Читать книгу Vlinder teen die ruit - Ettie Bierman - Страница 7

4

Оглавление

In hulle haas om die oggend vroeg te ry, het Hendro vergeet om sy horlosie aan te sit. Die middag probeer hy vergoed vir die halfuur wat Suri op die trap voor haar klaskamer gesit en wag het deur haar boeketas teen die steil houttrap op te dra na haar slaapkamer.

“Hierdie trappe is nekbrekers!” kla hy. “Soos ’n martelgang uit die Middeleeue! Is jy nie bang jy val nie? Hoekom werk jy nie eerder onder in die eethoekie nie?”

“Maja slaap bo en as ek onder is, sal ek nie hoor as sy huil nie. Ek is die klim gewoond, en dit gee ’n mens mooi kuite.”

“Jou kuite is mooi genoeg. Ek het nie besef die plek is so beknop nie. Jy sal nie met ’n stootwaentjie hier kan op en af nie.”

“Nee.”

“Hoe kom jy oor die weg?”

“Ek dra haar, Maja is so lig soos ’n veertjie.” Suri klouter boontoe. “Hallo? Jammer ek’s laat! Nessa, waar’s jy?”

“Hierso, Soetjie, in die badkamer! Besig om fyngoedjies uit te spoel.”

Suri loop verby slaapkamer toe. “En waar’s my liefie?” Sy buk oor die wiegie wat langs haar bed staan en tel die baba op, soen haar en koester die warm lyfie styf teen haar. “Was jy vandag ’n soet engeltjie?”

Die twee pienk voetjies skop plesierig en die handjies gryp na die halssnoer om Suri se nek.

Suri klingel die reënboog van glaskrale teen mekaar, soos ’n ratel. “Jy hou ook van helder kleure, nes jou mamma. Dis sy wat hulle vir my gegee het – al die pad uit Italië van Murano af gebring. Wanneer jy eendag groot is, sal jou pappa vir jou ook sulke krale koop, en ’n glasperdjie en ’n dolfyn en als wat vir jou mooi is.”

Maja verstaan nie wat haar tannie sê nie, maar sy hou van die klank van haar stem en gesels lustig saam in haar eie taal. “Ghoe-ghoe! Boe!”

“Wat sê sy?”

Suri kyk om na waar Hendro in die slaapkamerdeur staan. “Sy sê eendag is te lank om voor te wag. Sy wil die krale nóú hê!”

“Dink jy regtig sy het Irene se liefde vir kleure geërf?”

“Die kans is goed. Of dalk word sy eendag ’n beroemde beeldhouer.”

Hendro se mond gaan oop en hy staar haar aan asof sy aangekondig het dat hy die Boerpot gewen het.

“Wil jy haar vashou?” stel Suri voor.

Hy aarsel. “Miskien later …”

“Moenie bang wees nie, sy sal nie breek nie.”

“Ek is nie bang nie. Net haastig om by die huis te kom.”

Net weer ’n verskoning? Hy het ten minste gelyk of hy begin belangstel. Darem ’n mate van vordering, dink Suri hoopvol. “Het jy toe die kwitansies en bankstate vir die eksekuteurs gekry?” wil sy weet.

“Nog nie.” Toe sy ondersoekend na hom kyk, voeg Hendro by: “Ook nie die gras gesny of die geute skoongemaak nie.”

“Wil jy hê ek moet die dokumente help uitsoek?”

“Ek sal regkom, dankie.”

“Wat het jy heeldag gedoen?”

“ ’n Ver pad gery …” bieg hy. “Die vensters oopgedraai en gehoop die wind waai die watte in my kop weg. Al langs die Wildekus af, tot anderkant die Transkei-grens. Ek sal vir jou petrol ingooi.”

“Toe maar, die helfte van daardie sjokoladekoek in die yskas sal genoeg betaling wees.”

’n Glimlag pluk aan sy mondhoek, maar sy grys oë bly somber.

