Читать книгу Sterre is vir ewig - Ettie Bierman - Страница 5

3

Оглавление

Eers Sondagoggend het Erin die moed om op die stoeltjie voor haar spieëlkas te gaan sit en behoorlik bestekopname te doen. Dis steeds soos ’n vreemdeling wat met groot oë na haar terugstaar. Maar ’n vreemdeling wat nogal nie te onaardig daar uitsien nie. Die skade is minder erg as wat sy verwag het. Haar hare is nie meer bros en grasserig nie. Dis sag. Syerig … Seker ’n opknapmiddel in die kleurstof gewees. In die helder lig en by nadere inspeksie is haar gesig glad nie so vol plooie soos in die swembad se rimpeling nie. Dalk het sy bietjie oorboord gegaan en onnodig haar top geblaas. Maar dit was daardie knaende man langsaan se skuld. Gewoonlik is sy sag en inskiklik. Dis hy wat haar in die heks van Endor verander het.

Erin is egter steeds sku om Maandag so skool toe te gaan. Wat as almal vir haar lag, en sê sy’s mutton dressed as lamb en dit lyk of ’n bottel Jik op haar kop omgeval het?

Maar Maandagoggend, tydens eerste pouse in die personeelkamer, word haar oorblywende vrese hokgeslaan. Haar kollegas is in vervoering en selfs haar vaderlike hoof het ’n kompliment.

“Aitsa, juffie, jy laat my wens ek is weer ’n hupse twintig!”

Erin soek die verste hoekie op met haar koppie tee. “Meneer vlei my sommer …”

Haar vriendin die huishoudkunde-onderwyseres, Rinda, kom langs haar sit.

“Hy’s reg. Ek weet nie waaroor jy so aangaan nie, jou hare lyk g’n soos sneeu of watte nie. Die kleur is vlas.”

“Vlas of gras? Wat’s die verskil?”

“Kyk in jou woordeboek. ‘Vlas’ is ‘ligblond’ – ’n modeskakering wat tans die ‘in’-kleur is.”

“Inkleur is vir kinders,” maak Erin dit ligweg af.

Rinda klik haar tong.

“Jy’s soos ’n hardkoppige kind, taaier as daardie toffies wat jy so graag kou, om veranderinge te waag. As jy nie van die horlosie vergeet het nie, het jy seker weer geëindig met ‘mediumblond’. Wat vir ’n kleur is dit? Nie vis of vlees nie, vaal en vervelig. Klim uit die kas en maak nou klaar wat jy begin het: Laat sny dit in ’n nuwe, moderne styl.”

“Ek het nie geld vir haarkappers nie,” skerm Erin.

“Altyd jou verskonings: Nie geld nie, nie tyd nie, te besig …”

“Ek het baie onkostes.”

Rinda sit haar koppie met ’n klikgeluid in die piering neer.

“Ek weet, ja … Lara en die erf waarop jy die ateljee wil bou, inflasie en belastings, droogtes en siektes, kwinte en kwale … En intussen gaan die lewe by jou verby terwyl jy vaal en vervelig is. Medium terwyl jy tops kan wees! Jy’s met hordes bates geseën. Dis tyd dat jy onder die maatemmer uitklim en met daai bates begin woeker.”

Erin is gewoond aan Rinda Mouton wat ’n uitgesproke mening oor alles het en dit nie in watte toedraai nie. ’n Gawe vriendin, maar soms uitputtend.

“As ek ’n gesig soos joune gehad het, Erin, het ek dit verseker,” gaan sy voort. “Daarby besit jy die twee essensiële B’s: boesem en bene. Haal hulle onder die emmer uit en wys wat jy het! Jou klere lyk als drie nommers te groot en of jy dit by die kerkbasaar gekoop het. Laat die halse sak, werk die nate in en knip die some af bokant jou knieë. Jy is so kuis en konserwatief, ek wonder of ’n man al ooit jou kniekoppe te sien gekry het. Seker nie eens daardie rekenmeester van jou nie. Of het jy hóm darem al toegelaat om aan jou been te vat?”

