Читать книгу Sterre is vir ewig - Ettie Bierman - Страница 4

2

Оглавление

Erin sidder toe sy voor haar slaapkamerspieël tot stilstand stoom. Dis erger as wat sy gedink het. Witter as spierwit. Soos watte. En dan lag die skepsel langsaan boonop vir haar. Dink dis ’n grap, spot met haar … Volgende keer as hy weer ’n bevlieging kry om te spit, hoop sy hy spit sy voet middeldeur!

Sy draai ’n handdoek soos ’n tulband om haar kop, trek droë klere aan en bel vir Jans om hul afspraak te kanselleer. Sy kan beslis nie só by ’n deftige geleentheid opdaag nie en dis buitendien nou al so laat, sy sou nie betyds klaargekry het nie. Hy sal maar alleen moet lag vir die hoofbestuurder se grappe, of dalk kan hy een van die beleggingskonsultante saamnooi. Jans gaan vies wees, maar daaraan kan sy niks doen nie. Dalk is hy vies genoeg om die dom buurman ’n opstopper te gaan gee. Sal dit nie gaaf wees as meneer Van Schalkwyk heelweek met ’n blouoog loop nie?

Daar is nie antwoord op Jans se selfoon nie, net ’n blikstem wat sê: “The subscriber you have dialled is not available.” Erin se bloeddruk stoot verder op en sy laat ’n boodskap dat sy ’n krisis het, dat Jans haar dringend moet terugbel.

Sy is besig om vogroom aan haar gesig te smeer toe hul Rottweiler inslenter en hom op die bed tuismaak. Dis Lara wat hom so bederf het … As babahondjie was hy ’n dierbare, snoesige bondeltjie wat snags teen haar kopkussing geslaap het. Nou is hy so groot soos ’n kalf, maar Lara het nie die hart om hom af te jaag en buite te laat slaap nie.

“ ’n Waghond hoort binne, by ons,” is haar verweer. “Wat baat dit hy is buite terwyl die skelms ons binnekant aanval?”

Ook maar goed die snoesige bondeltjie wat Lara by een van haar stringe kêrels present gekry het, was nie ’n babakameelperd nie, het haar ousus destyds gedink en nie te veel teëgestribbel nie. Sy is ook lief vir diere. Omdat sy veel meer by die huis is as haar kleinsus, het sy die hond nou geërf. Hy het haar beskermer geword, haar geselsmaat en haar klankbord.

“Wat nou, Weiler?” wil sy van die swart kolos weet. “Moet ek maar drastiese skadebeheer toepas en die watte kort teen my kop afskeer?”

Vir Weiler lyk sy niks anders as gister nie. Hy het heeldag die huis opgepas en laat sy kop op sy voorpote sak.

“En dan ’n pruik koop en die rekening vir die popgesig-buurman stuur?”

Weiler sug in simpatie.

“Nou het ek ’n hele oop aand, wat ek nie weet wat om mee te maak nie,” kla Erin. “Ek’s nie lus vir lees of televisie kyk nie, en daar’s niemand vir wie ek kan gaan bad en my mooimaak nie. Wat doen ek nou?”

Weiler weet nie, weet net wat hý gaan doen. Hy strek sy volle vyftig kilogram behaaglik uit en slaap.

“Dis so ’n antiklimaks om op ’n Saterdagaand alleen by die huis te sit. Ek wens Lara was hier. Sy weet altyd hoe om mens op te kikker. Maar hulle het een of ander jol op kampus, sy kom eers weer volgende naweek.”

Weiler het vrede met Lara. Hy verkies hierdie ander nooi van hom, wat nie net drukkies en soentjies gee nie, maar ook ’n gereelde bak kos.

Erin gaan maak vir haar tee. Ouma Trynie het altyd geglo tee help vir als. Vir wanneer sy na haar ma verlang, deurnag vir ’n semestertoets moes swot of nie geweet het waar sy geld gaan uitkrap vir haar sus se universiteitsfooie nie. Genadiglik is die huis afbetaal, maar nadat die agterstallige skuld van haar pa se makelaarsbesigheid gedelg is, was die boedel bankrot. Hoewel hy studiepolisse vir albei sy dogters uitgeneem het, het inflasie soveel van die uitkeerbedrag weggekalwe dat Erin Lara se registrasie en koshuisgeld uit haar eie sak moes bybring.