Sy is te haastig, besluit Suri. Hendro lyk beter, maar sy weet nie hoe hy binnekant voel nie. Verlede nag het hy nie veel geslaap nie. Sy het hom rusteloos op die bank hoor rondrol, en hy het lank buite op die patio gesit. Seker weer ’n pak dertigs opgerook …

Sy sit vir Maja ’n droë doek aan en lê haar in die wiegie neer. Dan gaan help sy in die badkamer. “Jammer ek was laat, Nessa. Hoe het julle met die fyngemaakte piesang gevaar?”

“Sy het die lepel afgelek. ’n Regte Natallertjie. En jy, Soetjie? Kan ek vir jou en Hendro ’n koppievol maak?”

“Niks vir my nie,” keer Hendro. “Ek moet gaan.”

“Is jy regtig haastig?” vra Suri.

“Ek verwag iemand.”

“Ek dag jy praat sommer … Jammer dat ek so drentel. Ons kan dadelik ry as Nessa reg is.”

Suri blaas verlig haar asem uit toe hulle veilig onder die koraalboom stilhou. Henro rook minder, maar hy ry asof hy op ’n renbaan is. Het hy altyd so bestuur, of is dit iets wat hom jaag? ’n Mens sou juis die teenoorgestelde verwag – dat hy na dese ’n weersin teen spoed sou hê. Sy merk die viertrek in die oprit voor die garage-ateljee. Die persoon wat hy verwag het? Seker van die Kronen-kunsgalery in Pietermaritzburg, waar hy en Irene in Oktober sou uitstal.

Sy loop met die drabedjie kombuis toe om te kyk watse kos sy vir Hendro kan uitskep wat hy net kan warm maak. Gelukkig weet hy hoe die mikrogolf werk.

Sy is besig om met die laaste stukkie Sunlight-seep vanoggend se skottelgoed te was toe sy voetstappe buite op die trap hoor.

“Middag,” groet ’n diep fluweelstem.

Suri se seephand gly en sy laat amper die bord val. “Ekskuus?”

Verbrands! Moet sy elke keer ’n gek van haarself maak? Hy is Hendro se baas, nie hare nie. Hoekom kan sy haar nie soos ’n normale mens gedra nie?

Douw is net so ongemaklik soos sy. “Ek het maar net gegroet …”

“O … Middag.”

“Hoe gaan dit?”

“Goed dankie, en met jou?”

“Goed dankie.”

Iets in sy stem laat haar omdraai. Sonder dat sy gesig ’n spier verroer, sien sy die lag in sy oë. Sy voel self ook om te giggel, maar van blote senuwees.

Hulle staan soos twee winkelpoppe woordeloos en stokstyf vir mekaar en kyk. Suri probeer desperaat aan iets neutraals dink om te sê. Iets oor die weer? “Lekker dag, is dit nie?” Of: “Dit lyk na reën.” Nee, dan liewer stilbly.

Hendro, wat instap met ’n groot houtbeeld oor sy skouer, verbreek die spanning.

“Hier’s hy, Douw – hom onder ’n seil en ’n stapel rame uitgegrawe … Die tambotie-renoster wat jy gesoek het. Ek het geweet hy is nie verkoop nie en moet êrens wees. Die ateljee is chaoties, soos my laaie en geute. Een of ander tyd sal ek inklim en orde skep.”

Douw help hom om die renoster op die tafel neer te sit en staan ’n entjie terug om die werk te beskou. Hy loop om die tafel, blaas die stof af en volg met sy vingers die skubberige grein van die hout – oor die rug, die bonkige skof en die dubbele neushoring.

“Diceros bicornis, net soos ek hom onthou. Dié ou knewel práát met ’n man …”

Hendro is verbaas. “Wil jy die renoster vir jouself hê? Ek dag jy koop hom namens iemand anders.”

“Ek soek al lank na ’n maat vir die buffel wat ek in Zimbabwe raakgeloop het. Dié kêrel sal goeie geselskap vir hom wees.”

