Читать книгу 'n Man vir môre - Ettie Bierman - Страница 3

Оглавление

1

“Hy’s ’n buffel!” het een van die ander kandidate Cecilia vanoggend aan ontbyttafel by die gastehuis gewaarsku. “ ’n Arrogante vent wat met alles fout vind en jou soos ’n wurm laat voel.”

Cecilia wou omdraai en van die nuwe werk vergeet. Sy sou – as sy nie die geld desperaat nodig gehad het nie. As sy nie werkloos en so te sê dakloos op straat gesit het nie. Sy het ’n oordosis gehad van selfsugtige, verwaande mansmense. Meneer Melt Meiring kan in die dam spring vir al wat sy omgee, hy met sy kastige vyfsterhotel en al. Sy hoop die water is diep en vol barrakudas.

Maar waarvan gaan sy leef? Sy skrop liewer vloere of lewer pizzas af as om terug te krabbel na Steve en te erken sy sukkel, sy kan nie alleen die mas opkom nie. Dís wat hy wil hê – dat sy haar bedanking by Lugdiens moet terugtrek en hom soebat om haar terug te neem. Sodat hulle kan trou . . .

’n Rukkie lank sal dit goed gaan, en hulle sal selfs gelukkig wees. Dolverlief en in die agtste hemel, soos aan die begin . . .

Sy weet, want ’n man soos Steve verstaan hoe om die sjarmekrane oop te draai en met ’n meisie se hart te toor. Maar ’n sebra verander nie van strepe nie . . . Nie lank nie, dan sal hy weer oor die draad loer na groener weiding, en dan begin alles weer van vooraf. Die skok, die seerkry, die vernedering . . . Sy sien nie daarvoor kans nie.

Sy het haar skoolgeld betaal en haar les geleer. Dis tyd om op haar eie voete te staan en te wys sy kan sonder ’n man in haar lewe klaarkom. Maar om onafhanklik en selfstandig te wees, het sy ’n inkomste nodig; ’n blyplek en ’n nuwe werk . . . Hierdie pos waarvoor sy aansoek gedoen het, is ideaal. Sy kan nie nou druipstert omdraai net omdat die uitvoerende bestuurder ’n nare, ongeskikte vent is nie. Sy het haar laaste klompie spaargeld op petrol en verblyf by die gastehuis geblaas; as sy nou tou opgooi, was dit alles verniet en is haar selfvertroue aan flenters.

Haar ouma sê altyd: “Oë toeknyp en hou links verby – dis die veiligste.” En dis wat sy sal doen, besluit Cecilia toe sy by die luukse Mlala Lodge se parkeerterrein inry en haar motor parkeer – in die agterste ry, om nie met haar skedonk die blink Jaguars, Porsche’e en Mercedese aanstoot te gee nie.

Op die ergste kan die buffel sê sy is lelik, dom en onbekwaam. Dis nie die einde van die wêreld nie. Sy kan haar kop hoog hou, uitstap en die deur agter haar uit sy skarniere uit toeklap om haar beter te laat voel.

As sy nie die pos van skakelbeampte kry nie, kan sy hoor of hulle nie ’n kelnerin of skottelgoedwasser nodig het nie. Of wat van ’n croupier in die casino? Sy het al roulette en blackjack gespeel, en in Estoril ’n sak vol eskudo’s op die dobbelmasjiene gewen. Croupiers word goed betaal en kry ruim fooitjies.

Op dié positiewe noot stap Cecilia met die marmertrappe op en deur die glasdeure tot in die Mlala Lodge se foyer. Dit lyk soos ’n balsaal – die ene kristalkandelare en geëmbosseerde wynrooi muurpapier. Sy is dankbaar dat sy haar swart Armani-nommertjie vir die onderhoud aangetrek het, eerder as die denimpakkie wat sy oorweeg het. Die uitrusting lig haar ego uit die sak en as van die afgelope drie weke. Al word sy summier die deur gewys, kan sy haar in styl wip.

Sy bly ’n oomblik staan om diep asem te haal, haar kortgeknipte blonde krulle plat te vee en haar gedagtes te fokus. Dan stap sy na die inligtingstoonbank by ontvangs. “Ek het ’n afspraak met meneer Meiring, vir ’n werksonderhoud. My naam is Louw. Cecilia Louw.”

“Louw?” Die meisie raadpleeg ’n lys name. “Nege-uur?”

“Dis reg, ja.”

“Goeiemôre, juffrou Louw. Welkom by Mlala! Onderhoude word in die raadsaal gevoer, op die vyfde verdieping. Die hysbakke is reguit aan, teen die oorkantste muur.”

Výfde verdieping? Cecilia wens dit was laer, op grondvlak.

