Читать книгу Die Beste verhale van Eugène N. Marais - Eugène N. Marais - Страница 4

Оглавление

Die leeus van Magoeba

DIE LEEUS VAN MAGOEBA

(’n historiese voorval)

Die indoena Magoeba was ’n onderkaptein van die kaptein Sebasa, wat weer op sy beurt gestaan het onder die groot opperhoof Ramapoelana, koning van die Bawenda.

Magoeba het oor ’n klein statjie in die berge geheers, op die uithoek van Bawendaland, na aan die Portugese grens. So afgesluit was hy deur magtige berge, klowe en oneindige houtbosse dat hy met die res van die nasie selde of ooit in aanraking gekom het, tensy daar ’n oproep was van die kgotla-raad van sy kaptein Sebasa, en dit het baie selde gebeur.

En so het hy sy stat as ’n onafhanklike koninkryk regeer, want van sy doen en late het die groot stat selde of nooit berig bekom. Sy volk het bestaan uit hoogstens twintig huisgesinne, en die klein volkie was meer getrou aan hom as aan Ramapoelana self, wat by hulle slegs ’n naam was. Hy was sag van geaardheid, geen krygsman nie, en hy het nooit swaar gestraf nie. Dit word vertel dat hy nooit een van sy volk tot die dood veroordeel het nie, nieteenstaande hy die reg van dood en lewe in sy hand had.

Hy was lief om lekker en gemaklik te lewe; om in die son te sit in die winter of onder die skadu van die kaptein se boom in die somer; met ’n bierpot naby sy regterhand en snuifhoring aan sy linkersy. Die bors van elke stuk wild was natuurlik syne en so ryk het hy mettertyd geword dat hy nooit sonder vet beesvleis in sy skerm was nie. Hy het tien vrouens gehad wat hom moes bedien en sy volk moes vir hom saai en oes, volgens gewoonte van die Bawenda, sodat hy nooit nodig had om van sy skerm te verroer nie. En op sy oudag het dit gekom dat hy baie vet geword het; so vet dat sy volk, as hulle met vreemdelinge gesels van Magoeba, gespog het. “Ons gosji is so vet,” het hulle beduie en dit het ’n spreekwoord geword onder die Bawenda.

Hy kon lekker en baie lag, en was lief vir mense wat hom laat lag. In die vroeë môre as sy volk, by hulle vure, die “Ho! ho, ho, ha, ha,” uit die koninklike skerm van die kranse hoor weerklink, dan roep hulle groetend terug met luider stemme: “Groot wolf, seun van die Jakkals!”

En Magoeba was lief om soos ’n koning te regeer. Hy het ’n kgotla gebou waarin vyf van sy ou volk sitting gehad het.

In al sy lekker lewe was daar slegs een ding wat hom gehinder het, soos ’n doring diep in die hakskeen van die reisiger. Hy was bang vir towery. Dag en nag het hy aan die towery gedink en daarvan gepraat en al die beeste wat hy ooit uit sy krale uitbetaal het, was aan toordokters. Sodra hy hoor van een, by ’n ander Bawendakaptein wat ’n naam het vir wysheid en krag van medisyne, dan word boodskappers in aller yl gestuur, met ’n klompie vet vee om die dokter om te konkel om na sy stat te trek. So het hy dikwels in onvrede geraak met broeder-kapteins. Maar so veilig was hy tussen sy beskermende berge dat hy altyd lekker gelag het as dreigemente sy oor bereik van een of ander klein kapteintjie wat hy van sy dokter beroof het.

Maar onder sy volk was die berig van die koms van ’n nuwe dokter altyd ’n treurmare. Nooit was ’n kaptein meer vrygewig dan Magoeba nie, waar dit sy nuwe dokter betref. Voor sy aankoms reeds was huise vir hom klaar. Sy skuur was met graan gevul, sy kraal met vee, en wat Magoeba met milde hand skenk, moes sy volk verskaf. Nooit het die gifte van sy eie werf gekom nie.

“My kinders,” was hy gewoond om te sê, “ons moet die volk van Magoeba nie in die skande steek nie. Laat die volk anderkant die berg ons nie uitlag nie. Daarom jy, Rabenda, stuur dadelik die rooi vers met die bles en jy, Maneledi, uit jou tuin ’n seroet vol rooi bierkoring vir die dokter,” en so het dit voortgegaan en Magoeba het heinde en ver ’n naam gekry vir sy vrygewigheid.

Wat sy ongelukkigheid dieper en groter gemaak het, was die feit dat hy nooit ’n dokter kon kry wat hom tevrede gestel het nie. Met die eerste vaart was niks te goed vir die dokter nie. Daar was elke dag presente van bier en vleis – ’n streep vroue wat aandra; en dan stadigaan het dit begin afkoel. Dingetjies gebeur, ’n bokooi van die kaptein vrek skielik van ’n onbekende kwaal, of Magoeba kry ’n aaklige gevoel in sy ingewande; ’n dowwe pyn met ’n bewerasie wat in geen woorde te beskrywe was nie. Gewoonlik was dit ná die maak van die nuwe bier. Daar was ’n spreekwoord onder sy volk: “Die drinkkalbas van Magoeba is groter dan die bierpot van Ramapoel.” Die dokter word in alle haas geroep, en van Magoeba gaan die woord uit: “My kinders, julle sien dat ek nooit verniet praat nie. Dit is klaar met my. Die towenaars het my beet.”

