Читать книгу Bruid uit die koue - Ettie Bierman - Страница 4
1
ОглавлениеClio se vingers klem haar sitplekgordel vas toe die landingsaankondiging deur die kajuit van die Boeing 747 weerklink.
“Jou senuwees op hol?” vra haar buurvrou wat langs die pad, op Frankfurt-lughawe, opgeklim het.
Clio knik. “Aan flarde en flenters.”
Aloma glimlag gerusstellend. “Dit sal seepglad gaan, jy sal sien.”
“Wat as ons soos twee soutpilare na mekaar staan en kyk en nie weet wat om te sê nie?”
“Dis maklik: sê net ‘Hallo’ en ‘Hoe gaan dit?’ ”
“En dán?”
“Hy sal seker vra hoe die vlug was, en so aan… Dan antwoord jy: ‘Lekker, dankie.’ Hou op stres. Onthou, julle is darem nie heeltemal vreemdelinge vir mekaar nie.”
“Ek het Arnold meer as tien jaar laas gesien – toe ek in graad sewe was, met sproete en bokstertjies. Hy herken my dalk nie eens nie. Wat as hy dink ek is voorbarig, aaklig lelik en spyt is hy het my genooi om te kom kuier?”
Aloma klik haar tong. “Hou op vis vir komplimente. Stringe ouens het seker al vir jou gesê jy lyk soos ’n filmster. Mans is mans: almal swig vir blondines met kurwes en hemelblou oë. Arnold gaan mal wees oor jou – jou een kyk gee en van nuuts af smoorverlief wees.”
“Ag, destyds was sommer lawwigheid, omdat ek sy eerste meisie was en hy hartseer was omdat ek so ver weggegaan het Kanada toe.”
“Ek dag julle was ’n item? Vas gekys?”
“Ja, vir wat dit werd was…”
“En dat hy so lekker gesoen het?”
Clio bloos asof sy steeds ’n tiener is. “Ons was kinders! Twee bogsnuiters. Ek het niks van soene en sulke goeters geweet nie.”
“Jý was dalk nog jonk. Maar hy was… hoe oud? Agtien? Dis nie ’n bogsnuiter nie. Hy het vir jou ’n kysring gegee en gesê hy wag vir jou tot jy die dag groot is. Daardie dag is nou.”
“Die ringetjie pas nie eens meer nie, en hy het seker lankal daarvan vergeet,” skerm Clio.
“Jy reken? As hy vergeet het, sou hy jou nie plaas toe genooi het nie, of tien jaar lank vir jou geskryf het nie. Het jy Arnold nooit weer in daardie tyd gesien nie?”
“Nee, net oor die foon gepraat. Dit was nie liefdesbriewe nie, sommer net om te gesels en nuus mee te deel van al die mense wat ons agtergelaat het toe my pa-hulle geëmigreer het. Die korrespondensie was my ma se idee, omdat ek in Calgary nie Afrikaans as skoolvak sou hê nie en sy bang was ek verleer om my moedertaal te skryf. Dit was sommer e-pos of sms’e, niks ernstigs nie. Ons was net maats. Intussen het Arnold seker dosyne ander nooiens gehad.”
“Nie as hy so ’n nerd is soos jy hom beskryf het nie.”
Clio trek haar hare agteroor en bind ’n rekkie om. Sy wil nie soos die Lorelei met lang los lokke daar aankom en die verkeerde indruk skep nie – asof sy hom wil verlei. Sy veeg ’n tikkie ligpienk lipstiffie aan. Verder dra sy geen grimering nie.
“Arnold is nie ’n bleeksiel nie, net bietjie van ’n introvert. En baie talentvol. Op skool al het hy pragtig geteken, en toe kuns gestudeer. Olieverf is sy forte, veral dierestudies. Hy het onlangs uitgestal – al sy doeke verkoop en ongelooflik positiewe resensies gehad. Arnold van Deventer gaan nog eendag groot naam maak. Dis deels waarom ek kom kuier,” bieg Clio. “Ek wil ’n tiental skilderye by hom afbedel vir ’n uitstalling by die galery in Calgary wat ek bestuur. Ek soek perde, eksotiese Afrika-voëls en dan natuurlik die Groot Vyf, vir die toeriste. Elke enkele werk sal opgeraap word. Maar geld is nie vir hom belangrik nie, hy het oorgenoeg daarvan geërf van sy ouers: ’n string plase, van Bela-Bela tot anderkant Polokwane.”