’n Breedgeskouerde ou met sjampanje-oë, ’n erg soenbare mond en ’n kuiltjie in sy ken vertoef by die toonbank, bekyk haar op en af en stap dan verby. Die soort man wat in die ou dae – vóór Steve de Villiers – welkom sou gewees het om sy hemp in haar kas op te hang. Sy sou dit selfs gewas en gestryk het, en die volgende oggend vir hom koffie en Weet-Bix in die bed geneem het . . .

Maar daardie dae is verby, vergete en begrawe. Sy val nie twee keer uit dieselfde boom nie. Na dese dink sy met haar kop, nie met haar hormone nie.

Toe Cecilia by die hysbakke kom, staan dieselfde ou daar en wag. Sy het voorheen net die skouers en gesig opgelet; nou sien sy die langerige goudbruin hare en formele donker pak klere. En toe hy die knoppie druk, sy mooi hande – sterk en breed, met groot kneukels en sensitiewe vingers. Hande wat ’n rugbybal sal kan vasvat, maar ook ’n meisie se hart, terwyl dit onstuimig klop. Hande wat kan streel en liefkoos en weet hoe om te koester . . .

Asof hy haar takserende oë op hom voel, draai hy onverwags sy kop. Hul oë ontmoet, en dis Cecilia wat eerste wegkyk terwyl ’n verleë blos haar wange kleur. Sy kruip in ’n hoek in as die man moet weet wat deur haar gedagtes gaan.

Toe die hysbakdeure oopskuif, staan hy hoflik opsy sodat sy eerste kan instap. Hy is so naby, sy kan sy naskeermiddel ruik. Muskusgeur . . .

Sy duim mik na die ry knoppies teen die paneel. “Vyf?” vra hy met ’n geamuseerde glimlag.

“E . . . ja . . .” Haar stem klink hees. “Vyfde vloer, ja,” herhaal sy in ’n fermer stem.

Die deure gly toe en die hysbak begin beweeg. Cecilia is vies vir haarself. Genade, sy is agt en twintig, nie sestien nie. Wat staar sy die man aan, en stamel en stotter? Sy wat haar voorgeneem het sy is klaar met mans. Sy is selfstandig en onafhanklik, en van nou af kom haar loopbaan eerste.

Die man kyk met verskerpte aandag na haar en dit lyk asof hy iets wil vra, maar net toe ruk die hysbak en sleep tot stilstand. Dit kantel effens en dis asof die vloer skielik onder hul voete wegsak. Die buislig teen die dak flikker aan en af, voordat dit uitdoof.

Cecilia stut haar teen die reling om nie haar balans te verloor nie. Sy hou nie van hysbakke nie en probeer hulle vermy, want sy raak gou benoud in ’n beknopte ruimte. As dit twee of drie verdiepings was, sou sy met die trappe opgeklim het, maar vyf stelle trappe is bietjie baie, veral in die Laeveld, in die hart van die somer. Sy wou nie uitasem en natgesweet vir die onderhoud opdaag nie.

Iets ritsel naby haar en sy voel ’n beweging teen haar gesig. Haar eerste gedagte is vlermuise of ’n spinnekop . . . Sy skrik en ruk weg.

“Toe maar, juffrou, dis net ek,” sê die man gerusstellend. “Ekskuus as ek jou laat skrik het. Ek wou net voel of jy darem nog op jou voete is. Het jy seergekry?”

Sy skud haar kop, besef dan dat hy nie kan sien nie. “Nee. Nee, ek makeer niks.”

“Dis net ’n kragonderbreking, iets wat gereeld op Nelspruit gebeur. Moenie jou ontstel nie, dit sal gou weer regkom.”

Hy klink gaaf. Simpatiek. “Ek het nege-uur ’n belangrike afspraak,” sê Cecilia bekommerd. “En ek wil nie laat wees nie.”

“Al die hysbakke staan. Die mense sal bewus wees daarvan.”

“Die persoon wat ek moet gaan sien, sal dit nie in ag neem nie.”

“Nie?” Hy klink verbaas. “Hoekom nie?”

“Hy is glo baie onredelik.”

“Hoe so?”

“Hulle sê hy is ’n regte buffel.”

Hy lyk verbaas. “Wie sê so?”

“Almal weet dit. Hy is glo ook arrogant.”

“Ek is jammer . . .”

“Dis nie jou skuld nie.”

Die gesels het gesorg dat Cecilia se aandag afgelei word. Maar toe hy stilbly, word sy opnuut bewus van die beknopte ruimte om haar. Die donker maak dit erger. Versmorend . . .

