Читать книгу Fluisterliefde - Ettie Bierman - Страница 3
Оглавление1
Beamari is besig om ’n huilende foksterriër met ’n happie biltong te troos toe Krisjan van die garage se kant af roep.
“Liefieding! Ek soek my gedaan na jou. Waar’s jy?”
“Hier, by die hondehokke! Gee my vyf minute. Ek is nóú by jou ...” Sy gee haar nuwe loseerder ’n laaste drukkie en vryf sy ore.
“Ek weet jy’s bang en alleen, jy dink jou mense het jou by die dierehotel afgelaai omdat hulle jou nie meer wil hê nie. Maar dis nie so nie, outjie. Hulle is baie lief vir jou. Hulle is Gauteng toe en oor ’n week is hulle terug, dan kom hulle jou haal. ’n Week is nie lank nie, net sewe slapies, dit sal gou-gou omgaan.”
“Ek het nie vyf minute nie,” jaag Krisjan haar aan. “Ons speel drieuur en ek moet daar wees vir die spanpraatjie, om te hoor wat die game plan teen die Bulle is. Ek’s laat, ek moet ry!”
Beamari kyk op haar horlosie en skrik. “Jammer, ek het nie besef dis al so laat nie! Jy kan nie ry voor jy iets geëet het nie.”
“Dis oukei, ek sal sommer daar ’n hot dog of ’n ding kry.” Krisjan kom met lang treë tussen die rye hokke aangestap, maar bly ’n oomblik staan om die prentjie aan die onderpunt van die paadjie te geniet: sy mooi rabbedoevrou in geel waterstewels, ’n uitgerafelde denimkortbroek en ’n T-hemp, op haar hurke met haar arms om die bruinbont foksterriër. Hy loop tot by Beamari, buk oor haar en lig die lang, donker poniestert op om ’n soen in haar nek te druk.
“Jy werk te hard. Los die brak, hy sal wel tuis raak en ophou kerm. Gaan klim in ’n lekker skuimbad, lees ’n tydskrif of speel ’n CD en ontspan, anders is jy te moeg vir vanaand se braai by Zac-hulle.”
’n Skuimbad, met Mozart en ’n glanstydskrif ... Weelde waarvan sy al vergeet het en wat sy nie kan bekostig nie. Haar diereherberg is ’n nuwe projek, ’n heeltydse onderneming met werk wat nooit opraak nie. Dis kos en water gee, hokke skoonmaak, sement afspuit, beddegoed was en ontsmet, die telefoon antwoord, besprekings en administrasie.
Sy het darem ’n voorman en ’n kok – Khumbu en Giftness – en hul kinders en kleinkinders, elkeen met ’n taak sodat Die Herberg omtrent ’n familiebesigheid geword het. Dis werkverskaffing vir ’n hele uitgebreide familie en hul aanhangsels. Maar dit alles voel vir Beamari soos ’n Boeing met net een enjin, te swaar gelaai om van die grond af te kom. Agtuur saans val sy uitgeput in die bed. En môre begin alles weer van voor af – ’n vlerk breek, ’n wiel is pap, ’n rekening word nie betaal nie ... Sy soek morele ondersteuning, begrip en simpatie by haar man.
Dis somer. KwaZulu-Natal het goeie reën gehad en volop son, sodat hulle nie hoef te besproei of teen swaminfeksies te spuit nie. Die piesangboerdery is in ’n rusperiode terwyl die vrugte uitswel. Die luidrugtige gekef van Beamari se viervoetige loseerders lewer ’n groot bydrae om erdvarke en blouape uit die plantasies te hou, wat arbeid beperk en skade bekamp. Die minste wat Krisjan in ruil daarvoor kan doen, is om te help met afdakke oor die honde se slaaphokke, iets wat op die oomblik dringender is as fiksheidsessies by die gim. Altans wat háár betref. Groot, rugbymal Krisjan Naudé en sy Haaie-spanmaats sal seker nie met haar saamstem nie.
Wat baat dit sy het ’n man wat met brute krag ’n skrum kan laat swaai, ’n oorstootdrie afdwing en ’n opponent in ’n plettervat platduik as sy vrou self sinkplate moet rondsleep en spykers inslaan? As daardie bultende spiere van hom net voor die yskas en TV benut word – om ’n bier uit te haal of sportkanale te wissel – en slegs in die slaapkamer tot sy vrou se beskikking is?
