Читать книгу Sonnet sonder woorde - Ettie Bierman - Страница 5

3

Оглавление

Die Pensione Sophia is nie regtig so groot soos ’n kasteel nie. Dis ’n verweerde ou herehuis, toegerank met kanferfoelie en jasmyn wat ’n soet geur deur die warm middag versprei.

Valdi het ’n afskynsel van vet Giorgio verwag, maar hul gasheer is die teenoorgestelde: skraal, met ’n skoon paar jeans en ’n kraakwit T-hemp pleks van ’n vuil voorskoot. Vriendelik, sjarmant – en plat Afrikaans.

“Valdi?” eggo hy toe Duard die twee meisies voorstel, en rol die klank daarvan op sy tong. “Wat ’n melodieuse naam! Dit herinner mens aan Vivaldi se vioolkomposisies. Speels en skertsend …”

Valdi bloos. Hoe moet ’n mens nou op só ’n kompliment reageer?

“Luca was saam met my op Maties,” vertel Duard. “Hy’s ’n De Lange, op Vaalbult in die Karoo gebore.”

“My pa was Afrikaans en my ma Italiaans,” verduidelik Luca.

“Mama Sophia?” raai Fiela.

“Nee, Sophia was my ouma. Ouma Bellini, wat die toentertydse ou herberg by háár ouma geërf het, moderne geriewe laat aanbring het en dit in ’n pensione verander het. Ek het die kombuis vergroot en die Middeleeuse fontein in ’n swembad omskep. Die kruisvaarders draai seker in hul grafte om, maar dis gaaf vir gaste om in af te koel gedurende die snikhete somermaande. Die eiland kan bitter drukkend raak, veral dié tyd van die jaar in die buiteseisoen.”

“Jy sê jy het plek vir die twee girls?” wil Duard weet.

Luca glimlag breed. “Vir twee bella signorinas? Altyd! Hoe ken jy my?”

“Soos ’n pak marshmallows,” laat sy vriend droogweg hoor. “Altyd plek in die pakkie vir nóg een.”

Veral een soos dié enetjie … Luca se donker oë talm waarderend op Valdi. Dan gooi hy sy hande in die lug.

“Ek vergeet skoon my maniere, terwyl julle seker moeg en dors is. Tiepolo – ons butler, kruier en opsigter – sal die bagasie kamer toe neem, intussen gaan drink ons iets koels op die terras.”

Duard keer. “Ek soek eers pleisters en ontsmetmiddel. Besit jy sulke goed?”

“Ja, in die kombuis. Die kok is ongelukkig nog steeds siek, sy sou jou kon help. Maar kyk in die kas langs die agterdeur, daar’s ’n noodhulpkissie.”

“Kom saam,” sê Duard vir Valdi.

Sy staan tru. “Hoekom?”

“Ek wil daardie sny aan jou kop skoonmaak.”

“Dis nie nodig nie, Fiela het vir my ’n snesie gegee.”

“ ’n Snesie?” Hy uiter ’n minagtende snork. “En jy dink ’n flentertjie papier het medisinale waarde?”

“Dis nie nodig dat jy –” stribbel sy teë, maar hy knip haar kort.

“Dit is. Kom!”

Toe sy hardkoppig bly staan, rem hy haar aan die arm in die gang af.

“Asseblief, kan jy nie net een keer in jou lewe inskiklik wees nie?”

Dit laat Valdi se humeur ordentlik opvlam.

“Miskien sou dit beter gewees het as ek in die verlede mínder inskiklik was.”

Hy gaan staan. “Wat is dít veronderstel om te beteken?”

“Maak daarvan wat jy wil!” antwoord sy parmantig.

In sy blou oë is ’n flikkering, sien sy, maar Duard antwoord nie, pers net sy lippe saam. In die kombuis sleep hy ’n kroegstoeltjie nader en laat Valdi by die opdientoonbank sit. Sy hou nie van hom as hy so macho en oorheersend is nie. As dit is omdat hy werklik besorg is oor haar welstand, is dit miskien toelaatbaar. Maar indien hierdie houding sommer net baasspelerigheid is, staan sy nóú op en loop en kan hy sy noodhulp bêre vir Fiela, wat dit gretig sal opslurp.