Dolosse word gegooi, medisyne word gemaak, en as die aakligheid in die maag voortduur, soos gewoonlik gebeur het – dan moes die dokter maar weer die voetpad oor die berge trap, gewoonlik met soveel haas dat die graan en vee moes agterbly, wat die kaptein natuurlik in beslag neem.

En dan kom daar weer droogte of te veel reën of ongedierte, die vee of een of ander ou afgeleefde sterf, en dadelik verdwyn die kaptein se vrolike lag.

“Kyk,” sê hy aan sy kgotla, “kyk hoe hang my vel om my bene,” en hy trek aan die vetlae van sy romp. “Nou kan julle self sien wat dit is om getoor te wees. Help my, kinders, soek na ’n dokter. Verlang julle dat ek sterf?” En van alle skerms styg ’n gekerm van vrouens omhoog.

En so het dit voortgegaan en voortgegaan. Een dag huil, die ander dag lag, en nooit ’n dokter wat kon help nie.

’n Lid van Magoeba se kgotla was ’n ou raadsman met die naam van Ra-Boelala-tata. Van hom het sy bure gesê: “Hy eet woorde en word vet.”

Behalwe die kaptein self was daar geen man in Magoeba se stat wat minder gewerk het en lekkerder gelewe het as Ra-Boelala-tata nie. Behalwe een of twee bokooitjies en twee ou vrouens het hy niks besit nie. Niemand kon met sekerheid sê wie die vetste van die twee was, die kaptein of Boelala-tata nie . . . Wanneer die kaptein onder houtstomp van die towenaars lê, dan was daar geen twyfel nie. Die vet van Boelala-tata het nooit gesak nie. Niks het ooit sy slaap gestoor nie. G’n towenaar het hom ooit raakgesien nie.

Hy het deur die bank vet gebly. Waarvan hy gelewe het, was ’n geheim waaroor dikwels en breedvoerig deur die volk gepraat is.

Dit was bekend dat as daar bier gemaak word – by welke skerm ook al – Boelala-tata altyd die uitdeler was en die kaptein alleen kon ’n groter teug sluk dan hy.

Die eerste om te arriveer, die laaste om te gaan – dit was Ra-Boelala-tata by die bier!

Net een ding kon hy meer doen dan bier drink – praat. Niemand kon die kaptein so laat lag as Boelala-tata nie, niemand kon hom so die vrees op die lyf jaag nie. As Boelala-tata in die kgotla oor towery begin uitwy, kon ’n mens die vet op die lyf van Magoeba sien rittel en dril. En die eerste woord van die kaptein was altyd: “Gee pad, julle, laat Boelala-tata hier by my op die karos kom sit.”

En as hy stories vertel – dié dag kan jy die gelag van Magoeba deur die klowe hoor weergalm, en die vet skud aan hom soos ’n rietlaag in ’n warrelpoel.

Maar daar het ’n dag gekom! Stadigaan het Boelala-tata die kaptein begin verveel. In al sy gepraat was geen werklike hulp nie. Stadigaan het die geskenke minder en minder geword, en toe, vir die eerste keer, het die vroue by die skepplek verklaar: “Boelala-tata word maer. Sy vel blink nie meer nie; ook is sy woorde op ’n end.” Daar was ’n skyn van vrees in sy oë as hy die kgotla binnekom. Die plek op die karos word aan ’n ander toegewys.

Hierin kon Boelala-tata nooit berus nie. Niks minder nie as armoede en hongersnood bedreig hom van alle kante. Dat hy nou, op sy oudag, moes swoeg en worstel om te lewe, was ’n spookgedagte wat gedurig deur sy hart skrikwekkend dwaal. Hy het begin dink en dink en planne maak. Nie verniet het sy moeder hom die naam Boelala-tata – die Prater – gegee nie. Nie verniet was sy bynaam onder die volk Pookosje – die Jakkals – nie.

Almal het gelag oor sy verleentheid; en die ander lede van die kaptein se kgotla was meer as tevrede, want hulle was lankal kwaad en vol opgekropte wrewel oor die guns wat Magoeba hom betoon.

“Die Jakkals lag nie meer nie!” het die ou volk met ’n glimlag aan mekaar vertel. Boelala-tata het as ’n siek man na die kgotla gekom. Ver in ’n afgeleë hoekie van die skerm het hy sy plek ingeneem en geen woord het oor sy lippe gekom nie, dan as hy moes antwoord op ’n vraag van die kaptein – en dit was selde.

