Читать книгу Die tuiskoms lê ver - Ettie Bierman - Страница 5

3

Оглавление

Dis amper elfuur voordat al die formaliteite uiteindelik afgehandel is en Ila met haar jas aan in die hospitaal se ontvangslokaal staan.

“Is jy seker ek kan jou nie gou hotel toe neem nie, juffrou?” vra ’n besorgde dokter Retief. “My motor is naby. Dit sal net ’n paar minute duur.”

“Doodseker, dokter Retief,” antwoord Ila. “Ek het u alreeds te veel moeite en ergernis aangedoen. Die hotel is in elk geval net om die hoek van die hospitaal.”

“Moenie vergeet om daardie pilletjies elke drie uur te neem nie.”

“Ek sal nie vergeet nie, dokter Retief.”

“En as jy dalk weer duiselig voel of hoofpyn kry, skakel my onmiddellik.”

Johan Retief is daarvan bewus dat hy nog op die trap bly staan lank nadat die skraal geboude figuurtjie met die tas reeds verdwyn het. Hy is ook daarvan bewus dat suster Badenhorst hom nuuskierig aanstaar. Hy draai kortom, klap die voordeur agter hom toe en stap met lang treë in die gang af.

Vroumense! dink hy ergerlik. Net as ’n man dink jy het jou lewe netjies georden en jy het nie tyd om in hulle belang te stel nie, gooi die noodlot ’n snip van ’n vroumens in jou pad – letterlik reg voor jou voete in … en dan kan jy skielik met die beste ter wêreld nie op jou ander pasiënte konsentreer nie. Dan dwing jou voete kort-kort om ’n draai by privaatsaal drie te gaan maak en staan jy soos ’n verliefde standerdses-skoolseun op die trap om ’n blonde meisietjie agterna te staar en te wens sy het hierdie keer jou aanbod aanvaar om haar met haar tas te help en haar na ’n hotel toe te neem. Wat is dit met hom? wonder hy. En wat is dit wat maak dat hy Elizabeth Verster nie kan vergeet nie? Agt-en-twintig jaar lank was sy hart ongeskonde en was sy werk belangriker as vroumense. Nou is hy egter nie meer so seker dat daar nie ’n krakie in die muur gekom het nie. Kan dit werklik wees dat hy met die eerste oogopslag halsoorkop verlief op die blondine geraak het? Hy het geglo hy is immuun teen die vroulike geslag …

Die ontvangsklerk by die Hotel Alexander lyk verlig om Ila se naam in die register te sien.

“ ’n Meneer Niehaus was gisteraand twee keer hier en het vandag al ’n paar keer geskakel op soek na u, juffrou Verster,” stel hy Ila in kennis. “Dis glo uiters dringend. Hy het gevra ek moet u ’n boodskap gee as u by hierdie hotel ’n kamer bespreek.”

Ila neem die nota saam met haar sleutel, maar wag totdat sy in die privaatheid van haar kamer is voordat sy dit oopvou.

Dis van meneer Martin Niehaus – nie van die ryk ou oom Daniel Niehaus wat volgens verpleegster Nel so ’n moeilike oubaas is nie – en die boodskap klink dringend.

Skakel my dringend – Rietendal – 682, lees sy.

Martin Niehaus het natuurlik nie geweet by watter hotel sy tuisgaan nie, dink Ila. Hy het blykbaar baie moeite gedoen om haar op te spoor en seker by meer as een hotel op Nelspruit dieselfde dringende boodskap gelaat. Hoekom? Hy weet mos nou sy is nie sy stiefsuster nie. Waarom soek hy so naarstiglik na haar? Of glo hy nog steeds dat sy Daniela is?

Ila frommel die velletjie papier op en gooi dit in die snippermandjie. Teen haar slape kan sy die begin van ’n kloppende hoofpyn voel. Sy wonder of daardie wit pilletjies van die besorgde dokter Retief daarvoor sal help. Sy glo nie. Maar sy drink nietemin twee van hulle, bad, pak uit en trek ander klere aan. Dan gaan sit sy by die telefoon. Sy het ’n oproep om te maak, maar dis beslis nie na Rietendal 682 nie.

