Читать книгу Asbesmiddag - Etienne van Heerden - Страница 7

3 Ballonvaart

Оглавление

’n Senuweeagtige gefladder.

Dis ’n week later. Die Doktor is in Zürich – noodbehandeling vir ’n geheimsinnige kwaal. Die sjampoemeisie het haar huis tydelik verlaat (inligting te danke aan Sylvia), Maria het weer ’n keer uit Giu­seppe se huis getrek en toe weer teruggetrek, en Sylvia het finaal, soos sy droogweg opmerk, haar lover se lont kortgeknip.

Hulle gaan rustig deur hul roetine. Die skrywer het van die kampus hierheen gekom, ontstig deur die nuwe ondersoek na sy departement se lewensvatbaarheid. “Oudit” lui die gangbare term, en in die gange fluister diegene wie se vakgroepe bedreig word dat die ware intellektuele reeds afgetree of die wyk geneem het na ander vastelande. Sommige trek hulle in teleurgestelde apatie terug, maar ’n klompie vind hul nis in die nuwe tydsgees, vat die hoek en spartel mee in die onstuimige waters van vergaderings, koppetellery, verslae en handewringery.

Die universiteit moet verander, is die wekroep. In pas kom met die wêreld, wat stadig – in die filosoof se terme – van grafosfeer na videosfeer kantel. Die studente het prentjies in hul oë. Beelde. Woorde het hul harte verlaat. Die sjarme van die bladsy, die omblaai, die geur van drukkersink, die ratse sprong van storie, die epifanie en die treurige onbepaalbaarhede van die teks is nie meer vir hulle nie.

Hulle jaag nou die cool van die digitale wêreld na, die sfeer van klank en beeld – en hy is net ’n arme papiergebonde akademikus, hy het sy poësie lief, sy treurende digters, sy besluitelooshede en sy bladsye.

In ieder geval, dis ’n lui middag, met Giuseppe wat op sy sofa by die stereostel sit terwyl Pavarotti sy ding doen. Maria leun op haar besem en staar nikssiende die volgende uur in. Sylvia is met sy kop besig, en hy tuimel weg in gedagtes en fantasieë. Hy kom hierheen, na hierdie plek wat in die woorde van die filosoof buite alle plekke lê, om van die werklikheid weg te breek en stadig te vergly in die onderwêreld van plot. Op ’n goeie dag verloor hy onder Sylvia se hande sy bewussyn as professor en word ’n tyd later wakker as hyself: ’n skrywer.

Dis al manier om vanuit die gees van die moderne universiteit te pendel na ’n ruimte waar storie van hom besit kan neem – hy moet eers by hierdie stasie aandoen, van trein verwissel. Dis ’n inspannende tog om af te lê: hy moet sy kantoor verlaat, sy studente, hul opstelle, die agenda van die laaste vergadering. Hy moet in die Volvo klim en hom weghaas, die N2 reinig hom reeds, hy moet na ’n plek kom waar alles moontlik kan wees. Hy moet dit skep, die ruimte jaloers oopforseer, daar waar dinge hul gang kan gaan en hy die magiese pluk van sy verbeelding voel, waar hy uithaak en vlieg. Onder Sylvia se hande is dit makliker. Hiervandaan kan hy dan vinnig, kop onderstebo, na sy apartement vlug en hom inwerp in sy verhaal. Hy werk freneties; hy kyk nie televisie nie; hy haas hom oor die papier.

Vinniger as wat God kan lees, wil hy skryf.

Verder, verder, tot waar die blote oog nie meer kan sien nie.

Waarheen kan ’n lugballon jou neem?

Weg van Moedverloor en Allesverloren en Soebatsfontein en Nooitgedacht. Die geheim van warm lug, van spekskiet, van hups wees die rietmandjie in, jou stofbril voor jou oë, want die opstyg uit die veld kan sleperig wees. Jy moet die gasbrander regkry vir die draaksnorke van die blaasvlam. Dan kom die plukke aan die ankertoue, en die groot skadugooier swel bokant jou oop – dis die vader, die ballon wat die son verberg en jou begin optrek, sodat jy pluk aan jou ankertoue.

Wanneer alles kraak en beur en die wind die ballon trek, gooi jy die ankertoue eenkant. Jy werp hulle met minagting van jou af, jy sien hulle wegskiet van jou en tol met die spanning wat nog in hulle is; soos slange wriemel hulle in die stof. Maar jy is vry en die aarde sak skrikwekkend vinnig weg, jy’s oor die boomtoppe, oor ’n droë rivierbedding, daar onder glip ’n opstal verby, buitegeboue, skaduplasse, palmbome, die blink flits van ’n dam.

Niks kan jou nou keer nie, omdraai is nie moontlik nie. Flitsend skuif alles onder jou verby, nader aan die blou klowe, en jy styg en styg en die aarde vou voor jou oop, die horisonne trek hul ooptes wyd, jy is op vlug. Jy het jou naam reeds vergeet, en diegene daar onder, vervaard omdat jy hulle agterlaat, merk nie die ware aard van jou afskeid in jou gesigsuitdrukking nie. Jy is gewoon buite sig, jy’s nou-nou ’n spikkel, voëlvry verklaar, die Kamdeboo oor, met die sewe seë wat wink.

Terwyl hy so onder Sylvia se hande sit, kom ’n verhaal wat sy pa hom jare gelede vertel het opeens by hom op.

Toe sy pa ’n seun van so agt, nege was, kom die sirkus weer na hulle dorp. Sy pa was reeds bekend met die sirkusmense, want al om die jaar het hulle na Nooitgedacht gekom om ’n vosperd te koop. Nooitgedacht had in daardie jare ’n mooi stoet saalperde wat oor geslagte geteel is, en die skrywer se oupa was op die jaarlikse landbouskou altyd heel voor in die rosette-ry – in die saal van ’n blink, spoggerige perd met opgeknoopte stert, die ruiter uitgedos in pluiskeil en handskoene.

So het die sirkusmenere daardie jaar weer op die plaas aangekom om die perde te bekyk. Hulle het aangevoer dat hulle weet watter perd ’n sirkusperd kan word – daar moet “die behoefte aan skou” wees, soos hulle dit gestel het. Die perd moet hou van oë op hom.

Wat ’n groot indruk op die skrywer se pa gemaak het, was dat een man nog in sy mondhoek ’n smeersel lipstif had, en daar het nog grimering aan sy wimpers gekleef, iets wat die plaaswerkers agter hul hande laat fluister het terwyl hulle die perde nadergebring het. Verder was die man doodgewoon geklee: ’n man in ’n broek en hemp, met ’n tjekboek en vulpen in die bosak.

