Читать книгу DA of nie? - Eusebius McKaiser - Страница 4

1. Liefie, gee tog net my liberalisme vir my aan

Оглавление

Wat is so skrikaanjaend omtrent ubuntu?

Steur die DA hom hoegenaamd aan wat die meeste Suid-Afrikaners dink?

Is die DA oop vir verandering?

Hierdie hoofstuk en die volgende een bekyk die ideo­logiese basis van die Demokratiese Alliansie. Ek praat dolgraag oor politieke ideologie, maar ek weet nie almal het erg daaraan nie. Ek verkeer ook onder geen wanopvatting dat die 2014-verkiesing deur debatte oor die politieke ideologie bepaal sal word nie. Dit sal nie gebeur nie, nie so dat jy dit sal agterkom nie, en nie op enige fundamentele manier nie. Om dié rede het ek die reaksies van twee lesers wat ’n vroeë konsepweergawe van my boek onder oë gehad het, in hierdie hoofstuk opgeneem.

“Jirre, maar die hoofstuk oor liberalisme is darem ’n bietjie parogiaal!” het ’n vriend gesê. Om eerlik te wees, ek het nooit eintlik verstaan wat parogiaal regtig beteken nie, maar omdat hy een van my skerpsinnigste vriende is, het ek moeite gedoen om agter die kap van die byl te kom.

Toegegee, al is dit ’n ongewone gebruik van die term, het dit redelik geklink nadat hy dit volledig verduidelik het. Ná ’n behoorlike verduideliking van wat hy bedoel, het sy opmerking redelik geklink. Hy was besorg dat net ’n handjievol moontlike kiesers en lesers ’n duit sal omgee vir ’n hoofstuk wat die ­ideologiese basis van die DA bespreek. Dis een van daardie spesialisdebatte wat mense afsit en nie hul besluit by die stembus bepaal nie.

Laat dié reaksie vir ’n oomblik daar.

Louise Grantham, dikwels my skermmaat wanneer die skryf­gier my pak, se reaksie was op die oog af anders. Sy het my met ’n sagter hand gehanteer as my pront prokureursvriend en voorgestel dat ons die meubels ’n bietjie rondskuif. Dalk moet ek met ’n “makliker” onderwerp soos SEB wegspring om die leser aan die hoek te kry, hom kwaad te maak en hom sover te kry om my aan te hits – haar bewoording, nie myne nie – voordat ek van hom verwag om deur ’n moeras van waarskynlik gekompliseerde ideologiese kwessies te beur. Ons wil immers by die kruks van die kwessies kom waaroor werklike kiesers hul koppe breek. Dus moet brood-en-botter sake en beleidskwessies sekerlik voorkeur kry.

Ek het gesê Louise se reaksie is “op die oog af” anders as dié van my prokureursvriend, want ek vermoed dat hulle eintlik dieselfde kwelling het: dat hierdie debat nie deurslaggewend vir die kiesers is nie. Hoekom sal ek dit dan die eerste hoofstuk van hierdie boek maak? Hoekom dit hoegenaamd insluit?

Ek verskil grondig van albei se menings. Ideologie móét saak maak vir jou as kieser. Soos die inhoudsopgawe hopelik toon, bevat hierdie boek vanselfsprekend relevante onderwerpe soos populêre beleidsdebatte, maar kiesers moenie net betrek word by dit waaroor hulle werklik omgee nie. Hulle moet ook betrek word by dit waaroor hulle behoort om te gee, selfs as hulle nog nie omgee oor alles wat hulle raak nie.

Laat my dus kortliks my saak vir ideologie uitmaak, waarom dit belangrik is en waarom dit die grondslag moet wees vir die “makliker” en meer “sexy” debatte wat later sal volg. Jy hoef natuurlik nie die boek kronologies van voor tot agter te lees nie. Die hoofstukke staan meestal op hul eie pote, behalwe hierdie een en hoofstuk twee, wat saam gelees moet word. Daar is nogtans ’n rede hoekom jy liewer eers hierdie hoofstukke moet lees, eerder as dat jy sommer dadelik na die res blaai.

Ideologie, baie basies gestel, verwys na daardie diepgesetelde beginsels onderliggend aan die bepaalde keuses wat ons in die openbaar maak. Wanneer ons besluit of die staat baie geld aan welsyn moet bestee of nie, en hoe daardie geld verdeel moet word, weerspieël ons keuses diepgesetelde oortuigings wat ons nie in soveel woorde uitdruk nie.

Wat jy in die openbaar sal hoor, is iemand wat oor die meriete van welsynshulp argumenteer, maar jy sal selde hoor dat hy sê, “Ek het in hierdie soort huis grootgeword, in hierdie soort gemeenskap, en is beïnvloed deur hierdie denkers wat volgens my lektor Eusebius die regte uitkyk op die politiek het … bla, bla, bla”. Maar in werklikheid is al die menings wat ons lug op ons ideologiese verbintenisse gebaseer, of dit nou oor SEB of welsyn is, of oor staatskorporasies of oor ons meer of minder belasting moet betaal.

