïene.
Jy kom jou plig om te lewe na.
Die geveg oor asbeskanker en die eise wat ingestel is deur die siekes en die dooies se gesinne teen die logge empire waarvan die buierige ou man simbool is, was morsig. ’n Losgemaal waarin die bloggers wat in die kuberruim op wag lê met oorgawe ingedons het. Húlle is die nuwe vyande van die establishment, en die romansier vermoed die ou Doktor weet dit. Die wêreld is besig om uit die magnaat se greep te gly. Die vyand dra die vonk van bemagtiging op hul borswering.
Dis niks minder nie as ’n revolusie.
Dis ’n vlamoorlog, en die web se befaamde flame wars laat ouwêreldse polemiek na ’n Sondagskoolpiekniek lyk. Die skrywer het daarop afgekom terwyl hy deur die web gehark het op soek na verwysings na die geskiedenis van verf. Hoe nuwe verwe nuwe maniere van skilder moontlik gemaak het. Hy wou weet hoe Rembrandt, as die koning van olie, effekte kon bewerkstellig soos niemand voor hom nie bloot omdat hy die eerste skilder was om olie as basis vir sy pigmente te gebruik. En nader aan sy eie tyd, hoe moderne huisverwe Roy Lichtenstein se popkuns moontlik gemaak het.
Hoe, het hy gewonder, gaan nuwe tegnologie die skeppende skrywer se ambag raak? Hoe gaan storie in die Web 2.0-era uitrol, in die Wikisfeer? En dit wat hulle daar in sy fakulteit “die leesdaad” noem? Hoe lees hiperteks anders as papierteks? Is Jonathan Franzen korrek wanneer hy sê: “For every reader who dies today a viewer is born”?
En gaming, waar die gebruiker self die gang van die verhaal kan bepaal – gaan elke leser nou meer skrywer as leser wees? Gaan dit die dood van die leser en die geboorte van die speler word?
Ook het hy gewonder of hierdie navorsingslyn dalk die fakulteit se dekaan en die navorsingsdekaan sou boei. Dalk sal hulle dit as waardige tydsbesteding ag as hy sy gewig daar sou ingooi. Dalk sal hulle dan minder op sy nommer druk vir vergaderings oor begrotings, die sny van rieme, samesmeltings met nouliks verwante departemente, en al die dinge wat nodig is om die universiteit op koers te hou.
Regtig opgewonde raak oor dié navorsingsrigting kan hy egter nie. Al wat hom boei, is storie.
Maar hy is helaas oortuig daarvan dat die diskoers oor storie te subversief is vir die moderne kampus – en met die ontwikkeling van tegnologie gaan dit nóg meer ondermynend raak. Kennis moet deesdae uitkomsgebaseerd wees, ’n kommoditeit vir ’n nuwe era. Toerusting vir ’n behoorlike beroep – dís hoe dit deesdae gaan in die pädagogische Provinz. Jy moet jou kursusmodules aan die studente verkoop sodat hulle as brawe, produktiewe burgers die nuwe Suid-Afrika kan ingaan. En voltyds skryf is, soos almal weet, geen beroep vir Afrika nie.
Op die kampus word die reg en verkeerd van tydsbesteding en produksie eindeloos uitgepluis op warm somermiddae, terwyl motors enkele kilometers verder verkoop word, mense in ongevalle-kamers van hospitale omkom en kelners uitdraf met stomende borde vars lynvis. Die universiteit kan geen eiland wees nie. Die universiteit wil deel van daardie wêreld daar onder word. ’n Universiteit met relevansie. ’n Universiteit in Afrika.
Wat universiteite na die skrywer se mening egter benodig in hierdie tyd dat die eenpartystaat sy mag konsolideer, is Joyce se advies: silence, exile, cunning.
Maar dis nie sy gebied nie, en hy behoort hom nie daaroor uit te spreek nie.
Die magnaat se grommerigheid daardie eerste middag het die verhoudinge in die salon oorgetiep in ’n nuwe ruimte. Baie maande later eers sou die skrywer besef dat iets onherroepliks gebeur het. Iets het verskuif in die orde van dinge.