Die tweede man was korter – later sou sy pa hoor dit was die hanswors; die man had juis ’n treurige uitdrukking in sy oë. Hy het sy skouers senuagtig gerol en kort-kort agtertoe geloer en dan ’n laggie gegee, asof iemand agter hom staan en grappe maak het. Maar daar was niemand.

Hulle het die perde bekyk. Die skrywer se oupa het elke perd sedert sy vulletjiedae geken, en hy het hulle laat verbydraf op die ritme van die langsweep. Die perde was in hierdie stadium goed geleer, en dié wat van die rug van Nooitgedacht se berg gekom het, was die beste – wildgeteel, lief vir die afdraandes en rotspaadjies, die wuiwende grassade, die uitsig oor die Kamdeboo.

Hierdie perde was moeilik om mak te kry. ’n Ou bruin man het jaarliks van Toorberg se kant gekom om met die wilde perde te praat. Hy’t hulle met stories van jakkals en wolf gesus, van uil en muis, van koedoe en ystervark; met sulke verhale het hy hulle mak gepraat, totdat hulle met deinende neusvleuels en met voorbene wyd uitmekaar, hul koppe byna teen die grond, voor hom gestaan het sodat hulle tydsaam opgetoom kon word. In die hele proses is nooit een enkele keer met ’n riem of ’n sweep of ’n hand aan hulle geraak nie.

Die ou man het gebukkend gestaan by die groot perdekop en met sy gefluister die wilde perd gepaai. So, het die skrywer se pa gewaarsku, het hy gesien dat storie ’n wilde ding is, ’n ding wat jy nie kan vasvat nie, wat jóú kan inbreek. Die skrywer het as seuntjie gehoor hoe stories die wildste hings se gees kan sagfluister.

“Pa, ek wil ’n storieverteller word.”

Oppas vir stories, het sy pa aan hom gesê en sy oë het gegloei, stories kan jou allerhande liegterye wysmaak. Hulle kan jou om die bos lei, jou op jou bek laat val en jou die oorlog laat verloor.

Later het die skrywer gedink: Maar juis daarin lê die toertjie wat elke storie tog maar is. Want wat anders as die bollemakiesie, die spring deur die vuurhoepel en die aantrek van die narrepak vir die skater is die storie nie? Dis tog niks anders as vuurspoeg en karnaval en balanseertou nie, of hoe?

Die skrywer het sy pa nie altyd verstaan nie. Maar nou weet hy, noudat sy hare gryser raak, dat sy pa reeds as seuntjie gefassineer was deur die sirkus. Deur hoe dit op ’n stuk verlate veld opskiet en jou inlok met sy plakkate teen die lamppale. En as jy daar kom, is dit ’n totaal verbeelde wêreld, ’n karnaval van die onwaarskynlike. Binne die tent gloei en dawer dit, met skitterende trompette wat toeter en blink perde wat op hul agterpote staan voor die swaaislurpe van olifante. Van buite bekyk, is dit ’n bruinvaal tent daar op die vlakte, jy sien net ligstrepies soos dit op die grond hurk, en rondom dit die vaalte van die Karoonag en die tentwande wat bult en verslap, bult en verslap soos die skare daar binne hul asem verbaas intrek vir die waaghals op die tou se agteroorsalto, en hul asem verlig uitblaas wanneer hy weer op sy voete tereg kom.

Dis waaraan sy pa in die moeilike jare vasgehou het, aan daardie twee menere wat daardie dag met sy oupa kom stry het, want sy oupa het gesê: “Daai perd sal nooit op sy agterpote klim vir ’n klont­jie suiker nie. Hy’s te trots. Kyk die boog van sy nek.”

“Enige perd kan op sy agterpote klim,” het die hanswors in die bruin langbroek en wit hemp gesê.

“Jy sal hom nie kan inbreek nie. Ek het sy reun geken, en sy merrie. Hulle was trotse diere.” Sy oupa het na die berghang beduie. “Daar grootgeword, oor die kruin. Aan die agterkant, die skaduweekant. Jy moet gaan kyk hoe wild lyk die wêreld daar.”

Die man met die lipstiffie in sy mondhoek het sy kop geskud. “Nie inbreek nie!” het hy gekeer. “Ons breek nie ons diere in nie, ons oortuig hulle. Ons gaan die perd homself laat geniet. As hy die applous eers een maal gehoor het, is hy oortuig; dan wil hy elke aand op sy agterpote dans. Só is die perde wat aanskou wil word, nes party mense. En hier staan nou ene wat bekyk wil word. Kyk net daardie kop.”

Die skrywer se pa het die storie aangehoor, en hy het geweet sy pa weet die twee mans lieg oor die perd se geaardheid. Dit was sommer sirkuspraatjies, die soort ding wat jy in die dorpskoerant lees ’n week voordat die sirkus opdaag. Maar mens kon nie nee sê vir die kontantgeld nie; kontantgeld sien jy nie dikwels as jy boer nie.

Daardie aand het die skrywer se pa vir sy oupa gevra wat dit in ’n dier is wat breek. Die oupa het lank na hom gekyk. Hy was ’n streng man, ’n man geskool in die ou tradisies.

“Sy hart,” het hy oplaas gesê, en opgestaan om vroeg te gaan slaap.

Die skrywer onthou sy pa se woorde aan hom: “Dis hoekom die hanswors met sy huiloë en sy grappies die belangrikste man in die sirkus is – belangriker selfs as die seremoniemeester met sy pluiskeil. Die sirkus is die fees van gebroke harte; dis waar die treuriges gaan lag. Die mense wat kaartjies koop, weet dit meestal nie.

“Net hier en daar, in die voorste rye, kan jy mense sien sit wat dit weet. Jy sien dit in hulle oë. Jy sien hoe desperaat hulle wag.

“Waarop hulle wag, weet jy nie. En hulle ook nie.”

Die skrywer dink dikwels aan hoe sy pa die volgende dag, nadat die koop beklink was, die wilde, trippelende vosperd die kraal moes uitlei en help om hom op die sirkuslorrie te kry. Die dier mog nie beseer word nie; sy vel moes tot elke prys ongeskonde bly. Hy moet goed lyk onder die ligte, het die sirkusbaas gesê, mense hou nie daarvan om na diere met letsels te kyk nie. Hulle dink daar’s mishandeling, hulle dink daar is lyding. Hulle kom sirkus toe om te bewonder, om te sien wat jy nie normaalweg te siene kry nie: die wonderbaarlike.

Die vosperd, daar en dan deur die sirkusmenere The Count of Monte Cristo gedoop, het egter geweier om met die loopplank op te stap na die bak van die vragmotor. Die lipstiffieman het met suikerklontjies probeer verlei, maar die perd het sy lippe van sy tande teruggetrek asof hy wou byt, asof die suiker se soet suur was. Die skrywer se oupa het kom help, hand op die perd se boud gesit om hom te kalmeer, maar ure het verbygegaan. Dan sit die vos een hoef op die loopplank, dan trek hy dit weer terug.

