Читать книгу Vertrou nie op prinse - Evelyn Wessels - Страница 4

1911

Оглавление

Die vrou luister aandagtig of sy nie iets deur die oop deur na die aangrensende slaapkamer kan hoor nie. Na ’n oomblik ontspan sy, want al wat sy hoor, is die rustige asemhaling van die man wat in die kamer langsaan slaap. Gelukkig is dit ’n helder maanlignag, sodat sy haar weg in die kamer vind sonder om ’n lamp op te steek. Sy neem die silwerraampie met die foto’s van die twee seuntjies en plaas dit in die gepakte oop reissak langs haar bed. Dan maak sy die sak saggies toe. Sy gooi ’n lang donkerblou fluweelmantel oor haar skouers sodat sy nie maklik sigbaar in die nag sal wees nie. ’n Oomblik kyk sy in die maanlig na haarself in die groot spieël. Sy is ses en twintig jaar oud – in die fleur van haar skoonheid, het haar pa gisteraand gesê. Haar donker hare is bo-op haar kop in ’n los bolla vasgemaak.

Sy maak die kamerdeur oop, gaan in die gang uit en maak die deur stil agter haar toe. Geruisloos beweeg sy die gang af. ’n Paar deure verder maak sy die deur van die kinderkamer oop. Weer staan sy doodstil en luister vir die kindermeisie se asemhaling. Sy glimlag toe sy haar liggies hoor snork.

Versigtig tree sy die vertrek binne. Dit is die speelkamer tussen die kindermeisie se slaapkamer en die slaapkamer van die seuntjies. Sy sluip saggies in die seuntjies se kamer in. Eers gaan staan sy by die ouer enetjie se bed. Hy het donker krulhare soos sy. Sy lang, donker wimpers lê sag oor sy rosige vel. Sy mondjie is effens oop. Sy staan doodstil en drink sy beeld in; dit moet haar dalk ’n leeftyd hou. Sy laat haar hand ’n oomblik liggies op sy voorkop rus. Dan draai sy na die kleintjie se bed. Sy sien dat sy oë oop is, dat hy haar stilweg in die maanlig dophou. Sy gaan sit by hom op die bed, maar hou haar vinger voor haar lippe om vir hom te beduie dat hy stil moet wees. Sy streel oor sy blonde krulhaartjies, effens klam van die sweet. “Mamma het net kom kyk of julle lekker slaap,” fluister sy. Hy gee haar sy soet glimlaggie en maak sy oë weer toe. Sy soen hom saggies op sy een wang, dan op die ander wang en eindelik op sy voorkoppie. Sy sit ’n rukkie so met haar kop teen sy koppie. Toe sy opkyk, is haar oë verblind deur trane. Sy staan op en plaas haar regterhand beskermend teen haar buik; dit is die kind wat sy dra wat die nag se gebeure noodsaak.

In die speelkamer neem sy weer haar reissak en stap terug na die gang. Sy maak die deur saggies agter haar toe en beweeg stil verder die gang af, met die groot trap na onder, en dan met verdere gange na die ou deel van die huis. In die voorkamer trek sy ’n enkel geskrewe, toegevoude bladsy uit haar mou en plaas dit in die silwerkom by die voordeur. Dan trek sy die grendels oop en gaan na buite. Sy maak die deur agter haar toe. Hulle sal wel in die oggend agterkom die deur is nie meer gegrendel nie.

Vinnig beweeg sy oor die groot grasperke van die tuin na die laning eikebome wat die plaaspad aandui, tussen die eikebome deur tot waar die laning by die openbare pad aansluit. Die donker rytuig wag reeds op haar. ’n Man klim uit die rytuig. Hy stap na haar en sodra sy by hom kom, omhels hy haar stil. Daarna laai hy die reissak op die bagasierak, help haar in die rytuig in en knik vir die drywer. Die perde begin aanstap en hulle beweeg weg van die plaashek af.

Vertrou nie op prinse

Подняться наверх