Lara is nou maar eerstejaar. Al het sy ’n studiebeurs, wag daar nog minstens twee maer jare voordat Erin aan haarself en haar eie toekoms kan dink. Haar droom is steeds die agterste aangrensende erf wat braak lê, wat sy oor twee jaar wil koop om ’n pottebakkersateljee te bou. Sy het ’n permanente onderwyspos en sal vir ’n huissubsidie kwalifiseer. Intussen kan sy maar net al tien duime vashou en baie hard bid dat die grond oor twee jaar nog in die mark sal wees. Volgens die eiendomsagent is dit deel van ’n boedel: ouers is oorlede en die kinders het Noorweë toe geëmigreer. So hopelik sloer die kaart-en-transportaktes nog lank genoeg sodat sy vir ’n deposito kan spaar.

Erin se gedagtes loop ver paaie. Sy sit by die kombuistafel met ’n stuk anysbeskuit en ’n tweede beker tee toe Weiler blaf en voordeur toe hardloop. Terselfdertyd hoor sy ’n motordeur klap. Die hond se stert swaai, so dis ’n bekende …

Dis Jans, uitgevat in ’n donker pak en ’n nuwe vlootblou das. En ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig toe hy haar huisdra-langbroek en T-hemp sien.

“En nou, bokkie? Hoekom is jy nog nie aangetrek nie?” wil hy weet.

“Het jy dan nie my boodskap gekry nie?”

“Watter boodskap?”

“Die een wat ek op jou selfoon gelos het.”

“Ek was by ’n kliënt, my foon was af. Het jy van die funksie vergeet?”

Sy skud haar kop, draai die tulband los en laat die wit sluier die storie vertel, saam met haar ontstoke byvoegings. Tot haar verstomming is Jans heel rustig. Hy loer bo-oor sy bril, stap om haar en beoordeel die vlaswit haredos vanuit alle rigtings. Dan knik hy goedkeurend.

“Ek hou daarvan.”

“Jy hóú daarvan?”

“Die kleur pas jou.”

“Jy kort ’n nuwe bril!”

“Nee, regtig, jy lyk goed, Errie. Heeltemal sexy, so ’n Lady Gaga-blonde …”

“Dis jý wat gaga is,” skiet sy hom onomwonde af.

“Jy gooi onnodige vloermoere. Dis jammer daar’s nou nie tyd om jou op te dollie nie, want jy kon só gegaan het en al die manne se oë laat uitpeul het.”

Erin ruk haar op.

“Dis nie my ambisie in die lewe om mans se oë te laat uitpeul nie.”

“Jy mis al die lekker. Het jy nie geweet blondines het meer pret in die lewe nie?”

“Hoe weet jy, met jou bruin hare?”

“Die gesegde lui: Donkerkoppe gaan hemel toe, blondines gaan net waar hulle wil.”

Erin weier om te lag. “Wat van my honderdjarige gesig?”

Jans soen haar op die punt van haar neus. “Jy lyk net soos gister en eergister.”

“Bedoel jy ek was toe ook vol plooie en rimpels?”

“Daar skort iets met jou oë, skattebol, niks met jou gesig nie.”

“Jy probeer my breinspoel, net omdat jy nie lus is om die buurman ’n opstopper te gaan gee nie.”

“Korrek,” erken hy. “Ek wil nie hê die bloed moet op my nuwe das spat nie.”

“ ’n Blouoog bloei nie. Hy’s ’n aaklige, voorbarige kluit wat verdien om reggesien te word.”

“Annerdag …” belowe Jans.

“Hy het my beledig en te na gekom. Jy is veronderstel om my eer te verdedig.”

“Ek sal, vuriglik, met vuiste en swaarde indien nodig. Maar jy sit verniet ’n drama queen act op. Jou hare en gesig lyk piekfyn.”

Erin vervies haar en wys ’n vinger na die deur toe.

“Jy gaan laat wees. Loop!” beveel sy. “Gaan lag vir jou hoofbestuurder se vaal grappe, sodat jy bevordering kan kry.”

“Dis nie lekker om alleen vir vaal grappe te lag nie. Miskien annekseer ek een van die beleggingskonsultante om my geselskap te hou.”

“Wie?”