“Hy koggel ons,” het die skrywer se oupa gesê. “Sien julle nou – hy wil nie weg van Nooitgedacht nie. Sy bloed hol in hierdie klowe rond.” Hy’t dit oorweeg om die kontantgeld terug te gee.

“Ag, nonsens,” het die hanswors geantwoord. “Hy’s sommer net skrikkerig vir die avonture wat voorlê. Ek ken dit ook – vlinders in die maag. Ek kry dit nou nog voor elke vertoning. Dis ’n goeie teken; dit wys hy gaan sy beste uithaal elke keer wanneer hy in die arena is. Sy senuwees gaan hom jaag.”

“As jy dink dis stage fright, maak jy ’n donnerse groot fout,” het die skrywer se oupa gesê. “Dis gewone hardegatgeit; ons kry dit in hierdie geweste saam met die fonteinwater in.”

The Count of Monte Cristo het laatmiddag nog geweier en die koop het byna deur die mat geval – totdat die skrywer se pa voorgestel het dat hulle die ou bruin man wat dierestories vertel, moet laat roep.

Almal het gaan slaap, en die sirkusmenere het die volgende oggend weer gekom, met nog ’n papiersak vol suikerklontjies. Die ou man van Toorberg het by The Count of Monte Cristo gaan staan en hom oor ’n saggiese uur heen die laaibak in gepraat.

Die seuntjie het die bruinpapiersak vol suikerklonte gekry. Die man met die lipstif het hom onder die ken gevat en sy kop gelig. “Wanneer jy groot is, moet jy in die sirkus kom werk,” het hy gesê. “Jou kop is te woelig om hier in die klowe te boer.”

Die seuntjie het weggehardloop asof hy sy pa kwaad aangedoen het, asof hy die vosperd verraai het. Sy pa het die woorde gehoor, op sy hakke omgeswaai en weggestap. Met sy hart wild aan die klop, so het die skrywer se pa vertel, het hy in die skuur gaan sit en die suikerklonte gesuig, een ná die ander, totdat hy later naar was van die soet. Hy het skoon gal gekry, maar hy het lewenslank sy fassinasie met die groot tent behou. In so ’n mate dat hy self daarin beland het, jare later toe die watertafel gesak en sake verloop het soos hul gewoonte is: heeltemal anders as beplan.

“Die lewe is tog ’n storie, nie waar nie?” het die skrywer se pa aan hom gesê nadat hy die hele verhaal vertel het. “ ’n Soort vertoning. ’n Sirkus.”

Die spieëls staar na mekaar, die handdoeke is pap en wit en nie altyd van die skoonste nie, die geluide uit die dorp klink ver weg, en hier sit hulle, soos op soveel middae, net die drie van hulle. Giuseppe laat die skrywer toe om te bly so lank as wat hy wil; so lank as wat nodig is om sy gemoed stil te maak en die ankertoue los te kry vir die vlug.

Veral Woensdag- en Donderdagmiddae is baie stil hier in die salon, en as hy so teen drie-uur opdaag, kan hy uitklok vir ’n uur of twee, ongehinderd – die prys bly dieselfde. Giuseppe geniet die teenwoordigheid van nog ’n asem in die salon; Maria sal dalk ’n paar dinge in die dorp gaan afhandel, terugkom, hier iets optel en daar iets versit, en weer uitglip om laer af in die arkade te gaan staan en skinder.

Sylvia, verveeld tot op die sadistiese droom na, is beslis dat dit beter is om ’n kop in die hande te hê as niks. Sy haat, het sy al gesê, die waggery. Sy’t per abuis laat glip dat dit is soos ’n “prossie wat op ’n straathoek staan en wag”.

So het die skrywer sy mees produktiewe ure deurgebring in die salon in daardie afgeremde arkade. Geen groot invalle tref hom ooit in sy kantoor op die bo-kampus nie; geen sprinkaanswerm idees neem daar van hom besit soos wat hier, in die salon, soms oor sy gemoed skuif nie. Op geen vergadering beleef hy ’n epifanie nie; universiteite is besig om wêreldwyd die dom weg in te slaan en gaan mettertyd worsfabrieke word, dit is sy opinie.

Hy wens hy kon anders wees. Hy verwens homself as hy sy kollegas opgewonde sien haas na die een of ander vergadering. Dalk hoort hy nie op ’n kampus nie. Dalk is ’n plek soos hierdie sy natuurlike tuiste – hier, waar hy na homself in ’n spieël kan sit en staar.

Hier is dit nie nodig om ’n vorm in te vul of vir ’n navorsingstoekenning aansoek te doen nie; geen kontakuur-logboek hoef gehou te word nie. Hier is sy laboratorium. A, die wetenskap van die lewe, so onkwantifiseerbaar, so morsig, so verrassend banaal! Hier kan hy postuleer en voortvaar die ongekaarte waters in. Hier is hy midde-in sy eintlike vakgebied: die lewe.

So is hy aan die mymer in die loop van daardie uur wat die kraaie sekerlik sou laat gaap, soos hulle altyd in die Sondagsriviervallei gesê het, toe Maria haar besem opeens terugpluk, Sylvia se nekwerwels kraak soos sy vorentoe leun om te loer en Giuseppe op sy voete spring. Die verskyning is plotseling, en lei tot ’n fladdering in die salon. ’n Teesakkie val van die skrywer se linkerooglid in sy skoot.

Hy is swart, luid, en wil sy hare gesny hê.

Die lewe in hierdie land word goedkoop gemaak deur politiek.

Voorin Pamuk, die Nobelpryswenner, se roman Sneeu word Stendhal aangehaal: Wanneer politiek ’n roman binnetree, is dit soos ’n pistoolskoot wat in ’n konsertsaal afgaan.

We are about to speak of very ugly matters.

Politiek, weet die skrywer, maak van alles oppervlak. Onmiddellik word die middag ’n arena waarin geen mens kan wen nie. Hy word opnuut herinner aan ’n opmerking wat hy gehoor het: “Deesdae is die beste vorm van aanval om hard en duidelik jou eie seerkry te verkondig.” Dit het gekom van ’n mede-akademikus, ’n vrou (’n bekende feminis).

Hy merk op hoedat die uitstal van eie seerkry ’n strydbyl geword het ná bevryding; elkeen kry seer, elkeen skreeu dit uit, dis ’n kakofonie van gewondes. Jong wit mense kry nie werk nie en alle studiebeurse gaan aan jong swartes, boere word uitgemoor op hul plase, gays word beledig, tale word ontken, vroue word verkrag, swart mans word as kwota-aanstellings afgemaak. Rassisme, chauvinisme, swart nasionalisme, elke moontlike -isme knaag aan die nuwe republiek, en elkeen loop mank van die seerkry.