Elke mens het ideologiese verbintenisse. Dit maak nie saak as jy nie die akademiese woorde ken waarmee jou siening beskryf word nie. Die feit is dat jy ’n ideologiese siening het en dat dit weerspieël word in die politieke debatte wat op hierdie hoofstuk volg.

Nou hier is wat so koel is. Jy sal vind dat ’n gawe beloning op jou wag as jy my prokureursvriend en Louise Grantham ignoreer en hierdie hoofstuk tot aan die einde lees. Jy sal agterkom dat as ons ’n bietjie meer tyd aan ideologiese debatte bestee, ons dalk vinniger met die bekender debatte sal vorder. Dis hoekom dit die moeite loon om die gehalte van die politieke diskoers in Suid-Afrika te verbeter wanneer dit spesifiek by politieke ideologie kom.

Neem hierdie bekende voorbeeld uit die media. Joernaliste ontken dikwels dat hul stories ideologies neig. Maar neem nou byvoorbeeld die loopbane van die politieke joernalis Karima Brown en die redakteur van Business Day, Peter Bruce. Vir selfs ’n eerstejaarstudent in die politieke wetenskap moet dit glashelder wees dat Brown diep verbind is tot die sosialisme en dat mens Bruce politiek gesproke ’n libertyn kan noem, dis nou iemand vir wie vryheid die hoogste waarde is.

Moet jou nie nou oor die etikette moeg maak nie. Die punt is dat dit werklik koel sal wees as ’n debat tussen Brown en Bruce oor sosialisme en vryheidsdenke jou oor die land se probleme laat dink. Al hul meningsverskille oor die mynbedryf, belasting, die sakesektor se verantwoordelikhede, wat ook al, alles spruit uit hul fundamenteel verskillende ideologiese posisies.

En, soos individue, het politieke organisasies ideologiese onderstutting. Ek dink dus dis nodig dat ons vra, “Wat ís die politieke ideologie waarop die DA gebou is?” Of nog akkurater, “Wat is die werklike ideologie wat op die oomblik in sy beleid weerspieël word?”

As ek ’n sosialis soos Brown is, byvoorbeeld, sal ek dalk nooit vir die DA wil stem nie as dit sou blyk dat die party sosialisme verpes en gebou is op ’n ideologie wat sosialisme verwerp. As ek ’n regse politieke libertyn is wat in ’n klein staat glo, kan dit soos musiek in my ore klink as dit sou blyk dat dit is waarop die DA se beleid gebou is. Met ander woorde, ek sal dan weet dat ek ’n politieke tuiste gevind het wat verbind is tot ’n politieke program wat my ideologiese uitkyk weerspieël.

Dit is hoekom ideologie vir my saak maak en hoekom ons die DA se ideologiese basis moet ondersoek voordat ons die bekender debatte pak. Dis regtig te maklik om net koerantopskrifte as hoofstukname te gebruik.

Laat ons eers oor ideologie praat.

Die vonke het vroeg in 2013 in die openbaar gespat tussen die DA se federale ondervoorsitter, Mmusi Maimane, en ’n gewese DA-personeellid, Gareth van Onselen. Hierdie klein en oënskynlik onbenullige botsing, wat verbasend min aandag in die openbaar én binne die DA gekry het, was fassinerend en na my mening ’n goeie voorbeeld van die identiteitstryd wat binne die DA woed. Hier is die storie:

In Februarie 2013 het president Jacob Zuma nekhare orent laat staan toe hy by sakelui aangedring het om die ANC se geldkoffers aan te vul. Vrygewige maatskappye sal die vrugte pluk, het hy beloof. Dit was ’n onverantwoordelike verklaring wat die indruk geskep het dat die party, en moontlik die staat, besighede wat geld aan die ANC skenk, sal beloon.

Dis nie asof daar iets ooglopend verkeerd is daarmee as die ANC as politieke party maatskappye wat sy politieke programme steun, begunstig nie. In Suid-Afrika is die onderskeid tussen party en staat egter nog nie behoorlik verskans nie, met die gevolg dat daar baie begunstigingsnetwerke en korrupsie op die onderskeie regeringsvlakke is. Teen dié agtergrond is dit redelik om Zuma se boodskap te vertolk as ’n belofte dat selfs staatstenders gebruik kan word om maatskappye wat lojaal aan die regerende party is, te beloon. En as dit nie die boodskap was wat Zuma wou oordra nie, het hy hom weer eens ongelooflik swak uitgedruk, maar dis moeilik om te glo dat sulke reguit taal onbedoeld was.

Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, het die gaping benut. Sy het geredeneer dat Zuma se aanmerkings “die beginsel van goeie staatsbestuur, waarop ons konstitusionele demokrasie fundamenteel staatmaak, ernstig aangetas het”.1

Toe het sy retoriese stoom opgebou. “Dis ’n verdere bewys van hoe president Zuma die rol van die staat en die party fundamenteel verwar, en hoe die regering voortgaan om staatsgeld wat aan die armes bestee moet word, misbruik. Die R250 miljoen wat aan die opgradering van president Zuma se Nkandla-woning bestee word, is tot op hede die opvallendste voorbeeld.” Sy het Zuma gevra om sy verklaring terug te trek.

