Читать книгу 'n Man vir môre - Ettie Bierman - Страница 6

Оглавление

4

As Cecilia gedink het gister was soos Vrydag die dertiende, kom sy agter Saterdag die veertiende is erger. Sy lê op die sitkamerbank, hare deurmekaar, sonder grimering en nog met die uitgerekte ou sweetpak aan, toe daar ’n klop aan die voordeur is.

“Wiessit?” fluister Vera. “Assit Robert is, sê ek’s uit saam met Charl.”

Cecilia druk haar oog teen die loergaatjie. Wens dan sy het nie.

“Cilla?” roep Steve aan die ander kant. “Ek kan sien jy’s daar. Maak oop, ek wil met jou praat, asseblief.”

Sy blokkeer die gaatjie met haar vinger en druk haar mond teen die deur. “Loop praat met Nadine Groenewalt! Sy sal dit meer geniet as ek.”

“Ek wil nie met Nadine praat nie, ek wil met jóú praat.”

Agter Cecilia skud Vera haar kop. “Nee. Moenie weer sag word nie . . .”

“Nee!” eggo Cecilia. “Ek wil nie weer jou leuens en ver­skonings hoor nie. Ek en jy is klaar. Oor en verby, vir altyd.”

“Ek kan nie hier buite staan en ons privaat besigheid aan die mure en die bure uitbasuin nie,” pleit hy.

“Juis. Dis hoekom ek sê jy moet loop. Loop trou met Nadine. Ek is mos nie goed genoeg vir jou nie. Jy wou haar mos hê . . . Gaan vat haar!”

“Ek wou haar nie hê nie.”

“Waarvoor het jy dan saam met haar in die bed geklim?”

“Ek het nie. Cilla, ek het jou twintig keer gesê: Dis nie soos dit gelyk het –”

“Ek wil dit nie één en twintig keer hoor nie!” praat Cecilia hom dood.

“Laat ek asseblief klaar praat!” Steve was verbasend geduldig, maar sy kan hoor hy begin kwaad word. “Gee my ’n kans, en hou op om soos ’n prima donna tekere te gaan oor ’n nietigheid.”

“ ’n Maand voor ons troue betrap ek my aanstaande man saam met ’n ander vrou, en jy noem dit ’n nietigheid?” Haar stem is skril.

“Niks het gebéúr nie. Ek kan verduidelik . . .”

“Dis wat al die mans sê wat uitgevang word: ‘Ek kan verduidelik, dis nie soos dit gelyk het nie.’ Dis só ’n afgesaagde verskoning, ’n aap kan ’n beter een uitdink. Wat was jou storie nou weer? Nadine het kastig flou geword en jy was besig om kunsmatige asemhaling op haar toe te pas . . . Verwag jy ek moet dit gló?”

“Ek het nie gesê sy het flou geword nie.”

“Naar of duiselig, of wat ook al . . . Wat’s die verskil? Feit bly: dit was nie nodig om haar in jou kamer, in jou bed te sit nie. En dan nog boonop ewe snoesig saam met haar onder die komberse in te klim . . . Jy het die sedes van ’n straatkat. Ek raak nie weer aan jou nie, nie eens met rubberhandskoene nie!”

Dit was ’n woeste tirade. Aan die einde daarvan wonder Cecilia of sy te ver gegaan het. Steve het baie deugde, maar lankmoedigheid is nie een van hulle nie. As hy die dag kwaad word, is dit beter om uit sy pad te bly. Soos nou . . . Dis ’n hoogs ontstoke man daar buite, en sy is bang vir die gevolge.

Die arme voordeur het niks gedoen om Steve se gramskap te verdien nie, maar moet nogtans die ontstoke kaptein se vuis ontgeld. ’n Pyn flits tot bo in sy elmboog toe Steve se kneukels die kosyn tref. Maar dit dien om hom te laat afkoel.

