Читать книгу 'n Man vir môre - Ettie Bierman - Страница 4

Оглавление

2

By die ry wasbakke buk sy om koue water op haar gesig te spat en tot verhaal te kom. Dit was ’n nagmerrie-ervaring wat nog lank by haar sal spook, en tog het sy in ’n mate haar fobie oorkom. Die benoudheid was skrikwekkend en sy sal die angs nooit vergeet nie, maar sy sal in die toekoms met meer selfvertroue in ’n hysbak klim. Sy is trots op haarself, behalwe vir die einde van die episode . . .

Mense wat nie aan kloustrofobie ly nie, verstaan nie hoe erg dit is nie. Dis ’n siekte, en geen pille help daarvoor nie. Die man moes nie gelag en met haar fobie gespot het nie. Hy het van haar weerloosheid misbruik gemaak en die situasie uitgebuit. Hy dink seker sy is ’n los meisie wat aanlê by al wat broek dra. Sy hoop nie sy loop hom weer raak nie, want sy sal te skaam wees om hom in die oë te kyk.

Haar onderhoud! besef sy en kyk op haar horlosie. Soveel het intussen gebeur dat dit soos ’n leeftyd voel. Maar sy is genadiglik net ’n kwartier laat. Die hotelpersoneel sal van die kragonderbreking weet, en meneer Meiring kan nie so ’n monster wees om haar te blameer omdat sy nie stiptelik nege-uur opgedaag het nie, verseker sy haarself.

Sy herstel haastig haar grimering, kam haar vingers deur haar hare en stryk dan in die gang af, op soek na die raadsaal. Hoe het daardie motiveringspreker gesê? Fokus. Glo jy kan.

Wéét jy kan, voeg sy by toe sy by die ontvangsarea oorkant die hysbak kom.

“Louw?” vra ’n gesofistikeerde witkop agter die toonbank. Sy loop nie oor van vriendelikheid nie en kyk op haar horlosie. Dis klaarblyklik ’n skimp.

“Nie my fout nie,” glimlag Cecilia liefies. “Julle hysbak wat gaan staan het.”

Die meisie bied nie ’n verskoning aan nie. Sy beduie Cecilia na ’n ry leerstoele in die hoek en draai terug na haar rekenaar.

Cecilia onthou die bolla laag in die nek gekam, die halfmaan-wenkbroue en pêreloorbelle. Dit was een van die gesigte wat haar aangestaar het toe die hysbakdeure oopgegaan het.

Wedersyds, dink sy by haarself. Ek het ook met die eerste oogopslag ’n renons in jóú gekry. Ons twee sal nie vriende word nie.

Sy hoef nie lank te wag nie. Sy het pas deur een van die tydskrifte op die koffietafel begin blaai toe die telefoon lui. Die witkop luister ’n oomblik. Knik dan na die wagtende kandidaat terwyl sy na ’n verbindingsdeur links agter die toonbank beduie. “Stap deur, meneer Meiring wag vir jou.”

Die dekor van die foyer word herhaal in die Mlala Lodge se raadsaal. Behalwe dat daar ’n blinkgepoleerde swarthouttafel in die middel van die weelderige wynrooi mat staan, met omtrent ’n dosyn stoele daarom gerangskik. Op een van hulle sit ’n ouerige dame wat Cecilia takserend betrag.

“Goeiemôre,” groet Cecilia – vriendelik maar nie familiêr nie, hoflik maar nie oordrewe sodat dit onderdanig klink nie. Sy wens sy het destyds tydens die kursus beter geluister na die motiveringspreker. Maar Steve was ook daar en hy het kort-kort vir haar ’n SMS gestuur, en dan ewe vroom gelyk as sy gebloos het. Hoekom dink sy nou weer aan hom? Dis verby tussen hulle.

Oorkant die takserende dame sit ’n gedistingeerde man, so iets in die veertig. Liggrys pak, houtskoolkleurige hemp en silwerige das. Skimmelgrys teen die slape, met skerp oë onder ruie swart wenkbroue. Formidabel, maar nie onverbiddelik nie.