Dit was die begin van die reëntyd toe die berge elke nag met dik mis bedek en die wolke eers laat in die dag opgeklaar was, toe die stad van Magoeba so ontstel is. Vir twee agtereenvolgende nagte het hulle die gebrul van leeus in die waterkloof gehoor; naby, dreigend, onheilspellend! Leeus het selde of nooit oor die berge gekom. Nooit tevore gedurende Magoeba se bewind het so iets gebeur nie; maar die ou volk het vertel dat dit in sy vader se tyd twee maal gebeur het; en daar was ’n vertelling onder die volk dat wanneer dit gebeur het, die ongediertes nooit vertrek het voor hulle ontsettende skade aangerig en op die uiteinde mense onder die vernaamstes in die stad gedood het nie. Volgens hierdie geloof was die gevaar teen die kaptein self gerig. In die kgotla het die ou raadsmanne dadelik op hierdie gevaar gesinspeel.

“Gosji, jy moet jou veekrale goed laat toemaak en jou skerm sterker maak.”

Met ’n siddering van angs het Magoeba hierdie betekenislose raad aangehoor.

“Wat gee julle my raad wat ek self weet?” roep hy vererg uit. “Vertel my waar hulle vandaan kom; waarom hulle kom; hoe ons hulle moet wegkry – dit is die raad wat ek van julle wil hê, anders kan ek net so wel die ou vroue van die skepplek inroep.”

“Ma-wé! hoe sal ons dié dinge weet, Gosji? Ons is ook maar mense net soos jy.”

Daar was net een in die kgotla wat geen woord gepraat het nie – geen raad gewaag het nie. Boelala-tata, met sy hand voor sy oë, het in sy hoekie alles stilswyend aangehoor. Die kaptein het egter opgemerk dat hy nou en dan glimlag; net soos iemand wat baie weet maar nie wil vertel nie. En Magoeba was skaam om hom nou te raadpleeg ná die wyse waarop hy hom in die laaste tyd behandel het. Maar hy het hom in die oog gehou en stadigaan het die geloof by hom ontstaan en gedurig gekwel dat Boelala-tata iets weet wat hy nie vrywillig wou vertel nie.

Aan sy ander raadsmanne het hy in die geheim gesê: “As die ou jakkals wil praat, kon hy ons vertel.”

Maar daarvan wou die jaloerse volk nie hoor nie.

“Wat sal hy meer weet van leeus as ons, Gosji? Is hy dan ’n leeujagter gewees?”

Maar Magoeba was nie tevrede nie en gedurig het hy sy oog loerend op Boelala-tata gehou.

En toe gaan daar ’n gerug deur die stat wat soos ’n koue windjie uit die berge almal laat ril. Van tong tot oor word gefluister die woord: “towery” en daarna was daar stilte en verslaenheid.

Dit was nie gewone leeus nie. Aan hul hele gedrag kon mens sien dat dit gestuurde leeus was; en ’n towenaar wat die mag besit om roofdiere te stuur – wel, so een was onder die eerste rang van die donker amp.

Nag vir nag het die leeus nader gekom; nag vir nag het hulle ’n kraal binnegedring of die vee laat uitspring, en elke nag is ’n vet dier verslind. En met angsvolle aangesigte het die ou raadsmanne opgemerk dat hul nagtelike weg na een middelpunt mik: die skerm van die kaptein Magoeba. Sy eie begrip, deur vrees en angs gespits, het die feit ook gou opgemerk; en tot sy nagtelike rus het dit niks bygedra nie.

En van Boelala-tata kom g’n woord nie!

Nou om die saak duidelik te maak, moet erken word dat dit ’n groot en diepgewortelde oorsaak was wat oorspronklik die onenigheid tussen Magoeba en sy ou gunsteling Boelala-tata teweeggebring het. Soos so dikwels die geval is in menslike aangeleenthede, was dit ’n vrou; in hierdie geval ’n baie mooi jonge; die sterkste, die mooiste, en vir baie redes die aantreklikste jong meisie in die stat. Sy was bekend as Maraledi. Sy was die enigste kind van ’n ou vrou, Mafakena, wie se skerm nie ver van die kaptein se hutte af was nie.

Maraledi was ’n wonderlike vroumens. Dit was asof die natuur al sy gawes op haar wou uitstort. Sy was nie net mooi nie, sy was die beste danser in die hoofstat; sy kon beter pik en langer aanhou skoffel as enige vroumens; haar bier was beroemd; haar karosse en kraalwerk is deur die ander vrouens nageaap. Alleen – sonder hulp van enige mansmens – het sy haarself en haar ou moeder onderhou, en hulle skerm was altyd met die beste gevul. Hul klompie vee het sy alleen opgepas en versorg. Die tuine moes sy alleen pik en saai en oes, want haar ou moeder, Mafakena, was bykans te oud om enigiets behalwe die ligte werk te doen.

So het Maraledi onder die meisies uitgeblink dat die oë van ’n menigte jong mans op haar gerig was en geskenke het elke dag uit alle oorde by die skerm van ou Mafakena ingestroom.