“Kan u my asseblief na die kantoor van Panorama-toere deurskakel?” versoek sy die telefoniste by die Hotel Alexander se skakelbord. “Ek is vreemd op Nelspruit en ken ongelukkig nie die nommer nie.”

Martin Niehaus voel ergerlik en ook ietwat bekommerd toe hy omtrent die twintigste keer dié dag die gehoorbuis oplig. Die Bosbok-motel is vol bespreek, maar daar is nie ’n mejuffrou Verster onder die gaste nie. Dit is ook die geval met die Toristo en die Montrosevalle. Die Drum Rock en die Bushman Rock-hotel sal hom terugskakel, hoewel hy nie dink dat Elizabeth so ver uit die dorp sal tuisgaan nie. Dieselfde geld vir die Pafuri Inn en Shonalanga. Moet hy dan maar weer die Alexander en die Paragon probeer? Sy moet tog iewers wees …

Martin tref dit gelukkig met sy eerste probeerslag.

“Mejuffrou Verster het ’n rukkie gelede opgedaag,” stel die ontvangklerk by die Alexander hom in kennis. Vir Martin is dit die soetste woorde wat hy nog ooit gehoor het.

“Hoe lank is ’n rukkie gelede?”

“Omtrent twee ure gelede, meneer Niehaus.”

Deksels, dink Martin. Die vroumens is moedswillig. Het sy nie gesien hy vra dat sy hom onmiddellik skakel nie?

Eers wil hy vra om na kamer tien deurgeskakel te word, dan besluit hy anders. Hy gooi die gehoorbuis neer, gryp sy motorsleutels en hardloop met die trap op na die boonste verdieping.

Daar is nie antwoord toe hy aan sy stiefvader se slaap­kamerdeur klop nie. Martin maak die deur op ’n skrefie oop. Hy is verlig om te sien die ou man slaap. Hy is haastig, en hy is nie lus vir ’n gekerm en ’n getorring en ’n spul vrae oor hoekom hy al weer dorp toe moet gaan nie. As hy wakker word, kan die ou man maar dink hy is weg lemoenboorde toe of by die beeste se diptenks. Hoe minder die oukêrel van sy sake weet, hoe beter. Laat hy maar rustig slaap …

Ila ruk soos sy skrik toe haar telefoon skielik lui. Dis blykbaar die ontvangsklerk se etensuur, want dis ’n vreemde damestem wat haar meedeel dat daar ’n manspersoon in die hotel se voorportaal vir haar wag.

Ila se eerste gedagte is dat dit dokter Retief is wat kom verneem het hoe dit met haar gaan. Nie spesiaal die moeite gedoen om haar op te soek nie, maar dalk het hy ’n ander pasiënt in die hotel gehad en uit pligsbesef gou by haar ook ’n draai kom maak.

Sy spring van die bed af en soek naarstiglik ’n ander rok om aan te trek. Van haastigheid is haar vingers dom. Sy sukkel met die ritssluiter, en sy kan haar kam en lipstiffie nêrens kry nie. Sy kan ook nie haar geswelde voet in ’n skoen indwing nie … Dit voel asof die skoen twee nommers te klein is, en die persblou kneusplekke aan haar been lyk vreeslik lelik. Moet sy liewer ’n langbroek en sandale aantrek? En waar is haar lipstiffie en reukwater tog?

Toe Ila uiteindelik met die gang afsukkel, voel dit asof die telefoon ’n ewigheid gelede gelui het. Uit eie ondervinding weet sy dat dokter Johan Retief nie ’n baie geduldige man is nie. Hy is dalk al moeg gewag en het besluit om te ry.

Daar wag wel ’n jong man in die foyer van die Alexander, maar dis nie Johan Retief nie. Sy is vies vir haarself omdat sy so teleurgesteld is. Liewe land, die man het haar omgery en later met haar rusie gemaak. Hoekom wil sy hom weer sien? Net sodat hy haar verder kan beledig en haar weer ’n stiksiende dwaas kan noem?

