Читать книгу Die tuiskoms lê ver - Ettie Bierman - Страница 3
1
ОглавлениеToe die hooflyntrein op Nelspruit-stasie tot stilstand ruk, tel Ila haar tas op, maar sy is teësinnig om die bekende veiligheid van die kompartement te verlaat. Verlede nag, terwyl sy slapeloos by die venster gestaan het, was sy oortuig dis die regte besluit wat sy geneem het – om Nelspruit toe te kom. Noudat sy egter hier is, twyfel sy opnuut aan die wysheid van haar besluit. Moes sy nie liewer in Johannesburg gebly het nie? Daar het sy beskerm gevoel. Maar op hierdie oomblik voel sy baie verlore, onseker en bang – bang vir wat die toekoms mag inhou en baie lus om weer aan boord te wees wanneer hierdie trein netnou uit die stasie trek.
Haar hand klem stywer om die tas en sy haal diep asem om haar senuwees te kalmeer. Dan stap sy met die gang af en maak die deur aan die einde van die wa oop. Die oomblik toe sy op die perron afklim, weet Ila dis finaal. Nou kan sy nie meer omdraai nie.
“Kan ek help dra, juffie?” vra ’n vriendelike man. “Daardie tas is byna twee keer so groot soos jy – veels te swaar vir ’n fyn dametjie?”
Ila skud haar kop skamerig. “Dankie, meneer, ek sal regkom.”
Johan Retief aarsel. Dit lyk of die geringste windjie die skraal blondekoppie sal omwaai en die hartseer trek om die mooi mond raak onverwags ’n tere snaar in sy binneste aan. Dit lyk nie of hier iemand op die stasie is wat die meisie kom haal nie, en sy lyk onseker van haarself. Hy sou graag aanbied om haar op te laai, maar hy is bang dit klink voorbarig. Hy dring nie verder aan nie, knik net en volg die stroom mense na die uitgang aan die bopunt van die perron.
Ila kyk die hulpvaardige vreemdeling agterna, skielik jammer dat sy nie die aanbod van hulp aanvaar het nie. Haar tas is amper te swaar dat sy dit alleen kan dra. Sy het nog nie vas besluit wat sy gaan doen nie en …
“Daniela!”
Die geskokte uitroep kom van skuins agter haar. Ila ruk soos sy skrik. Die tas se handvatsel glip uit haar vingers en sy kyk verskrik om.
Dis ’n jong man wat na haar geroep het. Hy het breë skouers, donker hare en ’n paar half deurskynende blou oë. Onder normale omstandighede seker ’n aantreklike ou, behalwe dat hy op hierdie tydstip vyandiggesind en aggressief lyk, omtrent so vriendelik soos ’n groen mamba.
Ila se eerste gedagte is om aan te stap en voor te gee dat sy die uitroep nie gehoor het nie, dog die man pyl reguit op haar af. Sy het geen ander keuse as om te bly staan nie.
Hy steek twee tree van haar af vas, ’n eienaardige flikkering in die blou oë, en ’n gespanne spiertjie pluk aan sy mondhoek onderwyl hy haar ongelowig aanstaar. Dan trek hy sy asem skerp in.
“Daniela …” herhaal hy, hierdie keer sagter en met ’n vreemde ondertoon in sy stem. “So, ek het nie ’n fout gemaak nie. Dit is jy!”
Dis helder oordag en daar is ander mense om hulle op die stasie. Ila weet dis verspot om bang te wees, dog die onheilspellende klank in sy stem stuur ’n koue prikkeling langs haar ruggraat af en haar keel is meteens droog. Sy maak haar mond oop, dog sy kan geen woord uitkry nie.
Die man gee haar in elk geval nie kans om te praat nie. “Toe die trein ingetrek het, het ek jou by een van die vensters sien staan. In vyf jaar het jy nie veel verander nie, skatlam. Ek kon my oë nie glo nie, al het ek jou dadelik herken. Ek het jou gevolg om te sien wat jou plan is, maar toe jy met Johan praat, het ek eers gewag, want ek wou jou … alléén kry.”