Nie verbasend nie, het Zuma nie ’n oog geknip nie, maar die ANC het dit aan die kleurrykste van al sy spindokters, Jackson Mthembu, oorgelaat om Mazibuko te hanteer.

(Ek het Mac Maharaj, die presidensiële woordvoerder, probeer kry om die president se verklaring op 567 Cape Talk en Talk Radio 702 te verduidelik, waar ek destyds die aanbieder van ’n geselsprogram was, maar hy het die aanbod om ’n tegniese rede van die hand gewys. Hy praat net namens Zuma-die-president-van-Suid-Afrika, nie namens Zuma-die-president-van-die-ANC nie, het hy gesê. Ek sou ook in sy plek mettertyd moeg word om weekliks tolk te speel.)

Intussen het Mthembu sy geliefkoosde gesangeboek nadergetrek: Die Spindokter se Versameling Persoonlike Aanvalle. Mazibuko ken eenvoudig nie Afrika-gebruike nie, is sy storie. Sy is nie regtig swart nie, want sy drink nie die struggle-geur Kool-Aid waarmee die ANC die swart meerderheid tot die wederkoms aan die lewe gaan hou nie.

Dis ook hoekom die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, vir Mazibuko getreiter het omdat sy kastig nie in ’n township grootgeword het nie, en dis ook hoekom soveel ANC-politici en -ondersteuners so dikwels na haar as ’n coconut verwys (buite swart, maar binne wit). Selfs Julius Malema, toe nog in die ANC, het kinderlik ingenome met sy slimmigheid na haar verwys as “Miesies Zille se bediende”.

Mthembu het dus maar net op die ou deuntjie voortgesing deur persoonlike aanvalle te kies as ’n maklike populistiese alternatief vir ’n krities-ontledende reaksie op die inhoud van opposisiekritiek. Hoekom sal jy nou geldige kommer oor die verband tussen politiek en geld probeer aanspreek as jy eerder die persoon wat die punt maak, kan aanval?

Wat daarna gebeur het, was egter so onvoorspelbaar soos ’n vreemde kinkel in ’n Generations-storielyn. ’n Swart ridder in blink blou DA-wapenrusting met die naam Mmusi Maimane het gereken hy moet tot die arme jong vrou in nood se redding kom. Hy het vir geen oomblik vermoed dat die grootste uitdaging wat op hom wag nie die ANC se Mthembu was wat “Coconut!” skree nie, maar ’n voormalige DA-kameraad, ’n man uit sy eie ideologiese kamp, wat reg gestaan het om op hóm, Maimane, te skree, “Valse liberaal! VALSE LIBERAAL!” In die politieke arena is dit moeilik om tussen vriend en vyand te onderskei …

Maimane het toe ’n artikel geskryf wat in die Sunday Times gepubliseer is. Sy hoofargument was dat die ANC nie alleenreg het op wat dit beteken om ’n Afrikaan te wees nie. Om waarlik Afrikaan te wees, vereis volgens hom ’n verbintenis tot ubuntu. Hy het geargumenteer, “Afrikaan-wees word gedefinieer deur ’n mens se verbintenis tot die kwessies en lewe van die Afrika-mense. En niks kan daardie Afrikaan-wees beter meet as ’n mens se verbintenis tot die gees van ubuntu nie.”2

Hy het dit nie gesê nie, maar die implikasie was dat die ANC ubuntu ondermyn, en dat Maimane, as ’n swart lid van ’n party wat deur baie as die voorhoede van liberalisme beskou word, nie hoef te kies tussen liberalisme en Afrikaan-wees of tussen ­liberalisme en ubuntu nie: swart liberale kan outentieke Afrikane wees en tegelykertyd ubuntu voorstaan.

Of so het Maimane gedink voordat die gramskap van ene Gareth van Onselen oor hom losgebars het.

In ’n artikel wat gif gedruip het, het Van Onselen Maimane daarvan beskuldig dat hy dieselfde sonde as die ANC pleeg: hy skryf aan ander voor wat dit beteken om waarlik ’n Afrikaan te wees. As Jackson Mthembu nie vir Lindiwe Mazibuko mag voorskryf hoe om Afrikaan-wees vir haar te definieer nie, wie die duiwel is Mmusi Maimane dan om vir haar te sê sy moet ubuntu omhels as sy ’n ware Afrikaan wil wees?!

Dit, in ’n neutedop, was Van Onselen se grief. Op die koop toe het hy gesê daar is nie iets soos ubuntu nie, en al sou dit bestaan het, sou dit ’n vreemde waarde gewees het waarteen ware liberale hulself en hul party moes beskerm. Ten slotte het hy geïmpliseer dat ubuntu stompsinnig is en dat die party se identiteit in die spel is in hierdie debat met Maimane.