“Middag, meneer Niehaus,” groet sy koel.

Hierdie een is ’n ander Martin Niehaus as die een wat op die stasie was, geklee in ’n verbleikte blou denimbroek, sy hare windverwaai en deurmekaar. Vandag het hy ’n donker pak klere aan. Die aggressiewe en agterdogtige houding is weg en hy glimlag sjarmant vir Ila.

“Groen . . “ sê hy goedkeurend terwyl hy haar van kop tot tone betrag. “Jy moet altyd liggroen dra. Dit pas by jou oë. Jy lyk soos ’n prentjie, my skat – soos ’n droom wat be­waarheid is.”

“Noem jy altyd ’n vreemde meisie ‘skat’ pas na jy haar ontmoet het?”

Martin grinnik, glad nie van stryk gebring deur die kille ontvangs nie. “Jy is nie ’n vreemde meisie nie. Dit voel of ek jou al jare lank ken. Ek het jou donkerbril gebring.”

“Is dit wat so uiters dringend was? Ek het ’n ander een, en ek sou hierdie bril nie eers gemis het nie.”

“Nee, daar is ’n ander rede. Ek wil vir jou middagete koop.”

“Al die boodskappe en telefoonoproepe net om vir my middagete te koop?” vra Ila fronsend. Nee, hy het ’n ander doel daarmee gehad. Hy is heel duidelik besig om die krane van sy sjarme vol oop te draai. Sy moenie naïef genoeg wees om haar deur sy komplimente en mooi praatjies te laat mislei en alles te glo wat hy sê nie.

“Jy sal nie goed veerpyltjies speel nie, my skat. Jy sal nooit die kol tref nie. Nee, die boodskappe, bril en middagete is net ’n inleiding. Waar was jy gisteraand en vanoggend? Ek het oral na jou gesoek; ek was al baie bekommerd.”

“Hoekom?”

“Ek was bang jy het uit my lewe verdwyn, en die res van my dae soek ek na ’n meisie met groen oë en ’n perskeblos op haar wange. Het ek al vir jou gesê dat ek ’n besondere voorliefde vir blondines het?”

“Het iemand al vir jóú gesê dat jy die grootste klomp onsin kan praat, Martin Niehaus?”

“Ek is ernstig. Regtigwaar, ek het al die hotelle op en om Nelspruit geskakel. Nie een het ’n mejuffrou Verster in hulle register gehad nie. Waar was jy?”

“In die hospitaal. Ek was in ’n ongeluk.”

“ ’n Wát?” vra Martin verbaas.

“Ek is deur ’n motor omgery.”

Martin se gesig is ’n studie van teenstrydige emosies. Dit lyk eers of hy Ila nie glo nie. Hy frons en lag effens, dog dit klink gedwonge en daar is ’n vreemd waaksame uitdrukking in sy oë.

“Ek hoop nie jy blameer mý daarvoor nie?”

“Hoe bedoel jy?”

“Ek is bang jy dink ek het iemand gehuur om jou om te ry.”

“Hoekom op aarde sou ek só dink?” vra Ila fronsend. Dit was mos bloot ’n ongeluk, te wyte aan die feit dat sy teen ’n rooi verkeerslig oor die straat gestap het. Of … of was dit nie?

Ila kyk ondersoekend na Martin se gesig om agter te kom of hy dalk ’n grap gemaak het.

“Vergeet dit,” sê Martin. “Ons kan nie die hele dag in die voorportaal staan nie. Kan ons op die stoep gaan sit?”

Martin steur hom nie aan Ila se teëstribbeling dat sy nie honger is nie. Hy lei haar na ’n hoektafeltjie op die stoep, plaas hulle bestelling by die kelner en wil dan weet: “Moet ek sjampanje ook bestel? Vier ons jou aanstelling as toerleidster by Panorama?”