“Ek sal nog besluit,” grinnik hy op pad voordeur toe.

“Watter een?” dring sy aan.

Hy knipoog en blaas vir haar ’n soentjie. “Lekker aand! Sien jou gou …”

Was hy ernstig? wonder Erin, terwyl sy Jans se motor agternakyk. Dis sommer praat, hy sal nie regtig ’n konsultant annekseer nie. Of sal hy? Sy is verbaas oor die onverwagte jaloerse steek in haar binneste. Dit was wat sy wou voorstel, maar toe Jans dit aanroer, is sy opeens besitlik. Jans is háre. Haar pel. Haar kleintydse boesemvriend. Hy noem haar bokkie en skattebol en dingetjie, allerlei troetelname. Hulle is al ’n leeftyd saam. Hy kan nie nou ’n ander meisie in haar plek stel nie.

Wat sal Jans se reaksie wees as sy skielik een aand ’n vreemde ou saamnooi fliek toe? Sal hy ongeërg sy skouers optrek en sê sy moet die aand geniet? Of sal hy ook jaloers raak en wil weet “wie?” Wie is die ou en hoe lyk hy en sal hy hom gedra en haar in een stuk huis toe bring?

Is sy dan besitlik? vra Erin haar af. Hulle het geen beloftes aan mekaar gemaak nie en Jans skuld haar niks. Net ’n mate van lojaliteit omdat hulle saam grootgeword het en hul ma’s vriende was. Verder is hy sy eie baas, om te annekseer wie hy wil en saam te lag vir vaal grappe met wie hy wil. Selfs te soen wie hy wil …

Sy het die bank se konsultante almal al te siene gekry by vorige funksies en af en toe in die winkels raakgeloop. Almal mooier en jonger as sy, modieus en gesofistikeerd. Die soort waarvan Jans hou, pleks van ’n drama queen in jeans en tekkies? Jans is nie so sjokoladeboks-mooi soos die Kapenaar langsaan nie, maar nogal aantreklik in eie reg. Die standvastige tipe by wie ’n meisie veilig voel. Die soort man wat goeie troumateriaal is en wat jy sal kies om eendag die pa van jou kinders te wees.

Sy is dalk nie die enigste een wat so dink en Jans se goeie hoedanighede opgelet het nie. Die konsultante, tiksters en tellers wat daagliks saam met hom werk, het dalk lankal besef dié vrygesel-rekenmeester is ’n goeie vangs! Terwyl sy houtgerus sit en slaap en hom as vanselfsprekend aanvaar, is hulle dalk lankal besig om aas uit te gooi en hom in te katrol … Terwyl sy hom gehad het, het sy Jans nie waardeer nie. Maar noudat daar skielik ’n suggestie is dat sy hom kan verloor, besef Erin vir die eerste keer dat hy eintlik ’n baie spesiale ou is wat sy vir haarself wil hou.

Hy is so goed vir haar en altyd beskikbaar as sy hom nodig het om die strykyster reg te maak of ’n buislig te vervang, maar sy skeep hom af. Miskien moet sy hom weer een aand vir ete nooi: al die kos vooraf klaar hê en tyd inruim om ’n romantiese CD te speel, ’n glasie wyn te skink en naby hom op die bank te sit … En dan? Hoe verder? Sy sal nie weet hoe om bietjie met hom te speel en te flirt nie. Lara is goed daarmee; sy sal by haar kleinsus ’n paar wenke kry. Nie te blatant nie. Subtiel. Voel-voel … Figuurlik gesproke, natuurlik. Arme Jans skrik hom oor ’n mik as sy openlik toenadering soek.

Sy gooi dalk die lorrie om as sy uit die bloute by hom aanlê. Dit kan hul vriendskap skend as hy ongemaklik raak, as hy voel sy verf hom in ’n hoek waarin hy ontuis is, of dwing hom in ’n rigting waarin hy nie wil gaan nie. Jans se vriendskap is vir haar belangrik en sy wil nie ’n risiko loop om dit te verloor nie.

Erin skakel die televisie aan, maar demp die klank. Sal hy regtig skrik? gis sy. Wie sê Jans is nie veel meer ontvanklik as wat sy dink nie? Hy speel dalk entoesiasties saam, geniet die toenadering en vat oor. Wat maak sy dan? Raak skaam en skuif weg? Of bly sit en voer dit ’n stappie verder?

