Читать книгу DA of nie? - Eusebius McKaiser - Страница 3

Inleiding

Оглавление

Die bekentenis van ’n verwarde kieser

Dit was ’n lieflike herfsoggend toe ek op 18 Mei 2011 in my woonstel in die boheemse Melville, Johannesburg wakker word. Buite was dit nog doodstil, met geen teken van Mandela se born free-generasie wat tot laatnag in dié plesierige voorstad jolyt hou nie.

Daar was nog ’n rede vir daardie vroegoggend-rustigheid. Dit was ’n openbare vakansiedag, altyd ’n goeie rede vir selfverklaarde oorwerkte Suid-Afrikaners om laat te slaap voordat die braaivleisvure aangesteek word. Of so het ek gevrees. “Gevrees”, ja, want op daardie openbare vakansiedag was die kiesers veronderstel om die pad te vat stembus toe om hul nuwe plaaslike owerhede aan te wys. Kommentators het hul lyf sangoma gehou en heldersiende geraak. Baie van hulle het met sekerheid ’n lae stempersentasie voorspel. Dit het gelyk of hulle in die kol kon wees, want die stilte het oor alles gehang toe ek my woonsteldeur agter my toetrek om in Sandton te gaan stem – ek het vroeër daar gewoon en was nog daar geregistreer – maar dit was darem nog vroeg.

Uiteindelik was dit toe ’n heel suksesvolle verkiesing wat die stempersentasie betref, met 57,6% van geregistreerde kiesers wat by die stembus opgedaag het. Baie demokrasieë wêreldwyd kon ons beny. Hul stempersentasies in plaaslike verkiesings is dikwels laer as 40%.

Ek het daardie dag vroeg gestem omdat ek moes. Ek sou dié dag as een van die ateljee-aanbieders die verkiesing vir ’n ­televisiekanaal dek en daar sou nie later tyd vir toustaan wees nie. Terwyl die taxi sy weg van Melville af baan, deur Parktown-Noord en Rosebank, oor Illovo na Sandton, het ’n enkele gedagte my 32-jarige kop gevul. Vir wie moes ek stem? Ek het nog nie besluit nie. Ek het twee stemme tot my beskikking gehad: ’n proporsionele een vir die party van my keuse wie se idees ek vertrou het, en nog een vir ’n wykskandidaat wat met ’n eenvoudige meerderheidstem regstreeks deur die kiesers aangewys sou word. Ek het nie die vaagste benul gehad hoe ek sou stem nie. Nie die vaagste benul nie.

Jare lank het ek die basiese beleidstellings van die African National Congress geheel en al oortuigend gevind. Die party steun die idee van ’n welsynstaat. Daarvoor is ek dankbaar: as eerstegenerasie swart gegradueerde het ek ’n verpligting om geld aan arm familielede tuis te stuur. Ek het armoede gesien. Ek het dit ervaar. Wat meer sy, ek verstaan die maatskaplike konteks waarin arm mense se vermoëns nooit ontwikkel nie. Ek het ’n emosionele weerstand teen ’n onbarmhartige houding teenoor armoede. My onderpresterende bloedverwante het nie letterlik gekies om uit te sak op skool of as tieners swanger te raak nie. Ek is dus dankbaar dat daar ’n welsynstelsel is wat verseker dat hul kinders nie doodgaan van die honger wanneer oom Eusebius een maand nie kan bydra nie. Dit snap die ANC.

Bowendien het die ANC baie gou ná die geboorte van ons demokrasie verstaan dat die wêreld nou binne ’n neoliberale raamwerk moes funksioneer. Die “neoliberale ekonomie” het baie en komplekse beginsels. Die ANC moes ’n fundamentele verandering maak en hy het dit in groot mate gedoen weens die harde werk van daardie beroemde Vigs-ontkenner, maar darem redelik begaafde houer van ’n meestersgraad in die ekonomie, Thabo Mbeki: die party moes sy sosialisties-geïnspireerde idees van sterk staatsbetrokkenheid by die ekonomie prysgee. Die ANC moes aanvaar dat markte betreklik doel­treffende meganismes is om bronne toe te ken en om vraag en aanbod en volhoubare loonvlakke te bepaal. In die praktyk het dit beteken dat daar afgesien moes word van ’n beleid soos die Herkonstruksie en Ontwikkelingsplan (HOP) ten gunste van beleggersvriendelike beleidsrigtings wat groei sou bevorder en hopelik nog werksgeleenthede sou skep.

