Читать книгу Bruid uit die koue - Ettie Bierman - Страница 6

3

Оглавление

Haar nagklere is heel onder in haar tas, maar Clio is te vaak om uit te pak. Die bad het haar lomerig gemaak en sy trek ’n sweetpak aan wat bo-in lê. Vir wanneer sy en Arnold sou gaan perdry of Vuurberg uitklim tot bo waar die fontein ontspring, soos hul gewoonte altyd was… Sy dwing haar gedagtes weg, vou die duvet terug en skuif tussen die lakens in.

Dit voel of sy skaars vyf minute geslaap het toe iemand aan haar kamerdeur klop.

Clio soek na die bedliggie en kyk verward om haar rond, na die gedrapeerde gordyne en vreemde kasdeure. Eers toe sy haar halfoop tas op die bankie sien, registreer sy waar sy is. Sy probeer kyk hoe laat dit is, maar haar oë voel sanderig en sy sukkel om te fokus.

“Ek wil nie sjokolade drink nie,” mompel sy.

Aloma kom binne en gee haar ’n skud. “Waar was jy? Op ’n ander planeet? Ek klop al hoeka hoe lank.”

Clio sukkel regop op haar elmboog. “Wassit?”

“Iemand om jou te sien!”

“Sê hy moet loop, ek slaap.”

“Ek het. Hy sê jy moet opstaan en aantrek.”

“Hoekom?”

“Julle moet hospitaal toe gaan.”

Haar hoofpyn van netnou is erger en klop met tamboerslae teen haar slape. Clio druk haar palms teen haar oë. “Wiessit?”

“Jurg. Ek het vir hom gesê jy’s ’n zombie, maar hy sê jy kan later uitpass. Nou moet jy eers opstaan en kom. En jy moet jou litte roer, hy’s haastig!”

Dit klink soos Jurg. Ongeskik, hiet en gebied en jaag almal rond.

“Hy het al die pad van Bela-Bela af gekom om jou te kom haal.”

“Ek’t gesê hy moenie, dit sal middernag wees teen die tyd dat hy hier aangesit kom.”

“Dis nie middernag nie,” kom ’n manstem vanuit die kamerdeur. “Dis twintig oor elf. Lig jou, Cleopatra.”

Skielik is Clio wawyd wakker. Sy vlieg orent. “Jy kan nie sommer by vreemde mense se huis instorm nie!”

Jurg is onverstoord. “Ek het nie ingestorm nie. Ek het geklop en hulle het vir my oopgemaak.”

“Jy het nie geklop voor jy hier by mý ingestap het nie!”

“Jy is nie vreemde mense nie, en ek is haastig. Ons kan later bokshandskoene aantrek en die kwessie uitbaklei, nou moet ons eers by die hospitaal kom. Is jy reg so, of wil jy ander klere aantrek?”

Clio hou op teëstribbel. Dis mos wat sy wou hê – om by Arnold te wees…

“Was jy netnou weer by hom aan? Hoe gaan dit met hom?” wil sy weet.

Jurg lig sy skouers met ’n hulpelose gebaar. “Nog maar dieselfde.”

“En met Talien?”

“Jy ken haar mos – ’n kanniedood. Sy stuur groete en sien uit na jou kuier. Net jammer jou vakansie het nou platgeval.”

“My vakansie is die minste. Solank Arnold net regkom.” Clio sien hoe Jurg op sy horlosie kyk en haas haar badkamer toe. “Ek’s reg, ek wil net gou gesig was en hare kam.”

“En pak.”

Sy frons onbegrypend, en Aloma verduidelik: “Jurg reken dis geriefliker as jy op Vuurfontein bly, nader aan die hospitaal.”

“Dis logies, en makliker vir almal,” beaam hy. “Is daar bagasie wat ek solank ondertoe kan neem?”

Aloma druk ’n paar los kledingstukke in Clio se tas, knip dit toe en oorhandig dit aan hom. “Ek sal die res bring.”

“En vir Cleopatra ook,” beveel hy. “Kry julle onder by die motor?”

“Ja.”

Clio is verlig toe hy padgee. Sy het nog skaars die skok van Arnold se ongeluk verwerk, sy sien nie nou al vir sy broer ook kans nie.

Sy drink twee hoofpynpille, borsel haar hare en bind dit met ’n rekkie vas.