“Is dít wat julle twee gemeen het? Omdat jy ook skilder?”
Clio maak dit ligweg af. “Myne is sommer koekblikprentjies. Hy is in ’n totaal ander liga as ek.”
Sy kyk by die venster uit en skrik. “Haai, ons is amper op die grond! Jy beter begin regmaak, vriendin. Trek aan jou skoene en kry jou handbagasie. Hoe lyk jy so traag? Is jy nie bly om terug te wees by die huis nie?”
Aloma kyk na die aanloopbaan wat onder die vliegtuigvlerk verbyskuif. Dit was opwindend om Europa te sien en in Frankfurt te au pair, maar ’n jaar was te lank. Te lank vir Rinus…
Haar gewese kêrel is nie van dieselfde stoffasie as Clio s’n nie. Arnold van Deventer het amper twaalf jaar gewag vir sy tienermeisietjie om groot te word; vir Rinus de Wet was twaalf máánde te lank. Wie weet, dalk selfs twaalf dáe. Soos sy hom intussen leer ken het, het hy waarskynlik al die eerste dag nadat sy weg is vir hom ander weiveld gesoek. Dalk al dieselfde aand op die lughawe een opgespoor om haar plek in te neem.
Mans! Die spul verdien nie ’n vrou se liefde en lojaliteit nie. Hoeveel keer in Duitsland kon sy ’n oulike ou aangekeer het… Maar sy was te ordentlik, te eerbaar om Rinus te verneuk. Sy het soos Simpel Sannie aand na aand by die huis gesit, serpe gebrei en na Frau Schumann se stories geluister, terwyl Rinus soos ’n mannetjieskat gerinkink het.
Gemene drip! Ook maar goed haar ma het haar oor sy los en vas vryery ingelig, anders het sy met die lummel voor die kansel gestaan, en ’n jaar later voor die regbank in die skeihof.
Saam met haar jas en skouersak grawe Aloma ’n dapper glimlag uit. “Ja, ek is bly. Ek het my eie bed gemis, my honde en my diere, braaivleis, mieliepap en somerson.”
“Laasgenoemde drie is volop op die plaas. Jy moet kom kuier, hoor!” herhaal Clio die soveelste keer. “Jy en ek kliek. Noudat ons ontmoet het, moet ons nie kontak verloor nie. Ek bly vir drie weke. Dalk langer as dinge reg uitwerk… Vuurfontein is skaars ’n uur se ry noord van Pretoria. As jy wil, kan Arnold jou kom haal.”
“Ek vra nie gunste van mans nie.”
Clio gee haar hand ’n drukkie. “Nie alle mans is soos Rinus nie.”
“Ek het my eie kar en sal op eie stoom kom,” herhaal Aloma.
Toe die vliegtuigdeure oopmaak, stap Aloma uit. Sy bly aan die bopunt van die trap staan om die warm Desemberson op haar lyf te geniet. Sy is bly om by die huis te wees. Al gaan alles anders wees…
Sonder die liefde van haar lewe, vir wie sy die maan en die sterre sou gaan haal het as hy dit gevra het. Maar hy het nie gevra nie. Niks gevra nie. Nie hoe sy gaan voel, hoe sy gaan regkom, hoe sy die pad verder alleen sal loop as hy haar los nie.