Cecilia Louw is ’n verbrands komplekse vroumens. Dierbaar, pragtig en onweerstaanbaar. So sag en vroulik, jy wil ’n pienk lint om haar draai, haar op ’n bed van roosblare neerlê en aarbeie uit haar naeltjie eet . . . Maar vryf haar verkeerd op, en jy het ’n weerafleier nodig teen die donder en blitse. Mooipraat help nie. Jy moet soos ’n matador in ’n stiergeveg die bul by die horings pak . . .

“Steve?” vra Cecilia agterdogtig, toe dit te lank stil is buite in die gang. “Steve, wat maak jy?” Dis nie in sy aard om so maklik oor te gee nie. Sy luister of sy voetstappe hoor, maar dis spitstyd en die verkeer raas te veel.

“Hy’t sy uniform aan,” sê sy vir Vera. “Seker op pad lughawe toe – die sewedagse Las Palmas-Lissabon-vlug.”

“Jy onthou goed,” antwoord Vera.

Ja, omdat sy wat Cecilia is op daardie selfde vlug sou gewees het. Omdat hy lank terug al met ’n ander bevelvoerder vlugte geruil het sodat hulle saam kon vlieg. Hulle wou Algarve toe gaan en ’n seilbootjie in Cascais huur om al langs die kus mee te vaar; heeldag op die dek lê en sonbrand, snorkelduik en swem. ’n Dubbelslaapsak koop en die nag aan boord deurbring. Net hulle twee, die Atlantiese Oseaan en die sterre . . .

Dis soos ’n fisieke pyn wat deur haar lyf skeur. Cecilia kruis haar arms teen die koue vakuum in haar binneste. Was sy nie dalk oorhaastig nie? As mens iemand liefhet, moet jy bereid wees om sewentig maal sewe keer te vergewe.

Steve is ’n aantreklike man, en dis logies dat ’n nuwe waardin, op haar eerste internasionale vlug, haar flikkers vir die sjarmante kaptein sou gooi. Hy is net ’n man van vlees en bloed, en Nadine het hom verlei. Dis nie te sê dat hy sou geswig het en toegelaat het dat dinge te ver gaan nie. Dalk het sy te vinnig geoordeel.

Maar wat as hy miskien kop verloor het? Sy het geen waarborg dat daar nie in die toekoms weer so iets sal gebeur nie; dat daar nie ’n ander Nadine in ’n ander hotelkamer sal wees nie. Kan sy met ’n man trou wat sy altyd sal wantrou? Aan sy hemde ruik of daar ’n parfuumgeur agtergebly het, of dalk ’n foonnommer in sy sak?

Vera kyk op haar horlosie. “Vlug JA 515? Steve sny dit fyn. Hy sal moet wikkel om betyds op die lughawe te wees.”

“Dis hoekom hy daardie laagvlieënde Mirage gekoop het. Dit halveer sy rytyd lughawe toe.”

“Wat doen hy met die tien minute wat hy spaar?” vra Vera sinies. “Speel Speedy Gonzales en kry ’n vinnige ekstra vrytjie met ’n ander vroumens in?”

“Vera!” keer Cecilia. “Dis aaklig van jou! Net omdat jy destyds ’n bloutjie geloop het, beteken dit nie alle mans is sleg nie.”

“Word groot, Ciel. Steve is ’n blink Stefaans wat sal vat wat vir hom aangebied word, en ’n trouring sal hom nie keer nie. Hoe gouer jy dit besef, hoe gouer kan jy hom vergeet en aangaan met die res van jou lewe.”

Cecilia weet sy bedoel dit goed, maar dit was onnodig koelbloedig. Of was dit skokterapie omdat Vera vermoed sy gee nog vir Steve om? Sy gaan staan by die venster om te kyk of sy swart Porsche op die snelweg verbykom. Miskien as sy weet hy is landuit, agtduisend kilometer weg, met die hele Afrika-kontinent tussen hulle, sal dit makliker wees om hom te vergeet.

