Читать книгу Die Beste verhale van Eugène N. Marais - Eugène N. Marais - Страница 5

Оглавление

M’Vubu (Die seekoei)

M’VUBU (DIE SEEKOEI)

Die klein dorpie Dageraad is binne die soom van die Groot Woestyn geleë. Dit is meer as driehonderd myl van wat die naaste beskaafde geweste mag genoem word.

Dageraad bestaan uit ongeveer dertig huise wat dieselfde getal families ’n pied-à-terre verskaf.

Oos, teen ’n sandbult, lê die rondawels van die polisie en die woning en kantoor van die vrederegter – ’n amp wat skrywer self destyds beklee het. Die blanke bewoners van Dageraad was almal afstammelinge van ou woestynjagters wat in latere tye ’n voordeliger beroep gevind het in die veeboerdery, hier op die grense van die Dorsland. Rondom Dageraad was tal van plase deur ons meer bemiddelde boere bewoon; maar – binne of buite die “dorp” – almal was veeboere.

Die veld was vir hierdie doel uitmuntend. Wyd uitmekaar verspreide kameeldorings en ander groot woestynbome het die uitsig in enige rigting tot ’n paar honderd tree beperk. In reënjare was die sogenaamde “soom van die woestyn” ongeëwenaard wat natuurskoon betref, en jy sou ver moes soek om beter weiveld te vind. Sulke buffelsgras, en al die ander soet soorte, het ek nooit elders in ons noorde aangetref nie.

Al wat makeer het om Dageraad in ’n “voortdurende” paradys te verander, was water. Water! – dit was vir ons die vernaamste element in die natuurlike omgewing; water was die gedurige onderwerp van ons gesprekke; oorsaak van ons grootste vrees en ellende; voorwerp van ons meeste gebede en hoop.

Weswaarts van Dageraad was ’n reeks statjies wat bewoon is deur ’n ras bestaande uit gemengde Bakwena- en Bakalihari-bloed. Die streek was vroeër deur Sjangaans bewoon, sodat die meeste plaasname Zoeloe was. Die teenswoordige bewoners was afstammelinge van die vroeëre jagtersvolk wat die blanke woestynjagters altyd vergesel het. Ook hulle was nou veeboere. Maar hulle was nog beroemd as veldkenners en spoorsnyers. Hul weerga in hierdie opsig was in Suid-Afrika nie te vinde nie.

Die polisie van Dageraad het bestaan uit een blanke sersant – ’n Engelsman, ene Clarke – en twee blanke manskappe. Dan was daar vyf swart konstabels met ou September aan die hoof, wat ook gedien het as tolk in die hof van die vrederegter.

Ou September – of “Stemmer”, soos hy algemeen genoem is, was ’n egte Bakalihari, in die woestyn gebore en grootgeword. So lank was hy in die diens van die ou jagters dat hy reeds in sy jeug oorlams geword het, en nieteenstaande sy ouderdom – want sy oë was reeds dof, en sy gesig so vol rimpels soos ’n skilpaddop – was hy die baasspoorsnyer in ons klein gebied. Al ons speurwerk is derhalwe aan hom toevertrou – en daar was taamlik baie aanvraag vir sy dienste in hierdie rigting. Veediefstalle, ontvlugting van skelms uit die suide die woestyn in; manslag en aanranding onder die swart mense het dikwels voorgekom, en in die meeste gevalle moes ons van ou Stemmer se merkwaardige vernuf en kennis gebruik maak.

Ons enigste water is uit putte verkry. Elke blanke woning en elke stat had sy eie put – skuins ingegrawe sodat die water in potte geskep en uitgedra kon word. Elke put was beskerm deur ’n digte laning van haakdoringtakke, en langsaan was die drinkkraal, ook met haakdoringtakke toegeslaan. In die drinkkraal was die waterbakke, uit maroelastamme gemaak, waar die vee – in klompies van vier of vyf – ingelaat is om te drink. Die water was dikwels so skaars dat die vee slegs twee keer in die week kon drink; dan was die suipery altyd ’n verskriklike arbeid. Swart en blank moes mekaar te hulp kom. By elke hek staan ’n kommando wagters met kieries, sambokke en skildvelle gewapen, wat dikwels die uiterste geweld moes gebruik om die uitgedorste diere af te keer en teë te hou. Soms het dit gebeur dat ’n klomp beeste die hekpale platloop en die wagters verdryf, en dan was daar ’n afgryslike skouspel. In ’n paar sekondes was die put volgestorm; die agterste druk die voorstes in, tot ’n stuk of dertig dooie liggame weke lank alle toegang tot die water in die besondere put verhinder.

’n Vreeslike ding was somtyds die waterkwessie van Dageraad!

Een middag sit ons onder ’n groot kameeldoringboom voor my woning, teen die helling van die sandbult. Van hier af was daar ’n uitsig – oor die toppe van die bome – tot in die oneindige dynserigheid van die woestyn. Hier en daar, myle ver, kon ons stukkies van die ou jagterspad deur die bome sien blink, en links was die donker kronkeling van Sandrivier, of M’Vubu soos die swartes dit noem. Dertig myl van Dageraad het ons enigste “rivier” vir ewig in die sand van die Dorsland verdwyn. M’Vubu was ’n egte woestynrivier. In goeie reënjare was daar ’n vlak stroming oor die sandbedding. Gewoonlik was die “rivier” ’n oneindige dorre sandsloot, die walle waarvan met reusebome begroei was. Ná ’n vloed kon vir ’n paar maande water verkry word deur kuile in die sand uit te hol, waar die water dan stadig insyfer.

Die groot kameeldoring voor my woning was elke middag ons byeenkomplek in Dageraad. Hier het ons dag ná dag al die aangeleenthede van ons eensame lewe en omgewing bespreek. Dit was maar selde dat daar iets nuuts was om ons belangstelling gaande te maak.

Die besondere middag waarvan ek skrywe, was daar net ’n paar van ons. Daar was sersant Clarke en die twee blanke manskappe en Solly Cohen, ons enigste veekoper en “algemene handelaar”. Solly was ’n kort, vet Russiese Jood met bloedrooi hare en ’n ronde glimlaggende gesig. ’n Paar jaar tevore het hy te Dageraad opgedaag in ’n ou afgeleefde donkiekarretjie met twee maer esels bespan. Hy was in ’n ellendige toestand – uitgedors en uitgehonger. Met die verbasende volharding van sy ras (waar dit geld betref) het hy doodsgevare van allerlei aard trotseer om Dageraad te bereik. Hy het verneem dat daar ’n goeie kans was om besigheid te doen; en geen kompetisie nie! En nou, ná slegs twee jaar, was Solly ’n ryk kêrel – soos ons in Dageraad rykdom skat. Hy had ’n groot trop vee; verskeie plase met goeie putte, en in die dorp ’n winkeltjie waar blankes en swartes al hulle benodigdhede en weeldeware kon koop – teen ontsettende pryse!