Voor sy in die passasiersbus klim, bly Clio ook eers staan om die son in te drink en rond te kyk. Sy kan geen detail van die lughawe onthou nie, en niks lyk bekend nie. Tog roer daar ’n emosionele snaar diep binne om ’n warm nostalgie deur haar te laat sprei. Haar geboorteland, waar haar wortels lê…
Sy het te lank weggebly. Te lank uitgestel – verskonings gemaak van studies, te veel werk en te min tyd of geld telkens as Arnold geskimp het dis tyd dat hulle mekaar weer van aangesig tot aangesig sien. As dit nie vir die uitstalling was nie, het sy dalk weer kleinkoppie getrek. Dis goed om terug te wees, maar sy wens haar ma kon saamkom. Sy het die ondersteuning nodig.
Die herontmoeting met Arnold laat haar maag op ’n bondel trek. Hulle was bure, van kleintyd af maats, hegte vriende en gemaklike korrespondente. Hulle hou van dieselfde boeke en flieks, deel dieselfde belangstellings en lag oor dieselfde grappe. Dis ’n gesonde fondasie, maar is dit sterk genoeg om ’n ernstiger verhouding op te bou?
Al probeer sy dit ontken, en al het hy dit nie in woorde uitgespel nie, weet sy Arnold verwag meer van haar as vriendskap. En Clio is bang sy kan nie gee wat hy van haar vra nie, bang sy is nog nie gereed nie, bang sy maak hom seer… In haar agterkop herken sy dít as die werklike rede waarom sy so lank weggeskram het van ’n kuier.
En hier is sy nou. Er in en er uit, soos haar ouma altyd gesê het. Doller as kopaf kan dit nie gaan nie. Of kan dit?
“Gaan jy en die ou alleen in daardie kasarm van ’n plaashuis bly?” vra Aloma oor haar skouer.
En dink: Clio lyk nie na die saamslaap-soort nie. Sy is nog te onervare, amper kinderlik naïef, om by ’n man in te trek wat so te sê ’n vreemdeling is. As hierdie kunstenaar-ou dit van haar verwag, kan hy nie so oulik wees soos haar nuutgevonde vriendin hom beskryf het nie. Dalk ook ’n tweede Rinus…
“Nee, ek en Arnold gaan nie alleen in die huis wees nie,” antwoord Clio. “Sy tante en broer bly ook in die huis.”
En dankie tog vir dáárdie grasie, dink sy, sodat dit nie nodig sal wees om dadelik besluite te neem wat hul verhouding vorentoe kan bepaal nie. Die ander huismense sal as weerligafleier dien as sy en Arnold vreemd vir mekaar is; as hulle brûe nodig het om die tien jaar lange kloof te oorbrug.
“Broer?” Aloma is verbaas. “Jy het niks van ’n broer gesê nie.”
“Omdat ek nie die vlug wou bederf nie. Ek het gehoop as ek Jurg van Deventer doodswyg, sal hy in die niet verdwyn.”
“Jonger of ouer as Arnold?”
“Drie jaar jonger, en die teenoorgestelde van sy ouboet. ’n Gemene, arrogante skepsel wat ek destyds nie kon verdra nie. Die hare het gewaai wanneer ons naby mekaar gekom het. Ek het hom ’n keer bygedam en met ’n tuinvurk in die pad af gejaag. Ek was so woedend, ek sou die vurk dwarsdeur sy grynsende bakkies gesteek het as ek hom kon inhaal! Gelukkig kon hy vinniger as ek hardloop, anders het ek daardie dag moord gepleeg en as jeugmisdadiger agter tralies beland.”
Aloma giggel oor die snaakse prentjie wat Clio se beskrywing skep. “Wat het hy gedoen om jou so kwaad te maak?”
Clio klim in die bus en plak haar swaargelaaide skouersak met geweld neer. “My kat in die swembad verdrink,” kry sy dit uit, opnuut lus om Jurg van Deventer te wurg. “En agterna vir my geliég: gesê Lallie het self in die swembad geval. Leuens, om sy bas te red! Alle katte kan swem. Dis hý wat Lallie ingegooi en laat verdrink het, om my te tart. Hy het haar kamma begrawe, maar wou nooit vir my sê waar nie. Ek weet hoekom – omdat hy haar sommer êrens in ’n gat gegooi het, waar die jakkalse haar kan vreet. Daarvoor gaan ek hom nog eendag kry en vir die dood van ’n onskuldige dier laat boet!”
