Читать книгу Daar kom 'n tyd - Ettie Bierman - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk 3

3

“Hoekom het jy nog nie daardie verslae geparafeer nie en hoekom is daar sterre in jou oë?” wil Veronica teen teetyd Maandagoggend van haar vriendin weet.

“Raai?”

“Jy is verlief.”

“Korrek. Weet jy op wie?”

“Op W. Meiring.”

“Op Wynand Meiring. Hy is die mees fantastiese ou, Veronica. Ek het halsoorkop op hom verlief geraak, binne die eerste minuut nadat ek hom weer gesien het.”

“So gou? Dit sal oorwaai. Jy het net so oor Paul van Wyk gevoel nadat jy twee keer met hom uit was.”

“Nie net so nie. Ek sal nooit weer ’n ou so liefhê soos vir Wynand nie.”

“Dis gaaf. Maar wat sê hý van hierdie verliefdheid?”

“Hy het niks gesê nie. Net iets gevra.”

“Ek weet jy brand om my te vertel, dus: Wat het hy gevra?”

“Hy het my gevra om met hom te trou.”

“Met julle eerste afspraak?”

“Ons tweede. Ons was gister Bronkhorstbaai toe en terwyl hy met die seilbootjie op die water gesukkel het en die ding al wou omslaan, vra hy my om met hom te trou.”

“Hy moet baie oulik wees om ’n boot en ’n meisie gelyktydig te behartig.”

“Ek sê mos hy is oulik! Ons het nie in die water beland nie en ek het ja gesê.”

“Moes jy nie eers mooi daaroor nagedink het nie? Wat weet jy van hom af?”

“Ek weet dat hy breë skouers en blou oë het en die mooiste glimlaggie wat ek nog gesien het. Ek weet dat hy mooi bruin gebrande hande het en lang, smal vingers, en dat hy pragtig lyk in ’n baaikostuum, en ...” Marinda sien dat haar vriendin nie geamuseerd is nie. “’n Mens kan iemand baie gou opsom en leer ken, Veronica. Hy is aantreklik en sjarmant, maar hy is ook eerlik, opreg en betroubaar en hy sal ’n goeie man vir enige vrou uitmaak.”

“Is hy toe bestuurder van die motel?”

“Assistent-bestuurder. Sy broer Hugo is die bestuurder. Maar hy het ’n veertig-persent-aandeel in die Bosbok Motel en Hugo het sestig persent.”

“Klink of hy baie geld het.”

“Ek weet nie. Maar dit maak nie saak nie. Ek sou met hom getrou het al het hy skoorstene gevee.”

“Waar het hy soveel geld gekry om in ’n luukse motel te steek?”

“Hy was ’n handelsreisiger en was ’n jaar gelede in ’n motorongeluk betrokke. Sy been en rug is beseer en hy het ’n paar duisend rand kompensasie uit sy assuransie gekry en daarmee het hy en sy broer die motel begin.”

“Het die broer geen geld gehad nie?”

“Hugo het meer geld gestoot as Wynand, dié dat hy die beherende aandeel in die motel het. Hy het glo hulle familieplaas verkoop en met die geld wat hy gekry het saam met Wynand die Bosbok Motel begin.”

“Dit klink heerlik romanties. En nou gaan jy ná julle troue die koningin van die Bosbok Motel word? Of het hierdie Hugo ’n vrou?”

“Hy is nie getroud nie. Of Wynand sê hy ís, maar met die motel. Hy stel nie in meisies belang nie.”

“Wanneer trou julle?”

“Ons het nog nie op ’n datum besluit nie, maar dit sal in Desember wees.”

“Desember! Dis volgende maand!”

“Ek sien nie hoekom ’n mens moet wag nie. As ’n mens seker is, wil jy so gou moontlik jou lewe saam met daardie persoon begin.”

“Jy moet nog eers jou pa se toestemming kry.”