Sy gesig is bleek en hy klink uitasem. Dis egter sy beklemtoning van die woord alléén wat Ila opnuut onrustig stem. Sy is skielik daarvan bewus dat hulle gevaarlik naby aan die rand van die perron staan en dat die trein besig is om uit te trek … Sy gee onwillekeurig ’n tree dieper in, weg van die treinwiele af wat al vinniger begin draai.
Die jong man moes die senuweeagtige beweging bemerk het. Daar is ’n flits van tevredenheid op sy gesig en sy mond vertrek in ’n glimlag.
Die feit dat hy sien sy is bang en dit blykbaar geniet, laat Ila haar regruk. Wie is hý om dreigend te wees en haar soos ’n lafaard te laat voel? dink sy wrewelrig. Dis die afgelope paar weke se gebeure wat haar moeg en oorspanne gelaat het – dit en die feit dat sy nie verlede nag kon slaap nie. Dis omdat sy omgekrap voel dat hierdie man haar so maklik ontsenu het.
Ila stoot haar skouers agteroor en haar ken lig uitdagend. “Iewers is ’n misverstand, meneer. Ek ken u van geen kant nie.” Sy is bly dat haar stem so kalm klink en dat sy haar hande in haar jassakke gesteek het sodat hy nie kan sien sy bewe nie.
“Hoekom het jy na vyf jaar eensklaps besluit om huis toe te kom?” gaan die man onaangenaam voort, asof hy haar nie gehoor het nie. “Sonder ’n woord, sonder om my of jou pa te laat weet … en wat is jou plan, skatlam? Doodluiters op die plaas aankom, jou tas uitpak en voortgaan asof daar geen onderbreking was nie? Wel, as dit jou plan is, kan ek hier en nou vir jou sê: Jy kan maar omdraai, weer op ’n trein klim en teruggaan na waar jy ook al vandaan gekom het. Die situasie het nie verander nie. Jou geheue is blykbaar kort, liefste. Het jy vergeet ek wil jou nie op Rietendal hê nie?”
“Dis gaaf. Want ék wil óók nie op Rietendal – waar of wat dit ook al is – wees nie. Het jy nie gehoor wat ek sê nie, meneer? Jy maak ’n fout. Jy sien my vir iemand anders aan. Dis ’n misverstand.”
“ ’n Fout? Ek sien jou vir iemand anders aan …” herhaal hy sarkasties. “Jy onderskat my, sussie. Jy het tog nie regtig gedink ek sal dié verskoning glo nie?”
Die skok en die hartseer van die afgelope twee weke, asook die omwenteling wat die tragiese dood van haar werkgeefster in haar lewe teweeggebring het, het ’n hoë tol van Ila se senuwees geëis. Sy is moeg en oorspanne en vererg haar vir die man se houding.
“Vir die tweede keer, ek is nié hierdie Daniela-meisie vir wie jy my blykbaar aansien nie. Ek ken jou van geen kant nie.”
Dis asof Ila se woorde nou eers tot die jong man deurdring. Hy frons. Sy oë vernou en hy kyk vinnig na haar. Hy antwoord nie dadelik nie, maar Ila sien die vlugtige trek van onsekerheid op sy gesig. Toe hy egter praat, is hy nog net so aggressief soos voorheen.
“Wie probeer jy mislei? Wil jy voorgee jy herken my nie? Of het ék dalk in vyf jaar baie verander? Om jou geheue te verfris – ek is Martin Niehaus, jou stiefbroer vir wie jy … e … so besonder lief was, saam met wie jy altyd so graag gaan … bergklim het.”
Ila het tyd gehad om haar selfvertroue te herwin. Daardie vlugtige flits van onsekerheid op sy gesig het haar gevoel van senuweeagtigheid laat verdwyn. Sy voel dat sy op hierdie oomblik die hef in die hand het en haar moet laat geld.
“Ek sal nie sê aangename kennis nie, meneer Niehaus,” sê sy koel, “want die ontmoeting was beslis nie aangenaam nie. Ek hoop ook dit word nie in die nabye toekoms herhaal nie. As u my sal verskoon …?”