Dit was Solly! En hoewel hy ’n geldwolf van die eerste water was, het ons almal van hom gehou. Hy kon jou fop en vastrek met ’n glimlaggie op sy Joodse tronie en ’n paar grappies wat die hele transaksie – vir jou – van alle bitterheid beroof het.

Hy was vol humor, grappe en kwinkslae, met ’n verstand so skerp en bytend dat hy sy hand in jou sak kon steek en jou onder die indruk laat dat dit jou eie was! – so tenminste het oom Wessels, ons ouderling, verklaar.

So ’n soort vent was vet Solly Cohen. Die vroue het hom waarlik bemin! As daar siekte of werklike nood was, het geeneen van hulle ooit tevergeefs by Solly aangeklop nie; en geen Christen het ooit minder ophef van sy ware liefdadigheid gemaak nie. Sy linkerhand wis in waarheid nie wat sy regter doen nie.

Ek herinner my dat hy ons hierdie middag sit en vertel het van sy lyding as ’n weeskind in ’n klein Joodse dorpie in Rusland. Van die wieg af was hy op die pynbank gerek en sy woestynreis na Dageraad, het hy verklaar, was nie te vergelyke met wat hy byna daagliks in Rusland te verdure had nie.

Ongelukkige Solly!

“Hier kom Stemmer,” roep een van die polisiemanne skielik uit, “en die duiwel is op sy spoor!”

Van ver af tussen die boomstamme deur sien ons die ou swart man aangedraf kom. Sy haas het ons almal laat wonder.

“Seker weer ’n bierdrinkery en geveg,” sê sersant Clarke.

“Daarvoor sal Stemmer nie hardloop nie,” merk Solly op. “Hy sal eerder bystaan om ’n paar te sien doodslaan! Hy is te veel van ’n sportman om ’n onnodige einde aan ’n biergeveg te maak!”

Toe die ou man by ons aankom, salueer hy deftig met sy knopkierie en asgaai en daarna sak hy stadig op sy hurke neer in die gewone posisie wat ’n swart boodskapper inneem voor hy sy berig aflewer. Met dieselfde bedaardheid en deftigheid haal hy uit ’n bladsakkie sy pragtig gekerfde hout-snuifbottel, skud ’n hopie snuif in die palm van sy hand en snuif dit op met ’n sug van voldoening.

“Wat is dit, Stemmer?” vra Clarke uiteindelik nuuskierig en ongeduldig.

“Seur,” antwoord die ou ewe bedaard-eentonig, “seur, dit sal goed wees, dit sal baie goed wees, as seur dadelik al die skepsels oproep om vannag wag te staan by die putte, van hier tot Magoeba se stat.”

Magoeba was die stat verste van Dageraad in ’n westelike rigting.

Sy verklaring het dadelik al ons nuuskierigheid gaande gemaak. By die putte wag staan? Waarom? Water was destyds taamlik volop; die dorp se beeste het die vorige dag gedrink – watter gevaar kon daar by die putte kom?

“Volk oproep? Wag staan? Waarom – wat makeer?” vra die sersant net so verwonder as ons almal.

“Seur,” gaan ou Stemmer voort, “daar is ’n groot trop beeste aan die kom deur die woestyn. Dit is ’n baie groot trop en hulle is uitgedors. Baie vrek elke dag. Dit is agt dae wat hulle laaste water gehad het by die Biesiekuile en dit was maar min. Nou het hulle die reuk van ons water gekry en dié wat lewendig deurkom, sal alles in Dageraad platloop. Môre as die son so sit (omtrent tienuur in die oggend word met die hand aangewys), sal hulle hier aankom; maar die sterkes mag selfs in die nag aankom en as daar nie wagte is nie, sal dit swaar gaan met ons putte.”

Vir ’n paar minute sit ons almal verslae. Ons ken die ou man te goed om vir een oomblik aan sy berig te twyfel – maar hoe het hy dit te wete gekom? Daar was geen boodskapper uit die woestyn nie. As daar een was, sou ons, by die polisiestasie, natuurlik eerste die nuus gehoor het. En die berig was uiters skrikwekkend. So afhanklik was ons van water – van ons putte – dat enigiets wat dit bedreig, feitlik nou ons putte vertrap, vir die streek Dageraad ’n ramp sou beteken.

“Ooi! Ooi! Ooi!” roep Cohen uit terwyl hy opspring en met haastige treë voor die ou spoorsnyer op en neer stap. “Wat is dit jy sê vir ons? Wat is dit jy sê? Hoe jy weet hom? Hoe jy weet?”

Ons begin almal tegelyk angstiglik vrae te stel en dit was sersant Clarke wat uiteindelik die rus herstel om Stemmer behoorlik te ondervra.

“Hoe weet ek, seur?” en op die bedaarde, statige wyse van sy ras staan hy orent en strek sy regterarm uit in die rigting van die woestyn. “Daar, my seurs, is die boodskappers. Van eergister af het hulle my vertel.”

En toe sien ons ver in die groue hemel van die Dorsland, op die rand van die gesigseinder, malende swart kolle. Dit was aasvoëls wat oor voedsel “dwaal” of na die bome sak om te slaap.

Weer het ou Stemmer ons verbaas met die vernuf waarmee hy die getal, die trekrigting en die toestand van die aankomende vee afgelei het enkel en alleen uit die verskyning en gedrag van die troppe aasvoëls wat sy skerp oë twee dae tevore reeds ontdek het.

Clarke het dadelik bevel uitgevaardig. Wit en swart inwoners word gemobiliseer. Gedurende die hele nag word die bakke in die lig van groot vure volgedra en alle voorbereidsel word getref vir die worsteling wat ons die volgende dag te wagte was; en lank sou die herinnering van die groot stryd in die kronieke van Dageraad lewe.

Ek herinner my nog die volgende oggend in die daglumier hoe ons almal ons poste in die skemerdonker ingeneem het.

