Читать книгу Vlinder teen die ruit - Ettie Bierman - Страница 5

2

Оглавление

Suri wag ongeduldig in die kombuis, met ’n knieserige Maja op haar heup. Tant Raal en Wilma is lankal huis toe. Hulle wou haar help om die kerk se breekgoed in te laai, maar haar motor is gesluit. Sy kan nie by die doekesak kom nie en al waarmee sy die honger mondjie kan sus, is ’n fopspeen. Gelukkig kon haar niggie Nessa oplaai tot by die taxi-staanplek. Dit was ’n lang dag en Nessa het haar eie gesin tuis om te versorg.

Sy wou Hendro en sy baas nie onderbreek as hulle belangrike werksake het om te bespreek nie, maar dis bitter laat en sy moet by die huis kom. Maja bad en in die bed kry en dan wag daar nog ’n berg nasienwerk. Genadiglik het die twee manne darem nou omgedraai en praat-praat begin terugstap … Sy gaan wag hulle by die agterdeur in.

Hendro lyk verbaas om haar te sien. “Sussie-ding, is jy nog hier? Ek dag jy’t lankal gery.”

“Ek kon nie, my motor is gesluit en jy het die sleutels.”

“O heng, dis lastig. Het jy toe reggekom met al die mense? En met die baab?”

“Baab” is sy verdraaiing van “baba”. Suri kan nie agterkom of dit ’n troetelnaam of ’n soort ontkenning van die werklikheid is nie. Voor die ongeluk was sy dogter sy oogappel, maar nou lyk dit asof ’n teenreaksie ingetree het en skram hy weg van kontak met haar.

“Ja, min of meer.”

“Jammer ek was nie veel werd nie, sus. Ek sal vergoed …” Hy skrik toe ’n droewige klaagstemmetjie vanuit die pienk kombersie opklink. “Wat makeer? Hoekom huil sy? Is sy siek of iets?”

Tog darem besorg? “Nee, net honger,” stel Suri hom gerus.

Die lyne om sy mond is stram afgeëts teen die bleekheid van sy gesig. Sy hande voel na sy hempskraag en gee dit ’n pluk, asof dit hom wurg. “Hoekom gee jy nie vir haar kos nie?”

“Ek soek haar sak.”

“Dis in jou motor.”

“Ek weet, ja,” sê sy geduldig. “Ek het gaan kyk, dit lê op die agtersitplek. Maar ek kon dit nie uithaal nie, want jy het my motorsleutels, swaer.”

“Ek?” Hy soek verstrooid deur sy sakke, diep die bos sleutels op en hou dit boetvaardig na haar uit. “Sorrie, sussie, ek is ’n kluit met ’n kop vol watte. Ek sal dit môre begin uitpluis, belowe-belowe …”

“Geen skade nie, ’n bietjie huil is goed vir ’n baba se longe.”

Hendro hoor nie. Hy tel die geel melkbeker op en streel afgetrokke met sy wysvinger oor die boepensvorm. Dan plak hy dit met ’n klapgeluid terug op die kas, draai om en stap weg.

Herinneringe en assosiasies … Suri se hart skrei. Sy moes die beker weggebêre het. Maar elke enkele ding in die huis hamer seker sy verlies in … Moet sy hom gaan troos? Aanbied dat hy iets eet of drink?

“Los hom,” sê ’n diep stem.

In haar kommer oor Hendro het sy van sy baas vergeet. Sy het die swartkop-ou tydens die diens in die kerk opgemerk. Van naderby is hy jonger as wat sy geraai het. Vroeë dertigs, so ’n jaar of wat ouer as Hendro. Effe langer en skraler. Mooi man, maar haar eerste indruk was reg: stug en kortaf. Sy moet seker gevlei voel dat hy hom darem verwerdig het om met haar te praat. Darem twee volle woorde met ’n onbenullige “niks-weet” …

“Ek was nie van plan om agter hom aan te loop nie.”

Haar stemtoon was skerper as wat sy bedoel het. Om haar stelling te bewys, verdwyn sy in die teenoorgestelde rigting, uit by die agterdeur na waar haar motor ’n entjie weg onder ’n koraalboom geparkeer is. Sy besef sy het nie genoeg ervaring van dinge met een hand doen terwyl sy ’n wriemelende bondel op haar heup balanseer nie. In die skemer sukkel sy om die sleutelgat te vind en laat die sleutels val. Sy onderdruk ’n moedelose sug en buk om daarna te soek, maar dieselfde rustige stem van netnou keer haar.

“Laat ek …” Hy tel die sleutels op, sluit die motordeur oop en haal die sak uit. “Al wat jy nodig het?”

Sy het nie gesien hy volg haar buitetoe nie. Pligsbesef omdat hy bang was sy struikel of laat die baba val?

