Читать книгу Sterre is vir ewig - Ettie Bierman - Страница 3

1

Оглавление

Erin kyk op haar horlosie. Dis drieuur. Die blonde kleurstof moet ’n halfuur aan haar hare bly; dit beteken sy moet dit halfvier afspoel. Dié sal sy sommer onder die stort doen, tegelyk met die avokado-gesigmasker. Alles vir vanaand … vir Jans se werksfunksie waarvoor sy hoegenaamd nie lus is nie. Korporatiewe maatskaplike beleggings was nog nooit haar forté nie, investering en sakestrategie ook nie. Gee haar liewer ’n sketsboek en ’n kwas, of ’n bol klei en ’n wiel.

Maar sy het Jans belowe om op te tof en saam te gaan. Arme hy is seker net so verveeld elke keer wanneer sy hom saamsleep na ’n kunsuitstalling, hy wat skaars die verskil ken tussen ’n almanakprentjie en ’n oorspronklike Pierneef. ’n Onpaar paar, net so teenoorgesteld soos Jans se debiete en krediete.

Wat maak hulle twee saam? het sy haar al meermale afgevra. Lojaliteit, gewoonte, kleintydse vriendskap? Genade, hulle ken mekaar al amper dertig jaar! Al sedert geboorte, toe hul ma’s beste vriendinne was en gehoop het om eendag soort van susters te word, as hul twee ewe oud spruite sou trou.

Jans se ma hoop dit steeds. Tannie Wanda maak gedurig planne om hulle saam te gooi. Dis ete-uitnodigings, teaterkaartjies wat sy “toevallig” present kry maar nie kan benut nie, en wil hulle tweetjies nie maar saam La Traviata gaan kyk nie, of ballet, of selfs rugby? Jans aanvaar dit as vanselfsprekend dat hulle ’n paartjie is. En sy? Erin weet nie. Miskien lê die fout by haar, dis dalk dat sy te veel verwag of nie weet wat sy wil hê nie. Miskien is dit waar wat die sterre-ghoeroes sê, dat ’n Vis en ’n Kreef teenoorgesteldes is wat mekaar aantrek. Albei hou van water, so wat is die probleem?

Erin is moeg geraai. Dalk word sy een oggend met hartkloppings wakker en besef dat sy smoorverlief is op Jans Duvenhage. Wie weet, dalk môreoggend, as hy vanaand mooi goeters sê, haar gryp en soen dat haar ore tuit, haar klere afpluk, die gang af sleep en uit haar bloedgroep en goeie naam uit vry.

Erin giggel lekker. Hy sal nie, dit weet sy. Altans, nie so wild en woes soos die prentjie wat sy in gedagte het nie. Jans is te ordentlik. Te skaam. Te netjies. Hy vou selfs sy skoenveters op en hang sy frokkies aan ’n hanger sodat hulle nie kreukel nie. Hy sal nooit haar klere afpluk en dit die hele gang vol gooi nie.

Haar tienersus spot altyd Jans sal vooraf ’n afspraak maak, soos by ’n tandarts – eers hande was en tande borsel, en dan vra of lyflike toenadering geleë is. Teen daardie tyd, sê kleinsus, is sy al vas aan die slaap, aan’t droom van ’n olie-sjeik in die Sahara wat haar op sy vurige hings ontvoer en met hartstogtelike passie in sy tent gevange hou. Lara is ’n tipiese eerstejaarstudent, ingestel op sexy en romantiese manne. Erin sidder as sy dink wat alles in daardie studentekoshuis aangaan, waar Lara se meer behoudende ousus nie naby is om te keer nie. Lara lees te veel vrystories, waar alle mans gespierde sitvlakke, sespakmae en slaapkameroë het, beskikbaar en gewillig om benut te word.

Soms wens Erin sy kan die kalender terugblaai, wens sy haar ma het nog geleef, sodat dit nie vir haar nodig was om so gou grootmens te word nie. Sodat daar vir haar ook meer tyd was om te droom, te jol en te jool en die studentelewe te geniet. Dan was sy nie nou so ’n versigtige, wantrouige oujongnooi nie. Dan het sy ook vrystories gelees van “tussen die lakens” en “onder die duvet” en geweet hoe om arme Jans te verlei – ’n bietjie vuur in hul verhouding te blaas. Soos Lara sou sê: ’n bietjie “water in sy gieter gooi”. Wat dít ook al beteken … Sy wil liewer nie weet nie.