Dan soen sy Aloma op die voorkop. “Dankie, liewe vriendin, vir jou hulp en onderskraging. Sonder julle sou ek verlore gewees het.”

“Jy sou dieselfde vir my gedoen het.”

“Onthou: uit die oog is nie uit die hart nie,” herinner Clio haar. “Daar is ’n groot, bruin boepensteepot op die plaas, en ons twee gaan lang stukke rondom hom gesels.”

Sy tel die plastieksak met die blommetjies op en haar skouersak. “Ek is klaar, ons kan afgaan.”

’n Haastige afskeid is makliker, dink sy terwyl sy die Bremers oplaas vashou en bedank. Uitgerek sou weer ’n tranedal afgegee het. En dis nie vir altyd nie. Sy sal hulle weer sien, veral vir Aloma. Sy het belowe om gou, die eerste oop Sondag, te kom kuier. Teen daardie tyd is Arnold hopelik al by…

Jurg wag haar op die voorstoep in om die laaste bagasie in te laai. Maar Clio steek vas en haar oë rek. Sy moes dit verwag het. Geweet het hy sal nie met ’n bakkie of ’n skedonkmotortjie ry nie. Geen wonder hy was twintig oor elf al hier nie. Dis omdat hy met ’n laagvlieënde Mirage gekom het.

Sy onthou albei die Van Deventer-broers het ’n voorliefde vir spoed. Arnold met perde en Jurg met vinnige motors. Sy kamermure was vol plakkate van Formule 1-renmotors, Ferrari’s, Maserati’s, Bugatti’s en ander monsters wat soos koringkrieke lyk.

Die een waarmee hy haar kom haal het, is ’n spesie op sy eie, meer soos ’n vlieënde piering, met ’n lae profiel, breë bande en ’n drukvlerk, alles in chroom en glimmende swart. ’n Oorweldigend macho-kar, soos net Jurg van Deventer sal hê. Dis ’n wonder dat hy plek gevind het vir haar pakkerasie.

Sy klim versigtig in by die motordeur wat hy vir haar oophou, bang sy stamp aan iets en die ding styg op. “Dankie,” sê sy kortaf en vou haar bene onder die paneelbord in.

Die sitplek is omtrent plat teen die vloer en sy wonder hoe sy hier gaan uitkom sonder ’n onelegante geskarrel. “Ook vir jou moeite om my te kom haal. Dit was gaaf van jou.”

Die Porsche brul met die rylaan af en deur die ysterhekke. Jurg draai sy kop en glimlag vir haar. “Ek is maar so ’n gawe ou. Het jy vergeet?”

“Nee, ek het niks vergeet nie, niks omtrent jou nie,” antwoord Clio stug. Dit was dubbelsinnig en sy hoop hy snap die insinuasie. Tussen hulle lê ’n slagveld vol bloed en derms wat nie deur een vriendelike gebaar uitgewis kan word nie.

Die glimlag om sy een mondhoek trek skeef en hy draai weg. “Ek onthou jy het altyd geskiet sonder om te groet.”

Bedoel hy om haar te laat sleg voel? Clio se wange word warm. “Naand.”

“Goeienaand,” groet hy formeel.

Hy verwag blykbaar meer, en sy dwing haarself om ’n bietjie meer erkentlik te wees. “Dis goed om jou te sien.”

“Is dit?” vra hy sinies.

“Nee,” erken sy eerlik, “dit is nie. Ek het net probeer om beleef te wees.”

“Bedagsaam van jou.”

“Ek is maar so ’n bedagsame meisie,” antwoord sy snipperig.

Jurg probeer redelik wees. “Ek weet jy hou nie van my nie, en ek kan jou seker nie kwalik neem nie, want miskien het ek dit verdien. Maar ons is saam in hierdie krisis gedompel, en ter wille van Arnold moet ons probeer om oor die weg te kom.”

“Ek is nie die probleem nie, dis jy.”

“Ons twee het van meet af sleg weggespring.”

“Korrek,” stem sy saam. “Sleg uit ons blokke uit, en ook nie later in die pylvak ingehaal nie.”

“Ek is bereid om weer te probeer.”

“Ter wille van Arnold?”

“Ook ter wille van ’n nuwe begin tussen ons twee.”