Hy het dit oorweeg, by wyse van ’n taktiese skuif, om self dié wapenrusting aan te trek. Dis tog die vlag wat oor die land wapper – hierdie nasie van klaagliederesangers. Vir hom was dit egter nie natuurlik nie. Om jou lot te bekla, is nie elegant nie, en bowenal: ’n vernedering.

Dis die strategie van die verloorder.

En tog is dit duidelik dat hierdie nuwe kliënt met groot selfvertroue seerkry as sy wapen swaai.

“Hoe durf jy sê dat jy nie swart hare kan sny nie?”

“Maar ek kán nie.” Giuseppe, nog duiselig van indut in sy hoek, het sy hande hulpeloos voor hom, ’n oer-Italiaanse gebaar.

“Jóú hare is swart,” sê die voornemende kliënt.

Giuseppe is aan ’t pleit, hy streel oor sy eie kop asof dit ’n verskoning is. “Maar dis ánderste hare.”

Hy weet net so goed soos die skrywer van die kommersiële risiko. Om die hoek, twee blokke verder, digby die kostuumwinkel, sit die swart haarsalon. Dié proklameer op ’n uitstalbord op die sypaadjie sy dienste met ingewikkelde illustrasies van haarsnitte en knoopvlegsels. Dis geleë in ’n gebou wat om die beurt ’n Joodse sinagoge en ’n Vrymesselaarsaal was. Nou dien dit as een van die min sosiale bymekaarkomplekke vir swartes in hierdie deel van die dorp, wat onder die ou regime slegs vir wit sakebedrywighede beskikbaar was. In die Black Panther Saloon begin die kuiery en geklets reeds vroeg­oggend wanneer die skrywer uitry na die N2. Gedurende die dag raak dit al hoe bedrywiger, en wanneer hy laatmiddag terugkom, is dit ’n dobbelsalon, ’n eetplek, ’n skinderfabriek en ’n toevlug vir die moeës.

Die risiko vir Giuseppe is eenvoudig, as jy maar net hierdie dorp ken. Selde indien ooit stap ’n swart student Tux Dudes binne om something smooth te huur. Die enigste swart persoon wat ooit die arkade se winkels versier, is die vrou wat elke oggend melk inbring van oorkant die straat. Word Weer Gebore beloof ’n lelieblank Christus aan leliewit minnaars van die Kruis.

Die dobbelsteen is teen Giuseppe. As hy sou ingee, wie sou nie almal dalk die swart kliënt in sy salon sien nie? Dis nie dat mense summier aan die praat sal gaan nie, glad nie. Dis nie meer soos hierdie dinge werk nie. Nee, dit sal ongesê bly, niemand sal selfs ’n tweede keer daaroor nadink nie. Dit sal net gebeur: mense dryf ingedagte weg, sommer net ’n gier. Een aanraking van die spinnekopweb is genoeg. Subtiele skuiwe volg.

“Regtig, ek kan daardie snit nie sny nie.”

“Dan is dit tyd dat jy leer. Dis Afrika, my vriend.”

“Maar ek is van Sisilië!”

Giuseppe se uitroep gaan egter verlore, want die astrante kêrel het reeds op sy hak gedraai. ’n Besoekende akademikus, dink die skrywer. Juis hierheen gekom omdat hy ongemaklik sal voel in daardie leliewit studio’s in die toeristebuurt.

Maria snork en draai na Sylvia. “Kan jy nou meer!”

“Nou wat sal hý hier soek?” roep Sylvia.

Die klem op “hy” dui aan dat Sylvia haar gevoelens met haar op loop laat gaan. Sy, wat van donkerder tint as die res van hulle is, is die verontwaardigste van die drie.

Bleek merk Giuseppe op: “Dis hoekom ek uit Zimbabwe weg is.”

Verras vra die skrywer: “Het jy dan in Zimbabwe gewerk?”

“Ja,” antwoord Giuseppe, “maar daar’s g’n plek vir ’n Italiaanse salon in Zimbabwe nie.”

Te laat besef die skrywer dat sy ballon ná die verskyning van die eksie-perfeksie swart man buite beheer is, dat ander kragte oorgeneem het. Die wind ruk aan die toue en die rietmandjie sidder. Die opstyg teen die kranse uit – wat daar van Nooitgedacht se voorstoep so gerusstellend donkerblou of malsgroen lyk, afhangende van die lig en die tyd van die dag – is skraperig en stampend. Die dwarswinde druk hom teen die kranse aan en hy hoor die ballon teen klip en bosse skuur. Daar spaander ’n trop bobbejane, histeries vlug hulle, so ’n verskynsel het hulle nog nooit gesien nie. Kleintjies hang aan pense, skreeuend, en blaffend vorm mannetjies die agterhoede.

Die ballon haak vas en vir ’n oomblik dink hy dat die mandjie gaan kantel en dat hy die afgrond gaan instort, maar dan ruk iets los en hy gee gas en met ’n magtige brul van die blaasvlam beur die ballon weg. Sy hoed waai af, dit dans op die wind, tref ’n krans en tuimel na benede. Dis hoog, hy het al vergeet hoe hoog dit hier is; as kind is hy hier uit, soveel kere, met die versigtig gekose klimroete, en elke keer, onthou hy nou, was hy verras deur die steilte, die hoogte, die ander klimaat. Die gevoel dat ander reëls hier geld, so ver van die milde stoepe, die luike, die skaduwees en rustigheid van die opstal. Hier is jy bloots, hier is dit bergwêreld waar oorlewing moeilik is, hier het die Boesmans in grotte geskuil teen sy voorvaders, wat hulle soos vee gejag het.

Dan, skrapend, is hy die kop oor. Vlietend dink hy: ek kan nog uitspring, ek kan oor die rand klim en my uitwerp, daar is nog ’n kans. Maar dan is dit te laat en hy’s oor die kop en af tuimel die landskap en verskiet die klowe na die vlaktes van die Kamdeboo. Onverwags stabiliseer die ballon, skielik is dit stil. Net ’n suising. ’n Laaste blaf van ’n bobbejaanmannetjie wat die ballon agternaskel daar van die hoogste kop af.

Maar hy’s weg, hy’s die wind se besit.

Hy soek na die sjampoemeisie volgens aanwysings wat ’n vriendin van Sylvia vir hom gegee het. Tot elke prys, egter, mag Giuseppe-hulle nie weet dat hy haar gaan opsoek nie. Iets waarsku hom; hy weet nie wat dit is nie. Moontlik daardie kyke wat hulle mekaar in die spieël gegee het toe hulle oor die Doktor gepraat het. Iets is aan die uitbroei – iets wat met sy eie plotlyne wedywer.