“As jy seker is …?”

“So seker soos tien.”

Hulle dra die beeld na die agterstoep. “Ek wil nie geld hê nie, Douw. Vat Neusman en wees goed vir hom – dis al wat ek vra.”

Douw skud sy kop. “Jy is ’n swak sakeman, my vriend.”

“Ek is ’n kunstenaar, nie ’n handelaar nie.”

“Kunstenaars moet ook eet.”

“Brood is genoeg, ons soek nie kaviaar nie.”

“Maar darem margarien op die brood.”

“Anderdag … Jy rol talle klippe uit my pad, en ek waardeer dit.”

“Ons praat weer … Ek werk eerskomende naweek, maar kom eet volgende Saterdagaand by my en kom kyk hoe Neusman in sy nuwe weiveld aanpas.”

“Dankie.”

Douw speel ’n wyle met die guitige Maja, wat flikflooi om opgetel te word. Hy maak so, dan kyk hy gemaak ongeërg na Suri. “Jy is natuurlik welkom om saam te kom, as jy niks beters te doen het nie.”

Asof dit ’n amper-vergete nagedagte is, ’n plig om hom oor die arme oujongnooi-suster te ontferm, dink Suri. En dan los hy boonop ’n agterdeur oop, hopend sy het reeds ’n ander afspraak, sodat hy ’n skoon gewete kan hê.

“Jammer, ek’s besig,” antwoord sy kortaf.

Sy een wenkbrou lig en hy klink skepties. “Waarmee?”

Dink hy sy het nie ’n eie lewe nie? Die feit dat dit ’n Saterdagaand is en dat sy niks beters as ’n rekenaar en ’n TV as geselskap het nie, vryf sout in haar wonde. Wat traak dit hom as sy haar toonnaels wil groen verf of kaal op die koffietafel dans? Sy skuld hom geen verduidelikings nie en het nie sy ontferming nodig nie.

“Met die baba?” vra hy toe Suri nie antwoord nie.

Sy kan nie aan ’n aanvaarbare verskoning dink nie. “En met nasienwerk. Ses klasse se vraestelle. Dan moet ek voorberei op die internet, nalees en media-beplanning doen, wasgoed was, matte suig, kos maak en als.”

“Moenie die stryk en vloere skrop vergeet nie.” Lagliggies vonkel in sy oë, en hy neem ’n vadoek om die glase wat sy gewas het blink te vryf.

“Ek het vergeet om skottelgoedseep te koop,” verdedig sy haar halwe werk. “Gewone seep was nie so skoon nie.”

Douw het nie voorsien dat sy dit as kritiek sal beskou nie. Dit was sommer iets om te doen om hom besig te hou, sodat hy nie die ene elmboë en tien duime is nie. Hierdie meisiekind is sensitief en liggeraak, besef hy opnuut. As hy vriende wil maak, sal hy moet fyn trap. Hy sit die vadoek neer en bly weg van die baba, sodat daar nie weer ’n vermiste fopspeen, sleutels of bottel kan opduik wat haar in die harnas jaag nie.

“Ek is nie ’n wafferse kok nie. Ek waarborg nie dat die vleis gaar gaan wees en dat ek onthou het om sout in te gooi nie. Maar ek wil graag hê jy moet saam met Hendro kom, Suri. Bring Maja saam,” bied hy aan, “en die nasienwerk en die gordyne en matte en die internet – alles wat jy nodig het.”

“Plus die strykplank en die vloere?”

“Ek sal ’n lorrie huur en jou kom haal.”

Hoe kon sy gedink het hy is nors? vra Suri haarself af. Was sy te gou op die agtervoet, of was hy in ’n slegte bui? Sy is steeds op haar hoede teenoor hom en weet nie of sy lus het om te gaan nie. Maar die feit dat hy haar “Suri” genoem het, maak dat haar skanse ’n bietjie sak. Hy weet wat haar naam is; hy het die moeite gedoen om Hendro te vra. Dié gedagte bring ’n onverwagte warm gevoel in haar binneste.