Natuurlik sal baie linksgeneigde ekonome ons daarop wys dat werkloosheid in Mbeki se bewindsjare toegeneem het. Die punt is eenvoudig dat dit onvriendelik, eintlik heeltemal verkeerd sou wees om te beweer dat die ANC geweier het om ’n makro-ekonomiese raamwerk te kies wat in pas was met ’n wêreld waarin markgebaseerde ekonomiese stelsels die ideologiese stryd gewen het teen stelsels gebaseer op die kommunistiese bevelsekonomie.

Wat maatskaplike beleid oor lewenstyl- en identiteitskwes­sies betref, was ek ook tevrede met die ANC. Natuurlik is daar homofobiese mense en seksistiese varke in die ANC. Dit kan nie anders in ’n groot party met lede en ondersteuners uit die hele gemeenskap nie. Tog was die ANC-leiers (of die meeste van hulle) bereid om die liberale weg in te slaan toe dit saak gemaak het. So het die party byvoorbeeld sy LP’s in 2006 verplig om vir die Wet op Burgerlike Verbintenisse te stem en dit dus vir gay pare moontlik te maak om te trou. Die ANC het nie sy lede toegelaat om elk volgens eie oortuiging te stem nie, anders as wat die DA, heel onliberaal, gedoen het.

Die ANC het meer waarde geheg aan betekenisvolle gelykheid vir gay en lesbiese Suid-Afrikaners as aan die persoonlike oortuigings oor homoseksualiteit wat in die harte van LP’s kon geskuil het. Net so het die ANC nooit sy parlementêre meerderheid gebruik om aan die baie liberale bepalings oor die doodsvonnis, lyfstraf en ander maatskaplike kwessies te torring wat uit bevindings van die konstitusionele hof voortgespruit het nie.

Dit wil nie sê dat ek uitermate dankbaar is omdat die ANC net doen wat hy in elk geval veronderstel is om te doen nie. Natuurlik moet hy die standaarde respekteer wat ons as gemeenskap gekies het om ons wetlik en grondwetlik te bind. Maar as iemand met ’n diepe verbintenis tot die ideaal van die liberale gemeenskap, was ek lank gemaklik met die ANC se nominale steun vir liberale sosiale beleid, al was dié steun dalk nie altyd uit die diepte van die ANC-hart nie. Die ANC aanvaar tog wel, al is dit soms teensinnig, dat individuele outonomie nie op die altaar van populisme geoffer behoort te word nie.

Ek was dus daardie oggend op pad na die stembus in die versoeking om die ANC te beloon vir beleide en ideologieë wat sterk weerklank gevind het in my persoonlike ervaring, in my familie se hopelose situasie in Grahamstad en in my verbintenis tot die liberalisme.

Tog was ek nie seker of ek myself regtig so ver sou kon kry om vir die ANC te stem nie. Met dié dat korrupsie in die staat onder opeenvolgende ANC-regerings endemies geword het, was die gaping tussen beleidsideale en lewering groot en is dit steeds besig om te groei. Die kommentators se voorspellings oor ’n lae stempersentasie was nie misplaas nie, al het dit later geblyk verkeerd te wees: miljoene Suid-Afrikaners word nog steeds elke dag gemarginaliseer en kon maar net sowel geen stemreg gehad het nie. Erger nog, te veel ANC-aangestelde staatsamptenare is onstellend arrogant en eien hulself te veel toe.