Maar haar bewonderaars was nie tot die kringe van die jong mans alleen beperk nie. Die hele stat wis lankal dat ou Boelala-tata planne koester aangaande die skone Maraledi. Byna daagliks het hy die skerm van die ou Mafakena besoek met een of ander klein geskenkie, en terwyl hy met die ou vrou sit en gesels, bly sy skelm jakkalsogies altyd op die meisie. Van ver af het hy te kenne gegee dat hy haar vir sy derde gade begeer. Die hele saak was net na sy hart. Hy kon dertig beeste vir haar uithaal. As haar moeder sy enigste erfgenaam word, word hulle dadelik weer sy eiendom, sodra die meisie na sy skerm verhuis, tesame natuurlik, met haar ou moeder. Boelala-tata was so suinig soos ’n wildehond. Daarom het hierdie huwelik hom so uiters aantreklik voorgekom.

En alles het goed gegaan. As eerste gunsteling van die kaptein was hy so magtig in die stat dat al die jong volk in sy vrees gestaan het. Hy was net klaar om met die bou van die bruid se stroois te begin toe daar, uit die bloue hemel van die tevredenheid, die skaduwee van ’n swart wolk oor die saak val. Dit was asof alles meteens om hom in duie stort: Nie alleen was Maraledi skielik buite sy bereik nie, maar die guns van die kaptein het ook onverwags in teësin en, ja, vyandige nydigheid verander.

En dit het só gekom: Dit was die groot dans van die jong vroue met die oes van die koring.

Onder die koel skaduwee van ’n groot maroela het Magoeba sy gewone sitplek ingeneem. Om hom was ’n klompie van sy ou raadsmanne vergaar – ook Boelala-tata. Aan die ander kant van die boom was sy tien vrouens in beheer van die reuse-bierpotte en bakke vet beesvleis. Magoeba vier fees.

Voor hom op die harde gepoleerde baan was die jong vroue in twee halfmane en op die agtergrond kon elkeen die dreunende boomstam-trommels hoor wat die dans begelei.

Sag op die harde grond begin die dreun van tallose voete, soos die veraf gedruis van die see. Die gebrom van die groot trommels is skaars hoorbaar. Stadigaan neem die geluid toe. Soos ’n enkele slag val die snelbewegende voete, ry op ry. Van die trommels kom ’n gebrul wat vinnig toeneem totdat die maatslae skaars onderskeibaar is uit die eentonige gedreun. ’n Stofwolk rys stadig op wat die dansers soos met ’n sluier bedek, deur die vaal vroue waarvan die gespierde ledemate en skitterende krale soos weerligstrale uitblink.

Die twee halfmane nader mekaar en dring stadig voorwaarts na die sitplek van die kaptein. Luider en luider dreun die voete en brul die trommels. Die vroue begin sing met ’n begeleiding van handegeklap. Hulle besing die glorie en wonders van Magoeba. Daar is ’n dreunende klimaks. Vlak voor die kaptein spring ’n paar jong vroue uit die ry. Dit is die voordansers.

’n Wellustige gelag skud die vetlae van die kaptein. Sy rooigevlekte oë begin flikker. Hy klap sy hande om die dansers tot groter geweld aan te spoor, en skreeu antwoorde op die strofes van hul lied. Soveel bier het hy reeds gedrink dat dit duidelik is dat hy sy oë met moeite op die twee danseresse kan konsentreer. By een geleentheid het hy hulle toegeroep as “vier” in plaas van “twee”.

En toe, vir ’n paar sekondes, sien hy Maraledi duidelik en . . . enkel. Deur die verdowing van die bier skiet ’n vlaag van opgewondenheid. “Wie,” vra hy aan die naaste raadsman, “wie is die mosadi wat ek nie ken nie en wat ek nog nooit gesien het nie?”

Van alle kante word antwoorde aangebied.

“Jy ken haar goed, Ki-Gosji. Sy is Maraledi, die kind van ou Mafakena, en sy is ’n wees en staan onder jou bewaring.”

En toe skiet al die omstandighede hom te binne. Hy het haar nooit opgemerk vandat sy ’n kind was nie; maar herinner hom dat haar vader gesterf het sonder enige manlike erfgenaam, sodat ou Mafakena en al haar vee onder sy bewaring geval het. Daarom was dit dat hy ’n hut vir haar naby die koninklike skerm laat bou het . . . en van toe af het die ou vrou met al haar omstandighede glad uit sy herinnering verdwyn. “Kom nader, my kind,” gebied hy met ’n lamme handwuif – “Laat my jou stem van naby hoor en jou Maseka1 sien.”

Bedees stap Maraledi nader om net buite die rand van die tiervelkaros op haar knieë te val en haar voorhoof teen die grond te druk. Sy klap sag op haar hande en noem agtereenvolgens al die spogname van Magoeba: Kind van die Swart Seekoei; Groot Buffel; Vader van al die Bobbejane2; en so voort, deur al die vertakkinge van die diereryk.

Met ’n barse stem gebied die kaptein ’n teug bier in sy eie kalbas, wat een van sy ou vrouens – op haar knieë kruipende – aan hom oorhandig. Hy neem ’n sluk daaruit en oorhandig dit aan die knielende Maraledi. Dit was ’n eerbetoning so hoog dat dit dadelik ’n gefluister onder die ou raadslede veroorsaak het, terwyl hulle Boelala-tata skuins aankyk. Kop-op-die-bors, in uiterste verslaenheid, sit hy die hele skouspel en bekyk.

