Читать книгу Vertrou nie op prinse - Evelyn Wessels - Страница 5

2005 1

Оглавление

Toe sy op die treetjies van die examination schools uitstap, Kyk Louise ’n oomblik op na die tipiese somber, reënerige Engelse lug. Dan breek die somerson deur en baai die ou steengeboue van Oxford se High Street in goud. Sy glimlag ingenome. Die eksamen is afgehandel, haar kursus voltooi en die wêreld daar buite hou veel belofte in. Sy voel gereed vir watter uitdaging ook al.

Die stroom van jubelende studente sleur haar saam na buite en sy word as ’t ware ingedra in die digte skare wat mekaar in die straat verdring. Namate die studente by die groot deure van die ou gebou uitpeul, vermeng ’n stroom van swart-en-wit akademiese drag met die bonte mengelmoes wat buite vir hulle wag. Louise voel hoe haar skraal lyf so deur die spul verdring word dat sy skaars kan asemhaal terwyl sy glimlaggend na haar eie groepie vriende tussen die skare soek. Oral skiet sjampanjeproppe en borrel die skuim in wit pluime uit die bottels terwyl studente mekaar juigend gelukwens.

Uiteindelik gewaar Louise die lang, skraal figuur van haar tutor, James Hilton. Op die rand van die skare troon hy kop en skouers bo die meeste studente uit. Langs hom sien sy die blonde kop van haar vriendin, Audrey, opgewonde op- en afbeweeg soos dié haar aandag probeer trek, terwyl ’n derde vriend, die Duitse Heinrich, dromerig oor die samedromming van studente tuur. Hy het sy viooltas by hom – seker pas les gehad. Sy kan net die wuiwende handjie van haar kort, Indiese vriendinnetjie, Anjeli, langs die ander drie eien.

Sy voel baie geëerd dat haar tutor hom by die studente kom voeg het om die geleentheid saam met haar te vier. Hul verhouding het gedurende die jaar in ’n goeie vriendskap ontwikkel. James is ’n persoon wat sy ten volle vertrou. Die feit dat hy ’n oud-Suid-Afrikaner is, het seker heelwat met hierdie spontane vriendskap te doen gehad, ook dat hy nie veel ouer as sy is nie. Maar meestal was dit bloot dat hulle uitstekend aanklank by mekaar gevind het, dieselfde sin vir humor het en dat James net so ’n wonderlike gawe ou is, dink Louise, terwyl sy haar pad na sy lang, lenige figuur oopveg. Sy kon baie maklik op hom verlief geraak het, as hy nie so gou laat blyk het dat sy romantiese belangstelling elders lê nie. Sy het amper van die intrapslag opgelet dat sy en James in die kunswaarderingsessies die pragtige jong mans in die Caravaggio-skilderye met ewe veel oorgawe bewonder het.

Wanneer sy uitasem by hulle uitkom, laat James die sjampanjeprop plof en skink vir haar ’n glasie in. Sy lang kuif val vooroor oor sy grys oë. Almal soen haar en wil weet wat sy van die laaste vraestel dink.

“Heel goed, skat ek,” antwoord sy ‘n bietjie angstig.

James wil meer detail oor die vrae hoor, maar die polisie begin nou geduldig maar beslis die skare uit die straat dryf sodat die verkeer weer kan vloei. Hulle stap dus vinnig aan. Die sydeur van Louise se kollege is nie ver af in die “High” – soos die Oxford-studente algemeen na die hoofstraat verwys – nie.

By die kollege stap hulle deur twee binnehowe, die een in die moderne deel van die gebou en dan die hoofbinnehof wat stuksgewys tussen die veertiende en die sewentiende eeu gebou is, tot in die kollege se agtertuin – vroeër die kerkhof van ’n kerkie uit die twaalfde eeu, nou die kollegebiblioteek. Hier en daar is ou grafstene van mense uit vervloë jare wat langs die kerkie begrawe is. So tussen hulle deur staan groepies vrolike studente in hul togas, omring deur vriende, en vier die einde van die eksamen.

Louise sit op ’n bankie en lig haar kop om die Engelse somerson in te drink, en die oomblik behoorlik te smaak en te geniet. Dan vertel sy van die vraestel. Op die aandrang van die ander, haal Heinrich sy viool uit die tas en speel ’n paar melodieuse Kreisler-stukke om hulle te vermaak. Die ander groepies studente klap luid hande saam met haar eie vriende wanneer hy klaar is. Almal is in ’n ekstatiese luim.

