Читать книгу Daar kom 'n tyd - Ettie Bierman - Страница 5
ОглавлениеHoofstuk 2
2
Marinda bekyk haarself vir oulaas in die spieël en skud haar lang hare los oor haar skouers toe die deurklokkie net ná agtuur lui.
“Mensig!” sê Wynand bewonderend. “Dis nie dieselfde meisie wat in ’n patetiese bondeltjie in haar somber swart baadjiepakkie by haar stukkende motor gestaan het nie!”
“Toe was ek eintlik op pad werk toe en ek was deur die blare geskrik.”
“Ek sou jou nie herken het nie. Ek het nooit besef dis so ’n beeldskone meisiekind wat ek byna verongeluk het nie. Dink net hoe ’n verlies dit vir die samelewing sou gewees het.”
Marinda raak effens verleë onder sy opregte bewondering.
“Waar gaan ons uiteet?” vra sy skamerig.
“Net waar jy wil. Luister, jy het seker ’n benoude week gehad toe jy begin vermoed het ek gaan jou nie skakel nie? Ek is regtig jammer, maar daar was geen manier waarop ek jou kon opspoor nie. Ek het nooit daaraan gedink om jou motor se nommer te neem nie.”
“Ek ook nie! Agterna was ek spyt, want ...” Sy bly skielik stil.
Wynand se oë vonkel.
“Want jy het besef jy sal die skurk nie kan opspoor nie,” voltooi hy haar sin laggend. “Maar hoe het jy my telefoonnommer gekry?”
“So ’n bietjie fyn speurwerk,” terg sy laggend. “Verskoon my, ek gaan net gou ’n jas haal.”
“Dit sal sonde wees!” roep Wynand agterna, die gang af.
“Wat?”
“Om ’n jas oor daardie rok aan te trek! Vergeet die jas. Jy sal nie koud kry nie. Of anders sal ek jou warm hou.”
“Grootmond, noudat hy weet ek het nie ’n man of ’n kêrel of ’n groot broer wat hom hof toe sal neem nie!”
“Wie sê jy het nie ’n kêrel nie?” vra hy met ’n warm glimlaggie.
Marinda kry skielik skaam en laat haar oë verleë sak.
“O ja, ek het vergeet van die stringe kêrels wat agter my aan hardloop ...”
“Nie stringe nie, Marinda. Net een. Net een baie verliefde kêrel. En dis eerlikwaar ’n baie mooi rok hierdie. Blondines wat bruin gebrand is, lyk pragtig in wit. Swem jy dikwels?”
“Net naweke en die res van die tyd lê ek maar buite op die balkon om bruin te brand.”
“Jy moet op Witrivier kom kuier. Daar brand die son ’n mens gou bruin.”
“Jy lyk self of jy in die swembad boer.”
“Daar’s nie tyd vir sulke dinge by Bosbok nie. En selfs al wás daar, sou my broer my nie toegelaat het om my tyd so nutteloos te verwyl nie.”
Marinda kyk vlugtig na hom, maar hy lag en sy wonder of sy haar die effens verbitterde stemtoon verbeel het. Sy wonder wat hy by die motel doen. As hy dan nie die bestuurder is nie, wat is hy dan?
“Jou broer? Ek dink ek het per abuis by hom uitgekom toe ek jou geskakel het.”
“Dis heel moontlik. Mense raak dikwels met die twee Meirings deurmekaar. Net die name, nie die persoonlikhede nie ... Is jy reg? Sal ons maar gaan?”
Die lelike stamp sit nog steeds aan die geel motor se regterbuffer.
“Ek sal daardie duik nooit laat uitklop nie,” lag Wynand.
“Hoekom nie?”
“Omdat dit my altyd aan ’n allerfraaiste ou meisietjie met groen oë en blonde hare en aan ’n opwindende ontmoeting sal herinner.”
