Читать книгу Vlinder teen die ruit - Ettie Bierman - Страница 4

1

Оглавление

“Haai, Surita!” sê tant Raal verstom. “Hoe kan jy ’n baba wil grootmaak wat nie joune is nie? Jy wat self nog ’n bogkind is en nie eens ’n man het nie!”

Suri stapel koekbordjies op ’n skinkbord en vee met ’n moeë hand oor haar oë. “Ek het nie ’n keuse nie. Irene was my suster en daar is niemand anders om na klein Maja om te sien nie.”

“Ek weet ons kan nie verwag jou arme ma moet ’n klein babatjie versorg nie, nie in die ouetehuis en met haar Alzheimers nie, maar wat van Hendro se ouers? Kan hulle nie help nie?”

“Hendro is ’n weeskind, tante, sonder enige familie.”

Dié dat hy so koersloos is … Tant Raal snuif onderlangs, terwyl sy help om koppies kombuis toe te dra. Kastig die pa, maar sy glo nie Hendro het ’n benul hoe om ’n doek aan te sit nie. Weet net van beelde en rockmusiek. Hy en Irene was eenders, ewe boheems en onverantwoordelik.

Glo Saterdag tot laatnag by ’n akoestiese fees gewees – wat dít ook al is – en seker allerhande vreemde goed gedrink en gerook. Geen wonder Hendro het die motor gerol nie, seker in so ’n dwaal gewees dat hy nie die klippe reg voor hom in die pad gesien het nie. Dis net ’n genade dat die stomme baba nog leef. Maar nou, met so ’n loskop-pa, sit arme Surita met die verantwoordelikheid. Gelukkig het sy ’n senior pos, maar onderwysers werk lang ure. Sy gee smiddae ekstra klasse en soms is daar saans ook skoolverpligtinge. Dis onbillik teenoor haar, Hendro moet sy kant bring!

Die meeste van die begrafnisgangers is reeds weg, maar een van die niggies het agtergebly om na afloop van die teedrinkery te help opruim. Sy opper nou dieselfde sienswyse as tant Raal Kellerman.

“Hy probeer, Wilma,” verdedig Suri haar swaer. “Dis nie dat Hendro sy plig ontduik nie. Onthou, hy was ook beseer; hy het harsingskudding opgedoen en ly nog aan skok. Dis hoekom ons die begrafnis ’n week uitgestel het. Dis ’n verskriklike ding wat gebeur het, en hy sukkel om Irene se dood te verwerk. Ek is jammer vir hom en wil nie eise aan hom stel nie, daarom dat ek aangebied het om Maja te versorg.”

“Irene se smaak was altyd so way-out, ek het ’n weirdo in ’n kaftan by die begrafnis verwag. Ek was verlig om te sien hy dra ’n gewone hemp en broek, soos ’n gewone ou.”

“Hy ís ’n gewone ou, hy kom van Pretoria af.”

Wilma snork. “En toe trou hulle duisende kilometer ver – in Peru, van alle plekke! Weird. Jy en Irene was op verskillende planete. Ek weet dat om na haar kind om te sien, die laaste diens is wat jy aan haar kan bewys, maar ’n babatjie is nie ’n grap nie. Veral in ’n beknopte duplekswoonstel en met ’n voltydse werk. Wie pas haar bedags op as jy by die skool is?”

“Ek het ’n raakvat-huishulp. Nessa het self vyf kinders grootgemaak en is baie erg oor die kleintjie. Dis egter net ’n tydelike reëling, tot Hendro sy voete vind en besluit wat hy met sy lewe wil doen.”

“Gaan hy as platejoggie by Suidkus-radio aanbly?”

“Ek weet nie. Dis ’n tussentydse jop om die pot aan die prut te hou. Hierdie is ’n huurhuis, en hy kla hier’s te veel herinneringe. Hy praat van trek – dalk weer oorsee gaan, en ’n nuwe begin maak.”

“Sal hy die baba saamneem?”