Dit het ingewikkelde voetwerk gekos om Sylvia se vriendin te nader, maar hy het dit aan haar gestel dat Sylvia se veertigste verjaarsdag voorlê en dat ’n klompie van die salon se regulars ’n verrassing vir haar beplan. Die sjampoemeisie sal instrumenteel wees, daarom is vertroulikheid van die allergrootste belang. Nie Giuseppe of Maria, of veral Sylvia, of enige ander mens mag weet nie.

Sylvia se vriendin werk as skoonmaker in die arkade. Hy keer haar ná sy salonbesoek by die ingang voor, wel wetend dat hy blitsig en sekuur moet optree. Alle oë is sekerlik op hulle; in hierdie stil gleuf ontsnap niks die aandag nie. Die eienaar van die tuisnywerheid sit agter haar toonbank, omring deur gebak van allerlei aard en vorm, verdiep in ’n vrouetydskrif. Sy het ’n goeie uitsig op die arkade se ingang en kan ook die straat dophou.

Die Jesus People hou maar immer ’n oplettende oog op die wêreld van sondaars, en geen teken van eksentrisiteit of afwyking ontsnap hul aandag nie. Hulle deel hul indrukke graag met mekaar en met verbygangers. Dis nog ’n verskynsel van die nuwe republiek wat die skrywer verras: iedereen is voortdurend verontwaardig. Hoe kan dit dan nou? Mag dit? Só kan dit nie aangaan nie!

Dis die houding van ’n burgery wat konstant ingedoen, verontreg, buite beheer en agtergelaat voel, in hierdie dae dat onvoorspelbare kragte losgelaat word en geen spelreël meer duidelik is nie. Dis die nuwe wat halsoorkop by die oue oorneem. Wild spaander oor die vlakte, die bokke heel voor; die groot koedoes hol dwarsdeur ogiesdraad wat breek voor hul magtige borse; die kameelperde galop agterna; die ape laat spat kwetterend en gaan hang in die bome soos uitgelate kinders. Die republiek is twaalf jaar oud en die hekke is oopgegooi.

Die tuxwinkel moet ook in berekening gebring word. Dit het ’n opeenvolging van assistente, almal aan diens vir skofte van maar ’n paar uur per dag, en hulle tree as informele nuusagentskap op. Deur hulle versprei die woord uit die arkade, en van buite kom berigte weer die gleuf binne.

Die skrywer weet dat sy aankoms altyd versigtig gemonitor word, dat die duur van sy besoeke aangeteken word, en dat Sylvia en Maria terstond nadergeroep word vir ’n verslag sodra hy vertrek.

Sy geklets met die skoonmaker sal verdag lyk – ’n wit professor soos hy, in gesprek met iemand wat ’n besem en emmer by haar het. Hy is oortuig daarvan dat kleur in hierdie land nog altyd vererotiseer was. Nog ’n jaar of wat gelede het hy ’n wit man deur die dorp sien bestuur met, soos die gewoonte in die ou dae was, die swart huishulp op die motor se agtersitplek – om die suggestie van erotika oor die kleurgrens te vermy. As dit die tuinier was, ’n man, sou hy voor kon sit, langs die wit bestuurder.

Dit huiwer nog steeds op hierdie dorp met sy mooi eike, sy Kaaps-Hollandse gewels, sy gesellige restaurantbuurt waar die kerse someraande op terrasse flikker en boekwinkels tot laataand hul deure oopgooi na die sypaadjies. Dis in die blikke wat hom nou stuurs dophou.

“As enigiemand vra: ek het met jou gepraat oor ’n stukkende toilet,” sê hy met verwysing na die toilette wat agterin die arkade geleë is. “Ek wil nie hê dat enigiemand van die planne vir Sylvia se verrassing moet weet nie.”

Hy het sy aanwysings gekry, en met ’n tintelende, ontspanne kopvel ry hy nou uit na die werkersbuurt in die noorde van die dorp.

Dis met tye soos hierdie dat hy aan sy skryfstudente dink – die arme geeste wat die tou vir rekenaarprogrammeurs misgeloop het, die tou vir aktuarisse, ingenieurs en argitekte. Hulle dra die teken van die duiwel; hulle is deur die noodlot gebrandmerk om vir hulle ’n loopbaan in storie uit te kerf.

Om te waag waar niemand voorheen was nie.

Dikwels voel hy dat hy min het om aan hulle te bied.

“Waarom gaan die literatuur altyd oor swakkelinge?” vra ’n student aan hom in die meesterklas vir fiksieskryf. Die man is ’n oud-atleet, effe ouer as die ander studente. “Al die karakters in die boeke wat ons bespreek, is pap en, verskoon my, Professor, maar ek glo die woord is opgefok.”

“Die literatuur gaan oor weerloosheid. Die oudste Middelnederlandse gediggie, ‘Hebban olla vogala nestas hagunnan’, gaan oor die verlange na iemand wat weg is. Die weerloosheid van die mens is die groot tema van die kuns; dit was nog altyd so,” antwoord hy.

“Ek vind dit absurd dat ons as ’n gegewe aanvaar dat ons moet skryf oor buitestanders en opgeneukte mense met deurmekaar siele. Dit het sinoniem met letterkunde geword!”

Dit was warm in die saal. “Alle dissiplines wat na my mening die moeite werd is,” het die skrywer geantwoord, “ondersoek die weerloosheid van die mens. Die literatuurstudie. Die sielkunde. Selfs die geskiedenis is ’n illustrasie van die mensdom se herhaling van sy eie foute. Die medisyne, wat gemoeid is met die liggaam wat siek is. Die teologie, wat probeer om die dier wat boontoe kyk, antropos, te bestudeer.”

Hy het diep asemgehaal. Soms het hy sy studente so lief, maak hulle hom so opgewonde. Ander kere is hulle soos blokke aan sy been, trek die swaar gewig van hul manuskripte hom die diepsee in.

“Mag ek aan julle voorlees uit die ‘Harper’s Essay’ van die jong Amerikaanse skrywer Jonathan Franzen.” Hy beklemtoon die woord “jong” uitdruklik, al is Franzen helaas nie meer so jonk nie. “Hy is die kêrel wat ’n uitnodiging van die hand gewys het om op Oprah te verskyn – iets wat tot verkope van honderdduisende sou gelei het. Julle weet mos?”

Daar is geen aanduiding dat hulle daarvan kennis geneem het nie. Hy marsjeer egter voort. “Luister: ‘The point of calling serious fiction tragic is to highlight its distance from the rhetoric of optimism that so pervades our culture. The necessary lie of every successful regime, including the upbeat techno-corporation under which we now live, is that the regime has made the world a better place.’

