Читать книгу Daar kom 'n tyd - Ettie Bierman - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 1
1
“Ek kan nie verstaan dat ons so sukkel om pêrelpienk te bemark nie,” merk Marinda fronsend op. “Dis my geliefkoosde ...” Sy bly stil om die koppelaar te trap toe sy sien dat die verkeerslig rooi is. Dis ’n kuns wat sy nog nie bemeester het nie – om te gesels én te bestuur. Eersgenoemde ontvang gewoonlik die meeste aandag. Seker daarom dat sy nooit ’n goeie bestuurder sal word nie. Nog ’n ding wat sy nooit sal regkry nie, is om eerste die rem te trap en dán die koppelaar. “Dis my geliefkoosde skakering en dit verander nie van kleur ’n ruk nadat jy dit aangewend het nie.”
“Pêrelpienk is te na aan skulppienk,” verduidelik Veronica. “Ons sal een van die twee moet onttrek.”
“Op my aanbeveling sal dit ...”
Haar voorkop tref die windskerm met ’n harde slag toe ’n motor hulle van agter stamp. Daar is die nare geluid van knarsende metaal, glas of iets wat breek en die motortjie bokspring vorentoe.
“Vervlaks ...” prewel Marinda verslae. Sy sit ’n oomblik lank doodstil en haal ’n paar keer diep asem om tot verhaal te kom. “Deksels!” roep sy dan uit, skielik woedend. Sy pluk haar deur oop en vlieg uit die motor.
“Dís nou mooi!” skree sy vir die bestuurder van die motor wat op hare se buffer sit. “Dis pragtig!”
Die deur van die groot, geel motor word stadig oopgemaak en ’n paar lang bene kom te voorskyn. Die ligte verblind Marinda, dog sy kan sien dat daar ’n lelike duik in haar motor se kattebak is en by haar voete lê stukke rooi plastiek of bakeliet of iets.
“Kyk hoe lyk my motor!” roep sy woedend uit. “Wat het jy gemaak? Aan die slaap gesit?”
“Ek is vreeslik jammer,” sê die man boetvaardig. “Het jy seergekry?”
“Nee, maar kyk hoe lyk my motor!”
“Ek is jammer,” maak hy weer eens verskoning en stap nader om die skade te bekyk. In sy motor se ligte kan Marinda sien dat hy jonk is en dat hy blykbaar ook geskrik het. Dadelik is sy skaam omdat sy soos ’n viswyf tekere gegaan het. ’n Ongeluk gebeur so maklik en dit kon sý gewees het wat so iets oorgekom het. Die arme ou het hom seker boeglam geskrik toe sy soos ’n warrelwind uitgevlieg en op hom begin skel het ...
“Wat het jy gemaak?” vra sy meer redelik. “Anderpad gesit en kyk?”
Die jong man vee met die agterkant van sy hand oor sy gesig.
“Ek weet nie wát ek gemaak het nie ... Kyk, ek is verskriklik jammer. Ek sal jou my naam en adres gee en alle skade vergoed. Gelukkig is joune ’n ou motor en is daar reeds ’n paar ander stampe.”
“Dis nié ’n ou motor nie,” begin Marinda se stem te bewe. “Ek het hom ’n maand gelede gekoop.”
“Dan is ek éérs jammer,” sê die jong man sag. “Ek sal jou motortjie mooi laat regmaak. Die skade is nie so erg nie. Dis net die duik in die kattebak en die agterste liggie wat stukkend is. Hier is my naam en adres ...” Hy haal ’n sakboekie en pen uit sy sak, skryf vinnig iets neer en skeur die bladsy vir Marinda uit.
“Moet jy nie liewer jóú naam vir hom gee sodat hy met jou kontak kan maak nie?” stel Veronica voor.
Marinda neem sy pen en die boekie om haar naam en adres neer te skryf, en nou eers kom sy agter hoe groot sy regtig geskrik het. Haar hand bewe so dat sy skaars kan skryf en sy moet hard konsentreer om mooi duidelike blokletters te maak en haar telefoonnommer te onthou.