“Is jy absoluut seker jy wil nou teruggaan Suid-Afrika toe?” vra Audrey. “Wil jy nie kyk of jy iets interessants hier in Engeland of in Europa raakloop nie?”

“Iets interessants?” sê-vra Louise skalks. “Praat jy nou van ’n werk of van ’n man?”

“O, ’n werk,” lag Audrey, “maar ’n man kan ook ’n oorweging wees.”

“Inderdaad,” sug James, gemaak moedeloos.

“Nee wat,” sê Louise, “ek wil huis toe gaan. Ek het ’n wonderlike jaar hier gehad, onvergeetlik en onvervangbaar, en ek is baie lief vir julle almal, maar ek mis my ma en ek mis my land en ek mis my taal.”

“Nou, as jy so na jou ma verlang, wil jy teruggaan Bloemfontein toe?” vra James.

“Nee, nie noodwendig nie. Ek sal gaan waar die beste geleenthede hulle voordoen. Johannesburg is seker die waarskynlikste, maar ek sal nogal daarvan hou om ’n tydjie in die Kaap deur te bring. Ek sal maar moet sien.”

Nadat hy sy viool weggepak het, maak die donkerkop-Duitser verskoning – hy het ’n afspraak – en Audrey en Anjeli wil nog die winkels haal voor aandete.

James glimlag vir Louise. “Ek het vir ons ’n punt bespreek,” sê hy. “Gaan trek vir jou iets gemaklikers aan, dan gaan ons.”

* * *

Wanneer Louise weer in jeans, ’n geruite hemp en ’n groot strooihoed verskyn, kry hulle hul fietse by die kollege se fietsrak en ry deur die nou lane en breër strate van die ou stad na die noordekant waar die kollege se boothuis aan die Cherwell-rivier geleë is. In sy fietsmandjie het James die voorrade vir ’n piekniek.

Op die platboomskuit hanteer James die lang vaarpaal. Hy staan regop en druk stilswyend daarmee op die bodem van die rivier en so word die boot vorentoe gedryf.

Louise lê rustig terug en geniet die landskap wat spoedig vanaf ’n stads- na ’n landelike omgewing verander. Sy skuif haar hoed weg om die namiddagson te geniet. Die water se geruis sus haar en die son maak haar lomerig.

By ’n groen grasveld waar ’n paar skape wei, laat James die boot teen die wal aandoen. Hulle klim uit en maak hulle tuis op ’n reisdeken wat hy saamgebring het. Die piekniekmandjie met wyn, Franse brood en Brie word uitgepak. Die stil, vreedsame laatlig-someraand sluit om hulle heen. Louise gooi haar hoed teen ’n boom en strek haar gemaklik uit. Sy voel of sy in die tuin van Eden is. Sy het nog net nie vir Adam of die slang teëgekom nie.

“So, wat presies is die volgende stap?” vra James uiteindelik met sy wynglas in sy hand. “Het jy al van die kunsskole gehoor wat jy genader het?”

“Nee, nog glad nie,” antwoord Louise.

Hoewel sy nie baie bekommerd is oor waar sy werk sal kry nie, het sy ’n paar bekende kunsskole in Suid-Afrika genader en haar CV aangestuur om te hoor of een van hulle nie dalk vir haar ’n pos het nie. Sy het ’n graad in Beeldende Kuns aan Tukkies voltooi en nou die nagraadse diploma in Kunsgeskiedenis by Oxford. Hoewel sy graag self skets en skilder, is kunsgeskiedenis en -waardering haar grootste belangstelling. Sy sou eintlik verkies om by ’n kunsgalery te werk, maar daardie betrekkings is baie skaars, veral vir iemand sonder werkondervinding.

“Ek het vir jou ’n werkonderhoud in Kaapstad gereël,” sê James ligweg en tuur na die weerkaatsing van die son op die Duitse witwyn in sy glas.

“Wat?” roep sy verras en sit regop. “En met wie nogal?”

“Ryk Hofmeyr,” antwoord hy ingenome en lig sy wenkbroue terwyl hy steeds na sy glas tuur.