Daarop het Marinda geen antwoord nie. Sy lag effens en laat Wynand toe om haar in die motor te help en die deur versigtig toe te klap. Terwyl hy om die motor stap, loer sy ongemerk deur die voorste ruit na hom. Hy is aantrekliker as wat sy hom onthou het. Daardie Saterdagaand het hy ’n ligte broek en ’n sporthemp aangehad, maar ’n man lyk altyd op sy mooiste in ’n donker pak en ’n wit hemp. Net soos ’n uniform, doen ’n donker pak beslis iets vir ’n man ... Sy hoop nie hy sny gou sy hare nie. Dis mooi as hare wat so effentjies krul, lank gedra word. Hy het dik hare en sy is bly hy gebruik nie haarolie nie. Geoliede hare wat die paadjies van ’n kam wys, is nooit vir haar mooi nie. Hierdie een se hare is mooi skoongewas en ...
“En?” onderbreek Wynand haar gedagtes toe hy langs haar agter die stuurwiel inskuif. Sy voel dat sy onder daardie blik bloos. Dis asof hy haar gedagtes kon lees, asof hy geweet het wat sy sit en dink het terwyl sy hom so aandagtig bekyk het. “Wat is die uitslag? Slaag of druip?”
Marinda weet nie wat om te antwoord nie. Hy het haar onverhoeds betrap.
“Toe maar, ek sal ophou om jou te terg,” troos hy. “Weet jy dalk van ’n besonderse eetplek? Ek ken ’n paar oulike restaurante, maar ek wil nie na ’n plek toe gaan waar ek al vantevore meis- ... waar ek al was nie. Vanaand wil ek na ’n baie spesiale plek toe gaan, want dis ’n baie spesiale meisie wat ek vanaand uitneem.”
“Kom ons gaan na ’n plek toe waar ek ook nog nooit tevore was nie,” stem Marinda opgewonde saam.
“En eet iets wat ons nog nooit tevore geëet het nie.”
“En drink iets wat ons nog nooit tevore gedrink het nie!”
“En doen iets wat ons nog nooit tevore gedoen het nie.”
“Ee ...” lag Marinda en voel tot haar verleentheid dat sy al weer bloos. Hierdie man besit die gawe om haar soos ’n skooldogter te laat voel.
“Marinda! Dís nie wat ek bedoel het nie,” sê hy vroom. “Ek het bedoel ons soek ’n plek waar ’n mens kan dans en dan dans ons die Uggh. Of het jy hom al gedans?”
Marinda kan maar net lag en haar kop skud.
“Hou jou oë oop. Ek gaan sommer doelloos deur die stad ry en dan kyk ons of ons ’n oulike plek ontdek.”
Na ’n uur is Wynand hopeloos verdwaal en het Marinda ook nie die vaagste benul waar hulle is nie.
“Ons draai by die volgende straat links, hou drie blokke aan, draai dan regs en dan weer regs, en dan wed ek jou gaan ons ’n plek sien wat paddaboudjies, oe-la-la’s en die Uggh adverteer,” stel Wynand voor.
“Wat is oe-la-la’s?”
“Ek weet nie. Ek het dit nog nooit gedrink nie.”
Marinda raak aan die lag. Wynand neem haar hand en druk ’n ligte soentjie daarop. Sy wens hulle kan sommer net aanhou en aanhou ry. Sy is honger, maar sy weet hulle vrolike stemming gaan verbreek wees as hulle ’n eetplek vind en uitklim en tussen mense is. Sy wens dis nie oormôre Maandag en dat Wynand moet teruggaan Witrivier toe nie. Sy wens hulle twee is nou op pad na ’n ver-ver plek ...
“Edenvale!” roep Wynand verslae uit.
“Edenvale?” eggo Marinda fronsend. “Wat van Edenvale?”
“Dis waar ons op die oomblik is, liefste,” antwoord hy lakonies.
“Kan nie wees nie ...”
“Moet wees ... Ons het nou-nou by ’n poskantoor verbygery en voor op het in duidelike vet swart letters gestaan: Edenvale Poskantoor. En kyk wat staan voor op daardie winkel ...”