Daar was iets katvoets in die lug. ’n Groot roofdier het vermanend gegrom – hy wil stilte hê – en almal was op hul tone. Die skrywer het om die een of ander onverklaarbare rede skuldig gevoel. Groot persoonlikhede besit swaartekragte wat van hulle uitgaan, en die magnaat het hulle in wentelbane om hom gebind. Hy’t hulle ingetrek, om hom te dien.
Die skrywer voel skuldig. Boonop wil hy bieg – teenoor hom, die Doktor.
Enigiets sal hy bring na die voete van die man wat daar sit. En hy kan sien dat Giuseppe, asvaal in die gesig, net so voel. Ego te absolvo. Dis wat hulle wil hoor. Die gewese skoenwinkelassistent het groot oortree hier waar intimiteite daagliks ’n gemene saak is. Hier waar vreemdelinge jou kop aai met hande wat andersins nooit sal raak aan enigiets van jou nie – nie aan ’n boek met die skrywer se naam op die voorblad nie, nie aan ’n hemp met op die kraag een van die magnaat se vele handelsmerke nie.
In hierdie plek verloor jy jou waardigheid wanneer jou ledemate geskik word om jou lyf aan te pas by die eise van die wasbak. Jy kom met slaperige, klam oë na bowe uit die dieptes van ’n massering. Jou nat hare is skeefgeplak, jy word gelei na die skêr, en jy moet in die kollig sit soos ’n hoender toegewikkel in sellofaan.
Jy luister na die eindelose geskinder oor kleinhandelaars in die omtrek, bankklerke, die kafees en die minibusroetes. Jy hoor van morsighede en jaloesieë en – veral – hongerte.
Nie vir kos nie.
Dis alles dinge wat mans soos hy – en hy verstout hom om die magnaat daarby in te reken, en dalk ook mevrou X, die plaaslike politikus – as risiko’s ervaar. Hulle sal in die wêreld buite die salon geweldige kanse waag, maar dis anders. Dis hul bamboeswoude, hul gekose terrein. Maar hier word elke man se strewe om sy waardigheid te behou, aangeval deur spuwende krane, masseuses en stoele wat jou liggaam komieklik agtertoe kantel.
Voortaan sou die skrywer dit “die asbesmiddag” noem, daardie dag toe die bordjies verhang is. Toe Giuseppe en sy personeel, vrye mense, slawe geword het van die magnaat. Weens die onskuldige geklets van ’n jong meisie uit ’n arm buurt. Die melankolie van die magnaat het oor hul skouers kom lê soos ’n doodsmantel.
Saam sou hulle in die maande daarna die stilte handhaaf, terwyl die intrige aan die opbou was tot sy vreeslike einde. Die silentium obsequiosum, die vrome stilte.
Hy moet werk aan sy skaarsheidswaarde.
Toe hy met sy volgende salonbesoek by die arkade inloop, kyk hy werktuiglik na die parkeerplek waar die swart Benz met sy chauffeur die vorige week gestaan het. Daar is nou geen teken van die motor nie, en toe hy die salon binnegaan, haas Giuseppe hom met uitgestrekte hand vorentoe.
Giuseppe se pryse is aansienlik hoër as dié van die gladder salons in die omgewing, maar die skrywer is gewillig om vir privaatheid te betaal. In hierdie dorp vol akademici en studente lê sy boeke in baie kamers rond. Dis ’n verligting om na ’n salon te gaan waar hy agteroor kan lê en geen kwade bedoelings hoef te vrees nie.
Kwaad? mag u uitroep, en dit in so ’n gesellige dorpie, en hy dan so ’n gevierde skrywer?
Geen direkte kwaadgeld nie, haas hy hom om te sê. Skinder kan geen kwaad doen nie – dit moet jy vroeg in jou loopbaan al besluit. Skindertonge verkoop boeke. Die beste raad is om niks te ontken nie, om die osmose tussen jou boeke en jouself te aanvaar in die nugtere besef dat jou boeke jóú skryf, en dat daar geen ontsnapping is nie.