Krisjan het ’n enkelbesering en is vir ’n paar maande op die krukkelys. Hy moes geopereer word om die ligamente te heg en sy been was in traksie. Maar dit was drie maande gelede. Krisjan het lankal weer begin draf, hy doen kragoefeninge en ses dae van die week fiksheidsessies in die gimnasium. Sy hande en arms makeer niks. ’n Hamer weeg tog nie meer as ’n sespak bier nie. Is dit te veel gevra dat hy ’n hamer en ’n hand vol spykers optel en arme Khumbu met die afdakke help?
Die Herberg behoort nie net aan haar nie. Dis hulle albei s’n, en Stian s’n. Sekerheid vir die hele gesin, vir die toekoms. Vir die dag as Krisjan dalk ’n langtermynbesering opdoen of nie meer plek kry in die span nie en hulle die inkomste nodig het.
Krisjan is ’n ou wat meisies laat swymel – die hartklop van ’n partytjie en die enjinkamer van ’n skrum. Die soort man wat sy lewe vir jou sal waag, deur vuur en vloedwater sal jaag as jy swanger is en in die middel van die nag ’n onbedwingbare lus ontwikkel vir aspersies met sjokoladesous. ’n Bedrewe minnaar en ’n wonderlike pa vir sy seun. Maar in haar hart weet Beamari haar man is nie ’n boer nie. Solank die elemente saamspeel, gaan dit goed, in hoogste rat teen die afdraande af. Maar wanneer rampe en swaarkry die pad steil maak, vol klippe en slaggate, gaan haar man teen die opdraande sukkel.
Al wat groot Krisjan Naudé goed kan doen, is rugby speel. Hy het geen ander opleiding of kwalifikasies nie. As afrigters en spanpraatjies, wedstrydplanne en drome van die Wêreldbeker uit sy lewe verdwyn, gaan hy ’n verdwaalde klein seuntjie in ’n vreemde wêreld wees. Hy sal nie as boer die mas opkom nie, hy sal ’n buffer nodig hê. Dan moet sy daar wees vir hom, om die vakuum te vul en hom weer rigting te gee. Te ondersteun en finansieel by te staan. Dis waarom sy haar vingers deurwerk – hokke skrop, sinkplate sleep, kruiwa stoot en op haar knieë by huilende honde sit: om ’n agterdeur te hê as die bal eendag vir hom verkeerd wip en haar man ’n vangnet nodig kry.
Hy, en hul lieflike, kosbare vierjarige seuntjie. Naudésrust mag nie in vreemde hande beland nie. Dis Stian se erfenis en die regmatige deel wat hom toekom.
Asof Krisjan haar gedagtes kan lees, kyk hy vraend om hulle rond. Beamari sit steeds die foksterriër en paai. “Waar’s ons grootman?”
“In die hok hier agter, by ’n werpsel maltesies wat mense hier aangebring het. Hulle is nou twaalf dae oud, ek sal hulle hier moet hou tot op ses weke. Die dierbaarste wollerige goedjies ... Stian is mal oor hulle, hy speel asof dit teddiebeertjies is.”
“Is Khumbu by hom?”
“Ja. Hy hou ’n ogie tussen die dakslanery deur. Maar Khumbu is nie meer jonk nie. Jy weet self. Die fisieke arbeid raak te veel vir hom, hy kan nie alles behartig en nog vir Stian ook oppas nie.”
“Ek weet. Ek sal hom kom help, dingetjie, ek belowe.” Hy trek haar orent tot teen sy bors. “Lief vir jou,” fluister hy.
“Vir jou ook ...”
Sy arms vou besitlik om Beamari en hy soen haar. Eers saggies op elke wang en die punt van haar pikante wipneus – elke sprinkeling goudbruin sproete, een vir een – daarna die digte wimpers wat haar blou oë omraam, voor sy kop laer buig en sy lippe hare soek. Sy arms skuif om haar rug en heupe om haar lyf stywer teen hom vas te trek. Sy asemhaling versnel. Hy beur teen Beamari en ’n kreun breek uit hom, soos ’n versugting diep uit sy binneste.