Die Buffel, besluit Cecilia en glimlag – iets tussen medium en effentjies. Hy moenie dink sy gooi haar flikkers nie, óf dat sy stug is nie.

“Môre, juffie,” groet hy terug, met onverwagte waaierplooitjies langs sy ooghoeke.

Die meisie by die gastehuis was sommer net katterig, besluit sy. Meneer Meiring is nie arrogant nie. Trouens, sy sal van hom kan hou en lekker saam met hom werk.

Cecilia het op haar toekomstige baas gekonsentreer en eers nie opgelet daar is nog ’n man aan die onderpunt van die tafel nie. Wel, wat vir die grootbaas gewerk het, sal seker vir hom ook deug. Sy behou haar neutrale glimlag, draai haar kop en groet – en kyk vas in die vonkelende oë van die hysbakman.

Dis soos ’n vuishou wat haar in die maag tref. Haar mond gaan oop en sy staar hom verstom aan. Wat maak hý hier? Hy is tog sekerlik nie een van die personeel nie? Dalk ’n koerier wat ’n pakkie kom aflewer het, dink sy hoopvol. Of ’n elek­trisiën – iets met die kragonderbreking te doene. Of dalk het hy verdwaal en op die verkeerde vloer afgeklim?

“Melt Meiring,” groet hy in ’n neutrale stemtoon, staan op en steek beleef sy hand uit. “Aangename kennis, juffrou Louw.”

Áángenaam? Sy is seker dis vir hom ’n aaklige kennismaking! Hoe kon sy so idioties gewees het? Om ewe vir hom te vertel die persoon met wie sy ’n afspraak het, is ’n buffel . . . Sy kon net sowel haar eie doodsvonnis onderteken het.

En sy kan hom die moeite van ’n onderhoud spaar deur sommer nou al te loop, voor hy haar by die agterdeur uitgooi. Hy sal nie so ’n voorbarige meisie op sy personeel wil hê nie – vryerig en dan nog boonop simpel genoeg om vir hysbakke bang te wees.

Sy ignoreer dieselfde gevoel van geborgenheid van vroeër toe sy haar hand vlugtig in syne lê. Dis haar verbeelding, maak sy dit af. Hy is ’n losbol – die soort wat seker gereeld sy kans vat met vroumense in ’n hysbak. Vir al wat sy weet, het hy ’n knoppie gedruk om die hysbak te stop en toe voorgegee dis ’n kragonderbreking. Geen wonder hy het agterna vir haar gelag nie.

Sy trek haar hand terug, voor hy dalk dink sy gee hom aanleiding of probeer hom verlei om die werk te kry. Sy kyk hom koelweg aan, maar sy gesig is niksseggend en verraai nie wat deur sy gedagtes gaan nie.

“Laat ek jou voorstel aan mevrou Wessels, ons personeelbeampte . . . En meneer Jordaan, die adjunkbestuurder,” sê hy formeel.

Cecilia knik. “Bly te kenne.”

Melt Meiring wys na ’n stoel aan die verste punt van die tafel. Die ónderpunt, besef sy. Waar hy sit, is die bópunt. As sy ’n tweede breinsel gehad het, het sy dit vroeër besef.

Hy gaan sit en bestudeer ’n oop lêer wat voor hom op die tafel lê. Haar aansoekvorm, raai Cecilia. Met haar geluk het sy waarskynlik ’n rits spelfoute gemaak. Pleks dat sy die besonderhede ingetik het, dit sou netjieser gelyk het.

“Ek merk dat jy vyf jaar ’n lugwaardin was, juffrou Louw. Dis langer as die meerderheid ander meisies. Hoekom het jy by Jakaranda-lugdiens bedank?”

Omdat my aanstaande my verneuk het! wil sy uitroep. ’n Maand voor ons troue ’n affair met ’n ander lugwaardin aangeknoop het . . . Wat moes ek doen? Hengse keuse wat ek gehad het: Sluk sy leuens, of kry vir my ook ’n skelmpie. Dis mos die in-ding. Lugdiens is mos soos Hollywood. Almal kul mekaar en speel musical chairs . . .