“Dis die eerste keer dat so iets met my gebeur,” maak sy bewerig verskoning. “Moet ons nie die polisie of iemand ontbied nie?”
“Dis nie nodig nie. Net in geval van ’n ernstige ongeluk. Marinda Reynecke, is dit?”
“Ja. Kan jy my adres en telefoonnommer lees?”
“Ja, jy het dit baie duidelik geskryf. Ek sal jou vroeg Maandagoggend skakel, Marinda, en dan tref ons reëlings om jou motor te laat herstel. Moenie bekommerd wees nie. Ek sal sorg dat dit behoorlik gedoen word en dat jy die minimum ongerief hoef te verduur. En ek is nogmaals jammer, hoor!”
“Dis in die haak. Ek is jammer dat ek onmiddellik begin rusie maak het, maar ek het groot geskrik. Het jý nie dalk seergekry nie?”
“Nee wat, dit was net ’n ligte stampie. Ek het al veel erger oorgekom.”
“Jou motor het self ’n lelike stamp weg.”
“Dis nie die ergste nie ... Ee ... Het julle dames dalk lus om ’n drankie – medisinaal – saam met my te gaan drink?”
Marinda kyk onseker na haar vriendin.
“’n Drankie sou welkom gewees het, maar ek glo nie ons het tyd nie.”
“Ons het nie tyd nie,” beaam Veronica. “Ons is op pad na ’n vergadering en ons is reeds effens laat.”
“Ek is jammer, dames. En ek is jammer dat ek jou laat skrik het, Marinda, en jou nuwe motor gestamp het. Maandagoggend vroeg skakel ek jou en neem jou motor garage toe.”
Marinda se knie bewe en haar voet ruk op die koppelaar, en sy moet drie keer probeer voor sy daarin slaag om weg te trek.
“Ek wens daar was tyd om gou te gaan koffie drink ... Of ek wens ek het gerook of iets gedoen waarmee ek my senuwees kan kalmeer,” sê sy vir Veronica. “En die ding waarvoor ek nou die allerminste op aarde lus is, is om ’n bemarkingsvergadering by te woon. Ek kan nie reguit dink nie en as meneer Arends vir my iets moet vra, sal ek hom die simpelste spul antwoorde gee. Dink jy hy sal verstaan as ek sê dat ons langs die pad ’n ongeluk gehad het?”
“Nie meneer Deetlef Arends nie. Hy verstaan nooit nie. Ek voel skuldig. As jy my nie kom oplaai het nie, het daardie man jou nie gestamp nie.”
“Dan het iemand anders my dalk gestamp of iets veel ergers gebeur.”
Sy kyk in haar truspieëltjie en sien dat die groot motor nog steeds agter hulle ry, maar ’n veilige afstand handhaaf. Veronica begin van die ongeluk vertel waarin sy drie jaar gelewe was, maar Marinda luister net met ’n halwe oor. Sy moet hard konsentreer om te bestuur en nie ’n dom ding aan te vang wat ’n nog groter ongeluk kan veroorsaak nie. Sy is so senuweeagtig dat dit voel of die motors in die bane langsaan haar enige oomblik gaan vasdruk, of dat die man in die groot motor agter hulle weer in haar gaan vasry. Sy is dankbaar toe hy by die volgende afrit liggies toeter blaas en afdraai.
“Hy was nogal ’n mooi ou,” val sy Veronica in die rede. “En baie gaaf.”
“Gaaf? Ek sou so dink! Nadat hy jou byna verongeluk het, is dit die minste wat ’n mens kan verwag – dat hy gaaf sou wees. Maar dit was nie nodig dat jý so simpatiek en vriendelik moes wees nie. Dit was nie jy wat die ongeluk veroorsaak het nie.”
“Ek weet. Maar hy het so moeg en vervaard gelyk dat ek vir hom jammer gevoel het.”
“Jammer? Hy was nie moeg en vervaard nie. Hy was effens hoërig in die takke.”
“Was hy? Ek het niks agtergekom nie.”
“Ek ook nie, tot ek sy asem geruik het. Dis dié dat sy reflekse blykbaar ’n ietwat vertraag was en seker dié dat hy nie daarvan wou hoor om die polisie te ontbied nie.”
