Читать книгу Die Beste verhale van Eugène N. Marais - Eugène N. Marais - Страница 3
ОглавлениеAfrikanerbeeste
AFRIKANERBEESTE
Dit was die tiende dag dat Gool Winterbach van sy kommando afgesny is, en nou op die tiende dag, is hy vir die eerste keer oorweldig deur ’n gevoel van swarte mismoedigheid wat af en toe tot wanhoop gestyg het. Hy het goed besef, gedurende elke uur van die bittere tien dae, dat hy gedurig in die dodelikste gevaar verkeer, maar tot nou toe het die volslae wanhoop nog geen houvas in sy sterk gemoed gevind nie.
Gool Winterbach was die beroemdste verkenner in ons noordelike kommando’s gedurende die laaste oorlog. Hy was ’n Waterberger van geboorte en het die noordelike Bosveld net so intiem geken as die vlak van sy hand. Hy was ’n veldseun in elke sin van die woord.
Behalwe die besondere kennis en ondervinding wat die toevallige omgewing tot sy geestelike ontwikkeling bygedra het, had hy sekere aangebore gawes wat hom, van sy seunsdae af, as ’n verkenner by uitstek uitgeteken het. Hy kon soos ’n velddier sien en hoor en ruik en hy kon bowendien die waarneminge van sy byna bonatuurlik skerp sintuie snel rangskik en dan daarvolgens handel. Sy weerga as spoorsnyer was in die noorde nie te vinde nie. Elke eienaardigheid in sy natuurlike omgewing – elke stofwolkie, elke rookdampie, elke gebreekte takkie – was vir hom ’n sein wat sy eienaardige verstand outomaties in ’n boodskap kon omsit.
Byna net so beroemd as Gool Winterbach self was sy perd, Kousband, wat hom deur die hele oorlog gedien het. Hy had Kousband as ’n hansvulletjie grootgemaak en hy het die perd ’n verbasende reeks toere geleer, wat later in sy verkenningsdae van die uiterste voordeel was. Met ’n enkele fluit kon hy Kousband na hom toe roep. Op ’n ander sein kon hy hom in volle vaart van hom laat wegvlieg, met of sonder saal en toom. Op sy bevel het die perd dadelik platgeval, en niks anders as nog ’n bevel van sy baas kon hom weer laat beweeg nie. Deur ’n voorslag om sy oor te bind, het hy hom verbied om te runnik solank die knoop in posisie bly. Op sy bevel kon hy hom ruie ghwarriebos laat indring totdat hy geheel en al van buite onsigbaar was, en daar sou hy bewegingloos staan, sonder om ’n geluid te maak voor sy baas hom roep.
Gool was lank reeds in die noorde as ’n “perdedresseur” beroemd. En nou hier, te midde van die dodelike gevaar wat hom van alle kante bedreig, het die noodlot dit so bestem dat hy ’n ander veldkind en dierekenner sou ontmoet wie se skoenbande hom onwaardig was om te ontbind – ’n mens wat oënskynlik op gelyke voet met diere kon omgaan, wat hulle taal kon praat en hul gemoedsbewegings deelagtig kon word. Hy sou een ontmoet wie se herinnering hom die res van sy lewe met bewondering sou vervul. Dit was die bewondering van een genie vir die gawes van ’n grotere.
Dit is begryplik waarom die gevaarlikste verkennerswerk Gool te beurt geval het. Tien dae gelede is hy uitgestuur om sekere gerugte te ondersoek wat die kommando bereik het – gerugte aangaande ’n onverwagte en kolossale vyandelike troepekonsentrasie waaraan die Boere-offisiere maar min geloof geheg het, maar wat nietemin ondersoek moes word. En vir die eerste keer in sy verkenningsdiens bevind Gool hom skielik in ’n wespenes van vyandelike kolonnes en verkenningsafdelings. Ternouernood het hy sy lewe gered deur met Kousband tot beswykings toe na die groot doolhof van die Banke te jaag. Hier, te midde van diep padlose klowe, ruie bosse en ontoeganklike plate swarthaak, het hy tydelik veiligheid gevind.
Nou, op die tiende dag van sy noodlottige verkenningstog, laat hy sy perd in ’n bos en bestyg die kransbeskermde spits van die berg Uitkyk te voet. Van daar het hy ’n uitsig tot aan die horison na alle kante; en daarvandaan kan hy sonder die minste twyfel vasstel dat hy so omsingel is dat ontvlugting, met of sonder Kousband, absoluut onmoontlik is. Daardie hele dag aanskou hy die aankoms van nuwe kolonnes wat die kordon om die Banke in ’n ondeurdringbare muur van geweers omskep.
Gool wis dat net die dood vir hom voorlê indien hy geen opening êrens in die kordon kan vind nie.
Met ’n gevoel van die diepste weemoed sien hy die son ondergaan. Die treurige stilte van die aandskemer sak vinnig oor berge en klowe neer, en uit die duister, sover hy kan sien, verskyn die vure van die vyandelike kordon flikkerend rondom die Banke. Onmiddellik onder hom strek die magtige doolhof van die Banke self egter myle ver in drie rigtings – ’n mantel van onveranderlike donker.
Dit was die uur van diepste stilte in die Bosveld. Binnekort sou die burgers van die nag hul lewe begin; sou hy van alle kante die vreugde van nagvoëls hoor, gemeng met die juigkrete en geweeklaag van moordlus en angs wat die nag met sy donker sluier genadiglik altyd bedek. Dit is in die nag dat die gewapende moord sy skuilhoek verlaat om wreedlustig sy weerlose prooi te bekruip.
