Читать книгу Fluisterliefde - Ettie Bierman - Страница 5
Оглавление3
Dit is ’n smal vertrek met ’n bed, twee lang bankies weerskante en kliniese wit gordyne, halfpad toegetrek – om die bed, nie voor die venster nie. Op een bankie sit ’n meisie met Krisjan se slap hand in hare vasgevang. Sy kyk verdwaas op, haar oë dikgehuil.
“Hy’s ... weg,” fluister sy.
Wie is dit? En wat maak sy hier? Iewers is fout, maar in Beamari se geskokte toestand het sy nie die krag om dit uit te pluis nie.
“Alles was so skielik ...” Die meisie se stem is gebroke en plek-plek skaars hoorbaar. “Ons was op pad stadion toe. Ons het nog gesels, toe skielik was hierdie ... hierdie grys kolos reg óp ons. Dit was sy skuld, hy’t nie by die stopstraat stilgehou nie. Ons met ’n verskriklike slag getref ... Ons het gerol, om en om, ek weet nie hoeveel keer nie. Ek het uitgeval. Maar Kris ... Hy’t sy gordel aangehad en die 4x4 het ons aan die kant getref, aan ... aan sý kant.” Sy druk ’n nat, verfrommelde snesie teen haar oë en snik. “Hy’t nie ’n kans gehad nie, hy’s papgedruk ...”
Die meisie was saam met hom in die motor, in Pinetown, op pad stadion toe. Hulle het gesels en dit was die 4x4 se skuld, nie Krisjan s’n nie. Dis al wat Beamari registreer.
Die meisie is ’n indringer. Sy wil nie met haar praat nie. Nie terwyl Krisjan daar lê nie ...
Beamari gaan staan by die voetenent en staar stom en verslae na haar man se gesig. Hy is wasbleek, met donker kneusings en skuurmerke van sy oog tot by sy ken en af teen sy nek, tot waar die laken die res toemaak. Sy onthou hy het vanoggend geskeer, maar ’n paar baardstoppels wys op sy kakebeen. Sy mond is ongedeerd, skoon en sonder merke, sodat selfs die twee kuiltjies weerskante sigbaar is. Hy lê op sy rug en sy oë is toe. Dit lyk of hy slaap, soos sy hom vyf jaar lank soggens langs haar in die dubbelbed gesien het – asof hy netnou gaan wakker word, op sy sy draai en lomerig ’n hand uitsteek om te voel of sy daar is. Sy groot beer-arm oor haar gooi en haar naderhark ...
Net een hand steek uit bo die lakens. Die hand wat die indringermeisie vashou, met bloed onder die vingernaels ... Daar is geen uitdrukking op sy gesig nie, geen asemhaling nie, geen deining van sy bors nie. Net ’n roerlose stilte waaruit hy nie gaan wakker word en haar met sy arm naderhark nie.
Die verpleegpersoneel het hom netjies probeer maak. Maar hy het lanklaas sy hare laat sny en hulle het nie die fyn glassplinters daarin opgelet en verwyder nie. Een laaste klein dingetjie wat sy vir haar man kan doen ... Beamari loop om die bed, tot langs die kussing waarop sy kop rus. Sy steek haar hand stadig uit, raak aan hom. Sy kam versigtig met haar vingers elke stukkie glas uit sy hare, borsel die splintertjies van die kussing af en vee sy kuif netjies oor sy voorkop. Dan leun sy oor en soen sy mond. Dis koud, effens klam. Styf en vreemd. Beamari was tot nou in ’n dwaal, maar dis asof hierdie gebaar tot haar deurdring, haar na die wrede werklikheid terugruk. Dit is nie meer sý mond nie en dis nie hý hierdie nie. Dis net ’n liggaam, nie Krisjan nie. Hy sal nooit weer praat en lag, vleisbraai en kitaar speel en skrum nie.
Krisjan is weg. Dood. Haar kind het nie meer ’n pa nie.
“Is jy sy suster?” vra die meisie.
Súster? Beamari vryf met haar pols oor haar branderige oë, oor haar lippe om die koue, klam gevoel van Krisjan s’n uit te wis. Dis nie hoe sy Krisjan se mond wil onthou nie. Dit was altyd so warm en tergend, vol lewe en passie. Die smal kamertjie voel benoud, sy sukkel om asem te kry. Sy vlug na die venster toe, maak dit oop en asem die vars buitelug in. Toe sy antwoord, bly sy staan met haar rug na die bed en die witkopmeisie.
“Hy is my man.”
Daar is ’n stilte. “Maar ... maar Kris was nie getroud nie. Ek het hom gevra en hy’t gesê hy is single, hy bly alleen op die plaas en hy sal my eendag soontoe vat.”