“Hy mag ’n drankie of twee ingehad het, maar hy was beslis nie dronk nie en ek glo nie ’n mens ontbied die polisie in geval van so ’n ligte ongelukkie nie.”
“Miskien nie. Wat is die ou se naam en waar woon hy?”
“Ek het nie eens gekyk nie, net die valletjie papier in my sak gedruk ...”
Marinda haal die sakboekblaadjie uit haar sak, skakel die dakliggie aan en gee dit vir Veronica.
Veronica bestudeer die naam en adres en toe sy nie dadelik iets te sê het nie, kyk Marinda bekommerd na haar.
“Wat skort? Het hy ’n vals naam en adres verstrek?”
“Oppas, daardie vragmotor gaan voor jou inswaai ... Nee, hoe sal ek weet of dit ’n vals naam is?”
“Wat is sy naam?”
“W. Meiring.”
“Dit klink nie na ’n vals naam nie ... Dekselse vragmotor! Nou wil hy weer in die linkerbaan ry ...! As ’n mens ’n vals naam wil gee, sal jy nie aan Meiring of so ’n tipe van dink nie. Was dit Botha of Smit of Venter, dán sou ek begin suspisieus raak het. Nee, Meiring klink eg. Ek wonder waarvoor die W staan ... Willem? Wim? Wynand?”
“Ek het nie mooi gekyk hoe hy lyk nie. W. Meiring is miskien eg, maar ek wonder hoekom hy ’n posbusnommer gegee het?”
“Miskien woon hy in ’n posbus.”
“As jy nog lus het om grappe te maak, kan jy nie baie bekommerd wees nie. Weet jy wat dit jou gaan kos as jy self vir die skade moet betaal?”
“Nee. Maar ek gaan nie betaal nie. Wimpie gaan betaal.”
“Hy woon op Witrivier.”
“Witrivier! Gaan hy my Maandagoggend van Witrivier af skakel en spesiaal Johannesburg toe ry om my motor te laat herstel?”
“Ek glo nie.”
“Ek glo ook nie. Hy is seker in Johannesburg vir ’n paar dae.”
“Ek glo nie jy gaan óóit weer van hierdie Meiring hoor nie, Marinda. As hy ’n paar dae in Johannesburg is, hoekom het hy dan nie ’n Johannesburgse adres gegee waar jy hom kan skakel nie?”
“Hy was seker te deurmekaar geskrik om nugter te dink. Jy het te min vertroue in jou medemens. Hierdie ou het nie soos ’n skelm gelyk nie. Sy hare was nie uitermatig lank nie en hy was netjies versorg.”
“En maak netheid van hom ’n eerlike persoon? Jy moet solank na parkeerplek begin soek.”
“Ons sal nie op ’n Saterdagaand parkeerplek in die straat kry nie. Ek gaan liewer reguit parkeergarage toe. Ek wed jou, Veronica, hy sal vroeg Maandagoggend skakel. Hy is ’n ordentlike man.”
“Net omdat hy lank is, met breë skouers, blou oë en korterige hare?”
“Ek dag jy het nie mooi gekyk hoe hy lyk nie?”
“O, ek het daardie dinge so terloops raakgesien. Ek het hom nie so bestudeer soos jy nie. Maar ek voel tog jy moes liewer sy motor se registrasienommer so aandagtig bestudeer het. Dan het jy darem ’n houvas op die man gehad.”
“Plaas dat ek dit gedoen het! Ek was ook so deur die wind geskrik ... Is daar ’n Witrivier-telefoonnommer by?”
“Nee.”
“’n Johannesburgse nommer?”
“Daar is geen telefoonnommer nie, Marinda.”
“As ek nie so groot geskrik het nie, sou ek nie so agterlosig gewees het nie. Maar dis die eerste keer dat so iets met my gebeur. Volgende keer sal ek beter weet wat om te doen. Kom ons vergeet nou van Wim Meiring. Jy is verniet bekommerd. Hy sal my skakel en vir die skade betaal. Waaroor ék bekommerd is, is daardie besonderhede waarvoor Deetlef Arends gaan vra die oomblik wat sy twee bemarkingsagente elk met ’n skemerkelkie in die hand staan. Jy moet maar die praatwerk doen. Ek is nog onervare en onthou, ek ly aan skok.”