“Ek is oor een-en-twintig en my pa en ma sal in elk geval dadelik van Wynand hou. Ons gaan oor twee weke Lichtenburg toe sodat Wynand kan ouers vra.”

“Wat van sy eie ouers?”

“Hulle is nege jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede.”

“Jy sal natuurlik nie by Tania aanbly nie?”

“Dit sal ’n bietjie moeilik wees om elke dag van Witrivier af in te kom kantoor toe ... As jy nou klaar besware geopper het, wil jy saam met my gaan eet, sodat ek vir jou die grootste biefstuk kan koop en die grootste bottel vonkelwyn om die ontdekking van W. Meiring mee te vier?”

“Graag, dankie. Het hy vir die skade aan jou motor betaal?”

“Hy het vir my ’n tjek gegee waarmee ek byna ’n nuwe motor kan koop.”

“En vir die verkeerskaartjie?”

“Ek het hom nie daarvan vertel nie.”

“Hy klink na ’n vonds wat amper te goed is om waar te wees. Drink hy nie dalk nie, Marinda?”

“Net ’n paar biere gister en gisteraand ’n bietjie vonkelwyn. En dan drink hy seker op ’n partytjie ’n paar drankies, net soos enige normale mens. Hy het nie voete van klei nie, my vriendin.”

“Alle mans het, party net erger as ander. Wanneer gaan jy kennis gee by Tania?”

“Môre of so. Daar is nog ’n bietjie tyd.”

“Dan beter jy vandag daardie laboratoriumverslae deurwerk en parafeer. Deetlef Arends wil dit op sy lessenaar hê voor twee-uur vanmiddag.”

“Ek het nie lus vir werk nie. Ek sit aan Wynand en dink, ek sit en wonder hoe die motel lyk. Ken jy die Laeveld?”

“Ek ken net die pad reguit wildtuin toe.”

“Wynand sê hy spring dikwels ’n naweek weg soontoe, sodat hy van sy broer se tirannie kan ontsnap. Hy klink na ’n regte monster en ’n slawedrywer.”

“En jy gaan saam met so ’n man woon?”

“Ek gaan nie saam met Hugo woon nie. Dis met Wynand wat ek gaan trou, nie met sy broer nie. Hulle het elkeen ’n eie huis, kilometers van mekaar en in ’n lemoenboord. Die motel lê in ’n lemoenboord en as ’n mens soggens wakker word, ruik jy die geur van dounat lemoene deur die oop vensters. Klink dit nie lieflik nie?”

“Amper te goed om waar te wees. Sal jy ook ’n werk hê by die motel om te doen?”

“Wynand sê nee, sy vrou mag nie werk nie. Maar ek sal dalk aflos as ontvangsdame as hulle my nodig het.”

“Of dalk om ertappels in die kombuis te skil of skottelgoed te was. Hoe weet jy dis nie ’n armoedige en bouvallige ou motelletjie doer in die boendoes nie?”

“Ek het vuurhoutjies en skryfpapier en ’n pen met die Bosbok Motel se naam en embleem op in Wynand se motor sien lê. Dis ’n spogmotel en my oom het gesê dis ’n luukse plek. Jy soek spoke wat nie bestaan nie, my vriendin.”

“Ek wil keer dat my vriendin dalk seerkry.”

“Wynand is ’n eerlike ou. Ek het hom daardie Saterdagaand al goed uitgekyk. Ek is nie so tot oor my ore verlief dat ek my blind staar teen Wynand se foute nie, Veronica. My oë is wawyd oop en ek besef dat Wynand die man is aan wie ek my toekoms met ’n geruste gemoed kan toevertrou. Waarom is jy nie saam met my bly dat ons gaan trou nie?”

“O, ek ís bly en ek soek nie fout nie. Maar wat is die foute in Wynand waarvan jy netnou gepraat het?”