“Edenvale Mansuitrusters,” adem Marinda verbaas. “Liewe land, Wynand! Ons is verskriklik verdwaal. Ken jy die pad terug stad toe?”
“Nee, maar ek weet die snelweg Witrivier toe gaan by Edenvale verby. Wat sê jy – sal ons nie in die pad val Witrivier toe nie? Twee-uur môreoggend kan ons by Bosbok intrek. Ons kuier ’n paar uur daar en môre bring ek jou terug. Toe, dit lyk of dit gaan reën. Dink net hoe lekker gaan dit wees om te ry en te ry terwyl die bande op die nat pad suis ...”
’n Oomblik lank klink dit baie aanloklik, maar dan skud Marinda haar kop.
“Jy sal baie vies wees as jy Sondag die lang ent pad moet terugry om my huis toe te neem.”
Wynand trek ’n suur gesig.
“Ou bloukous ... Vir ’n mooi meisie is jy darem ’n regte ou nat kombers.”
“Verwyt in plaas van bedankings?”
“Slim antwoorde in plaas van liefdevolle inskiklikheid? Kry jy nie koud nie?”
“Nee, dis lekker warm in die motor.”
“Sien jy wat ek bedoel as ek sê jy is ’n bloukous en ’n nat kombers?” terg hy liggies. Hy steek ’n arm uit en trek haar styf teen hom. “Natuurlik kry jy koud en beloftes maak skuld. Ek het mos belowe om jou warm te hou ...”
“Daar’s ’n plek wat koffie adverteer,” merk Marinda lomerig op.
Wynand swaai behendig uit en draai by die padkafee in.
“Vier koffies, asseblief,” bestel hy.
Die kelner loer verbaas of daar nog twee mense agterin die motor sit.
“Hierdie meisie is baie dors,” verduidelik Wynand ernstig. “Sy vra jy moet vir haar vier koppies stomende koffie bring.”
“Wynand!” lag Marinda. “Netnou glo hy jou!”
Wynand plaas sy arms om haar skouers en draai haar na hom toe.
“Sal jý mý glo as ek jou sê dat ek jou liefhet, Marinda Reynecke?”
Marinda is skielik baie geïnteresseerd in die motor se radio.
“Kyk na my,” gebied Wynand stil.
Marinda kyk vinnig op na hom en dan weer net so vinnig weg. Wynand sit sy wysvinger onder haar ken en lig haar gesig na hom toe op.
“Jy is die antwoord op al my drome, Rinnie. Ek het nog nooit ’n meisie soos jy ontmoet nie. Ek weet dis baie gou en ek wil jou nie bang maak nie en wil ook nie nou al ’n antwoord hê nie. Maar ek wil net hê jy moet weet dat ek jou liefhet.”
“Wynand, moenie ...” begin Marinda en dan sterf haar stem weg. “Moenie ...”
“Ek sal nie,” sê Wynand sag. Hy plaas sy hande weerskante van die fyn gesiggie en druk ’n sagte soentjie op haar mond. Dan skuif hy skielik weg en sê in ’n ander stemtoon: “Hier kom ons koffie ...”
Wynand lig sy koppie en klink dit teen hare.
“By gebrek aan iets sterkers – ’n gebrek wat later aangevul sal word – op ons!”
“Op ons,” herhaal Marinda effens bewerig.
Daar is oneindig baie dinge waaroor gesels kan word nadat ’n liefdesverklaring gemaak is, en Marinda en Wynand is geen uitsondering nie. Hy vra haar uit oor haar vriende en haar stokperdjies en haar werk en haar ouers, en sy gesels asof in ’n droom. Sy kan nie glo dat dit haas ’n wildvreemde man is wat hier styf teen haar sit nie. Dit voel asof sy hom al jare ken, asof sy hom maar altyd geken het. Sy kan nie glo dat sy ’n tyd van eensaamheid en ’n tyd van Saterdagaande saam met vriendinne deurbring geken het nie. Dalk was dit onbewustelik ’n tyd van voorbereiding vir hierdie wonderlike aand.