Laag op die oostelike horison hang die môrester soos ’n gloeiende wit lamp, en vanuit die woestyn trek ’n treurige koue windjie. Hier en daar in die donker wink vure wat die volk in digte dromme omring, want die nag was koud. Ons kommando was in ’n myl lange lyn tussen die waterputte en die woestyn opgestel, en alles was gereed om hierdie beeste met geweld in klein klompies op te breek en tussen die putte te verdeel. Wit en swart was geoefen in hierdie werk, ofskoon ons nog nooit tevore met so ’n massa tegelyk te doen gehad het nie. Ons wis alles van hulle af: die hoeveelheid; hulle toestand; hoe dors hulle was en die waarskynlike getal wagters – en alles het ou Stemmer en sy maats afgelei uit die getalle en gedrag van die “dwalende” aasvoëls wat in die blou, selfs in die middel van die dag, skaars sigbaar was. Toe ek Stemmer teen sonop die oggend vra: hoeveel? toe hou hy die vyf vingers van een hand op en die duim van die ander: seshonderd beeste! Vir ons was dit ’n ontsettende getal.

Teen tienuur die oggend sien ons vir die eerste keer donker wolke bo die bome uitslaan oor ’n wydte van ongeveer twee myl. Dit was die stof van vee wat vinnig kom. “Hulle begin trek,” sê ou Stemmer. “Hulle is so klouseer dat hulle in die nag gelê het. Hulle kom nie te vinnig nie, want hulle het die reuk van die water verloor. Die wind kom nou van hulle kant af.”

’n Uur later sien ons vir die eerste maal ver deur die bome die eerste klompies verskyn. Hulle loop op ’n sleepdraf en voor hulle dryf ’n stofwolk uit, so dig dat hulle af en toe geheel en al agter die gordyn verdwyn. Hulle verskyning word deur ons kommando met ’n brullende lawaai begroet. Langs die lyn af dreun oorlogskrete begelei deur die getrommel van knopkieries op skildvelle. Ons moes hulle verskrik voordat hulle met ons gevegslinie in aanraking kom.

Oor alles, tot dusver, het ’n doodse stilte geheers – die woestynstilte van die vroeë môre; en niks op aarde kan meer geluidloos wees as dit nie.

Skielik verminder ons lawaai weer. Ons hoor ’n ander geluid – ’n geluid wat, een maal gehoor, vir ewig in die herinnering lewe; dit had iets van die gedreun van die see, veraf op ’n rotsbeskanste kus; maar oneindig, onuitspreeklik treurig. Dit was ’n weeklaag so verskriklik dat dit ’n siddering in siel en liggaam wek. Dit was asof al die ellende, al die lyding van al die lewe op aarde skielik ’n stem gevind het.

Dit was die gekreun van uitgedorste diere wat reeds die doodsfoltering smaak.

Die opverdeling het dadelik begin met ’n gekreun en ’n gebulder wat ’n tyd lank alle ander geluide versmoor het. Dageraad was in ’n stikkende stofwolk gehul waarin mense en diere af en toe as jaende spooksels sigbaar word. ’n Klompie van ons, die bevelvoerders, het vroegtydig uit die stof en lawaai gevlug om stelling te neem op die hoogte voor my woning, van waar ons die hele toneel in oënskou had en bevele kon uitstuur. Daar was Clarke en al sy polisie, ou Stemmer, ’n paar van die voormanne uit die dorp en ek, die vrederegter.

Omtrent twaalfuur sluit Solly Cohen by ons aan. Uit die wolk het hy skielik opgeduik, so van die stof dat hy nouliks herkenbaar was.

“Die weerwolf,” sê Clarke, “hy het klaar die vee deurgekyk met ’n ‘eye to biesness!’”

En dit was so! “Aai! aai!” roep hy toe hy by ons kom, met die gewone Joodse handgebare, “wonderlike vee! Almal damaras en almal stompoor gemerk. Ek dink die baas sal gou verkoop en miskien goedkoop ook!”

“Stompoor” is natuurlik die een verbode oormerk onder ons veeboere. Daar is ongeveer twaalf gewone en erkende merke: “halfmaan”, “swawelstert”, “winkelhaak”, “jukskeikerf”, ens. “Stompoor” is die erkende merk van die dief en skelm, want dit is die enigste manier om alle ander merke uit te wis. Van dié oomblik af het geeneen van ons die minste twyfel gehad dat dit gesteelde vee was nie. Ons wis ook dat daar nie die minste kans was dat die diefstal ooit ontdek sou word nie. In dié dae was die breedte van die Kalahari ’n veilige spergebied vir die veedief wat daarin slaag om met sy buit deur te kom.

Dit was ongeveer twaalfuur toe die sogenaamde eienaars hul verskyning voor die polisiekantoor maak. Daar was twee wit mans op stokflou perde en ’n stuk of ses Masarwas te voet. Die twee blankes het ’n skouspel gebied wat moeilik was om gade te slaan sonder om te lag. Een was lank en vreeslik skraal; die ander kort en vet. Al twee was vuil, so vreeslik vuil dat dit moeilik was om hulle huidskleur van dié van die Masarwas te onderskei. Hulle was in flenters gekleed en ’n mens kon dadelik sien dat hulle die uiterste lyding deurstaan het. Hulle was uitlanders. Die laaste was van Noorweegse afkoms, maar in Australië opgegroei. Pat was natuurlik ’n Ier.

En so het O’Brien en Husting hulle verskyning op Dageraad gemaak, waar die noodlot bepaal het dat hulle ’n rol moes speel in die twee geheimsinnigste gebeurtenisse waarmee ek ooit in my lewe in aanraking gekom het.

Ná ons hulle water gegee het om te drink en om die ergste vuil van hul gesigte te verwyder, het hulle dadelik en ongevraagd hulle storie vertel. Dit was natuurlik ’n opgemaakte storie, in die vertelling waarvan hulle goed geoefend was. Hulle was naamlik handelaars. Twee jaar gelede het ’n groot droogte die vee op die Portugese grens so goedkoop gemaak dat hulle besluit het om ’n groot spekulasie te waag. Hulle het al hul goed en geld in vee omgesit en besluit om die trop deur die woestyn na die grens te vervoer. Die vyfhonderd wat by ons aangekom het, was al wat oorgebly het uit twee maal die getal waarmee hulle begin het.

Hoe dit ook al sy, by ons het nooit enige formele klagte aangekom nie. Ons het baie gerugte van die kant van die woestyn gehoor, maar meer as gerugte nooit.

Dit was net voor sononder op die dag van hul aankoms dat die laaste van hul vee water gekry het by putte meer as vyf myl van Dageraad af.

Hul stompoor-damarabeeste was so gehard dat hulle ná hul aankoms te Dageraad niks meer verloor het nie.