“Dis nie foute nie en dis maar die soort dinge wat ’n mens by enige jong ou kry. Miskien ry hy ’n bietjie roekeloos en miskien weet hy net ’n klein bietjie te goed hoe om ’n meisie te vlei en miskien ... is hy ’n bietjie te lief vir ’n drankie of twee. Maar dis nie belangrik nie en ek dink dis naar van my om hom so met jou te bespreek. Hy is ’n dierbare ding en hy verdien iemand beter as ek.”

“Jy is self ’n baie oulike persoon en dis nie nodig dat jy die eerste huweliksaansoek wat jy kry moet aanneem nie.”

“Wie sê dis my eerste huweliksaansoek?” lag Marinda, maar sy voel half vies vir Veronica. Die feit dat sy nie ook dadelik op hol is oor Wynand nie, neem ’n bietjie van die blink weg. Maar sy kan verstaan dat Veronica skepties is. Sy is nog steeds verbitterd oor daardie ou met wie sy drie maande lank uitgegaan het voor sy skielik by iemand gehoor het dat hy getroud is. Sodra sy ’n ander gawe kêrel het, sal sy weer positief teenoor die lewe ingestel wees.

“Nou ja, jy is nog nie getroud nie en nog steeds in diens van hierdie maatskappy, en ek stel voor dat jy daardie drome uit jou oë vee en ’n bietjie werk doen, anders het jy nie tyd om vir my daardie biefstuk en vonkelwyn te gaan koop nie.”

Wynand sit sy leë koppie senuweeagtig op die koffietafeltjie neer, skakel die televisie af, kyk pleitend na Marinda en maak keel skoon.

Maar Marinda is van kleins af ’n papbroek. Sy ken haar pa en sy is skielik bang. Haar oë pleit by Wynand dat hy moet verstaan en dan vlug sy kombuis toe, onder die gemompelde voorwendsel dat sy nog koffie gaan maak. Sy gaan staan by die wasbak en probeer na die stemme vanuit die sitkamer luister. Dis egter net ’n gebrom en sy kan niks uitmaak nie. Sy hoop nie Wynand maak ’n gemors van die ouers vraery nie. Netnou sê haar pa nee en wat gaan hulle dán maak?

Die melk kook naderhand op haar ma se silwerskoon stoof oor en die ketel kook asof hy betaal word en sy het die koppies al drie keer uitgevee en anders op die skinkbord gepak, en nog steeds kom Wynand haar nie haal nie. Sy is naderhand verplig om die koffie sitkamer toe te neem.

Wynand spring galant op en neem dit by haar, maar sy kan nie aan sy gesig wys word wat haar ouers se reaksie was nie. Haar ma is ook van geen hulp nie. Sy sit doodluiters en brei en iemand het blykbaar weer die televisie aangeskakel. Haar pa sit kalm die jongste rentekoerse met Wynand en bespreek, so asof daar nie pas om sy enigste dogter se hand gevra is nie.

“Wat brei Mamma?” vra Marinda met ’n onnatuurlik harde stem.

“’n Trui vir jou pa.”

“Ek kry nou ook skielik lus om te brei. Wynand, wil jy nie graag ’n handgebreide trui hê nie?”

Wynand is egter druk in gesprek met haar pa. Hy stem met alles saam wat haar pa sê en knik ernstig met sy kop. Ja, hy reken ook dat opbetaalde vastetermyn-aandele met ’n gewaarborgde rentekoers die beste belegging is wat die moderne man kan maak.

“Hoekom moet ons altyd na sulke dinge luister?” vra Marinda ergerlik. “Hoekom bring Pappa altyd die werk huis toe? Los tog die aandele en rente en dinge by die bank.”

Meneer Reynecke loer oor sy bril na sy dogter.

“En waaroor wil jý liewer gesels, Marinda?”

Dis ’n goeie opening wat haar pa vir haar laat, dog Marinda is te lafhartig om daarvan gebruik te maak. Dis in elk geval Wynand se werk om ouers te vra, nie hare nie.

“Ek dink sommer net aan Wynand, Pappa,” stamel Marinda. “Wie sê hy is in rentekoerse en dinge geïnteresseerd?”