Suri knik kortaf. “Dankie, ja.”

Hy wys na die bokse breekgoed wat by die agterwiel staan. “Moet dié in?”

“Ek sal dit netnou inlaai. Ek of Hendro. Los, asseblief, Hendro sal help …”

Suri se stem sterf weg toe hy haar ignoreer, doodluiters die luikrug oopmaak en die bokse inlaai. Hy neem die sak en kyk vlugtig na haar. “Douw van der Linde. Ek en jou swaer werk saam.”

“Ek weet.”

Sy wil nie te eie met Hendro se baas wees nie, en sy glo nie hy stel belang wie sy is nie. Sy wil aanstap, maar hy is ’n groot ou en staan die tuinpaadjie vol, sodat sy nie kan verbykom nie. Blykbaar wagtend dat sy haarself voorstel.

“Hendro se skoonsuster …” sê sy onwillig.

“Jy het seker ’n naam, anders as ‘Sussie’?”

“Ja.” ’n Koel bries waai en dit dra by tot Maja se ontevredenheid met die situasie, sodat sy luidkeels uiting aan haar misnoeë gee. Suri probeer haar stilkry, maar sy kan nêrens die fopspeen kry nie. Dit het blykbaar iewers langs die pad geval. Sy is vies vir haarself. As sy ’n tweede keer op die grond rondkrap, gaan dit lyk of sy onbeholpe is, en dis nie die indruk wat sy wil skep nie.

Douw van der Linde wag met ’n frons tussen sy wenkbroue. Daar is donker kringe om die meisiekind se besonderse oë en sy is so tingerig, dit lyk of die eerste wind haar sal omwaai. Toe sy heel duidelik nie regkom met iets om die kleintjie mee te sus nie, probeer hy help. Hy tree nader en trek met sy vinger aan die stukkie pienk lint wat tussen die knippies van die groeipakkie uitsteek. ’n Fopspeen kom aan die punt van die lint te voorskyn, en hy druk dit behendig in die wyd oop, huilende mondjie.

Suri is kleingeestig genoeg om te wens Maja spoeg dit uit sodat sy ’n ronde teen Douw van der Linde kan wen. Maar babas weet nie van kompetisies en onderstrominge nie. Maja is dadelik tjoepstil, suig asof daar heerlike roommelk uitkom en loer slaperig na die man wat oor haar buig. Dit lyk of die roosknopmondjie ’n dankie-lag regkry.

“Ghoe-ghoe …” gorrel sy soos ’n geblokte dreinpyp.

“ ’n Plesier, poplap,” antwoord Douw.

Hy beskou die kleinding se tannie, met die heuningkleurige poniestert wat haar sestien laat lyk. Of darem agtien, as sy ’n motor en ’n rybewys het. Hy onthou Hendro het gesê sy is by ’n skool in Port Shepstone. Seker in matriek.

“Marie? Annie? Lettie?” vra hy.

Suri kyk onbegrypend na hom.

“Jou naam,” verduidelik hy. “Maar ek dink ek raai verkeerd. Jy lyk nie soos ’n Marie, Annie of Lettie nie.”

“Hoe lyk ’n Marie, Annie of Lettie?”

“Nie soos jy nie.”

Wat beteken dít? ’n Verleë blos stoot in Suri se gesig op. Hy is besig om vir haar te lag. Of haar te spot. En sy weet nie hoe om te reageer nie.

“Ek wil die ketel gaan aansit,” sê sy, om die onderwerp te verander en as skimp te dien dat hy die pad vol staan.

Douw staan die paadjie aan haar af en kies kortpad oor die grasperk. In die kombuis plaas hy die doekesak op die tafel, tap die ketel vol en skakel dit aan. “Weet jy hoe om ’n bababottel aan te maak, meisie?”

Sy weet sy het seker nie vreeslik slim voorgekom nie, maar darem seker nie absoluut onnosel nie! Onder ander omstandighede sou Suri hom die soort antwoord gegee het wat hy verdien. Maar sy het nie die energie nie. “Ek oefen al nege dae.”

Douw besef sy vraag het seker verkeerd geklink. Miskien is die meisiekind bekwamer as wat sy lyk. In die kombuislig bekyk hy die bleek gesiggie van naderby: hoë wangbene, en bokant die donker kringe die paar ongelooflikste persblou oë met digte swart wimpers. ’n Pragtige meisie, maar met ’n weerlose trek om die mond wat ’n onverwagte deernis in hom wakker maak, soos teenoor ’n jonger sussie: ’n drang om die tenger figuurtjie teen sy skouer vas te hou en teen seerkry te beskerm.