Oor minder as ses maande tref die Groot Drie haar. Dértig. ’n Mylpaal en ’n rakleeftyd met ’n vervaldatum. Net daarna kan sy haar eerste grys haar verwag. Ouderdom kyk nie na datums nie. Dalk is die gewraakte Gryse reeds daar, netnou wanneer sy haar hare afspoel en ontdek die kleurstof het nie Vader Tyd se voortydige verjaarsdagpresent bedek nie.

Afspoel … Die gedagte laat haar brein inskop. Hier staan sy soos ’n tiener en droom oor lakens en gieters, en vergeet om die horlosie dop te hou, vergeet van die kleurstof en gesigmasker. Dis kwart voor vier! ’n Kwartier oor die tyd! Sy los als en storm die gang af na die stort toe.

Anders as Jans Duvenhage, het Erin haar prioriteite reg. Haar sandale, denim, top en onderklere lê die hele wêreld vol gestrooi toe sy onder die stort induik en die krane oopdraai.

Niks water nie. Sy klap teen die stortkop, stamp aan die waterpype en draai die krane anderkant om. Dit bly droog. Sy hét mos haar rekening betaal, dink sy. Sy is nie agterstallig nie en daar was geen kennisgewing van die munisipaliteit dat die watertoevoer onderbreek gaan word nie.

Erin probeer kophou. Sy toets oplaas weer die twee krane en ook dié by die wasbak, maar al wat uitkom, is asmatiese gorrelgeluide. Asof die water afgesny is, ’n pyp gebars het of iets die munisipaliteit se toevoerkraan buite op die sypaadjie beskadig het. Dalk ’n trok of ’n ding … Die nuwe bure het gistermiddag ingetrek, besef sy. Daar was ’n reusetreklorrie wat ’n paar keer op en af gesukkel het om by die hek ingedraai te kom. Dis natuurlik hy wat haar watermeter raak gery het!

Sy gryp net die nodigste stukke klere – jeans en ’n top – en pluk dit halsoorkop aan. Toe sy kaalvoet by die voordeur uitdraf, tref Erin ’n rivier aan wat vanaf die erf langsaan deur haar agapantebedding spoel. Dit dam op teen die stoeptrap en loop in die oprit af. Sy gly in die onverwagse modder en val byna haar wind uit.

“O, ag ekskuus!” roep ’n stem.

Erin vee modder van haar hande af en sit verdwaas regop.

“Het jy seergekry?” vra dieselfde stem. ’n Manstem, iewers van anderkant die ligusterheining. Seker die nuwe buurman. Blykbaar het húlle water, maar sy kan nie verstaan waarom dit besig is om deur haar erf te loop en haar tuin te verspoel nie.

“Skies vir die gemors! Is jy orraait daar?” roep hy weer.

Plat op haar sitvlak in ’n moddermoeras? Natuurlik is sy nie orraait nie. Erin sukkel gly-gly op haar voete.

“Wat gaan hier aan?” vra sy.

’n Gestalte met ’n graaf kom orent agter die heining, waar hy blykbaar besig is om ’n sloot of ’n ding te grawe.

“Dis als my fout! Vreeslik jammer! Ek het ’n pyp raak gespit en die kraan buite by die meter toegedraai, maar ek kry nie die water gestop nie. Dit hou aan spuit. Ek weet nie wat aangaan nie …”

Erin loer tussen die ligusterstruike deur. Anderkant die draad spuit ’n fontein die lug in, soos foto’s waar olie in Texas raak geboor is. Die swembadpatio wat oom Bezuidenhout aangebou het, is oorstroom. Vandaar het die water teen die skuinste afgestroom, deur die varings en broodbome, die ligusters en haar agapante. Haar erf lê laer en as sy nie keer nie, gaan die water haar motorhuis oorstroom.

“Ek probeer ’n wal gooi!” roep haar buurman.

“Jy was by die verkeerde meter, jy het mý water toegedraai!” roep Erin. “Jou meter is by die verste grens, oorgroei deur die gras.”