“Enige persoon met meer as tien rand in sy besit moet in beleggings geïnteresseerd wees,” antwoord meneer Reynecke ferm. “Is dit nie so nie, Wynand?”

“Ja, oom, dit is so,” stem Wynand vurig saam en kyk nie na sy nooi nie.

Marinda is senuweeagtig en verveeld. Ná ’n ruk maak sy die koppies bymekaar, kyk veelbetekenend na haar aspirantman en tel die skinkbord op. Wynand, dierbare slim mansmens wat hy is, spring dadelik op.

“Gee vir my, Rinnie,” sê hy vinnig. Hy neem die skinkbord by haar en volg haar kombuis toe.

“En toe?” vra sy bekommerd. “Wat het my pa en ma gesê? Nee?”

“Ek het toe nooit gevra nie. Jy vlug dan weg en laat my alleen in die leeuhok. Daniël se moed het hom op die laaste nippertjie begewe. Kom saam met my terug sitkamer toe, dan vra ek.”

“Ek wil nie by wees nie ...”

“Jy het belowe om alle dinge met my te deel. Ek gaan nie vra as jy nie by is om te help nie.”

Marinda sluk moedig. “Nou goed dan. Maar jy moenie ’n gemors van die vraery maak nie. Jy moet mooi vra.”

Wynand stap tot in die middel van die sitkamer en bly dan hulpeloos staan. Marinda trek haar rok mooi netjies oor haar knieë en kyk afwagtend na hom. Hy skakel die televisie vinnig af, blaas sy neus ’n keer, maak keel skoon en stamel dan: “Oom en t-tannie ... Marinda wil iets vra ...”

“Is nie! Dis jý wat iets wil vra ...”

Meneer Reynecke kyk na die groot oë wat sy vrou vir hom maak en sit sy koerant neer.

“Wie wil wat vra?”

“Dawid!” sê sy vrou ergerlik en veelbetekenend. “Die kinders wil iets vra ...”

“Ek sien so. Daarom het ek mos my koerant neergesit en gevra wie wil wat vra.”

“Ja, maar Pappa het dit op so ’n snaakse manier gevra dat arme Wynand nou bang is om dit te vra!” roep Marinda ontsteld uit.

Haar pa kyk ondersoekend na sy dogter en na sy vrou.

“Bang is om wát te vra?”

“Oom, tannie ...” sê Wynand vinnig. “Ek wil graag met Marinda trou.”

Hy gaan sit verlig noudat die woorde uit is en snuit sy neus nog ’n keer. Hy glimlag vir Marinda en wag dan gespanne op haar pa se antwoord.

“Dit kan ek verstaan en dit kon ek sien die oomblik toe julle netnou hier aangekom het,” sê Marinda se pa. “Wat het jý te sê, Marinda?”

Nou kom dit na haar kant toe en Marinda besef dat sy vir Wynand moet help.

“Ek het Wynand lief en ek sal dit waardeer as Pappa toestemming gee dat ons mag trou,” sê sy stil.

“Maar hoe lank ken jy hom al?” wil haar pa weet. Dis die vraag waarvoor sy die bangste was.

“Ons ken mekaar al amper ses weke, oom,” antwoord Wynand die gevreesde vraag namens haar. Sy hoop dat die wit leuentjie hom vergewe sal word. Hulle ken mekaar nie van daardie aand af dat hy haar motor gestamp het nie. Haar pa weet ook nie eers hoe hulle ontmoet het nie – dít mag hy nie nou al weet nie. Eendag, so teen die doop van hulle vyfde baba, sal sy hom dit ewe terloops vertel.

“Ses weke is ’n bietjie kort, is dit nie?” frons haar pa.

“Ja, oom,” beaam die arme Wynand, net soos hy flussies alles oor die rentekoerse beaam het.

“Het jy my dogter lief?”

“Ja, oom.”