Duard haal ontsmetmiddel, salf en pleisters uit. Valdi het nie besef haar kuif hang oor die wond nie. Toe hy die hare wegstoot, skuur ’n stukkie van sy mou per ongeluk teen haar kaal skouer en in ’n refleksbeweging ruk sy weg.

“Sit stil,” beveel hy.

“Dis seer!”

“Is nie, jy jok. En moenie so frons nie, dit kreukel die vel sodat ek nie kan sien wat aangaan nie.”

“Ja, dokter,” antwoord sy oordrewe gedwee.

Hy maak die seerplek versigtig skoon, smeer salf op ’n blokkie gaas en plak dit met rekpleister oor die wond vas. Valdi staal haar en sit roerloos voor sy weer raas kry. Haar kop is agteroor gebuig sodat hy makliker kan bykom en sy is intens bewus van sy gesig hier vlak teen hare terwyl hy werk. So naby, sy kan net haar hand uitsteek en aan hom raak. Hy het nie vanoggend geskeer nie en sy stry teen die impuls om die grofheid van sy wang en die dagoudstoppelbaard onder haar vingerpunte te voel … Sy voel hoe haar hart sy ritme verloor en dan skielik versnel.

Is jy van jou wysie af? vra sy haarself streng. Jy’s nie meer ’n tiener nie en hy is nie jou kêrel aan wie jy kan vat wanneer jy wil nie. Of wil jy die horlosie terugdraai, weer soos ’n vloerlap weggesmyt word en van nuuts af seerkry? Kom by en gedra jou soos ’n grootmens! Moenie in sy gesig opkyk nie, fokus op sy hempsknoop en dink aan groen gras en blink waterstrome. Aan Niek of die sjarmante Luca de Lange of enige ander ou wie se naam nie Duard Hofmeyr is nie.

Sy moes instinktief beweeg het of dalk kon hy die onstuimige woelinge in haar binnekant aanvoel, want hy kom regop en staan ’n entjie weg.

“Daarso, klaar! Was dit nou so erg, dat ek jou met geweld kombuis toe moes sleep?”

“Nee.”

“Of seer?”

Sy skud haar kop en kruis haar arms oor haar bors. Of dit is omdat sy bang is hy hoor die wilde bonsing van haar hart, of dat haar hand dalk vanself sal uitreik om aan hom te raak, weet sy nie. Maar dit laat haar veiliger voel, meer in beheer van haar bewegings en emosies.

Sy sien dat Duard vreemd na haar kyk, sy oë vraend en skielik ’n donker, broeiende blou.

“Ek … kry koud,” stamel sy. Selfs in haar eie ore klink dit onoortuigend.

“Ja, dit is koel hier,” stem hy saam, ’n halfmas glimlag om sy mond. Hy draai die bottel ontsmetmiddel toe, bêre die salf en die skêr en die pleister. Dan tik hy vlugtig met sy wysvinger op die punt van haar neus.

“Dis nie dat ek jou wou boelie nie, Valdi,” sê hy sag. “Ek is besorg oor jou, bang daar kom kwaad in en die wond ontsteek. Dit sou jou vakansie bederf het.”

“Ek weet,” stem sy saam, maar kan hom nie in die oë kyk nie.

“Dit kon selfs ’n litteken op jou voorkop gelos het.”

“Ek weet …”

Dis hoe sy hom onthou: partykeer amper soos ’n ouboet – sorgsaam en beskermend, soos teenoor ’n jonger sussie wat haar knie stukkend geval het en getroetel moet word. Dit was vir haar kosbaar, as enigste kind, met ’n pa wat dikwels afwesig was en ’n ma wat ’n eie loopbaan gebou het, nie tyd gehad het vir ’n kind nie.

Ná Duard weg is, het Valdi soms gewonder wie sy die meeste mis: haar omgee-ouboet of haar omgee-kêrel. Want hy hét vir haar omgegee, dit weet sy. Dit was ’n ongelukkige sameloop van omstandighede wat veroorsaak het dat hul verhouding handuit geruk het. Maar hy was lief vir haar en sy só dol oor hom. Altyd gereed om inskiklik te wees en saam te speel – grootmensspeletjies, sonder om aan die implikasies of gevolge te dink …

“Sal ons saam met die ander twee iets gaan drink?” stel Duard voor.