“Ek wil nie ry nie, ek wil liewer by jou wees ...”
Beamari rem weg. “Krisjan, wag! Nie nou nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek het ’n tuinslang wat loop.”
“Maak nie saak nie, al oorstroom die hele plek.” Sy oë vonkel en hy gee haar T-hemp ’n waarderende kyk – die dun katoenmateriaal met die heerlike beloftes van dit wat ónder die hempie wag. Hy lig die soom op en vryf oor die strokie lyf wat uitsteek bokant die band van haar kortbroek. Sy vingers trek die band laer en hy buk, druk sy gesig teen haar dye, sak dan af op sy hurke om haar bobene te streel en te liefkoos.
Hy kyk op, ’n ondeunde glinstering in sy oë. “Wag vir my. Los die bad en wag tot ek kom, dan stort ons saam. Daar sal genoeg tyd wees voor ons moet aantrek vir Zac-hulle. Onthou jy hoe ekstra special dit laas keer was, met die seep en die gladde skuim? Ons moet weer so maak, dié keer gebruik ons sjampoe. Ek sal dit oor jou maag en jou bene smeer, oor jou dye en jou –”
“Krisjan!” maak Beamari hom blosend stil. “Sjuut! Nie so hard nie.”
“Hoekom? Ons is wettig getroud en ek het alle reg om met my vrou liefde te maak, net waar en wanneer en hoe ek wil.”
Sy beduie met haar oë in die paadjie af. “Kleine kindjies, grote ore ... En Khumbu.”
Krisjan lag toe hy orent kom, haar T-hemp ewe kuis regtrek, haar kortbroek optrek en haar teësinnig laat gaan. “Hy en Giftness is ook getroud, baie langer as ons, hulle weet van dié dinge. Hulle het immers ses kinders!”
“Jy beter ry,” stuur Beamari sy gedagtes in ’n ander rigting. “Coach gaan jou uitsmyt as jy sy praatjie mis.”
Krisjan kyk op sy horlosie. “Ja, ek moet waai. Ek sal ná die game ’n vinnige bier saam met die manne drink en vroeg probeer wegkom – sesuur by die huis.”
Sy loop saam na waar Krisjan se rooi Renault Mégane-sportmodel in die oprit staan. Sy nuutste speelding, wat hulle nie kan bekostig nie. Duur en onprakties. Maar motors is haar man se ander groot passie en die Krisjan Naudés van die lewe ry nie met ’n ordinêre sedan of ’n bakkie nie, al bly hy op ’n plaas met hobbelrige stofpaaie.
“Moenie jaag nie,” maan sy. “Ry veilig.”
“Ek sal stadig en versigtig ry, soos ’n ou tannietjie wat kerk toe gaan,” terg hy. Die hartstog en drif van netnou smeul nog. Voor hy inklim, soen Krisjan haar vir oulaas, maar dié keer teer en koesterend. Hy glimlag onderstebo, half skeef.
“Ek weet ek jaag aan. Ek blaas geld en jol te veel, help te min. Ek ondersteun jou nie genoeg nie. Maar ek is crazy malverlief op jou, dingeling, meer as wat jy dink. Ek belowe ek sal ’n beter man vir jou word, behoorlik sorg vir my vrou en kinders. Laat ek net eers hierdie blessit enkel regkry en weer begin speel. Dan kan ons aangaan: paartie hou, koekies bak en huis-huis speel.”
Partytjies, rugby en huis-huis speel, dink Beamari stilweg. Krisjan sal nooit grootword nie. Die lewe is vir hom ’n speletjie. Op die rugbyveld, by ’n verkeerslig – wanneer hy eerste wegtrek en hakskene wys vir die kar langsaan wat hom gedaag het, om ’n braaivleisvuur met sy kitaar en David Kramer-liedjies, en in die stort met seepskuim en sjampoe. Maar dis hoe hy is. En dis hoekom sy destyds halsoorkop op hom verlief geraak het – foute, gebreke en al, vanaf die eerste kyk. Vanaf daardie dag op die vliegtuig toe sy die gespierde borselkop-ou met die stoute oë en ondeunde kuiltjies een kyk gegee het en intuïtief geweet het hy gaan met sy groot stewels diep spore in haar lewe trap, tot binne-in haar hart. Want daardie fris ou op sitplek 14C is haar trouman, vir wie sy drie en twintig jaar gewag het.