Om elfuur Maandagoggend het Marinda al ’n dik stapel verslae met aandag deurgewerk, vier skoonheidsalonne op die platteland geskakel, laboratoriumverslae gelees en oorgetik en ’n dosyn of meer telefoonoproepe gehad, waarvan nie een van W. Meiring was nie.
Almal is Maandagoggende baie besig, probeer sy haarself troos. Hy sal vanmiddag skakel, of dalk môreoggend. Hy weet mos dis nie doodsake nie. Haar motor kan mos darem nog loop.
Om eenuur kom Veronica hoor of Marinda tyd het om vir middagete uit te gaan.
“Nee, ek is toegegooi onder die werk. Ek het vanmiddag ’n grimeringdemonstrasie by een van die groot afdelingswinkels en sal dan sommer daar iets te ete soek.”
“Het hy nog nie geskakel nie?”
“Nog nie. Miskien moes ek tóg maar my motor verseker het, soos my pa my aangeraai het. Maar die jaarlikse premie was amper die helfte van die oorspronklike prys van die motor.”
“Nee, hy is mos so ’n mooi ou en mooi ouens is mos nie skelm nie ... Ek sal vir jou ’n boodskap neem as hy dalk skakel wanneer jy nie op kantoor is nie.”
Marinda grinnik en steek ’n hand uit toe die telefoon skril lui, dog dis maar weer net nóg ’n skool wat skakel om te hoor of Tania Skoonheidspreparate nie gratis monsters vir matriekafskeide gee nie. Marinda verduidelik geduldig dat hulle kwota gratis parfuummonsters reeds in Junie uitgereik is en dat hulle nuwe voorraad eers volgende Januarie aankom. Sy is jammer, maar hulle sal dalk meer sukses by ander kosmetiekfirmas hê. Die juffroutjie klink taamlik deur die wind en Marinda glimlag toe sy die gehoorbuis terugplaas. Dís wat haar ’n hekel aan onderwys gegee het: al die buitemuurse bedrywighede. Om skool te hou was niks. Dit was soms selfs lekker. Maar daar was nooit genoeg tyd vir skoolhou nie. Kunswedstryde, tenniswedstryde, kunsklub, debat, kermis, klasfunksies en matriekafskeide het soveel van jou dag in beslag geneem dat daar kwalik nog tyd was vir skoolhou. Dié moes sommer so tussenin geskied. En bewaar jou arme onnie-siel as jou matriekuitslae aan die einde van die jaar onder die provinsie se gemiddeld was. Dan kry jy sommer vroeg in die nuwe jaar vakinspeksie en as jy nog nie geleer het om mooi storietjies te verkoop nie, word jy baie maklik na Sopieslaagte of Pampoenfontein gesekondeer en dan vergeet die departement van jou. Al wat jy dan word, is slegs ’n nommer. Jy moet ’n nommer hê, anders kan hulle nie elke maand aftrekkings van jou karige salarissie maak nie.
Nee, één jaar van onderwys was genoeg om haar van alle hoë ideale ten opsigte van die opvoeding van die jeug te genees en baie vinnig ander werk te laat soek. Sy werk nou al amper tien maande vir Tania, eers as skoonheidsdeskundige en nou as bemarkingsbeampte, en sy sal nooit spyt wees dat sy van debatte en kermisse en klasfunksies en matriekafskeide weggehardloop het nie. Die ure is nou langer en die salaris effens kleiner, maar die werk is baie aangenamer en die werksomstandighede makliker. Sy sal nooit weer gaan skoolhou nie.
Marinda skakel die kosmetiekafdeling van die groot afdelingswinkel om hulle afspraak van vanmiddag se demonstrasie te bevestig en gaan spreek dan ’n voorraadklerk om te hoor of sy vanmiddag gratis monsters pêrelpienk lipstiffies gaan uitdeel ná die demonstrasie. Sy hoop werklik dit help om die pêrelpienk se verkope op te stoot, want dis haar geliefkoosde skakering en sy is bang die vervaardiging daarvan word gestaak as dit swak verkoop. Omdat sy ligte hare en ’n goudbruin vel het, pas die helderpienk kleur met die metaalskynsel haar goed, maar sy is seker dis ook ’n brunet se skakering en vanmiddag gaan sy dit aan haar kliënte wys.