Nooit …! Sy sal die ene senuwees wees en nie weet hoe om te maak nie.

“Is dit die kruipende ouderdom wat jou ounooi so desperaat maak?” vra Erin, terwyl sy vir die hond kos uithaal. “Of daardie beeld van ’n buurman wat sulke vryerige gedagtes in my wakker maak?”

Die Rottweiler se kop beweeg op en af.

“Kyk jy op en af tussen die sak kos en jou bak, of beteken dit ja?”

Sy kop swaai heen weer, tussen Erin en die voordeur.

“Nee? Reken jy ek moet Jans vergeet en liewer vir die buurman flikkers gooi? Vir hóm ’n romantiese CD speel en styf teen hom op die bank sit?”

Weiler gee ’n blaf.

“Is dit ’n ‘ja’? En wat van sy vrou en kinders?”

“Hallo …? Met wie praat jy?” roep ’n stem vanaf die voordeur.

Die sak hondekos glip uit haar hand en Erin vlieg om. Dis ’n manstem. Nie Jans s’n nie. ’n Ander een wat sy ná vanmiddag enige plek sal herken …

“Ek het die klokkie gelui. Twee keer, maar jy’t nie gehoor nie. Het jy kuiermense of het jy met my gepraat?”

Haar kop het so geraas, sy het vergeet om die deur te sluit nadat Jans gery het. Van die sinsnedes wat sy gebruik het, weerklink in Erin se ore: “… die beeld van ’n buurman wat sulke vryerige gedagtes in my wakker maak … vir hóm flikkers gooi … ’n romantiese CD speel en styf teen hom op die bank sit …”

“Erina?” roep hy weer. “Die deur staan oop. Mag ek inkom?”

Sy probeer die hondepille wat gemors het bymekaar krap, maar haar vingers is dom en tas mis. “Wiessit?” vra sy. Asof sy nie weet nie …

“Francois van Schalkwyk. Jou buurman.”

Hoe ver dra ’n stem? probeer sy uitwerk. Is net die klank hoorbaar, of die woorde self? Dalk het sy sag en mompelend gepraat. Maar Erin weet sy het nie. As jy tien jaar al klas gee vir groepe van dertig tot veertig lawaaierige kinders wat meer belangstel in hul selfone as in Rembrandt en Van Gogh, raak jy in die gewoonte om jou stem te projekteer – die woorde hard en duidelik uit te spreek. Hoekom het Weiler nie ook duidelik verstaanbaar geblaf om haar te waarsku nie? Kastig ’n waghond. Maar wat help dit as mens nie verstaan wat hy sê nie?

“Erina …?” aarsel Francois toe die stilte lank rek. “Is jy daar? Kan ek maar inkom?”

Haar oë flits na die kaste. Nie een is groot genoeg om in weg te kruip nie. Of kan sy by die agterdeur uitvlug, tot in Australië?

“As jy wil …” Haar stem klink krakerig en sy druk ’n nat vadoek teen haar warm wange.

Toe hy in die kosyn verskyn, lyk hy twee keer so groot soos vanmiddag. Twee keer so mooi.

“Naand,” groet hy vriendelik.

“Hier was pas … iemand gewees,” hakkel sy. Selfs in haar eie ore klink dit onoortuigend. Erin tel ’n hand vol hondepille van die vloer af op en gebruik dit as ’n verskoning om hom nie in die gesig te kyk nie.

“Ja, ek het die motor in jou oprit gesien.”

Dan glo hy haar, dat sy kuiermense gehad het? En blykbaar kon hy nie mooi hoor nie. Erin blaas haar asem uit, ’n dankbare sug van verligting.

“Lyk my jou deurklokkie werk nie,” merk hy gewoonweg op, asof hy oom Bez is wat hom ’n leeftyd lank oor haar huis ontferm het. “Wil jy hê ek moet daarna kyk?”

“Na die klokkie?”

“Ja. Waarskynlik net die battery wat pap is. Ek het ’n spaar een wat sal pas. Sal ek hom gaan haal en insit?”

Erin ruk haar reg. “Dis nie nodig nie, dankie. Ek het ’n boks vol batterye. My kêrel kan ’n nuwe een insit.”