“Nee, toe maar, ek sal net ’n slaai bring.”

Daar is gedurig misverstande tussen hulle en Douw wil dubbel seker maak. “Slaai? Is dit ’n ja, wat beteken jy sal kom?”

Sy haal haar skouers op. “As jy wil …”

Waar hy net buite die kombuisdeur met ’n seemsleerlap en ’n blik politoer met die renoster besig is, slaak Hendro ’n sug. Net toe hy begin dink het hulle gaan weer vasval in die modder … Hy wou al sy hulp gaan aanbied. Hy weet nie wat die probleem tussen die twee was nie, maar dis blykbaar opgelos. Suri sal saamgaan, en hopelik hoef hy nie bokshandskoene saam te neem nie. Douw is ’n goeie gasheer, en dit sal goed wees om ’n slag uit te kom, die huurhuis raak neerdrukkend. Hy kan insien dat Florence of Milaan in hierdie stadium onprakties is, maar hy voel al hoe meer om teen die mure uit te klim.

Toe Hendro terugkom nadat hy Douw weggesien het, sit Suri by die kombuistafel, besig om Maja te voer. Sy los die lepel en ’n laaste paar happe onderin die botteltjie. “Ek het vir jou souttert ingeskep. Sal dit genoeg wees?”

“Oorgenoeg.” Hy sit ’n pak geldnote voor haar neer. “Vir petrol, Maja se uitgawes en ’n nuwe rok, om dankie te sê dat jy my die afgelope tien dae gekeer het om van ’n krans af te spring.”

Suri raak nie aan die geld nie. Irene was onvoorspelbaar, en dit tref haar dat sy Hendro eintlik ook swak ken. Lief en gaaf, maar op sy eie bladsy … Hoeveel duiwels draai daar dalk rond agter daardie wye, gul glimlag?

“Was jy by die Wildekus-casino?” konfronteer sy hom. “Het jy gaan dobbel?”

“Dobbel?” Hy gee ’n snorklag. “Ek het baie verslawings: adrenalien, bongo-tromme en kitare, sigarette en hoofpynpoeiers … Maar dobbel is nie een van hulle nie.”

“Waar het jy dan dié klomp geld gekry?”

Hy trek ’n stoel langs haar uit en neem Suri se hand in syne. “Van ’n renoster wat ek verkoop het, skattebol, en van ’n voorskot op my salaris wat my baas gereël het.”

“Alles in kontant?”

“Irene en ek was in gemeenskap van goedere getroud en my bankrekening is gevries totdat die boedel afgehandel is. Dis hoekom ek daardie bankstate en kwitansies moet uitsoek.”

Dit maak sin. Suri staar na die geld en dan na Hendro. Hy jok nie. Die oop, eerlike gesig waarmee sy haar pa en tant Raal gerusgestel het, verberg nie allerhande duistere swakhede nie. Sy maak sy hand oop en dop dit om, vryf oor die sterk vingers en eelte wat deur hamers en beitels gelaat is, en druk ’n soen in sy palm. “Skies, broer, ek belowe ek sal nie weer nie.”

“Wát nie weer nie?”

“Jou van dobbel en duiwels en dekadensie verdink nie.”

Hy dink na. “Oukei, siende dat jy so eerlik is … Ek belowe ook.”

Dis haar beurt om agterdogtig te wees. “Belowe wát?”

“Om nie weer te dink jy is hardekwas, opstroppelis en obsternaat nie.”

Sy woordkeuse betrap haar onkant en sy byt op haar onderlip. “Is ek? Ek dink nie altyd voor ek praat nie. Vergewe my as ek nie verstaan wat jy deurmaak nie en jou in ’n blik wil druk.”