“Nee . . wag net ’n oomblik. Luister, as jy … as jy reg is, is ek vreeslik jammer oor die misverstand. As ek ’n fout gemaak het, skuld ek jou ’n verskoning. Maar … maar eerlikwaar … jy is die ewebeeld van my stiefsuster. Jy is Daniela uitgeknip …”
Martin Niehaus klink oorbluf. Sy gestamelde verskoning klink nie oortuigend nie. Hy staan ook nie opsy om Ila verby te laat gaan nie. Hy steek sy hand uit om te keer dat sy wegstap.
“Blote toeval,” sê Ila kortaf en skud sy hand van haar af. Die arm sak stadig tot langs Martin se sy. Dan steek hy vinnig sy hand uit en haal die donkerbril van haar oë af.
Van die min slaap verlede nag is Ila se oë branderig. Die lig is skerp, maar sy draai nie haar gesig weg nie. Sy hou haar kop regop en staar Martin Niehaus kalm aan.
“Tevrede?”
Dis duidelik dat die jong man die kluts kwyt is. Die spiertjie pluk nog steeds aan sy mondhoek en ondanks die verskoning staar hy Ila onseker aan, asof hy nog steeds dink sy probeer bluf.
“Dis ongelooflik. Selfs jou oë … Daniela s’n was ook groen – groen met bruin kolletjies aan die binnekant van die iris.”
“Dis nie ’n seldsame kombinasie nie. Elke tweede persoon het sulke oë. Dis in ons familie.”
“Wie is jou familie?” vra hy skerp. “Wat is jou naam!”
“Ek weet nie wat dit met jou te doen het nie, maar my naam is Ila,” antwoord sy kortaf op die onbeleefde vraag.
“Ila … ’n Afkorting waarvan?” Hy staar haar deurdringend aan.
“Van … van Elizabeth,” stamel Ila opnuut ontsenu.
Toe die man nie dadelik praat nie, kyk Ila vlugtig na hom. Sy aandag is egter nie by haar nie. Dis by haar tas. Op die deksel van die duur, egte leertas staan daar in goue lettertjies: Elizabeth M. Verster. Dis of die jong man effens ontspan.
Ila maak haar handsak oop, haal ’n brief uit en wys dit stilswyend vir hom, sodat hy die naam en adres op die koevert kan lees. In duidelike getikte letters staan daar: Mej Elizabeth Verster, Seringrylaan 6, De Wildt-tuine, Johannesburg.
“Ek het toevallig my dagboek ook byderhand.” Ila haal ’n klein, rooi boekie ook uit haar handsak en wys vir die jong man die naam wat voorin geskryf staan.
“Johannesburg … woon jy in Johannesburg, Ila?”
“Ek is in Johannesburg gebore en het daar grootgeword – ’n stadsjapie in murg en been. Om die waarheid te sê, ek was nog nooit tevore op Nelspruit nie.”
“Wat het jy dan hier kom maak?” vra Martin Niehaus skerp, asof Ila hom die geleentheid gegee het om haar op ’n ongerymdheid te betrap.
Ila het nie lus om vir hierdie onaangename jong man die hele hartseerstorie te vertel nie.
“Werk kom soek,” antwoord sy kortaf.
“Werk? Op Nelspruit?”
Hy klink skepties en Ila verduidelik onwillig: “Ek was moeg vir die stadslewe en toe ek die geleentheid gekry het, wou ek ’n verandering maak. Van kleins af was dit my ideaal om die wêreld te sien. Daarom het ek gehoop om by Panorama-toere ’n betrekking as toerleidster te kry.” Sy swyg ’n oomblik en voeg dan koel by: “Hulle hoofkwartier is op Nelspruit – nie in Johannesburg nie. Hulle onderneem hoofsaaklik toere na die Nasionale Krugerwildtuin en die Blyderivier-canyon.”
Martin Niehaus knik. Hy weet blykbaar van Panorama-toere. Hy hou Ila stip dop en vra dan onverwags: “Wanneer is jy gebore?”