’n Olyftakkie wat hy na haar uithou? Só maklik is Clio nie bereid om vrede te maak nie. Veral as sy die vrede nie vertrou nie. Jurg van Deventer het haar al te veel in die verlede getreiter en te na gekom. Dit was nie net Lallie nie, daar was ook haar sewende verjaarsdagpartytjie, toe haar ma ’n groot okkasie van haar spesiale dag wou maak.

Die partytjie het ’n feetjie-tema gehad. Die meisietjies was almal in pastelkleurige balletrokkies geklee, met towerstaffies en vlerke, hare gekrul en vol blinkertjies. Die tuin vol feetjieliggies, paddastoele en sementkabouters. Die tiental meisietjies het om ’n lae tafel op satynkussings gesit en fyntjies geproe aan miniatuur-eetgoed – Jelly Tots, Smarties, gekristalliseerde viooltjies, gevulde kappertjies, roosblare en druiwekorrels. Pinkie in die lug koeldrank gedrink uit kristal-sjerrieglasies.

Teen skemer het die omliggende seuns, ouer boeties en hul makkers besluit om ook ’n bydrae tot die partytjie te lewer. Feëverhale het mos altyd reuse en monsters in… Op stelte, met lakens omhang en vermom met grusame mombakkiese, het hulle vanuit die donker bosse opgedoem en jillend op die feetjies afgestorm. Die meisietjies het histeries op die vlug geslaan. In die chaos het die tafel in die slag gebly, die koeldrank omgeval en die eetgoed in alle rigtings gesaai.

Haar ma het in trane uitgebars. “Dis ’n ramp! My stomme kind… Niemand sal ooit weer na haar partytjies toe kom nie,” het sy verslae gemompel. Sy moes by al die maatjies se ouers verskoning vra oor die trauma waaraan hul kinders blootgestel was.

Clio was dapperder as haar maatjies en het nie so ver weggehardloop soos hulle nie. Sy het halfpad agter ’n dik boomstam weggekruip en uitgeloer. Sy het die voorste belhamel op stelte herken toe hy ’n slag sy mombakkies opgelig het. Dit was Jurg van Deventer, en daarvoor sou sy hom nooit vergewe nie. Die fiasko het amper die vriendskap tussen haar en Arnold verongeluk, al het hy hoog en laag gesweer hy het nie geweet wat Jurg en sy trawante beplan nie.

Nou nog steeds, meer as ’n dekade later, is sy vol wraak. ’n Hand van vriendskap van haar aartsvyand aanvaar? Nee. Nie eens ter wille van arme Arnold wat ernstig beseer in die waakeenheid lê nie. Sy maak geen beloftes en laat haar nie kompromitteer nie.

Dis veiliger om die onderwerp te verander.

“Hoe het jy geweet waar om my te kry?” vra sy.

Jurg wou die oorlog beëindig en is teleurgesteld omdat hy nie daarin geslaag het nie. Maar as Clio steeds kwaad is en weier om die verlede te begrawe, kan hy haar nie dwing nie.

“Ek het in die telefoongids gekyk. Bremer is ’n taamlike skaars van. Daar is net ses in Pretoria. Die derde een wat ek gebel het, was Aloma se pa, en hy het bevestig dat jy by hulle is. Ek het die adres gekry en reguit soontoe gery.”

Sy moes dit geraai het, geweet het hy is te eiewys en hardkoppig om te maak soos sy gevra het. Haar gesels droog op en sy sit stil in haar hoekie, skielik vol verlange huis toe, na haar eie mense en bekende omgewing waar sy tuis voel.

Clio onthou goed hoe Arnold gelyk het: rankerig en maer. In teenstelling was sy broer sterker en meer atleties. Maar was Jurg toe al so fors gebou? wonder sy.

Sy hempsmoue is ’n entjie opgerol en sy kan nie help om die breë skouers en gespierde, bruingebrande voorarms op te let nie. Selfs sy hande waar hulle op die stuurwiel rus, lyk anders as wat sy verwag het. Groot, ja, soos mens van ’n fris boer sou verwag, maar daar is ’n onverwagte slankheid aan die vingers, amper soos Arnold s’n. Sy wonder skielik of hulle dieselfde gene geërf het en Jurg dalk ook kunstig is. Sy het nooit genoeg belang gestel om te vra nie.