Bly kalm, maan sy haarself. Fokus en bly gemotiveerd. Tel stadig tot by vyftig. Of sing, enige liedjie wat sy ken, net om haar gedagtes besig te hou. Dit gebeur gereeld, en die krag sal gou weer aankom, het die man gesê. Dit klink of hy weet waarvan hy praat; hy bly seker gereeld in die hotel oor. Gou beteken nóú-nóú. Binne vyf tellings. Of tien. Of twaalf. Nie meer as vyftien nie . . .

Op twintig skop ’n flou noodlig teen die plafon in. Die blouerige, spookagtige skynsel help teen die donker, maar nie vir Cecilia se kloustrofobie nie. Sy kyk om haar rond: na die plafon bokant haar kop, wat lyk asof dit al laer afsak, en na die vier mure wat voel asof hulle binnetoe leun, oor haar gaan vou en haar versmoor. Haar oë soek na ’n gleuf, ’n rooster, ’n skrefie of iets waarop sy kan konsentreer en haarself wysmaak dis ’n opening wat na buite lei.

“Met moderne tegnologie is daar ’n noodrem as veiligheidsmeganisme ingebou,” sê die man langs haar, asof hy haar vrees kan aanvoel.

Sy is dankbaar sy is nie alleen in hierdie beklemmende hokkie vasgekeer nie. Alleen sou erger gewees het. Hoe hoog hang hulle in hierdie skag? En wat gebeur as die noodrem nie werk nie?

Die kabel ruk weer. Cecilia druk ’n vuis teen haar mond, haar oë paniekbevange. Sy het altyd in haar agterkop geweet dat so iets eendag met haar gaan gebeur . . . Onbewustelik het sy ’n voorgevoel gehad, dis waarom sy hysbakke sover moontlik vermy.

“Is daar nie ’n noodknoppie wat ons kan druk nie? Of kan ’n mens dalk hulp ontbied met ’n selfoon?” vra sy.

“Ek het reeds die alarm geaktiveer. Ons moet maar net geduldig wees.”

Hoekom moes dit juis vandag gebeur het? wonder sy moedeloos. Terwyl sy ’n nuwe begin gemaak het en ’n gunstige eerste indruk wou maak op ’n toekomstige werkgewer? Terwyl haar weerstand laag is en sy na Steve verlang? Steve sou geweet het hoe om haar te kalmeer en van haar kloustrofobie te laat vergeet. Hy sou haar vasgehou en getroos het, of ’n grap gemaak het om haar te paai. Hy kon haar altyd laat lag, selfs al was sy depressief, dood op haar voete of lus om te huil. Steve sou geterg het dat sy mos nog altyd saam met ’n sexy hunk alleen op ’n verlate eiland gestrand wou wees. ’n Hysbak is nou nie heeltemal ’n tropiese eiland met wuiwende palms en uitgestrekte strande nie, maar tweedebeste is darem beter as niks . . .

Maar Steve is nie hier nie en hy het haar nie meer lief nie. Sy is op haar eie.

Toe die noodlig ook flikker en uitdoof en die donkerte soos ’n versmorende kombers oor haar spoel, verloor sy kop. Sy kan nie logies dink nie en tas om haar rond asof sy die duisternis kan besweer – ruimte kan skep en ’n opening na buite vind.

“Engtevrees?” vra die stem langs haar.

Sy kou aan haar onderlip. “Ja.”

“Konsentreer op iets anders. Probeer om nie daaraan te dink nie, dan sal dit verdwyn,” gee hy raad.

Al wat verdwyn, is die reling waarteen sy haar netnou gestut het. Dis opeens nie meer agter teen haar rug nie . . .

In haar paniek soek Cecilia desperaat na ’n stukkie realiteit – na iets om haarself te oriënteer. Eers voel haar vingers net die satynafwerking teen die hysbak se wand, dan ’n growwer soort materiaal, met riffels en ’n wollerige grein. Sonder dat sy registreer wat dit is, het die aardsheid daarvan ’n kalmerende uitwerking op haar.

“Dis nie so erg nie, jy sal dit oorkom,” gesels hy. “Dink aan lekker dinge: nartjies gooi by ’n rugbywedstryd, gesmelte sjokolade van jou vingers aflek, jou kêrel vashou tydens ’n rillerfliek . . .”

Sy hoor die klanke sonder om die woorde in te neem. Koue rillings trek deur haar en sy klou aan die growwigheid vas, aan die substansie daaragter, die gerusstellende warmte daarvan. Die sensasie van veiligheid verskerp toe ’n hand kalmerend oor haar skouer vryf. Sy voel ’n wollerigheid wat teen haar kaal boarm skuur – ’n baadjiemou?