En die kaptein het niemand lank in twyfel gelaat dat hy besluit het om Maraledi tot sy elfde bruid te verhef nie. Vir hom, ook, sou dit ’n uiters voordelige huwelik wees. Nie alleen was daar geen dinyalo3 te betale nie, maar dadelik ná die huwelik sou hy al die beeste van ou Mafakena in sy kraal neem en in werklikheid eienaar word van al haar besittings tesame met haar skitterende dogter.

En so het die verwydering tussen die kaptein en Boelala-tata toegeneem totdat dit aan elkeen in die kgotla en in die stat ’n bekende saak was. Dit het vir Magoeba nie lank ’n geheim gebly dat Boelala-tata sy jakkalsogies na Maraledi gekeer het nie, en hoewel die jong vrou vir hom so te sê onbekend was, het Magoeba tot die oortuiging geraak dat so ’n handelswyse aan die kant van ’n onderdaan meer of min gelyk staan met hoogverraad.

Die hele stat het spoedig alles geweet van die geskenke van bier, vleis en karosse wat byna daagliks van die kaptein se skerm na Mafakena se hut vervoer is. By die skepplek het die jong vroue Maraledi plaend toegespreek as “Maraledi-Gosji”, en tot hul verbasing het hulle opgemerk dat die voorspelling hierin begrepe die jong vrou nie die minste plesier verskaf het nie.

“Waarom,” vra hulle, “trek jy jou skouers op om die vrou van die kaptein te word? Nooit sal jy weer ’n pik in jou hand hoef te vat nie.”

En Maraledi se antwoord was: Ek wil nie Gosji wees nie. Liewer sal ek pik en bier maak en swaar werk van daglig tot nag as ek weet dat ek ’n lag, die vrolikheid, van ’n jong man, van ’n maat, sal gewaar as ek snags na die skerm terugkeer. Dit is swaarder om die hele dag by ’n ou man op die karos te sit as om die hele dag swaar te werk vir een wat jou maat en metgesel is; een wat jy self kan kies.

En al die meisies was verwonderd oor die woorde van Maraledi; en hul stemme het saamgeklink soos die gekletter van ’n swerm vinke in die begin van die winter.

En toe kom die betowerde leeus en die toenemende vrees en ellende oor Magoeba.

In die kgotla was sy toesprake ’n gedurige klaaglied.

“Kyk hoe gaan dit met my,” sê hy elke dag aan die raadsmanne. “Julle weet dat die gevaar my bedreig. Ek is omring deur towenaars en julle doen niks! Die bier en vleis voed my nie langer nie; geen water les my dors; ek slaap nie meer gerus nie; ek vergaan, en daar sit julle soos ’n lot roerlose aasvoëls om ’n sterwende dier.”

En meer en meer word dit gewoonte by hom om Boelala-tata uit die hoeke van sy oë te bekyk as hy so praat. Maar die ou raadsman sê niks. In sy hoekie sit hy stil met ’n skelm glimlaggie op sy gesig.

En toe eendag kon Magoeba dit nie meer hou nie; hy sou alles prysgee, selfs Maraledi, as hy van die angs kon ontslae raak.

“Waarom praat jy nie?” roep hy Boelala-tata vererg toe. “Daar was ’n tyd toe jy genoeg kon praat. Nou het ek jou stem nodig; praat nou!”

Die ou skelm het al lank vir die geleentheid gewag.

“Gosji,” sê hy, “ek weet alles van die gevaar; en ek het nie stilgesit nie. Ek weet hoe om die kaptein te red.”

Magoeba slaak ’n sug van verligting. “Praat, my raadsman, laat ek hoor. Altyd het ek geweet dat ek op die uiterste op jou kan reken. En jy weet ook, Boelala-tata, dat jou werk nie verniet sal wees nie. Eis jou vergoeding: beeste, grond . . . of miskien ’n jong mosadi – vra! Ek, Magoeba, belowe dat jy nie tevergeefs sal vra nie. Dit is my woord.”

“Min verlang ek, Gosji – ek sal tevrede wees om my kaptein te red, maar as die kaptein miskien ’n mosadi het om weg te gee – onthou dan dat ek een nodig sal hê vir my oudag wat nou naby is.”

Almal in die kgotla wis dat hy Maraledi bedoel, en die raadsmanne kon sien dat dit ’n druppel bloed uit die hart van Magoeba was.

Maar ná ’n wyle kyk hy op en sê ferm: “My woord is my woord.”

En toe vertel Boelala-tata van sy ontdekking. In die hoofstat – ver daarvandaan – woon ’n jong neef van hom, ’n broerskind wat onder die sorg van die koning se vernaamste dokters grootgeword het. Op een rigting in die studie van towery het hy hom van jongs af toegelê: die vernietiging van “gestuurde” ongedierte. So beroemd was hy dat hy wyd en syd bekend was as “Mogali-di-Tao” – Doodmaker van die Leeu. Die getowerde leeus wat hy uitgeroei het was ontelbaar.

Opgewonde ruk Magoeba hom orent. “Laat my boodskappers kom,” gebied hy, “en gee jy self aan hulle die boodskap aan jou broerskind.”