Sy kan verstaan dat die meisies destyds mal was oor hom. Jy hoef nie van iemand te hou om te besef dat hy iets vir die oog is nie. En dit is Jurg van Deventer beslis. Sjokoladeboksmooi, soos die held in ’n romantiese boek of fliek. Sy hare het donkerder geword, amper gitswart, en hy dra dit kort gesny. Sy gesig is hoekig, die kakebeen ferm en vierkantig, wat van ’n sterk wil getuig. ’n Man wat sy eie ding doen en hom nie laat voorskryf nie. Tipies soos hy is.

Jurg is ’n ruk lank stil terwyl hy op die verkeer konsentreer, van baan verwissel en noord afdraai op die N1-snelweg. Tussendeur beskou hy haar ook, nuuskierig en meer direk as netnou by die Bremers se huis, toe hulle haastig was.

“Jy het mooi grootgeword, Cleopatra,” merk hy op.

Asof hy haar gedagtes kon lees… Clio skrik. Sy sal uitklim en weghardloop as hy moet weet wat deur haar kop gegaan het, weet dat sy hom aantreklik vind…

“Moenie my só noem nie!” Sy is verleë en haar stem klink skerper as wat sy bedoel het.

“Hoe?”

“Cleopatra.”

Sy een wenkbrou lig vraend. “Hoekom nie?”

“Want dis onvleiend bedoel, om met my die spot te dryf.”

Hy lyk verbaas. “Wie sê so? Koningin Cleopatra was bekend as ’n legendariese skoonheid.”

“Ja, met swart hare en donker oë. Die presiese teenoorgestelde van my ligte hare en blou oë. Dit beteken in teenstelling is ek lelik.”

Selfs in haar eie ore klink die redenasie verspot en onoortuigend, en Clio is nie verbaas toe hy uitbars van die lag nie.

“Die grootste spul tjol wat ek nog gehoor het! Jy is paranoïes, Cleopatra.”

“En sy was ’n verleidster,” las Clio verdedigend by. “’n Delila met stringe minnaars wat sy bekoor en misbruik het. Julius Caesar en Mark Anthony en nog ’n klomp ander.”

Hy is steeds geamuseerd, met ’n tergende grinnik wat om sy mooi mond speel. “En jy is weer eens die teenoorgestelde: nie ’n verleidster nie?”

Twee rooi kolle brand op haar wange. “Natuurlik nie! Lyk ek vir jou soos ’n Delila?” vra sy gekrenk.

Hy verander van rat om verby ’n swaar beestrok te kom, dan betrag hy haar nadenkend. “Noudat jy dit noem… Ja, jy lyk nogal soos ’n Aphrodite, gekruis met ’n Delila, met beddens vol bruikbare minnaars.”

Clio weet dis as ’n grap bedoel, maar wat Jurg van Deventer betref, het sy nog nooit ’n sin vir humor gehad nie. Sy ruk haar op.

“Jy het niks verander nie! Jy is nog net so banaal soos destyds. Toe al het ek wye draaie om jou geloop, en ek wil dit nog steeds doen. Dis hoekom ek op eie stoom in Bela-Bela wou kom, eerder as dat jy my kom haal.”

Jurg kan homself skop. Hy het geterg, sonder bybedoelings. Maar hy het vergeet hoe jonk Clio is, vergeet hoe oorbeskermend haar ouers teenoor hul enigste meisiekind was.

Voor sy kan keer, leun hy oor en neem haar hand in syne. “Ek is jammer. Jy is so deksels mooi, ek kon die versoeking nie weerstaan om te sien hoe jy lyk as jy kwaad is nie. As die blou vonke uit daardie blou oë van jou blits…”

“Jy het my al baie kere kwaad gesien.” Clio rem weg. “Hou op om my heuning om die mond te smeer. Ek is ouer as tien. Ek ken mans, ek val nie daarvoor nie.”

Ken mans? Met daardie kuise Victoriaanse voorkoms? Clio Gericke is nog pure kind. Hy glo nie sy het al ooit ’n regte kêrel gehad nie, anders sou sy nie halfpad om die aarde gevlieg het om vir sy broer te kom kuier nie. Kanadese mans is klaarblyklik nie veel werd nie.