“Ek het nie die werk gekry nie. Daar is nie op die oomblik ’n vakature nie en die volgende kursus vir toerleidsters word eers oor ses maande aangebied. Selfs aan tiksters en ontvangsdames het Panorama-toere ’n oorvloed.”

“Simpatie, astertjie. My medelye is egter nie opreg nie. Die feit dat jy werkloos sit, mag dalk ’n invloed hê op die voorstel wat ek aan jou wil doen.”

“Watse voorstel?”

Dit wil Martin egter nie sê nie. Later, belowe hy. Eers moet hulle rustig klaar eet. Hy wil ook eers vir Ila die geskiedenis van Rietendal, van Daniela en van oom Daniel Niehaus vertel, sodat sy hom nie dalk verkeerd verstaan en ’n ongunstige indruk van hom kry nie.

“Hoekom sal ek dalk nie van jou voorstel hou nie?” wil Ila weet.

“Jy mag dink ek is ongevoelig – of inhalig en geldgierig, selfs agterbaks en oneerlik. Maar na ek jou die hele storie vertel het, sal jy insien dat ons niemand daardeur skade sal aandoen nie. Inteendeel. Jy trek voordeel, ek trek voordeel. En so ’n toedrag van sake sal aan my stiefpa gemoedsrus verskaf gedurende sy laaste tydjie op aarde.”

“Ja ek het verneem jou vader is baie sieklik. Hoe gaan dit met hom?”

“Waar het jy gehoor die oukêrel is siek?”

Ila skrik. Versigtig, Elizabeth Verster, maan sy haarself. Jy was ingedagte en jy moes hom nie laat agterkom het dat jy navraag oor die Niehaus-gesin gedoen het nie.

“Ek kan nie onthou nie,” antwoord Ila ongeërg. “Ek dink dokter Retief het dit terloops gemeld.”

“Johan Retief? Ken jy hom?”

“Dis hy wat my omgery het en ek was sy pasiënt.”

Terwyl hulle eet, kom Ila agter dat Martin haar ongemerk dophou, asof hy hom nog steeds daarvan wil vergewis dat sy nie sy stiefsuster is wat ’n paar jaar ouer geword het en haar hare kort geknip het nie. Hy hou elke beweging van haar dop terwyl hy oor die weer gesels, oor haar eerste indrukke van Nelspruit en hoe dit met Johannesburg vergelyk.

“Jy kan dit nog steeds nie glo nie, nè?” vra Ila.

“Wat?”

“Die feit dat daar so ’n sterk ooreenkoms tussen my en jou suster is.”

“Ja, jy is reg. Sê my, Ila, het jy dalk Niehaus-familie?”

“Nie sover ek weet nie.”

“Wat was jou ma se nooiensvan?”

“Conradie.”

“En jou ouma s’n?”

“Lourens.”

“Oumagrootjie?”

“Ek weet nie. Al hierdie baie vrae … Wat probeer jy bewys?”

“Ek probeer vasstel of jy dalk verlangs familie van die Niehause is, om hierdie ongelooflike ooreenkoms te verklaar. Maar nee, ek weet nie van Conradie- of Lourens-familie nie. Wat is jou pa se doopname?”

“My pa is oorlede. Hy was Abraham – net die een naam. My oupa was Jan Petrus en ek dink my oupagrootjies was Abraham Christoffel.”

“En jou ouma en ma se doopname?”

“My arme ouma was met multilettergrepige name opgesaal. Gelukkig is ek nie na haar vernoem nie. Elizabeth Maria is al erg genoeg, maar kan jy glo dat ek amper Constantia Salmina geheet het? Ek sou tien dode gesterf het.”

“Constantia Salmina?” Martin sit effens vooroor op die stoel. “Is jy seker?”

“Natuurlik is ek seker. My hele lewe lank was ek dankbaar dat ek daardie pyniging gespaar is.”