Sy gedagteloop het midde-in sy wanhoop ’n plan bedink. Vannag is sy laaste kans. Môre sal die vyand die Banke van alle kante by die honderde inval. Hy kan sien dat hulle daarvoor gereed maak. Sy plan is om Kousband af te saal en los te laat en dan sal hy probeer om ’n wagpos van twee te bekruip. Indien so ’n wagpos te vinde was – en dit was hoogs onwaarskynlik! – dan sou hy die een met sy jagmes in die rug doodsteek, en die ander sou hy met die kolf van sy geweer doodslaan, voordat een van die twee ’n geluid kon maak! Van skiet sou daar natuurlik geen sprake wees nie. Dan, indien hy hierin slaag, sou hy trag om te voet uit te vlug. Die kanse was skraal, maar dit was al wat oorbly. Hy sou in elk geval hom tot die laaste weer.
Hy wis presies waarom die vyand die Banke beset had. Hulle het verraaiers as gidse by hulle en dié het gerugte gehoor van ’n groot trop beeste wat al maande in die klowe en haakdoringplate versteek word. Hy self het ook van die trop beeste gehoor, en gedurende die laaste tien dae het hy verskeie kere hul spore gekruis. Maar dit was almal ou spore en hy was seker dat die wagters lankal met hul vee na die oneindige houtbosse van die noordelike gebergtes gevlug het.
Indien die trop nog in die Banke was, sou hy hulle lankal gewaar het. Hy sou die stof bo die bome sien uitslaan het, en hy sou hul gebulk gehoor het; en hoewel hy gedurig en noukeurig geluister het, het hy nooit een maal êrens in die Banke die geluid van ’n enkele bees verneem nie.
Waarskynlik het die verraaier-gidse ook Kousband se vars spoor gevind. Maar wat ook al die oorsaak van die beweging was, een ding was seker: Hulle was van plan om die Banke môre van alle kante te fynkam. Baie gou sou hulle sy spoor kry, en daarna was die einde ’n saak van enkele ure.
Voor dit heeltemal donker was, het hy weer ondertoe geklim. ’n Sagte fluit het Kousband op ’n draf na hom gebring. Hier onder die reuse-apiesdoringbome en tussen ruie struikgewas moes hy met die grootste moeite ’n pad te voet soek, stap vir stap deur sy perd gevolg.
So spoedig het die donker toegeneem dat hy binne ’n halfuur nie verder as ’n paar treë voor hom kon sien nie. Met uitgestrekte hande moes hy ’n weg deur die haakdorings soek.
Elke nou en dan het hy gaan staan om te luister, maar alles was nog doodstil, behalwe die treurige “hoe-hoe” van ’n enkele uil wat reeds op jag was.
So donker was dit dat dit net sy veldinstink was wat hom in staat gestel het om koers te hou na die punt waar hy besluit het om sy weg met geweld deur die kordon te forseer.
Gesig was van min nut, hy moes sy weg feitlik met sy blote hande voel totdat sy voete hom oortuig het dat hy weer op min of meer gelyke grond staan.
En hier het hy besluit om Kousband te laat bly totdat hy hom van die werklike toestand voor hom kon vergewis. Hy wou eers seker maak hoe die vyand gestasioneer is. Indien dit dan verkieslik blyk, sou hy Kousband afsaal en loslaat om self sy pad te vind. Anders sou hy trag om met die perd deur die wagposte te jaag en op sy geluk vertrou.
Al dié gedagtes het snel deur Gool se gemoed gestryk terwyl hy besig was om Kousband sorgvuldig in ’n ruie ghwarriebos weg te steek. Hy wis dat die getroue dier daar sou staan sonder om ’n geluid te maak totdat hy hom weer die teken sou gee om hom te volg.
Hy het vas besluit dat hy nie lewend in die vyand se hande sou val nie. Dit is moeilik om aan te neem dat Gool Winterbach die nag bang was, maar dat hy op sy hoede was, dat elke gevoelspier in sy liggaam gerek was, dat sy gemoedstemming dié was van ’n dapper man wat die dood elke minuut te wagte was – daaraan is nie te twyfel nie.
Die groot gevaar wat hom bedreig het, was dat daar in alle waarskynlikheid verraaier-verkenners by die vyand was. In dié geval was dit ook hoogs waarskynlik dat verkenners die ruigte onder beskutting van die nag binnegedring het – verkenners wat geen vuur sou maak nie, wat sy spoor waarskynlik gesny het voor dit te donker was en wat hom nou op verskeie punte voorlê. Uit die duisternis om hom kon hy dus elke oomblik ’n koeël te wagte wees wat hom sou platlê voor hy sy teenstander kon gewaar.
Hy had skaars tien tree geloop ná hy Kousband agtergelaat het, toe al sy vermoedens, al sy voorsorgmaatreëls te niet gedaan is deur ’n voorval wat soos ’n bliksemstraal uit ’n bloue uitspansel op hom neerslaan.