Om vyfuur die volgende middag het W. Meiring nog nie geskakel nie en Marinda begin bekommerd raak. Hy mag natuurlik siek wees of in ’n tweede ongeluk betrokke gewees het, maar sy besef dat die kanse skraal is. Hy was seker nooit van plan om haar te skakel en die skade te herstel nie. Sy voel verneder omdat sy haar so met hom misgis het. Hy het so gaaf en eerlik gelyk. Is hy dan die soort man wat ’n dame groot skade aandoen en dan net stilbly, sodat sy met die gemors bly sit? Gaan dit hom nie die res van sy lewe hinder nie? Of lag hy lekker omdat sy so naïef en goedvertrouend was? Sy kan dit nie glo nie. Iewers moet ’n logiese verklaring vir sy stilswye wees.
Waaroor sy haar die meeste kwel, is dat haar motor nie padwaardig is nie. Haar ouers vertrek oor ’n paar weke oorsee met vakansie en daar is baie dinge om te bespreek. Sy was van plan om hierdie naweek Lichtenburg toe te ry om by hulle te gaan kuier, maar sy kan nie so ver ry met ’n motor waarvan die agterliggie nie brand nie. En sy is ook bang vir wat haar pa oor haar agtelosigheid gaan sê ...
Woensdagmiddag, op pad huis toe, kry Marinda ’n verkeerskaartjie. Die beampte is vriendelik en simpatiek, maar hy het seker soveel slimstories in sy lewe moes aanhoor, dat hy nie deur haar onsamehangende verduideliking beïndruk is nie.
“Ek begryp dat u wag om van die man te hoor, juffie, maar intussen is u motor ’n gevaar op die pad en ek stel voor u moet die agterliggie so gou moontlik laat herstel.”
Marinda bekyk die pienk kaartjie en sy kook van woede. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy vir iets beboet word en dis nie eers haar skuld nie. Dis daardie Meiring-man s’n en hý gaan die kaartjie en die skade aan haar motor betaal. Sy het in elk geval nie die geld nie. Maar dis die beginsel wat haar grief. Die ongeluk was nie haar skuld nie. Hoekom moet sý die skade dra? Hoekom moet so ’n vent skotvry daarvan afkom?
“Wat kan jy aan die saak doen?” wil Veronica die volgende oggend weet.
“Ek kan baie daaraan doen. Dis seker nie so onmoontlik om die vent op te spoor nie. Ek het ’n oom wat in Nelspruit in die bank werk. Ek gaan hom skakel en hoor of hy nie van ’n Meiring weet wat op Witrivier woon en met ’n nuwe, geel motor ry nie.”
“Dis te sê ás die vent ooit op Witrivier woon. Dis dalk heeltemal ’n vals naam en adres wat hy verstrek het.”
“As dit die geval is, dan is dit tot daarnatoe en moet ek maar betaal. Maar dan het ek darem iets aan die saak probeer doen. Maar ek dink dit is sy regte naam en adres. Hy het nie met voorbedagte rade ’n vals naam probeer verskaf nie. Ek dink hy het net agterna begin dink hy kan dalk daarmee wegkom, gedink ek sal nie die moeite doen om hom vir ’n kwessie van ’n honderd rand of wat te probeer opspoor nie. Of dalk het sy vriendin hom aangeraai om stil te sit en kyk wat ek doen.”
Nee, oom Peet Reynecke ken nie ’n Meiring nie en geel motors is volop. Maar die bank het ’n lys van posbusnommers in die Laeveldse distrik en dit sal maklik wees om vas te stel wie huur posbusnommer 5170, Witrivier. Hy sal haar vroeg môreoggend skakel op kantoor en laat weet wat hy kon uitvind.