Natuurlik was Van Onselen se werklike artikel in sagter taal geskryf. Dis immers emosioneel veilig om tegniese terminologie te gebruik om die indruk van onbewoë betrokkenheid te skep. Maar politiek is diep persoonlik. Eintlik is Van Onselen, soos baie ouer wit liberale, ’n tragikomiese mengsel van gatvolheid en vrese oor veranderings wat op die DA wag. Sy tirade teen Maimane is belangrik omdat dit een van die min kere was dat die private sentimente van baie van die ou DA-hande in die openbaar gelug is: die wroeging oor waarheen “hul” geliefde party op pad is met astrante opkomelinge soos Maimane wat van nêrens af in die party ingevoer word.

Moet jou dus nie laat fop deur die tradisionele liberaal se emosielose taal nie. Dis ’n ernstige stryd wat hier aan die gang is. Vele glase wyn word afgesluk terwyl reaksie op reaksie uitgetik word in die debat oor waardes soos ubuntu, wat nou hand aan hand met liberalisme moet loop.

Ten diepste is die identiteit van hul party – hul party – in die weegskaal …

Van Onselen is so ’n bietjie soos ’n vieserige wit ouer van ’n Model C-skool in die vroeë 1990’s, “bekommerd” oor die instroming van kinders uit “ander agtergronde”, nie omdat hulle onwelkom is nie – natuurlik is hulle welkom, net wit Afrikaanse mense op ’n ossewa is regse fanatici, nie waar nie? – maar omdat “die waardes” van die skool dalk kan verander. Dit kan ons tog nie toelaat nie? En nou, mag die hemele ons behoed, loop die skool die gevaar om ’n swart hoofseun te kry wat dink die gemeenskap is belangriker as die individu!

Daardie soort institusionele angstigheid wat sommige wit ouers van Model C-skole in die vroeë 1990’s ervaar het, is baie soos die angstigheid wat sommige jarelange DA-lede deesdae ervaar. Dis nie verbasend nie. Verandering kan nogal ontstellend wees. Dis hoekom veranderingsbestuur as bedryf wêreldwyd miljarde dollar verdien. Verandering binne ’n politieke party is nie minder uitdagend as verandering binne ’n komplekse sakeonderneming nie. Binne die DA veroorsaak verandering konsternasie onder diegene wat meen hulle besit die institusionele geheue en politieke identiteit van die party.

Dis hoekom Van Onselen se skoolseunagtige geesdrif vir ­ellelange bloginskrywings wat verandering in die DA betreur, so belangrik is, al mergel dit jou uit om hulle te lees.

Dis simptomaties van wat gesien word as identiteitsverlies, magsverlies, die verlies van ’n politieke tuiste.

En so, toe Maimane die ANC pak deur in die openbaar te verklaar dat Mthembu die kat aan die stert beet het, dat swart Suid-Afrikaners tot ubuntu en tot ’n diep gemeenskapsin verbind én terselfdertyd lede van die DA kan wees, het Van Onselen sy geesdrif verloor. Hoekom? Omdat wat hy van DA-leier Mmusi Maimane gehoor het nie ’n vernuftige reaksie was wat toon dat Maimane daarvan bewus is dat die meeste van die land se kiesers nie liberaal is nie. Wat hy gehoor het, was ’n bedreiging vir ’n vergange era van ’n DA wat nie kiesers gehad het wat waarde aan “ubuntu” geheg het nie.

Dit bring twee vrae na vore: Is Van Onselen reg om ubuntu so te minag? En, baie belangriker – want erken dit nou maar, ek en jy sal nie besluit vir wie ons gaan stem op grond van wat Van Onselen dink nie – kan die DA bekostig om die waardes van die meerderheid in hierdie land te ignoreer as hy wil hê mense wat nie voorheen vir hom gestem het nie, moet dit nou doen? Kom ons kyk om die beurt na dié twee vrae.

Is dit reg dat van Onselen ubuntu minag?

Van Onselen is in twee opsigte reg.

Maimane was inderdaad skuldig daaraan dat hy ubuntu die essensie van Afrikaan-wees gemaak het. In ’n radio-onderhoud het ek dit basies aan hom gestel dat al verwerp ek ubuntu, ek tog sekerlik nog as ’n lid beskou kan word van die groep wat Afrikane genoem word. Hy kon nie regtig ’n goeie antwoord gee nie.

Hy het toe vinnig ontken dat hy nie vir diversiteit tussen swart mense ruimte maak nie. Hy het ontken dat hy maatstawwe ­afdwing vir wat dit beteken om Afrikaan te wees. En tog, toe ek hom daarop wys dat dit beteken hy weerspreek ’n sleutelbewering in sy Sunday Times-artikel dat ’n verbintenis tot ubuntu die mees fundamentele uitdrukking van Afrikaan-wees is, het hy ontken dat hy homself weerspreek. Om hom met sy geheueverlies te help, het ek hom direk aangehaal – “Niks kan Afrikaan-wees beter meet as ’n mens se verbintenis tot die gees van ubuntu nie” – maar die meeste politici kan maklik eenvoudige woorde nuwe betekenis gee, eerder as om toe te gee dat hulle tweegatjakkalse is.