Hy gooi die graaf neer en beur ’n opening tussen die ligusters deur, stut hom met ’n hand op die hoekpaal en wip ligvoets oor die draad. “Waar? Kom wys my!”

Erin bly botstil staan, nie in staat om ’n tree te gee in enige rigting nie. Oom Bezuidenhout en tannie Mart is pensioenarisse en het die groot dubbelverdiepinghuis verkoop om na ’n aftreeoord te trek. Die oom het gesê die koper is ’n aangename man, ’n argitek uit die Kaap, vriendelik en hulpvaardig en sy sal van hom hou. Allerhande ander inligting ook, maar nie hoe oud die Kapenaar is nie. Sy het aanvaar dis ’n ouerige man, min of meer oom Bez se portuur. Maar hy is jonk, skaars ouer as sy, en Erin is onvoorbereid op die impak wat sy brute manlikheid op haar het. Macho mán in oormaat … Dit tref haar soos ’n vuishou op haar midderif. Sy is met lamheid geslaan.

Die man het nie ’n hemp aan nie en sy bolyf is bruingebrand en gespierd, met die breë skouers van ’n swemmer. Hy dra jeans wat styf om sy heupe en lang bene span. Sy hare is kortgesny, glimswart en krullerig, sy oë blinkgrys – byna silwer, met lang wimpers. Ek-soek-jou-oë, soos haar negentienjarige kleinsus hulle sou beskryf. Dit alles let sy binne enkele sekondes op, terwyl sy soos ’n rubberpop daar staan.

“Waar’s die meter?” wil hy weet.

Erin beduie met ’n wysvinger in die rigting van die sypaadjie, oorbewus van haar modderbesmeerde lyf en skielik ook van die feit dat sy nie onderklere aanhet nie. In haar haas om uit die stort te kom, het sy haar boonop nie afgedroog nie. Haar top is sopnat en kleef soos ’n tweede vel aan haar lyf. Sy kan maar net hoop die modder en die kantpatroontjie oor haar bors kamoefleer enige bulte en punte, dat niks té anatomies onder die katoenmateriaal wys nie.

“Kom wys my!” herhaal hy dringend terwyl hy sypaadjie se kant toe begin staan.

Erin dwing haar in rat en kies ook koers na die sypaadjie, verby haar eie watermeter en ’n entjie hoër op tot waar sy erf aan die volgende een grens. Sy hurk en trek onkruid en stukke kweekgras uit om sy toevoerkraan te bereik. Toe sy dit bykom en probeer toedraai, sluit sy hand ferm oor hare.

“Los, jy gaan seerkry. Laat ek dit doen.”

Dit was klaar seer – die elektriese stroom wat van sy hand af ’n pad deur haar hele lyf geskroei het. Genade, wat gaan met haar aan? dink Erin. Sy is erger as Lara, skoon op hol asof sy niks gewoond is nie. Arme Jans is nie só ’n hormoonlose bleekbroer nie, hy weet darem hoe om ’n meisie te hanteer, en het haar al baie probeer soen. So sy het ervaring van mans, en sy kan nie verstaan hoekom sy skielik soos ’n bakvissie versteen en verstar met rubberknieë en ’n hart wat teen haar ribbes tamboer nie. Dalk het sy netnou in die val haar kop gestamp. Of miskien is sy besig om griep of iets te kry. Jans het juis gepraat van ’n maagvirus by die bank wat twee van die tellers platgetrek het.

Erin bewonder nog ’n paar oomblikke die buurman se bultende voorarmspiere terwyl hy die kraan styf toedraai, maar dan kom sy met ’n slag terug aarde toe. In die deurmekaarspul het sy van die kleurstof aan haar hare én die avo-gesigmasker vergeet. Haar asem stok in haar keel en sy kyk wild op haar horlosie. Kyk weer, met wydgesperde oë … Dis so te sê vieruur! ’n Halfuur oor die tyd! Sy voel verskrik aan haar hare. Dit voel soos bros gras. Soos klapperhaar. Haar kopvel kriewel en haar gesig jeuk. Dis ’n ramp! Haar hare gaan pers wees, morsaf breek of uitval! En hoe gaan haar gesig lyk? Soos masels of waterpokkies. Dis dalk wat haar so lam gemaak het: die chemikalieë aan haar hare en gesig wat gifgasse afgee.