“Die Prins van Schoongelegen!”

“Is dit wat julle hom noem?” vra James met ’n laggie. “Ja, ek kan nogal sien hoekom – aantreklik, ryk, ou vooraanstaande familie, en Schoongelegen is eintlik ’n soort paleis. Was jy al daar?”

“Nee, maar ’n mens sien die huis en landgoed dikwels in tydskrifte, of in boeke oor Kaaps-Hollandse herehuise of oor argitektoniese en kultuurgeskiedenis. Dit is omtrent net so beroemd soos Groote Schuur of Groot Constantia as dit by Kaapse wonings kom. Maar sy ‘titel’ het ook daarmee te doen dat hy hom blykbaar soos ’n adellike gedra – arrogant en meerderwaardig.”

“Ja, die mense sê so,” antwoord James rustig, “maar ek is baie erg oor hom. Ons was saam studente hier op Oxford. Na sy regsgraad op Stellenbosch het hy PPE – Politics, Philosophy and Economics – hier kom studeer. Hy was ’n Rhodes scholar, hoewel sy gesin skaars die finansiële ondersteuning van die Rhodes-trust nodig gehad het. Ek het in dieselfde jaar van die Universiteit van Kaapstad af hier aangekom, vir my doktorsgraad in Kunsgeskiedenis. Ons was saam in Trinity College – om die waarheid te sê, ons was bure en het gou dik vriende geword. Hy het ’n baie saggeaarde, sorgsame kant. Dit het glad nie goed gegaan met my in my eerste jaar hier nie.”

“Hoe dan so?” vra Louise. “Die meeste groentjies, veral uit ’n ander land, vind Oxford maar ’n bietjie intimiderend, maar dit lyk altyd vir my of jy jou maklik by enige situasie kan aanpas!”

“Ek het báie gesukkel met aanpassing, was erg geïntimideer en het huis toe verlang. Emosioneel was ek ook ’n bietjie broos. Ek moes my seksualiteit uitpluis en dit was maar ’n gesukkel. Ek het die eerste keer regtig verlief geraak – gelukkig nie op hom nie – en kon nie meer my seksuele identiteit ignoreer nie. Ryk was ’n onveranderlike rots op wie ek kon steun. Later, in ons tyd saam hier, is sy ouers in ’n vliegongeluk dood. Toe kon ek weer vir hom ’n steunpilaar en biegvader wees, veral toe hy tot verhaal moes kom en hom met sy pa se dood moes versoen. Hulle het ’n baie moeilike verhouding gehad – twee uiters bekwame mans met sterk persoonlikhede; hulle moes noodwendig bots. Dit alles het dit vir hom moeilik gemaak om sy ewewig na sy pa se heengaan te herwin. Op die koop toe moes hy skielik die verantwoordelikheid vir sy familie en hul magtige ryk, en vir Schoongelegen self, oorneem. Al hierdie dinge het ’n baie sterk band tussen ons gesmee. Jy is die eerste persoon met wie ek weer so ’n hegte vriendskap hier op Oxford kon aanknoop,” voeg hy by en ontmoet Louise se oë met ’n glimlag in syne.

“Ek het geweet jy ken hom, maar nie dat julle so na aan mekaar is nie,” antwoord Louise. “Jy praat nie dikwels van hom nie.”

“Wat is daar om te sê? Ons het nie voortdurend kontak met mekaar nie, maar ons albei weet dat ons op mekaar kan staatmaak.”

“Ja, dit is dan soos ek en jy,” sê Louise peinsend. “Ek kan jou nie sê hoeveel jy vir my in die afgelope jaar beteken het nie. Dit was beslis die wonderlikste jaar in my lewe, en jy het baie daarmee te doen gehad, op akademiese én op persoonlike vlak. Ek was nooit ontuis en verlore nie, en dit is omdat jy van die begin af, van my eerste tutoriaal af, daar was om raad te gee en my gerus te stel. En jy het wêrelde intellektueel en esteties vir my oopgemaak wat my altyd sal bybly en my hele lewe, hoe lank dit ook mag wees, sal verryk.”

James glimlag ’n bietjie verleë. “Maar stel jy nie belang in die onderhoud wat ek vir jou gereël het nie?”