“Nou weet jy alles van my af,” keer sy naderhand. “Maar al wat ek van jou af weet, is dat jy in Witrivier woon, dat jy ’n nuwe geel motor het waarmee jy taamlik roekeloos ry, dat jy nie ’n fantastiese sin vir rigting het nie en dat jy my liefhet.”
“Wat wil jy nog weet, my liefste?” fluister Wynand teen haar hare.
“Het jy nie dalk ’n ... nooi nie?” fluister Marinda met groot oë.
“Ek het,” erken Wynand reguit en ernstig.
“En wat sal sy sê as sy hoor jy het my lief?”
“O, sy sal seker weer niks te sê hê nie en die hele tyd met die radioknoppies sit en vroetel en weier om na my te kyk.”
“Wynand ...! Jou lawwe mansmens!”
“Ek is nie laf nie, Rinnie. Ek was nog nooit in my lewe so ernstig nie. Ek glo dat niks op aarde sonder ’n goeie doel gebeur nie en vanaand het ek uitgevind waarom ek daardie Saterdagaand in jou vasgery het. As ek jou nie ontmoet het nie, was my lewe leeg en doelloos.”
Marinda sit warm en tevrede teen hom en ná ’n lang ruk begin sy hom oor die Bosbok Motel uitvra. Maar hy gesels oor Witrivier en oor die Laeveld en oor die wildtuin wat so naby lê – oor die motel het hy nie veel te sê nie.
“Wat van jou broer?” vra Marinda lomerig.
“Wat van my broer?” herhaal Wynand haar vraag kortaf.
“Nee, niks eintlik nie. Ek het sommer net gewonder wat doen hy by die motel.”
“Hy deel die bevele uit en jaag my rond.”
“Hy klink nie na ’n baie aangename persoon nie?”
“Hy is nie.”
“Is hy in ’n posisie om jou te beveel?”
“Ongelukkig, ja. Maar dis net tydelik en net omdat hy meer geld in die motel gesteek het as wat ek kon.”
“Is julle vennote?”
“Hy is die senior vennoot. Hy is die eienaar-bestuurder, maar jy hoef nie bang te wees nie, Rinnie. Die junior eienaar-assistent-bestuurder verdien ’n groot genoeg salaris om ’n vrou te onderhou. Hy het sy eie grasdakhuisie ’n ent van die hoofgebou af, in ’n lemoenboord, en hy kan op ’n manier koskook en kouse stop en afstof en huis aan die kant maak en alles.”
“Waarvoor het hy dan ’n vrou nodig?”
Dog Wynand lag net en weier om uitgelok te word.
“Haai, ons moet wikkel as ons nog daardie baie spesiale eetplek wil gaan ontdek.”
Marinda is onwillig om van die padkafee af weg te gaan. Die oomblik wat die geel motor by die uitgang uitry en die pad terug Johannesburg toe kies, sal hierdie kosbare paar uur onherroeplik verby wees. Dit sal skielik net ’n herinnering geword het ...
“Het jy al ooit op ’n Saterdagaand in jou kispak by ’n Edenvalese padkafee warmbrakke en limonade vir aandete gehad?” vra sy.
Wynand lag lekker. Hy weet dadelik wat sy graag wil doen. Hy flits die motor se ligte en trek haar stywer teen hom vas.
“Dis hoekom ek jou liefhet, Rinnie. Omdat jy jý is. Daar is nie nog ’n meisie soos jy nie.”
“Het jy dan al soveel ander meisies geken dat jy goed kan oordeel?” skerts sy. Maar eintlik wil sy baie graag ’n antwoord op haar vraag hê. Sy het agtergekom dat hy hom vroeër vanaand amper verspreek het toe hy gesê het hy ken ’n paar oulike restaurante, maar dat hy haar nie na ’n plek wil neem waar hy al vantevore was nie. Wat hy amper gesê het, was dat hy nie na ’n plek toe wil gaan waar hy al saam met ander meisies was nie.