Haar gedagtes het op ver paaie geloop en Valdi skrik toe hy praat. Sy ruk terug na die hede en klim van die kroegstoeltjie af. Dit was nie netnou ’n liefkosing gewees nie, breinspoel sy haarself. Daardie vinger waarmee hy op haar neus getik het … Dit was niksseggend, sommer ’n speelse gebaar soos hy sy sussie sou getroos het en daarna vir haar ’n suigstokkie gegee het. Sy moenie meer daarin lees en haarself opwerk nie.

“Koeldrank sal lekker wees,” knik sy en voeg ewe ongeërg by: “Dankie vir jou moeite.”

“Plesier.”

“Plig of plesier?” Sy voel tevrede om tog dié stekie in te kry.

“Bietjie van albei.”

Valdi het nie die moed om te vra wat hy bedoel nie, maak net haar rug regop en loop vooruit deur die swaaideur wat hy vir haar oophou.

Net voor hulle op die terras by die swembad uitstap, hou Duard haar teë met ’n hand op haar elmboog. Hy buig sy kop en fluister teen haar oor.

“Jy was nooit ‘inskiklik’ nie, bokka, maak nie saak wat ook al jou ma of ander mense jou wysgemaak het. Wat gebeur het, was geheel en al my skuld.”

Bokka … Die troetelnaam wat hy altyd vir haar gehad het, vang Valdi op die verkeerde voet. Vreemd dat hy dit onthou …

Sy draai haar kop om sy gesig te sien. Maar hy het weer die donkerbril op en die res van sy gesig is uitdrukkingloos.

“O, hier’s julle uiteindelik!” roep Fiela uit en kyk om die beurt na Valdi en Duard. “Julle was so lank weg, ons het julle amper al gaan soek.”

“Hoe lyk dit, sal Vivaldi darem oorleef?” skerts Luca.

Duard knik. “Die wond was nie diep nie, eintlik meer ’n kneusplek.“

“As jy reken steke is nodig, sal ek haar na ’n dokter neem.”

“Ek sê mos, dis nie nodig nie. Dit was vlak, ’n pleister is genoeg,” antwoord Duard ergerlik.

Luca rol sy oë boontoe. Hy draai weg en wend hom tot Valdi. “Suurlemoensap met soda en ’n tikkie Campari?” bied hy aan en trek vir haar ’n stoel nader.

Die Campari verleen ’n vrank smaak aan die drankie, maar Valdi neem ’n diep sluk, in die hoop dat dit meer medisinale waarde as ’n snesie het. Ná die kombuis het sy ’n sterk dop nodig.

“Die arm man se sjampanje,” spot Luca toe hy merk hoe sy haar glas om en om in die rondte draai terwyl sy die bruisende pienk borreltjies bestudeer.

“Lekkerder as sjampanje,” vlei Fiela hom en vra meer uit oor ouma Sophia Bellini.

Wat was dit netnou daar in die kombuis – daardie plotselinge intense bewuswording van Duard se gesig hier naby hare, wonder Valdi. Daardie drang om aan hom te raak en sy wang te streel? Dis mos gekkigheid! Dis nie hoe ’n mens oor jou eks moet voel nie. ’n Ou wat in die middel van die nag opdaag, vuurwarm by jou aanlê en dan as hy betrap word, hom geriefshalwe uit die voete maak, nooit weer van hom laat hoor nie en dit aan jou oorlaat om die situasie aan jou ontstoke ouers te verduidelik. Alleen die gevolge te dra en die bom te probeer ontlont …

Die minste wat hy kon doen, was om uit ordentlikheid die volgende oggend terug te kom, sy man te staan en te erken dat hy oortree het – nie weg te kruip en nooit weer sy gesig by haar ouerhuis te wys nie. Dis maklik om nou kamma dapper te wees, te erken dat alles sy skuld was. Maar dis te laat. Nege jaar te laat. Sy gaan nie toelaat dat hy haar lewe van voor af omkeer nie.