Die vraag was vinnig gestel. Ila weet die bedoeling is om haar dalk te betrap. Hy wil sien of sy aarsel terwyl sy heel duidelik gou ’n fiktiewe geboortedatum uitdink of dalk op die verkeerde voet betrap word en verbouereerd genoeg is om die geboortedatum te verstrek wat hy blykbaar graag sou wou hoor.
Ila het genoeg van hierdie ongeskikte jong man verduur.
“Ek is een-en-twintig jaar oud,” sê sy kil. “Ek het ’n geboortesertifikaat om dit te staaf, as jy dit wil sien.”
“Daniela sou nou drie-en-twintig gewees het … Ek is jammer, meisie. Maar … maar ek kon sweer jy is Daniela. Selfs nou nog … Jy lyk wel ’n bietjie ouer en jou hare is kort geknip, maar sý sou ook na vyf jaar ouer gelyk het, en dis nie te sê dat sy nog steeds lang hare het wat oor haar skouers hang nie. En die donkerbril het my agterdogtig gemaak … Dit spyt my, astertjie. Regtigwaar, ek vra om verskoning oor die misverstand en agterdog.” Hy glimlag effens. “Ek het jou seker groot laat skrik. Storm uit die bloute op jou af, maak rusie en sê jy moet op die trein klim en teruggaan na die plek waarvandaan jy gekom het … Wat het jy van my gedink?”
“Ek moet erken – nie veel nie,” sê Ila reguit. “En ek het die indruk gekry dat jý ook nie veel van hierdie Daniela-meisie hou nie.”
“Inteendeel. Ek was verlief op haar.”
“Jy het ’n snaakse manier gehad om dit te wys,” sê Ila droogweg.
“Daar was ’n …” Martin aarsel. “By gebrek aan ’n beter benaming sal ek sê daar was ’n misverstand tussen ons twee.”
“Ek sien. Wel, noudat óns misverstand uit die weg geruim is, sal jy my verskoon, meneer Niehaus? Ek is haastig.”
“Ek dink ek skuld jou ’n koppie koffie – net om weer eens te sê hoe jammer ek is.”
Ila is honger en dors en baie lus vir koffie. Maar nie saam met Martin Niehaus nie. Miskien sou sy saam met daardie ander gawe jong man – die een wat so vriendelik aangebied het om haar tas te dra – gaan koffie drink het, maar hy het haar nie genooi nie. En op hierdie veelbewoë oggend is sy in elk geval meer lus vir haar eie geselskap.
“Dankie, maar ek wil liewer reguit hotel toe gaan.”
“By watter hotel is jy van plan om tuis te gaan?”
“Ek het nog nie besluit nie.”
“Regtig nie?” Martin se stem is tergend. “Of wil jy maar net nie vir my sê nie? Jy hoef nie vir my bang te wees nie. Toe, kom drink saam koffie. Ons twee het baie dinge om oor te gesels.”
“Ek glo nie. Dankie, maar ek wil by my hotel kom om te bad en uit te pak.”
“Nee, die risiko is te groot.”
Ila frons. “Watter risiko?”
“Dat jy nou gaan wegstap en dat ek jou miskien nooit weer sal kan opspoor nie.” Martin laat vaar sy tergende houding en hy klink peinsend. “Glo jy aan die noodlot, Elizabeth Verster?”
“Ek weet nie.”
“Ek glo vas daaraan. Ek glo dis die geluksgodin wat jou juis vanoggend van die trein laat afklim het, toevallig júis op die dag wat die besoekende rugbyspan vertrek het en ons almal op die stasie was om Suidoos-Transvaal se klinkende oorwinning in te vryf. Anders was ek op die plaas, salig onbewus daarvan dat Daniela ’n dubbelganger het. Ons kan nie uitmekaar gaan – jy na ’n hotel en ek terug plaas toe – sonder dat ons uitgevind het wat die noodlot se doel met hierdie ontmoeting was nie. Ek … ek het dit nog nie in my gedagtes mooi uitgewerk nie, maar daar is iets wat ek met jou wil bespreek, iets wat ek jou wil vra, of … e … ’n voorstel wat ek aan jou wil doen.”