“Ek het my normale kwota gehad,” antwoord Wynand onverstoord. “Maar daar was geen nooi vir wie ek enige besonderse gevoel gehad het nie. Wat van jou? Enige besonderse kêrels?”
Marinda vertel hom van Paul en van Don saam met wie sy verlede Saterdagaand gaan eet het, en wat wil hê sy moet vir ’n paar tydskrifte poseer. Wynand is saam met haar opgewonde en druk ’n warm soentjie in haar nek en dan op haar ken, haar wang, die punt van haar neus en uiteindelik op haar sagte mond.
“Jy is die beste ding wat nog met my gebeur het,” fluister hy en dan merk hy vies op: “Hier kom daardie ellendige kelner al weer! Hy het blykbaar ’n kursus geloop oor wanneer om ongeleë en onwelkom te wees.”
“Dis jý wat die ligte geflits het!”
“Herinner my tog om nooit in die toekoms weer ligte te flits nie, sal jy, my liefste? Ee ... Twee warmbrakke en twee limonades, asseblief. Nee, wag, verdubbel daardie bestelling. Ons het iets om te vier.”
Die kelner stap kopskuddend weg en Marinda en Wynand lag.
“Wat gaan ons môre doen?” wil Wynand weet.
“Moet jy nie môre terugry Witrivier toe nie?”
“Eers laat môreaand. Ek sal deur die nag ry en Maandagoggend ’n paar uur steel om te slaap – en as Hugo iets te sê het, pak ek my goed en ry terug na jou toe. Jy sal nooit met my rusie maak nie, sal jy, Rinnie?”
“Nooit nie, behalwe as jy vir my moeg word en my nie meer wil hê nie. Dán sal ek baie met jou rusie maak.”
“Dan sal jy nooit met my rusie maak nie, my liefling. Al is ons honderd jaar getroud, sal ek nooit vir jou moeg word nie.”
Die volgende oggend vroeg hou die geel motor voor Magnoliahof stil en kom hamer Wynand aan Marinda se voordeur.
“Jy het dan gesê jy kom my eers tienuur oplaai?” loer sy verslae om die deur, bang dat hy die krullers in haar hare sal sien.
“Goed, dan gaan sit ek maar twee uur lank buite in die koue in my motor en kom klop ek om tienuur weer aan jou deur.”
“Kom wag in die sitkamer, jou lawwe mansmens,” lag sy.
Sy laat die voordeur oop en vlug kamer toe voordat hy haar kan sien. Dan pluk sy met koorsagtige haas laaie en kaste oop en trek so vinnig aan as wat sy kan. Sy wil nie kosbare tyd vermors nie, tyd wat sy saam met Wynand kon deurgebring het. Binne ’n kwartier staan sy in die sitkamer, ’n wit langbroek aan, ’n rooi truitjie en ’n donkerblou gestreepte serp in haar hare.
“Dis nie moontlik nie,” sê Wynand verbaas.
“Ek is ’n vinnige meisie!”
“Ja, maar ek het nie gedink dat jy vanoggend nog mooier kan wees as gisteraand nie. Ek het gedink ek sal vanoggend sien dat ek ’n fout gemaak het, dat geen meisie so beeldskoon én so lief en dierbaar kan wees nie.”
“Sal ek nóg liewer en dierbaarder wees en vir jou koffie gee om te drink?”
“O, sy is bang, nè?” sê Wynand geamuseerd. “Sy is bang ek wil haar behoorlik môre sê en nou wil sy kombuis toe vlug onder die voorwendsel dat sy koffie wil gaan maak.”
“Môre, Wynand,” giggel Marinda en steek haar regterhand na hom toe uit.
Wynand vang dit in albei syne en trek haar ferm nader.
“Is dit hoe ’n aster haar verloofde groet? Kom hier, my lief, sodat ek jou behoorlik kan dagsê ...”
Heelwat later wikkel Marinda haar uit sy arms los en sê effens uitasem: “Ek wil regtig graag vir jou koffie en iets te ete gee. Jy is seker te vroeg by die hotel weg om ontbyt te kry.”