Die senior lugwaardin op die Airbus het die dag gelag en gesê verlede week was dit kaptein Rassie Erasmus wat Beamari hartkloppings gegee het en haar trouman was.
Hierdie keer het Beamari egter geweet dis anders. Diep sake. Daardie fors geboude rugbyspeler is hý! Die Een langs wie sy in ’n wit rok en sluier voor die kansel wil staan; haar groot liefde en die toekomstige pa van haar kinders.
Hy was in ’n rugbyspan, ’n vrolike, lawaaierige klomp Haaie vanuit Durban op pad Nuweland toe om die WP op hul herrie te gee en die Curriebeker huis toe te bring. Uitbundig, vol pret en die vleitaal en voorstelle wat sy lank reeds geleer systap het. ’n Sexy klomp manne vol oemf en testosteroon.
Maar Beamari het nie belang gestel nie. Behalwe in die een op sitplek 14C, wat ook vir haar flikkers gegooi het en ’n kyk gegee het wat sê: “Kom ’n bietjie nader ...”
’n Stertwind het die vliegtyd Kaap toe laat krimp. Daar was nie baie tyd om die vrag van oor ’n honderd honger passasiers middagete te laat kry nie, veral aangesien hulle boonop dorstig was. Beamari het geweet sy moet dringend ’n aanknopingspunt met die man prakseer, ’n plan bedink om nader kennis te maak met 14C en uit te vind of die sepies en romanseskrywers reg is, of daar regtig iets soos orrelklanke en huweliksklokke is wat reeds met ’n eerste gesprek in jou ore opklink.
Terwyl sy drankies geskink het, met ’n volgelaaide trollie in die paadjie, het sy inspirasie gekry, en ’n pennetjie waaraan sy ’n meer persoonlike kennismaking kon hang. ’n Opsetlik “toevallige” ongeluk wat nie ’n “ongeluk” was nie ... Ingewikkeld, maar Beamari het presies geweet wat sy wil doen.
Die buurman op 14B – agtsteman Zac de Beer – het onwetend saamgespeel deur ’n bier te vra. Om tyd te spaar het die waardinne gewoonlik enige blikkie bier of koeldrank onoopgemaak aan passasiers oorhandig. Maar dié keer het Beamari die blikkie ongemerk ’n vinnige skud gegee en toe die ringetjie oopgeknak terwyl sy dit aangee. Dit het meer as die gewenste uitwerking gehad. Skuim en bier het oor die arme agtsteman gespuit, oor sy nek, sy hande en die Sports Illustrated wat hy aan die lees was. Maar gelukkig ook oor sy aantreklike buurman in 14C se Pierre Cardin-hemp en styfpassende denim.
“O aarde!” het Beamari in konsternasie uitgeroep. “Ekskuus tog! Ek weet nie hoe dit gebeur het nie! Ek’s vreeslik jammer, laat ek help skoonmaak ...” Sy het vir die agtsteman ’n dankbare glimlag en ’n nuwe bier gegee, ’n droë lap onderin haar trollie gesoek en onbeholpe daarmee oor hom en sy buurman se nat klere gevee.
Die gemors was groter as wat sy voorsien het. Die situasie was skielik ongemaklik, voorbariger as wat sy dit gevisualiseer het. Sy het oor 14C se gespierde denimknie gevryf en die lappie teen die ergste nattigheid gedruk. Maar toe sy sien dat daar natter kolle hoër op is, ver bokant sy knie – oor sy bobene en skoot – het haar moed haar begewe. Sy het selfbewus geretireer, gebloos en die lappie vir hom gegee.
“Ek dink jy moet maar liewer self verder vryf ...”
Van sy spanmaats het die episode geamuseer dopgehou en grappe gemaak.
“Bier was nie uit nie, dit los vlekke. Dit brand sommer gate in jeans.”
“Ja, en in jou ding-dong ónder die jeans!”
“En dan is jou toekoms daarmee heen.”
“Al plan is dat Krisjan sy broek uittrek en by ’n droogskoonmaker kry. Maar wat trek hy in die tussentyd aan?”
“Niks nie, hy hou net die lappie voor.”
“Dis bietjie klein ...”