Erin bloos bloedrooi. “Ons het nie … daardie soort verhouding nie.”

“Dis nie doodsonde nie. Seks is gemaak om te geniet. Daarsonder sou die wêreld ophou draai het en niemand se hart tjoklits gepomp het nie. Jy moet dit een of ander tyd probeer. Dis lekkerder as toffies en Cremora-tert.”

“Rinda …!” Erin druk haar neus in haar teekoppie. “Praat sagter, netnou hoor die mans.”

“Ek’s ernstig, Erin.” Rinda kyk nuuskierig na haar. “Wil jy nie eendag ’n man en kinders hê nie?”

Erin is verleë, haar wange steeds pienk. “Ja, seker, soos enige normale vrou …”

“Babatjies val nie uit die lug uit nie. ’n Mens moet weet hoe … Jy het nie ’n ma gehad wat jou dié dinge vertel het nie en jou ouma was sweerlik die Victoriaanse soort wat met haar bloomers en borstrok aan gebad het. Miskien moet jy vir jou dokter Jan van Elfen se boek koop, Wat meisies wil weet.”

Die klok maak genadiglik ’n einde aan Erin se ongemak. G’n wonder Rinda en haar man het vyf kinders nie … Erin kuier af en toe by hulle. Ná die tyd is haar ore toegeslaan van die lawaai, haar handsak weke lank nog vol taai vingermerke en haar selfoon nooit weer dieselfde nie. Maar ná die kuiers, wanneer sy die aand by haar eie huis instap, is sy dikwels weemoedig … Leeg. Vol van ’n gemis, asof ’n inbreker gekom en al haar meubels en gordyne gesteel het. Net ’n leemte waarin haar voetstappe deur die stil kamers eggo.

Sy is lief vir kinders – dis waarom sy onnie geword het. Natuurlik wil sy eendag haar eie hê. Nie vyf wat sommerso op genade in die strate en by huishulpe grootword nie. So twee of drie … Dis deels waarom sy ’n pottebakkersateljee wil hê – sodat sy eendag van die huis af kan werk, veral terwyl die kinders nog klein is. Maar vóór dit moet mens seker ’n kêrel en … daardie soort verhouding hê.

Haar suster verkies die kleiner outjies en swot kindertuinonderwys. Die erf hier agter is groot … Daar’s genoeg plek vir ’n kleuterskool ook, as Lara dalk sou belangstel. Dit sal gaaf wees as sy en Lara bedags saam kan werk, sodat sy steeds ’n oog kan hou oor daardie loskop sussie van haar. Hulle twee lyk eenders, maar verskil hemelsbreed. Dis waarom sy so beskermend teenoor Lara is: omdat sy weet hoe impulsief die meisiekind is, en hoe maklik sy daardie blonde krulkop van haar stamp.

Woensdae bied Erin naskoolse houtsneeklasse aan. Toe sy laatmiddag, moeg en warm, by haar oprit indraai, begroet ’n verrassing haar. Alle tekens van Saterdag se verspoelings is weg. Die modderige baksteenplaveisel is skoongespuit en die agapantebeddings netjies gehark, met hier en daar selfs ’n paar plante wat vrolik blom. En op die punt van die bedding naaste aan die voordeur is ’n riet ingedruk waaraan ’n wit lap wapper. Francois van Schalkwyk se vredesvlag …

“Het hy hulp gehad of self alles opgeruim?” wil sy van Weiler weet. “Verwag hy ek moet gaan dankie sê?”

Weiler gee ’n kort blaf en punt sy neus na die plek in die heining waar die buurman Sondag oorgeklim het. Dis ’n duidelike antwoord, maar Erin skud haar kop.

“Dit was niks meer as sy plig gewees nie, ’n dankie is onnodig.”