So betrap ek my toe telkens dié oggend dat ek my afvra: “Eusebius, wil jy regtig die arrogansie van soveel onderpresterende, eties-ontspoorde ANC-politici beloon? Wil jy?” Ek kon nie in alle eerlikheid “ja” antwoord nie. In elk geval nie met ’n skoon gewete nie. Ná alles, hoe ek ook al beleids- en ideologiese debatte geniet, hulle is irrelevant as mense se lewens nie regtig verbeter nie. Daarby het ek in daardie stadium oorgenoeg poli­tici van die drieledige alliansie ontmoet wie se reuse-ego’s en buitensporige aansprake ’n bitter smaak in my mond gelaat het.

Ek moes byvoorbeeld een keer vir SABC3 se program Interface ’n onderhoud voer met die ANC se tesourier-generaal, Mathews Phosa. Dit was ons eerste ontmoeting. Die program is vooraf opgeneem en toe ek by die ateljee aankom, was hy reeds daar, vroeër as die afgespreekte tyd. Hy het skaars gegroet, of hy begin op my skreeu omdat ek laat is, wat ek nie was nie. Toe wou hy in die mees sarkastiese toon denkbaar weet of ek van plan was om hom om verskoning te vra. Ek sal dit maar moet doen, was sy raad. Sy hele houding tydens die hele tirade was dié van iemand wat gereken het hy is die koning van die SABC. Dit het nooit by hom opgekom dat hy slegs ’n gas in ’n aktua­liteitsprogram was nie en dat dit hom die voorreg gebied het om sy standpunte aan die publiek en die kiesers te stel. Pleks daarvan het hy hom gedra asof die plek aan hom behoort.

Ek raak nie maklik uitgeboul deur sulke gedrag nie, maar daardie keer het dit my onkant gevang. Vir ’n oomblik was ek selfs geïntimideer. Wat my die meeste geskok het, was die ongeërgde houding van my kollegas wat al lank by die SABC was. Toe het ek stadig begin besef dat die Phosas van die ANC nie net gewoond was om hulle te gedra asof die kiesers hulle iets skuld nie, maar dat hulle, tragies genoeg, ook gewoond daaraan is dat baie mense in staatskorporasies soos die SABC optree asof dié mense werklik op hul arrogansie geregtig is.

My ontsteltenis het plek gemaak vir woede en vasbeslotenheid en toe die onderhoud uiteindelik begin, het ek hom taai vrae gevra om te sien of hy die ANC se beleid en die regering se verrigting kon regverdig.

Hy het eers sy houding verander toe hy sien dat hy nie met ’n beangste hansie-my-kneg te doen het nie. Teen dié tyd het my kollegas se monde oopgehang. Hulle was duidelik nie gewoond daaraan dat mense by die SABC onderhoude voer soos die BBC se Tim Sebastian nie.

Ek moet Phosa ter ere na gee dat, toe hy eers aanvaar het dat ek my werk doen en daarop aandring om dit eerlik te doen, ons albei die onderhoud baie geniet het. Tydens een van die onderbrekings het hy selfs opgemerk, “Jy het nou pret, nè?” Voordat hy daar weg is, het hy my ’n ferm, vriendelike handdruk gegee.

Phosa se aanvanklike uitbarsting en arrogansie was tipies van die gedrag van baie senior ANC-leiers en staatsamptenare. Te veel van hulle is nie skaam oor hul gebrek aan prestasie en die feit dat hulle hulself afvee aan etiek nie. Selfs jonger leiers, soos die voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga, Floyd Shivambu, probeer die hele tyd hul politieke mentors en helde na-aap. Ek het dit self gesien en alte dikwels aan eie lyf gevoel.

Hierdie en ander voorbeelde het daardie oggend van 2011 se plaaslike verkiesing deur my kop gemaal. Ek kon myself eenvoudig nie sover kry om vir ’n party met sulke karakters te stem nie.

Ek het ’n alternatief begin oorweeg: sal ek dalk maar vir die Demokratiese Alliansie stem?