Die Romeine noem dit die fabula, hierdie lou skinderbrander wat argeloos heen en weer beweeg, nes ’n tropiese seestroom wat bamboese op en neer laat dein. Die koerante kan een ding skrywe, tydskrifte kan jou dalk ’n keer reg aanhaal, die uitgewer se bemarking-span kan hul beplande spin gee in die reklamemateriaal wat hulle uitreik, maar die fabula is ’n dier met ’n wil van sy eie. Dis ’n donker tier, sou jy kon sê, en hy sluip rond in die grootste van alle woude: dié van jaloesie en hongerte.
Met ’n boek vars op die winkelrakke, is hy hom bewus van die geur van kollektiewe aptyt om hom. Hy kan dit ruik. En hy is gewillig om ’n bietjie meer te betaal om vir ’n wyle daarvan weg te kom.
Google het blogs met sy naam begin optel; hy sit soos kougom onder die voetsole van die webtrappers vas. Op Wikipedia tik iemand snert oor hom in; dit sit ’n dag daar voor ’n ander anonieme skrywer die orde herstel. Hy word voor die mikrofoon vasgekeer deur joernaliste met hul eie agenda. ’n Nuuskierige gastehuiseienaar vra, toe hy op ’n boektoer moet oornag: “Is dit u eerste boek?”
Onderhandelings met uitgewers en agente. Vertalers wat sy tong uit sy mond steel. Opsienemers by groot ateljees in die Moederstad se industriële hawegebied, vir films wat waarskynlik nooit sal gebeur nie. Mense wat finansieringscenario’s en subsidiemodelle skep wat sy vermoëns om te fabuleer ver oorskry.
Hier by Giuseppe voel hy veilig. Hy hou van die haarkapper omdat hy vermoed dat Giuseppe in sy lewe nog nooit in ’n behoorlike boekwinkel was nie. Van ernstige literatuur weet hy g’n sout of water nie. Boeke is vir hom vreemd.
Maria dink in romantiese terme. Vir haar is hy ’n skrywer van die liefde, en sy hanteer hom dienooreenkomstig. Hy geniet dit: die stoeiersliggaampie met die uitgepofte vlees, die honger klein handjies wat in sy nat hare wroet. Die dromerige oë terwyl ’n tenoor sing en Giuseppe in sy gemakstoel op ’n kliënt wag en Sylvia uit is bank toe.
Sylvia is van donkerder tint. Wat huidkleur betref, ja, maar hy verwys eintlik na haar geaardheid. Op ’n dag toe Maria ’n wyle uit was, het Sylvia gebieg dat sy in haar jeug by ’n masseersalon in die stad gewerk het. Masserings wat “met blygeit geëindig het”, soos sy giggelend aan hom vertel het terwyl Giuseppe op die foon was en Pavarotti die desibels opgejaag het.
“Slim hande, Sylvia,” het hy opgemerk, en in die spieël het sy trots vir hom geglimlag terwyl hy verby sy snor na haar lê en kyk het. Sy was agter die wasbak, leunend oor die toonbank, en hy kon die areolas van haar borste deur haar bloes sien.
Hy kan begeerte en verlies in Sylvia aanvoel, ’n donker gleuf wat by tye oopmaak wanneer sy hom vertel van haar ervarings in wat sy noem “gangsterland”. Alles het gebeur toe sy bloedjonk was, en terwyl sy praat oor afmakery en lyke op karsitplekke en bloed op lemme word haar hande in sy hare al angstiger en grou sy dieper en dieper in sy kopvel.
Ná een so ’n intense sessie skroei sy sy kopvel met ’n spuitkop warm water en toe hy kla, lyk sy vreemd gedissosieerd en versteurd.
Hy glo nie al haar stories van bloed en verspilde derms nie, maar soms is hy nogals ontstig deur haar fantasieë van besoeke aan lykshuise nadat die vreeslikste misdade gepleeg is.