“Ek sal graag ’n bietjie met jou wil gesels voordat ek my toestemming gee. Marinda, gaan brei jy en jou ma iewers buite op die stoep, sodat ek alleen met Wynand kan gesels.”

“Ek het nie breiwerk nie, Pa!” roep Marinda verskrik uit. Die uitdrukking in arme Wynand se oë ... sy kan hom nooit alleen by haar pa los nie.

“Gaan sit dan solank steke vir ’n mou op en help jou ma brei. Daardie trui van my sal nie voor die winter klaar kom nie.”

Marinda ken haar pa en sy ken hierdie stemtoon van hom. Dis beter dat sy nie verder teëstribbel nie en saam met haar ma buite op die stoep gaan sit. Sy hoop die kruisverhoor duur nie te lank nie en dat Wynand nog lewe wanneer dit verby is. Dis dalk ook goed dat hy haar pa nie vroeër ontmoet het nie, anders het hy haar nooit gevra om met hom te trou nie ...

Marinda se ma en pa is nie vreeslik in hulle skik met die planne vir so ’n oorhaastige huwelik nie, maar hulle enigste dogter is so klaarblyklik verlief op Wynand en in die sewende hemel van geluk dat hulle nie haar vreugde wil demp nie. So op die oog af lyk hy ordentlik en eerbaar en hy is blykbaar ’n vermoënde man wat vir haar sal kan sorg en hulle lieflingdogter kan nie só ver uit wees met haar oordeel nie ...

Marinda soen haar pa, omhels haar ma en gryp Wynand styf om die nek. Die trane dreig om te kom en sy begrawe haar kop in sy skouer. Hy druk haar styf vas.

“Dankie, oom, tannie ... Ek sal goed wees vir u dogter en poog om u nooit teleur te stel nie. Ek sal na die beste van my vermoë vir Marinda sorg.”

Skielik is die ander drie ook bewoë en dis Marinda wat haar kop oplig en Wynand saggies van haar af wegstoot.

“Dis ’n huwelik wat bespreek word, nie ’n begrafnis nie,” probeer sy liggies sê. “Ons moet lag, nie huil nie.”

“Die huil kom agterna, ná die troue,” terg Wynand. “En dan gaan dit te laat wees. Dan is jy vas. Vir altyd en altyd.”

“Jy is baie kordaat, noudat die ouers vra agter die rug is en jy geweeg is en nie te lig gevind is nie!” spot Marinda.

Wynand maak asof hy sweet afvee.

“Ouers vra was moeiliker as om jóú te vra! Ons moet maar liewer nooit eendag skei nie, want ek sal nooit ’n ander vrou vat nie. Die ouers vra is te erg en het my amper van die troukoors genees!”

“Dis nou te laat om kleinkoppie te trek, ou matie! Nou is jy vas en jy beter goed wees vir my. Jy het nou gesien dat ek ’n kwaai pa het.”

Wynand is nog nie in staat om grappies oor pappa Reynecke, die bankbestuurder, te maak nie.

“Jy sal nooit jou hande in koue water hoef te steek nie,” terg hy sy toekomstige vrou. “Ek sal vir jou ’n primusstofie koop waarop jy die water kan warm maak. Hoe laat is dit? Amper twaalfuur? Kom ons ry gou dorp toe en gaan koop vir jou ’n verloofring!”

Marinda sien dat haar pa nie baie ingenome is met die oorhaastige ringkopery nie, maar sy is te opgewonde om veel ag daarop te slaan. Dis Wynand se geld en as hy vandag vir haar ’n ring wil koop, dan is dit sy saak.

“Het jy genoeg geld?” vra Marinda verleë toe hulle op pad dorp toe is. “Jy was seker nie van plan om hierdie naweek vir my ’n ring te koop nie.”

“Ek het ’n tjekboek met baie leë blaaie saamgebring,” antwoord hy. “Weet jy wat jou pa se grootste beswaar was?”

“Dat ons mekaar nog nie lank genoeg ken nie?”