“Ja, maar moenie moeite doen nie. Gee net vir my ’n glas koue water. Dit gaan goed saam met liefde.”
“Koue water wat gekook is, met koffiepoeier en melk en suiker daarin?”
“En miskien ’n roereier en spek en roosterbrood daarby ...”
Wynand kom sit op ’n hoë kombuisstoeltjie en hou Marinda met blink oë dop terwyl sy ontbyt maak. Hy sny vir haar die brood, maar verder wil hy nie help nie.
“Slaag of druip?” wil Marinda weet toe hulle buite op die balkon sit, elkeen met ’n volgelaaide bord en twee koppies koffie.
“Al kon jy nie eers ’n eier kook sonder om dit te laat brand nie, slaag jy met volpunte. Maar dit herinner my aan iets ... Het ek vroeg gisteraand geslaag of gedruip nadat jy my so fyn bekyk het?”
Marinda neem ’n groot mond vol spek en roosterbrood sodat sy nie hoef te antwoord nie.
“Nog koffie, Wynie?” vra sy liefies.
“Dis nie regverdig nie!” kla hy verontwaardig. “Ek het my hele hart aan jou blootgelê en jou aan my ewige liefde verseker, en jy het nog nie een maal eers vir my gesê jy hou van my nie.”
“Ek hou van jou,” antwoord Marinda onskuldig. “Nog koffie?”
“Nee dankie. Is dit al?”
“Nee, ek het nog baie eiers en spek en tamaties in die yskas en kan baie maklik vir jou nóg kos maak.”
Wynand weier om saam te skerts.
“Is dit al, Rinnie? Hou jy net van my en niks meer nie?”
“Ek is lief vir jou, Wynand, en ek dink ek sal baie gou meer as net dit vir jou wees. Maar ’n meisie het tyd nodig. Jy het gisteraand gesê jy wil nie dadelik ’n antwoord hê nie en ek hou jou by jou belofte. Wanneer kom jy weer vir my kuier, dan kan ons weer praat?”
“Ek weet nie,” sê hy effens dikmond. “Dis een van die dae skoolvakansie en dan is dit ons besige tyd. Ek weet nie wanneer Hugo my weer ’n naweek sal afgee nie.”
“Dan skryf ek maar vir jou, of stuur ’n telegram met my antwoord,” sê Marinda liggies.
Dadelik is Wynand weer sy vrolike lieftallige self.
“Volgende naweek het ons ’n klomp kongresgangers by die Bosbok en ek sal seker moet bly om te help, maar die naweek daarna kom ek weer vir jou kuier en dan kom ek my antwoord haal. Reg, Rinnie?”
“Reg, Wynie.”
“Gaaf. Nou waar gaan ons heen? Bronkhorstbaai toe of Hartbeespoortdam toe?”
“Dit maak nie saak nie. Het jy nie lus om vleis te gaan braai nie? Ek het baie vleis in die vrieskas en ons kan gou ’n paar toebroodjies smeer.”
“Top! Ek het hout in die motor.”
“Jý pak darem snaakse bagasie in as jy vir ’n nooi gaan kuier ...”
“Ek het nie geweet ek gaan vir ’n nooi kuier nie. Ek het gedink ek gaan vir ’n kantoorjuffrou in ’n korrekte, sombere, swart baadjiepak aandete koop en besigheid met haar gesels. Al wat ek vir háár ingepak het, was my tjekboek. Die hout was sommer nog in die bagasiebak ná ons verlede naweek by Leeukop gaan vleis braai het.”
Marinda haal vleis en brood uit en begin dit bewerk, maar Wynand stap sitkamer toe, waar hy sy baadjie uitgetrek en oor ’n stoel gehang het. Ná ’n paar minute is hy terug en sit ’n tjek op die kas neer.
“Dis om die skade van jou motor te betaal. Ek is jammer dat jy alleen die moeite moet hê, maar ek hoop die tjek is groot genoeg om die garage se rekening te betaal. Ek gee liewer nou vir jou die tjek, voor ek vergeet.”