Maimane wil die botter dik aan weerskante van sy ubuntu-­brood gesmeer hê: hy wil die populêre mening onderskryf dat ubuntu ’n wonderlike Afrika-waarde is waartoe ons as Afrikane ons almal moet verbind, maar terselfdertyd wil hy die tipiese liberaal wees wat waarde heg aan individue se vryheid om hulself te definieer.

Maar as ek daardie algehele vryheid het, waarom word daar dan vir my gesê ek is nie vry om ubuntu as deel van my Afrika-identiteit te verwerp nie? Hier is Van Onselen dus reg: wanneer Maimane ubuntu voorskryf as ’n waarde waarvolgens jy leef, gedra hy hom baie soos ’n ANC-politikus wat dink dat ware swart mense nie met hul honde gaan stap nie, nie met sekere aksente praat nie en nie in die “Blanke” voorstede grootword nie.

In werklikheid het Maimane Mthembu maar net nageaap, al het hy gedink dat hy die ANC-woordvoerder kritiseer.

Tweedens is Van Onselen ook reg met sy klap na ubuntu as konsep, ofskoon sy kritiek nie behoorlik deurdink is nie. Hy verklaar byvoorbeeld eenvoudig, “ideologies en wat liberalisme betref, is daar nie iets soos ubuntu nie.” Dis die ergste intellektuele luiheid wat jy jou kan voorstel, en dit van iemand wat dikwels kinderlike genot daaruit put om selfs op ’n ontbrekende komma te wys in die teks van iemand met wie hy menings wissel.

Eerstens kan jy nie eenvoudig beweer dat dit uit die definisie van een etiese teorie voortvloei dat ’n ander een nie bestaan nie. Dis misleidend. Om dit te doen, is om eenvoudig vol te hou dat ubuntu nie sin maak sonder die een of ander onderliggende argument nie. Dit wys net met watter minagting sommige mense konsepte met wortels in inheemse kennisstelsels beskou. Jy kan net ’n volledige teenargument teen ’n konsep opbou as jy daardie konsep ten minste in sekere mate ernstig opneem. Die subteks is duidelik: “Ubuntu, my broer? Jy is tog nie ernstig nie! Ek sal liewer sit en glas kou as om ’n dag lank oor daai twak te dink!”

Van Onselen se houding beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat die DA ’n manier vind om te voorkom dat diegene wie se waardes nie in die DA se stigtingsdokumente is nie, afgestoot word deur die arrogansie van ’n kulturele minderheid.

Tweedens suggereer Van Onselen dat ubuntu nie bestaan nie, omdat daar beswaarlik praktiese bewys daarvan is. Dis onsin. Dis soos om te sê daar is nie iets soos die Christendom nie omdat Christene soms slegte dinge doen.

Of dit samehangend, bruikbaar of toereikend is as basis waarop ’n gemeenskap gebou kan word, is ’n ander saak. Maar om te sê ubuntu bestaan nie, is óf hokus-pokus oor die aard van teorie óf dis om op ’n bra bisarre manier metafisiese verwagtinge van ubuntu te koester wat jy nie van die liberalisme koester nie.

Dis tog nie asof jy, wanneer jy uit die huis gaan, vir jou vrou sê, “Liefie, gee tog vir my my liberalisme aan” nie. Die feit dat Van Onselen wil hê ubuntu moet “bestaan” (wat dit ook al beteken), spreek van die desperate begeerte van die ou liberale in die DA om oënskynlik vreemde konsepte uit landelike gebiede wat hul geliefde Demokratiese Party van die ou dae binnedring, op ’n afstand te hou.

* * *

Tog deel ek Van Onselen se skeptisisme oor ubuntu, maar hierdie boek is nie ’n filosofiese uiteensetting van ubuntu nie, dus sal ek nie op nadere besonderhede ingaan nie, behalwe om te sê dat my filosofie-kollegas al ’n paar jaar lank hul goed van die taak kwyt om in die tradisie van die analitiese filosofie ernstig na ubuntu te kyk. Twee van hulle moet veral genoem word: Thaddeus Metz, nou die hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van Johannesburg, en Jason van Niekerk, wie se doktorale proefskrif oor ubuntu in die hande van sy promotors was terwyl ek hierdie boek geskryf het.

Ek dink nie daar is enigiets uniek aan die substantiewe definisies van ubuntu – etiese teorieë, eintlik – wat hierdie filosowe ontwikkel nie, maar wat ek gemeen het met Jason en Thadd is dat ek ’n gesprek oor ubuntu baie ernstig opneem. Dis omdat my mede-Suid-Afrikaners ubuntu ernstig opneem en om dit in die tradisie van die Engelse elite sonder meer te verwerp, sal wees om die wêreldbeskouing van diegene wat anders as ek na die heelal kyk, arrogant te verwerp.