Hy het baie suutjies geloop, al twee hande op die loop en slot van sy geweer en die tromp na voor gerig, terwyl hy met die oë van ’n gebore veldseun elke opening voor en om hom sorgvuldig gadeslaan. En skielik, toe hy miskien die minste op sy hoede was, is sy regterpols deur ’n onsigbare hand vanuit ’n donker skaduwee vasgegryp! Sy eerste beweging was natuurlik om los te ruk. Gool was in die noorde bekend vir sy reusagtige liggaamlike krag, maar hy het dadelik besef dat hy deur iets beetgepak word wat die inspanning van al twee hande sou vereis om van los te kom. ’n Momentele gevoel dat dit iets bonatuurliks was, het meer as die blote skrik gedoen om hom te verbyster en sy teenstand te verswak. Maar dit het nie lank geneem voordat hy tot verset gereed was nie. Sy linkerhand was nog los en om die loop van sy geweer. Duiwel of mens, hy sou hom nie met koue hande laat oormeester nie. Hy had reeds die kolf van sy geweer omhoog gelig om sy onsigbare vyand te verpletter, toe ’n mensestem uit die duisternis hom net so skielik tot bedaring bring as wat hy geskrik had.
“Staan doodstil, seur Gool – dis ek, ou Hendrik.”
Gool het die ou Boesman voor die oorlog goed geken as beeswagter van die Boshoff-familie. Gedurende die oorlog het die noordelike kommando’s ook gedurig van hom gehoor en af en toe slagbeeste onder sy trop geskiet. Ou Hendrik het stadigaan beroemd geword, en die wonderlikste stories word vandag nog van hom en sy trop afrikanerbeeste vertel. Stoksielalleen het hy destyds meer as duisend beeste onder sy toesig gehad, en hoewel kolonnes van duisend vyandelike troepe die Bosveld en gebergtes gedurig in alle rigtings deursny het, met die enkele doel om beeste te roof en die eienaars (hetsy vriend of vyand) “spoorloos” te laat verdwyn, het geen enkele van ou Hendrik se beeste ooit in die vyand se hande geraak nie. Sy afrikaners het spoedig wild geword – so wild dat geen vreemdeling hulle kon nader nie. Net vir ou Hendrik was hulle mak, en nie net mak nie, hulle het hom as leidsman aangeneem. Hy het met hulle saamgelewe asof hy een van hulle was. Hy het hulle allerhande wonderlike streke geleer. Ou Hendrik kon verbasend goed fluit. Hy kon die stem van enige dier of voël so getrou namaak dat geen mens die namaaksel ooit kon ontdek nie, en dit was met gefluit dat hy met sy beeste omgegaan het. Hy het die gewone wyse van “oppas” omgekeer. In plaas van sy trop aan te jaag, was hy altyd aan die voorpunt. Hulle het hom gevolg soos honde hul baas volg, en as hy vir ’n halfdag van hulle geskei was (hy moes af en toe die kommando besoek om met die generaal oorleg te pleeg) dan kon hul gebulk myle ver gehoor word en die stofdampe waar hulle rondstorm, het soos stormwolke bó die bome uitgerol. Hulle kon nie rus voor hulle ou Hendrik weer terughad nie.
Die stories omtrent ou Hendrik en sy beeste het met verloop van die oorlog al merkwaardiger geword. Gool, wat self met beeste grootgeword en die afrikanerras goed geken het, het die meeste van hierdie stories as verdigsels beskou.
Daar was in Waterberg voor die oorlog verskeie troppe wilde afrikanerbeeste. Die rooi beeste van die Du Toit-familie langs die Hangklipgebergte was algemeen bekend. Hulle was in alle opsigte “wild” en moes in die veld net soos grootwild geskiet word. Die rooi afrikaners wat ou Hendrik onder hom had, was afstammelinge van dieselfde ras. Sy baas, die heer Freek Boshoff, was met ’n dogter van die ou heer Du Toit getroud. As kind het Gool dikwels met hierdie wilde beeste in aanraking gekom, en dit was vir hom eenvoudig onmoontlik om te glo dat enige mens op aarde ’n trop wilde afrikanerbeeste so kon beheer as wat van ou Hendrik vertel is. Maar sy ontnugtering was naby.
“Staan stil, seur Gool. Ek moet my beeste eers gerus maak. Hulle het jou lankal gewaar, al kom die wind van hulle kant. Hulle het jou gehoor die berg afkom.”
“Jou beeste?” vra Gool verbaas. “Waar is jou beeste?”
“Hier naby ons, seur.” En Gool kon uitmaak dat die donker gestaltetjie langs hom vorentoe wys. Hy kon sien dat die bosse voor hulle yler word en dat hulle op die rand van ’n opening staan. Dit was ’n groot gelykte, beskaduwee deur reusagtige apiesdorings en tamboties maar sonder enige struikgewas. Hy het tevore die plek gedurende sy ronddwaal in die Banke gekruis, en het toe die spore van die beeste opgemerk en tekens gesien dat dit ’n plek was waar die trop verskeie male oornag het.
Met sy hand nog vas om Gool se arm, lei die ou Boesman hom in die rigting van die opening. Skielik – tot sy verbasing – kom hulle in ’n klein holte waar ’n vuurtjie brand.
“Watse dwaasheid is dit, ou Hendrik?” vra hy. “Weet jy nie dat ons deur vyande omsingel is en dat jou vuur hulle enige oomblik op jou kan afbring nie?”