Hy neem die kleintjie by haar en sit haar in die hoë eetstoeltjie langs die tafel. “Ek is jammer oor jou ousus,” sê hy sag. “Ek het Irene nie baie goed geken nie, maar wat ek die beste van haar onthou, is haar uitbundige lewenslus – haar klokhelder lag, en dan natuurlik die twee kuiltjies in haar wange.”

Die kuiltjies … Dis wat Suri ook eerste onthou as sy ’n prentjie van Irene in haar gedagtes oproep. Dit, en die klank van haar lag, wat sy nooit weer sal hoor nie …

Douw van der Linde se simpatie vang haar onverhoeds. Voor sy kan keer, stroom die trane oor haar wange. Sy vryf met haar hand oor haar oë, maar die vloed kom vinniger as wat sy kan keer. Die damwal wat sy geweet het gaan breek, wat sy probeer keer het en geweet het naby oorloop was …

“Huil,” sê Douw. “Dis goed. Moenie opkrop nie. Huil oor haar, want sy was dit werd.”

’n Mooi huldeblyk. Maar dit sou beter gewees het as hy liewer bot of ongeduldig was. Suri was van kleins af so: meer paraat as mense raas en baklei. Dis makliker om te hanteer, soos tant Raal se uitvraery en kritiek. Maar as iemand simpatiek is, gaan sy aan die huil.

’n Nuwe stortvloed snikke laat haar skouers ruk, en sy soek naarstig na ’n sakdoek iewers in haar mou.

Douw sien die flentertjie verfrommelde snesie wat sy opdiep, gaan nie genoeg wees nie. Hy soek deur sy broeksakke en bied vir haar sy sakdoek aan.

Die poniestert skud heftig heen en weer. “Ek kan nie.”

“Wat kan jy nie?”

“My … my neus in jou … j-jou sakdoek blaas nie.”

“Hoekom nie?”

“Hy is skoon … Splinternuut.”

Douw mompel iets wat sy gelukkig nie hoor nie. Hy skeur ’n stuk papierhanddoek af en gee dit vir Suri. Om Maja tevrede te hou, doop hy die fopspeen in ’n bietjie suiker. Dan haal hy haar bottel uit die sak en ’n blik melkpoeier, wat hy noukeurig volgens die aanwysings aanmaak.

Teen die tyd dat hy met die mengsel tevrede is, het Suri haar neus ’n paar keer uitgeblaas en in die proses ’n meter se papierhanddoeke gebruik. Sy druk haar palms weerskante van haar slape, vryf oor haar geswelde ooglede en haal ’n paar keer diep asem.

“Dankie,” kry sy dit hees uit.

Douw skud die bottel en toets die temperatuur met ’n paar druppels op sy gewrig om haar sodoende meer tyd te gee om tot verhaal te kom. “Dankie waarvoor?”

“Omdat jy my toegelaat het om die Victoria-waterval te wees.”

“ ’n Plesier, kleintjie,” antwoord hy asof hy met Maja praat. “Ek skat jy het die ontlading nodig gehad.”

Dringend nodig gehad, dink Suri, maar dis ’n luukse wat nie ’n gewoonte mag word nie. Sy klad oplaas haar wange en vee haar hare plat. Sy kan dink hoe sy lyk … erger as Antjie Somers.

“Ek is nie gewoonlik ’n tjankbalie nie,” maak sy verskoning.

“Ek glo jou. Jy is kalm en bekwaam, reg om die wêreld se laste en sorge aan te vat.”

’n Kompliment? Suri kyk agterdogtig na hom. Sy mond wys niks, maar sy oë lyk sagter terwyl hy die bottel na haar uithou. Hendro se baas is ’n vreemde man, dink sy. Nors en stroef, asof hy jou ’n guns doen as hy nie bo-oor jou loop sonder om jou raak te sien nie. Maar dan, sommer net so, is hy onverwags hoflik en verbasend hulpvaardig.

’n Komplekse man, wat haar gedurig op die agtervoet het. Dit irriteer haar as hy haar soos ’n dom kind behandel, tog is daar iets omtrent Douw van der Linde wat haar prikkel. Of is dit net omdat hy, soos Nessa sê, “sag op die oog” is? Al hou sy nie van hom nie, kan niemand sê die man is lelik nie. Trouens, in daardie donker pak en ligpers syhemp lyk hy soos ’n advertensie vir ’n eksotiese naskeermiddel.

Hy is goed met kinders, en hierdie is duidelik nie die eerste keer dat hy ’n bababottel hanteer nie. Is hy getroud, met ’n gesin? wonder sy. Toe sy Maja op haar skoot tel en die bottel vir die baba gee, loer sy onder haar wimpers deur na hom. Sy kan nie sien of hy ’n trouring dra nie. Hy leun teen die wasbak, enkels gekruis en met sy hande in sy broeksakke. ’n Breukdeel van ’n sekonde ontmoet hul oë. Maar terwyl Suri kyk, is dit asof ’n filter oor sy oë sak om hulle donker en broeiend te laat.