Maar dié idee het my ook nie regtig aangestaan nie. Aan die een kant was daar genoeg bewys dat die DA die munisipa­liteite waar hy aan bewind was heel doeltreffend bestuur het. DA-raadslede het blykbaar ’n goeie werksetiek, met ’n opregte begeerte om groot ideologiese en beleidsrusies opsy te skuif en eenvoudig aan te gaan met die werk om gemeenskappe veiliger te maak, slaggate toe te gooi, rekeningprobleme uit te stryk, ensovoorts. Waarom sal jy nie ’n openbare verteenwoordiger wil hê wat jou lewensgehalte in jou deel van die stad sal verbeter nie? Die keuse lyk vanselfsprekend – as jy nie verder daaroor nadink nie.

Net toe ek begin wonder of ek ’n slag moet waag om vir die grootste opposisieparty te stem, het die huurmotor waarin ek was verby ’n gholfbaan iewers in die omgewing van Parktown-Noord gery. Ek het na die weelderige groen gras van die gholfbaan gekyk. Hier was nie sprake van die strome vuil water uit verstopte afvoerslote waarmee die townships te kampe het nie. Wat ek daar in Parktown-Noord gesien het, was ’n fees vir die oog.

Ek het ook gesien dat ’n stuk of vyf mans gholf speel, en met dié dat ek nie kleurblind is nie, het ek opgemerk dat hulle wit, middelklas en geset was. Hulle het duidelik hul spel geniet en gelag en grappies gemaak. Daar was nog vyf mans by hulle, almal swart: die joggies wat swaar gedra het aan die spelers se gholfsakke. Daardie prentjie het my maag laat draai. Dit het my aan die strukturele ongelykhede herinner wat steeds in Suid-Afrika bestaan en wat dit waarskynliker maak dat ’n swart mens vir ewig die handlanger sal wees en die wit mens die baas.

Dit verstaan die DA nie. Die meeste van die party se ondersteuners, en veral sy leiers, sal hierdie siening van die tafel af vee. Sommige sal gou verduidelik dat wit mense eenvoudig meer van gholf hou, soos swart mense sokker verkies. Hulle sou sê dié instinktiewe reaksie van my wys bloot dat ek ’n rasseprobleem het. Sommige van hulle sal daaraan aanstoot neem dat ek in my vertelling selfs net na die velkleur van die twee groepe op die gholfbaan verwys. Hoekom, sal hulle vra, praat ek nie maar net van ryk en arm mense nie? Is gholf nie ’n aktiwiteit wat meer met rykdom as velkleur te make het nie? Baie ryk swart mans speel ook nou gholf, en baie arm wit mans aan die buitewyke van Pretoria sal tog ontuis voel op die gholfbaan? Dis die soort goed-geoefende teenargument wat ek weet ’n tipiese DA-gespreksgenoot sal kwytraak. Of ten minste, so ervaar ek dit.

En in ’n eng akademiese sin is dit redelike argumente. (Ek antwoord nie hier daarop nie, want reaksies is nie waaroor dit in hierdie storie gaan nie.) Die probleem is dat al hierdie slim argumentjies ’n heel ander toets druip wanneer dit by die politiek kom: verstaan jy as politikus die hart van die kiesers? Het jy ’n gevoel vir hulle? Herken jy die geskiedkundige agter­grond wat verklaar hoekom hulle die wêreld sien soos hulle dit sien? Wat dit betref, verstaan te veel DA-politici – veral wittes, wit ­liberale inkluis – eenvoudig nie die swart meerderheid nie. Vanaf hul a-historiese, kleurblinde platform vee hulle ons ­rasse-identiteite en die realiteite van ons lewens weg.

Kan ek regtig vir ’n party stem wat die politieke lewe reduseer tot ’n akademiese oefening in rasionele keuseteorie? Kan ek hierdie party vertrou om te verstaan dat my susters nie selfgemaakte verloorders is nie, maar twee volwassenes, vasgevang in ’n bose kringloop van tussengenerasiegeweld, armoede en verwaarlosing? Ek kan nie die DA vertrou om dit te verstaan nie. Vir die DA se beleidmakers sal my susters bloot “objekte van maatskaplike beleid” wees, soos die Engelse filosoof PF Strawson by geleentheid oor geestesongestelde mense gesê het.