“Die ou met die BMW wat netnou hier was? Is hy jou kêrel?” vra hy belangstellend.

Erin knik. Voor sy haar kan keer, voeg sy by: “My aanstaande.”

Sy kan haarself skop. Jans ís nie eens haar kêrel nie, nie regtig of amptelik nie. Wat nog te sê haar aanstaande … Wat makeer haar? Hoekom vind sy dit nodig om kort-kort vir Francois van Schalkwyk te jok? Sy is heeltyd op die agtervoet, uit selfverdediging. Daardie sug van verligting netnou was optimisties. Hy het haar nie geglo nie. Hy het Jans se motor sien ry en weet hier was nie weer daarna mense by haar nie. Hy was maar net te beleefd om te stry, om reguit te sê sy lieg.

Erin probeer red wat te redde is en kyk hom waterpas in die oë. “Ek het netnou met die hond gepraat.”

“Die Rottweiler? Hy het vroeër vanaand kom inloer om met die nuwe intrekker kennis te maak. Besonder hoë IK, kon ek agterkom. Mens kan met hom lang gesprekke voer, hy verstaan elke woord.”

Erin kyk agterdogtig op in sy gesig. Dis sonder uitdrukking, tog is daar diep agter in sy blinkgrys oë ’n vonkeling. Lag hy vir haar?

“Ek is jammer as my hond lastig was,” sê sy styf. “Hy was daaraan gewoond om by oom Bez en tannie Martie te gaan kuier en hy verstaan nie dat daar nou ander mense in hulle huis woon nie.”

Francois streel oor Weiler se breë kop en vryf sy ore. “Hy was nie lastig nie, ons het dadelik vrinne gemaak. Ek is lief vir diere. Ek het ’n kat.”

Erin antwoord nie. Wat het hy hier kom maak? Die man bring haar oorhoeks van koers af, laat iets in haar roer wat sy nie geroer wil hê nie. Sy wens hy wil loop, voor sy weer goeters sê wat sy nie moes nie en agterna spyt is.

Sy oë gaan na haar hare. “Het jy al vrede gemaak met die kleur?”

“Nee.”

Dit lyk nie of haar bot reaksie hom afskrik nie. “Wat dink jou aanstaande van jou nuwe voorkoms?”

Wat het Jans se mening met hom te doen? Erin wil nie vir Jans met hom bespreek nie, wil nie met Francois van Schalkwyk gesels of hom in haar huis hê nie.

“Ek is besig,” sê sy kortaf. “Het jy ’n koppie suiker of meel kom leen, of wat?”

“Nee.” Sy mondhoek trek op in ’n skewe glimlag. “Ek kom niks leen nie. Ek kom in vrede … As ek geweet het in watter boks die linnegoed gepak is, het ek ’n tafeldoek uitgegrawe om as ’n wit vlag te gebruik. Dit hinder my dat ons as bure op ’n verkeerde voet weggespring het. Ek is jammer ek het jou watermeter toegedraai wat veroorsaak het dat jy die horlosie vergeet het, jou tuin verspoel het en as gevolg van my dommigheid op ’n Saterdagaand alleen tuis sit. Was jou aanstaande kwaad vir jou?”

“Nee.”

“Hoekom het hy dan gery en jou alleen gelos?”

“Sommer.”

“Was dit vir ’n belangrike afspraak saam met hom dat jy jouself wou mooimaak?”

Erin raak ongeduldig. Wat karring die man so, erger as ’n kurktrekker? Het hy niks beters om te doen nie?

“Ek neem aan julle sou gaan uiteet het – êrens deftig, met romantiese kerslig en musiek. Nou is jy dit kwyt as gevolg van my. Ek ken nog nie die omgewing nie, maar toe ek laas hier was om blyplek te soek, het ek ’n oulike restaurant in die deurloop gesien. Fernando’s. Hulle het miskien nie kreef en kaviaar nie, maar kan ek vir jou ’n steak gaan koop, en ’n lekker bottel wyn, om te vergoed?”

“Nee dankie.”

“Hoekom nie?”

Sy sê die eerste ding wat in haar kop kom. “Ek het te veel werk.”

Hy lyk verbaas. “Wérk?”

“Nasienwerk.”