“Dis die idee: ’n mini-lappie!”
“Kleiner as ’n vyeblaar. Die girls sal dit like!”
Krisjan het hom nie deur die spottery van stryk laat bring nie. Daar was ’n stoute glinstering in sy oë.
“Hoekom moet ék vryf?” het hy geterg. “Dis lekkerder as jý dit doen.”
Beamari se gesig was beetrooi. Sy het gewens die kajuitdeur gaan oop en suig haar uit, ver weg die lugruim in.
“Ek ... ek ken jou skaars ...”
Daarvoor het hy dadelik ’n oplossing gehad. “Dis maklik om te fix. My naam is Christian Naudé, maar my pelle noem my sommer plein Krisjan. Ek speel slot vir die span wat hierdie jaar die Curriebeker gaan vat en tussenin boer ek met piesangs op ’n plaas naby Amanzimtoti. Ek is vier en twintig, ongetroud en ’n weeskind. Ek hou van braaivleis, mooi meisies en vinnige karre.”
Hy het haar in die oë gekyk, skielik ernstig. “En van jou.”
Ingeval hy onduidelik gepraat het en sy nie gehoor het nie, het hy dit herhaal: “Ek hou van jou, al ken ek jou nog nie goed nie. Ek sal jou graag beter wil leer ken.”
Dit was so eerlik en reguit. Openlik en sonder tierlantyntjies. Beamari het haar naam en telefoonnommer vir hom gegee. Maar nie haar adres nie. ’n Meisie wil darem nie desperaat voorkom nie. Die vliegtuig was vol en daar was nie tyd om veel meer te gesels nie. Net te sê sy hou ook van braaivleis. En van rugby, en sy hoop hulle gee die WP ’n goeie loesing. Toe moes sy aanbeweeg met die drankbediening, en die kos daarna.
Die volgende dag het sy Krisjan weer gesien. Sewe keer, waar sy die Saterdagmiddag vasgenael voor die TV gesit het terwyl hy in ’n lynstaan of losgemaal die bal kry, hardloop, duik en keer. ’n Keer het hy van die verkeerde kant af in die skrum ingestorm en ’n strafskop teen hom gekry, wat gelukkig mis was. Die Haaie het gewen en sy het gejuig ter wille van Krisjan-hulle, al was sy ’n Pretorianer en ’n Blou Bul-ondersteuner.
Hy het die Sondag uit die Kaap gebel en lank gesels. Maandag was sy op ’n oorsese vlug en toe sy Vrydag op O.R. Tambo terugkom, het sy ’n boodskap gekry dat koerierdienste vir haar ’n pakkie by kajuitdienste afgelewer het. Binne-in was ’n enkele handskoen, in hartjiesgeskenkpapier toegedraai. Sy het gefrons, gewonder of dit iemand se idee van ’n grap is.
Totdat sy die briefie daarby gelees het. Dit was van Krisjan af. Ek en jy pas by mekaar soos ’n hand in ’n handskoen. Sy het nie gedink so ’n yster-ou wat ’n trekker met sy linkerhand kan optel, kan so mooi sentimenteel wees nie. Dit was kosbaar, spesiaal. Beamari het die groen wolhandskoen laat raam en bokant haar bed gehang, met ’n stukkie oop muur langsaan waar sy ’n foto van die afsender wou hang.
Die lewe was ’n lied. Krisjan het elke aand gebel. Hy het in Pretoria kom kuier en haar plaas toe genooi. Op Valentynsdag het hy vir haar ’n teddiebeer gestuur, met ’n rooi hart op sy bors waarop geskryf was: Maak my dag. Trou met my! Sy het nie geweet of hy ernstig is nie, maar gehoop hy is, want teen daardie tyd het sy al haar trourok begin beplan.
Die Haaie het nie die Curriebeker gewen nie. In die eindstryd het hulle op Loftus teen die Bulle vasgeval. Maar dit het nie saak gemaak nie, solank die liefde gewen het.
Die klokke het ál harder gelui en sy het ja gesê toe Krisjan ’n fluweelboksie met ’n ring uit sy sak gehaal het. Aan die einde van die Drienasie-reeks is hulle getroud en Zanzibar toe vir hul wittebrood. Sy het by Jakaranda-lugdiens bedank en ’n boervrou geword.