Ou Hendrik gee ’n droë laggie. “Ek weet alles van hulle af, seur. Ek het hulle lank dopgehou, net soos ek vir jou, seur Gool, al drie dae dophou. Ek kon jou voor vannag geen teken gee nie, want my beeste was baie onrustig toe hulle sien hulle word vasgekeer. Hulle het die vyand se ruik van alle kante gekry en ek moes baie sukkel om hulle stil te hou gedurende die dag. As hulle op loop gegaan het gedurende die dag, sou die vyand baie van hulle doodgeskiet het. As ek jou en jou perd skielik op hulle afgebring het, sou hulle een van twee dinge gedoen het: Hulle sou jou gestorm en verpletter het of hulle sou versprei en op loop gegaan het. Oor die vuur hoef jy nie bang te wees nie. Die lig is net van een kant af sigbaar en dié rigting word deur die beeste opgepas. Dit is maar ’n kort entjie, en daar is geen vreemdeling of ‘witdoek’ gebore wat – nag of dag – naby hulle sal kom nie.”
Gool gewaar onder die groot bome ’n uitgestrekte swart skaduwee wat in gedurige roering skyn te wees. In die dowwe lig van die vuurtjie kan hy af en toe oë sien blink, soos ’n menigte soekligte in sy rigting gekeer, en toe gewaar hy ook vir die eerste maal die aangename geur van ’n groot trop ademende beeste.
Hy kon ook vir die eerste keer sy aandag aan die ou Boesmantjie self skenk. ’n Eienaardige figuur was dit wat in die lig van die vuur sigbaar word. Sy klere, van kop tot tone, was van gebreide velle met seninggaring aanmekaar gestik. Tot sy hoed en velskoene was klaarblyklik deur homself gemaak van klein wildvelletjies. Hy was sonder vuurwapen, en het duikers, steenbokke en dassies met strikke en wippe gevang. So moes hy homself aan die lewe hou. ’n Lang herneutermes in sy lyfband was sy enigste sigbare wapen. Op sy rug had hy ’n klein opgerolde karossie – sy enigste beddegoed. Sy kos en al sy ander veldtuig had hy in ’n klein bladsakkie. Die kleur van sy kleredrag het só met die gewone kleure van die veld gestryk dat hy op ’n afstand van ’n paar treë geheel en al onsigbaar was, solank hy deur geen beweging verraai word nie.
“Ek weet dat jy vir drie dae nog geen warm kos geëet het nie. Jy was bang om vuur te maak. En jou droëvleis het eergister opgeraak. Ek was op twee van jou slaapplekke by die fonteine en kon sien dat beskuit en water jou enigste kos was. Hier is ’n vars duikerribbetjie en ’n stukkie warm pap. Eet, seur Gool, ons het vannag ’n groot werk voor ons.” Hy oorhandig die gebraaide vleis op ’n spit aan sy gas en neem vir homself ’n ander stuk wat ook op ’n spit oor die kole aan ’t braaie was.
Hul dors moes hulle beurtelings uit ’n groot militêre waterbottel les.
“Ek het ’n wagpos van hulle een nag in Bospoort bekruip en die waterbottel gesteel. Ek kon hulle kaal gebuit het, maar dit is al wat ek nodig had en ek wou hulle nie laat weet dat ek so naby hulle was nie,” verduidelik ou Hendrik.
Selde in sy lewe het die uitgehongerde jong verkenner ’n maaltyd so geniet. Maar nouliks was sy honger gestil, of die gevaar, die hopeloosheid van hulle toestand, tree weer in sy gemoed in die donkerste kleure op die voorgrond.
“En nou, ou Hendrik, is dit klaar met ons. Ek het die wêreld goed bekyk en hier sal ons nie uitkom nie. Hier moet jy jou beeste afgee en ek my lewe. Dit is my eie skuld dat ek my soos ’n dom hamel in ’n kraalhoekie laat vaskeer het.”
Die ou Boesman gee weer sy droë laggie. “Skuld kan jy dit nie noem nie. Ek wat my trop beeste as waghonde het, het my ook laat vaskeer. Geen mens kon weet van die drie troppe wat agter die berg opgetrek het nie. Hulle het van ons geweet en ons het niks van hulle geweet nie. Daarom het hulle net in die donkerste van die nag getrek en nooit vuur gemaak nie. Dit is Boere – Waterbergse Boere – wat hulle gelei en raad gegee het. Al wat hulle soek, is my beeste. Dit is ons spore wat hulle op die Banke afgebring het. Maar luister, seur Gool, ek het hulle ook goed dopgehou. Wees gerus, seur, ons gaan vannag uitkom. Al waaroor ek besorg is, is dat hulle miskien ’n paar van my beeste mag doodskiet – en dan is daar jou perd. Jy moet te voet met my uitkom en ons sal jou perd aan sy eie genade moet oorlaat. Hy kon met my beeste uitvlug, maar ek het hulle lankal geleer om ’n perd te haat en te vermy. Hulle sal van hom wegvlug asof hy die dood self is, en as hy te skielik op hulle afkom, sal hulle van alle kante die horings in sy ingewande slaan. Verlede maand het ’n patrollie van ses ’n klein klompie van my beeste naby Geelhoutbos gesien toe hulle die poort deurkom en hulle het besluit om hulle aan te jaag na hulle kamp.”