Ek het ongemaklik gevoel by die gedagte van ’n stem vir ’n party wat, in die styl van die ryk Engelse elite van ouds, die emosionele bande wat ek met my land se geskiedenis het, minag. Daardie geskiedenis strek tot ver voor die koms van die demokrasie in ons land. Ek sou ongemaklik wees om vir ’n party te stem wat meen ek is belaglik omdat ek weier om die stemproses te reduseer tot ’n berekening op ’n spreadsheet vol data. Dus: hoe sou ek vir die DA kon stem?

Teen dié tyd het ek al tougestaan by Sandton se brandweerstasie. Ek het al nader aan die voorpunt geskuifel en steeds het ek geen idee gehad vir wie om te stem nie. Wat ’n aaklige keuse: ’n regerende politieke party met ’n ordentlike visie, maar met vreeslike leiers- en etiese krisisse? Of ’n opposisieparty met soveel goeie bedoelings en goedgeskoolde, hardwerkende raadslede, maar met ’n tragies misplaaste stel oortuigings oor die impak van die verlede op die hede, oor waar ons tans is en waarheen ons behoort te mik? Suid-Afrika, het ek besef, is ’n aaklige plek vir ’n kieser met ’n kritiese ingesteldheid en ’n diep historiese sin.

’n Kritiese ingesteldheid beteken ek moet ’n onderpresterende ANC veroordeel. Terselfdertyd laat ’n sterk historiese sin my teleurgesteld voel oor die gebrek aan historiese begrip van te veel DA-leiers. Moes ek dalk my stem verdeel – vir een party op die proporsionele lys stem en vir die kandidaat van ’n ander op die wykslys? Ek het eers geweet wat die antwoord is nadat my vingers die dinkwerk gedoen en my deur die stemproses gekry het. Miskien het ek uiteindelik lukraak gekies. Politieke ontleders is nie immuun teen menslike giere nie.

Ek hou vol my gebrek aan beheer oor daardie besluit by die stembus was nie my skuld nie. Ek verkwalik ons twee grootste politieke partye vir my verwarring.

* * *

Wat nietemin sedert daardie verkiesing vir my duidelik geword het, is dat, ongeag watter party aan bewind is, ons net ’n volhoubare en stabiele demokrasie sal hê as ons ’n mededingende politieke stelsel het. Dit beteken dat die party aan bewind ideaal gesproke diep binne-in tog die vrees behoort te koester dat hy ’n verkiesing kan verloor. So ’n vrees sal die kanse op deelnemende en verantwoordbare regering vergroot. En, in ag genome hoe ’n groot sny van die verkiesingskoek die ANC steeds kry, is dit die taak van die DA om te verseker dat ons politieke stelsel mededingend raak deur ’n onweerstaanbare alternatief vir die ANC te bied.

Dis hoekom die DA se moontlikhede my so boei. Dit lyk of baie min politieke joernaliste en ontleders ’n lewendige belangstelling in die party het. Terwyl dit begryplik, selfs verkieslik, is dat ons die meeste van ons energie gebruik om die regering van die dag fyn dop te hou, is dit ook belangrik om onder die vel te kom van die politieke partye wat nie in die regering is nie. Dikwels word die DA ’n onguns bewys, want selfs wanneer hy goeie mediadekking kry, is die gehalte van die ontleding van die party se leierstryde en interne verskille oor groot nasionale kwessies gebrekkig.

Tog is dit noodsaaklik vir die gesondheid van ons demokrasie dat ons die amptelike opposisie van naderby beskou. Die DA is veral interessant omdat hy baie onnodige politieke foute maak wat keer dat hy beter in verkiesings vaar as wat tans die geval is.

Baie sal natuurlik haastig die statistieke uitpluk om te wys dat die DA al hoe beter gevaar het in die afgelope verkiesings en ’n al hoe groter persentasie van die stemme gekry het. Geen ander party, die ANC ingesluit, kan daarop aanspraak maak nie. Dié argument kyk die kern van die saak mis: enige politieke organisasie wat ernstig is daaroor om verkiesings te wen, sal homself aan sy potensiaal meet, eerder as om net groot te praat oor syfers wat in die regte rigting beweeg. Sakeondernemings bied goeie gevallestudies hiervoor.