Omdat hulle albei nog jonk was, wou sy eers ’n jaar of twee wag, maar Krisjan wou dadelik met ’n gesin begin. Tydens hul wittebrood al ... Hy was uit sy vel uit, op ’n hartvormige pienk wolk in die paradys toe Stian gekom het. Weeskind Krisjan se eerste regte, egte, eie bloedfamilie.
Heerlik romantiese herinneringe op ver paaie uit die verlede ... Maar die herinnering aan Stian se geboorte en die arms vol blomme wat sy trotse pa kraaminrigting toe aangedra het, laat sy ma skielik onthou dat daardie piepklein pap babatjie van destyds nou ’n woelige kleuter is, wat heeltyd opgepas en dopgehou moet word. Sy skrik toe sy op haar horlosie sien dis kwart voor drie. Die foksterriër het ophou tjank, in ’n bondeltjie opgekrul en aan die slaap geraak. Die gekap aan die sinkdakke het stil geraak en Khumbu is met ander werk besig. Terwyl sy helder oordag sit en dagdroom ... Sy spring skuldig op en gaan soek na Stian.
Hy is nog steeds in die maltesie se hok, ewe soet besig om met die babahondjies te speel. Toe hy sy ma sien, kom vly hy hom teen Beamari aan.
“Moe, ’blief-’blief?” soebat hy.
Sy tel hom op haar heup, soen die blonde opstaankuif en druk die warm lyfie teen haar hart. Sy is net so trots op hulle kind, op hierdie klein wonderwerkie, soos wat Krisjan is. Hulle het gehoop daar is teen dié tyd reeds nog enetjie, of twee of drie. Maar dit het nie gebeur nie en daarom is Stian dubbel kosbaar. Dalk al wat hulle ooit sal hê ...
Is dit waarom sy so broeis is oor die troeteldiere wat in haar sorg gelaat word? vra Beamari haar af. Omdat sy hulle as plaasvervangers beskou vir haar en Krisjan se kroos van ses, wat sy in haar onderbewuste weet nie gaan realiseer nie? Sy smoor die gedagte voor dit kan inslag vind. Agt en twintig is nog jonk. Daar’s nog tyd vir ’n kroos van meer as ’n halfdosyn.
Tog is dit asof ’n skielike koue wind oor haar waai en onwillekeurig hou sy Stian stywer teen haar vas.
“Wat wil jy hê, liefie? Wat vra jy so mooi ’blief-’blief?”
“Kan ek ’blief ’n babatjie kry, Moe?”
Sy ma se gedagtes dwaal nog om haar eie versugtinge en sy snap nie wat hy bedoel nie.
“Teddie-babatjie,” verduidelik hy. “Kan ek ’blief ene kry?”
Sy blou oë pleit by haar – ligblou, soos sy ma s’n, met ’n donkerder pers randjie om die iris. Hy pleit so mooi, sy kan nie weier nie.
“Jy bedoel een van die babahondjies? Natuurlik, my skat, sodra hy groot genoeg is.”
“Wanneer? Môre?” vra Stian hoopvol.
“Nee, bietjie langer. As hy nie meer net melk drink nie en ander soorte kos kan eet.”
“Swiets?”
“Hondjies eet nie lekkers nie. Dit knoop hulle derms.”
“Swiets het nie handjies nie, hoe knoop hulle derms?”
“Ek weet nie. Maar dis wat Oupie sê.”
“En kougom maak vlooie in my maag. Hoe maak hulle die vlooie?”
“Ek weet nie. Vra vir Oupie.”
Sy oupa bly in Pretoria en dis te lank om te wag tot hy weer kom kuier. Stian dink sy eie antwoord uit. “Lê die kougom eiers? Dan kom daar vlooie uit?”
“Jy’s glad te slim vandag.” Beamari lag en vryf sy hare deurmekaar. “Is jy honger? Kom ons gaan huis toe, dan gee Moe vir jou kos.”
’n Troppie werfhoenders kom kôk-kôk hoopvol op soek na iets om te aas. Stian wriemel los en draf vooruit om vir Giftness ou broodkorsies te gaan vra, terwyl sy ma haar modderige waterstewels onder ’n buitekraan afspoel. Dan stap sy kaalvoet agterna, kombuis toe.