“O, ek is oorbluf,” roep Louise uit. “Derduisende Suid-Afrikaanse vroue sal dolgraag my oë uitkrap of my lewe uitwurg vir die geleentheid om net een keer in Ryk Hofmeyr se teenwoordigheid te wees. Ryk die ryke, die skone held van Schoongelegen, die hubaarste, ontwykendste man in Suid-Afrika. Wat op aarde kan ek vir hom doen, waaroor hy ’n onderhoud met mý sal wil voer?”

“Wel,” sê James, en hy bly ’n oomblik tergend en glimlaggend stil voordat hy vervolg, “Ryk het my uit die Kaap gebel en gevra of ek iemand kan aanbeveel om na die Hofmeyrs se kunsversameling om te sien. Jy weet seker dat dit een van die belangrikste privaat kunsversamelings in Suid-Afrika is. Die kern daarvan is die Van der Byl-versameling wat Ryk se oorgrootjie, die mynmagnaat sir Henry van der Byl, bymekaargemaak het. Baie van die Randlords het groot kunsversamelings bekom; dit was ’n manier om sosiale aanvaarding in die boonste aristokratiese kringe te “koop”. Kuns was as teken van verfyndheid en gesofistikeerdheid beskou.”

Louise luister belangstellend.

“Sir Henry was reeds uit een van die vernaamste families in die Kaap en was waarskynlik nie so begaan om sosiale sukses met sy versameling te bekom nie,” verduidelik James verder. “Hoewel hy baie in Europa gereis het, ook toe hy sy kunsaankope gedoen het, het hy hom ook nooit daar gevestig nie. Hy was dus nie so begaan oor die Europeërs se dunk nie. Hy het klaarblyklik net doodeenvoudig baie goeie smaak gehad. Sy geld wat hy uit die diamant- en goudmyne gemaak het, het hy gebruik om hierdie besonderse werke te bekom. Sy versameling is van die merkwaardigste van die Randlords s’n. Hy het minstens een waarskynlike Rembrandt, maar ook Van Dycks, ’n Rubens en werke van ’n hele paar ander groot meesters. Verder het hy ’n waardevolle klompie Franse Impressioniste – Renoir, Degas en so aan – ook bekom. Sy nakomelinge, die Hofmeyrs, het voortgegaan om die versameling aan te vul. Veral Ryk se pa, wyle doktor Alex Hofmeyr, het gesorg dat hulle ook een van die verteenwoordigendste versamelings Suid-Afrikaanse kuns het – Pierneefs, Oerders, Irma Sterns, Maggie Loubsers, en so meer – die ander groot name is ook almal verteenwoordig. Volgens Ryk was daar al vele halfhartige pogings om die versameling te katalogiseer, maar dit is nog nooit behoorlik deur ’n deskundige gedoen nie, en hy wil dit nou laat doen. En ek het toe gesê ek ken net die persoon vir die job!”

“Dink jy regtig ek is opgewasse vir die taak?”

“Natuurlik! Jy is my ster-student, en met jou Suid-Afrikaanse agtergrond en wye belangstelling in die hoofstrome van die Europese kuns, asook in Suid-Afrika se eie kunstenaars, is jy regtig die ideale persoon vir die Hofmeyr-versameling, dink ek. Aangesien die versameling op Schoongelegen self gehuisves word, sou Ryk ook verkies dat die persoon inwoon, ten minste vir die eerste tydperk van katalogisering, en ek kon ook nie aan ’n persoon dink wat beter by die formidabele Hofmeyrs se Afrikaanse huishouding sal inpas as die skone, hoogs verfynde, elegante, Oxford-geleerde mejuffrou Louise le Roux, voorheen van Bloemfontein, nie!”

“Jy spot nog, my keel is reeds droog by die blote gedagte!” snak Louise en neem ’n groot sluk van die witwyn in haar glas. “Is dit dan hoofsaaklik ’n katalogiseringsopdrag?”