Die halfmane van sy wenkbroue lig hoër. “Op ’n Saterdagaand? Wat is so dringend? Kan dit nie wag vir blou Maandag nie?”

“Ongelukkig nie.” Toe hy aanhou skepties lyk, voel Erin gedwonge om te verduidelik. “Die puntelyste moet vroeg Maandag in wees – voor skool. Dis eksamenvraestelle, stapels daarvan, wat moet nagesien word.”

Vier onwaarhede in een asem … Haar swart boekie loop seker al oor. Erin is kwaad vir haarself en vir die situasie. Maar meestal vir die knaende, dikvellige Kapenaar. Endorfiene is goedvoelgoeters wat vrygestel word as jy gelukkig is, maar Francois van Schalkwyk het die teenoorgestelde uitwerking op haar – hy krap haar en haar hormone verkeerde kant om.

Sy strek haar tot haar volle lengte uit en gebruik haar intimiderende onderwyserstem. “Meneer Van Schalkwyk, lyk my jy verkeer onder ’n wanindruk. Miskien is Bolanders meer sosiaal en gewoond om gesellig met hul bure te verkeer. Dis prysenswaardig, en ek glo so ’n situasie hou voordele in. Maar hierdie is Gauteng, meneer Van Schalkwyk. Mense hier is professionele, beroepsgedrewe burgers in die vinnige baan. Dié situasie veroorsaak ’n minimum hoeveelheid tyd om saam met vriende deur te bring, en ’n totále gebrek aan tyd om bure se drumpels deur te trap.”

Hy klap hande toe Erin klaar is.

“Bravo, juffrou Erasmus! Nogal ’n mondvol wat jy daar kwytgeraak het! Goed genoeg vir ’n spreekbeurt in die parlement.”

Erin maak haar rug nog stywer. “Verstaan ons mekaar nou, meneer Van Schalkwyk?”

“Ja, juffrou,” antwoord hy gedienstig, met ’n silwer vonkeling in sy oë. “Maar ek belowe jy hoef nie ’n enkele tree oor my drumpel te stap nie. Ek sal jou buite op die sypaadjie oplaai.”

Sy oë meet hare en dis Erin wat eerste wegkyk, skielik weer haar rigting kwyt met haar brein vol saagsels. Sy vertrou haarself nie, sy’s bang sy sê sommer ja. Vir Fernando’s, vir steak, vir wyn … vir alles.

Aanval is die beste verweer. As teenmaatreël is Erin se stem skerper as wat sy bedoel het. “Meneer Van Schalkwyk, die woordjie ‘nee’ het net drie letters. Watter een van hulle verstaan jy nie? Ek wil nie opgelaai word nie, wil nie saam met jou gaan eet nie en wil nie met jou vriende wees nie.”

“Nie eens gewone, platoniese vriende nie?” Hy is skielik ernstig, sy oë sonder terg en sy mond onverwags weerloos. “Hoekom nie, Erina? Wat het jy teen my?” vra hy sag.

Sy haal haar skouers op en kyk anderpad.

“Ek is skadeloos, jy kan my vertrou. Ek weet jy het ’n kêrel en julle staan op trou. Ek sal nie by jou aanlê nie, sal nie ’n vínger op jou lê nie – nie eens om die bloed aan jou knieë af te vee as jy oor die trap val nie.”

Teen haar sin borrel die begin van ’n lag in haar keel op. Hoe kan mens vir so ’n ou kwaad bly? Erin voel hoe haar skanse begin verkrummel, hoe sy van binne af, van haar hart af, vermurwe. Hy moenie … só na haar kyk nie, met daardie smeltende oë en hartbrekende mond. Want dan wil sy nie meer baklei nie – nie met hom nie en ook nie teen haarself nie.

Francois merk die flikkering van onsekerheid in haar groot akwamaryn oë, let die hoë wangbene op, en die sprinkeling van goudkleurige sproete oor die parmantige wipneus. ’n Sterk, interessante gesig. Meer opvallend as prikkelpopmooi. Hy wil sy hand uitsteek en met sy vinger die buitelyne van haar gevoelige mond natrek … Besef die meisiekind hoe onweerstaanbaar sy is en watter uitwerking daardie sluimerende sensualiteit op ’n man het?

Hy erken dit, vanaand is ’n bietjie gou. Al voel dit hoe lank, het hy haar maar vanmiddag die eerste keer ontmoet. Dis logies dat sy voel sy word gestoomroller.