Suri druk haar palm teen haar voorkop, waar ’n spanningshoofpyn klop. Sy voel gedreineer en wens die mense wil minder vrae vra. Sy weet nie en sy kan nie logies dink nie. Die skottelgoedseep is op en sy soek ’n nuwe bottel, maar die kombuiskaste is kaal, met net ’n klompie kastrolle, onmaats borde, glase en ’n versameling handgeverfde blompotte – Irene se handewerk, soos die uitbundige skilderye oral in die huis. Saam met Hendro se beeldhouwerke laat dit die plek na ’n kunsgalery lyk. Daar is darem ’n koekie Sunlight-seep in ’n piering op die vensterbank, asook ’n ry helderkleurige vadoeke wat soos batikke teen die pers kombuismuur hang. Sy maak een los om mee af te droog.

Eintlik ly sy self ook nog aan vertraagde skok, besef Suri terwyl sy die skottelgoed uitsoek wat by die kerk geleen is. Daar was soveel reëlings om te tref dat daar nie tyd vir ’n rouperiode was nie – vir die luukse van trane oor ’n suster wat sy verloor het sonder dat sy haar ooit gevind het. Irene was altyd weg, in ’n ander wêreld; vasgevang in die werke van Jung of Nietzsche, en toe weer in dié van Francesco Goya, wat sy kwas gebruik het vir ’n aanval op die korrupte kerk en staat. Dít veral het Irene aangegryp – ’n enkeling se struggle teen die establishment.

Later het haar afwesigheid ’n fisieke werklikheid geword toe sy aangekondig het sy gaan ’n jaar lank met ’n rugsak deur Suid-Amerika swerf, op soek na die Inkas. Dis waar sy ’n medehippie, ’n geesgenoot en toevallig ’n landgenoot, raakgeloop het: tussen die Inka-beelde, Asteke en Conquistadores van Peru. Dit was soos ’n fakkel wat tussen hulle opgevlam het, ’n liefdesontwaking tussen twee kunstenaarsiele.

Hulle het soos verliefde blommekinders gelyk op die troufoto’s wat Irene Suid-Afrika toe ge-e-pos het – kaalvoet, in wit katoenjurke teen ’n agtergrond van die Andesgebergte, omring deur dansende Quenchua-Indiane tydens ’n inseëningsritueel. Haar ma het nie omgegee nie, net met leë oë na die prentjies gestaar en nie agtergekom toe hulle uit haar jighande glip en grond toe fladder nie. Maar Irene se pa wou weet of die huwelikseremonie wettig is, volgens die kerk en hof.

Suri het ’n stel foto’s laat uitdruk: twee vir haar, twee vir haar pa en die vrolikste een vir haar ma, vir as sy dalk weer ’n rare helder oomblik ervaar. “Wat maak dit saak of die verbintenis streng kerklik volgens ons norme is?” het sy haar pa gepaai. “Solank hulle mekaar liefhet, is dit genoeg.”

“Maar wat sê hulle eendag as die kinders sou vra?”

“Dat hulle miskien nie papiere het nie, maar darem kiekies om te wys hulle is wel getroud.” Suri het dit lig probeer hou, om haar pa nie verder te ontstel nie.

Haar pa het gebrom en ander troos gesoek. “Hendrico Cuyler … ’n Boerseun, sê Irene, maar die man klink uitheems.”

“Eerder bóheems, maar as skilder het Ousus altyd ’n oog vir ’n mooi mansmens gehad,” het sy geterg. “Dié ene lyk geen uitsondering nie. Dromerige grys oë en ’n wye mond soos ’n kindertekening, soos Irene altyd gesigte geteken het toe sy klein was. Dit lyk of hy maklik lag. En onder daardie jurk die breë skouers van ’n rugbyvoorspeler het.”

Haar pa het weer gekyk, steeds skepties en agterdogtig. Suri het verder uitgewei en die pap dik aangemaak, met die bestanddele waarvan hy sal hou. “Hy het ’n oop, eerlike gesig. Sy blonde hare is ’n bietjie lank, maar die son wat daarop skyn, laat hom soos ’n engel met ’n stralekrans lyk.”

“Ghmf,” het haar pa gegrom.

Vyf maande later het die paartjie huis toe gekom, Irene se wanderlust uitgewoed. En omdat sy wou hê haar kind moet in haar vaderland gebore word, in die groen-groen land van KwaZulu-Natal. Hulle het ’n huis in Margate gehuur, teenaan die see, en Hendro het ’n groot rooi bal, ’n plastiekemmertjie en ’n grafie gekoop vir sy dogter om eendag op die strand mee te speel.