Ook nie gesê hy is ’n pa en het ’n pragtige blonde seuntjie wat net soos hy lyk nie? Nee, seker nie, dink Beamari. Haar gedagtes is ’n deurmekaar maalkolk van emosies; sy weet nie watter een bo lê, wat haar sterkste gevoel op hierdie oomblik is nie.
“Ek ken hom nog nie lank nie. ’n Paar maande. Ek gee klasse by die gim. Dis waar ons ontmoet het ...” gaan die meisie voort.
Die gimnasium. Ja, natuurlik, tref dit Beamari. Sy was dom, naïef. Al daardie weke wat hy daar en by die biokinetikus geboer het – werksessies en terapie wat hy nie nodig gehad het nie, want sy ligamente het vinnig geheg. Hy het lankal weer begin draf, hy was fiks. Sy moes geraai het daar was ’n ander trekpleister by die gimnasium. Vandaar is hulle seker na ander plekke toe. En die aande wanneer hy kamtig saam met die boys uit was, bang was hy is oor die perk indien hy van die pad afgetrek word, toe hy kamma by ’n pel oorgeslaap het ... Was dit alles leuens? Was hy by hierdie meisie?
Beamari kyk uit oor die tuin. Dis groen en welig, vol frangipani’s en koraalbome, en op die agtergrond die blou-blou see met ’n passasierskip op die horison. Die boeg wys noordoos, in Mauritius se rigting. Beamari begeer om op daardie skip te wees, op pad na iewers ver weg, om nooit weer terug te kom nie.
Krisjan was haar hele lewe. Vrolik en sexy en vol pret. Hulle was gelukkig getroud, het sy gedink. Waar het sy so erg tekort geskiet, hom so gefaal dat hy ’n derde persoon in hul huwelik ingebring het?
Het Zac geweet? En Keira? En ander mense wat hom en die witkop saam gesien het en afleidings gemaak het? Die “boys” wat saamgekonkel het om vir sy vrou ore aan te sit?
“Kris het nooit vir my gesê hy het ’n vrou nie,” herhaal die meisie in ’n klein stemmetjie.
Ook nie vir my gesê hy het ’n affair nie, dink Beamari wrang, maar die woorde steek in haar keel vas en haar oë bly op die skip wat ál kleiner word op die horison. Die kajuite op elke dek is seker vol vrolike mense besig om blink aan te trek vir skemerkelkies, ’n aansitete, ’n dans ... Sy wonder of sy ooit weer vrolik sal wees, ooit weer ’n blink rok sal aantrek. Haar man het haar gekul. Verneuk. Belieg en bedrieg. En nou is hy dood.
Sy is ’n weduwee. ’n Enkelma, met ’n diereherberg, ’n bankrot plaas en ’n hoop skuld.
“Ek is ordentlik, ek gaan nie met getroude mans uit nie. As ek geweet het Kris is getroud ...”
Beamari praat oor haar skouer, suf en sonder emosie, asof haar stem aan iemand anders behoort: “As jy hom so kort geken het, hoekom het jy ’n ring en het jy vir die suster gesê jy is mevrou Naudé?”
Die meisie soek nog snesies in haar sak. “Net naasbestaandes kon ingaan, anders sou hulle my nie by hom toegelaat het nie.”
Sy peuter met die ring aan haar vinger, draai dit om en om. “Dis sommer ’n vlooimarkringetjie wat hy vir my by die Mardi Gras gekoop het.”
Die Mardi Gras op Margate? Beamari onthou sy was self lus om te gaan. Dit was drie weke gelede, toe Krisjan verskoning gemaak het dat Coach ’n spesiale vergadering belê het om die nuwe skrumreëls te bespreek. Hy het gewaarsku dit sal laat aanhou en sy moenie vir hom wag nie. Hy sal sommer by iemand oorslaap.
“Ag, en miskien ook soort van ... wensdenkery,” voeg die meisie by. Sy klink skaam en ongemaklik. “Ek was só verlief, ek het gewens ons was getroud en ... dit het my soort van getroos om te maak of ek mevrou Naudé is. Veral teenoor daardie nare suster.”
Die een voor by ontvangs ... Beamari kan dit nogal verstaan; sy sou dalk dieselfde gereageer het, enigiets gedoen het om by die man te wees wat sy liefhet en om nie weggestuur te word nie. Hom net nog een maal te sien, al is dit ’n laaste keer. Al is hy reeds weg ...
Beamari druk albei hande teen haar mond om die hortende snikke te keer wat deur haar lyf ruk. Sy strompel tot by die bed, buig oor die stil figuur en kyk lank na hom. Dan oorweldig haar emosies haar en sy vlug uit die smal kamer.