Aloma trek groot oë. “Is dít waarvoor jy eintlik teruggekom het – om wraak te neem? Weer daardie tuinvurk op te tel en die koerant se voorblad te haal? Ek sien al die opskrif: Beeldskone blondine reis twintigduisend kilometer om te moor.”
“Jy oordryf,” keer Clio.
“Jy ook,” spot Aloma.
Teen haar sin kry Clio self lag. “Gelukkig is Talien daar, agter wie se rokspante hy kan wegkruip. Sy bak die grootste anysbeskuite wat ek nog ooit gesien het. My ma het gevra ek moet die resep kry, sodat sy die uitlanders met ’n regte Boere-baksel kan beïndruk. Talien maak ook ’n hoenderpastei wat ’n standbeeld sal verlei, en bobotie om jou siel voor te verkoop.”
Aloma wil nog hoor, dit trek haar aandag van haar eie probleme af. “Talien?” vra sy uit.
“Tant Annalien, wat later sommer Talien geword het. Arnold en Jurg se tante. Hulle ouers is in ’n motorongeluk dood toe hulle klein was. Talien is nooit getroud nie en het vir hulle gesorg. Geboer ook, en die plaas met ’n ysterhand regeer. Dierbaar, solank jy haar nie verkeerd opvryf nie. Anders moet jy koes. Sy het Jurg eendag met ’n nat vadoek bygedam toe ek geklik het dat hy van die soetkoekies gesteel het wat sy vir die kerkbasaar gebak het.”
Aloma kyk haar agterdogtig aan. “En hét hy?”
Clio is min gepla. “Natuurlik nie, hy was te bang. Sy kon ’n ou se gal werk dat jy dit ’n week later nog voel. Daardie ronde was mýne… Maar ek wil nie oor die aaklige Jurg praat nie. Hy het my lewe genoeg versuur.”
Sy vat haar sak en stap vooruit, deur doeane. In die aankomsaal steek sy agter haar bagasietrollie vas. “Hier’s ’n skare! Waar kom almal vandaan?”
“Vra hulle,” stel Aloma voor.
Clio kyk radeloos om haar rond. “Hoe op aarde gaan ons ons mense opspoor?”
“Ek onthou darem hoe myne lyk. Daar’s hulle – my ouers!” roep Aloma uit.
Sy los haar trollie en storm op ’n ouerige man en vrou af. Skielik is sy in trane, terwyl sy albei om die lyf beetkry en haar hart teen haar ma se skouer uitsnik.
Nie trane van vreugde nie, besef Clio. Dis oor Rinus.
Sy bly staan om hul bagasie op te pas, terwyl haar oë benoud na ’n bekende gesig in die skare soek. Sal hulle mekaar ooit nog ken? Arnold soek dalk vir twee bokstertjies en drade om haar tande. Pleks dat hulle afgespreek het om elkeen ’n rooi vlag te dra, of ’n verspotte pers hoed. Hoekom het sy nie ten minste gevra watter kleur hemp hy gaan aantrek nie? Hy was altyd lief vir blou, maar hier’s hordes blou in alle skakerings en nie een lyf daaronder lyk bekend nie.
Tien minute later, toe Aloma eindelik van haar bagasie onthou, staan Clio steeds en rondkyk. “Voel jy nou beter?” vra sy simpatiek.
Aloma skud haar kop.
“Iets wat ek kan doen om te help?”
“Ja. Maak of als oukei is. Moenie simpatiseer of my troos nie, anders tjank ek weer my alie af. Die ghwar!”
“Ploert!” stem Clio gevoelvol saam.
“Punk! Pateet!” beaam Aloma met ’n onelegante snork. Dit laat haar beter voel en sy sê dit nog ’n keer: “Ploert! Punk! Pateet!” Dan blaas sy haar neus, asof sy Rinus daarmee saam ook uit haar gestel kan blaas. “Dêm drommel!”