Solly Cohen het die twee vreemdelinge dadelik in beslag geneem. Hy het een van sy rondawels aan hulle afgestaan, en op ’n plaas van hom na aan die dorpie het hy hulle (teen vergoeding!) weiveld en water vir hul vee verskaf.

Dit was nie lank nie, of Solly vertel ons dat hy sy plaas Sandsloot aan O’Brien en Husting verkoop het vir driehonderd-en-vyftig uitgesoekte beeste en ’n bewys van £200. Dit was ongeveer tien maal die waarde van die grond, maar die vreemdelinge was blykbaar angstig en haastig om te verkoop. Buiten die beeste het hulle niks besit nie. Solly kon ons spoedig vertel dat die twee geen pennie geld tussen hulle het nie. Vir alles wat hulle van Solly kry, moes hulle met beeste betaal, en dit het nie lank geduur voor Solly byna al die vee besit het nie. En toe begin sy gasvryheid verflou.

Intussen het die twee ’n hartbeeshuisie op die plaas laat bou en ná ’n paar maande het hulle soontoe getrek met wat nog van hul trop oorgebly het.

Die lewe was destyds goedkoop; wild was volop; al twee was goeie skuts en kon, soos die meeste van ons, grotendeels uit die veld lewe.

Hulle plaas was ongeveer tien myl van die dorp geleë en ná hulle vertrek het ons hulle selde of nooit in Dageraad gesien. Met ons ou inwoners het hulle nooit werklik intiem geword nie. Van die begin het ons hulle met agterdog en weersin aanskou. Hulle het spoedig die bynaam gekry van “die stompore” en Clarke en sy polisie het hulle – nie te voorbariglik nie, maar tog geduriglik – dopgehou. Maar hulle gedrag was onbesproke . . . behalwe ’n sprie nou en dan as Cohen hulle van ’n paar bottels perskebrandewyn voorsien . . . teen ’n vers vir ses bottels!

’n Ander feit wat by ons ’n ongunstige indruk gemaak het, was dat hulle nooit ongewapend gery het nie. Agter die rug was altyd die geweer geslinger – selfs op Sondae as hulle dorp toe kom. En elk had nog ’n rewolwer aan die regterkant. Die kort O’Brien behalwe sy twee vuurwapens, ’n ou geroeste Engelse kavallerieswaard, die skyf waarvan met ’n stuk rou riem aan die lyfband geknoop was. Die handvatsel was af, en in plaas daarvan was ’n vlakvark se slagtand, pragtig bewerk en met koperdraad aan die lem van die sabel vasgedraai. Dit was klaarblyklik Masarwa-werk.

In gewone drag sou die Ier snaaks genoeg gelyk het. Sy ongewone wapenrusting het hom ’n ware hanswors gemaak.

Al twee het ’n indruk van iets “verkeerds” geskep. Lombroso sou hulle dadelik, op die getuienis van hulle gesigte alleen, as misdadigers gerangskik het! Tog het hulle ons maande lank nooit die minste rede gegee om hulle van enige misdadige planne te verdink nie.

En toe gebeur daar iets wat Dageraad eenvoudig verbyster het en wat die vreemdelinge vir ’n tyd onder verdenking geplaas het sonder, egter, dat een van ons sy vinger op enige vaste feit kon plaas.

Dit het so gebeur: Een oggend vroeg sien ons Solly Cohen op sy ou muil met die voetpaadjie na die polisiestasie aangery kom. Ons het almal baie van Solly gehou. ’n Geldwolf was hy ongetwyfeld, maar hy was tegelyk goedhartig, vrolik en altyd opgeruimd en vol grappe. ’n Besoek van Solly was vir ons altyd ’n ware genot in ons onafgebroke eensaamheid en eentonigheid.

Hierdie oggend het hy net lank genoeg afgeklim om ’n koppie koffie te drink en ’n paar grappies te verkoop. Hy was op weg na ’n afgeleë stat om skuld in te vorder. Hy sou waarskynlik beeste moes neem, het hy ons vertel, want die swart mense was almal aan ’t geld soek om opgaaf te betaal. Hy sou nie voor laat die aand in Dageraad terug wees nie.

“Het O’Brien en Husting al jou bewys vir die £200 betaal?” vra ek hom skielik.

Dadelik sak sy kop en al sy vrolikheid verdwyn. “Hoe sal hulle betaal?” vra hy op mismoedige toon. “Hulle het geen pennie kontant nie en die vee is so te sê gedaan. Ek het hulle verskeie maal gevra in die laaste tyd, en hulle maak ekskusies. Daar gaan moeilikheid kom, vrederegter.”

En toe stel sersant Clarke hom ’n ander vraag: “Solly,” sê hy ernstig, “waar bêre jy jou geld en bewyse?”

Die Joodjie skrik asof iemand koue water oor hom gooi. Hy staar die sersant vir ’n lang tyd sprakeloos aan.

“Meester Clarke,” sê hy uiteindelik, “daar is net een brandkas wat ek het – dit is hier,” en hy klop op die middel van sy vet lyfie. Ons kon hoor dat hy ’n breë leerband onder sy klere dra. “Jy dink dit is alryt, meneer Clarke?” vra hy bang.

Clarke haal sy skouers op. “Ek weet nie of dit veilig is nie, Solly, maar een ding is seker, as iemand jou brandkas wil beroof, sal jy voor hy dit bereik, in aardse dinge nie meer belang stel nie, selfs nie in geld nie!”

Ons lag almal – almal behalwe Solly.

“Meester Clarke,” sê hy, “jy moet ou Stemmer vra om in die nag by my winkel nou en dan rond te loer. Ek sal betaal.”

Clarke klop hom gerusstellend op die skouer. “Jy moenie bang wees nie, Solly, hou jou rewolwer altyd by jou. Jy is in die dorp net so veilig as jy hier binne die polisiestasie sou wees.”

Maar dit het nie gelyk of Clarke se woorde hom baie moed inboesem nie.

“Waarom dan jy vra: Waar is jou geld?” sê hy eindelik.

Clarke het die vraag nie beantwoord nie.

En toe groet Solly ons en bestyg sy ou muil met moeite en ’n groot gesteun. Met ’n handwuif ry hy stamp-stamp voort met die voetpad in die rigting van Magoeba. Ons staan hom agterna en kyk totdat hy eindelik tussen die kameeldorings verdwyn.

En dit was die laaste maal dat ons Solly gesien het. Die aand laat het sy opgesaalde muil by die winkel aangekom – ’n feit wat dadelik deur sy werkers aan ons gerapporteer is.

Die volgende dag was daar nog geen teken van Solly nie en toe stuur Clarke ’n swart konstabel na Magoeba om te verneem wat van hom geword het.