“Wat’s dit? Wat makeer?” vra die buurman toe hy haar verskrikte uitroep hoor.

Erin mors nie tyd met verduidelikings nie. Sy vlieg om en storm terug huis toe. In die hardloop oorweeg sy haar opsies. Die stort is vanselfsprekend die beste opsie, behalwe dat dit ’n tydjie sal neem vir die water om die lugborrels deur te stoot en die pype te vul – tyd wat sy nie hét nie. Dis nou te sê ás Buurman kophou en haar toevoerkraan weer oopdraai.

Daar’s water in die toilette, maar nie genoeg nie. Al druk sy haar kop binne-in die toiletbak, spoel die tenk te vinnig leeg dat sy die kleursel en masker sou kon afwas. Wat anders? Haar yskas is altyd te vol, daar’s nooit plek vir ’n bottel koue water nie. Nee, al uitweg is die swembad langsaan. Dis haar enigste opsie om te red wat te redde is.

Erin het dikwels by oom Bez en tannie Martie gekuier, en sy ken die tuin. Sy kies kortpad: in by die motorhek, dwarsoor die grasperk, af met die trappies, oor die patio en vandaar direk in die swembad. Gelukkig is dit somer. Sy weet nie of sy in die winter genoeg moed sou gehad het om kop eerste in die koue water te duik nie.

Sy het dik, lang hare – wat as hulle in die filter of Kreepy beland? Wel, dit kan haar nie skeel as die ganse meganisme verstop nie. Dis die buurman se skade, nie hare nie, en dit sal sy verdiende loon wees omdat hy so simpel was om die verkeerde kraan toe te draai. Wat help dit hy is ’n beeld van ’n mansmens, maar hy het net twee breinselle? ’n Argitek, maar hy kan nie sy eie huisplan lees nie? Spit ’n pyp stukkend en weet nie waar sy wateraansluiting is nie …

Erin kom op vir asem en swem vlak kant toe. Sy was en spoel en skrop – haar hare, haar kopvel en gesig – en is verlig om te sien die skuim wat afkom, is darem nie pers nie. Ook nie vol bosse afgebreekte hare nie. Sy masseer haar kriewelende kopvel en toets versigtig of daar nog vel aan haar wange en voorkop oor is.

“Lara …?” vra ’n besorgde stem êrens bokant haar. “Hoekom het jy in die swembad gespring?”

Sy het nie gespríng nie, sy het geduik. Nogal grasieus, het sy gedink – onder die omstandighede.

“Wat is al daardie skuim?” wil hy verder weet.

Erin wring nog ’n paar hande vol daarvan uit haar kroontjie. Sy kan nie glo sy het nou-nou van haar hare en mambagroen gesig vergeet nie! Sy moes soos ’n ruimtewese gelyk het, soos Godzilla of Shrek.

“Lara?” herhaal hy. “Voel jy siek? Koorsig?”

Die versoeking is groot om te maak asof sy haar suster is. Asof dit iemand anders was wat so onelegant deur die modder gesloeg en op haar sitvlak geland het. Sy waag ’n loer tussen die borrels deur. Hy hurk op die plaveisel, so naby dat sy die silwer spikkels in sy oë kan sien.

“Yl jy?”

Hy lyk regtig bekommerd, gereed om ook in te duik en haar te red indien nodig. ’n Galante ridder in nood … Dit sal so maklik wees om haar hand uit te steek en aan die pragtige stuk mens te raak. Net te voel hoe so ’n sexy ou voel … Sy skrik vir haar gedagtes en ’n warm blos tint haar wange. Aan ’n wildvreemde man te wil vat en voel? Sy het nog nooit voorheen so ’n drang gehad nie. Is daar regtig fout met haar? Of is dit wat ’n naderende vervaldatum aan ’n meisie se hormone doen? Sy wens die man wil ’n hemp aantrek. Dis onbetaamlik om so half kaal rond te loop en dit ontstig haar, sy kan nie helder dink nie.