Hy wonder of sy darem al ’n slag behoorlik vasgevat en gesoen is. Hy sou graag persoonlik wou uitvind, maar hy is versigtig vir die donderweer en blitse wat hom sal tref. Met hierdie vroumensie het ’n man ’n valhelm nodig. Sy lyk soos ’n sagte, donsige dingetjie wat jy wil huis toe vat en op ’n snoesige mat voor ’n kaggelvuur vertroetel. Maar soos hy uit dure ondervinding weet, ontaard sy in ’n rissiepit met moordlustige neigings as sy op die oorlogspad is. Dan is dit veiliger om uit haar pad te bly en te sorg dat daar geen skerp voorwerpe binne haar bereik is wat as wapen kan dien nie.

Toe sy begin ruk en pluk, laat Jurg dadelik haar hand gaan.

“Dis nie heuning smeer nie, ek is ernstig. Jy is verstommend mooi, Clio. Selfs op laerskool, met ’n pannekoeklyfie en wipneus, het jy belofte getoon. Nou het jy ontpop in een van die mooiste meisies wat ek al gesien het. Dís wat my rewolusies opgejaag het. Ek vra verskoning as ek vrypostig was. Dit sal nie weer gebeur nie, ek belowe.”

Hy klink eerlik en opreg jammer. Dit was ’n mooi verskoning. Maar sy is gegrief oor die “pannekoeklyfie”. Is dít hoe hy haar gesien het? So plat of so rond soos ’n pannekoek?

“Wat sal nie weer gebeur nie?” wil sy weet. “Jou verhoogde rewolusies, of vrypostigheid?”

Sy het nie gedink die selfversekerde en voortvarende Jurg van Deventer kan onkant gevang word nie. Hy byt op sy onderlip.

“’n Ou kan nie altyd sy revs teëwerk nie. Dit gebeur vanself.”

Hy is ten minste eerlik…

“Mooi, sê jy?” merk sy peinsend op. “Ek is dom en verstaan nie altyd hoe mans se drie breinselle werk nie. Wat is jou definisie van ‘mooi’?”

Dis ’n strikvraag. Jurg besluit om water te trap en neutraal te wees. “Mooi musiek?” soek hy uitkoms. “’n Mooi skildery of ’n perd of ’n ding?”

“Nee, ek bedoel mooi ten opsigte van ’n meisie?”

Hy is in ’n hoek en is versigtig om nie weer in ’n gat te beland nie. “Ek hou van ligte koppe,” erken hy. ’n Doodgewone, reguit antwoord wat nie weer verkeerd vertolk kan word nie.

“Lig in die kop?” wil sy sedig weet. “Jy bedoel: as hulle gloeilampies op die boonste verdieping almal brand?”

“Nee, lígte koppe.”

“O… Jy bedoel koppe wat nie veel breinselle inhet nie? Hoekom? Omdat sulke meisies maklike teikens is?”

“Nee!” keer hy haastig.

“Of in vergelyking jou laat slim voel?”

“Nee! Ek bedoel: ligte háre. Blonde hare.”

“O… En verder?”

“Blou of groen oë. ’n Goed versorgde meisie. Maer. En sy moenie te veel grimering gebruik nie.”

“’n Blinkgeskropte gesig hê, soos myne? Pas uit die bad, en na Lifebuoy-seep ruik?”

Jurg probeer hard, maar trap klei. Hy kry die idee wat hy ook al antwoord, sal sy verdraai om die verkeerde antwoord te wees. Dis beter om sy mond te hou en op die pad te konsentreer.

Die rit voel eindeloos en hy is verlig toe hulle Bela-Bela se afrit bereik. Maar dit het hom intussen darem kans gegee om sy gedagtes agtermekaar te kry. Die seep is nie heeltemal wat hy bedoel het nie, maar dis skadeloos. Daar kan tog seker niks skort met ’n skoon voorkoms nie? werk hy uit.

Hy waag dit om effe meer ambisieus te raak. “Skoongewas, ja. Nie opgedress of opgesmuk nie. Fyn gebou, soos jy. Jy lyk dalk maer, maar jy het ’n wulpsheid wat mens nie kry by daardie verhongerde modelle op die loopplank nie – daai vroumense wat veronderstel is om kastig mooi te wees.”

Clio is verstom. Bedoel hy om haar te vlei? As dit is, is dit die vreemdste kompliment wat sy nog ooit by ’n ou gekry het.

Is Jurg van Deventer besig om op ’n onbeholpe manier by haar aan te lê? Sekerlik nie! Die renons wat sy in hom het, is wedersyds. En ’n rokjagter soos hy veronderstel is om te wees kan seker veel beter komplimente bedink.