Ons het toe vir die eerste maal werklik onrustig geword – toe die konstabel die volgende dag terugkeer met die berig dat Cohen nooit by Magoeba aangekom het nie, en dat hy onderweg by geeneen van die statte gewaar is nie.

Die hele dorpie was in opskudding.

Ek herinner my dat ons die hele nag deur krygsraad in my kantoor gehou het. Al die vernaamste ingesetenes van die dorpie was teenwoordig en ek onthou dat dit my as eienaardig voorgekom het dat almal, sonder enige gegronde rede, dadelik met die uiterste agterdog op O’Brien en Husting gesinspeel het in verband met die verdwyning van Cohen.

Clarke was so opgewonde dat hy nooit meer as ’n paar minute in sy stoel kon sit nie. Hy het baie van die Joodjie gehou.

“Ons het hulle! Wragtig, ons het hulle!” het hy een maal uitgeroep. “Dit is hul eie domheid. Hulle weet nie hoe maklik dit is om selfs ’n ingewikkelde gebeurtenis hier in ons sandveld op te spoor nie. As hulle arme ou Cohentjie van kant gemaak het, sal ons môre voormiddag alles weet!”

Daar is ooreengekom dat ou Stemmer en ek saam die volgende dag sou uitgaan om spoor te sny. Al die ander polisie en sommige ingesetenes van die dorpie sou in verskillende rigtings uitgaan.

Voor hierdie voorval het ek dikwels met ou Stemmer te voet deur die woestyn gereis. Ek het veral in alle natuurverskynsels en inboorlingaangeleenthede belang gestel, en ’n beter gids en verteller as die ou swart man was nie te vinde nie. Ons het mekaar goed geleer ken in die eensaamheid van die veld. Ek was werklik lief vir die ou man.

Daar was nog ’n verrassing vir ons voordat ons die groot saak aanvaar het. Dit was die volgende môre. Clarke was net besig om die laaste maatreëls te tref toe ons perdepote buite hoor, en sonder om te klop, stap die twee uitlanders die polisiekantoor binne. O’Brien was voor, vrolik en luidrugtig. Agter hom kom Husting, soos gewoonlik stil en teruggetrokke.

Om die twee in helder daglig te sien, taamlik skoon gewas en min of meer behoorlik aangetrek, het alle twyfel wat daar mag bestaan het omtrent hulle voorkoms, vernietig. As ooit skelm op die aangesig van ’n mens geteken gestaan het, dan was dit op dié van ons twee vriende. Die kort, gesette Ier het ’n mond gehad wat sy gesig soos met ’n kloof in twee verdeel. Sy klein groengeel ogies was te na aan mekaar, lewendig en kraalagtig, soos dié van ’n rot. Sy arms en bors was bedek met tatoeëermerke van skepe en meisies in verskeie kleure. Hy het ons vertel dat hy jare lank op ’n Duitse walvisskip sowel in die noordelike as in die suidelike poolsirkels diens gedoen het. Husting was ’n Australiër wat op ’n veeplaas grootgeword het. Hy was ’n lang, skraal vent, donker van gelaat en so stil en terughoudend dat ons hom selde of nooit hoor praat het.

“Môre, Hauptmann, môre, Juts!” roep O’Brien ons vrolik toe (dit was sy gewoonte om ons hierdie titels toe te swaai). “Wat vir ʼn storie is dit wat ons in die dorpie hoor? Die klein ‘Yid’ is verdwyn, vertel hulle ons. Potstausend, Hauptmann, dit kan nie wees nie. ’n Mens kan nie in die lug opgeneem word soos die ou Joodse priester in die Bybel nie. Hy sal weer opdaag – glo my, Juts. Hy het maar op ’n klein reisie vir sy gesondheid gegaan. Julle sal sien – ek ken die ou nasie, Hauptmann.”

“Hoe meen jy, ’n reisie vir sy gesondheid?” vra Clarke. “Ek dink ook nie dat hy dood is nie, maar waarom sou hy op reis gaan?”

Ek sien dadelik dat hy die twee niks van sy agterdog wil laat merk nie.

En toe skielik verander die Ier se gedrag. Hy word ernstig, asof die gebeurtenis daar en dan ’n heel ander betekenis vir hom gekry het.

“Meen julle dan dat dit waar is – dat julle geen uitleg aan sy verdwyning kan gee nie?” vra hy met ’n trek van ongeloof op sy breë gesig.

Clarke knik slegs in antwoord. “Nou kyk, sersant,” vervolg hy, “as Solly werklik iets oorgekom het, dan kan jy op ons reken om alles te doen wat jy van ons verlang om die saak op te klaar. Sien julle, my maat en ek hou baie van die Joodjie. Hy was die eerste om ons te help toe ons hier aangekom het. Ons skuld hom selfs nog ’n bietjie geld . . . En op weg hiernatoe het ek vir Beëlsebub (dit was sy naam vir die lelike Husting) gesê: ‘As dit waar is, Bo, dan laat ons alles vaar totdat ons hom gekry het, en as ons hom kry, belowe ek hier en nou ’n dosyn kerse aan die Heilige Columba as ek ook weer in my geboortedorpie terugkom. Is dit nie so nie, Beëlsebub?’”

Die droewige Husting wuif instemmend met sy hand.

Gedurende die gesprek merk ek op dat O’Brien die mooi tandhandvatsel van sy swaard verloor het.

Ou Stemmer het nooit sy oë van die Ier geneem nie, ofskoon hy van die gesprek niks kon verstaan het nie.

Dit was snaaks, maar net so diep as ons die twee gewantrou het – ons almal – net so vas het daar en dan by ons die oortuiging ontstaan dat hulle niks met die wegraak van Cohen te doen gehad het nie. So magtig is soms die kleinste wending in menslike gedrag om invloed op andere uit te oefen.

Toe hulle vertrek het – nadat Clarke hulle ’n streek aangewys het om deur te gaan en die swartes te ondervra, vra ek hom: “En wat sê jy nou van hulle?”

“Net so onskuldig as ek self,” antwoord hy met ernstige nadruk.

Ou Stemmer en ek moes die spoor vat van waar ons Cohen laaste gesien het toe hy van die polisiestasie weggery het. Die spore van die ou muil was nog duidelik sigbaar in die sand van die voetpad, en ons kon dit vinnig afloop – een in die gras aan weerskante van die pad, sodat ons die spore ongestoord laat.

Omtrent halfpad na die rivier gaan die paadjie deur taamlik digte bome. Hier stuit ou Stemmer skielik.