Erin druk haar kop onder die water om af te koel. Op die stoep staan ’n klompie bokse wat nog nie uitgepak is nie, met die inhoud van elkeen buite op in dik viltpen geskryf. Breekware. Boeke. CD’s. Scalextric. Scalextric is mos elektriese speelgoedkarretjies. Dus is die ou klaarblyklik getroud, met ’n vrou en kinders. Hy sal verleë wees as hy agterkom watter uitwerking hy op die koorsige vroumens voor hom het, lekker lag vir die oujongnooi wat so uitgehonger is vir ’n manslyf dat sy haar kop onder koue water moet druk om tot bedaring te kom. Sy skaam haar dood!

In noodweer hou Erin haar bot en onvriendelik. “My naam is nie Lara nie.”

“O …” Hy frons onbegrypend. “Ek dag dan jy is die buurmeisie. Is jy nie?”

“Ek is,” bevestig sy, op die verdediging.

“Maar nie Lara nie?”

“Haar suster.”

“Maar …” Weer frons hy en vryf met sy vingers oor sy ken, asof hy nie dadelik weet wat om te antwoord nie. “Oom Bez het dan gesê die ander suster is, uh …” Hy bly stil.

“… ’n suur en verstokte oujongnooi?” voltooi Erin koelweg die sin.

“Nee,” keer hy. “Nee, glad nie. Hy het gesê –”

Erin gee hom nie kans om klaar te praat nie. “Ek stel nie belang wat hy gesê het nie. Dit maak nie saak nie. Ek is gewoond daaraan dat Lara die aantreklike, gewilde een is.”

Ouliker as dié enetjie? wonder hy. Dan laat die twee sussies die manne seker toustaan oral waar hulle gaan. Maar om die een of ander rede het die blondinetjie blykbaar ’n kompleks oor haar voorkoms. Hy kan nie dink hoekom nie. Maar hy kry die gevoel dit het dalk iets met hóm te doen. Iewers het hy iets verkeerds gesê of gedoen om haar te na te kom. Sy het haar opgeruk sonder dat hy weet waaroor, of hoe om haar weer goed te kry.

“So jy is Erina?” maak hy seker. Om oor en weer name te wissel is neutraal. Dit kan nie skade doen nie en bure moet mekaar tog die een of ander tyd ontmoet. “Erina Erasmus, die kunsonderwyseres?”

Sy knik kortaf.

“Ek is Francois van Schalkwyk. Aangename kennis.” Hy leun nader en steek sy hand uit.

Asof hierdie ’n sosiale kuiertjie is … Dink hy dis sommer vir die lekker dat sy met klere en al soos ’n kabeljou hier in sy swembad rondswem? Erin raak haastig. Dit word laat en sy moet nog haar hare droogblaas en haar naels verf. Sy wil uitklim en by die huis in ’n spieël gaan kyk wat die skade aan haar kop is. Sy wil nie die man se hand vat nie, wil nie enige fisieke kontak met hom hê nie. Netnou bloos sy weer soos een van die graadagt-meisietjies in haar klas.

“Ek het gister ingetrek,” gesels hy.

Dink hy sy weet dit nie? Net ’n stiksiende sou die meubellorrie kon miskyk. Sy is nie die kuiertipe nie en hoop nie hy is die soort wat tydig en ontydig oor die draad ’n praatjie wil aanknoop nie. Hopelik het hy ’n kwaai vrou wat gou ’n stokkie daarvoor sal steek.

’n Ligte bries dwarrel om die hoek van die huis en maak rimpelings oor die wateroppervlak. Dit trek haar aandag, en skielik merk Erin ’n weerkaatsing van haarself. Eers dink sy dis die flits van die son wat haar verblind of die lig wat verkeerd val. Maar toe sy haar kop draai, bly die beeld dieselfde. ’n Flikkerende prentjie van ’n verrimpelde gesig, aan weerskante omraam deur ’n wit sluier – soos ’n non se gewaad. Dit duur ’n oomblik om te besef dis haar hare. Spierwit, soos in ’n sneeustorm. En sy lyk honderd jaar oud! Soos moeder Teresa …

Erin hoor Francois van Schalkwyk weer iets kwytraak, iets van Randburg se groenigheid en groot erwe wat hom gelok het, maar sy registreer net hier en daar ’n woord. Dis natuurlik as gevolg van al die chemikalieë. G’n wonder alles aan haar het gejeuk en gekriewel nie … Dis ’n katastrofe! Hoe kan sy vanaand uitgaan en só saam met Jans by sy werksfunksie opdaag? Maandag gaan skoolhou? Met hierdie gelaat en hare saamleef, en haar gesig in die openbaar wys?