“Ditsem!” beaam Clio. “Sê hom. En as jy hom weer sien, slaan hom oor die kop.”
“Of steek hom vol gate met ’n tuinvurk!”
“’n Stomp een, tussen sy ribbes in, dat die bloed loop.”
Aloma se ma beskou die twee en glimlag vir Clio. “Jy’s beter medisyne as ek.”
Aloma raak nog ’n paar skelname kwyt, voor sy onthou om haar nuwe vriendin aan haar ouers voor te stel.
Sy kyk vraend na Clio, en dan na die aankomsaal wat geleidelik begin leegloop. “En toe? Waar’s jou kêrel?” vra sy fronsend.
Clio probeer ongeërg klink. “Ek weet nie. Nie opgedaag nie.”
Aloma verduidelik vlugtig Clio se situasie aan haar ouers, dan kyk sy om haar rond. “Strooi! Hy moet hier iewers wees, jy herken hom seker net nie. Is hy nie daai vleispaleis daar oorkant by die pilaar nie?”
“Nee, Arnold is skraler.”
“Of daai ou wat kort-kort diékant toe loer?”
“Nee, hy is donkerder en dra ’n bril.”
“’n Swart of goue raam?”
“Swart. Dis nou al amper ’n halfuur…” Clio voltooi nie haar sin nie. Haar keel is toegetrek en haar mond droog. “Ek kry ’n gevoel hy gaan nie kom nie.”
“Hy sit dalk iewers in ’n verkeersknoop. Die paaie is woes dié tyd van die middag om die lughawe. Dis boonop steeds die Wêreldbekersokker se nadraai.”
“Dan sou hy gebel het.”
“Is jou selfoon ooit aan?”
Clio maak weer seker. “Ja, ek het hom aangeskakel net na ons geland het.”
Aloma gee ’n uitroep en beduie triomfantlik met haar wysvinger. “Eureka! Daar’s hy, in lewende lywe: maer, donker, met ’n bril!” roep sy verlig uit.
Clio huiwer. “Wag eers, ek is nie seker nie…”
“Jy sal nog staan en wharra-wharra, dan verdwyn hy weer!” Voor Clio kan keer, gryp sy haar aan die arm en pyl op die man af. “Arnold? Haai!”
Clio probeer wegrem. “Nee,” sis sy. “Dis nie hy nie.”
“Dit is. Dis presies hoe ek gedink het hy sal lyk. Hou op briek en kom! Natuurlik is dit hy.”
“Issie!”
Aloma luister nie. “Arnold!” roep sy. “Hallo!”
Die man lyk ingenome. Krismis het vanjaar vroeg gekom… Toe die twee meisies op hom afstorm, wag hy hulle in. ’n Rooikop en ’n blondine… Gebou vir onthou, met kurwes wat ’n man se testosteroon deur die plafon jaag. Ewe bruikbaar, maar hy verkies die blondie met die inkblou oë.
Hy kyk Clio takserend op en af toe hulle voor hom tot stilstand kom. “Halló-halló!”
Aloma beskou dit as ’n groet en pomp Clio in die ribbes. “Jou mos gesê… Is jy Arnold van Deventer?” vra sy uitasem.
’n Grynslag krul om die man se mond. Hy weet nie wie die Arnold-vent is nie, maar dit maak nie saak nie. “Ek kan hy wees, as jy wil,” antwoord hy luiweg en staar na die boonste knoop van die blondine se bloes, wat lyk of dit uit die knoopsgat wil peul. Net genoeg om ’n man lus te maak…
“Jy is nie!” beskuldig Clio hom.
“Ek is beslis. Báie lus!” verseker hy haar entoesiasties.
Clio hou nie van sy insinuerende kyke en skimpe nie. Wat dink hy is sy?
Haar oë blits en haar ken lig parmantig. “Ek is nie ’n skouperd op ’n veiling nie, meneer!”
Hy klik sy tong. “Hoe jammer… Anders het ek jou gekoop en huis toe gevat.”