Marinda plaas die gehoorbuis met ’n tevrede glimlag terug. Al waaroor sy effens skuldig voel, is dat sy op Tania se onkoste ’n ver oproep gemaak het. Maar dis ook nie die ergste nie. Sy het al dikwels in die verlede onkoste in verband met haar werk gehad waarvoor sy geen eis ingehandig het nie. Een oproep sal hulle nie armer maak nie. Sy hoop net haar oom spoor die man op. So ’n vent soos daardie Meiring-ou moet ’n les geleer word.
Vrydae is altyd dol dae vir Marinda. Op Vrydae kom die bestellingslyste in van alle winkels, apteke en salonne wat Tania-produkte aanhou, asook die bestellings van hulle reisende verteenwoordigers. Om alles te kroon, kies die rekenaar juis vandag om steeks te raak en dis ’n ietwat verwilderde Marinda wat haar oom Peet se oproep net ná elfuur beantwoord.
“Dis ’n Wynand Johannes Meiring, Marinda, en sy adres word aangegee as Die Bosbok Motel, Witrivier.”
“Woon hy daar of werk hy daar, oom Peet?”
“Nee, hy werk daar. Hy is blykbaar die bestuurder.”
“Hoe ’n soort plek is daardie motel? Bouvallig?”
“Alles behalwe! Dis ’n spogplek.”
“Dan behoort hy ’n goeie salaris te kry en kan hy die onkoste van die herstelwerk aan my motor betaal.”
Marinda skryf die motel se telefoonnommer neer, gesels nog ’n rukkie met haar oom wat sy jare laas gesien het, en dan moet sy wikkel om die getikte lyste voor middagete by meneer Arends te kry. Sy sal seker nie voor Maandag kans kry om daardie Meiring-man te skakel nie.
“Het jy vanaand ’n afspraak?” kom deel Veronica haar toebroodjies met Marinda. “Of sal ons vanaand gaan fliek? Ek sal jou kom oplaai.”
“Dankie, maar ek het ongelukkig ’n ete-afspraak met Don Lewis.”
“Daardie ou wat wil hê jy moet ’n paar grimeringsadvertensies vir hom doen?”
“Dis hy. Hy is ’n gawe ou en as hy dink ek is dalk fotogenies, sal ek graag modelleerwerk wil doen. Die geld sal meer as welkom wees – en dink net hoe opwindend dit sal wees om ’n tydskrif oop te maak en in my eie gesig vas te kyk.”
“Dit sal oulik wees, maar moet net nie so versot raak op modelwerk dat jy ons vir ’n advertensiemaatskappy verruil nie.”
“Ek sal nie. My pa kry stuipe as ek weer van werk verander.”
“Dis mooi as vandag se kinders nog ontsag vir hulle pa’s het. Wat gaan jou houding wees as jy daardie Meiring kan opspoor? Gaan jy hom goed die waarheid vertel?”
“Ja, beslis, tensy hy ’n grondige rede het waarom hy my nog nie geskakel het nie. Ek sal so ewe terloops laat val dat ek ’n goeie prokureur het en dat jy ’n getuie was. Dit sal hom laat skrik.”
“Bosbok Motel. Goeiemiddag,” antwoord ’n vriendelike damestem.
“Goeiemiddag. Mag ek asseblief met meneer Meiring, die bestuurder, praat?” versoek Marinda.
Sy hoef nie lank te wag nie.
“Meiring. Goeiemiddag,” groet ’n saaklike stem.
“Dis Marinda Reynecke wat praat.”
“In verband waarmee?”
Marinda vererg haar op die plek. Gaan hy alle kennis in verband met die ongeluk ontken en maak of dit nie hy was nie?
“Luister, meneer Meiring,” sê sy ysig, “jy sal nie so maklik daarvan afkom nie. Ek het ’n goeie prokureur en ek is van plan om ’n saak teen jou te maak.”
“Ek is jammer, mejuf- ... ek neem aan dis mejúffrou Reynecke”
“Dit is,” sê Marinda bitsig.
“Ek is jammer, mejuffrou Reynecke, maar ek weet nie waarvan jy praat nie. Kan jy my asseblief inlig?”