Gegewe die ANC se diep leierskaps- en etiese krisis, die swak toestand van die staat en die volgehoue hoë vlakke van armoede en werkloosheid, behoort die DA regtig in die volgende nasionale en provinsiale verkiesings in 2014 sowat 30% van die stemme te kry. Maar ek dink nie hy sal nie. Nie omdat die ANC polities onoorwinlik is nie. Ook nie, soos sommige DA-leiers glo, omdat swart Afrikane aan ’n soort politieke Stockholmsindroom (of plein domheid) ly nie. Dis omdat die DA self soveel politieke foute maak.

Hierdie boek vertel die storie van hierdie onnodige politieke foute: die onvermoë van die DA om sy eie liberale identiteit behoorlik te verstaan; ’n moreel en strategies lomp houding oor ras; ’n kwalik verborge regstellende-aksieprogram vir swart leiers wat in elk geval besig is om stoom te verloor; swak betrekkinge met die regerende party; toondowe kommunikasie en verwarring oor waar of hoe opposisiepolitiek in Suid-Afrika herbelyn moet word.

Baie van hierdie foute kan reggestel word, maar die meeste DA-leiers reageer met dieselfde venyn en kleinserigheid op kritiek as waarvaan hulle, ironies genoeg, hul eweknieë in die ANC beskuldig. Dis vir my duidelik dat daar diep meningsverskille in die DA is – en dit bied ’n geleentheid om interne veranderings aan te bring wat die party beter by die stembus kan laat vaar. Daar is ’n stryd om die siel van die DA aan die gang, net soos daar voortdurend ’n stryd om die siel van die ANC woed. Dit word genoem … wel, politiek. Die mate waarin taktiese en ander foute reggestel kan word, hang af van hoe hierdie stryd verloop. Die tyd sal leer.

* * *

Interessant genoeg, terwyl ek besig was om hierdie boek klaar te skryf en die nuus daaroor nie vir myself kon hou nie, het baie vriende, ontleders en politici buite die DA, skrywers, joernaliste en lede van die publiek tallose gesprekke oor die titel van hierdie boek met my aangeknoop.

Mense is geboei deur die feit dat die titel van die Engele weergawe lui, Could I vote DA? eerder as Should I vote DA? Dan wil hulle ook knaend weet of die boek ’n direkte antwoord gee op die vraag DA of nie? “So? SO???? Wat gaan jy vir my sê om te doen, Eusebius?” torring hulle aan my.

Dis regtig interessant. Die een ding wat teen die einde van 2013 vir my duidelik geword het terwyl ek besig was om hierdie projek af te handel, is dat baie kiesers net so verward is oor waar om in 2014 hul kruisies te trek soos wat ek in die plaaslike verkiesing van 2011 was. Vandaar die hoop dat ek die vraag in die boek se titel onomwonde in die heel eerste sin op bladsy 1 gaan beantwoord. Dit gee jou ’n idee hoe ons almal leiding soek in die geploeter deur die moeras van politieke twak wat so dikwels die hoofstroom van politieke gesprek in ons land vorm.

Daar is verwarring, selfs teleurstelling, wanneer ek antwoord, “Nee, ek sê nie vir jou hoe om te stem nie. Om die waarheid te sê, ek is self nog nie seker hoe ek gaan stem nie: vir die ANC, die DA, die EVV, Agang SA, die IVP of vir nie een van hulle nie!”

Dan word ek word net verstom aangekyk, met ’n blik wat sê, “Maar my vriend, wat is die punt van ’n hele boek oor die DA as jy self nie teen die einde van die projek helder en duidelik kan sê of jy vir hulle gaan stem nie?”