“Kyk, meneer Niehaus,” sê Ila redelik, “ek begryp dat dit vir jou seker interessant was om onverwags die ewebeeld van jou stiefsuster raak te loop, veral aangesien jy haar lanklaas gesien het en blykbaar verlief op haar was. Maar vir my het hierdie ontmoeting geen spesiale betekenis nie, want jy is vir my ’n algehele vreemdeling, en ek glo nie ek hou van die gedagte dat daar iewers ’n ander meisie rondloop wat net soos ek lyk nie. Ek is reeds van gister af op die trein, ons kompartement was stampvol en ek kon verlede nag nie slaap nie. Ek voel moeg en verkreukeld en ek wil hotel toe gaan.”
“Dit was onbedagsaam van my,” maak Martin dadelik verskoning. “As jy my sal sê na watter hotel toe jy wil gaan, sal ek jou neem en dan in vrede laat om te bad en te rus en al die dinge te doen wat vroumense gewoonlik wil doen na hulle ’n nag op ’n trein deurgebring het.”
“Dankie, maar ek verkies om jou nie moeite aan te doen nie.”
Martin kyk ondersoekend na Ila, dan wil hy aarselend weet: “Jy is nie … bang vir my nie, is jy? Of het jy die indruk gekry dat my houding netnou dalk effens … e … dreigend was?”
Ila skuld haar kop.
“Of dat ek Daniela onwelkom sou laat voel het as dit regtig sý was wat na vyf jaar besluit het om terug te kom plaas toe?”
Die moegheid en die afgelope twee weke se spanning haal Ila skielik in. Sy het ’n kloppende hoofpyn en meteens is alles vir haar te veel – die vreemde ontmoeting met Martin Niehaus, die lang, uitputtende nag in ’n beknopte kompartement saam met drie woelige kleuters en ’n huilende baba, haar eie hartseer, die onsekerheid oor die toekoms, sommer alles …
“Ek … ek weet nie … wát ek gedink het nie. Ek het nie opgelet nie. Ek is so moeg dat ek nie my oë kan oophou nie. Asseblief, laat my alleen.”
Martin let nou eers op hoe bleek die hartvormige gesiggie is en dat daar donker skaduwees onder die mooi, groen oë lê. Op hierdie oomblik lyk sy nie meer soos die ewebeeld van Daniela nie. Daniela was altyd vrolik en vol grappe, uitbundig en vol lewe. Hy kan nie onthou dat hy Daniela ooit sien huil het nie – nie eers daardie laaste aand op Rietendal nie en nie eers toe sy Daniel Niehaus se kamerdeur agter haar toegetrek en met die gang afgestap het na haar eie kamer toe om haar klere te gaan inpak nie. Hy het in die skaduwee langs die trap gestaan en hy kon Daniela se gesig duidelik sien. Dit was koud en geslote. Daar was geen trane in die groen oë nie. Miskien, as daar was, sou hy besef het wat sy van plan was om te doen. Maar niemand het gedink dat sy so drasties sou reageer en verbitterd genoeg was om weg te gaan nie. Of bang genoeg … Martin stoot met inspanning die skaduwees van die verlede opsy en plaas ’n simpatieke arm om Elizabeth Verster se skouers.
“Wat makeer, Ila?” vra hy sag.
As hy weer met haar rusie gemaak het, sou dit vir Ila makliker gewees het. Maar die onverwagte simpatie is opeens vir haar te veel. Sy is nie van nature iemand wat maklik huil nie. Té veel het egter in ’n te kort tyd met haar gebeur en Ila moes haar trane te lank opkrop. Nou stroom hulle oor haar wange terwyl sy haar gesig in haar hande laat sak.
“Ila!” roep Martin bekommerd uit. “Wat is dit, meisie? Is dit ék wat jou so ontstel het?”
Die kop met die blinkblonde hare word heen en weer geskud.
“Wat skort dan?” probeer Martin weer. “Wil jy my nie vertel nie? My skouer is breed …”
“Dis …” Ila kan die woorde nie uitkry nie. Sy huil asof haar hart wil breek.