Clio gluur hom aan. “Kom, Aloma, ons loop,” beveel sy kil en pluk haar arm los.
“Bel my as jy Arnold van Deventer nie kan kry nie!” roep die ou haar agterna.
Clio ignoreer hom. “Doen dit ooit weer aan my, Aloma Bremer, en ek kla jou aan van kwaadwillige saakbeskadiging,” dreig sy.
“Dis nie mý skuld dat die ou ’n ander ou is nie. Ek wou maar net help om –”
Clio het nog nie afgekoel nie. “Help om ’n gek van my te maak!”
“Het jy nie ’n foto van Arnold nie?”
“Ek het, maar dis nie ’n duidelike foto nie, en dis heel onder in my tas.”
Meneer Bremer het die petalje dopgehou. ’n Blik na Clio se bedremmelde gesig maak dit onnodig om vrae te vra. “Is jy seker jy het vir jou vriend die korrekte datum en vlugnommer gegee?” wil hy weet.
Clio knik. Hulle het dit oor en oor bevestig en daar kan nie ’n misverstand wees nie.
In haar agterkop begin ’n onrustige stemmetjie met haar praat: As jý bedenkinge begin kry het, wie sê jy was die enigste een? Arnold is skaam en teruggetrokke. Jy was self verbaas toe hy so ondernemend was om jou plaas toe te nooi. Dalk was dit ’n impulsiewe daad, maar het hy agterna spyt gekry omdat hy so voortvarend was.
Aloma probeer vir netnou se misgissing vergoed. “Wag hy nie miskien vir jou in die kafeteria nie? Hy het dalk ’n sms gestuur wat jy nie gekry het nie.”
Die kans is skraal. Nul, dink Clio. Dis ’n strooihalm om haar te troos.
Die hele ding is ’n gemors… Sy moes van beter geweet het, moes nie gekom het nie. Arnold het die aftog geblaas. Hy is nie in die kafeteria nie, nie op die lughawe nie en nie in ’n verkeersknoop nie. Hy is ver weg op Vuurfontein, veilig tussen sy diere en verfkwaste. Arnold leef in sy eie wêreld, en sy kan hom nie dwing om haar te ontvang en vir haar lief te wees nie.
Maar vervlaks, hy kon haar darem vroeër laat weet het hy gaan die hasepad kies. Darem net die foon opgetel het! Om ’n introvert te wees, gee jou nie ’n vrypas vir swak maniere nie.
Of oordeel sy te gou? Moet sy hom kans gee om te verduidelik?
“Het jy sy selnommer? Bel die man,” stel meneer Bremer voor.
Natuurlik! Clio is vies omdat sy nie lankal daaraan gedink het nie. Die min slaap verlede nag op die vliegtuig het haar dom gemaak.
Arnold se foon lui en lui, sonder dat hy antwoord. ’n Tweede en derde probeerslag lewer dieselfde resultaat: die blikstem wat sê hy is nie beskikbaar nie.
“Het jy ’n boodskap gelaat?” vra Aloma.
Clio knik. “Ek het laat weet ek sit gestrand op die lughawe en hy moet my dringend terugbel.”
“Jy is nie gestrand nie,” protesteer mevrou Bremer. “Jy kom bly by ons. Ons het ’n huis vol leë slaapkamers, en jou geselskap sal Aloma opbeur.”
Watter ander keuse het Clio? Die vliegkaartjie het haar platsak gelaat. Sy het ’n klompie sakgeld, maar nie genoeg vir ’n hotel of gastehuis vir ’n paar dae nie, totdat sy plek kan kry op ’n vlug terug Kanada toe.
“Ek wil nie moeite veroorsaak nie…” sê sy verleë.
“Strooi!” knip Aloma haar kort. “Jy het so daarna uitgesien om weer in Suid-Afrika te wees, dit sal ’n sonde wees om terug te gaan sonder dat jy ten minste iets van Pretoria te sien gekry het.”