Dis eenvoudig: die boek is ’n eerlike, subjektiewe gesprek met myself oor ’n reeks kwessies wat my laat twyfel of ek die DA moet toets as die party waarvoor ek gaan stem. Dié kwessies wissel van irritasie met hul stemtoon tot vrese dat hulle, anders as ek, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) verpes, tot ’n afkeer van die manier waarop hulle met die ANC slaags raak en ’n evaluering van hul ideologiese grondbeginsels.

En, soos baie van julle wat hierdie inleiding lees, is ek nie psigologies verkneg aan die glorieryke geskiedenis van die ANC nie. Dis vir my heeltemal moontlik om nie vir die ANC te stem nie. En ja, ek is heeltemal in staat daartoe om vir die DA te stem. Ek is net nie seker of ek dit behoort te doen nie. Hierdie boek ontleed dus sistematies, hoofstuk vir hoofstuk, die reeks onderwerpe wat vir my sal bepaal of ek my kanse met hulle sal waag.

Waarom kom ek dan nie tot ’n finale gevolgtrekking nie, al het ek hierdie boek geskryf? Eenvoudig omdat ’n week ’n lang tyd in die politiek is. Wel … ek gaan ’n bietjie onverskillig met die waarheid om. Ek het in werklikheid ’n voorlopige besluit geneem oor die DA en of ek vir hulle sal stem of nie. Maar dit is voorlopig.

Tussen nou en stemdag is alles nog baie vloeibaar. Byvoorbeeld, juis terwyl ek hierdie inleiding skryf is die DA bra verward oor wat die duiwel hy regtig oor SEB wil sê, met gemengde boodskappe wat van Mmusi Maimane en Wilmot James rondvlieg.

Dis dus nie soseer dat ek nie regtig besluit het nie, al het ek ’n hele boek oor die party geskryf. Dis eerder dat baie van wat ek krities oor die DA geskryf het selfs terwyl die boek gefinaliseer en geredigeer word, nog daagliks in die party kop uitsteek.

Maar ’n mens moet met ’n oop gemoed bly kyk, en dis omtrent so reguit as wat ’n politieke ontleder behoort te antwoord oor wat sy waarskynlike voorkeur by die stembus is.

Dis aanvaarbaar vir politieke skrywers om hul perspektiewe op die politieke landskap te gee en te regverdig, maar ek dink nie boeke behoort stemkeuses voor te skryf nie. Stemkeuses is uiteraard diep persoonlik en weerspieël die unieke waardes en prioriteite van elke kieser. Ek hoop die waarde van hierdie boek, as dit wel enige waarde vir jou het, is tweeledig.

Die een is dat dit jou passievol oor die politiek sal maak, want te veel mense skryf dit af as ’n vervelige, ofskoon noodsaaklike euwel. Ek vind die politiek intens fassinerend en ’n integrerende deel van die moderne lewe, wat net soveel soos kuns, letterkunde, musiek en die media ’n element van menselewens geword het, al is dit alles net sosiale uitvindsels.

In vele opsigte benader die DA die politiek asof dit ’n oefening in somme is. Hier is dus ’n voorspelling. Kyk net hoe sommige van hulle selfs op hierdie boek sal reageer asof die politieke praktyk – partypolitiek – net soos deelname aan ’n wiskunde-olimpiade is.

Dis nie wat partypolitiek is nie. Dis deel van die lewe. En ek hoop dis juis dit wat die toon en styl en subjektiewe narratiewe van hierdie boek na vore sal bring. As ek nie daarin slaag nie, sal dit nie wees omdat die politiek nie regtig so vreeslik intiem is nie. Dit sal net wees omdat ek nog nie geleer het hoe om goed te skryf nie.

Ek hoop dat hierdie boek verwarde mede-kiesers sal help om hardop te dink oor die kwessies wat sal bepaal of hulle ’n kans met die DA behoort te waag – en of hulle in staat is om dit te kan doen.