Erin gaan die huis in, trek koeler aan en maak vir haar tee. Sy sit ’n kastrolletjie maalvleis aan die kook, met ’n ertappel en ’n hand vol ertjies, om saam met gisteraand se oorskietrys te eet. Die naweek, wanneer Lara hier is, sal sy meer moeite doen en groot kook; poeding maak en ’n sjokoladekoek bak, al kla Lara soos gewoonlik weer dat sy op ’n dieet is. Rietskraal, maar altyd ’n obsessie met kilojoules.

Erin gaan sit by haar lessenaar met ’n rooi pen en ’n stapel nasienwerk, maar haar aandag dwaal kort-kort na die huis langsaan, wat hier en daar tussen oom Bez se geelhoutbome sigbaar is. Vroeër het sy haar getroos hy is by sy kantoor, dit baat nie om te gaan klop en dankie te sê nie. Maar nou skyn daar lig in die sitkamer …

Daardie agapante wat blom, pla haar. Hulle is geiler as die ander en die blare ’n donkerder groen. En waar kom die blomme so skielik vandaan? Plek-plek selfs ’n witte tussen die bloues, iets wat nog nooit voorheen gebeur het nie. Sy sou opgelet het indien knoppe besig was om te vorm, want sy sny graag ’n bos en rangskik hulle in ’n koperpot om as stillewe te dien in haar kunsklas.

Dis nuwe agapante, daardie wittes. Nuut gekoop deur die buurman om dié wat verspoel het te vervang. Hy het natuurlik nie geweet hare is deurgaans blou nie.

Dit verander die situasie – laat haar skuldig voel en haar goeie maniere onthou. Sy behoort darem seker dankie te sê. Maar sy gaan nie aan die voordeur klop, van aangesig tot aangesig nie. Dis jammer sy het nie sy selnommer nie, dan kon sy gou gebel het, of beter nog, ’n kort SMS gestuur het.

Erin sien nog ’n paar antwoordstelle oor die lewe en werke van Leonardo da Vinci na, dan sit sy haar rooi pen neer. Sy gaan haal ’n flitslig, loop na die agapantebedding en trek die riet met die vlag uit. Dan gaan haal sy ’n krammasjien en ’n vel papier met “DANKIE” in groot letters daarop geskryf. Sy vervang die wit vlag daarmee en plant die riet anderkant die heining – so ver as wat sy kan bykom, sonder om neus eerste oor die draad te val. Die buurman sal dit wel die een of ander tyd sien, en daarmee is haar plig afgehandel, sonder persoonlike konfrontasie.

Erin het ’n ringlêer vol “Randrekker”-resepte wat sy uit tydskrifte geknip het, en Donderdag al begin sy dit deurblaai. Sy hou van kosmaak en bederf haar kleinsus graag wanneer sy naweke huis toe kom. Gevulde pannekoeke is Lara se gunsteling. Nogal ’n beslommernis, maar Erin gee nie om nie. Om tyd te spaar, kan sy nou solank die hoender kook en vanaand al die pannekoeke bak.

Toe Vrydag aankom, het Erin egter oorgenoeg tyd. Haar suster is laat. Lara se laaste klas eindig drieuur, dan is dit net tas in die bagasiebak gooi en die pad vat. Van Pretoria na Randburg is ’n uur se ry op die snelweg. Bietjie langer teen die einde van die maand, of as die verkeer besonder druk is. Maar Erin het al die witsous en fyngekerfde hoender op die pannekoeke geskep en dit opgerol, kaas bo-oor gerasper, slaai gemaak en tafel gedek sonder enige teken van haar suster.

Lara terg altyd Erin is erger as tien broeis kalkoene, maar toe dit na twee ure toe rek, bel Erin om te hoor of iets verkeerd is. Lara se selfoon lui en lui net. Dit op sigself is vreemd. Met ’n string kêrels op sleeptou wat tydig en ontydig bel, is haar selfoon soos ’n verlengstuk van haarself. Nooit afgeskakel nie en nooit verder weg as ’n vingerlengte nie, anders toon sy simptome van skeidingsangs. Ingeval Lara op daardie tydstip dalk onder in ’n laagte met swak ontvangs was, bel Erin tien minute later weer. Daar is steeds nie antwoord nie.