Sy hoop haar gesig is net so onleesbaar soos syne. “Om lugwaardin te wees, is nie ’n loopbaan nie, meer ’n limbo-periode met ’n kort rakleeftyd. As jy voel jy het genoeg van die wêreld gesien, as jy moeg is om skinkborde te dra en uit tasse te leef, beweeg jy aan.”

“Is dit wat in jou geval gebeur het?”

Hoekom wil hy weet? Kan hy sien die roof is nog rou? Soek hy geraamtes in haar kas? Of ’n rede om te sê: “Dankie vir die belangstelling, maar jy is ongelukkig nie die geskikte kandidaat vir die pos nie”?

Cecilia kyk hom vas aan. “Ja, meneer Meiring. Ek het vrywillig en uit eie keuse besluit dis tyd om aan te beweeg.”

“Omdat jy moeg was vir tasse en hotelkamers?”

Cecilia sien die slaggat en systap dit. “Nee. Omdat ek ’n loopbaan met standvastiger vooruitsigte verkies.”

Hy kyk weer af na die lêer. “Jy het ’n B.A. in kommunikasiekunde. Sou ’n loopbaan in die joernalistiek nie meer gepas gewees het as skakelbeampte by ’n hotel nie?”

“Joernalistiek was aanvanklik ’n oorweging, ja,” sê sy eerlik.

“Hoekom was dit tweede keuse?”

“Ek verkies mense bo rekenaars, en praktiese probleme bo woordverwerkingsprogramme. Dis vir my ’n uitdaging om ’n krisis te kan oplos en die lewe vir ’n medemens te vergemaklik.”

Die woorde het dalk te hoogdrawend uitgekom. Sy hou Melt Meiring dop om sy reaksie te peil. Hy luister met aandag en dit lyk asof hy belangstel in wat sy sê. Dit gee haar vrymoedigheid om uit te brei.

“Ek het hier in die Laeveld grootgeword, en ná vyf jaar het ek ’n oordosis gehad van oorbevolkte wêreldstede en oorvol lughawens, van die plastiekwaardes wat dollars en euro’s kan koop. Ek wil huis toe kom. Weer ’n boom sien sonder die besoedeling van chemiese suurreën. Bosveldstof ruik eerder as uitlaatgasse. ’n Visarend hoor pleks van toeters en sirenes. Net . . . ag, sommer net huis toe kom . . .”

Tot haar skande breek haar stem. Sy bly verleë stil, bang hy dink dis toneelspel om hom te beïndruk. Sy laat sak haar kop, grawe in haar handsak na ’n sakdoek en blaas haar neus. Daar was iets in die manier waarop hy sy kop gedraai het, iets aan sy profiel wat haar onverwags aan Steve herinner het. Wat gemaak het dat sy haar skanse ’n oomblik laat sak het.

Hoekom is mansmense op hierdie aarde nodig? dink sy wrewelrig. Hulle krap net ’n mens se kop deurmekaar. Sy vryf oor haar oë en kyk op na hom, ’n mengsel van verdediging en aggressie in haar blik. Laat hy nét weer lag . . . Laat daar net ’n sweem van spot êrens roer, en sy keer daardie waterkraffie op sy kop om. Sy kan dit doen, want sy sal nie die werk kry nie, dus het sy niks om te verloor nie.

“Ek verstaan.” Hy tel ’n pen op, maak ’n paar notas en trek ’n streep deur ’n reël onderaan die bladsy.

Taktvol, om haar kans te gee om te kalmeer? wonder Cecilia. Sy glo nie. Eerder daar geskryf: Sentimenteel. Neuroties. Bly weg! En haar naam as kandidaat doodgetrek.

Melt sit die pen neer, netjies parallel met die oop lêer. “Enige ander taalvaardighede behalwe Afrikaans en Engels?”

“Ek kan ’n gesprek in Duits en Spaans aan die gang hou – oor die weer, besienswaardighede, restaurante, openbare vervoer, ensovoorts. Die soort inligting wat toeriste verlang, maar niks ambisieus soos byvoorbeeld politiek of godsdiens nie.”

“Vanwaar hierdie taalvaardigheid?”

“My pa is in die diplomatieke diens. Ons het ’n tyd lank in Duitsland gewoon en twee jaar in Argentinië.”