Ses maande later het Irene-hulle vroeg een Saterdagoggend by Suri se dupleks opgedaag met ’n bos irisse, ’n blik melkpoeier, ’n doekesak en klein Marjorie Johanna Cuyler in ’n drabedjie. Sal tannie Suri asseblief ’n skattebol wees en haar peetkind oppas tot môre toe? Hulle gaan na ’n akoestiese fees in Durban toe en sal seker eers laat vannag terugkom.

Hulle het dit nie vooraf met haar uitgeklaar nie, maar tannie Suri het nie omgegee nie. Haar peetkind is sedert haar geboorte haar hart se punt.

Niemand weet wat op die pad terug gebeur het nie. ’n Motoris wat agter Hendro gery het, het gesê die Jeep het hom pas tevore teen ’n hoë spoed verbygesteek. Dit het gelyk of die bestuurder ’n sigaret aansteek en hy het blykbaar sy blik ’n oomblik van die pad af geneem, sodat hy nie die rotsstorting reg op die draai gesien het nie. Die vrou het blykbaar nie haar sitplekgordel aangehad nie, want sy is uitgeslinger, oor die middelmannetjie tot teen die oorkantste graswal. Die bestuurder het net kneusings en ’n kopbesering opgedoen, maar teen die tyd dat hy by die vrou uitgekom het, was daar niks meer wat hy vir haar kon doen nie. Behalwe om die nooddienste te bel.

Toe die oproep vieruur die oggend van Port Shepstone se polisiekantoor gekom het, het Suri se pa haar gebel om saam met hom hospitaal toe te gaan. Hy het nie kans gesien om die een te wees wat sy dogter moet uitken nie.

Dit was ook hy wat besluit het hulle moenie eens probéér om Ma in haar rolstoel by die begrafnis te kry nie. Dit sal vir haar te vermoeiend wees, en sy sal tog niks verstaan nie. Dis genadiger as sy onbewus bly van wat gebeur het. En hy verkies om by Ma te bly, in hul bekende milieu waar hy beskut voel. Van die familie het hom kwalik geneem, maar Suri het verstaan en haar arms troostend om die geboë oumanskouers gesit; gewens sy kon ook wegvlug, in ’n donker gat inkruip en eers weer uitkom as alles verby is.

“En dié, is dit ook die kerk s’n?” Tant Raal hou ’n vet geel melkbeker omhoog. “Moet ek dit by die res van die breekgoed sit wat môre moet teruggaan?”

Suri kom met ’n ruk terug na die pers kombuis en die opwasbak waar die koekie seep nie behoorlik wil skuim nie. Haar hoofpyn is erger.

“Nee, dis … dit wás Irene s’n,” mompel sy en draai haar kop in die rigting van die gang. “Ek hoor Maja huil; ek beter gaan kyk of Nessa regkom. Dis tyd vir haar bottel.”

“Jy lyk uit op jou voete, kind. Gaan gerus, ons is amper klaar hier.”

Nessa staan sussend voor die kamervenster, met die woelende kombersbondeltjie teen haar skouer. “So ja, toemaartjies … Is jy honger? Tannie Soe sal nou-nou vir jou melk bring.”

Die frons op Suri se voorkop wat saam met die hoofpyn gekom het, verdwyn en haar oë word sag toe sy Maja by die ouer vrou neem. “Dankie, Nessa, dat jy so geduldig was. Ek was besig met tee skink en alles …”

“Natuurlik, Soetjie, dis mos hoekom ek hier is.” Nessa kyk ondersoekend op. “Jy lyk soos ’n gees wat wil omtiep. Loop sit ’n bietjie, laat iemand vir jou ’n drinkding bring.”

“Ek sal later. Nou moet ek eers die bottel gaan aanmaak. Waar het Hendro die sak met haar goed gesit?”

“Ek het nie gesien nie en ook gesoek, flussies.”

“Is dit nie in die ander slaapkamer nie?”

“Daar’s net van Hendro se tromme en beeldgoeters, die hele kamer vol. Is dit sy werkplek? Dit lyk soos ’n walvis wat gekalf het. ”

“Die groot dubbelgarage is sy ateljee waar hy werk. Die kamer langsaan is net ’n stoorplek. Dalk is die sak nog in my kar. Maar Hendro het die sleutels en ek het hom nêrens gesien nie. Weet jy dalk waar hy is?”