“Ag, Wynand, dis nie nodig nie,” keer Marinda, skielik bewoë. “Ek kan self vir die skade betaal.”
“Dink jy ek sal dit toelaat?”
“Dankie ...”
“Moenie my bedank nie. Dis die minste wat ’n ou kan doen nadat hy iemand se motor deur nalatigheid beskadig het. Weet jy hoe verlig ek daardie aand was toe ek gesien het dis in ’n dame se motor wat ek vasgery het? Toe die motordeur oopvlieg, was ek bang daar spring ’n groot, sterk man uit wat my wil opdons.”
“En al die tyd is dit toe ’n lieftallige ou dametjie wat om verskoning vra omdat sy so skielik voor jou stilgehou het, sonder om haar hand uit te steek en te wys dat sy gaan stilhou? Die minste wat sy darem kon gedoen het, was om oor die rooi verkeerslig te ry en jou die ergernis te spaar.”
“Ja, sy was baie moedswillig,” grinnik Wynand. “Maar sy het darem agterna vir haar onnadenkende optrede vergoed.”
“Wat het jy daardie aand gedoen, dat jy nie gekyk het waar jy ry nie?” vra Marinda nuuskierig.
Wynand haal sy skouers op en lag verleë.
“Ek het van ’n partytjie af gekom en dalk het ek ’n drankie of twee te veel ingehad. Ek is regtig jammer dat dit gebeur het.”
“Ek is nie! As dit nie gebeur het nie, het ek jou nooit ontmoet nie en het ek seker nou gesit en boek lees of my hare gewas en later by ’n vriendin gaan tee drink. Dit was ’n heerlike stamp en al het ek byna my nek gebreek, sou ek nie spyt gewees het nie.”
“Was jy nie senuweeagtig om daarna weer te bestuur nie?”
“Nee. Ek is so ’n swak bestuurder dat so iets my wel vroeër of later sou oorkom, en ek is dankbaar dit het my met so ’n dierbare mansmens oorgekom. Dit kon ’n ander dame gewees het, of ’n lelike, vet ou man of iemand wat my wou slaan en sê dit was mý skuld.”
“As hy baklei het of jou wou slaan, sou ek hom darem goed opgedons het!” sê Wynand dreigend.
“Jy sou nie daar gewees het nie, liefling.”
“Ek hou van die ‘liefling’, maar ek wil met jou stry. Ek sou doer op Witrivier aangevoel het daar is ’n mooi dame in nood en ek sou kom help het.”
“Ek weet jy sou. Dink jy dis genoeg toebroodjies?”
“Meer as genoeg. Ek hoop nie jy is van plan om ’n klomp ander mense saam te nooi nie?”
“Nooit nie! Wynand ...! Ek sien nou eers wat die bedrag op die tjek is! Jy hoef nie vir my ’n nuwe motor te koop nie. Al wat jy gedoen het, is om die agterste liggie uit te stamp en ’n ligte duikie in die kattebak te maak.”
“Koop dan maar bruidsuitset met die kleingeld. Kan ek die goed in hierdie mandjie pak?”
“Ja, maar dit is nie nodig om vir my soveel geld te gee nie. Ek kry nou bitter skaam.”
“Ek sou dit nie vir jou gegee het as ek dit nie kon bekostig nie. En ek gaan tog ook op die tafeldoeke eet en met die handdoeke afdroog wat jy gaan koop, nie waar nie?”
“Dit lyk na ’n lekker vleisbraai wat julle gehad het,” sê Marinda liggies.
“Dit was nie. As dit was, sou daar nie soveel bier oorgebly het nie. Bronkhorstbaai?”
“Of tot by die einde van die wêreld ... Ek sal enige plek saam met jou gaan.”
“Grootmond! Noudat sy weet daar is nie getuies nie. Sal jy daardie selfde woorde gebruik as daar ’n predikant by is?”
“Jy moet minder praat, liefling, en kyk waar jy ry. Netnou ry jy weer in ’n arme onskuldige motor in, of eindig ons weer in Edenvale ...”