Om dié rede beskou ek my kollegas se filosofieprojek ernstig en ek dink Jason verdien waarskynlik die titel “doktor” vir die vlak van sy denke en die analitiese nougesetheid waarmee hy met sy groot vraag omgegaan het: kan ubuntu, in die veeleisende analitiese tradisie van Anglo-Amerikaanse filosofie, as ’n samehangende, selfstandige en betekenisvolle etiese teorie beskou word?

Die feit dat hulle uiteindelik nie by ’n antwoord uitkom nie, is nie filosofies bepalend nie. Hierdie soort kritiese stellings oor teorieë word voortdurend binne die filosofie as ’n tradisie gemaak.

Daar is nogtans ’n haakplek wat my en Van Onselen betref. Ek is seker dit het al met jou gebeur dat jy en iemand anders dieselfde mening oor iets het, maar dat jy in jou niere voel dat die grondslag vir jul menings verskil. Of dat die mening uiteenlopende rolle in jul onderskeie lewens sal speel en dat jy jouself wil distansieer van wat julle gaan doen met die mening wat julle albei huldig.

Dink byvoorbeeld aan ’n ma wat weier dat haar dogter skrapse klere dra wat mans dalk baie opgewonde sal maak oor haar kosbare jong dogter. Baie erg konserwatiewe mans – en vroue – mag dalk saamstem en die ma aanspoor om Johanna te verbied om daardie kort rompie te dra. Maar hul motiewe kan baie verskil. Dis moontlik dat die ma eintlik net die kanse tot die minimum wil beperk dat seksistiese varke haar dogter by die Breëstraat-taxistaanplek aanrand.

En ofskoon ek gewoonlik nie een van dié is wat argumenteer dat mans moet bepaal wat vroue dra nie, kan die feit dat dit haar basiese moederinstink is wat wil voorkom dat sy ’n oproep van die hospitaal oor haar dogter kry, my dalk sover kry om haar aandrang op “veiliger klere” vir Johanna te steun. Maar die buurman wat ook die ma se standpunt steun, kan dalk glo dis heeltemal immoreel vir meisies om ’n bietjie been te wys, dat vroue nooit dele van hul liggaam in die openbaar moet wys nie en dat vroue nie mans moet uitdaag om hulle aan te rand nie.

Dis alles hipoteties, maar die punt is dat dit baie moontlik is dat twee mense dieselfde mening het, maar dat hul redes en motiverings vir daardie mening baie kan verskil. Dis wat belangrik is in die konteks van hierdie hoofstuk. Wat is die motief agter sommige mense in die DA se oënskynlik ouvrouagtige kritiek op ubuntu?

Motiewe en redes vir standpunte en wie daardie standpunte huldig, is ongemaklike sosiale realiteite wat baie verhelderend kan wees, hoe moeilik dit ook al kan wees om ’n behoorlike greep op die motief te kry, sonder om, wel, ’n sielkundige te wees.

Kom, laat ons dit waag …

Toe ek Van Onselen se reaksie op Maimane lees, en aanvoel hoe desperaat hy is om sy DA van nie-DA-waardes te red, het ek gevrees iets anders is aan die gang. Natuurlik is ek geen Freud nie, selfs nie eens ’n dr. Phil nie, en ek gee toe ek is nou op die terrein van bespiegeling. Om dié rede het ek met die gedagte van selfsensuur gespeel toe ek by hierdie deel van my reaksie op die woordewisseling tussen Maimane en Van Onselen kom, maar die waarheid is dat die politiek nie ’n oefening in rasionele keuseteorie is nie. Dis dikwels emosie, selfs vir meningspeilers teen die tyd dat hulle self in die stemlokaal is. Die nuttigste sal dus wees om te vertel hoe ek as kieser gereageer het, as burger van die land, en nie as ’n “politieke ontleder” nie. Die rede is dat die DA as ’n politieke party ’n gevoel moet ontwikkel van hoe die kiesers op ’n daaglikse basis oor die party voel en daarop moet reageer.

Ek het Van Onselen se oordadige reaksie, die lengte van ’n proefskrif, op ’n eenvoudige, goedbedoelde klein artikeltjie van Maimane as ’n uiting van vrees gesien: die vrees van ’n wit liberaal met ’n geskiedenis in die DA wat voel die liberale sal iets wat hulle besit, verloor as hulle nie daarvoor baklei nie. Mense met mag is bang om dit te verloor. Dit is die arrogante, onkritiese begeerte om die norme en identiteite te bly voorskryf van instellings wat nooit buitestanders in hul midde gehad het nie. Dit is, om die waarheid te sê, ’n geval van, “Hoe durf jy, Mmusi! Het jy nie genoeg rede om dankbaar te wees dat ons jou selfs in die eerste plek binnegelaat het en jou sulke mooi titels gegee het nie? Is dit nie genoeg nie, boetman?”