“Nee. Dat ek nie my besigheid deur sý bankgroep doen nie! Daardie puntjie het my amper my vrou gekos.”

Wynand leun met sy elmboë op die toonbank en bekyk die ringe in die blou fluweelkassie voor hom en Marinda.

“Watter ring is vir jou die mooiste?”

“Hulle is almal mooi,” antwoord sy en vra dan onderlangs: “Min of meer hoeveel moet die ring kos, Wynand?”

“Nee, ék weet nie. Ek het nog nooit vantevore ’n verloofring gekoop nie. Julle vroumense bekyk die goed mos altyd in die vensters. Jy weet seker wat ’n verloofring moet kos.”

“Hou op om so moedswillig te wees. Ek wil nie voor die mense vir jou vra hoeveel geld jy bereid is om te spandeer nie.”

Dis vir Wynand vreeslik snaaks. Hy haal eers dié ring uit en dan weer daardie een en pas hulle almal aan haar vinger. Marinda raak baie verleë. Dis ’n moeilike posisie waarin sy haar bevind. Sy en Wynand moes buitekant bespreek het hoeveel hy bereid is om te betaal.

“Ee ... Ek dink ons moet eers ’n rukkie wag,” verduidelik sy vir die verkoopsdame.

Wynand is baie geamuseerd.

“Nee, as ons wag, wil jy dalk nie meer verloof raak nie. Kies ’n ring. Is hierdie al verloofringe wat u het, mevrou?”

“Ons het duurder ringe, maar dié word in die agterste brandkluis toegesluit.”

“Mag ons hulle sien, asseblief?”

Wynand gaan al op die ry af en pas elke ring aan Marinda se vinger. Dié wat te groot of te klein is, word teruggesit en die ander in ’n netjiese ry voor Marinda.

“Hierdie klomp pas almal. Al wat jy moet doen, is om een te kies.”

Marinda pas dié een aan en dan dáárdie een en tel heel laaste die een met die breë goue band en die twee reguit gesnyde diamante op.

Wynand neem dit uit haar hand en steek dit self aan haar vinger.

“Ek het geweet dit gaan hierdie een wees. Nee, moenie hom weer afhaal nie, nie eers as jy bad of hande was nie. Wat kos die ring?”

Die dame verwyder die pryskaartjie versigtig en sonder om die ring van Marinda se vinger af te haal, maar nie voor sy die ontsaglike prys gesien het nie. Sy probeer dadelik die ring afhaal, maar Wynand neem haar hand in syne en druk ’n soentjie op haar vinger. Dan skryf hy doodluiters ’n tjek uit. Marinda staan verslae langs hom. Is hy nie jammer om sy swaarverdiende geld so uit te gee nie? Sy sou met ’n veel kleiner diamant tevrede gewees het. Dis om aan hom verloof te wees wat tel, nie hoeveel karaat haar ring is nie.

Toe Wynand sy naam en adres agter op die tjek skryf, skud die ouerige dame glimlaggend haar kop.

“Dis nie eintlik nodig nie. Die dametjie ís mos oom Dawid Reynecke, die bankbestuurder, se dogter, nie waar nie?”

“Dis ék wat vir die ring betaal,” terg Wynand en neem die sertifikaat van waarborg by die dame. “Nie my skoonpa nie.”

Die verkoopsdame blyk ’n ou skoolvriendin van Marinda se ma te wees.

“Gaan julle tweetjies saam met jou ouers oorsee vir julle wittebrood?” verneem sy belangstellend.

“Nee, mevrou Botha, ons sal trou voor my pa-hulle vertrek en dan vir ’n week of twee see toe gaan,” verduidelik Marinda.

Daar is ’n oor en weer gelukwensery en groetestuurdery en dan staan Marinda buite op ’n sypaadjie in Lichtenburg, met ’n blinknuwe verloofring aan die vinger en met haar aanstaande aan haar sy.

“Dankie, Wynand, vir die mooiste ring wat ek in my hele lewe nog gesien het. Ek is jammer dat dit jou so baie geld gekos het.”