“Wulps?” eggo sy, en laat dit na ’n skelwoord klink. “Bedoel jy ek is vet?” Sy is skielik terug in die Hoekkafee met haar pienk melkskommel en rem selfbewus aan haar sweetpaktop, al sit dit wyd en los.

Jurg verwens homself. Hy moes geweet het dit gaan boemerang en hom teen die kop tref. Hy byt op sy tande. Van Deventer, nou moet jy oppas… Nou moet jy jou voetwerk ken, waarsku hy homself. Die hospitaal is net hier voor, om die draai. Moenie verder aanjaag of opmors nie. Gebruik hierdie laaste minuut om olie te gooi…

Hy glimlag gemaak ongeërg. “Wulps en vet is nie dieselfde nie. Vet is rolle, soos ballonne of ’n uitgerysde poeding. Wulps is kurwes, soos die vloeiende golwe van die see. Die wind wat oor ’n koringland waai, of die vlug van ’n arend bo die wolke…”

Jurg slaak ’n verligte sug toe hy by die parkeerterrein indraai en stilhou. Hy is verras deur sy eie welsprekendheid. Nie sleg vir ’n senuweeagtige boertjie wat ’n snoesige donsie wil beïndruk nie…

Hy word vinnig aarde toe gebring.

“Wat was daardie gepaste woord wat jy netnou gebruik het?” vra Clio. “Tjol! G’n meisie kan soos ’n golf of ’n stuk koring lyk nie. Of ’n voël nie, behalwe as sy ’n haakneus het wat soos ’n snawel lyk.”

Sy stoot die deur oop om uit te klim, maar kom agter sportmotors is nie gebruikersvriendelik ten opsigte van vroulike passasiers nie. Genadiglik het sy nie hoëhakskoene of ’n mini aan nie. Nogtans sukkel sy om uitgeklim te kom.

Jurg is afgehaal, versigtig om nie weer van vrypostigheid beskuldig te word as hy te gou byderhand is nie. Hy bly staan. Maar toe sy in ’n bondel elmboë en kniekoppe bly sit, kom hy versigtig nader en steek sy hand uit. “Kan ek jou help?”

Hoog tyd! Of geniet hy haar dilemma?

“Indien dit nie vir jou te veel moeite is nie,” antwoord sy sarkasties.

Sy hand is breed en sterk. Gerusstellend warm. Toe sy vingers ferm om hare sluit, stuur die kontak ’n wilde sensasie deur haar lyf – van haar hand af deur haar arm, af oor haar ribbes en gaan lê in ’n vreemde krieweling op die krop van haar maag. Haar hart skop woes teen haar borsbeen, só hard sy is bang hy hoor dit. As haar bene nie jellie was nie, het Clio sy hand gelos. Maar sy is bang sy val om.

“Wat makeer? Is iets verkeerd?” vra sy stem iewers bokant haar regteroor.

Het hy iets agtergekom? Sy kyk skrams op, maar sy gesig is suiwer besorg.

“Natuurlik is ek oukei. Hoekom sal ek nie wees nie?” vra sy half kortasem.

“Ek het net gewonder…”

“Ek is nog vlugvoos. My kop draai van die lang vlug en min slaap, dis al,” antwoord sy verdedigend.

In haar binneste protesteer ’n stemmetjie: Jy jok! Dit het niks met die vlug of min slaap te doen nie. Dis iets anders. ’n Vonk, ’n chemiese reaksie, ’n elektriese lading tussen jou en Jurg van Deventer.

Tjol! stry sy. Bog en snert! Ons kan mekaar nie verdra nie, vir wat sal daar iets tussen ons wees?

Jurg kyk vraend na haar. “Ekskuus?”

Het sy al daardie onsin hardop geuiter? Clio pluk onthuts haar hand uit syne los. Sy kruip bo in ’n boom weg as hy gehoor het hoe haar kop raas en haar verspotte hart tekere gaan.

“Niks. Ek het sommer net gehoes,” mompel sy.

Sy loop vinnig in die rigting van die hospitaal se ingang. Die driekwartier in die motor saam met hom was net ’n interlude. Dis oor en verby, dit beteken niks.

Haar eerste prioriteit is Arnold. Dis waarvoor sy halfpad om die aarde gevlieg het: om by Arnold te wees. Hy het haar nodig.

Bruid uit die koue

Подняться наверх