“O nee, dit is maar net die begin – om presies vas te stel wat daar is en dit behoorlik op te teken. Maar hy wil ook hê jy – of die persoon wat die pos kry – moet na die skilderye omsien, sorg dat hulle behoorlik uitgestal en belig word, onder die mees ideale omstandighede bewaar word en so aan. Jy sal kopiereg beheer vir mense wat afbeeldinge wil gebruik in boeke, kalenders en so meer; jy sal dus verantwoordelikheid vir die hele versameling moet aanvaar. Hy dink ook aan ’n behoorlike boek om uiteindelik die versameling se beste stukke kunshistories toe te lig, maar dit is ’n langtermyn-projek. Dit is egter duidelik dat Ryk dit as ’n heeltydse pos beskou, nie bloot as ’n projek vir ’n paar maande of ’n paar jaar nie.”

“Ek weet nie of ek die res van my lewe op die Hofmeyrs se Schoongelegen wil deurbring nie,” sê Louise met ’n frons terwyl sy aan die Brie peusel.

“Daar is slegter plekke om jou lewe te slyt, glo my! Ek het al ’n paar keer die voorreg gehad om daar te kuier. Dit is ’n belewenis. En die inwoon-voorskrif hoef nie vir ewig en altyd te geld nie – dit is maar net vir die aanvanklike groot taak dat dit beter sal uitwerk as die persoon sommer op Schoongelegen inwoon. Later kan dit bloot jou ‘kantoor’ word.”

James en Louise word skielik daarvan bewus dat die paar skape algaande al nader aan hulle begin wei het en dat hulle nou omring is deur die troppie. ’n Ooitjie begin stamp so proe-proe aan Louise se strooihoed wat ’n entjie van hulle af onder ’n boom lê.

“Haai, los my hoed! Jy is nie ’n bok wat enigiets vreet nie!” roep sy onthuts.

Die ooitjie lig haar kop en kyk Louise met sedige oë aan, kompleet asof sy die versoek en aantyging oorweeg. Dan stap sy rustig verder en ignoreer die hoed onder die boom.

“Ons sal nog ’n tydjie moet bly totdat hulle ’n bietjie wegbeweeg het, voordat ons ons uit die voete kan maak,” merk James op, terwyl hy nog ’n stukkie Franse brood lui in sy mond druk. “Ek het aarbeie en room ook gebring.”

Hy grawe in die mandjie en kom met die twee houers en twee poedingbakkies vorendag.

“O, heerlik,” sug Louise genoeglik, “ek kan in elk geval nog ure hier lê.” Sy tuur na die kalm, blou Engelse somerlug. “Wat ’n heerlike aand!”

“Ja, geniet dit,” beaam James, “want oor ’n week of twee is jy terug in die Suid-Afrikaanse winter.” Hy gee vir haar ’n bakkie aarbeie en room en ’n lepel aan.

“Nee,” sê sy gemaak streng vir dieselfde skaap wat haar hoed probeer verorber het, en nou weer met kalme sedigheid na Louise staar, “jy sal nie daarvan hou nie! Eet jou gras.” Dan smul sy met oorgawe aan die suikersoet rooi aarbeie.

Nadat hulle ’n paar oomblikke hul aandag doodstil op die nagereg toegespits het, vervolg Louise: “Nou hoe is dit dat die Van der Byl-skatte aan die Hofmeyrs van Schoongelegen behoort? Was daar nie Van der Byl-nakomelinge nie?”

“Nee, sir Henry het net een dogter gehad, die pragtige Laura. En Schoongelegen was ook oorspronklik sy eiendom. Dit was vir baie geslagte in Van der Byl-besit. Sir Henry het dit by ’n verlangse oom van hom geërf, blykbaar in ’n taamlik vervalle toestand. Hy het toe vir sir Herbert Baker, wat Groote Schuur in opdrag van Rhodes herontwerp het, gekry om die veranderinge aan Schoongelegen te ontwerp en uit te voer. Met sy goeie oordeel het Baker die voorkant van die huis met die Ou-Kaapse gewels net pragtig gerestoureer, maar agter het hy vleuels aangebou wat by die oorspronklike Kaaps-Hollandse argitektuur aanpas. Hy het van die buitegeboue, onder meer ’n groot ou wynkelder wat soos Groot Constantia s’n ’n Anreith-gewel het, en die jonkershuis in die herehuis geïnkorporeer en so die statige, deftige Schoongelegen as ’n gepaste tuiste vir ’n man van sir Henry se enorme rykdom geskep. Dit is so mooi en fyn gedoen dat ’n mens nooit die indruk van aangelaptheid kry nie. Dit lyk asof die hele herewoning, soos hy nou daar staan, op een slag vergestalt is. Dit is regtig een van Suid-Afrika se argitektoniese meesterstukke. Die huis herinner aan ’n Britse ‘stately home’ deurdat die gebou, soos hy nou daar staan, om twee groot binnehowe – courtyards – gestruktureer is: ’n kleiner een agter die ou deel van die huis met die twee oorspronklike vleuels, wat soos by baie Ou-Kaapse huise weerskante van die vooraansig na agter loop, en dan ’n grote in die nuwe deel van die huis. Die lyn en helling van die grond agter die oorspronklike huis beteken dat die ou enkelverdieping op ’n natuurlike wyse algaande ’n dubbelverdieping of selfs trippelverdieping word en tog heel natuurlik lyk.” Hy skep ’n slag asem. “Maar om terug te keer na die Hofmeyrs – weet jy dan nie van die groot familieskandaal nie – ‘le scandale’ soos Ryk se sussie, Anne-Marie, altyd met nadruk daarna verwys?”