“Ek dink ons het die oplossing.” Vir die eerste keer is dit asof Martin ontspan. Hy sit agteroor en steek ’n sigaret aan. “Constantia Salmina is tradisionele ou familiename. Eintlik Constant Salmon Daniel. Dis Daniela se pa se name, en dit kan ’n hele paar geslagte terug nagespoor word. Dit lyk my jy is ’n afstammeling van die oorspronklike ou Niehaus-stamvader, dié dat jy so sterk op die Niehause trek. Die vroumense is almal blond en tingerig gebou – soos jy. En soos Daniela en ’n paar niggies van haar.”

“Daniela … Die vroulike vorm van Daniel. Is sy ook met die res van die ellendige rits opgesaal?”

“Bitter teen haar sin, ja. Haar ma is met haar geboorte oorlede en sy kry toe die familiename omdat haar pa geglo het hy sou nooit ’n seun hê nie. Die oukêrel was destyds al so fanaties oor die kastige tradisie wat tot elke prys voortgedra moet word. Reeds geslagte lank boer daar ’n Constant Salmon Daniel Niehaus op Rietendal, en die ketting mag nie verbreek word nie.”

“Dis interessant. Ons Versters is nie familievas nie. Ek glo nie iemand het genoeg belangstelling gehad om ons oorspronklike stamvader na te vors nie. Ek glo ook nie iemand het juis gewonder waar daardie gruwels van Constantia Salmina vandaan kom nie.” Ila glimlag effens. “Dus is jy en ek eintlik ook verlangs familie.”

“Aangetroud. Ek is ’n Keller gebore. En dis waar die moeilikheid lê – by my uitlandse naam en van. Is jy klaar met jou koffie? Sal ek nou vir jou die hele lang geskiedenis vertel?”

“As dit so ’n lang storie gaan wees, sal jy my ’n oomblik moet verskoon,” sê Ila verleë. “Ek is binne vyf minute terug …”

Toe Ila van die kleedkamer af terugkom, sit Martin met ’n sigaret, roerloos en blykbaar diep ingedagte. Die slaai en broodrolletjie waarvoor sy nie kans gesien het nie, lê nog onaangeraak, en ook haar leë koffiekoppie en die halfvol asbakkie in die middel van die tafel. Maar Ila merk dadelik dat haar handsak nie meer in presies dieselfde posisie op die stoel tussen hare en Martin s’n lê nie. Dit lê nou meer dwars – asof dit opgetel en haastig weer neergesit is.

Ek is slimmer as jy, meneer Martin Niehaus, dink Ila. Ek het vir jou ’n strik gestel en jy het vierkantig daarin getrap. Terwyl ek in die kleedkamer voor die spieël rondgedrentel het, het jy in my handsak gekyk. Voel jy meer tevrede noudat jy daardie boek met Elizabeth Verster se naam op die titelbladsy gesien het, asook die beursie en die sigaret­aansteker met die voorletters E.V. daarop? Dit was miskien ’n gemene streep om jou te trek, maar nou weet ek jy vertrou my net so min as wat ek jóú vertrou. Ondanks die feit dat my ouma Constantia Salmina geheet het, het jy nog steeds bedenkinge gehad. Glo jy nóú dat ek nie hierdie stiefsuster van jou is nie?

Martin staan hoflik op om Ila se stoel uit te trek.

“Voel jy beter?” terg hy.

Ila bloos en knik verleë.

“Sigaret?” Martin hou sy pakkie beleef na Ila uit.

Sy lag byna hardop. As sy nog enigsins getwyfel het of hy wel op haar spioeneer het, is hierdie ’n gebaar wat hom verraai. Die hele tyd rook hy alleen. Nou onthou hy kamma sy goeie maniere …

“Dankie, ek rook nie.” Ila voel geamuseerd toe sy die uitdrukking op Martin se gesig sien. Dis glashelder wat op hierdie tydstip deur sy gedagtes gaan. Sy glimlag vroom. “Ek het wel gerook, maar drie maande gelede opgehou. Dit het te duur geword en ek is chronies platsak – altyd sonder geld.”

Martin byt nie aan die aas nie. Eers wil hy blykbaar aanvoorwerk doen.