“Moenie die oomblik bederf deur van geld te praat nie. Ek wou graag vir jou ’n duur ring gekoop het ... Dis eenuur. Het ons tyd om voor ete gou ’n drankie te gaan maak en ons verlowing te vier? Hoe laat eet julle gewoonlik?”

“So twee-uur se stryk.”

“Is hier ’n hotel of iets naby?”

“Of iets, ja,” terg Marinda. “Wat het jy in gedagte gehad? ’n Padkafee en warmbrakke by die drankie?”

Net daar voor al die mense wat op ’n Saterdagoggend in Lichtenburg kom inkopies doen het, gooi Wynand sy arms om Marinda en soen haar lank en deeglik.

“Wat nou?” lig sy wenkbroue verbaas toe sy haar blosend uit sy arms loswoel en ’n paar treë retireer. “Mag ek nie my verloofde en toekomstige vrou soen nie? Gaan dit elke keer jou reaksie wees as ek jou soen? Jy sal dit baie gou moet afleer, anders trek ek jou oor my skoot.”

“Ek hoop nie jy kies elke keer ’n sypaadjie op ’n besige Saterdagoggend as jy my wil soen nie. Ek hoop my man gaan in die toekoms meer romantiese plekke kies om sy vrou te soen!”

“Wys vir die mense jou verloofring, dan sal hulle nie so staar nie,” raai Wynand haar aan.

Hulle stap die hotel se sitkamer binne en Marinda kyk nuuskierig rond. Sy kan die kere wat sy al in die hotel was op haar een hand se vingers tel. Haar pa is nie ’n man wat al ooit die tyd of begeerte gehad het om in hotelsitkamers te sit en drankies drink nie.

“’n Limonadebier, asseblief,” versoek Marinda ongemaklik.

“’n Mens vier nie iets met bier nie. Wil jy nie ’n whisky of ’n brandewyn drink nie?”

“Liewer nie, dankie. Netnou raak ek siek en dan is my dag bederf.”

“’n Klein botteltjie vonkelwyn en ’n dubbele whisky,” bestel Wynand by die kelner en glimlag verontskuldigend teenoor Marinda. “Ek het ’n dubbele whisky nodig ná daardie onderhoud met jou pa. Ek wil nooit weer in my lewe so ’n benoude uur deurmaak nie.”

“Wat het my pa jou alles gevra?”

“Jy sal eendag weet wanneer jy hoor watter vrae ek aan ons dogter se kêrel gaan stel as hy die vermetelheid het om my om ons dogter se hand te vra.”

“Was dit baie erg?”

“Erg, ja,” antwoord hy en slaan sy drankie in een teug weg. “Drink gou, dan is daar tyd vir nog een voor Daniël weer by die leeukuil moet aanmeld.”

“Jy laat my ma en pa soos twee outokrate klink.”

“Hulle is, maar minder so as my ouboet. Wag totdat jy hóm ontmoet het ... Jy gaan nog spyt wees jy het onder die Meirings in getrou. Jou vuurdoop lê nog voor, terwyl myne verby is. Wag tot ou Hugo met jou klaar is ... Jy sal nooit weer dieselfde wees nie.”

“Jy oordryf. Hoe kan jou broer so erg wees? Wat doen hy?”

“Hy dwarsboom alles wat ek doen, kritiseer my ...”

“Is dit die rede waarom julle nie stryk nie?”

“Nee, ons stryk nie omdat Hugo mý plaas besit het, mý nooi afgeneem het, mý lewe amper verongeluk het. Maar kom ons gesels oor meer aangename dinge en jy sal Hugo tog in elk geval nie ontmoet voordat ons getroud is nie. Ek sal jóú nie huis toe neem nie, want netnou moet ek jou ook aan hom afstaan.”

Wynand is ooglopend ontsteld en bestel vir hom nog ’n drankie voor hy verder praat.