Agter haar klink ’n krapgeluid by die voordeur op, maar sy steur haar nie daaraan nie. Dis ’n ou gebou en die deur is lendelam. Seker ’n suidewind wat opgesteek het en dit laat ratel. Of die buurkinders se foksterriër, aan’t bedel vir ’n been nadat sy hom nou die aand gevoer het.

Die krap verander in ’n skuurgeluid, gevolg deur ’n klik van die Yale-slot. Die volgende oomblik stap Steve in, ’n kredietkaart en ’n knipmes in die hand.

Cecilia swaai om. Haar mond hang oop en sy staar hom verstom aan. Dan begin sy retireer, sodat die koffietafel tussen hulle is.

Vera besef haar vriendin is nie veel werd nie en dat sy die leiding sal moet neem.

“Jy het ingebreek!” beskuldig sy Steve. “Ons kan jou laat arresteer vir skending van ons privaatheid, onwettige betreding en beskadiging van eiendom. Dis teen die Grondwet!”

“Veratjie,” paai Steve, “het iemand al ooit vir jou gesê jy ooreis jou stembande?”

Hy skud sy hand en suig aan sy kneukels. “Die deur het nie skade gekry nie. Die Yale kan nog sluit – vir wat dit werd is.”

Vera hou haar hardgebak. “Jy kan nie sommer hier inmar­sjeer asof die plek aan jou behoort nie!”

“Drastiese situasies vereis drastiese maatreëls. Cilla weier om met my te praat. Sy maak nie oop nie, antwoord nie haar foon nie en reageer nie op boodskappe nie. Wat anders kon ek doen?”

“Jy kon getrou aan haar gewees het, in plaas van haar met ’n goedkoop flerrie te kul!” beskuldig Vera hom.

“Ek het Cilla nie gekul nie.”

“Wat het daardie Nadine dan in jou kamer gesoek?”

Steve sug moedeloos. “Dis wat ek probeer uitklaar, as iemand my sal toelaat . . . Vriendskap is ’n goeie ding, maar ’n goeie ding word ’n slegte ding as jy dit oordryf.” Hy druk die kredietkaart en knipmes in sy sak en haal ’n geldnoot uit. “Hierso . . . Gaan koop vir jou ’n hamburger of parfuum, wat ook al die langste sal neem.”

Vera ignoreer die geld. “Ek laat my nie omkoop nie. Kry asseblief die boodskap, kaptein Casanova: Cecilia is klaar met jou. Sy het ’n ander kêrel, standvastiger as jy, en met meer integriteit in sy pinkie as jy in jou hele lyf.”

Steve se oë flikker. Vir ’n oomblik lyk hy onseker, maar hy laat hom nie van stryk bring nie. Hy skud weer die geldnoot. “Gaan koop dan ’n nuwe deurslot. Ek sal hom kom aansit as ek terug is. Dié een is niks werd nie. As ek met ’n stuk plastiek die Yale kon oopkry, kan enige skelm met ’n skroewedraaier dit doen.”

“Ek gaan Cielie nie alleen los nie,” stribbel Vera teë.

Steve bedwing homself. “Bly uit ons sake, Vera. Dié ding is tussen my en Cilla, en dis beter as ons dit oplos sonder die inmenging van ’n derde persoon.”

Hy druk die noot by die hals van haar rok in, draai haar regsom en marsjeer haar voordeur toe. “Moet nou nie moeilik wees nie. Ek sal in Frankfurt vir jou ’n schnitzel koop, of paella in Madrid. Wat ook al jy wil hê.”

Vera hou aan die kosyn vas. “Ek kan my eie kos koop.”

“Ek weet. En daar’s stringe kêrels wat toustaan om jou vir ete uit te neem. Met reg, want jy’s ’n oulike bloeiseltjie, en as ek nie verloof was nie, het ek self vir jou geval. Maar asseblief, skattebol, loop nou en moenie gou terugkom nie. Dis vir Cilla se eie beswil dat jy ons kans gee om die saak uit te stryk. ’n Kwartier is nie te veel gevra nie, of hoe?”