Nieteenstaande lê hy meestal geboeid onder Sylvia se hande.
Maar vandag neem Giuseppe sy hand en deel hom mee dat die Doktor ongesteld geraak het – hy had ’n episode kort nadat hy die vorige week die salon verlaat het. Niemand is seker wat presies die aard van sy ongesteldheid is nie, maar die riemtelegram wil dit hê dat die Doktor vinnig agteruitgaan.
Dis waarskynlik, besef die skrywer, die opmerking van die sjampoe-assistent wat die Doktor ’n knou gegee het. Ook Giuseppe moet dit kennelik weet.
Hulle swyg egter, want albei weet dat die fabula op die dorp brom soos ’n swerm bloubrommers. Hoofsaaklik oor hierdie vraag: Wat gaan gebeur met die magnaat se fabelagtige fortuin wanneer hy heengaan?
“En waar is sy vandag?” vra hy tog later, met verwysing na die gewese skoendametjie wat haar voet die week vantevore verkeerd gesit het.
Giuseppe is kortaf. “Sy durf nie so met my kliënte praat nie.”
Die skrywer torring nie verder nie, maar hy sien oorwinning in Sylvia se oë glinster.
Hy verander liefs die onderwerp. “Giuseppe, as jy die Doktor se geld gehad het, wat sou jy daarmee doen?”
Giuseppe antwoord blitsvinnig; dis duidelik dat hy al voorheen daaroor nagedink het.
“Ek sal Ferrari uitkoop,” sê hy. “Daar is geen ander maatskappy nie, Professore.”
Giuseppe bied hom ’n koppie koffie aan tesame met ’n Italiaanse beskuitjie wat hy die vorige aand self gebak het. Hy verduidelik aan die skrywer hoe hy die neute versigtig by die deeg ingevou het.
“En jy, Sylvia?”
Sylvia het eweneens dadelik ’n antwoord reg. “Ek vat ’n makeover,” sê sy. “Soos op TV.”
“Wat maak jy dan oor, Sylvia?” vra Giuseppe guitig. Dit ontgaan Maria nie.
Sylvia lig haar hande na haar borste. “Alles.”
Die skrywer draai na Maria. “En jy, Maria?”
Haar woorde is aan hom, maar is eintlik gerig aan Giuseppe. “Ek sal ware liefde koop,” sê sy en gooi ’n skalkse blik na die skrywer.
’n CD word uitgesoek en begin speel. Verdi, L’Elixir d’amore.
“En jy, Professore?” vra Giuseppe. “Wat sal jý koop?”
“Ek wil nie geld hê nie. Ek benodig verrassings, elke liewe dag van my lewe. As geld verrassings vir my kan koop, dan vat ek die geld. Maar ek dink eintlik geld kan net konvensie koop. Geld is net belangrik as jy dit nié het nie. Wanneer jy dit eers het, is dit van geen belang nie.”
Hy het dit oor die radio gehoor.
“A!” sê Giuseppe. “Die Professore is reeds ’n ryk man!”
“ ’n Skrywer, Giuseppe? Ryk?”
Sy skrywersgenerasie is anders as die jonges deesdae, wat in die gety van materialisme totaal openlik is oor hul geldlus. In sy tyd het hulle geld ontken. Sý geslag het ontkiem in die teenkultuur van die 1960’s, en het in mindere of meerdere mate geflankeer met die Marxisme. Woodstock, hippies, flower power. Vir hulle – so sê hulle altyd – stink geld. Alhoewel hulle natuurlik vies is vir diegene wat dit wel het, en jaloers is daarop.
“Watter soort verrassings?” vra Maria waar sy die botteltjies sjampoe en invryfmiddels aan die rangskik is.
“Onverwagse eindes. ’n Woord wat ek nooit kon voorspel het nie. ’n Karakter wat skielik ’n groot sprong gee.”
“Jy lieg, Professore,” sê Giuseppe skelm. “Almal wil geld hê. En ook jý wil die Doktor se geld hê.”