Dis regtig jammer dat sy en Fiela nie eerder Margate of Mauritius toe gegaan het nie, jammer dat hulle op Capri beland het by die taxidrywer en sy ewe gierige familielid. Veral jammer dat Duard juis daardie simpel sipresboom reg langs die hotel gekies het om onder te sit en teken … Alles net so ’n ongelukkige sameloop van omstandighede soos daardie nag in Bloemfontein. Daar’s niks wat sy daaraan kan doen nie. Sy kan Duard nie belet om op die eiland te woon nie. Maar sy gaan hom nie toelaat om haar te ontstig nie. Duard Hofmeyr is oor en verby. Geskiedenis.

Met die besluit geneem, kry Valdi gemoedsrus. Sy neem nog ’n sluk van die pienk borreltjies.

“Die arm man se sjampanje smaak heerlik!” Sy glimlag vir Luca.

Nie so “arm” as ’n mens na hierdie juweel van ’n gastehuis kyk nie, dink Fiela. Die Campari smaak vrank, maar sy sluk haar glas leeg. Dalk sal hul baster Italiaanse gasheer netnou ’n lekker bottel rooiwyn uithaal. Italianers is mos wyndrinkers, volgens wat sy al gehoor het. Luca de Lange is ryk en cute daarby, maar hy stel ooglopend meer in blondines belang as in rooikoppe. Sy gee nie om nie. Die volbloedboer is meer haar styl, al dra hy ’n verfbesmeerde kakiebroek en ry hy met ’n geroeste skeepswrak pleks van ’n Alfa of ’n Ferrari.

“Hoe groot is die pensione?” vra Fiela.

“ ’n Tweeverdieping, soos jy kan sien. Sewe dubbelkamers met en suite-badkamers,” antwoord Luca. “Ons kan veertien gaste huisves, met ’n eetkamer, sitkamer en televisiekamer, en ’n balsaal wat ons vir troues gebruik.”

“Sjoe, troues?” Fiela is beïndruk.

“Troues en onthale, maar dan kry ek ’n span spyseniers, kelners en skoonmakers. Op die oomblik is ons in laerat. Die kok het ’n virus opgedoen en die plek is leeg. Slegs drie kamers is in gebruik, behalwe jou en Valdi s’n. Maar julle is nie gaste nie, julle bly gratis.”

“Dis darem vreeslik gaaf van jou, Luca. Duisend dankies.”

“Wag eers ’n wyle met die bedankings. Môreoggend voel julle dalk dis ’n slegte ruil, julle trek aan die kortste ent.”

Fiela se wenkbroue vorm twee vraagtekens. “Hoe dan? Hierdie is vyfsterweelde. Hoekom sal ons voel ons trek aan die kortste ent?”

Luca lyk ongemaklik. Sy ekspressiewe oë skimp na sy vriend se kant toe en hy kug verskonend.

“E … Duard, het jy die transaksie aan die dames verduidelik?”

Duard lyk ook nie heeltemal op sy gemak nie. “E … ek reken so.”

“Watse transaksie?” konfronteer Fiela die twee vriende.

Luca lyk bekommerd en dis Duard wat antwoord. “Dat julle sal moet kos maak.”

“Ons eie ontbyt kry en so?”

“Nie net dit nie, nie net vir julself nie. Bietjie meer …”

Valdi onthou hy het so iets genoem, netnou voor hulle gery het, maar dit was baie vaag en als was so deurmekaar. Hy het wel van omelette en terte en sulke goed gepraat, maar hulle het gedink dis sommer gesels. Gaan hulle nou vir al die gaste moet kook?

Ongeveer dieselfde tyd wat Valdi se brein inskop, kliek Fiela ook wat die ruiltransaksie behels.

“Jy bedoel ons moet wérk vir ons kamer? Sing for our supper?”