Agt dae later word die stat vroeg in die oggend wakker geskud deur die gesing en gejuig van ’n gedrom vroue wat spoedig in twee rye versamel wat langs die pad na die kaptein se skerm lei. Hulle verwelkom die gesantskap terug. Voor loop die kaptein se boodskappers, elk met ’n koninklike kierie van Magoeba in sy hand. Net agter hulle volg die beroemde Mogali-di-Tao. Sy drag nog indrukwekkender as dié van die koning self. Op sy kop is ’n groot helm van swart volstruisvere wat agter met die punte byna op die grond hang, en ’n tiervelkaros wat die bewys lewer van sy koninklike afkoms. In sy regterhand dra hy ’n breëlem-asgaai, langer as wat hy self hoog is, waarmee hy soos met ’n wandelstok loop.

Geen wonder dat die verskyning van Mogali-di-Tao die toeskouers tot hartstogtelike opgewondenheid opgesweep het nie. Almal was verwonderd om te sien hoe jonk hy is – seker nie meer as vier of vyf jaar bo die tyd van manlike inwyding nie, maar sy liggaam was reeds dié van ’n held en ’n krygsman. ’n Breë bors met gladde, pragtig ontwikkelde spiere en ’n beweging so suiwer en grasieus dat dit die indruk gegee het van die ritme van ’n stadige dans. Met kop hoog gehou en ’n reëlmatige swaai van sy magtige skouers loop hy deur die skare heen, kalm en ongestoord asof hy aan sulke eerbetonings so gewoond is dat hulle nie langer tot sy gewaarwording deurdring nie. Hy skyn hoegenaamd geen notisie te neem van die toejuiging van die vroue nie. Hy kyk net reg voor hom, heen en weer draai die punte van sy lang geborduurde tiervel in die swart pluime van sy pragtige kopstuk in ritmiese ewewig met sy voetval wat – nieteenstaande sy groot gestalte – so sag voortgaan dat dit nouliks skyn of sy voete die grond raak.

Agter hom stap gedwee sy handlanger van omtrent dieselfde ouderdom maar met ’n veel minder versierde lyfdrag en ook minder sigbare tekens van liggaamlike krag. Hy dra die skildvel en geweer van die held. Die eerste is lank en breed genoeg om die hele liggaam te bedek, terwyl die tweede ’n enorme agtponder-olifantroer is, die aftrek waarvan, met ’n volle skoot gelaai, ’n hoë mate van dapperheid in enige mens sou vereis.

Daar gaan ’n gerug deur die skare dat Mogali-di-Tao by een geleentheid net op sy eie ’n volgroeide mannetjieleeu van kant gemaak het met behulp van sy skild en asgaai. Dit was hierdie heldedaad wat hom sy erenaam verskaf het.

“Ai, ai, ai,” roep die jong vroue, “ons groet die koning van die leeus,” en onder mekaar fluister hulle: “Maia! Dit is ’n bruidegom van die koning se eerste dogter.”

Ook Magoeba het spoedig onder die indruk van die jong held geraak. Hy het hom uitgenooi, as ’n gelyke in rang, om langs hom op die karos te kom sit, en terwyl die bier en bakke vleis aangebied word deur knielende vroue, begin die kaptein hom uit te vra, en allerhande wilde beloftes te maak.

“Ek hoor van jou oom dat jy sterk medisyne het en dat jou geweer nooit mis skiet nie. My seun, daar is my kraal; alles is joue, stap maar in. Verlos my net van die vloeke van towenaars en die ondiere wat hulle nou op my losgelaat het” . . . en so gaan hy voort.

Mogali-di-Tao hoor hom ongeroer aan terwyl hy stadig aangaan met sy feesmaal. Dit skyn byna asof hy nie luister na alles wat die half beskonke ou kaptein hom in die ore blaas nie. Seker neem hy nie baie notisie van wat hy sê nie.

“Ki-Gosji, dit is nie die medisyne waarop ek self so baie reken nie – ofskoon my onderwyser die grootste en wysste onder die towenaars was en sy middels dikwels so sterk soos die leeus self was. Maar ek reken in die eerste plek op my wapens; dan op die krag van my hart en die sterkte van my arms. As die hart water word, dan het die leeu die stryd gewin voor die eerste slag gelewer is. Maar ek sal jou verlos as ’n mens dit kan doen. Vertel my nou alles van die twee leeus wat julle hier so laat skrik het dat ons by die hoofstat ver anderkant die Misberge die weerklank van julle weeklaag gehoor het!”

En toe vertel Magoeba die storie van al die ellende wat hy te verduur het deur toedoen van die towenaars; en waar hy te kort skiet, vertel een van die raadsmanne dadelik verder totdat Mogali-di-Tao ’n aaneenskakeling van verskrikkinge verneem het waarvoor ’n groter held as selfs hy geneig sou wees om terug te deins.

En so het Mogali-di-Tao die werk aanvaar om Magoeba te red uit die kloue van die towerleeus wat sy lewe bedreig.