Wat die bewoording van die titel betref, het ek en my uitgewer so ’n bietjie met die opsies gestoei. Die Afrikaanse titel DA of nie? het op die keuse van Could I vote DA? vir die oorspronklike Engelse weergawe gevolg. Daardie Engelse titel bied ’n bepaalde insig in die wyse waarop die DA ontleed word. Hoekom Could I vote DA, eerder as Should I vote DA? Die antwoord is eintlik eenvoudig en spruit uit ’n etenstafelgesprek een Sondagaand tussen my en twee vriende.

Een van hulle is ’n swart Suid-Afrikaner wat baie arm grootgeword het, in die Oos-Kaap, en wat steeds brandarm familie in die landelike gebiede het. Hy woon nou in Johannesburg, ’n gegradueerde beroepsman. Hy is steeds diep bewus van sy familie se oënskynlik permanente armoede daar ver in die vlakte. Noem hom Jabu.

Ons ander vriend, ’n Noord-Amerikaner, is ’n kêrel uit die middelklas. Hy het ’n goeie geleerdheid en het van die beste skole in die VSA bygewoon. Hy werk nou vir ’n rukkie in Suid-Afrika as ’n strategiese konsultant by een van die wêreld se topfirmas. Noem hom Jason.

Jason het oor my boek uitgevra en wou weet hoe dit vorder. Soos baie ander het hy ook gewonder wat die titel gaan wees en het Should I vote for the DA? voorgestel. Hy het dit as vanselfsprekend aanvaar dat ek vir die DA kon stem. Die vraag was dus of ek dit behoort te doen. ’n Verrassing het op hom gewag: Dis nié vanselfsprekend dat enigeen vir die DA kan stem nie, het Jabu teruggekap.

Ek het ’n ruk lank na die twee se fassinerende debat geluister voordat ek ook ingeklim het. Jabu het dit duidelik gestel, “Ek kan nooit vir die DA stem nie.” Die vraag of jy vir die DA behoort te stem was dus nie ’n kwessie vir Jabu nie, want sy standpunt is: hy kan nie.

Wat my ook van Jabu se standpunte geïnteresseer het, was dat soveel van sy argumente op leuens oor die DA gebaseer was, maar dis nie ter sake nie. Hy het diep vrese uitgespreek oor hoe regs, hoe onsensitief teenoor die armes en totaal sonder deernis die DA is. Van die goed wat hy gesê het, was waar, maar baie daarvan was eenvoudig verkeerd.

Maar die objektiewe waarheid is nie hier ter sake nie. Van belang vir die DA is die kern van die saak: hier het jy ’n opgevoede kieser wat nie van die ANC se regeringsrekord hou nie, maar wat nie nou sê, “Ek kan vir die DA stem, maar ek sal dit waarskynlik nie doen nie”. Pleks daarvan lug hy ’n veel sterker mening, “Ek kán nie vir die DA stem nie.” Finish en klaar.

Ek het Jabu later probeer oortuig dat hy hom sweerlik verkeerd uitdruk, dat hy iets minder sterk wou sê, soos “Ek kan vir die DA stem as hulle X, Y en Z anders doen …” Hy het so effens toegegee, maar nie regtig nie.

In elk geval, dis duidelik dat sommige kiesers, soos ek, gemaklik is met die vooruitsig om vir die DA te stem, maar net nog nie weet of hulle dit daadwerklik gaan doen nie. En dan is daar kiesers, baie van hulle swart mense, wat wel nie van die ANC se regeringsrekord hou nie, maar wat nog nie gemaklik is om hulle selfs te verbeel dat hulle vir die DA sal stem nie.

Hierdie boek is vir albei stelle kiesers. En as die DA slim is, sal hy hom tot albei groepe rig, pleks van ewe maklik te aanvaar dat kiesers soos Jabu se kop nie gedraai kan word nie. Ek dink nie dis onmoontlik om Jabu te oorreed nie. Ek dink Jabu is net een of twee gesprekke weg daarvan om sy gedagtes oor die DA in ’n nuwe raamwerk te plaas.

Maar dit veronderstel dat die DA self in staat is om sy eie beleid in ’n nuwe raamwerk te plaas. Ons sal moet wag en sien.

DA of nie?

Подняться наверх