Die herinnering veroorsaak ’n vrolike laggie. “As hulle maar geweet het – hulle kon net so maklik ’n trop wilde buffels na die slagter op die dorp aanja. Hulle het van bo die wind deur die bosse gekom en toe die beeste hulle gewaar, was hulle minder as driehonderd tree van mekaar; en dit het so gekom dat die beeste in ’n klofie vasgekeer was met die ses ruiters voor hulle. Daar was ’n ou gekartelde kweenkoei wat die voorman van die klompie was, maar daar was ook vier jong rooi bulle by die trop. Ou Strepie het net een bulk gegee toe sy hulle gewaar, en toe storm die trop op hulle af. Seur weet hoe hulle brul en te kere gaan as hulle regtig kwaad word. Die soldate was so verskrik en verbouereerd dat geeneen van hulle ’n skoot gelos het nie. Hulle het so iets natuurlik nooit verwag nie. Ek het die petalje uit die berg sit en aankyk. Toe hulle die gevaar besef, het hulle net een doel voor oë gehou – en dit was om te vlug. Maar hulle was maar dom om deur die haak-en-steek te jaag. Ou Strepie het een gekies en hom in die swarthaak so vasgekeer dat dit sy maats later ’n uur geneem het om hom uit te kry. Die bulle het twee perde met die horings doodgesteek, en die kêrels moes op hande en voete by die haakdorings inkruip. Hulle was ’n vreeslike spektakel toe hulle later weer bymekaarkom om hulle perde los te kry en die dooies te bekyk. Onder die ses van hulle saam was nie genoeg flenters om ’n behoorlike hemp te maak nie.
“Nou kom, seur, die eerste ding wat ons moet doen, is om jou aan die beeste gewend te maak. Hou net vas aan my arm, en moet nooit ’n skielike beweging maak nie, en moet ook nie jou los hand optel nie. Laat jou geweer hier bly.”
En so het ou Hendrik en Gool die trop beeste stadig genader. Die ou Boesman het dadelik begin fluit en praat: “Toe maar, my kleingoed, dis ek. Moenie roer nie. Lê stil, Roman; ou Kandas – jy is lekker dik, nè?”
Die meeste van die trop het gelê, maar oral was daar klein klompies wat nog op die been was en dié het met ’n onrustige geblaas die koppe na die twee rusverstoorders gekeer. Ou Hendrik het heen en weer en in kringe deur die trop geloop, asof hy die vreemdeling aan elke afsonderlike dier wil voorstel. Hul ontvangs was uiteenlopend. Die meeste het die koppe opgetel en met oopgesperde neusgate die vreemdeling se ruik beproef. Hier en daar het klompies jong beeste skrik vertoon, en sommige was aan opspring by die nader van die twee, maar ’n enkele woord van ou Hendrik was altyd genoeg om hulle onmiddellik tot bedaring te bring. Verskeie male het ’n jong bul met ’n gedempte gebrul en verlaagde kop deur sy makkers na hulle aangekom onder ’n stofdamp van uitdaging.
In sulke gevalle het ou Hendrik die verkenner agter hom gedruk en die verwoede dier direk tegemoetgegaan, hom aan ’n horing beetgepak en sy kop opsy gedruk. Net ’n paar woorde van die ou Boesman was altyd genoeg om dadelik die stilte te herstel en die dreigende bul se woede te laat verdamp. Nooit tevore het Gool so iets gesien nie. Met stygende verwondering het hy die ou Boesman gevolg. Dit het hom werklik voorgekom asof daar ’n redelike verstandhouding tussen die beeste en hul wagter was, en asof hulle hom kon verstaan; indien nie sy werklike woorde nie, dan tenminste die toon van sy gefluit en die modulasie van sy stem.
Uiteindelik het hy op ’n uithoekie van die trop bly staan en turend in die donkerte rondgekyk. “Daar is nog een – die Generaal – wat ons van naby moet sien. Hy moet die trop vannag uitlei.” Met twee vingers in sy mond het hy die melodieuse gefluit van die eienaardige dwerguiltjie van die noordelike Bosveld nagemaak. Op ’n afstand tussen die bome gewaar Gool ’n enkele dier wat stadig opstaan van die plek waar hy afgesonderd gelê het. Soos ’n groot swart skaduwee beweeg hy deur die ligter skaduwees van die reusebome. Hy kom reguit na hulle aan en toe hy naby hulle kom, sien Gool dat dit ’n pragtige rooi afrikanerbul is, een van die mooiste wat hy ooit in sy lewe gesien het. Selfs in die donker kon hy sien dat die vel fluweelglad is, met die glans van satyn. Hy was ’n “Bosveld-kalf”, het ou Hendrik hom vertel. Hiér het hy net voor die oorlog as ’n wilde dier aangekom, en hy was nog nooit in ’n kraal nie. Dit was sy eerste kennismaking met ’n blanke. Gool kon nouliks glo dat die reusedier maar in sy vierde jaar was. Sy besondere lewenswyse het die “wilde” eienskappe van sy ras se liggaamsbou verhoog. Gool kon in elke beweging van die pragtige dier spoed en ratsheid sien, nieteenstaande die magtige spiere en die enorme gewig. “Waarlik,” fluister hy aan sy gids, “die afrikaner is die mooiste bees in die wêreld!” Die bul het sy wagter met ’n sagte geblaas begroet. Daar was hier geen teken van skrik of opgewondenheid nie. Met allerlei liefkosinge het die ou Boesman die gladde kop gestryk terwyl hy uit sy bladsakkie ’n skurwe klip neem waarmee hy die rug van die bul roskam, iets wat die dier klaarblyklik die grootste genot verskaf het. Toe dit klaar was, het hy Gool genader en met ’n diep geblaas sy klere geruik.