Vroeg die volgende oggend het hy die stat met sy wapendraer verlaat, vergesel deur ’n paar gidse van Magoeba, om die toneel van die laaste verskyning van die twee leeus te besoek. Dit was nou reeds vasgestel dat dit ’n groot mannetjie en wyfie was wat altyd in geselskap hul roofaanvalle uitvoer. Vir die mens skyn hulle nie die minste vrees te hê nie, en die eienaars van aangevalle vee moes oogluikend toesien hoe hul diere – soms vroeg in die aand – aangeval en verslind word.

Die pad wat Mogali-di-Tao die oggend van die hoofstat moes volg, het verby ou Mafakena se skerm gelei. Soos gewoonlik het die jagters een agter die ander in die voetpad geloop, Mogali en sy geweerdraer taamlik ver agter die gidse. Toe hy ou Mafakena se skerm bereik, hoor hy skielik ’n sagte stem uit die poort: “Lesuhana4, hier is iets om jou hart sterk te maak en jou oë helder.” Toe Mogali, in sy pragtige mondering, sy oë wend in die rigting van waar die stem kom, gewaar hy ’n gesig so aangenaam verrassend, dat hy dadelik halt hou. Dit was die skone Maraledi in al haar prag van krale, arm- en beenbande. In sy oë kon die heerlikheid van die vroeë môre seker niks mooier vertoon het nie.

Seker sou niks anders hom ’n minuut tyd laat verloor het nie, maar teen sy eie wil stap hy op na die poort en begroet die mosadi beleefd. Met ’n skaam glimlaggie reik sy hom ’n kalbas suurmelk. Die gedagte kom by hom op dat sy op wag moes gestaan het, en dit is met ’n luide en vrolike lag dat hy die melk van haar neem en drink. Voor hy die plek verlaat het, wis hy die naam en al die omstandighede van Maraledi, en daar is min twyfel dat dit haar inspirerende beeld was en nie dié van die leeus nie wat op sy verdere reis sy verbeelding in beslag gehou het.

Intussen het Magoeba se moed momenteel gestyg met die aankoms van Mogali-di-Tao, en dadelik het in sy gemoed die besluit posgevat dat sodra sy verlossing bewerkstellig sou wees, hy sy plan van ’n huwelik met Maraledi sou hervat en niks sou in sy weg staan nie.

Die middag laat toe Mogali-di-Tao van sy verkenningstog terugkeer, word die kgotla weer bymekaargeroep en weer word feesgevier in die skerm van Magoeba. Mogali-di-Tao het koel en bedaard vertel dat hy die spoor en moordplek van die twee leeus gekry en opgevolg het, en môre – so beloof hy – sal hy met die ondiere handgemeen raak. Óf hy óf hulle sou die stof byt. Luidrugtig word sy woorde deur die raadslede toegejuig en op niemand het hulle ’n meer verblydende indruk gemaak as op Magoeba self nie. Hy het die jong man langs hom laat sit om uit sy kalbas te drink en uit sy skottel te eet. Hy kon hom nie genoeg eer bewys nie. En toe roep hy een van sy boodskappers wat altyd byderhand staan: “Neem my kierie, haas jou, en roep die ou vrou Mafakena. Sê haar om haar dogter Maraledi te bring.”

Toe die twee vroue ná ’n kort pouse op hande en voete by die skerm inkruip, gebied hy hulle dadelik met groot vrolikheid om op te staan en ’n sitplek onmiddellik agter hom en sy jong gas in te neem.

Ná hulle almal gedrink het, lig die kaptein sy vegbyl, wat dadelik stilte gebied. Dit is die teken dat hy die kgotla wil toespreek.

“My kinders,” sê hy, “hier is julle nuwe Mosadi-di-Gosji,” en hy lê sy hand op die skouer van Maraledi. Daar is ’n uitbarsting van toejuiging.

“Soek,” sê hy aan Mogali-di-Tao, “vir jou ook die mooiste in my stat uit. Ek, Magoeba, gee haar aan jou.” Daar was egter drie mense wat die afkondiging nie met ongemerkte blydskap ontvang het nie.

Mogali-di-Tao het omgedraai en sy oë lank en stip op die jong meisie gevestig. Sy sit met geboë hoof sonder ’n glimlaggie op haar gesig. In ’n afgeleë hoek sit ou Boelala-tata. Met verslapte arms, weemoedig, kyk hy vir een minuut Magoeba in die oë en so dreigend, uittartend is die blik van die kaptein dat Boelala met ’n skouerophaling en ’n diep sug sy aangesig agter ’n bierkalbas verberg. “Vertrou nooit op die beloftes van konings nie,” was waarskynlik die treurige gedagte wat deur sy gemoed gegaan het.

Met dagbreek die volgende môre word die stat gewek deur Magoeba se groot krygstrommels wat soos swaar donder aanhoudend deur die duister dreun. Dit was die dag van die groot geveg tussen Mogali-di-Tao en die leeus. Binne ’n paar minute was al die inwoners om die kaptein se skerm vergaar om die held te sien vertrek. Dié keer het hy en sy wapendraer alleen uitgestap. Die bevel is op sy versoek uitgevaardig dat niemand hom moes volg nie; hy sou die roofdiere alleen tegemoetgaan en as hy hulle verslaan, sou sy wapendraer die feit bekend maak deur ’n geblaas op ’n groot ramshoring wat hy vir die doel saamdra.