Hy kom abrup regop en sy wenkbroue lig vraend. “So ja … Sal jy nou self verder regkom?”

Suri kry die boodskap: hy het die begrafnis bygewoon, sy medelye betuig en sy plig teenoor die naasbestaandes nagekom.

“Ja, dankie,” antwoord sy net so saaklik.

Hy knik vaagweg in haar rigting en stap uit. Sy hoor sy voetstappe verdwyn in die rigting van die sitkamer.

Douw tref Hendro op die sitkamerbank aan met sy kop teen die rugleuning gestut, langs hom ’n asbak oorlopens toe vol sigaretstompies.

“Ek sal die verlofvorms môre vir jou bring om in te vul, en reël dat Zirk die ligdagskof oorneem,” sê Douw. “Nog iets wat jy nodig het?”

Hendro skud sy kop sonder om sy oë oop te maak. “Nee. Maar dankie.”

“ ’n Prokureur of berader? Kontant? Wiele?”

“Ek’s oukei.”

“En jou skoonsuster – is sy oukei met die baba?”

“Ja.”

“Help haar.”

Hendro knik net tam. Hy kon Irene nie help nie. Kan nie eens homsélf help nie.

Douw maak ’n venster oop vir vars lug.

In antwoord waai Hendro ’n koerant heen en weer en druk die sigaret dood. Al wat hy vra, is om in rus en vrede alleen gelaat te word. Douw het vanmiddag lank en hard met hom gepraat en hy het gedink die preek is verby, maar sy baas bly staan, blykbaar met nog ’n saak op die hart.

“Hierdie skoonsuster van jou – hoe oud is sy?”

“Suri?” Hendro lyk verward. “Drie en twintig, vier en twintig … Ek is nie seker nie. Sy is drie of vier jaar jonger as Irene.”

Douw trek die gordyn weg wat voor die oop venster flap. Hy kyk uit oor die branders en oor die verwaarloosde tuin, dan draai hy hom na Hendro.

“Ek dag jy het gesê sy gaan skool in Port Shepstone?”

“Hóú skool,” korrigeer Hendro. “Sy gee Engels. Irene was altyd die kunssinnige een en Suri die taal-een.”

“En die jong, onervare, ongetroude suster gaan nou julle kind grootmaak?”

Dit klink soos ’n beskuldiging. “Of dalk is sy vyf en twintig,” verweer Hendro homself. “Ek kan nie onthou nie. My kop is suf.”

“Is sy darem getroud, met ’n man wat haar kan help?”

“Suri is nie getroud nie. Ek weet nie of daar ’n liefdesteleurstelling of iets was nie. Die twee susters het elkeen hul eie lewe gelei en Irene het min oor haar gepraat, net altyd gesê haar kleinsus het ’n slim kop op haar lyf en gaan nog eendag ver kom. Dié dat sy Suri as Maja se voog benoem het, eerder as haar pa, wat al taamlik bejaard is.”

“Suri? Watse soort naam is dit?”

“Dis ’n afkorting van Surita.”

“Het sy genoeg geld?”

Hendro lyk verward. “Ek weet nie. Onderwysers kry seker redelike salarisse.”

“Dis nie wat ek bedoel nie. Kinders is ’n lopende uitgawe. Dis ’n reuse taak om ’n baba groot te maak; jy kan nie verwag sy moet boonop nog al die onkostes self betaal nie. As die pa is jy vir die onderhoud verantwoordelik. Indien jy geld kortkom, kan ek ’n voorskot op jou salaris reël.”

Hendro lyk ongemaklik. “Ek sal dit waardeer. Ek het nie só daaraan gedink nie.”

Vanwaar hierdie skielike beheptheid met sy skoonsuster? dink hy. Suri kom reg, sy het nog nooit gekla nie.

“In die haak. Dis te verstane, want jy het te veel ander dinge gehad om aan te dink.” Douw maak aanstaltes voordeur toe. “Onthou: As jy wil praat of my nodig het, Hendro, jy het my nommer by die kantoor en by die huis. Bel met vrymoedigheid. Ek sal môremiddag weer ’n draai maak met die tjek en die vorms. Sterkte!”

“Dankie.”

Hendro wend ’n halfhartige poging aan om regop te kom om saam te stap deur toe, maar voor hy sover kan kom, hoor hy ’n motordeur klap, gevolg deur die dreuning van Douw se viertrek. Hy sug en laat sy kop in sy hande sak.

Vlinder teen die ruit

Подняться наверх