Dit sou in orde gewees het as hy dit grappenderwys gesê het, maar ondanks sy ligte aanslag sien die skrywer ’n harde en bitter trek om Giuseppe se mond.
Miskien, dink hy, hou Giuseppe glad nie van my nie. Eenvoudige mense soos hy vind mense soos ek dikwels pretensieus. En dalk ís ek. Maar ek voel nogtans dat hy nou te ver gegaan het.
Hy sit onder die Italianer se skêr met sy hart wat in sy bors hamer. Die dolksteek is nie die akkurate waarneming dat geld vir almal, ook vir hom, die skrywer, belangrik is nie. Nee, dis eerder Giuseppe se stemtoon en die kyk in sy oog.
Daarmee verloor die skrywer hierdie veilige hawe, waar die rolle tot nou toe versigtig gedefinieer was.
Miskien, dink die skrywer, sien Giuseppe opera in alles wat hier gebeur. Met sy Sisiliaanse bloed en straatslim kennis van die wêreld is hy nogtans deurdrenk met Italiaanse musiek. Hy ken sy opera goed; vir hom is opera klaarblyklik soos die sepies waaroor Sylvia en Maria graag klets. Dalk dra ons verf aan ons gesigte, en is Sylvia se hande rooi van bloed. Miskien, net miskien, sing ons in skril, desperate stemme.
Nukkerig besluit die skrywer om sy volgende weeklikse besoek te laat vaar.
Maar hy kan nie nalaat om ’n week later plek in te neem by ’n kafeetafeltjie digby die sentrum nie. Dis die dag waarop die swart Mercedes normaalweg met die straat afgegly kom, verby die blommestalletjie en die munisipale parkeerarea, sy weg versigtig aan die baan om nie ’n haastige student of ’n winkelganger om te ry nie.
Die skrywer dra sy donkerbril, omdat hy bang is dat die Doktor hom dalk kan eien waar hy hom sit en dophou. As skrywer had hy sy ervaringe, en hy is oortuig daarvan dat die ou heer in sy lang loopbaan, van plattelandse seun tot wêreldburger, veel meer ervaringe gehad het. Daar is baie mense wat afgunstig is op hul plekkie in die skaduwee, en daar is nog meer wat opsuiker na mense soos hy, die skrywer, en die Doktor, die magnaat – niksnutte met planne van hul eie.
Vir iemand wat in die sleurstroom van soveel publisiteit werk aan sy skaarsheidswaarde, is hierdie uitgestalde posisie by ’n sypaadjietafel natuurlik geen goeie idee nie. Maar die skrywer kan goed sien van waar hy sit: die sentrum; die parkeerplek waar die Benz altyd ingly; die donker gleuf onder die gebou na Giuseppe se salon.
Oor die Doktor en sy verhoudinge met mense sleur die gety eweneens die bamboeskoppe heen en weer. Eenkeer het ’n man veel ouer as die skrywer, ’n kêrel wat sy beroepslewe in diens van die Doktor geslyt het (in sy eie woorde: “nie as werker nie, maar as volgeling, want so is die Doktor maar”), hom vertel dat die magnaat se indiensnemingspraktyke lojaliste lewenslank aan hom gebind het. Hy’t naamlik vroeg in sy loopbaan ’n gewoonte daarvan gemaak om erg talentvolle mense te huur wat dit nie op universiteit kon maak nie. Ingebind by dié man wat hulle ná mislukking in die vormingsjare ’n kans gegee het, het hulle hulself lewenslank probeer bewys.
Die skrywer het dadelik die werkswyse van die romansier herken. Hy het besef dat die Doktor ’n oog had vir die dinge wat die mens knel en beweeg, vir die masjinerie van skatpligtigheid en mag. Neem ’n skrander man wat in sy jeug misluk, gee hom verantwoordelikheid, ’n goeie pos, ’n titel, en die verhaal begin ontvou: hy is tot aan die einde van sy dae jou slaaf.
Jy is die werkwoord in sy lewe.