“Dis nie wat ek bedoel nie. Jy verstaan my beter as enigiemand anders, en jy druk my in g’n blik nie. Ek het nie van jou en my gepraat toe ek gesê het jy is hardekwas nie. Ek het na Douw verwys, na die harde bene wat jy die arme man laat kou. Hy verdien dit nie, sus-ding. Hy’s baie ordentlik en probeer goed doen. Ek is bly jy het ingestem om saam te gaan kuier. Hy maak lekker kos.”

Suri weet hy is reg, maar sy bly stekelrig. Carl was ook “ordentlik”. So ordentlik dat selfs haar pa gedink het hy is ’n “goeie seun”. Sy is nie ’n vis wat twee keer dieselfde hoek sluk nie. Miskien was sy bevooroordeeld teenoor Douw, maar ’n man bly ’n man. Die feit dat sy ingewillig het om na sy renoster te gaan kyk, beteken nie sy vertrou hom nie. Hulle eerste ontmoeting was ’n ramp en hul tweede nie veel beter nie.

“Ek dag dan jy het die beeld vir Douw gegee?”

“Ek het, maar hy het aangedring om daarvoor te betaal en wou selfs nie eens tien persent afslag aanvaar nie. Hy het my verlofvorms gebring plus ’n voorskot. Ek was nogal platsak, maar nou is daar weer geld vir baked beans op toast. Gaan koop vir jou die rooiste rooi rok in die dorp en trek hom volgende Saterdagaand aan.”

Die soort ding wat Irene sou kwytgeraak het … Dis hoekom sy nie somber rouklere begrafnis toe gedra het nie. Soos Nessa gesê het: haar ousus het nie van suurknolle gehou nie. Klokhelder, het Douw haar lag beskryf. Snaaks, nou ná haar dood voel sy op ’n vreemde manier nader aan Irene as toe sy geleef het. Hulle het min gekuier, en Irene was nie ’n telefoonmens nie. Stempos en sms’e het onbeantwoord gebly. Dit was altyd maar Hendro wat die bande probeer behou het. Hendro wat kom koffie drink het, sommer net om te hoor of sy oukei is.

Hy trek die bord nader en proe aan die souttert. “Vra die resep!”

“Ek is bly jou eetlus is terug. En Maja s’n ook … Ek het haar klaar gevoer, maar ek dink sy is nog honger.” Suri tel die botteltjie op en gee die geelbruin mengsel ’n roer. Dan sit sy die lepel neer en spring op. “Ek het vergeet jy is seker dors … Gee jy om om haar gou ’n laaste mondvol of drie te voer, terwyl ek koffie maak?”

Hendro wil protesteer en aanbied dat hý liewer die koffie maak. Maar Suri is klaar besig om bekers reg te sit en water te tap. Hy het nie gedink babas snap wat om hulle aangaan nie, maar vind uit hy het syne onderskat. Maja weet uit daardie botteltjie het netnou lekker goed in haar mond gekom en sy wil nog daarvan hê. Haar handjies klap op die blad van die eetstoeltjie en sy skree blou moord.

“Hendro!” roep Suri uit. “Ek is besig … Jy is nie lam nie. Jy het twee hande en tien vingers. Gee jou kind kos!”

Hendro skrik. Dis die eerste keer dat Suri so kras met hom praat. Hy gryp die botteltjie, gryp die lepel en skep. Mik na die mond, laai in en wag … Skraap kos wat gemors het van die ken af, laai in en wag … Gelukkig is die botteltjie nie vol nie.

Suri onderdruk ’n proeslag. Sy gee vir Hendro ’n jammerlappie aan om Maja se borslap mee af te vee, maar hou haar verder besig met die koffie en help nie. Nie eens toe Maja knieserig raak nie. Maar sy hou die onwillige pa dop en is verlig om te sien dat hy die fopspeen soek en benut.

Sy grinnik breed toe sy ’n beker koffie voor Hendro neersit. “Veels geluk! Was dit nou so onmoontlik, Pa?”