“Vanaand is kort kennisgewing,” gee hy toe. “Jy ken my skaars. Ek kan verstaan as jy sê jy is te besig, as jy my wantrou en van my ontslae wil raak. Maar wat van volgende naweek? Volgende Saterdagaand? Dis minder halsoorkop.”

“Ek kan nie, my suster kom huis toe.”

“Lara? Bring haar saam. As sy net die helfte so oulik soos haar ousus is, sal ek graag my ander buurvrou ook wil ontmoet.”

Skadeloos? En sy kan hom vertrou? Erin weet regtig nie of sy hom glo nie. Francois van Schalkwyk is te sjarmant, te vol vleitaal en gladde komplimente. Alles té … Te gaaf, te mooi, te goed om waar te wees. Tussen die wollerige saagsels in haar brein flikker rooi ligte. Ouma Trynie het altyd gewaarsku ’n mooi man en ’n man in ’n wit broek is nie te vertrou nie …

Die vent is ’n kansvatter, besluit Erin. ’n Don Juan en ’n rokjagter. Hy wéét hy is sexy, weet vroue val soos vlieë vir sy sjarme. Sy eie vrou is heel duidelik nie hier nie, anders het hy nie sommer die tweede dag al oor die heining geloer en flikkers gegooi vir die ongetroude buurvrou nie. Die vrou het natuurlik in die Kaap agtergebly, saam met die kinders wat eers hul skoolkwartaal moet klaarmaak voordat hulle trek. Hy is alleen en ken nie meisies in die stad nie. Al wat hy soek, is afleiding, ’n ligte flirtasie om hom te amuseer totdat sy gesin arriveer.

Oom Bez het hom natuurlik vertel langsaan woon ’n oujongnooi-onderwyseres – gefrustreerd en uitgehonger vir mansgeselskap. ’n Gulde kans op ’n skinkbord, dié dat hy so seker van sy saak is. Klim oor die heining, stap sommer by die voordeur in en vat ’n kans. En sy het ewe naïef saamgespeel: duik in sy swembad en swem daar rond soos ’n meermin in styfpassende, klouende klere. Los die voordeur uitnodigend oop … Selfs die hond speel saam – gaan kuier en maak namens sy nooi dik vrinne!

Sy het hom amper geglo. Amper vir hom geval, voete eerste, soos ’n sak ertappels. Sy is onkant gevang, en nou moet sy verhoed dat dieselfde met arme Lara gebeur. Dis haar plig om soos ’n ma na haar sussie om te sien en haar teen kansvatters soos hierdie een te beskerm.

Erin staan ’n entjie tru tot teen die yskas, asof afstand tussen haar en haar buurman meer veiligheid bied.

“Nie ek of my suster is beskikbaar nie,” sê sy ferm. “Dankie vir die ete-aanbod, maar dis nie nodig nie. As Lara ’n biefstuk wil hê, sal ék vir haar een koop. Ons het nie jou oorywerige buurmanskap nodig nie.”

Francois sug en vryf oor die frons op Weiler se voorkop. “Ja, ou grote, ek verstaan ook nie hoekom jou nooi doringdraad uitrol as ek naby kom nie. Lyk of sy my motiewe bevraagteken … Nou is jy jou sappige T-been ook kwyt. Ek bied vir haar kos en wyn aan en sy gee my ’n spiets oor beroepsgedrewe stedelinge wat nie tyd het vir kletspraatjies met lastige bure nie. Dan bly daar vir my niks oor nie, behalwe om maar huis toe te gaan en op een van die bokse te gaan sit met ’n glas water, om die honger en gister se oorskietpadkos mee af te sluk.”

Uit simpatie gee Weiler hom ’n lek, maar sy nooi bly hardvogtig. Francois van Schalkwyk oordryf, om simpatie te soek. Daar is seker berge bokse, soos met enige trek, maar meubels ook – stoele en banke om op te sit. En as hy honger is, kan hy mos vir hom kos gaan koop. Daar is ’n supermark en wegneemplekke net om die draai.

“Dan gaan ek maar …” sug hy.

“Reg so.” Erin verhard haar hart. “Tot siens.”

Sterre is vir ewig

Подняться наверх