Teen die gangmuur staan ’n bank en sy sak daarop neer, haar bene nie meer in staat om haar gewig te dra nie. Watse soort harde, ongevoelige mens is sy, wat net aan haarself dink? Krisjan is dood en al waaraan sy dink, is die leuens wat hy vertel het, ’n affair met ’n vreemde meisie en of mense daarvan geweet het. Wat maak dit saak? Hy’t verongeluk. Hy is dood en niks sal dit verander nie.
Sy gaan Krisjan nooit weer sien nie, nooit weer sy uitbundige lag hoor nie, sy stem as hy haar Liefding of Poplap noem nie. Sy onthou alles: vanoggend toe hy vaak-vaak in sy slaapbroek by die wasbak staan en skeer het, later toe hy in die gangetjie tussen die hondehokke aangestap gekom het in sy rugbytrui, en hoe hy gelyk het terwyl hy eet, hoe hy dikwels skielik sou opkyk en vir haar knipoog. Toe sy hom onthou met ’n slapende Stian opgekrul teen sy breë skouer, huil Beamari so dat sy amper nie asem kry nie.
Die vriendelike suster kom langs Beamari sit, roep ’n verpleegster nader en vra ’n glas suikerwater. Dan sit sy haar arms om Beamari en wieg haar heen en weer soos ’n huilende kind.
“Toemaar, toemaar ... Jy sal nou-nou beter voel, mevroutjie. Moenie opkrop nie. Huil jou leeg, dit sal help.”
Hulle sit lank so, die ouer vrou se arms deernisvol om die snikkende donkerkop met die deurmekaar poniestert. Ná ’n ruk bedaar Beamari se snikke ietwat en die suster hou die glas suikerwater by haar mond. Sy wag tot Beamari ’n mond vol drink, ’n paar keer hoes en dan slukkie vir slukkie die glas leegdrink.
“Daarso, dis goed, dit sal jou kalmeer. Jou pa het gebel. Hulle is op pad.”
Haar pa en ma kom ... Die nuus bring ’n klein ligstraaltjie in die donkerte wat Beamari omhul. Sy blaas haar neus en sit regop.
“Ek is jammer, ek is nie altyd so tranerig nie.”
“Natuurlik nie. Jy het pas jou man verloor, dis te verstane. Hoe lank was julle getroud?”
“Ons herdenking is oor nege dae, dan sou dit vyf jaar gewees het.”
Hou sy so noukeurig boek, al was hulle geskei? wonder suster Visser. Dis ongewoon. Die ander vrou, die blondine, is net so vreemd. Met Christian Naudé getroud, maar op die toelatingsvorm het sy nie haar man se geboortedatum of volle doopname geken nie. Toe het sy aanvaar die vroutjie ly aan skok, maar nou begin suster Visser wonder. Dié enetjie lyk veel meer eg en haar pa sou nie so bekommerd oor haar gewees het as Christian Naudé sy dogter se eks was nie. Iets rym nie.
“Suster het seker baie dringender werk wat wag,” maak Beamari verskoning.
“Nee wat, ek is nie haastig nie. Huil nog as jy wil.”
Beamari skud haar kop. Sy is bang as sy toegee, hou sy nooit weer op met huil nie. Sy kan haarself nie aan selfbejammering oorgee nie, daar’s te veel om te doen. Sy moet haar pa bel en vir Giftness, Zac en Keira laat weet, vir Coach laat weet, ’n klomp ander mense ook ... Sy sal ’n lys moet maak.
“Die wagkamer is net hier oorkant,” beduie suster Visser en vat Beamari aan die elmboog. “Dis rustig en jy sal gemakliker wees daar.”
Beamari loop saam en gaan sit dankbaar op een van die sagte gemakstoele. In ’n hoek staan ’n man by die venster. Hy het bloed aan sy hemp en sy arm, in gips, lê in ’n hangverband. Hy kyk om toe Beamari gaan sit. ’n Oomblik lank ontmoet hul oë voor hy beleefd wegdraai en anderpad kyk.
Suster Visser trek ’n tafeltjie nader vir Beamari om haar handsak op neer te sit. “So ja, dis beter ... Ek laat een van die verpleegsters vir jou tee bring, mevroutjie.” Sy kyk na die afsydige figuur by die venster. “En vir jou ook, Rikus. Die ander insittende is gelukkig: X-strale wys die knieskyf is nie gebreek nie, net gekneus. Ek het gesê jy wag om van haar te hoor. Het die polisie al jou verklaring kom afneem?”
Die breë rug draai sywaarts en hy knik. Nou eers let Beamari die hegpleister oor sy voorkop op, met bloed wat plek-plek deursyfer.