“Nou ken hy jou, seur,” sê Hendrik op vertroulike toon toe hulle wegstap.
Die bul het hulle een of twee keer agternagebulk asof hy die afskeid wou verhinder, maar geen poging aangewend om hulle te volg nie.
“Hoeveel beeste het jy?” vra Gool toe hulle weer by die vuurtjie aankom.
Die ou Boesman bring ’n kerfstokkie van harde hout te voorskyn wat hy aan ’n seningdraad om sy nek dra. Ná hy dit ’n paar maal met sy vingers bestryk het, antwoord hy: “Daar is eenduisend-een-en-twintig. Maar daar is ses koeie wat hul kalwers weggesteek het. Ek sal hulle later stuur om hul kinders te kom haal. Nou kan ek nie met hulle sukkel nie.”
Die gebeurtenisse wat daarna gevolg het – so sou Gool altyd later verklaar – was vir hom soos avonture in ’n droom.
Op bevel van die ou Boesman het Gool sy perd afgesaal en gelos. Die saal en toom het ou Hendrik in ’n digte bos weggesteek met die belofte: “Ek sal dit later kom haal en na die kommando bring.”
Toe hulle weer by die vuur staan, visenteer ou Hendrik die verkenner van kop tot tone. Die minste onnodige gewig moes agtergelaat word, en alles wat kon skud of ’n geluid maak, is met voorslagriempies styf om die lyf gebind. Een van Gool se twee patroonbande het hy om sy eie lyf gegespe. Tot sy spyt moes hy sy waterbottel ook wegsteek. “Ek sal dit lank nie weer nodig kry nie. Ek gaan nou ’n land in waar water volop is . . . Kom, seur, kom, seur, daar blink die môrester bo die bome uit. Binne twee uur is dit rooidag, en ons moet uit wees lank voor daar ’n teken van lig is.”
Daarna vertel hy Gool vinnig maar omslagtig wat hy van plan was en wat van die verkenner te wagte was. Daar was slegs twee plekke waar die beeste kon uitkom, en die ou Boesman het een gekies waar daar ’n taamlik wye poort was tussen ’n droë sloot en die opgestapelde rotse onder die kranse. Gool het hierdie uitweg self ook die middag van die berg af goed bestudeer en spoedig tot die gevolgtrekking geraak dat dit vir ’n perderuiter onpassabel was. Dit was minder as vierhonderd tree wyd, begroei met haakdoringbosse waardeur ’n menigte wildspaadjies kronkel. Voor sononder was hierdie poort deur nie minder as agt vyandelike wagposte beset nie. Daar was tenminste agt tente op ’n ry wat oor die hele wydte gestrek het, en soveel manskappe dat hulle die hele uitweg hand aan hand kon versper. Hoog tussen die rotse onder die krans was twee bergkanonne opgestel wat sowel die Banke as die poort kon bestook. En dit was die vesting waardeur ou Hendrik sy trop van duisend beeste wou bring! Die aanval van ’n blokhuis deur ’n seun met ’n slinger het Gool as ’n meer doenlike onderneming voorgekom, maar sy gemoedstemming was toe van so ’n aard dat hy gereed was om sonder die minste teenstand alles te aanvaar wat ou Hendrik sou aanbeveel.
Die laaste voorsorg van die Boesman was om ’n lang seningdraad om Gool se pols vas te knoop terwyl die ander end aan sy lyfband vas was. “Bly altyd net in my spoor, seur. Moet g’n woord praat nie en doen net wat ek sê. Die geweer sal jy nooit hoef te gebruik nie. Laat dit op jou rug bly.”
En so het die groot avontuur begin.
Ou Hendrik het hom vir die tweede maal deur die trop herkouende beeste gelei, maar dié keer was sy gedrag en die gevolg geheel anders. Op ’n klein kalbasfluitjie het hy aanhoudelik die skerp gekletter van die sogenaamde langasem-sprinkaan nagemaak. Die uitwerking op die diere was soos dié van ’n krygsbevel. Daar was ’n onmiddellike beweging deur die hele trop, asof ’n magtige gevoelspier in skielike werking gestel is.
“Maar hulle sal nie bulk nie,” fluister ou Hendrik.
In doodse stilte het die trop dadelik op die been gekom en geluidloos deur die sagte stof van die slaapplek na ’n enkele middelpunt opmekaar gebondel.
Toe Gool en ou Hendrik deur die ruigte was, kon hulle nog die beweging sien, en die enigste geluid was nou en dan die gekletter van horings waar die beeste waarskynlik toevallig aan mekaar geraak het. Die ou Boesman het sy gefluit gestaak toe hulle sowat vyftig tree van die trop af was, en dadelik was alles weer doodstil.
“Kom hulle?” fluister Gool nuuskierig en opgewonde.
“Nee, hulle doen niks voor hulle my order ontvang nie,” antwoord die ou wagter spoggerig.
Dit was duidelik dat nag of dag so te sê geen verskil maak aan die ou Boesman se vermoë om te sien nie. Gool het hom met hygende asemhaling gevolg, met die seningtoutjie altyd styf getrek. Nooit het hy per ongeluk aan ’n takkie of stompie gestamp nie, ofskoon hulle dikwels deur ruie swarthaak ’n weg moes vind. Dit het Gool voorgekom dat hulle vir minstens ’n uur te perd op ’n drafstappie aangehou het, toe die ou Boesman skielik stuit en hom met ’n handbeweging agter ’n bossie platdruk. Vlak voor hulle, nouliks driehonderd tree ver, sien hy nou die streep wagvure van die omsingelende vyand.