“Jy dui jou huwelikstatus aan as ‘ongetroud’,” merk hy op. Hy huiwer en gaan dan voort: “Het jy dalk huweliksplanne in die nabye toekoms, juffrou Louw?”

Dié skielike verandering van onderwerp vang Cecilia onverhoeds. Sy skud haar kop.

Melt vryf ingedagte oor sy ken en kyk opsommend na haar.

“Jou . . . e . . . hysbakprobleem,” opper hy die netelige saak.

“Ja,” erken Cecilia en kyk af na haar hande wat op haar skoot saamgevleg is, gelukkig buite sig van die drie onderhoudvoerders. “Dit ís ’n probleem wat in my agterkop was, maar so ’n situasie het nog nooit voorheen gerealiseer het. Maar ek sal dit oorkom met wilskrag, positiewe denke en selfmotivering. Ek sal myself dwing om ’n paar keer op en af te ry in dieselfde hysbak waarin ek vanoggend vasgekeer was.”

Melt knik, plegtig en baie ernstig. “Sorg dat iemand saam met jou is, juffrou Louw. Verkieslik ’n manspersoon wat jou kan kalmeer en wat jy kan vertrou.”

Cecilia kyk onthuts na hom. Is dit terg of spot?

Sy een mondhoek wip boontoe. Dan die ander een, en dan skielik borrel die lag spontaan oor.

Duiweltjies dans in daardie goue oë van hom, en dis ’n warm soort lag. Niemand kan daaroor kwaad word nie. Miskien was sy te liggeraak. Dis ’n ou laai van haar om op loop te gaan oor niks.

Melt draai na die ouerige vrou regs van hom. “Jou beurt, Wessie.”

“Juffrou Louw, kan jy onder druk funksioneer?” vra mevrou Wessels. “Teen ’n tempo werk?”

“Ek is nooit sonder ’n horlosie nie,” reageer Cecilia, hopend dit beantwoord die vraag. “In my woonstel was daar ’n wekker langs my bed, ’n muurhorlosie in die kombuis en een op die televisiestel. Ek hou my dagboek op datum en het altyd ’n almanak – een wat nie agter die deur hang nie. Dit beteken ek het ’n goeie besef van tyd. ”

“Hou jy kop in ’n krisis, juffrou?”

Sy dink na. “Een keer, op ’n vlug tussen Perth en Mauritius, het ons in die eerste klas ’n kabinetsminister aan boord gehad. Toeristeklas was vol en kinders het op en af in die gange gehardloop. Een outjie het deur die klasse-afskorting geglip en op die oop sitplek langs die minister geklim. Op daardie presiese oomblik het die Airbus ’n lugleegte getref. Die kind se maag het gerebelleer en hy het sy brekfis oor die minister se deftige pak klere uitgespoeg. Ek wou buite op die vlerk gaan wegkruip, maar ek het opgevee, afgevee en skoongevee. Lugverfrisser gespuit, gepaai en vir die minister tee gemaak.”

Mevrou Wessels wag vraend. “En jy reken dit was genoeg?”

Twee kuiltjies keep weerskante in Cecilia se wange. “Iewers moes ek iets reg gedoen het, want die volgende dag het ek van die minister ’n uitnodiging ontvang na die parlementsopening. Ongelukkig kon ek nie gaan nie, want ek het nie ’n hoed gehad nie.”

Almal lag. Mevrou Wessels vra nog die een en ander om haar algemene kennis te toets, en die adjunkbestuurder praat oor veeleisende hotelgaste, ongereelde werksure en wat presies die skakelwerk by Mlala Lodge behels. Dan is die onderhoud verby.

Melt staan op en hou die deur vir haar oop. “Dankie, juffrou. Ons sal u laat weet.”

Met die uitstap sien Cecilia die volgende kandidaat op een van die leerstoele in die ontvangsarea sit, besig om deur ’n modetydskrif te blaai. Dis ’n swartkop wat lyk asof sy self uit een van die glansbladsye gestap het.

Cecilia is lus om haar teen Melt Meiring te waarsku. Nie as ’n buffel nie, maar ’n casanova. ’n Man om van weg te bly as jy besluit het jy is klaar met mans.