Cecilia weet wat die resultaat sal wees. Min meisies is bestand teen Steve as hy die sjarmekrane oopdraai, ondanks hul beste voornemens. “Vera, bly hier! Ek wil nie met hom praat nie,” keer sy. “Daar’s niks meer om te sê nie.”

Vera stap deur toe. “Ek weet. Maar jy kan nie aanhou weghardloop nie, Ciel. Een of ander tyd moet julle twee hierdie ding finaal begrawe, al is dit net om die hoofstuk in jou lewe af te sluit en die boek toe te maak. Dis nie dat ek jou drop nie – ek gaan nie ver weg nie, en ek het my sel by my. Bel as jy my nodig het, ek sal dadelik kom.”

Vera is reg, besef Cecilia toe sy uit is. Weghardloop is lafhartig. Sy het van meet af geen verweer teen Steve gehad nie; hy kon haar moeiteloos om sy pinkie draai. Sy het soos ’n jellievis vir hom geswig en al sy stories gesluk: hoek, lyn en sinker. Maar genoeg is genoeg. In hierdie nuwe fase van haar lewe is dit tyd om vas te skop en haar man te staan.

Steve trek vir haar ’n stoel by die eetkamertafel uit. “Kom sit, asseblief. En luister – objektief en sonder om my in die rede te val.”

“Jy het nie tyd vir sit nie; jy moet ry.”

“Cilla,” sê hy afgemete, “sal jy maak soos ek sê?”

Sy kies haar eie stoel aan die oorkant van die tafel en neem stelling in op die voorste puntjie, haar rug regop en ontoegeeflik. “Hoe voel jou hand?” wil sy weet.

“Dis nie belangrik nie.”

“Jy kan nie só gaan vlieg nie. Dit bloei. Moet ek dit ontsmet en ’n pleister opsit?”

“Nee,” keer hy ongeduldig. “Ek sal op die lughawe iets kry.”

Hy gaan sit oorkant haar, leun met sy elmboë op die tafel en kyk na haar met ’n soort uitdrukking wat sy nie kan peil nie. Is dit frustrasie? Moedeloosheid, gemeng met ’n onverwagte tikkie weemoed?

As hy aan haar raak, aan haar hand of haar arm, of selfs net glimlag, gaan sy hom alles vergewe – vir hom sê dit maak nie saak as hy ander nooiens het nie, solank hy háár ook liefhet. Al is dit net ’n bietjie, solank daar vir háár ook ’n plekkie in sy hart oorbly . . . En dan haarself agterna haat oor haar swakheid en gebrek aan selfrespek.

Om een of ander rede dink sy skielik aan Melt Meiring. Omdat dit ’n soortgelyke situasie was oor die breedte van ’n tafelblad en hy haar ook so half peinsend aangekyk het? wonder sy.

Of is dit omdat hy vanaf daardie heel eerste oomblik in die foyer dieselfde uitwerking op haar gehad het as toe sy Steve die eerste keer ontmoet het? ’n Instinktiewe bewustheid, ’n vooraf wete dat hierdie man diep spore in haar lewe en in haar hart gaan trap. Haar hart het met Melt ook teen haar ribbes gefladder, soos ’n duif wat wou uitkom. Wou vlieg – die wye bloutes in, al wag daar stormwinde wat hom van koers af kan dryf . . . ’n Wilde sensasie wat ’n tinteling deur haar laat bruis het, maar terselfdertyd ook waarskuwingsklokkies in haar onderbewuste laat lui het.

Die kans is goed dat sy Mlala Lodge nooit weer sal sien nie. En dis seker beter so. Soos dit dalk ook beter sou gewees het as sy daardie fatale Maandagaand na Jupiter of Mars sou kon vlieg – of enige ander plek behalwe Las Palmas, op dieselfde Boeing 747 as die onweerstaanbare kaptein Steve de Villiers.

'n Man vir môre

Подняться наверх