Nessa beduie deur die venster, waar twee figure in die verte langs die laagwatersee loop. “Hy en daardie swartkopman is hoeka hier weg, lyk my besig om kopgoete te gesels.”

Suri kyk deur die kantgordyn. “Dis Hendro se baas by Suidkus-radio. Douw of Louw of iets. Stuggerig. Praat min, staan net eenkant en kyk.”

“Douw van der Linde wat op die radio praat?”

“Ja, hy’s die programhoof.”

“Suinig met daai sexy stem van hom. Spaar dit seker vir sy luisteraars en wil dit nie opgebruik op ons klomp niks-weets nie.”

Suri kyk haar eers skuins aan en toe sy die snaaksigheid van die opmerking insien, borrel ’n spontane lag uit haar keel. Maar dan skrik sy en hou ’n hand oor haar mond. Sy lyk skuldig, want dit voel verkeerd onder die omstandighede.

Nessa lees die uitdrukking in haar oë. “Irene was altyd mos vrolik, sy sou nie wou gehad het ons moet soos suurknolle rondloop nie.”

“Ja, sy het maklik gelag. En arme Hendro ook …”

Suri sluk aan die knop in haar keel en verander die onderwerp – bang die wal breek en haar tranedam loop oor. “Het jy al oor die radio na dié Louw-ou geluister?”

“Douw. Douw van der Linde,” korrigeer Nessa en lig die gordyn om beter te kan loer. “Elke liewe dag. Maar dis die eerste keer dat ek sien hoe die man ágter die stem lyk. Nogal sag op die oog, hè? Hy doen smôrens die Dagbreek-dagboek van vyfuur tot agtuur – als van die nuus en die weer, inbelle, briewe en sulke goeters. Diep, warm stem, soos gesmelte tjoklits … En hy speel die mooiste mooi musiek, al my favourites.”

“Vyfuur slaap ek nog, en halfagt is ek al by die skool. Daar’s nie tussenin tyd om radio te luister nie.”

Suri gaan sit op die bed, met Maja op haar skoot. Sy soen die slaapwarm wangetjies en vee die klam hare van Maja se voorkop weg. Hendro se blonde krulle … Maar sy het haar ma se donker oë. Ouma se effe vierkantige ken … en iéts van Oupa in die manier waarop haar mond trek as sy haar sin wil hê.

’n Benoudheid laat Suri se keel toetrek. ’n Duisend vrese maal deur haar binneste en dis asof die maalkolk haar insleep, sodat haar verstand wegskram en sy haar besig hou met oppervlakkige detail soos bottels maak en winde uitvryf. Maar een of ander tyd moet sy stil raak; moet sy en haar swaer sinvol gesels.

Hy is lief en gaaf en sy kan verstaan dat Irene met die eerste ontmoeting halsoorkop vir hom geval het. Soos sý dalk ook sou, as die omstandighede anders was en hy nie reeds aan haar suster behoort het nie. Hendro Cuyler het ’n onweerstaanbare sjarme. Sy het van dag een af vir hom verskonings gesoek; toegewings gemaak vir sy verstrooidheid en onpraktiese redenasies. Maar háár kop is anders vasgeskroef, en nie soos syne bo in die wolke nie. Gister by haar woonstel het Hendro gepraat van die pad vat Italië toe – Florence of Milaan – of dalk weer die Andes, of soos die muse hom lei.

Suri is bereid om vir Maja pleegma te wees, maar dis ’n enorme verantwoordelikheid en sy het die pa se insette, hulp en ondersteuning nodig. Sy weet hy is nie in ’n toestand om logies te dink nie, maar hy kan nie sommer net oppak en verdwyn nie. Hy het ’n plig teenoor sy kind.

Hulle moet praat, sodat sy sin in sy deurmekaar kop kan inprent. Maar sal hy na haar luister? Irene was dol oor hom, soos die meeste vrouens seker oor hul man is, tog het sy gekla Hendro is moeilik, dwars en eiewys as hy ’n ding wil doen. As sy vrou nie veel met hom kon uitrig nie, wat is die kans dat hy na sy skoonsuster sal luister?

Vlinder teen die ruit

Подняться наверх