En dis hoekom dit my so pla dat my intellektuele skeptisisme oor ubuntu ooreenstem met wat sommige liberale in die DA sê. Maar ek dink die naakte waarheid is dat baie van hierdie liberale gemotiveer word deur ’n gevoel van magteloosheid wanneer hulle gekonfronteer word met nuwe waardes wat met hul ou gevestigde waardes meeding.

Terug by my vroeëre argument laat dit alles my wonder, “Pla dit die DA hoegenaamd of ek so voel?”

Waar laat dit die kieser? Kan die DA bekostig om die meerderheid se waardes te ignoreer?

Om vir die DA te stem, wat nog selfs net daaraan te dink om die DA my politieke tuiste te maak (wat ’n sterker verbintenis is), sal ek die identiteit van die DA aantreklik moet vind. Dis hoekom ek reg aan die begin van hierdie boek politieke identiteit bespreek. Ek dink nie ek is uniek wat dit betref nie. Dis duidelik dat die DA dolgraag ’n toekoms wil hê waar identiteit en geheue bloedmin of glad nie in die kiesers se politieke keuses by die stembus tel nie, maar ons leef nie in daardie soort wêreld nie. Die DA het aanvaar dat hy met die psigologie van kiesers wat werklik bestaan, moet werk. Hy kan nie met die psigologie van toekomstige kiesers werk nie.

Dis hoekom die DA in April 2013 met sy “Ken jou DA”-veldtog begin het. Dis daarop gemik om die ANC se houvas op die struggle-geskiedenis uit te daag deur die stories te vertel van DA-helde wat gehelp het om die land van apartheid te bevry. Dié strategie is ’n erkenning dat identiteit en geheue saak maak vir kiesers.

Maar identiteit het nie net met geskiedenis te doen nie. Identiteit het ook te doen met die blywende stel morele waardes en beginsels wat my daaglikse lewenskeuses rig. Dit het te doen met die kernwaardes van my karakter. En ek wil hê dat ’n politieke party ten minste breedweg versoenbaar moet wees met my fundamentele waardes en algemene politieke beskouing.

Politiek in Suid-Afrika het nie net met brood-en-botter sake te doen nie. Dit behoort dalk so te wees, maar dis nie hoe dit is nie. Dis emosies wat jou lighoofdig kan maak, dis diep persoonlik. Politieke partye moet kiesers se verbeelding aangryp en nie net politieke data na hulle gooi nie. Dis hoekom dit nooit genoeg vir die DA sal wees ou geouditeerde data van onderpresterende ANC-staatsamptenare onder die kiesers se neuse te druk nie. Die DA as politieke masjien moet ook self ’n psigologies aantreklike entiteit wees waarmee die kiesers sal wil vereenselwig. Dis ’n baie swaar las vir ’n party wat hartstogtelik wens al wat hy nodig het om met gemeenskappe te kommunikeer, is om PowerPoint-prentjies te vertoon. Maar die realiteit van politiek in ’n land met ons geskiedenis is anders: die politiek is die lewe.

Dit is dus die kernvraag oor politieke identiteit: die DA moet besluit of hy die besluitlose kieser, die nuwe kieser, die kieser wat nog jakkalsdraaie gooi oor waar hy staan, wil deel deel maak van die dialoog oor die politieke identiteit van die DA. Of wil hy toelaat dat ’n paar lede van die ou liberale bende voortgaan om die identiteit van die party voor te skryf?

Soos die politieke ontleder Aubrey Matshiqi dit gestel het, ’n mens kan deel van die massa en terselfdertyd deel van die kulturele minderheid wees. Die DA dink dat die beeld van meer swart Afrikane by saamtrekke – en selfs in sommige leierstrukture – transformasie impliseer, maar dis nie so nie. Demografiese ver­skuiwings is nodig, maar dis nie genoeg nie. Die institusionele identiteit moet ook verander en inklusiewer raak.

Terloops, dis ook hoekom dit sinloos sal wees vir ’n DA-ondersteuner om nou te skree, “Maar Eusebius, ek ken soooo baie mense in Alex wat swart is, soos byvoorbeeld my tuinier, en nogtans ’n lid van die DA is!” Nes baie swart kinders nie Model C-skole se reünies bywoon nie, al is swart kinders nou die meerderheid in dié skole, beteken groot getalle swart Afrikane in instellings – en politieke partye – nie daar is institusionele en organisatoriese veranderings nie. (Swart kinders sal voel hulle is waarlik oudleerlinge wat reünie wil hou as hulle voel hulle was mede-eienaars van hierdie skole; kosmetiese getalleveranderings is nie genoeg nie, net ingeval jy wou vra.)

Verandering is meer fundamenteel as getalle, en daarmee sal die hoofstukke hierna worstel.

Nogtans, soos die Van Onselen-Maimane-relletjie gewys het, is daar geen verwysing na die kieser terwyl die DA ’n ­party-identiteit soek wat gepas is vir die jaar 2014 en die party in staat sal stel om 30% van die stemme in die volgende ­algemene verkiesing te wen nie.