“Dom van hulle om vuur te maak,” fluister die ou Boesman, “Maar hulle weet natuurlik dat net een wagter en die beeste vasgekeer is.”
Ongeveer twintig tree van die lyn tente loop die wagte op en neer tussen die bosse, sodat elkeen weerskante met sy maat in aanraking kom. Hulle was vasbeslote dat die trop beeste dié keer nie sou ontvlug nie! Om elke vuur was nog drie of vier soldate met geweers in die hand. Die afgeslote wagte was waarskynlik binne die tente aan die slaap.
Ou Hendrik het in stilte en met gespitste noukeurigheid die posisie bestudeer. Hy het die sigbare manskappe getel en die getal binne die tente geskat, ook die perde, en die tyd bereken wat dit ’n manskap sou neem om die perdelyn te bereik en sy perd op te saal. Toe raak hy Gool aan die arm met die woorde: “Kom, seur.”
Binne ’n paar treë was hulle op die wal van die donga, wat dig begroei was met geelhoutbome. Met ’n rilling het Gool die swart diepte bekyk toe hy agterkom dat die ou Boesman van plan was om die sloot deur te gaan. Die wal af het hy Gool voet vir voet en hand vir hand gehelp. Ongesiene boomstamme en slootgewas was die leer waarmee die twee vyftig voet na onder en weer vyftig voet op teen die ander wal geklim het, nie sonder moeite en gevaar nie. Toe hulle weer die gelykte bereik, het ou Hendrik sonder ’n oomblik rus die verkenner weer op ’n drafstappie langs ’n voetpaadjie deur digte haakdorings gelei. Uiteindelik, toe Gool só uitgeput was dat hy nouliks sy voete kon lig, werp die ou Boesman hom onder die takke van ’n stamvrugteboom op ’n rotsbankie neer. Tot sy verbasing merk Gool dat hulle deur die vyandelike linie is! Hulle, tenminste, was veilig! Hulle kon nou wegloop en g’n vyand sou ooit weet waar of hoe hulle deurgekom het nie. Maar die beeste was in die slag! Dit het ewenwel spoedig geblyk dat die ou Boesman ander planne had as om net sy eie veiligheid te bewerkstellig. Ver agter hulle wys hy Gool die kruin van ’n kremetartboom, duidelik teen die uiteinde van die hemelstraat sigbaar.
“Hou daardie boom in die oog, seur Gool. As ek die woord gee, moet jy na daardie boom koers hou. Ek sal probeer om by jou te bly, maar dit kan wees dat ons geskei raak. Ek sal jou daar ontmoet.”
Ou Hendrik haal sy kalbasfluitjie uit die bladsak en begin eers saggies en dan altyd luider die “hoe-hoe, hoe-hoe” van die geoorde bosvelduil namaak. Só goed was die nabootsing en so gewoond was die vyand aan die geluid dat Gool kon sien dat hulle nie die minste aandag daaraan skenk nie.
“Maar, ou Hendrik, die beeste kan dit nooit hoor nie, wat ook al jou plan met hulle mag wees, hulle is nou myle ver van ons af.”
“Hulle is baie nader as wat seur dink. Ons het ’n groot kring geloop om agter die vyand te kom. Luister maar!”
Veraf in die rigting van waar hulle gekom het, gewaar Gool ’n eienaardige geluid. Dit was soos die verre gedruis van stormwater oor ’n rotsgebaande bedding. Die geluid is onmiddellik deur die vyandelike wagte gewaar. Hulle kon duidelik ’n vervaarde “Halt, who goes there!” van een verskrikte soldaat hoor. Toe was daar ’n gekletter van geweers, en bajonette blink in die lig van die vure. Oral langs die lyn vergaar groepies offisiere wat klaarblyklik die geheimsinnige geraas bespreek.
Al luider word die gedreun in die Banke, en toe dit so naby is dat Gool die dowwe gebulk van beeste kan onderskei, gee ou Hendrik nog ’n paar harde “hoe-hoes” op sy fluit, en binne ’n paar minute maak die eerste beeste hul verskyning deur die haakdorings. Hulle was in vier parallelle kolonnes verdeel. Daar was ’n geblits van oë in die vuurlig, ’n gekletter van horings en ’n wrede gebulk. Gool kon maklik die gemoedstoestand van ’n rou uitlander besef wat so ’n gedrang onverwags in die donkerste van die nag weerstand moes bied.
Aan die voorpunt van die voorste kolonne kon Gool in die vuurlig duidelik ’n reusegestalte in volle vaart sien. Dit was die “Generaal” wat, kop omlaag, die stormloop lei! Die werklike skok van ontmoeting was minder sigbaar. Dit was in ’n stofdamp gehul, maar Gool kon vuurstompe uitmekaar sien spat, en mense, komberse, flenters doek is oral langs die linie met verskriklike geweld omhoog gegooi. Die geraas was ontsettend. Die donderende gedreun van hoewe, die verwoede gebulk van beeste was nie voldoende om die geskreeu, die gevloek en gekerm van swaar beseerde mense geheel en al te versmoor nie.
In die begin is wilde skote hier en daar in die tumult gelos, maar die verrassing was klaarblyklik so volslae dat daar so te sê g’n gewapende verset was nie. Die geweerskote kon getel word.