Hy wil eers verwyt, maar ’n verleë laggie wen. “Het jy dit so beplan?”

“Natuurlik,” erken sy. “Jy het die watte in jou kop uitgepluis, nou het dit tyd geword om die watte waarin jy toegedraai was ook af te haal. Jy was voorheen handig met haar, hoekom is jy nou skielik bang sy breek as jy aan haar raak?”

Hendro se groot hand is teer toe dit om Maja se kop skulp en die blonde krulhare streel. Sy oë vertroebel en rou pyn slaan deur in sy stem toe hy sê: “Omdat ’n prentjie in my geheue gegraveer is van hoe Irene daar op die graswal gelê het – soos ’n gebreekte pop. En omdat ek bang was ek doen dieselfde aan ons kind, die stukkie van Irene wat agtergebly het …”

Suri voel verskeur. Sy kry hom bitter jammer … Haar eerste impuls is om hom te troos, soos sy al soveel keer met hom en haar pa gedoen het. Hy lyk gedaan en hy het chronies hoofpyn. Hy is soos ’n sieke wat van nuuts af moet leer loop, en as sy die krukke te gou wegneem, gaan hy val. Maar as sy die krukke te lank los, gaan hy verleer om self te loop. Haar eksperiment om hom uit sy groef te ruk, sy kind te laat raaksien en haar behoeftes bo sy eie te stel, was miskien drasties, maar dit het geslaag. Moet sy daarmee voortgaan, of hom los om teen sy eie tempo te herstel?

Dis Hendro self wat die besluit vir haar neem. Die fopspeen het geval en Maja huil, maar hy tel dit nie op nie, ook nie haar teddiebeertjie nie. Hy stoot sy halfgeëte bord kos weg, sit sy elmboë op die tafel en laat sak sy kop in sy hande. “Sononder is so ’n alleentyd … Wil jy nie seblief maar weer oorslaap nie, sus?”

Teen sy eie tempo gaan hy nooit bo uitkom nie, besluit Suri. Hy gaan halfpad teen die opdraande omval en bly lê. As sy hierdie swaer van haar daadwerklik wil help, moet sy weer hardekwas wees.

“Ek kan nie.” Sy tel die beertjie op en prop dit in die doekesak. “Ek het te veel werk wat wag, en jy het ’n goeie nag se slaap in ’n behoorlike bed nodig.”

Hendro ken haar te goed. Sy het ’n ander agenda … Hy kyk verby haar na ’n meeu wat laag oor die golwe swiep en dan koers kies na die kaai om by die vistermanne kos te aas.

“Is dit die badkamer en die deurmekaar huis wat jou pla?”

“Glad nie. As ek vol fiemies was, kon ek aan die kant gemaak het en my eie handdoeke gebring het. Ek is die volgende paar dae toegegooi onder eksamenvraestelle. Maar Saterdagmiddag is ek vry en ek wil by my ouers gaan inloer. Dit sal hulle goed doen om hul kleinkind te sien. Wil jy saamgaan?”

Hy skud sy kop. “Ek is nie goeie geselskap nie.”

“My pa sal begryp. Dalk ’n volgende keer …”

Sy neem die sak en laat hom die drabedjie kar toe dra. Daardie paar fris skouers onder die kaasdoekhemp is nie net vir vertoon nie, en hy is behendig genoeg om Maja nie te laat val nie. Voor sy inklim, kyk Suri glimlaggend op in sy gesig.

“Met my en die baab onder jou voete uit, sal jy dalk tyd hê om die bankstate en ateljee te orden.” Sy mondhoeke trek ondertoe, maar Suri steur haar nie daaraan nie. Sy rek haar op haar tone om by te kom en soen hom op die mond. “Pas jouself op. Ek is lief vir jou, boetie.”

“En ek vir jou …” antwoord hy en wag tot sy uit is by die hek, voor hy hande in die broeksakke terugslenter na die stil huis.

Vlinder teen die ruit

Подняться наверх