Luca lyk apologeties. “Hier is wel ’n kamermeisie wat skoonmaak, maar ek sit in ’n penarie met ses gaste – vier volwassenes plus twee kinders – sonder ’n kok en sonder ’n kelner om hulle te bedien. Duard het gesê een van julle is ’n dieetkundige, en ek het gehoop dis ’n aanvaarbare reëling. Dit spyt my …”

Fiela is bang hy skop hulle uit. Waar kry hulle weer sulke weelderige losies? Als is so peperduur, hulle sal selfs ’n jeugherberg maar net-net kan bekostig, indien Capri ooit so iets het, en dís in elk geval erger as ’n skoolkoshuis sonder ’n subsidie. Die enigste ander opsie is slaapsakke op die strand.

Haar ondervinding as sepiester kom nou nuttig te pas. Onder in Fiela se glas is nog ’n laaste paar borrels wat sy nonchalant wegsluk. Sy speel tans in ’n TV-reeks waarin sy die rol van ’n verleidelike leerlingverpleegster vertolk op wie die helfte van die manspasiënte verlief raak. Sy toor nou die glimlag op wat sy gebruik het om ’n rugbyheld met twee gebreekte bene sy krukke te laat neergooi en swymelend in haar arms te laat val.

“Daar was ’n klein misverstandjie, maar dis als reg. Jou aanbod bly ’n wonderlike bargain, Luca, en pas ons perfek. Valdi is die sjef, ek’s die kelner, en saam vorm ons ’n mean team!”

Valdi stuur verwoed noodseine uit, maar Fiela maak nie oogkontak nie. Sy lag tintelend. “Vivaldi en Filandia to the rescue!”

Luca hou van die musikale klank daarvan. “Tiepolo!” roep hy. “Per favore, bring vir ons ’n lekker bottel rooiwyn. Orvieto.”

“En ek sal die skottelgoed was,” bied Duard aan.

“Akkoord!” stem Fiela dadelik in en verseël dit met ’n handdruk, voor hy van plan verander.

“Tiepolo!” roep Luca weer. “Twee bottels! Ons het ’n dubbele viering.”

Een van die gaste kom op die terras uit, ’n Amerikaner, op soek na hul gasheer. Hy het inligting nodig oor hoe om by die Blou Grot uit te kom. Luca beduie hom na die kaai, waar roeibootjies en gidse regstaan om besoekers na die eiland se beroemdste toeristeaantreklikheid te neem.

“Hoe kom ons by die kaai?” wil die Amerikaner weet.

“Per taxi is die gerieflikste, meneer Anderson,” raai Luca hom aan. “Maar wees versigtig vir toeristetaxi’s wat besoekers uitbuit. Wettig gelisensieerde taxi’s met vasgestelde tariewe is groen, met ’n blokkiespatroon op die deure. Indien julle beplan om ’n week of langer in Italië te bly, sal julle geld spaar deur ’n reispaspoort te koop by enige groot stasie.”

“Het jy vir ons ’n brosjure met die tariewe, meneer Dilange? En van die Blou Grot? En poskaarte?”

“Sekerlik. Stap saam.” Luca stap vooruit na die ontvangstoonbank, om onder meer ook vir Tiepolo aan te jaag.

Valdi wag tot hulle buite hoorafstand is, dan vaar sy teen Fiela uit.

“Jy’s nie nou in daardie stuitige sepie van jou nie! Hierdie is die regte lewe. Wat makeer jou om in te willig? Ek kan g’n Italiaanse terte en pannekoekerige visgoed maak nie!”

“Jy kan, jy’s mos ’n dieetkundige.”

“ ’n Dieetkundige, ja, nie ’n sjef nie!”

Fiela hou haar onskuldig. “Wat’s die verskil?”

Valdi het lus om haar niggie kop eerste in die swembad te gooi.

“Dis twee totaal teenoorgestelde pole. Die een gebruik kookolie – vetterige kookolie vol gifstowwe – die ander ’n gesonde produk soos canola-olie, vol vitamiene en minerale. Die een plak ’n dik laag botter op witbrood – gallerige diervet gelaai met slegte cholesterol – die ander een ’n skraapseltjie laevetmargarien op volgraan. Die een …”

Fiela hou haar hande op. “Toemaar, ek kry die boodskap, voor jy ’n tesis daaroor lewer. As jy reken Italiaanse kokke kweek hartaanvalle en beroertes, is hierdie jou kans om te wys hoe slim en gesondheidsbewus ons Suid-Afrikaners is. Wie weet, jy red dalk selfs ’n klomp lewens. En dalk wil jy jou eendag permanent in Italië vestig en ’n dieetkoskliniek begin. Of ’n ‘Eat plants not animals’-veldtog of –”

“Filandi!”