Bo al die verwarring en geraas kon Gool duidelik ’n vreeslike geluid hoor, waarmee hierdie oorlog hom lank reeds vertroud gemaak het. Dit is waarskynlik die verskriklikste geluid wat onder die uitspansel gehoor kan word – die bloedstollende geskreeu van gemartelde perde wat nie kan loskom nie.
Die oggendskemering het snel afgeneem, maar wat Gool betref, het die helder lig slegs gedien om die nagmerrieagtigheid van die drama te verhoog. Digter en digter het die stof soos ’n swart kolom hemelwaarts gestyg, maar dit was nooit dig genoeg om die geweldige roering wat benede plaasvind, geheel te verhul nie. Teen die einde het dit vir Gool na ’n orkaan gelyk wat allerhande voorwerpe omhoog ruk.
Net so skielik as wat die storm ontstaan het, net so vinnig het dit weer bedaar. Dit het alles soos ’n aaklige droom verbygegaan. Toe Gool die stem van die Boesman langs hom hoor, was daar weer betreklike stilte in die vyandelike linie – behalwe die aanhoudende gekerm van gewonde perde en van soldate wat in die swarthaak te lande gekom het. Toe die stofwolk stadig van die toneel wegdryf, kon hulle in die skemerlig die vreeslike verwoesting sien wat in die kort tydjie in die linie teweeggebring is. Al die tente was plat; oral in die haakdoringbosse was stukke seildoek, flenters van komberse, jasse en klere, en uit die bosse kon hulle hier en daar soldate sien orent kom of op hande en voete uitkruip. Van die perde, wat agter die tente op tou gestaan het, was niks te sien nie. Dié wat losgeraak het, het die bosse ingevlug, en wat nie losgeraak het nie, was plat.
Wat die beeste betref, kon Gool sien, aan die stowwe wat tussen die bome opslaan, dat hulle reeds ver uitmekaar verspreid was, maar nog steeds in donderende vaart.
“Kom, seur,” gebied die Boesman, “ons moet voor sonop by die kremetartboom wees.”
“Dit sal jou ’n maand neem om jou trop weer bymekaar te kry,” sê Gool neerslagtig.
Maar die ou Boesman gee weer sy droë laggie.
“Seur ken my veldkuikens nog nie. Hulle is nes klein kindertjies, en ek is die ou aia. Hulle sal nooit dag of nag rus voordat hulle my weer kry nie. Al wat ek te doen het, is om op een plek aan te bly tot hulle almal daar bymekaarkom en dit sal uiters drie dae neem. Ek gaan vir hulle in die Middelveld wag, en as die vyand ons daar kan vaskeer, sal hy slim wees. Die seur het nou self gesien dat hulle hele kommando nie in staat sal wees om my kindertjies aan te ja nie. Al skade wat hulle sal kan verrig, sal wees om sommige dood te skiet – en daar sal hulle voor moet betaal.”
Dit het Gool ondubbelsinnig toegegee.
Die laaste gebeurtenis van die groot slag wat Gool tot sy dood toe in sy geheue sou voer, het plaasgevind net toe hulle opstaan om te vertrek. Hulle gewaar skielik in hul onmiddellike nabyheid ’n geweldige geraas in die bosse. Dit was asof ’n afdeling ruiters met geweld ’n weg deur die ruigste haak baan. Vir ’n oomblik het dit ou Hendrik weer op sy hoede gestel. Met ’n handgreep druk hy Gool weer onder die takke van die stamvrugteboom, terwyl sy blink kraalogies die omgewing aandagtig beloer. Gool kon deur die takke ’n groot gedaante direk op hulle sien afkom. En toe die gevaarte net onder hulle klipstapel te voorskyn kom, word dit met ’n groot gelag deur ou Hendrik begroet.
Dit was Generaal, die pragtige jong afrikanerbul wat Gool die vorige nag in die donker bewonder het. Om een horing was die helfte van ’n jas so vasgevleg dat hy tevergeefs getrag het om dit teen boomstamme en tussen takke af te skuur. Al twee horings, sy skof, en die een gespierde skouer was dik met bloed bevlek. Met gerekte neusgate en ’n sagte gebulk het hy sy vriend bo-op die rotse begroet. Ou Hendrik moes sy herneuter gebruik om die bul van sy lastige drag te verlos.
“My offisier het hulle oorlogsvlag buitgemaak,” was ou Hendrik se opmerking.
Alles het uitgekom net soos ou Hendrik belowe het. Die volgende dag was hy en Gool veilig in die Middelveld. Hier en daar het hulle patrollies gewaar op die spoor van die beeste. Maar dit was kinderspeletjies om van hulle ontslae te raak. Binne ses dae was die trop weer bymekaar sonder dat dit nodig was om ’n enkele een op te soek. Hy het hulle “op die haar” nagegaan en sy verslag was: ses afwesig, waarvan vier koeie was met weggesteekte kalwers wat later sou bykom; tien swaar gewond en ongeveer dertig met ligter beserings. Tien dae ná die “slag” het Gool sy perd, Kousband, weer in die hande gekry. Byna ’n maand later het hy sy kommando weer bereik, ná hy lank reeds deur sy makkers as “gesneuwel” of “vermoor” betreur was. Hy het op Kousband aangery gekom, bloots, sonder selfs tou-in-die-bek.