Is die DA nog steeds maar net ’n outydse liberale party? Indien wel, hoe kan die DA die miljoene onliberale sosiaal konserwatiewe kiesers lok? As die DA ekonomies liberaal is, watter aanmoediging bied hy die kieser wat ten diepste verbind is tot die intervensionistiese staat om by die DA aan te sluit?

Van die gesprek oor ’n filosofiese basis tot by die gesprek oor die spesifieke beleid wat op daardie basis gebou is, is die debat oor die identiteit van die DA nie ’n baie openlike en aanloklike een nie. In die DA gaan dit nie soseer om die hofmakery van potensiële kiesers nie as om daardie potensiële kiesers te vertel presies waarin die party reeds glo nie. Dis dus nie baie duidelik hoeveel vloeibaarheid daar binne die DA is om die party se politieke identiteit uit te daag en selfs te verander nie. Sou die party byvoorbeeld selfs bereid wees om met potensiële nuwe kiesers en lede wat gereed is om die ANC te verlaat, te debatteer of die DA hoegenaamd ’n liberale party moet bly?

Die debat behoort natuurlik die vraag in te sluit, soos een vriend uitgewys het, of die DA liberaal genoeg is. Ek neem aan hy bedoel daarmee dat daar verskillende sienings van liberalisme is, en die party behoort ook daaroor te praat. Ek beskou myself byvoorbeeld as ’n egalitariese liberaal. Dit is ’n soort liberalisme wat my toelaat om verbind te wees tot die regte van individue en minderhede – vryheid vorm immers die grondslag van liberalisme – terwyl ek terselfdertyd verbind is tot sosiale uitkomste soos substantiewe gelykheid en sosiale geregtigheid. Dis hoekom ek moerig raak wanneer mense soos die SAKP-leier Blade Nzimande, wat as goed onderlegde politikus beter behoort te weet, voorgee dat geen vorm van liberalisme verbind is tot geregtigheid en substantiewe gelykheid nie.

Kortom: as so baie ouer mense territoriaal oor die DA is en dink dat die DA aan hulle behoort net omdat swart mense histories nooit in groot getalle aan liberale partye behoort het nie, hoe op aarde gaan hulle Eusebius gemaklik laat voel – ek herhaal, gemaklik laat voel – om naby die partystrukture te gaan?

Vir my lyk dit of die DA dalk nie oop is om sy gevestigde liberale grondbeginsels te debatteer nie.

’n Ontnugterde DA-kieser, of ’n nuwe kieser wat geen liberale instinkte het nie, mag dus dalk nog nie gemaklik voel om by die DA aan te sluit of vir die party te stem nie – tensy die DA natuurlik ’n inklusiewer politieke identiteit ontwikkel. Is dit moontlik? Kan ubuntu, of die een of ander vorm van kommunalisme, sy aan sy met die liberalisme leef? Ek dink so en ek sal wys hoe dit moontlik is.

Maar moenie opgewonde raak as jy ’n kieser is wat graag by ’n DA wil aansluit wat jou verbintenis tot ubuntu sal respekteer nie. Ek is nie oortuig dat die party besef hoe belangrik ’n inklusiewer politieke identiteit is nie. Dit mag dalk vir nog baie jare liberalisme op die ou trant wees.

Maimane het nie die agtergrond en vernuf gehad om Van Onselen se taalkundige aanval af te weer nie. Hy het verkeerd gereageer en daarom is daar tereg die spot met hom gedryf.

Dit behoort vir geen Suid-Afrikaner nodig te wees om te kies tussen haar vryheid van keuse oor die lewensvorms waarmee sy wil eksperimenteer en wat sy sal behou, aan die een kant, en ’n verbintenis tot familie en gemeenskap of samelewing aan die ander kant nie.

Wat is die implikasie van al hierdie goed vir die DA? Dis eenvoudig. Praat ’n inklusiewe taal wanneer dit by ideologie en waardes kom en wees eerlik. En nie net omdat dit taktiese en praktiese sin maak nie – ja, julle wil hê die massas moet vir julle stem al bedank drie ontevrede bittereinders van Krugersdorp uit die party – maar veral omdat dit liberale sin maak om inklusiewer te wees. Dis onsin, soos ek in die volgende hoofstuk sal wys, om te kenne te gee dat die party sy siel verkoop deur waardes soos ubuntu te akkommodeer, of as julle nie vir die u-woord kans sien nie, om … uuuh … die taal van ubuntu te akkommodeer.

Kortom, die les is eenvoudig. Liberalisme vereis van jou dat jy waardes soos ubuntu aanvaar. As jy dit nie doen nie, is dit óf omdat jy in werklikheid onliberaal is, óf omdat jy ’n liberaal is wat bang is om mag te verloor.

Die liberale weg sal wees om Maimane gemaklik te laat voel oor sy ubuntu-praatjies.


1 http://www.politicsweb.co.za/politicsweb/view/politicsweb/en/page71654?oid=350312&sn=Detail

2 “Being An African Extends Beyond Race”, Sunday Times (20 Januarie 2013).

DA of nie?

Подняться наверх