Haar oë soek weer na die weerkaatsing. Hierdie keer lyk haar beeld selfs erger as tevore. ’n Mond wat verskrik oophang, en puisies en pokke tussen die plooie deur … Sy swaai om na die man op die plaveisel.

“Dis alles jou skuld!” vaar sy uit. “Jy en jou ellendige graaf! Vir wat kyk jy nie wat jy doen nie en spit die flippen pyp vol gate? Wat was in elk geval so dringend dat jy in die tuin moes werk? Pleks dat jy liewer jou bokse uitgepak het! Dis wat normale mense doen wat pas ingetrek het.”

Francois se mond hang oop. Hy was besig om ewe rustig oor Randburg se groenigheid uit te wei, oor die kliprante en mooi uitsig wat hom aan Swellendam herinner. Niks daarvan kon aanvegbaar genoeg gewees het om so ’n tirade te veroorsaak nie.

“Ek wou ’n gat grawe vir ’n varing wat ek present gekry het,” verduidelik hy. “Dis ’n stuk wortelknol in ’n plastieksak, met min grond. Ek was bang die ou vrek.”

“Jy en jou simpel varing het my hele toekoms geruïneer!” vaar sy uit. “Kyk hoe lyk ek … Dis jóú skuld dat ek van die horlosie vergeet het. Dié is seker ook nou in sy peetjie in, sekerlik nie waterdig nie.”

Dis alles vir hom Grieks. Waaroor is die blondie so kwaad? Hy het gedink die meisiekind lyk besonder aanloklik, so met die kaal voete en nat kurwes … Hy kan nie verstaan waaroor die oorlog gaan nie.

“Ek sal vir jou ’n nuwe horlosie koop,” probeer hy haar paai. Ook dít is nie goed nie.

“ ’n Flippen horlosie is die minste van my probleme,” sê sy. “Pleks dat jy eerder vir my ’n pruik koop! En vir ’n facelift betaal.”

Hy het steeds nie ’n benul waarvan sy praat nie. “Pruik?”

Erin wys na haar kop. “Om dié gemors weg te steek.”

Die frons tussen sy wenkbroue verdiep. “Wat bedoel jy? Watse gemors?”

Sy lig ’n haarsliert en druk dit onder sy neus in. “Dié goed, wat soos ’n Jik-advertensie lyk.”

“Dis mooi so wit …” Hy kry skielik inspirasie uit sy kinderdae. “Jy lyk soos Sneeuwitjie.”

Sneeuwítjie? Erin uiter ’n onelegante snork. Sy idee van ’n grap? Sy skewe sin vir humor is nou die laaste strooi. Sy gee nie meer om hoe sy lyk nie – of haar klouende top haar hele pedigree en toekoms wys nie. Al wat sy wil doen, is wegkom, so vinnig as wat sy kan. Erin beur na die vlakste deel en klim die trappies twee-twee uit. Op die patio vuur sy ’n laaste salvo af:

“Gaan spit nou maar soveel gate as wat jy wil! Bars al die pype, breek die plek af … Wat gee ek om!”

Francois se belangstelling is geprikkel. Hy is gefassineer deur die vurige witkop en sal Erina Erasmus bitter graag beter wil leer ken. Hulle gaan dalk nog jare langs mekaar woon en hy wil haar nie op so ’n negatiewe noot laat gaan nie.

“Wag!” roep hy. “Laat ek vir jou ’n handdoek kry.”

“Ek het my eie handdoeke, dankie,” antwoord sy kil, beur ’n pad oop tussen die ligusters deur en klouter oor die heining.

“Watse pruik-storie is dit?” roep hy oplaas. Maar hy praat met homself. Sy is weg. Die laaste wat hy hoor, is ’n deur wat amper uit sy skarniere uit toegeklap word.

Sterre is vir ewig

Подняться наверх