Die karretjie waarmee Lara ry, was saam met Jan van Riebeeck op die Drommedaris – haar ousus se geërfde ryding van destyds toe sy self ook ’n eerstejaar op universiteit was. Die passasiersdeur kan nie oop nie, die enjinkap kan nie heeltemal toe nie en die spoedmeter werk eintlik glad nie. Dalk het die remme ingegee of die stuurwiel afgebreek … Erin se ryk verbeelding sien al prentjies van die Golfie wat wiele in die lug onder in ’n sloot lê toe die Rottweiler opspring en sy ore spits. ’n Hartklop later hoor Erin die bekende, aamborstige dreuning in die oprit.

Sy storm uit en gooi haar arms in ’n smoorgreep om Lara se nek.

“Waar was jy? Ek was op die punt om al die polisie-stasies en hospitale te bel!”

“Hallo vir jou ook,” spot Lara. “Goed, dankie, en hoe gaan dit met jou?”

“Beter nou, noudat jy uiteindelik hier is.”

“Ek het my morsdood verlang!”

“Ek ook, natuurlik.” Erin gee haar ’n laaste druk voordat sy verder raas: “Hoekom antwoord jy nie jou foon nie? Ek was al amper op kalmeerpille van bekommernis.”

“Die dekselse battery is pap en ek het vergeet om my laaier in te pak.”

“Hy het nie pap geklink nie … Hy’t gelui en gelui en jy’t nie geantwoord nie.”

Lara is geamuseer. “Hoe klink ’n ‘pap’ lui? Is jy besig om ’n dom dag te hê, sussa?”

Erin lag ook, skaam-verleë. “Jy ken my … Ek verwag altyd die ergste. Hoekom is jy so laat?”

Lara vergeet van fone en laaiers, vergeet haar tas en amper haar eie naam. Haar oë skitter soos twee saffiere en sy trek haar asem diep in, blaas dit stadig uit en kondig dan met fanfare aan: “Omdat ek my trouman ontmoet het!”

“Jou wát?”

“My. Trou. Man,” herhaal Lara met nadruk. “Die mees awesome, fabulous hunk op aarde. Lewenslange bene en skouers so breed soos die Vaalrivier. Oë soos gesmelte kwik en –”

“Hokaai!” keer Erin. “Los die byvoeglike naamwoorde en praat gewone Afrikaans. Wie is hierdie superheld van jou?”

Lara haal haar tas uit, asook ’n plastieksak vol vuil wasgoed en ’n pizzaboks, wat sy aan haar suster oorhandig.

“Deel van my kelnerinloon gisteraand – ’n Maxi Four Seasons, met ekstra ham. Bêre hom in die vrieskas, dit spaar jou ’n kosmaak.” Sy loop vooruit die huis in, plons op haar bed neer en staar droomverlore na die plafon. “Ek oordryf nie, sussa. Hy is ’n lieflike ding, in die hemel gemaak! So ’n hunk laat jy nie ontsnap nie. Jy kry hom voor die preekstoel, met ’n strop om sy nek.”

“Wie is hy? Het Superman ’n naam?”

“Ek was so uitgefreak, ek het vergeet om te vra. Hy lyk of hy uit Hollywood kom … Dalk is dit Brad Pitt wat ’n fliek hier kom maak … behalwe dat hy Afrikaans praat. Wel met ’n half snaakse aksent, maar ek glo nie hy’s ’n Yank nie.”

Erin rol haar oë dakwaarts. “Is hy ’n student?”

“Nee, hy’s nie ’n lawwe platkop student nie, hy’t lankal klaar geswot. Iets in ’n skeppende kunsrigting, skat ek. Beeldhou of musiek … Want hy’t die lieflikste hande. Groot en sterk en bruingebrand, asof hy rugby speel of baie buite werk – maar sensitief, met lang, slanke vingers. En hy hou my hart in die holte van daardie twee kunssinnige hande.”

Al daardie eienskappe in een ou is te goed om waar te wees. Iewers is ’n skroef los, som Erin hom op. Hy klink na ’n kansvatter, ’n meisiemorser, wat gaan maak dat haar sussie seerkry.