“Einde van aanhaling. Franzen het die essay opgeneem in ’n bundel met die titel How to be alone, en die blakerskrif beskryf dit as ’n antwoord op ‘how to be alone in a noisy and distracting mass culture’.

“Ek sou wou byvoeg: Die outsiderfiguur is die antiheld van die moderne literatuur. Heldedade skep nie letterkunde nie; dis nie interessant nie. Die boeiende een is die vreemdeling, die dissident wat ongemaklike vrae stel vanuit die marge. Die buitestander.”

Hy kyk ongemaklik af. Hy wil byvoeg: miskien moet ons ’n lughawe na die buitestander as figuur noem eerder as na ’n politikus. Besef ineens dat sy stem ’n pleitende toon aangeneem het. Maar hy moet deurdruk. “Die een wat saam met die filosoof glo: ‘Hell is other people.’”

Die student het deur sy blonde hare gevee, en ’n oomblik het hy gelyk soos iemand in wegspringblokke wat oor die honderd meter voor hom uitkyk na die lint. Gedurende besprekings om die lang seminaartafel het die vroue hom dikwels met lang kyke dopgehou. Hy’t die wennersinstink na die seminaartafel gebring. Sy volgende opmerking bevestig dit.

“Ek wil skryf oor mense wat sterk is. Mense wat uitstyg.”

“Dan laat jy maar Dostojefski en Proust en Balzac agter jou; dan slaan jy ’n ander weg in. Ek sien uit daarna.”

Dit was te sterk. Die man het hom hatig aangekyk; die mentor het hom voor die ander pupils verraai – ’n onvergeeflike sonde.

Die skrywer het besef dat hy te ver gegaan het.

Hy is weer daaraan herinner dat die mentor tegelykertyd gelief én gehaat is. Dit weet iedereen wat al ’n klerkskap by ’n ouer prokureur afgelê het, die leergierige handlanger van ’n skrynwerker was, ’n meestersgraad onder leiding van ’n hoogleraar voltooi het, of manuskrip in die hand aan die deur van ’n ervare skrywer geklop het.

Die komplekse verhouding tussen pupil en mentor is ’n magsverhouding, met die leerling wat verrassend meer mag het as wat met die eerste oogopslag blyk. Deur die jare het die skrywer hierdie ontwikkelende verhouding met sy skryfstudente deur verskillende fases sien gaan – fases waarin die ambisie en strewe van sowel mentor as pupil ’n rol speel.

Die pupil, oorbluf deur die sukses van die mentor, die ballas van versamelde prestasies, kom klop senuagtig aan die deur (die skrywer ken al daardie versigtige kloppie van ’n nuwe student). Die mentor, wetende dat alle vlees gras is en dat jou aardse prestasies met die jare al meer soos rietjies in die wind beef, maak oop.

Die jongeling op sy drumpel is meer as ’n talentvolle genie. Hy is ’n belegging in die toekoms, in die vakgebied, die bedryf – alles waaraan die mentor hom deur die jare met drif gewy het. Maar selfs meer: hy is die kers wat sal bly brand wanneer die mentor (reeds gebuk onder ’n sterflikheidsbesef) nie meer daar is nie. Die pupil sal die goeie geveg voortsit, die brandende opstande lei, die grense van die denke verlê. Hy sal stadig, soos die mentor, vergaan van sy eie ego, sy eie kompromieë, en uiteindelik swig voor die argelose wegvee van die groot meester: die dood.

Maar by die eerste oopgaan van die deur staan die pupil daar as waarborg van die mentor se onsterflikheid; as bestendiger van sy arbeid in die aangesig van teenstand; as belofte van môres wat veel verder strek as die lewensdae van die mentor.

Die pupil sien voor hom legende (die fabula het sy werk gedoen), wysheid en verrassende sinisme – maar snap mettertyd dat die meeste huise van roem hul fondamente in sand het.

Die pupil het, as oningewyde in die wêreld waarvan hy nou gretig op die drumpel staan, geen vermoede dat hy aan die mentor waar­skynlik meer kan gee as die mentor aan hom nie. Met die krag van die jeug, sy geniale talent, sy ambisie en werkywer sou die leerling waarskynlik self die mas kon opkom. Maar hy weet dit nie. Hy is alleen. Om te skryf is eensaam. Hy het ’n vader nodig, en ander vakleerlinge van sy ouderdom wat, soos hy, die mas nog moet op.

Dan, op ’n dag, in ’n oomblik wat soos kwiksilwer deur sy are skiet, ontdek die pupil dat die mentor se voete klei is. Dat hy van die mentor durf verskil; dat hy anders kan – nee, móét – wees. Soos vir ’n tiener wat sy andersheid teenoor sy ouers moet vestig om emosioneel te kan groei, is die pupil se opstand die kiemsel van sy eie ego. Hy moet sy eie mens word – en die opstand teen, die weersin in, die mentor is onafwendbaar.

Die mentor word nou simbolies vermoor. Dis ’n fassinerende moord, gekenmerk deur teenstrydige emosies aan die kant van die pupil: bewondering en afsku, jaloesie en vrygewigheid, instemming en dwingende verset. Die pupil keer nie die rug op die mentor nie –dit sou onmoontlik wees – maar retireer van hom af weg.

Die mentor is verstom. Is dit nie hý wat deure oopgemaak het, klippe uit die pad gerol het, geduldig en subtiel leiding gegee het sonder dat die pupil dit eens agtergekom het nie?

Die pupil is vies. Hy voel vasgedruk. Hy moet ontsnap. Hy weet hy kan beter as die mentor, verrassender. Hy is immers die nóú. En tog sukkel hy om dit reg te kry. Die sluwe ou mentor se ervaring en geslypte vermoëns is in die tweestryd nie te onderskat nie.

Uiteindelik is daar ’n beleefde wapenstilstand; iedereen kies sy eie koers. Die pupil vergaan stadig van die lewe en word ál meer soos sy mentor: begaan oor posisie, status, prestasie. Hy begin homself herhaal. Hy kyk rond vir opvolgers: jong kwiksilwertalente.

Die mentor word ál meer soos die ou mentor van wie hy hom destyds weggekeer het: oud, tot in der dagen sat, skepties tot in die murg toe. Was dit alles die moeite werd? vra hy. Want die wêreld wat hy geken het, is helaas nie meer nie.

Die koning is dood; lank leef die koning.

Sou dié geesdriftige jongelinge enigiets van sy planne begryp waar hy vanmiddag in sy Volvo by ’n robot sit op ’n stil pad wat na die noordelike wyk van die dorp lei? Wat sou hulle dink van dit waarmee hy besig is?