“Al is dit net ’n jakarandaboom,” sug Clio. “Ek wil ’n blommetjie pars, as ’n aandenking vir my ma. Sy is sentimenteel oor Pretoria, want dis hier waar sy en my pa mekaar ontmoet het. Albei het op Tukkies gestudeer. Ek onthou min van die stad. Al ons besigheid is op Bela-Bela gedoen, en ek was jonk toe ons weg is.”
“Hoekom is julle weg uit Suid-Afrika?” vra mevrou Bremer.
“My pa is nie éintlik ’n boer nie, eerder ’n wetenskaplike. Hy het ons plaas verkoop om in Kanada navorsing te gaan doen oor veeteelt en beesrasse. Calgary lê in die provinsie Alberta, wat die kern van Kanada se beesboerdery is en goeie studiefasiliteite bied. Ná hy sy doktorsgraad behaal het, het hy ’n baie goeie werksaanbod gekry en besluit om in Calgary aan te bly.”
“Sal julle ooit eendag terugkom?”
“Hopelik. Wanneer hy eendag aftree of die ysige winters hom begin onderkry, of wanneer hy te veel na Suid-Afrika se sonskyn verlang.”
Meneer Bremer kyk op sy horlosie en soek sy motorsleutels. “Ons moet ry. Ek sal op pad ’n paar besienswaardighede vir jou gaan wys,” bied hy aan. “Of wou jy nog ’n rukkie vir jou vriend gewag het?”
Clio sou graag wou, maar sy wil nie die mense verder verontrief nie. Sy kan langs die pad weer probeer bel. En as dit moet, kan Arnold haar môre in Pretoria kom haal. Mits hy bereid is… Dis nie hoe sy hom onthou nie – so onseker en wispelturig. Hy torring al so lank aan haar en het gretig geklink om haar te sien, selfs aangebied om haar vliegkaartjie te betaal. Iets rym nie…
Is hy dalk siek? As hy ’n skielike blindedermaanval gehad het of in ’n ongeluk was, sou hy nie kon bel nie. En Jurg sou hom nie verwerdig het om moeite te doen nie. Vir ander meisies, ja… Hy is bekend as ’n rokjagter, het glo altyd een of ander skoonheid op sleeptou. Arnold spot dat sy broer énigiets sal doen vir ’n mooi meisie, selfs sy laaste stukkie klere uittrek…
Maar nie vir háár nie, dit weet sy goed. Jurg beskou haar as ’n voorwerp wat in ’n rioolpyp uitgebroei het. En die gevoel is wedersyds.
Meneer Bremer draai van die snelweg af en ry ’n ompad om vir hul oorsese kuiergas die voorstede, Uniegebou en Voortrekkermonument te wys, asook ’n paar strate in Brooklyn waar die jakarandas op hulle beste lyk – oortrek met massas wasige pers blommetjies. Clio maak ’n plastieksakkie vol bloeisels vir haar ma; sy sal dit pars en saamneem later.
“Kan ek asseblief netnou julle telefoongids gebruik?” vra sy toe sy in die motor terugklim. “Ek wil Vuurfontein toe bel. Talien sal weet wat met Arnold aan die gang is.”
Aloma haal haar skouers op. “As jy so dink…”
Haar oë is nog pofferig, maar sy het die snesies gebêre, sien Clio. “G’n ploert is dit werd dat ek ’n enkele traan op hom mors nie,” het Aloma ’n rukkie tevore verklaar. “Ek het daardie hoofstuk van my lewe afgesluit en begin vandag op ’n nuwe bladsy. Ek sal huil oor my honde, my papegaai en my marmot, maar beslis nie weer oor flippen Rinus de Wet nie. Eendag gaan jy nog dieselfde voel oor Arnold van Deventer – dankbaar wees jou oë het betyds oopgegaan en jy is van die boef ontslae.”
Clio byt op haar onderlip. Miskien is Aloma reg. Miskien moet sy Arnold afskryf, hom vergeet. Maar eers láter…
Nou wil sy antwoorde hê. Uitvind wat gebeur het om hom in sy kokon te laat terugklim. Hy kan nie net sommerso verdwyn nie, hy skuld haar ten minste ’n verduideliking. ’n Goeie rede. En ’n groot verskoning.