Fiela bly stil en verander haar taktiek. “Ek het tien duime in ’n kombuis, maar in my eerste jaar by die technikon het ek vir sakgeld by ’n steakhouse gewaitress. So ek sal die gaste bedien. Dis net een dag, Valdi, net een ontbyt,” pleit sy. “Ek is seker jy sal êrens in die kombuis ’n resepteboek kan uitgrawe.”

“Ek het gekyk, daar’s net potte en panne,” antwoord Valdi bot.

“Dalk kan Luca jou wys hoe. Alle Italiaanse mans kan kook, hul ma’s leer hulle van kleins af hoe om ’n meisie met oesters en kaviaar te verlei.”

“As Luca kon kook, sou hy ons nie gehuur het nie. Hy kom van Vaalbult af, wat sal hy weet van oesters en kaviaar? Ek raai al wat hy van kosmaak weet, is vleis braai, bier drink en oor rugby stry. Of politiek.”

“Jy het van kleins af altyd van kosmaak gehou, Valdi. Ek onthou een vakansie toe julle by ons op Swakopmund gekuier het, het jou pa-hulle emmers vol visse gevang. En jy en my ma het die lekkerste viskoekies gebak. Ek het my siek geëet.”

“Jou geheue is soos ’n sif. Dit was vleispasteie, wat ons by ’n supermark gekoop het, wat jou naar gemaak het omdat jy te veel daarvan geëet het.”

Fiela laat haar nie van stryk bring nie. “En eendag toe dit koud en reënerig was, het jy vir ons pannekoek gebak. Dit was die lekkerstes wat ek nog geproe het.”

“Gewone basaarpannekoek, ja, met kaneelsuiker, nie hierdie canneloni-soort met uitheemse konkoksies in nie.”

“Cannoli,” korrigeer Duard. “Die deeg is bietjie dikker en word in ’n driehoek gevou, met ’n soet of sout vulsel. Niks olierigs nie, net ’n witsous met kaas, vis of nougat daarin. Baie geurig en maklik om te maak.”

Dit pas in Valdi se kraal. “As jy kastig so baie weet,” sê sy, “hoekom maak jy nie vir Luca se gaste ontbyt nie?”

Duard verras haar. “Ek sal, met plesier.”

“Jý?” herhaal Valdi krities. “Al wat jy kon maak, was hot dogs en popcorn.”

“Dit was in my prille jeug. Intussen het ek geleer. Ek het in Parys ’n kookkursus gedoen. Ek kan bouillabaisse maak en foie gras in ’n deegpakkie wat selfs ’n standbeeld sal verlei.”

Valdi hou haar ook slim. “Dis vissop en ganslewerpatee. Niemand eet sop en patee vir brekfis nie.”

Fiela is gefassineer. “En paddaboudjies? Kan jy dít ook maak? Ek wou nog altyd proe hoe daai Franse affêre smaak.”

“Cuisses de grenouilles,” vertaal Duard en knik bevestigend. “Maar ek moet die hoofbestanddele eers inhardloop en vang. Dis die moeilikste deel.”

Fiela giggel en speel saam. “Hoe vang mens ’n hoppende padda wat nie sy boudjies aan ’n honger ou wil afstaan nie?”

Valdi vind dit nie snaaks nie. “Dis wreed om te spot met ’n arme padda wat vir sy lewe vlug. Ek hoop hy gee julle vratte op al tien vingers en tone!” Sy vererg haar toe Duard saam met Fiela vir haar lag.