“Ek sal eendag vir jou die hele geskiedenis vertel, nie omdat ek die meisie nog steeds bemin nie, maar sodat jy Hugo beter kan leer ken. Jy hoef nie bang te wees hy meng met ons huwelik in nie. As ek met ’n vrou daar aankom, sal hy dit eenvoudig net moet aanvaar, en bewaar sy siel as hy met my vrou rusie maak. Hy sal met mý te doen kry ... Ek is in elk geval oud genoeg om te trou met wie en wanneer ek wil.”

“Sal hy probeer keer as hy weet ons het trouplanne?” vra Marinda stadig.

“Nee, maar hy sal sê ek moes hom in die saak geken het.”

“Wat beteken dít? Dat jy sy toestemming moes gevra het?”

“Ek kan trou met watter meisie ek wil en hy kan my nie keer nie. Hy moenie dink ek is nog sy klein boetie wat geboelie kan word nie.”

“Het jy hom al ooit van my vertel?” vra Marinda op ’n ingewing. “Weet hy dat jy ’n meisie ontmoet het aan wie jy van plan was om verloof te raak?”

Wynand drink eers sy drankie klaar voordat hy antwoord.

“Hoekom moet ons hierdie dag bederf deur oor Hugo te sit en praat? Ek sien genoeg van hom gedurende die week om nie nog op die dag van my verlowing oor hom te praat nie. Kom, jou ma wag en jou pa sal vies word as ons so lank wegbly. Hou jy nog van jou ring?”

Marinda raak die koue diamant met bewende vingers aan.

“Ek sal nooit aan hierdie ring gewoond kan raak nie en ek sal altyd bang wees hy raak weg. Kan jy glo dat ons sowaar verloof is?”

“Ek sal dit nie glo voordat daar nóg ’n ring – ’n plat, goue ring – aan jou vinger pryk nie. Ek is nog altyd bang jy sê jy het ’n fout gemaak en dat daar ’n ander ou is van wie jy meer hou as van my.”

“Nooit!”

“Marinda, ás daar ooit so iemand is,” sê hy skielik dringend en baie ernstig, “jy sal dit dadelik vir my sê, nè?”

Dis asof daar ’n ysige windjie deur Marinda waai.

“Daar sal nooit so iemand wees nie. Maar dieselfde geld vir jou. As jy ooit eendag iemand ontmoet vir wie jy liewer word as vir my, sal jy dit ook dadelik vir my sê, nè? Ek sal jou nooit teen jou sin by my hou nie. ’n Mens se vryheid is kosbaar. Jy kan nooit ’n ander persoon volkome besit nie.”

“Ek wil van vandag af alles met jou deel. Jou trane, jou hartseer, jou vreugde, jou verdriet, jou blydskap ...”

“Hoekom val die klem meer op trane? Verwag jy om my eendag trane te laat stort?”

“Ek sal enigiets in my vermoë doen om jou hartseer en verdriet te spaar, my liefste. Maar daar gebeur soms dinge wat buite ’n mens se beheer is. En as dit gebeur, wil ek hê jy moet na my toe kom. Jy moet op my skouer kom huil en dan sal ek die seer wegsoen en ’n pleister opplak.”

Marinda se glimlag is skeef. Dis ’n nuwe Wynand hierdie, een wat sy nog nie teëgekom het nie. Dit raak ’n teer snaar aan om hom so ernstig te sien en sy neem haar voor om ’n goeie vrou vir hom te wees. Sy sal nooit iets doen wat hom sal seermaak of ongelukkig maak nie. Dis die hoogste eer wat ’n man ’n vrou kan aanbied – om haar te vra om sy naam te dra. En sy moet dit waardig wees en nooit iets doen wat hom hierdie dag sal laat berou nie.

“Daar sal nie seer wees nie en daar sal nie pleisters nodig wees nie. Al wat ek van die lewe vra, is om jou vrou te mag wees. Dan sal ek nooit ongelukkig of hartseer wees nie.”

Daar kom 'n tyd

Подняться наверх