“Face die feite: jy’s ook gedump,” vryf Aloma dit in. “Dit gebeur nie net met rooikoppe nie, dit kan selfs sexy blondes tref. Jou en Arnold se e-posvryery was soos die internet-kletskamers s’n: 99% van die kandidate is kansvatters wat nie in die samelewing tot ’n normale verhouding in staat is nie en van wie jy moet wegbly. Eintlik moet jy bly wees jou ou het nie opgedaag nie, anders het jy ook met ’n boks snesies gesit.”
Aloma oordryf, soos gewoonlik, besluit Clio en probeer afskakel. Sy let nie die swaar ysterhekke op waardeur die motor indraai en die imposante dubbelverdiepinghuis nie.
Voor haar geestesoog is ’n skraal, sensitiewe gesig met blinkbruin hare wat oor sy voorkop val en ’n paar eerlike grys oë wat sonder skroom van agter die bril na haar kyk… Arnold is nie ’n kansvatter nie. Hy is ’n sagte, weerlose mens wat niemand sal skade aandoen nie. Sy weet hy is lief vir haar en hy wou haar sien, wou haar op die plaas hê… Hy sou haar nie sonder ’n grondige rede in die steek gelaat het nie.
Op vier en twintig het sy darem al iets van die lewe ervaar. In Kanada was daar ander seuns met wie sy vriende was; op universiteit selfs een of twee wat vir haar meer beteken het: sterre in haar oë gesit het en haar knieë lam gemaak het. Deel van die grootwordproses, het sy besef, en haarself nie toegelaat om té lief vir hulle te word nie.
Want iewers diep, in ’n baie spesiale plekkie in haar hart, was die buurseun in Suid-Afrika. Die sagte, geduldige buurseun wat altyd daar was wanneer sy hom nodig gehad het. Wat haar in die vlak water van die rietkuil leer swem het, wat haar leer perdry het, die voëls wat Lallie gevang het gesond gedokter het, wat in die skoolbus vir haar plek gehou het langs hom.
Wat een aand buite op die patio, toe dit volmaan was, haar hand vasgehou en haar sag op die mond gesoen het. Dit was so natuurlik, amper vanselfsprekend, dat sy hom met kinderlike onskuld teruggesoen het. Eers op die wang en toe ook op die mond. ’n Baie lekker soen, waaroor sy romantiese dagdrome gehad het, pleks van in die klas op te let en haar skoolwerk te doen.
Arnold het haar boekesak gedra, ’n paar keer by die kafee vir haar ’n melkskommel gekoop en in die bus haar hand vasgehou. Maar hy het haar nie weer gesoen nie. Net die aand op die lughawe toe hulle vertrek het, het hy haar styf vasgehou, sy mond warm teen hare gedruk en belowe hy sal vir haar wag. Wag tot sy groot is. Wag tot sy eendag terugkom…
“En nou?” frons Aloma toe Clio met haar hand oor haar oë vee. “Hoekom klim jy nie uit die kar nie? Vanwaar die skielike waterwerke? Moenie vir my sê dis wraggies oor daardie slapperd nie!”
Nee, Clio was sommer sentimenteel, aangedaan by die gedagte dat sy uiteindelik weer in haar eie land is… Sy mompel ook iets van hooikoors, van die stuifmeel aan die blommetjies, klim uit en haal haar bagasie uit die kattebak.
Aloma stap vooruit deur die ingangsportaal, met die wenteltrap op en in ’n lang gang af, waar sy ’n deur oopmaak. “Die slaapkamer langs myne. Jy het ’n uitsig oor die Magaliesberge, jou eie TV en badkamer. Daar’s seep, handdoeke, sjampoe en gesigroom. Het jy als? Of is daar nog iets wat jy nodig het?”
“Daar is…” Clio huiwer, maar dis belangrik en sy kan dit nie sommer net los nie. “Daardie telefoongids, asseblief?”