“Hierdie hele gemors is jou skuld!” vaar sy teen hom uit. “Hoekom het jy nie in Parys gebly en prentjies van die Eiffeltoring geteken nie? Vir wat sit jy in vervlakste Capri – net om my vakansie te bederf? Met duisende sipresse op die eiland, hoekom het jy juis daardie yl een gekies om onder te sit? Dit was pure moedswilligheid! Hy gee nie eens behoorlik koelte nie en poskaarte van die baai is ’n tiekie ’n bos, goedkoper as skilderye. Dis buite seisoen, niemand sal jou prentjies koop nie.”

Duard het al vergeet hoe aanskoulik Valdi op een van haar kruistogte is. Wippende blonde krulle, reg om die wêreld aan te vat. Groen vonke wat uit haar oë flits en ’n vurige blos op haar wange. Sy was ’n ontluikende tiener toe hy weg is. Nou is sy ’n volwasse vrou wat die belofte gestand doen van die skoonheid wat toe reeds aanwesig was. So sal hy haar graag wil skilder, dit raam en bokant sy bed hang. Hy onderdruk die drang om haar te gryp en te soen tot haar ore tuit, tot sy oorgee en uitasem in sy arms lê … Sy druk seker die Campari-bottel in sy keel af as hy dít durf waag. Maar dit sou die moeite werd wees.

“Ek is jammer, meisie,” sê hy sag. “Oor so baie dinge …”

Valdi gee ’n ongeskikte snuif. “Jy lýk nie jammer nie!”

“Glo my, ek is. As ek die almanak kon terugblaai, sou ek dit anders doen – nie weer dieselfde foute gemaak het nie.”

“ ’n Ander boom se koelte gekies het? Marioneiland toe gegaan het in plaas van Capri?” snip sy, maar albei weet dis nie die foute waarna hy verwys nie.

Duard se gesig is ernstig. “Ek sal graag wil vergoed, bokka. Daar’s ’n steil pad voor, vol klippe en afgronde, ek weet. Maar ek wil begin deur môre met die ontbyt te help, die skottelgoed te was en daarna vir julle die Blou Grot te gaan wys.”

“Ons kan self gaan kyk. Ek is nie doof nie, ek het gehoor toe Luca vir die Amerikaner van die roeibootjies verduidelik het.”

“Netnou klim ons weer in ’n verkeerde taxi,” gooi Fiela egter haar stuiwer in. “Of jy word weer seesiek in een van daai bootjies …”

“Word sy seesiek?” vra Duard.

“Nee, sy word nié,” ontken Valdi dit verontwaardig. Dis die laaste ding wat sy wil hê: dat Duard moet sien hoe sy koponderstebo oor die rand van die bootjie hang. So ’n vernedering sal hom en Fiela net nog ’n rede gee om vir haar te lag.

“Ek wil nie saam met hom na die grot gaan kyk nie,” herhaal Valdi met nadruk. “Ek wil nie hê hy moet môre weer hier opdaag nie, of oormôre of ooit weer nie. Is dit so moeilik om te verstaan, Fiela? Ek en jy het saam gespaar, saam gedroom en sáám op hierdie vakansie gekom, nou wil jy dat ’n derde persoon tussen ons kom en dit bederf.”

“Maar –”

“Geen maars nie. En as jy aanhou, klim ek môre op die eerste vliegtuig huis toe!”

Luca kom terug, midde-in die struweling. Hy lyk bekommerd en vra iets in Italiaans vir Duard.

Duard rammel ’n lang relaas af.

“Maar jy is mos ’n boer! Maak ’n plan!”

“Ek sal probeer,” belowe Duard, maar sy liggaamstaal wys hy weet wat die uitslag sal wees.

Die spanning loop hoog en ’n paar oomblikke lank is almal stil. Valdi en Fiela tuur boos na mekaar. Luca kyk op toe Tiepolo met ’n skinkbord inkom. “Dalk sal die rooiwyn help …” Hy skink vir al vier van hulle.

“Salut!”

“Cin cin!” beaam Duard.

“Laat hy val waar hy wil!” Fiela lig haar glas en neem ’n behaaglike sluk.

Valdi verkies egter bruiswater. Rooiwyn gee haar hoofpyn en sy is buitendien bang dit bots met netnou se Campari. Maar sy wil nie ’n klam tante wees nie en neem ’n proe-proe-slukkie. Dis so droog dat haar kiewe saamtrek en sy begin hoes.