“Dokter het aanbeveel dat jy die nag vir waarneming opgeneem word, maar jy het jouself blykbaar ontslaan,” merk suster Visser verwytend op. “Jy hoort in die bed.”
Hy antwoord nie, haal net sy skouers op.
“Het jy die medikasie geneem wat dokter voorgeskryf het?” raas sy, soos met ’n stout kind. “Die pynpille en antibiotika?”
“Ek sal later.” Die antwoord is kortaf, in ’n onverwags diep stem, en hy draai stroef terug na die venster toe.
Suster Visser rol haar oë dakwaarts, maar dring nie aan nie. Koppige mans is nie haar gunstelingpasiënte nie. “Jy ly aan harsingskudding en ’n vertraagde skokreaksie,” kry sy ’n laaste vermaning in teen die breë, ontoegeeflike rug. “Jy hoef nie vir die vrou te wag nie, sy makeer nie veel nie. Gaan huis toe, drink jou medikasie en gedra jou stil die volgende vier en twintig uur. Hoor jy my?”
Die arme suster doen net haar werk en bedoel dit goed. Beamari verwag weer ’n dwars antwoord van die man, maar hy kyk skrams om en ’n onwillige glimlag pluk aan sy mondhoek. “Ek is nie doof nie, Vissie.”
“Jy hóú jou doof.” Haar gesig versag. “Moenie dapper en oordrewe macho wees nie. Jy het ’n gebreekte arm en ’n woeste stamp teen jou kop weg. Vat dit kalm vir ’n paar dae.”
Hy kyk haar net aan en reageer nie.
Suster Visser sug. “Ek beter my saalrondes gaan doen. Hoe gaan dit nou met jou, mevrou Naudé? Jou suikervlakke al bietjie op?”
Eerder af. Daar is ’n galbitter aalwynsmaak in Beamari se mond. Sy het Krisjan vertrou. Maar hy het haar verkul. Verneuk met ’n ander meisie. Alleen agtergelaat met die verantwoordelikheid van hul kind, met haar trane en haar bitterheid, verwyte en ’n wrok wat meebring dat sy nooit weer ’n man sal vertrou nie. Dit is die erfenis wat hy nagelaat het. Sy is hartseer en kwaad vir hom. Sy haat hom vir wat hy aan haar gedoen het. Maar as hy nou by daardie deur kon instap, sal sy haar arms om sy nek gooi en alles vergewe.
Suster Visser sien die wisseling van emosies op die mooi donkerkop se gesig. Eers ’n weemoedige droefheid, dan ’n harde, ontoegeeflike trek om haar mond wat plek maak vir verlatenheid en ’n roerende weerloosheid ... Hospitaalpersoneel raak daaraan gewoond om getuie te wees van die menslike dramas wat om hulle afspeel, en haar instink sê vir haar hierdie donkerkoppie met die troebel blou oë is die werklike slagoffer van die motorongeluk in Pinetown. Die blondine wat by Christian Naudé in die motor was, sit by sy bed met ’n bondel snesies en dikgehuilde oë, maar sy dood raak haar nie tot diep in haar murg nie.
Suster Visser verwag nie ’n antwoord van die jong weduwee nie. Sy kan self sien dit gaan nie goed nie. “Ek stuur vir julle ’n skinkbord tee,” sê sy. “Vir jou en meneer Du Toit. Kyk asseblief dat hy dit drink en nie oor een van die potplante uitgooi nie.”
Beamari let nou eers die kroton en die rubberplant in die hoek op. Die man by die venster pla haar, sy wens hy wil loop. Sy wil alleen wees, stil wees en haar batterye laai, haar moed en haar krag bymekaarhark ... Maar hy wag blykbaar vir iemand. Die suster ken hom, sy het hom op sy naam genoem. Drikus of iets. Du Toit of Du Plooy ... Dit maak nie saak nie.
Wat het die suster gesê: sy tee oor die plante omkeer? Sy sal hom nie keer nie. Beamari maak haar oë toe en rus haar kop teen die muur. Haar selfoon is af omdat sy nie onderbrekings wou hê in die tyd wat sy by Krisjan sou wees nie. Sy weet sy moet dit aanskakel en begin bel, maar die vooruitsig lê soos ’n berg voor haar. Sy is nog nie gereed om die stukkies op te tel en met die res van haar lewe te begin nie. Die suster se besorgdheid en die beskermende hospitaalatmosfeer vorm ’n kokon om haar wat die buitewêreld uithou, haar kans gee om tot verhaal te kom.
Dis nie net die motorongeluk nie. Sy het twéé skokke gehad en die tweede was amper erger, moeiliker om te verwerk.
Kan ’n mens iemand liefhê en terselfdertyd haat? Jouself ’n gelowige Christen noem sonder dat jy weet van vergewe?