“Musiek?“ vra sy skepties. “Popmusiek? Rock?”

Lara is self verstom. “Nee, eerder Beethoven en Bach, sou ek raai. Jou soort musiek.”

Heeltemal te goed om waar te wees … Hierdie ou is plastiek, hy’s nie rêrig nie.

“Hoe oud is hierdie kastig perfekte eksemplaar?” vra Erin.

Lara dink na. “Ek raai so in sy vroeë dertigs … Hy het so ’n aura van outoriteit aan hom, asof hy baie geld en baie aansien het.”

Erin knoop die plastieksak oop en begin die wasgoed sorteer. Meestal denims, wat lank neem om droog te word. Sy sal die eerste bondel al vanaand in die masjien moet sit.

“En baie kinders ook,” las sy droogweg by. “Hy klink getroud.”

“Hy is nie. Ek het gekyk, hy dra nie ’n trouring nie.”

“Sulke soort mans dra nie ringe wat hul onbeskikbaarheid adverteer nie. Hy het hom waarskynlik afgehaal en in sy sak gebêre toe hy jou gesien het – ’n naïewe jong dingetjie op ’n skinkbord …”

Lara snork gegrief. “Ek is ouer as tien. Ek het mooi gekyk na sy ringvinger – dis egalig bruingebrand, daar’s nie ’n bleek bandjie of ’n keep om te wys daar sit gewoonlik ’n ring nie.”

“Waar het jy hom ontmoet?”

“Dis ’n lang-lang storie, wat by Krokkie begin. Sy petrolmeter het ingekonk …”

Soos sy verwag het … Erin sug moedeloos terwyl sy ’n bondel denims badkamer toe dra. “Dít ook nog! Dis ’n wonder dat die krok-tjor darem nog wiele en ’n enjin het.”

Die wonder is dat die tjor lank genoeg uitgehou het om op presies die regte plek te gaan staan, mymer Lara. Anders het sy hierdie great ou nooit ontmoet nie. Sy sal Krokkie môre as beloning ’n skuimbad gee. Sy begin haar tas uitpak, maar raak verdwaal tussen die klerehangers, en ’n minirok wat sy besig was om op te hang glip uit haar hande. Sy het haar suster nie hoor terugkom nie en skrik toe Erin langs haar buk om die rok op te tel. Haar gedagtes was so besig met haar eie dinge, sy let nou eers die nuwe haarkleur op.

“Skies, ek rammel so aan, one-track minded … Staan stil, laat ek eers sien …” Sy stap om Erin om haar van alkante te beskou. “Waaroor was jy so uitgefreak? Jou hare is g’n ’n flop nie. Dis movies mooi! Hoekom het jy dit nie lankal so blond gemaak nie?”

“Omdat ek nog nooit die horlosie vergeet het nie.”

“Vra ’n koolkopvraag en jy kry ’n pampoenkopantwoord,” grinnik Lara. “Wat sê die ander onnies?”

“Rinda hou daarvan en meneer Pienaar wens hy was twintig jaar jonger.”

“Good for you! En Jans? Wat was sy reaksie?”

“Hy reken ook dit lyk nogal nie te sleg nie.”

“Weird. Hy’s so ’n japie, ek dag hy sal uitpass van skok!” Lara kam haar vingers deur Erin se hare, bondel ’n hand vol saam en toets die tekstuur. “Nog net so lekker dik soos altyd … Die kleur pas by jou vel, maar die styl kort vorm. Ek sal dit vir jou layer, môre wanneer ons tyd het.”

Terwyl sy haar skoene bêre en nog wasgoed in haar tas ontdek, vra Lara na oom Bez en tannie Martie – of hulle toe getrek het en baie treurig was om afskeid te neem van die statige ou dubbelverdiepinghuis waar hulle soveel jare gewoon het, of hulle genoeg bokse gehad het en al tuis is in die ouetehuis.