Sonder om ’n storie daarvan te maak, staan Duard op en gaan haal vir haar ’n emmertjie ys. Luca sidder toe Duard daarmee terugkom. Ys by ’n volronde sauvignon? Dis ’n erger sonde as om Tab by whiskey te gooi.

“Dis hoe ons dit in Suid-Afrika drink,” sê Duard doodluiters vir hom. “Met eish.”

Luca ken nie die bekende TV-advertensie nie en hy verstaan nie, maar Fiela gooi haar kop agteroor en skater. Valdi weier om te lag. Sy wil nie ’n grap met Duard deel nie, wil nie hê hy moet vir haar opkom nie. Dit sal wees soos in die ou dae, asof hy steeds haar kêrel is.

“Ek het Tiepolo gestuur om vir ons te gaan kos koop,” sê Duard. “Ciabatta, salami, kaas en olywe.”

Valdi se eerste impuls is om te sê sy is nie honger nie. Maar dit klink aanloklik en sy besef hulle het vanoggend op die lughawe laas geëet. Haar kop sê nee: Sê jy’s moeg en wil gaan slaap. Maar haar maag stry heftig: Jy’s rasend honger en moet kos inkry, anders gaan die rooiwyn op ’n leë maag jou vang.

Om kos te eet wat Duard gekoop het is net ’n tydelike wapenstilstand. Hy is miskien nie heeltemal so sleg soos sy dink nie …

Toe die kos kom, neem Valdi twee snye van die brood, ’n dik skyf salami en ’n homp mozzarella. Dit smaak hemels. Sy weier om na Duard te kyk, gesels land en sand met Luca en luister na sy staaltjies oor hul studentedae op Stellenbosch.

Duard het kuns geswot en Luca in die handel, maar hulle was in dieselfde koshuis en van die begin af op dieselfde golflengte. Vanaf die eerste nag van die ontgroening, toe die Oude Menere vir elkeen van die eerstejaars ’n vuurhoutjie gegee het, met die bevel om dit oor die lengte van die rugbyveld te stoot – met hul neus. Albei van hulle was hardekwas en rebels. Hulle wou met geweld opskop, uit die koshuis padgee en privaat losies soek. Luca se tasse was die volgende oggend klaar gepak, maar Duard het kopgehou, gepaai dat die ontgroening net drie weke duur, dan is hulle ingelyf en kan hulle die studentelewe begin geniet. Die resep is uithou en aanhou, moedhou en bekhou. Dink positief: Dink aan al die fraaie meisies op die kampus wat hoopvol wag …

Duard was die sterk een, met murg in sy pype pleks van jellie. Was dit nie vir hom nie, het Luca karre gewas of tjips verkoop op Nuweland en het ouma Bellini hom onterf. Dis ’n bestiering dat Duard op die laaste tippie gekies het om by Maties te gaan swot, in plaas van Kovsies, soos die aanvanklike plan was. Anders het hulle nooit by mekaar uitgekom nie en nie nou hier gesit nie.

En sy en Duard ook nie, dink Valdi. Was dit sý keuse om ver weg, op Stellenbosch, te gaan studeer, of sy ouers se besluit? Nie dat dit nou meer saak maak nie, dis nege jaar gelede se water onderdeur die brug.

Vreemd genoeg is dit Fiela wat eerste begin gaap en aankondig sy wil ’n vroeë nag hê. Sy kan nie op vliegtuie slaap nie en die Egiptenaar in die sitplek langs hare het heelnag so gesnork dat sy nie ’n oog kon toemaak nie. Daardie beddens in hul kamer, met die bulsakke en sagte matrasse, het netnou so aanloklik gelyk, die versoeking vir ’n vlugvoos rooikop is te groot om te weerstaan.

Vir ’n vlugvoos blondine ook, stem Valdi saam. Sy kort ook ’n vroeë nag, want môre moet sy al haar varkies op hok hê om eerste in die kombuis te wees en halfpad klaar met die vrugteslaai, die spek en omelette teen die tyd dat Duard opdaag.

Sonnet sonder woorde

Подняться наверх