Haar verstand is dof. Die bietjie konsentrasievermoë wat oor is, fokus daarop om haar histerie onder bedwang te hou. Soos ’n drenkeling in ’n stormsee reik sy na die arm bokant die hand. Bang dat as sy dit los, verswelg die duisternis haar en sleep haar die dieptes in . . .

Die arm trek haar beskermend nader, teen ’n breë bors vas. “Toe maar, jy is veilig. Niks gaan gebeur nie. Daar is niks om voor bang te wees nie . . .”

Onder haar wang voel sy die sterk, reëlmatige hartklop, dan ’n warm asem naby haar gesig. Daar is ’n fladderende aanraking teen haar voorkop – liggies, soos dié van ’n skoenlapper se vlerke.

Cecilia is ’n enigste kind, wat altyd ’n broer of suster begeer het. Die gewaarwording wat sy ervaar, is dié van ’n ouboet wat sy sussie troos nadat sy van haar fiets afgeval het of haar toon teen ’n klip gestamp het. Sy voel geborge, asof sy ná ’n lang swerftog tuis gekom het. Dis ’n natuurlike reaksie om haar arms om sy nek te sit en hom ’n druk te gee – soos ’n suster, om te wys sy is lief vir hom.

Skielik ontstaan ’n oneweredigheid in die hartritme onder haar wang. ’n Effense pouse, asof die hart ’n klop oorslaan en dan versnel. ’n Tweede arm kom by om haar stywer vas te hou. Die greep om haar rug vervat en verander in ’n omhelsing wat glad nie broederlik voel nie. Sy herken die growwe riffels van die baadjiemou en besef dis sy lyfhitte wat deurslaan deur die materiaal. Terselfdertyd dring dit tot haar deur dat sy soos ’n rankplant vasklou aan ’n man wie se naam sy nie eens ken nie.

Sy weet sy behoort hom weg te stoot. Sy laat nie wildvreemde mans haar sommer gryp en vashou nie. Veral nie in die donker nie . . . Sy is ’n ordentlike, betaamlike meisie, skaam en op haar plek. Almal goeie, logiese redes. Behalwe dat sy nie op hierdie tydstip ordentlik en betaamlik voel nie.

Haar kop duisel en die werklikheid vervaag. Sy vergeet waar sy is, vergeet haar vrese en benoudheid. In haar ore klink die dreuning van branders en die suising van die wind deur die palmbome. Die wêreld om hulle is ver weg en dis net hulle twee, hy en sy, alleen in ’n kokon op ’n verlate tropiese eiland . . .

Die vloer onder haar voete beweeg, maar Cecilia bly droomverlore in sy arms staan. Sy verbeel haar die vloer wat kantel, is ’n bootjie wat heen en weer in die golwe wieg . . .

Toe iemand naby haar oor kug en ’n keer keel skoonmaak, kom sy ru terug aarde toe. Haar oë vlieg oop en sy kyk in twee vreemde, half deurskynende oë vas. Eers frons sy, onseker oor waar sy is en wat gebeur het. Dan, toe sy die hysbak sien, tref die realiteit haar. Die krag het ingeskop; die suising was die buislig teen die dak. Dit was nie branders en ’n bootjie in die deining nie – dit was die hysbak wat begin beweeg het.

Met ’n skok besef sy hulle is op die vyfde verdieping. Die hysbakdeure het oopgeskuif, en buite in die gang staan mense wat haar nuuskierig aanstaar.

Cecilia verstar. Waar was haar kop? Skoon mal en op ’n ander planeet . . . Sy kan dink hoe dit moet lyk: verstrengel in ’n omhelsing soos twee verliefde seekatte – sy en hierdie man wat sy van geen adamskant ken nie!

Sy laat haar arms sak en ruk haar los, pienk van verleentheid.

“Ek is jammer . . .”

“Ek is nie.” Hy knipoog en tik met sy wysvinger op die punt van haar neus. “Dit was baie aangenaam – ons moet eendag weer so maak.”

Hy draai weg, vleg tussen die mense deur en verdwyn.

Cecilia verwens hom. Tipies mansmens om die pad te vat en haar alleen in die gemors te los. Sy wens sy kan die knoppie druk sodat die deure kan toeskuif. Met soveel waardigheid as wat sy bymekaar kan skraap, trek sy haar skouers waterpas, lig haar ken en stap kop omhoog uit in die gang.

Sy glimlag fyntjies vir die kring starende agies. “Jammer, mense, dis al vir vandag! Die vertoning is verby.”

Agter haar giggel iemand, maar Cecilia kyk nie om nie. Sy loop net doelgerig in die gang af op soek na ’n kleedkamer waarin sy kan ontsnap.

'n Man vir môre

Подняться наверх