Martin laat haar begaan, staan net hulpeloos en toekyk en bied haar na ’n rukkie sy skoon sakdoek aan.
“Daardie flentertjies kant wat julle vroumense ’n sakdoek noem, is nie veel werd nie. Huil jou goed uit, meisie, dan sal jy beter voel en dalk vir my kan sê wat die probleem is.”
Ila vee haar gesig af, blaas haar neus en dan breek ’n waterige glimlaggie deur die trane.
“Ek … ek is jammer. Wat moet die mense van my dink?”
“Nie van jou nie – van mý. Hulle dink seker ek is ’n nare boelie wat klein meisietjies bang maak. En hulle is dalk reg …” Martin haal ’n paar keer diep asem, byt senuweeagtig aan sy duimnael en wil dan weet: “Of … wás dit ek wat jou omgekrap het, Daniela?”
Anders as netnou, maak dit Ila nie meer kwaad dat hy haar nog steeds nie glo nie.
“Ek is jammer, Martin Niehaus,” sê sy sag. “Ek weet hoe bitter graag jy wil glo dat ek jou stiefsuster is.”
Martin word rooi. Hy is ’n rukkie stil, dan vra hy: “Hoekom het jy gehuil, Elizabeth?”
Daar is weemoed en verlange in Ila se stem toe sy antwoord.
“Tot nou toe was ek moedig. Selfs by haar oop graf was ek sterk. Op die begrafnis het ek nie so onkeerbaar gehuil soos netnou nie. Maar … maar enigeen bereik seker breekpunt. Dit was soos ’n damwal wat in my padgegee het …”
“Wie was sy?” vra Martin sag. “Was dit jou moeder?”
“My werkgeefster. Nee, sy was meer as net dit. Sien, sy was Maria Meintjies, die bekende skryfster van reisverhale. Ek weet nie of jy van haar boeke gelees het nie, maar jy herken seker die naam. Ek het vier jaar saam met haar gewerk en die voorreg gehad om Maria Meintjies as mens te leer ken. Sy was ’n wonderlike persoon. Maria was vir my ’n moeder, ’n vriendin en ’n maat. Haar heengaan het ’n leemte in die letterkunde en samelewing gelaat wat nooit gevul kan word nie. Veral vir my was dit ’n onherstelbare verlies. Haar dood het my eensaam en verlore agtergelaat.”
Martin begryp Ila se hartseer. Hy vra nie verder uit nie.
“Kom, ek sal jou na ’n hotel toe neem,” bied hy simpatiek aan.
“Dankie, maar … nee. Ek wil liewer alleen wees.” Ila gee hom nie kans om haar te probeer oorreed nie, tel net haastig haar tas op en begin blindelings oor die perron aanstap.
Martin besef dat hy nie op hierdie tydstip sy geselskap aan Elizabeth Verster moet opdring nie. Dit kan skade doen, haar afskrik. Hy staar die skraal figuurtjie peinsend agterna totdat sy tussen die mense verdwyn. Maar selfs dan maak hy nie aanstaltes om na sy motor toe op die parkeerterrein agter die stasie te stap nie. Hy steek tydsaam ’n sigaret aan, blaas die rook stadig uit en bly fronsend op die perron staan, onbewus van die mense om hom.
Hy onthou hy het vir Elizabeth Verster gesê dis die noodlot wat hulle twee by mekaar gebring het en dat elke ding met ’n bepaalde doel gebeur. Die geluksgodin, het hy die noodlot genoem. Op hierdie oomblik is Martin oortuig dat Daniela se dubbelganger nie sonder ’n rede in sy pad geplaas is nie. Hy moet van die toeval gebruik maak en die geleentheid met albei hande aangryp. Dit wil sê ás dit toeval was … Dit maak nie saak dat sy weg is sonder dat hy weet na watter hotel toe sy is nie. Hy sal klein, blonde Ila maklik weer kan opspoor. En natuurlik sal hy eers vasstel of haar naam werklik Elizabeth Verster is. Hy hoop so. Met sy hele hart hoop hy dat dít haar naam is …