So dikwels dink hy dat hy net een raad vir hulle het: soek die geselskap van die armoedigste siele op; gaan vind hulle waar hulle in die marges sit; beweeg sélf op die rand. Behou jou vryheid. Jy is komeet – as jy gelukkig is – en geen son nie, nie eens ’n planeet nie. Planete wentel, maar jy verskiet. Skryf versigtig neer wat jy sien en hoor. Lewe is daar om geneem te word. Wees selfsugtig, moenie gekaap word deur sisteme nie. Bly gefokus.

Ons, sal hy aan hulle wil sê, word aangedryf deur die werkwoord; ons word in ons spore gestol deur die punt; ons dobber in die winde van verkeerde keuses en omstandighede. Ons – die plotters, die fabuleerders, die kakpraters.

Onthou altyd wat John Fowles gesê het: “If you want to be true to life, start lying about the reality of it.” Laat jou verhale hul eie loop neem. Hulle sal hul eie waarhede skep, wat eg sal wees, al is hulle nie waar nie. Hulle skep hul eie etiek – die wrede etiek van storie. Ons begeer immers die slot soos ’n mens ’n geliefde begeer. Die einde van die storie. Die klimaks. Die opklaring.

Elke slot ’n gevolgtrekking wat ons bereik oor niemand anders as onsself nie.

Dis ’n klein huisie, donker, met ’n lae dak, ’n versameling geroeste tenks, stukkende geute, vensters met verlepte, dowwe gordyne, ’n hond, ’n wasgoedlyn met klere.

Die hond soek desperaat na skadu, maar word beperk deur ’n ketting van slegs drie meter. Hy’t vir hom ’n gat van omtrent ’n meter diep gegrou, waar hy deels kan skuil teen die versengende son. Hy lê en hyg met ’n leë waterbak (’n ou wieldop) langs sy gat. Hy grom vanuit sy put, maar maak geen aanstaltes om op te staan nie.

Dis nie vir die skrywer nodig om aan te klop nie. Hy is raakgesien terwyl hy teen die skuinste afgery het na hierdie deel van die buurt waar die huise saamgedrom sit teen ’n droë rivierbedding wat gevul is met stukkende bottels, blikke, ou buitebande en ander vullis.

Sy wag op die stoep, ’n kind op die heup, iets tussen afwagting en vrees in albei se oë. Hoenders skrop in die stof; verkeersgeluide kom vanaf die snelweg aangedryf; ’n kraai is onder in die rivierbedding doenig, hoppend op ’n ou matras.

“Hallo,” sê hy.

Sy kry geglimlag. “Middag, meneer.”

Daar is geen uitnodiging om na binne te gaan nie. Hulle staan mekaar en aankyk totdat die kind op haar heup begin woel en sy buk om haar te laat gaan. Die kind waggel weg.

“Hoe gaan dit met jou oupa?” Hy het sy oog op die kraai wat aan die matras pik. Die voël pluk die binnegoed uit en gooi stukke klapperhaar eenkant.

“Hy’s laas week dood. Ons het hom klaar begrawe.”

Hy voel ’n moedeloosheid oor hom kom. Ruk hom reg. Dan maar, soos daardie kraai, verder torring. “Ek is jammer om dit te hoor.”

Sy haal haar skouers op. “Nee, dis reg,” sê sy.

Sy is gespanne. Dit moet vir haar vreemd wees om hom hier te hê, die man wie se hare sy in die salon moes inseep. Die hond sug in sy put.

“So, hoe gaan dit by die salon?” vra sy.

“O, o. Die salon. Baie dieselfde, ja. Sylvia . . .” Die noem van die naam herinner hom aan die spanning in sy skouers en nek.

“En Maria?” Sy noem nie Giuseppe nie.

“Hulle’s reg.” Haar oë beweeg oor sy skouer na sy motor. Terug na hom; sy wag.

“Ken jy die fortuinverteller?” vra hy.

“Die Indiër?”

“Ja.”

Sy knik. “Hy’t nou ’n kantoor.” Sy sê dit trots; klaarblyklik identifiseer sy met die man. Die onderklas, op pad boontoe.

“Regtig? Waar?”

“Baie na aan die salon. Weet u waar die Chinese shop is?”

Sy beduie deurmekaar. Die gegewens klop nie, maar hy kry ’n row­we aanduiding.

Sy selfoon lui. Hy kyk na die venstertjie. Dis sy vakgroephoof wat skakel; hy moet antwoord.

“Ekskuus,” sê hy aan die jong vrou. Hy draai weg.

“Hoop nie ek het jou middagslapie versteur nie,” sê sy vakgroephoof. “Jy’t wel die kursusse reg ingevul – hulle is almal hier, ook die getal studente – maar jy’t nagelaat om aan te stip hoeveel ure jy aan voorbereiding bestee.”

Die skrywer kyk oor die rivierbedding uit, waar die kraai steeds op die ou matras hop. Hy pik-pik aan die klapperhaar. Verder weg flits motors op die Koelenhofpad verby. Wat sal die fakulteit se etiese komitee wat waak oor navorsingspraktyke te sê hê oor hierdie besoek van hom? Hy was al ’n keer by een van hulle vergaderings. Wat sou hulle dink van die skrywer as voyeur?

“Sit maar iets in.”

“Maar hoeveel?”

Hy haal sy skouers op. “Ag, iets. Iets by benadering. Vat maar die gemiddeld vir die vakgroep.”

“Berei jy ’n uur voor vir ’n eerstejaarslesing?”

“ ’n Uur? Nee, vader, ek –”

“Ek skryf maar ’n driekwartier in.”

“Enigiets. Ek is tevrede met enige getal.” Hy maak ’n leë gebaar na die bult wat opstyg vanuit die vuil rivierbedding na die swart woongebied, waar plakkershutte so na aan die wingerd opstapel dat dit lyk of hulle oor die druiwe hel.

“En skeppende navorsing? Hoeveel uur per dag bestee jy aan jou skryfwerk – die nadink daaroor, en die skryf?”

Hy draai om om na die sjampoemeisie te kyk. Sy staar hom ondersoekend aan, kyk dan oor sy skouer, waar hy weet sy Volvo blink en uit plek staan.

“My skryfwerk?”

“Ja, ’n getal ure per dag.”

Die vakgroephoof is ’n geduldige man. Die skrywer sug; die arme man moet ook net sy werk doen.

“Vul in: ’n leeftyd.”

“ ’n Wat?”

“ ’n Leeftyd. Wie gaan in ieder geval na daardie simpel stats kyk?”

Die vakgroephoof huiwer; hy is onder druk. Binne die Skool vir Tale waarvan hul vakgroep deel is, is daar sprake van die sluiting van sekere vakgroepe.