“Ai, die ou muil het baie lui geword. So maak die nasie – al hoe verder van die huis. Die majoeta het seker spoor en sambok vergeet.”

En bietjie verder buk hy en uit die gras langs die voetpad tel hy drie of vier boomblare op. Ná hy hulle noukeurig bekyk het, sê hy, asof hy met homself praat: “Die baas het ’n lat gepluk – dis taaibos.” En ná hy ’n bietjie rondgekyk het, stap hy na ’n taaibos ’n paar treë uit die pad en met sy asgaai wys hy my waar ’n lat van ’n tak afgesny is. Weer tel hy enkele blare op en vinnig rangskik hy hulle twee-twee op die palm van sy hand en langs sy arm op.

“Sien, seur, hy het nie al die blare afgetrek nie. Voor aan die punt van die lat het hy ’n paar laat bly om die vlieë te ja van die muil se oog. Hy het met die muil tot onder die bos gery, want die af- en opklim is swaar vir die majoeta” – en hy wys my die spore van die muil tussen die graspolle.

Daarna het die spore reëlmatig voortgegaan tot by die Voetpaddrif – soos hierdie drif bekend was – in die rivier en hier het die geheimsinnigheid ons oorweldig.

Eers moet ek die rivier breedvoerig beskrywe. Soos ek reeds vertel het, is Sandrivier of M’Vubu ’n egte woestynrivier – die bedding was ’n gelyke straat van sand met gate hier en daar langs die wal waar die wild vir water gegrawe het. Die enigste wild wat grawe, was die ape (daar was g’n bobbejane nie), vlakvarke en duikers. Al die ander wild het van hulle werk gebruik gemaak.

Die loop van die rivier het hier ’n neiging gehad om na die weste – na die kant van die dorpie – te verskuiwe. Aan die spoelklippe kon mens sien hoe dit in die loop van die jare verskuif het, tot dit uiteindelik teen ’n vaste granietrif raak wat alle verdere verskuiwings verhinder het. So het dit gekom dat die duskantse (regterkantse) wal van die rivier ’n min of meer blote, gelyke klipplaat was, wat onafgebroke aanhou tot waar die rivier in die woestyn doodloop. Die anderkantse (linkerkantse) wal was skoon sand, met hier en daar ’n laag ronde spoelklippe. Bo die oppervlak was geen water sigbaar nie.

Ons kon duidelik sien waar die muil die klipplaat gekruis en die rivierbedding bereik het, en toe ou Stemmer in die middel kom, gaan staan hy met sy hand op sy mond asof hy daar en dan in die diepste vertwyfeling geraak het. Ek kon hier niks van die spoor meer uitmaak nie. Die sand in die drif was so los en diep dat ek slegs ’n beroering kon konstateer, maar wie of wat se spoor dit was, kon ek nie uitmaak nie.

Anders was dit met die ou spoorsnyer. Tot in die middel van die drif het hy noukeurig elke merk in die sand met half toegeknypte oë bestudeer.

Uiteindelik spreek hy my toe en met sy lang asgaai dui hy spoor vir spoor aan.

“Hier het die muil omgespring.” Dit was ongeveer tien tree van die klipplaatwal af en hy wys my die spore so duidelik dat ek uiteindelik ook insien hoe die muil op sy agterpote omgeswaai het.

“Sien, seur, hier het die man nie langer op sy rug gesit nie. Kyk hoe het hy omgevlieg. Die Jood is swaar en die klein muiltjie kon nie so gedraai het as die man op sy rug was nie. Die muil het geskrik; dit lyk vir my een het hom op die kop geslaan, en hier lyk vir my sy spoor – maar hy het hom met sy voete doodgekrap. Hy was slim. Dit lyk vir my dit was die Masarwa.”

Ek herinner my dat die twee uitlanders nog ses Masarwas in hul diens had.

En toe, baie maklik, volg ou Stemmer die teruggaande spoor van die muil. Hy wys my waar hy weer die klipplaat oor is, ’n paar treë onderkant die voetpaadjie, en van daar is hy deur die veld reguit na Dageraad. Ons het die spoor terug gevolg tot naby die dorp, en toe weer terug na die drif.

Tot dusver was een ding duidelik: Op die rand van die drif, of miskien in die drif, het Cohen op een of ander manier van sy muil afgeraak en ’n paar treë verder het die muil geskrik en omgespring.

Daar was geen teken van ’n valplek nie. In die drif self en in die voetpad oorkant was ’n menigte kaalvoetspore, want net onderkant die drif, oorkant teen die wal, was ’n toegeslaande waterkuil waar verskeie statte kom skep het.

Van Cohen was daar geen spoor of teken nie. Indien hy uit die drif in die lug opgevaar het, kon hy nie meer spoorloos verdwyn het nie. Wat op Gods aarde het van hom geword?

Op die wal oorkant het ons vir ’n tydjie in die skadu gaan sit – ou Stemmer so diep ingedagte dat hy vergeet het om te snuif.

“Ek het hier by die jagveld oud geword, seur,” sê hy uiteindelik, “maar so ding het ek nie gesien nie – nooit, nooit! Miskien dit is die toordery. Hulle sê die Masarwa het sterk toorgoed.”

Ek het sy toorteorie dadelik van die hand gewys. Hy wis natuurlik dat die witmens nie daaraan glo nie; maar dit kon sy eie vaste geloof nooit raak nie. Hul onverstaanbare onkunde, hul domheid in hierdie opsig het hy met ’n soort medelye uit die hoogte geduld. Hy het nooit probeer om ’n blanke tot sy sienswyse oor te haal nie!

Weer het hy diep ingedagte geraak, met nou en dan ’n paar gefluisterde woorde in sy eie taal. Die uiteinde van sy oorpeinsing was ’n geskud van die ou grys kop en die uitroep: “Nee! nee!” waarmee hy die uiterste verbystering te kenne gee.

Wat nou gedaan?

Ek kon insien dat daar vir ou Stemmer en my slegs een koers was om in te slaan. Al die ander was besig om die inboorlingkrale te ondersoek. Ons het op die einde van Cohen se sigbare spoor gekom solank hy nog op die muil was. Nou moes ons uitvind wat van hom of sy liggaam geword het ná hy van die muil af is. So het ek die probleem aan ou Stemmer voorgestel.

“Ja, seur,” stem hy saam. “En ons moet die rivier op neem. Ek dink daar is net twee plekke waar hy kan wees: in die stroois of in die rivier. As hy uit die rivier geloop het, of as hulle hom gedra het, dan moet ons die spoor kry – as daar nie sterk medisyne is nie. As hy in die sand weggesteek is, dan moet ons die plek kry.”