“Nee, het die Hofmeyrs ’n familieskandaal? My indruk is dat hulle skatryk, voorbeeldig, gerespekteer en vervelig is; dit is nou afgesien van Ryk se klaarblyklik ongelooflike voorkoms, wat ek nie kan ontken na alles wat ek in die pers en op televisie gesien het nie, en wat seker nie te erg vervelig is nie –”

“Voorbeeldig ja, vervelig glad nie!” onderbreek James haar. “Waarskynlik is die latere geslagte juis voorbeeldiger om op te maak vir die skandaal wat om Ryk se oumagrootjie losgebars het.”

“Om sy oumagrootjie? Vertel!”

“Sir Henry se enigste dogter, Laura van der Byl, was pragtig, fyn opgevoed en het die beste van alles gehad. Sir Henry is laat getroud en sy vrou is vroeg oorlede. Laura was die appel van sy oog. Hy het haar oral met hom saamgeneem. Sy was natuurlik ook die enigste erfgename van sy enorme fortuin en aan mededingers om haar hand het dit nie ontbreek nie. Met hul gereelde reise in Europa het sy klaarblyklik baie huweliksaansoeke gekry van adellikes – van die steeds ryk én die verarmde soort – en van vernames, maar heelwat kansvatters het natuurlik ook hul geluk by haar gewaag. Sir Henry het uiteraard baie beskermend begin optree en ’n hekel ontwikkel aan die vreemde aansoekers. Uiteindelik het hy besluit die enigste veilige uitweg vir haar sou wees om met een van haar eie mense te trou, ’n Kapenaar uit een van die ou vooraanstaande Kaapse families soos sy eie. Hy was dus verheug toe sy susterskind, Alexander Hofmeyr, by Laura begin aanlê het. Mense was destyds nie eintlik ten gunste van sulke huwelike binne die familie nie, maar vir sir Henry het dit beteken dat sy dogter ’n man sou kry wat hy kon vertrou. Hy het waarskynlik sy nefie se hofmakery met taamlike druk op sy dogter ondersteun. In 1905 is hulle in wat destyds beskryf is as die Kaapse huwelik van die eeu – al was die eeu maar nog net vyf jaar oud – in die Groote Kerk getroud.”

Ou-Kaapse verhale het Louise nog altyd gefassineer. Sy hang behoorlik aan James se lippe.

“Aanvanklik het dit gelyk of dit goed gaan. Sir Henry was baie in sy skik met sy skoonseun en het hom algaande ingelei in al die besonderhede en geheimenisse van sy fortuin. Twee seuntjies is gebore, Ryk – ons Ryk se oupa – en Henry, wat na sy oupa van der Byl geheet het. Sir Henry was versot op die twee kinders. Dit was die tydperk, laat in sy lewe, toe hy sy tyd grootliks aan sy kunsversameling gewy het. Die gesin het baie rondgereis en sir Henry het sy skoonseun ook onderrig in alles wat hy van kuns geweet het.”

“O, ek wens ek kon in daardie tyd geleef het,” sug Louise in vervoering. “Maar gaan aan, ek wil nie jou gedagtegang onderbreek nie.”