By die hysbak aarsel sy, die klank van haar selfversekerde woorde in haar ore. Positiewe denke en wilskrag. ’n Paar keer op en af ry . . . Netnou het dit maklik geklink, maar dit was valse bravade. Nou is sy bang en alleen. En as jy alleen is, hoef jy niks aan niemand te bewys nie.

Sy klim met die trappe af en haat haar lafhartige self.

In die portaal van die derde verdieping steek sy vas. Sy sit haar voet dwars – letterlik én figuurlik en duskant die volgende stel trappe, terwyl sy besluit: Tot hiertoe en nie verder nie. Sy gaan haar nie laat onderkry deur ’n vierkantige blikboks wat soos ’n aap aan ’n kabel hang nie. Sy sal die ding wys wie’s baas. Nie môre nie. Nie anderweek nie. Nóú!

Dis soos die Matrix-fliek wat sy gesien het. Die bevele eggo een-een deur haar brein: Los die trapreling. Draai om. Loop oor die terracotta-teëls. Stop voor die skuifdeure. Druk die knoppie. Wag . . . Ses stappe. Hoe moeilik kan dit wees?

’n Pieng weerklink toe haar vyand arriveer, sy deure oopgooi en haar innooi. Soos Daniël in die leeukuil . . . Daar’s nie ander mense in die blikboks nie, wat dit erger maak. Niemand wat haar kan vashou en troos nie . . .

Haar aksies is metodies en afgemete, soos ’n robot: Loop. Vorentoe. Drie treë. Stop. Draai. Druk G vir grondvlak.

Sy slaag net met die eerste vyf. “Ek kan nie!”

Die protes breek uit haar keel. Haar kop draai regs, staar gehipnotiseer na die paneel vol knoppies. Haar vinger bewe. Sy mik blindweg na die onderste knoppie, druk hom en knyp haar oë toe. Dan bly sy stokstyf staan, soos ’n winkelpop op ’n uitkenningsparade. En wag op die ergste . . .

Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, waag sy dit om haar oë stadig oop te maak. Hierdie keer kom haar uitroep makliker. Dis nie protes nie, maar verbasing; eers ongeloof en daarna vreugde. “Ek kán . . . Ek hét!”

In haar mond is ’n soutsmaak; sy het haar onderlip raakgebyt. Maar sy proe dit skaars. Sy’s onder. Op die grondvlak! Haar knieë is lam en haar bene voel soos slap sement, maar sy maak dit uit buitentoe – deur die foyer en af met die marmertrappe, totdat sy die warm teer van die parkeerterrein onder haar hoëhaksandale voel. Moeder Aarde! Eers toe kan sy haar asem in ’n lang hyg uitblaas.

’n Parkeerjoggie kyk snaaks na haar.

“Ek het die jop verloor,” sê Cecilia vir hom, “maar die hysbak gewen.” Dis dalk kinderagtig vir mense wat nie verstaan nie, maar dis ’n groot oorwinning vir haar.

Haar motor is ’n sauna. Sy draai die venster oop en ry na die uitgang. Die euforie wat sy pas gesmaak het, is vinnig besig om te verdamp.

Ons sal jou laat weet, het meneer Melt Meiring gesê. Dit beteken: Moenie ons bel nie, ons sal jou bel. Indien nodig . . .

Sy sal waarskynlik nie weer van Mlala Lodge hoor nie. Miskien net, as sy gelukkig is, ’n kort nota van een of ander klerk by administrasie kry dat die vakature gevul is en dat haar aansoek ongelukkig nie suksesvol was nie. Sonder dat hulle haar nooi om eendag weer te probeer.

By die snelweg draai sy regs op die N4, Pretoria toe. Haar kamer by die gastehuis is reeds ontruim en haar bagasie in die kattebak gelaai, om te verhoed dat hulle haar dalk vir nog ’n nag laat betaal, met ’n kredietkaart wat lank reeds sy limiet oorskry het. Sy wil nie weer by haar pa leen nie, maar sy sal dalk moet. Tot sy kan begin pizzas aflewer of polisse verkoop.

'n Man vir môre

Подняться наверх