Dáár lê storie, het hy gedink, terwyl die ouer man bitter gekonstateer het dat niks onder groot bome groei nie. Had die voormalige lojalis die Doktor lief, of haat hy hom? Die skrywer kon sien dat die man self nie weet nie.
Hy sit hier by die tafeltjie op die Donderdagmiddag, en hy dink aan die Doktor wat beroemd is daarvoor dat hy steeds daagliks sy weg vind na sy kantoor, al is hy diep in die tagtig en al ly hy aan allerlei mankemente. Hy het nog dieselfde kantoor wat hy al die jare gehad het, al het sy empire oor die hele aardbol uitgewaaier. Hy is ’n diskrete, omsigtige man.
Onder die skrywer se blik kom die swart sedan met sy gerookte vensters statig die straat af en stop voor die sentrum. Nadat hy geparkeer het, help die chauffeur die Doktor om uit te klim. Die ou man is krom van die rumatiek en kom met moeite uit die sitplek regop. Stadig word hy oor die straat na die ingang gelei. Die man wat eens lang treë in die gange van mag gegee het, die lieflingseun van die Karoo wat later prinse en sjeiks bevriend het, skuifel geboë aan die arm van ’n chauffeur na ’n armoedige salonnetjie waarvan min mense in hierdie statusbewuste dorp weet.
Onbewus daarvan dat ook hy dopgehou word, sit die skrywer diep ingedagte. Nes ek, dink hy, is die Doktor ook die knoper van verhaaltoue; ’n intrigant. Hy vleg storielyne. Ook hy het karakters sy gemoed sien instap en hulle gegryp om sy groot verhaal op die doek van die wêreld te skrywe. Nes hy weet geen romansier wat die slot van sy verhaal gaan wees nie. Jy weet net dat die magte wat jou karakters dryf, seker is van hul rigting. Hulle sal jou lei na ’n konklusie, ’n knal, na Joyce se epifanie – die oomblik van klaarheid en begrip waarin alles sal terugkaats en jy, soos Nadine Gordimer gesê het, in die flits van die lig sien.
En mag ek byvoeg: en jy nog blinder word, dink die skrywer.
Hoe sal die Doktor se verhaal eindig? En myne?
Diep sit hy en tob. Waarna is hy op soek?
Vir ’n gereelde kliënt om ’n week van Giuseppe se salon weg te bly, is ’n daad van hoogverraad. Dit het in al die jare net een keer gebeur dat die skrywer, afgesien van wanneer hy op reis was, ’n week in onthouding was. Om egter nou weg te bly sonder vooraf waarskuwing, sal groot ontsteltenis in die salon veroorsaak.
Hy is natuurlik ’n hand aan die speel, omdat hy ál meer oortuig is daarvan dat die Sisiliaan se opmerking ’n dolksteek was. Dit was volkome onverwags. Die enigste wraak waaraan die skrywer kan dink, is om bloot weg te bly.
Hy sien homself nie as afgehaal en nors nie. Eerder afstandelik.
Hy slaan die laaste teug koffie weg en haas hom van sy toneel van skaamte. Iemand wat hy nie ken nie maar wat die uitdrukking van ’n leser op die gesig het, staar hom agterna. Hy gee langer treë.
Niemand hoef hom te vertel dat dit wat hy doen, verkeerd is nie. Maar soos so dikwels in die verlede swig hy voor voyeurisme, die kanker van die skrywer se siel. Hierdie keer voel hy egter werklik skuldig, want hy is gewikkel in – so vermoed hy – ’n daad van wraakuitoefening.
U sien, sy vader, wat lank gelede in treurige omstandighede die lewe gelaat het, het die Doktor geken, én had ’n lewenslange hekel aan hom. Hy het die Doktor geblameer vir iets wat baie jare gelede gebeur het, in die tyd toe die Doktor sy eerste asbesmyn laat grawe het.
Dit wat die skrywer nou doen, het ’n Italiaanse geur en is veels te Mafia-agtig. Dit gaan oor familievernedering. En as oudste seun van die vernederde ervaar hy – en dis wat hom onkant betrap – die kompulsie om bloed te sien.