“Moenie my ’n tweede keer vir die gek hou nie. Ek sal my nie soos verlede Saterdagaand vir die gek laat hou nie. Moenie dink jy sal ontsnap nie. Ek gaan ’n saak maak. Ek het ’n goeie prokureur en –”
“So het jy al tevore gesê,” val hy haar kortaf in die rede. “’n Mens dreig nie twee maal met dieselfde ding nie. Dreigemente is in elk geval onsmaaklik. Maar ek dink jy het die verkeerde Meiring beet. Dis seker met my broer wat jy wil praat.”
“Is dit nie meneer W. Meiring nie?” vra Marinda vies, dog sy praat met haarself. Hy het reeds die gehoorbuis neergesit.
“Hallo. Wynand Meiring,” sê ’n ander en meer bekende stem ná ’n paar minute in Marinda se oor.
“Dis Marinda Reynecke wat praat.”
Daar is ’n paar oomblikke lank stilte en dan sê hy baie vriendelik: “Marinda! Ek is só bly jy het my geskakel! Weet jy hoe het ek gesukkel om jou op te spoor?”
“Maar ek het mos my telefoonnommer vir jou gegee?”
“Jy het ’n nommer vir my gegee, maar dis die verkeerde nommer. Ek het jou omtrent tien keer al geskakel en elke keer kom ek by ’n verkeerde nommer uit.”
Marinda weifel effens. Sy is nie seker of sy hierdie storie glo nie.
“Dink jy ek jok?” pleit hy. “Wat is jou nommer?”
“24-5686.”
“5686? Jou lawwe meisiekind ... Jy het 8656 geskryf! Geen wonder ek het elke keer by die verkeerde plek uitgekom nie. Die mense daar het my verseker daar werk geen Marinda Reynecke nie en het hulle al vir my begin vervies.”
“Ek is jammer ... Ek was so oorhoeks geskrik dat ek seker die syfers omgedraai het.”
“Toe maar, noudat jy my geskakel het, is daar geen skade gedoen nie. Het jy al jou motor laat regmaak?”
“Nee, ek weet nie hoe of waar nie. Ek het gewag dat jy my skakel.”
“Natuurlik, meisie ... Luister, laat jou motor regmaak en stuur die rekening vir my. Ek sal dit betaal.”
“Hoe weet jy jy kan my vertrou?” terg Marinda liggies. “Wie sê ek laat nie sommer die ander duike ook uitslaan en plaas dit op jou rekening nie?”
Sy hoop nie die man is van plan om sake op hierdie manier te laat doen nie. Sy het nie die kontant om die rekening voorlopig te betaal nie en sy het gehoop sy sal meneer W. Meiring met die blou oë en breë skouers weer te siene kry.
“Ek ken ook geen garage nie en is bang hulle loop my in,” voeg sy by.
Wynand Meiring huiwer ’n oomblik en dan sê hy vriendelik: “Ek kom volgende naweek Johannesburg toe. Sal jy Saterdagaand saam met my gaan eet, dan besluit ons wat die beste is om te doen?”
“Goed. Ken jy Johannesburg? Weet jy waar Claimstraat is?”
“Ek ken Johannesburg goed en ek weet waar jou woonstelgebou is. Tot Saterdagaand so teen agtuur se kant dan?”
“Ja. En ... dankie.”
“Dis in die haak, astertjie. Moenie intussen weer ongelukke maak nie!”
Marinda plaas die gehoorbuis glimlaggend neer en draf Veronica se kantoor binne.
“Dit was alles my skuld! Ek het my telefoonnommer verkeerd neergeskryf en Wynand kon my nie opspoor nie. Hy kom Saterdagaand kuier en dan gaan ons eet. Dan gaan ons besluit hoe om my motor reg te kry en hy gaan alles betaal. En ek was tog reg gewees, Veronica. Hy ís ’n gawe ou!”
“Ek is bly vir jou part dat dinge reg uitgewerk het. Jy is eintlik blý hy het in jou vasgery, nè?”
“Ek glo dat alle dinge ’n doel het. En ek glo nie die doel van die ongeluk was om my platsak te maak en raas te laat kry by my pa nie. Ek glo ook dat alle dinge ten beste gebeur ...”