“Tannie Martie het twee bokse snesies natgehuil. Maar toe ek die volgende middag ingeloer het om vir hulle ’n pot sop te neem, het hulle al ingeburger gelyk; hulle’t met die nuwe bure kennis gemaak en ingeskakel by die gemeenskap.”

Lara stoot die leë tas onder die bed in. “En óns nuwe bure? Het jy al weer met daardie ghwar te doen gehad ná die fiasko met die waterpyp?”

“Gelukkig nie. Ná die riet met die dankie-nota wat ek anderkant die heining geplant het nog niks weer van hom gesien of gehoor nie. Daar brand saans lig, maar skynbaar ry hy soggens douvoordag as ek nog slaap en kom laat saans terug. Dit pas my, as hy sy eie pad gaan en ek myne.”

“En die vrou, het jy haar al gewaar?”

“Glad nie. Ek raai sy en die kinders is nog in die Kaap en kom eers later.”

“Dalk kliek jy en sy beter.”

“Ek twyfel, as sy sinnigheid gekry het in so ’n vrypostige soort man. Ek hoef nie met hulle vriende te word soos met oom Bez-hulle nie. Ek is besig en het nie tyd vir kuier nie.”

“Jy word ’n werkolis en ’n kluisenaar, sussa. Ek kry goeie fooitjies by die restaurant en werk spaarsaam met my boekelening – ek koop meeste boeke tweedehands of neem hulle by die bib uit. Dis nie nodig dat jy jou so afsloof nie. Jy moet tyd maak vir kuier en ontspan ook.”

“My idee van ontspan is nie gedwonge besoeke aan irriterende bure met wie ek nooit sal kliek nie. Ek kyk liewer televisie of klim in die bed met ’n mooi boek.”

“Dis lekkerder saam met ’n mooi man!”

“Lara!”

“Moenie so ’n goody-goody wees nie. ’n Lekker juicy boek is oukei, maar mens het mense ook nodig,” hou Lara vol. “Geselskap. Kommunikasie. Interaksie. Jy kan nie so asosiaal deur die lewe gaan nie.”

“Ek het ag periodes per dag met ’n gemiddeld van dertig kinders per klas, wat ’n totaal van 240 gee – oorgenoeg kommunikasie en interaksie. As ek by die huis kom, wil ek afskakel en rustig alleen wees.”

“Interaksie met ’n klomp lawaaierige, stoute kinders is nie kuier nie. Jy het die stimulasie van volwasse geselskap nodig, anders word jy ’n pampoenkop.”

“Los my uit. Ek is gelukkig en tevrede, ek het vir jou en Rinda en Jans.”

“En Weiler.” Ten spyte van die tergklank in haar stem, bly daar ’n trek van kommer op Lara se gesig. Hulle sê as jy met jouself begin praat, is dit die eerste teken dat jy neuroties begin raak. En met honde?

Erin lag vir die gekwelde kyk in haar sussie se babablou oë.

“Weiler is intelligenter as baie ander mense wat ek ken. En hy praat nie terug nie, luister net in gemeensame stilte.”

“Beteken dit ek praat te veel?” skimp Lara. “Moet ek liewer in gemeensame stilte saam met jou en Weiler sit en lees of TV kyk?”

Erin frommel Lara se kort krulhare deurmekaar.

“Hou op vis vir komplimente. Jy weet jou kuiers is die hoogtepunt op my kalender. Dis nou genoeg oor my, ek is lus vir iets interessanter. Kom ons gaan kombuis toe en sit die ketel aan. Ek wil al die detail van hierdie trou-ou van jou hoor …”

Lara steek haar arm deur Erin s’n toe hulle die gang op stap.

“En ek brand om jou al die detail te vertel! Dis beter as ’n sepie. Hoe het Oumie altyd gesê? ‘Hygend hert! Hou, hart, hou …!’ Die vibes tussen my en hom was so hewig, genoeg om die Richterskaal te laat tril. Hierdie ou is kookwater! Wag tot jy hom ontmoet, jy sal saamstem …”

Sterre is vir ewig

Подняться наверх