“Erdvarkgate,” doen ek aan die hand.

“Nee, seur – hy wat die werk gedoen het, is slim, slim soos die ratel. By die gat sit, is dom. Hy sal nie dom ding by die end doen as die begin so skelm is nie.

“Nou hy is laat. Môre ons sal met die rivier loop tot by die rietkuile waar hy wegraak, dan kom ons terug by die ander wal.”

En so is ons terug huis toe. Ek herinner my dat ons byna geen woord gepraat het nie – daar was eenvoudig niks te sê nie. En êrens langs die pad, à propos van niks, sê ou Stemmer skielik: “En hy het die tand van sy groot mes afgebreek.”

Ek wis toe dat sy gemoed met die twee uitlanders besig was, en met ’n glimlag het by my die gedagte opgekom dat die wonderlike opmerksaamheid van die ou spoorsnyer hom vir ’n romanspeurder bevoeg maak.

Toe ons die aand in die polisiekantoor bymekaarkom, was daar (met een uitsondering) net verslae van teleurstelling. Behalwe diegene wat by die ou drif was, het niemand enige spoor of tyding van Cohen gekry nie; die enigste inligting het dus van ou Stemmer en my gekom. Die een uitsondering was egter die verslag van O’Brien en Husting. Hulle moes onder meer Magoeba se stat besoek. Dit was die voorman na wie Cohen vertrek het toe hy die oggend van ons weg is.

Hulle had ’n eienaardige storie te vertel: Magoeba was self nie tuis toe hulle by sy werf aankom nie. Van sy vrouens het hulle verneem dat hy uit was om strikke vir wild te stel by kuile bo langs die rivier. Hulle het hom gevolg en later ontmoet. Daar was twee dinge wat suspisie teen hom gewek het. In die eerste plek het hy ontken dat hy gehoor het van Cohen se verdwyning voordat hy Magoeba se stat verlaat het; en ten tweede het hy ontken dat hy enige geld of beeste aan Cohen verskuldig was.

Die sersant het hom dadelik na die stasie laat bring. Hier het hy in sy twee ontkennings volhard, maar die polisie had spoedig voldoende getuienis dat hy wel deeglik van Cohen se verdwyning gehoor het voor hy op sy jagtog uitgegaan het; en ons het almal die bewyse gesien dat hy vee en geld aan Cohen skuld. Maar op sy spoor het ses van ons beste wit en swart spoorsnyers tevergeefs vir twee dae gesoek. Nie die minste teken van die verdwene Joodjie kon hulle vind nie, en daar was op die spoor nie die geringste bewys dat Magoeba ooit met Cohen in aanraking was nie.

Ou Stemmer en ek had nog een geweste om na te gaan, naamlik die regterwal van die rivier; die kant wat deur die vaste rotsbank van die sand afgesper was.

Ons het die oggend voordag begin – te voet – en ’n uur voor sononder was ons weer by die drif terug. Alles verniet! Geen spoor of tyding van die Joodjie nie. Toe ons onder die reuse-apiesdoring aan die linkerwal van die rivier gaan sit, kon ek sien dat die ou spoorsnyer diep verslae was.

Dit was die treurige tyd van die dag; die wegsak van die son, wanneer die hele natuur ’n sinnebeeld van die dood word. Die neerslagtigheid dring deur tot die gemoedere van alles wat lewe – en dit het waarskynlik ou Stemmer se verbystering verdiep. Wat my betref, ek onthou dat ’n aaklige gevoel my skielik uit die land van die lewendes vervoer het. Wat was dit? Ek kry die gevoel van iets dreigends, iets afgrysliks in ons onmiddellike nabyheid. In die een of ander donker skadu is iets wat ons met bose oë beloer.

Meer met die doel om ’n einde aan die ondraaglike stilte te maak, stel ek ou Stemmer ’n vraag wat dikwels by my opgekom het.

“Stemmer, waarom het die swart mense die naam M’Vubu aan die rivier gegee? Daar was tog nooit seekoeie hier nie.”

“Seur,” sê hy, “ek het self baie daaroor gewonder. Dit is ’n naam wat die Zoeloes nog gegee het. Maar seur is verkeerd om te dink dat die naam juis ’n seekoei bedoel. Die Zoeloes gee die naam M’Vubu aan alles wat verniel. Daar is ’n myn op die goudveld waar baie mense verongeluk en siek word en doodgaan. Sy naam onder die Sjangaan is ook M’Vubu. Die spelonk by Makapan waar die baie geraamtes in lê, is ook M’Vubu. En so is daar baie plekke waar mense omgekom het of waar daar groot gevaar is, wat hulle M’Vubu noem. Maar waarom hulle hierdie droë sandloop die naam gegee het, weet ek nie.”

Sy uitleg het die geheimsinnigheid van ons omgewing verdiep. Wat dan was die M’Vubu wat Cohen uitgedelg het? ’n Gevoel van vrees soos in my kinderjare het my so beetgepak dat ek kon opspring en weghardloop!

En juis op hierdie moment sien ek ’n eienaardige beweging aan die oorkant tussen die bome. Ou Stemmer het dit gelyk met my gesien en met ’n beweging van sy hand druk hy my plat agter ’n bessiebossie langs ons. Hy beduie my om stil te wees; maar ek kon nie nalaat om tenminste my geweer te laai nie. Dit het ’n tyd geneem voor die beweging in ons oë ’n vorm aanvaar het, so stadig het dit langs die pad deur die bome en bosse aangekom. En toe skielik was daar ’n opening en ons sien dat dit O’Brien is – te voet. Hy soek na iets. Sy oë is op die grond gevestig en elke nou en dan staan hy stil en bekyk hy met die uiterste noulettendheid die grond om hom. Natuurlik was dit Cohen se spoor wat hy volg, en ek was net klaar om op te staan en na hom te roep, toe ou Stemmer my weer stilmaak. Met skrefiesoë volg hy elke beweging van die uitlander.

O’Brien kom tot by die drif en vir ’n tydjie krap hy in die sand rond waar die muil omgespring het. Wat hy ook al soek, hy het dit nie gekry nie; en stadigaan gaan hy voort op die rotsplaat langs die rivier af. Toe hy uit die gesig was, fluister ou Stemmer: “Hy soek iets, seur, ons moet probeer uitvind wat dit is wat hy soek.”