Magoeba het tot in die poort van sy skerm gekom om sy jonge kampvegter vaarwel te sê. Stadig is hy deur die skreeuende gedrom, om uiteindelik alleen in die voetpad te kom wat na die berge lei.

Die hutte en skerm van Mafakena was in uiterste stilte gehul. Die hek was bedek met ’n gebreide beesvel en daar was selfs geen rook sigbaar nie toe Mogali-di-Tao voor die poort kom. Hy wis dat nóg Mafakena nóg Maraledi onder die mense by die kaptein se skerm was. As sy daar was, sou hy haar gesien het.

“Mosadi . . . Maraledi,” roep hy sag, en dadelik word die vel verskuiwe en voor hom met geboë hoof staan die jong vrou. Weer was sy op die loer om hom te sien verbygaan. Hy sien dat sy al haar versieringe verwyder het, en om haar voorhoof is ’n leerband.5

“Wie is dood?” vra hy fluisterend. “Wat makeer, Maraledi?” en hy vat haar saggies om die skouers.

“Lesuhana,” sê sy – ook fluisterend – asof die veld haar kon afluister, “raak my nie aan nie, en noem my Ki-Gosji, soos Magoeba julle gebied het. Jy het gehoor. Ek is nie langer Maraledi nie.”

Met ’n luide gelag swaai die held sy asgaai omhoog, en aan haar arm trek hy haar die poort uit.

“Loop saam met my deur die laagte. Daar is ’n woord wat ek aan jou wil sê.”

En so is hulle voort, langs mekaar, op die voetpad, in diep gesprek, totdat die skadu van die groot bome aan die hang van die berg hulle bedek het.

Dit was net voor sononder die aand dat die tyding die hoofstat bereik dat Mogali-di-Tao al twee leeus gedood het. Die wyfie – swaar gekwes – het hom gestorm, en haar het hy met sy groot asgaai die genadesteek gegee. Die mannetjie het hy uit die vuis doodgeskiet.

Dit was in die koelte van die aand dat die groot stoet singend en juigend die bergpad afkom. Op lang pale word die twee leeus deur agt man elk gedra. Voor, in ’n groot halfsirkel, kom die vroue dansende en singende. Hulle roep die lof uit van Mogali-di-Tao.

Magoeba het reeds ’n fees berei. Dié nag sou daar gedans word ter ere van sy dappere kampvegter en tegelyk sou die magadi – die bruidskat – simbolies aan Maraledi se moeder oorhandig word.

Alles gereed. Op die dansplek is al die jong volk in digte dromme vergader. Agter die skerms styg die rook omhoog waar vleis gebraai word. Die bierpotte staan klaar onder bewaking van die ou vroue. Almal wag net vir die teken wat die kaptein moet gee. Op sy karos sit Magoeba, langs hom is die plekke gereed vir Mogali-di-Tao en die toekomstige bruid van die kaptein – al twee ledig.

“Waar is hy dan?” bulder Magoeba uiteindelik ongeduldig. “Soek julle hom,” gebied hy aan sy bediendes. “En jy,” gebied hy sy boodskapper, “gaan haal die Mosadi-di-Gosji; kom nie sonder haar nie; en dadelik!”

Skaars tien asemhalings later nader ’n gedurige geweeklaag en geween deur die duister die dansplek – ’n geluid wat dadelik die hele gedrang tot ’n doodse stilte laat bedaar.

“Ma-wé, Ma-wé,” roep een stem skel en aanhoudend. “My hart is stukkend! My lewe gedaan! Maak klaar die graf vir my! Ma-wé! Ma-wé!” En sukkelend, struikelend, nader ’n ou gestalte die kaptein, wat met starende verbasing, woordeloos, die onverwagte inval sit en aankyk. Vlak voor hom stort die ou vrou ter aarde, terwyl haar skelle geskreeu gedurig voortgaan.

Dit het Magoeba nie lank geneem om haar met bedreiging van sy vegbyl tot stilte en besonnenheid te bedwing nie. En toe, soos die gesuis van wind deur dorre blare, gaan ’n gerug deur die versamelde menigte.

“Maraledi is weg! Maraledi het haar ou moeder en kaptein verlaat; sy het gevlug; sy is die berge in; en (ongelooflike woord!) saam met haar is die kampvegter van Magoeba, die jong Mogali-di-Tao!”

Weer val ’n doodse stilte oor die gedrang. Die enorme gestalte van Magoeba is orent, sy vegbyl in die hand. Met bulderende stem roep hy uit:

“Huis toe, julle honde! Laat ek geen stem weer hoor nie. Daar sal g’n bruilof wees nie!”

1 Al die krale en versierings van ’n vrou.

2 Die bobbejaan is die fetisj van die stam.

3 Bruidskat.

4 Jong man.

5 Die teken van rou by ’n sterfgeval.

Die Beste verhale van Eugène N. Marais

Подняться наверх