Die skrywer besluit om sy hoof ’n keer te wys op Foucault se “rituals of exclusion”: jy kan die tydsgees net behoorlik begryp wanneer jy na die rituele van uitsluiting kyk. Wat verwerp word, wat geweier word – kortom, wat die beskawing op daardie tydstip nie meer wil hê nie.

Maar waarom, dink die skrywer, moet hy die arme man nog verder belas? Hulle sit juis daar as benoude Afrikaanssprekende vakgroepie naas die ewe klein en benoude Xhosa-vakgroep. Dis ’n stadskampus wat meedoënloos voortbeweeg die toekoms in; daar hoor jy nooit Xhosa of Afrikaans nie. Die klompie Afrikaanse studente – bruin en wit – en die studente wat tuis Xhosa praat, steek hul private identiteit goed weg. Hulle vind mekaar en die res van die studente-gemeenskap in die globale taal, Engels. Niemand wil uncool en agterlik voorkom nie.

Die vakgroephoof kug in die stilte oor die foon. Hulle was al vantevore hier. “Wel, ek is seker iemand sal tog . . .”

“Jy weet so goed soos ek dit gaan net iewers geliasseer word.”

“Moenie so seker wees nie. Jy weet die verslag oor die vakgroep word tans gefinaliseer!”

“Sê dan maar ek bestee vier-en-twintig uur per dag daaraan.”

“Aan wat?”

“Aan duimsuig.”

Hy wil aan sy hoof sê dat hul groot probleem is dat hulle hierdie saak nie kan beveg nie, omdat die wapens wat hulle sou opneem by voorbaat reeds buite orde verklaar is. Soos gekke sal hulle hulself bedien van ’n woordeskat wat helaas geen geldingskrag meer het nie.

Die universiteit het hom met ’n ander woordeskat begin uitdruk. Lost in translation. Lammers is hulle, lammers ter slagting; die groot teregstelling lê voor. Die ancien regime sak weg soos die watertafel onder hierdie dorp. En of hy en sy hoof dit nou wil of nie: uit baie oorde word hulle gesien as twee kwynende eikebome.

Hy beëindig die gesprek en draai terug na die jong vrou, wat hom sinies betrag. Sy sê niks nie. Roep dan na die kind wat wil afdwaal rivier toe.

“Wel.” Hy beduie na die hond, die huis, die rivier. “Wel, ek sal nou weet waar om die fortuinverteller te kry.”

Hy draai om, huiwer by die hond en dink: water. Maar dan stap hy weg, en wuif na haar van agter sy motor se ruit, met die lugverkoeler wat reeds druis en verligting oor hom uitblaas.

In sy truspieël sien hy in die verte ’n motor staan. Vir ’n oomblik verbeel hy hom hy herken die man agter die stuurwiel: die swart man wat sy hare gesny wou hê, die man in die netjiese pak – die een wat so kwaad vir Giuseppe was.

Maar hy verbeel hom dit seker, en hy ry uit, die bult op. Die Doktor kom oor ’n week terug uit Zürich, het Giuseppe gesê. Die skrywer kyk op sy horlosie na die datum en maak ’n nota in sy gedagtes van die magnaat se aankoms.

“Wat is die beperkings van wat Coetzee genoem het ‘white writing’ hier in Afrika?” het hy sy studente onlangs gevra. Nou kan hy byvoeg: En van die voyeurisme wat die navorsingsdekaan so vrygewig “skeppende navorsing” noem?

Hy het voorgelees aan die klas. “Luister wat skryf Herman Charles Bosman: ‘. . . how can a white man get into a black man’s skin – and vice versa? That sort of thing is a presumption, and can produce only falseness in art. No, they must write their own literature. We must write ours.’ ”

Met die opkyk gesê: “ ’n Mens se eerste reaksie is natuurlik: dis rassisme! Natuurlik is dit. ’n Mens wil sê: maar beteken dit ’n jong mens kan nie oor ’n bejaarde skryf nie? Of ’n vrou oor ’n man nie? Die skryfdaad mag immers nie so beperk word nie. Ons is almal ten slotte mens!

“Die probleem is egter: wat dink mense wérklik?

“Byvoorbeeld: Wie teken die verhale in hierdie land op en slaan munt daaruit in die buiteland? Wit skrywers! Baie mense beweer daar is nou genoeg jong swart skrywers. Dis nie waar nie. Kyk na wat in Afrikaans geskryf word deur jong wit mense. Vergelyk maar. Boonop: met watter skeptisisme gaan ek ’n roman opneem wat ’n jong swart vrou geskryf het oor ’n middeljarige wit Afrikaanse man? Wat natuurlik beteken dis iemand wat gekonfronteer word met die veranderinge in sy land; iemand wat gaan sterf in ’n ander land as die een waarin hy gebore is, soos Kundera dit gestel het. Wat gaan ek as leser antisipeer?”

“A demolition job!” het die skerpsinnige student met haar ronde brilletjie geantwoord.

“Waarom sou sy haar wou begeef op die terrein van die irrelevante?” Dit van die student wat sy brood verdien as joernalis by ’n middagblad.

“Presies. Vir hoe lank kan die wit skrywer deur die vensters van sy motor staar, en wonder?”

Die ander studente om die tafel lyk of hulle nie ’n snars omgee vir die gespreksonderwerp nie. Buitendien skryf hulle in Engels, en voel meeste van hulle, luidens hul eie getuienis, hulle nie juis gebonde aan die begrip Afrika nie. Hulle is skrywers, dis al. Niks van die gewroeg oor white writing en die wit man as Afrikaan al dan nie en wit skryfwerk as deel van of buite die kanon Afrika-literatuur vir hulle nie.

Suwwe debatte. Te meer nog wanneer sy taal, Afrikaans, ter sprake kom, en die ander Afrikatale – die belangrikheid van ’n renaissance wat die Afrikatale insluit. Watter snert. Dis vir die politici, vir die mediavrystellings van die Minister van Kuns en Kultuur. Almal eien dit as bloot window dressing van die kant van die swart elite wat meer Engels aandoen as die Britte op die eiland waar hulle lank in ballingskap was. En daardie eiland is nie Robbeneiland nie.

Die skrywer ruik die woonbuurte aan die wit studente – die geur van middelklashuise agter hoë omheinings, die bedompige voorstede.

Where’s the bloody horse?

Maar hy druk sy verontwaardiging weg; hy is op daardie kampus om sy brood te verdien. Tesame met die paar swart taaldosente bevind hy hom op ’n klein eiland van andersheid. Buite Englishness.

Hy moet weer iets op die rak kry, al is dit ’n dun romannetjie. Hy moet tyd koop. Die jaarlikse performance appraisals is om die draai.

Asbesmiddag

Подняться наверх