“Ek wil jou oor die huidige situasie op Rietendal inlig voor ons by my voorstel kom waaroor jy so nuuskierig is. Ek wil hê jy moet goed verstaan dat ons niemand gaan benadeel nie. Ons maak ’n sieklike ou man gelukkig, ek erf ’n plaas en jy word ruimskoots vergoed.”

“Dit klink welkom, aangesien ek werkloos sit en my beursie plat is.” Ila aarsel, besluit dan om ’n klip in die bos te gooi. “Hierdie plaas wat jy erf – is dit Rietendal, Daniela se geboorteplaas?”

“Ja. Sy was haar pa se enigste erfgenaam en volgens hom kom Rietendal Daniela toe, al weet ons nie eers meer of sy nog lewe nie, al het sy vyf jaar gelede haar erfenis verstoot en haar vader verlaat. Dis nou vyf jaar gelede dat Daniela na afloop van ’n hewige rusie met die ou man haar goed ingepak en weggeloop het. Vyf jaar … Dis te lank. Sy sou nie so lank weggebly het nie. Ek is seker daar het iets met haar gebeur. In vyf jaar het ons geen taal of tyding van haar gehad nie. Nie ’n brief nie, nie ’n poskaart net om te sê dit gaan goed nie. Niks nie. Al ons pogings om haar op te spoor, was vrugteloos. Hoewel ek op daardie tydstip reeds geglo het dis nutteloos, het ek noodberigte oor die radio laat uitsaai dat sy dringend huis toe moes kom in verband met haar vader se siekte. Op aandrang van die ou man het ek ook berigte in al die koerante laat plaas. Daar was geen reaksie nie. Dit het my vermoede bevestig dat daar iets met arme Daniela gebeur het.”

Ila lyk ingedagte. “Het jy aan ’n privaatspeurder gedink?”

“Ek het aan alles gedink – privaatspeurders, die polisie, die Buro vir Vermiste Persone … Dis juis iets wat een van die privaatspeurders opgediep het, wat my oortuig het dat Daniela dood is.”

Daar is skok en afgryse op Ila se gesig.

“Dood?” fluister sy skor.

“Ja. Dis waarom dit vir my ’n skok was om jou in lewende lywe op die stasie raak te loop. Dis hoekom ek so vreemd gereageer het en jy dalk die indruk gekry het dat ek nie verheug was om my stiefsuster te sien nie. Hoe wreed en ongevoelig dit ook al vir jou mag klink, glo ek dat Daniela verongeluk het. Al die bewyse was daar en as die ou man nie so hardkoppig was nie, sou hy dit ook so aanvaar en daarin berus het. Maar die ou korrelkop hou vol dat Daniela eendag sal terugkom. Hy sê hy wag vir haar. Hy weier om te aanvaar dat sy dood is en hy weier ook om my in haar plek te stel. Hoewel ek die van Niehaus aangeneem het, is ek nie goed genoeg vir Rietendal nie, want vir die ou man sal ek altyd Martin Keller bly – ’n indringer, ’n parasiet, ’n vreemdeling; die stiefseun met die uitlandse naam wat nooit ’n Constant Salmon Daniel Niehaus sal kan wees nie.

“Ek is sommer skuim. Al werk ek my hande deur, al bloei die plaas onder my bestuur, is ek nie goed genoeg nie en wag hy dat Daniela moet terugkom … Maar hy vergeet dat Daniela die plaas nie wou hê nie, dat sy weggegaan en Rietendal en haar vader vergeet het …”

Lank nadat Martin stilgebly het, bly Ila nog bewus van sy verbittering oor die onregverdigheid van sy stiefvader, die verlange om as ’n Niehaus gereken te word, die gevoel van minderwaardigheid en die allesoorheersende begeerte om Rietendal eendag te erf …

Op hierdie oomblik kan sy dit in haar hart vind om vir arme Martin Keller jammer te voel. Vir enige buitestander sal ou oom Daniel Niehaus soos ’n harde en onbillike man voorkom.

“Hoekom glo jy dat Daniela dood is?” vra Ila sag.

Die tuiskoms lê ver

Подняться наверх