“Tydens ’n verblyf in Parys het sir Henry besluit dat Laura en die twee seuntjies deur die beroemde Switserse portret-skilder, Claude Becker, geskilder moet word. Becker was destyds saam met John Singer Sargent en Philip de Laszlo die bekendste portretskilders in die wêreld. Terloops, daar is ’n pragtige Sargent-portret van sir Henry self en ’n De Laszlo van die skoonseun ook in die versameling. Becker het eers die twee engelagtige seuntjies in hul wit-en-vlootblou matroospakkies geskilder en toe vir Laura. Sy moes daagliks na sy ateljee gaan om te poseer, en dit is waar dinge skeefgeloop het. Claude Becker en Laura het hartstogtelik op mekaar verlief geraak. Teen die tyd dat die portret – dit word as een van Becker se meesterstukke beskou – voltooi was, was die Hofmeyr-huwelik in sy maai.”

Louise sug diep, heeltemal meegevoer deur die verhaal. Sy kan sommer aanvoel dit is nie een met ’n gelukkige einde nie.

“Gewoond aan haar pa se verwenning, het Laura bloot na sir Henry gegaan en gesê dat sy van haar man wil skei om met Becker te trou. Sir Henry was egter met afgryse vervul. Op sý beurt gewoond om in alles sy sin te kry, het hy sy gesin eenvoudig op die skip gesit en teruggebring Schoongelegen toe. Becker moes stil-stil gevolg het, want kort daarna, toe die huishouding een oggend ontwaak het, is gevind dat Laura saam met hom weg is. Sy het ’n briefie gelaat waarin sy sê dat ’n lewe sonder Claude Becker vir haar geen sin inhou nie. Die briefie word nou nog op Schoongelegen in ’n spesiale lêer in die biblioteek bewaar. Ryk het dit eendag vir my gewys. Die twee seuntjies het by hul pa en oupa agtergebly. Enkele dae later het sir Henry ’n ernstige beroerte gehad. Dit kon seker toevallig gewees het, maar die meeste mense het dit aan sy ontsteltenis oor Laura se vlug toegeskryf. Hy was daarna ’n algehele invalide en is tot sy dood ’n paar jaar later deur sy skoonseun versorg. In sekere opsigte het sir Henry gelyk gehad oor sy keuse van ’n man vir sy dogter. Alexander Hofmeyr het geblyk ’n baie betroubare man, ’n toegewyde vader en skoonseun te wees. Maar Laura wou iets anders gehad het.”

“Ja, ’n mens weet ook nie altyd watter versoekings oor jou pad kan kom nie, en veral nie watter afdraaipaadjies jy dan gaan kies nie,” sê Louise.

“Kom, die skape het gewyk; dit word laat,” vervolg James. “Dit is tyd om terug te gaan. Hoe lyk dit, kan ek vir Ryk Hofmeyr laat weet jy sal kom vir die onderhoud?”

“Natuurlik! Ek is nou so nuuskierig dat ek kan vrek,” sê Louise. “Dit is die boeiendste verhaal! En al kry ek nie die werk nie, sal my vriendinne in Bloemfontein my dit nooit vergewe as ek die kans om Ryk Hofmeyr te ontmoet deur my vingers laat glip het nie.” Dan kyk sy ernstig in sy oë. “Ek spot sommer, James. Ek besef wat ’n wonderlike geleentheid jy hier vir my geskep het. Ek wil dit aangryp. Om met so ’n versameling te werk, is presies wat ek graag wil doen. Ek sal nie nog so ’n geleentheid so vroeg in my loopbaan kry nie. Ek waardeer jou voorspraak by die Hofmeyrs ontsettend baie! Ek sal probeer om jou, en hulle, nie teleur te stel nie.”

In die platboomskuit op pad terug die dorp in, verval Louise weer in mymering. Sy het baie om te beplan vir haar oppak en terugkeer na Suid-Afrika en meteens begin die toekoms ’n moontlike en baie opwindende vorm aanneem. Sy kyk op wanneer James se stem haar gedagtes onderbreek.

“Terloops, Becker se portret van Laura van der Byl Hofmeyr is na haar vlug van Schoongelegen af deur die Hofmeyrs opgepak en weggebêre, en nooit weer uitgehaal nie. Dit kan dalk een van jou eerste take wees: om die Claude Becker-portret van Laura Hofmeyr in al sy aansienlike glorie te herstel en uit te stal.”