Dit was net met sonsondergang dat ons dit gewaag het om die uitlander te volg. Op die klip het hy natuurlik g’n spoor gelaat nie, nietemin het ou Stemmer die rivier weer soos ’n opgewonde jaghond afgeloop. Die uitputtende vermoeienis van die afgelope dag skyn op hom g’n uitwerking te gehad het nie. Ek het ’n gevoel gekry dat hy op die spoor van iets was, maar wat dit was, het hy soos ’n geheim bewaar. Op al my vrae had hy slegs een antwoord: “Seur, ek wil sien – as ek kan – wat die Engelsman gesoek het,” en later as ’n bykomende gedagte: “Ek dink nie hy soek die Jood nie.” Wat dan?

Ongeveer ’n halfmyl het ons op die rotsplate langs die rivier afgeloop toe die ou spoorsnyer skielik stuit en buk. Wonderlike opmerksaamheid! Dit was twee verdroogde blare. Ná hy hulle noukeurig bekyk het, lê hy hulle op die palm van sy hand om my te toon.

“Wat is dit?” vra ek, nou glad in die war.

“Sien seur nie? Dit is dieselfde blare as dié van die lat wat die Jood by die drif gesny het. Hier groei nie sulke bome nie. En dié twee is die twee puntblare wat hy aan die lat laat bly het vir die vlieë.”

En toe kom die gevoel by my op dat ons op die drumpel staan van ’n groot ontdekking. Wat dit was, wis ek nie, en hoe dit juis met Cohen in verband kon gebring word, kon ek glad nie besef nie; maar ek gewaar, soos in ’n openbaring, dat die oplossing van die geheim baie naby ons lê – as ons dit net kon raaksien!

Dit was ’n eienaardige plekkie waar ou Stemmer die blare opgetel het. Die rots het hier die rivier deurgesny om ’n lae dam te vorm. Net bo die dam was daar ’n ronde waterkuil (dit sou tenminste ’n waterkuil gewees het as daar water was!).

Ou Stemmer gaan op sy hurke langs die kant sit, en lank en noukeurig bestudeer hy alles. Wat ek dadelik opgemerk het, was dat die sand in die “dam” baie natter was as dié van die res van die rivierloop. Dit was toe te skrywe aan die natuurlike opdamming van die water. En dan was die oppervlak verbasend glad en ongestoord. Daar was g’n enkele watergat deur wild gegrawe nie; daar was selfs g’n enkele spoor van wild nie, ofskoon die water hier nader aan die oppervlak sou wees dan êrens anders.

Ek wou net oor my gewaarwording praat toe ou Stemmer opstaan.

“Wag, seur; wag net ’n bietjie.”

En hy begin vinnig in die rondte soek asof hy verwag om een of ander klein voorwerp te kry. En dit was nie lank nie, of hy tel op die rand van die sand ’n vars taaiboslat op met een blaar nog aan die punt. Hy wys dit sonder woorde aan my, maar seëvierend, asof hy vir my werklik die hele geheim blootlê.

Maar hy hou aan met soek – dié keer verder van die rivier, maar altyd nog op die rotsbank. En toe hy die derde maal oor ’n vonds buk, gee hy ’n sagte juigkreet. Hy kon dit nie inhou nie! Uit ’n klein groefie in die rots tel hy ’n vlakvark se slagtand op. Deur die dik ent was ’n gat geboor en daaraan hang ’n stuk gevlegte koperdraad. ’n Uitleg was dié keer oorbodig. Dit was die handvatsel wat O’Brien aan sy snaakse swaard gehad het.

En sonder ’n woord wys ou Stemmer my langs die rondte van die tand ’n lang onreëlmatige vlek, ’n gedeelte waarvan hy met sy duim afvrywe. Dit was gedroogde bloed.

Stadig strek hy sy hand oor die kuil uit met die houding en gebare van ’n Bybelse profeet.

“Sien, seur! Hier kom geen wild drink nie. Net bokant, net onderkant gaan voetpaadjies af, en kyk die grougate; maar hier – niks! Selfs die apies loop om. Al die diere is bang vir die plek. Seur, dit is M’Vubu – die seekoei!”

Hy kon die vraagteken op my gesig sien. Sonder meer woorde tel hy ’n plat klip op wat van die rotswal afgeskilfer het en baie saggies plaas hy dit op die sand. “Kyk, seur!”

En toe sien ek!

Daar was ’n onmiddellike dog stadige opwelling van vogtigheid om die klip. Die sand self raak in ’n eienaardige beweging. ’n Soort suiging vind plaas. Die klip sak dieper en dieper en binne ’n paar minute was dit weg onder die sand. Oor die plek waar die klip verdwyn het, was die oppervlak weer net so gelyk as voorheen. Jy kon onmoontlik sien dat ’n taamlike groot klip daar verdwyn het. Dit was ’n kuil van welsand.

“Dit is waar die Sjangaans en Masarwas die naam gekry het – M’Vubu. Die Masarwas wat met die Engelse saam uit die woestyn gekom het, sal dit goed ken, want hier was vroeër hulle woonplek gewees. Ons wat later ingetrek het, ken dit nie. Maar ek onthou toe ek klein was, het die ou volk ons stories van so ’n plek vertel. Ek het dit maar vir ’n storie aangehoor; nooit geglo nie; en nooit gesien nie . . . Kom, seur, laat ons huis toe gaan.”

Sing-sing loop hy op die voetpad vooruit.

En dit was voorlopig die einde van die saak van Cohen. Dieselfde aand het ons Magoeba losgelaat en die volgende dag het ons heimlik met die ondersoek van die gat begin. En hier was ’n treurige ontnugtering: Die welsand was skynbaar bodemloos. Onder in die diepte was fonteine wat altyd ’n sekere mate van vogtigheid aan die sand verskaf het. Deur gate in die dam, onder die oppervlak, was ’n gedurige uitloop, sodat die water nooit opgestuit het nie, maar met die langste stokke kon ons geen vaste bodem bereik nie, en vir meer as ’n maand het ons met hake gewerk sonder om ooit iets uit die diepte te haal.

Die twee uitlanders het aangebly, O’Brien altyd vrolik en opgeruimd asof hy die gewete van ’n kind had.

Toe Clarke hom eendag sy tand teruggee met die aaklige vlek nog duidelik sigbaar, het O’Brien hom op plesierige wyse bedank en nuuskierig gevra na die plek waar dit opgedaag het.

“Sien julle – ek gebruik die swaard om te slag en as die handvatsel af is, dan is die lem onbruikbaar. Kyk, daar sit nog osbloed aan.”

Lank het Clarke hom bekyk, met ’n tandeknersing wat seker sigbaar was as dit nie hoorbaar was nie.

Die Beste verhale van Eugène N. Marais

Подняться наверх