* * *

Die volgende paar dae is Louise baie besig met die voorbereidings vir haar vertrek. Sommige van haar goed, soos haar bekers, teepotjie en ander breekgoed, deel sy uit onder haar vriende. Die wegpak van die boeke is ’n groot taak en sy stuur dit weg na haar ma se adres in Bloemfontein. Hoewel sy nou hoop om haar moontlik in die Kaap te vestig, is dinge nog te onseker om vaste planne te maak.

Sy knyp ook tyd af om vir oulaas gou te gaan uiteet of ’n drankie in ’n pub te geniet saam met van die talle vriende wat sy deur die jaar in Oxford gemaak het. Haar naaste vriende, Audrey, Anjeli en Heinrich, neig om soos ’n kokon om haar toe te vou – bewus daarvan dat hul tyd saam tot ’n einde kom. Van James, wat eintlik die naaste aan haar was en wie se vriendskap sy die meeste in die toekoms sou koester, sien sy maar min. Hy is besig met sy eie verantwoordelikhede aan die kollege en universiteit. Tussen al die bedrywighede deur het sy min tyd om oor die pos in die Kaap te tob. Sy bel wel haar ma in Bloemfontein en lig haar oor die opwindende moontlikheid in.

Op Dinsdag, twee weke na haar laaste vraestel, het Louise haar verpligte mondeling, haar viva voce, om die eksamen te voltooi. As daar enigsins onduidelikheid oor die uitslag van haar geskrewe eksamen is, word dit hier besleg. Angstig gaan sy die oggend na die kennisgewingbord in die Examination Schools om die rooster vir die mondelinge te bekyk.

Haar ervare medestudente het aan haar verduidelik dat ’n lang tyd toegestaan vir ’n mondeling moeilikheid beteken – jy moet jou nog bewys, is die implikasie. Andersyds kan ’n kort tyd toegestaan vir die mondeling óf beteken dat alles in orde is, die mondeling is bloot ’n formaliteit, óf dat jy so hopeloos gevaar het dat daar geen salf aan jou te smeer is nie.

Verlig sien Louise dat daar net ’n kwartier aan haar toegestaan is. Sy glo darem nie dat sy in die “geen salf te smeer”-kategorie kan val nie, en vertrou dat die kort tydjie ’n aanduiding is dat die eksaminatore tevrede met haar prestasie in die eksamen is.

Om kwart voor drie die middag meld sy haar weer in volle akademiese drag aan by die Examination Schools. Die student wat by die lokaal uitkom, lyk ’n bietjie bleek en Louise se hart klop senuweeagtig vinniger. Die meisie glimlag darem nog vir haar. Wanneer sy die lokaal binnestap, voel sy egter dadelik ’n ligte, selfs vrolike atmosfeer aan wat haar gerusstel.

Die drie eksaminatore skerts met haar oor sommige van haar antwoorde, maar komplimenteer haar ook met haar wye en tog diepgaande kennis.

“Wat is u toekomsplanne?” vra die voorsitter van die paneel.

“Wel,” antwoord sy versigtig, “daar is die moontlikheid dat ek die kuratrise kan word van een van Suid-Afrika se groot privaat kunsversamelings. Dit is egter nog nie bevestig nie; ek moet vir ’n onderhoud gaan sodra ek terug in die land is. En, dit hang seker ook af van die eksamenuitslag vandag!” glimlag sy.

“Nou ja,” sê die eksaminator wat links sit gemaak ernstig, “ons kan nooit tussen ’n jong dame en so ’n wonderlike geleentheid staan nie.”

Sy besef dadelik dat, hoewel die eksaminatore nie veronderstel is om die uitslag tydens die viva voce bekend te maak nie, hy eintlik vir haar gesê het sy was suksesvol in die eksamen. Sy glimlag verlig vir hom.

Dit is met geveerde tred dat sy terugstap kollege toe. Haar vriende wag angstig vir haar en na haar beskrywing van die mondeling, word sy opnuut omhels en gelukgewens. Die nagaan van haar naam op die eksamenlys later die middag is werklik net ’n formaliteit.

* * *

Die volgende dag haal sy die bus van Oxford na Heathrow. Sy voel gevlei dat Audrey, Anjeli en Heinrich daarop aandring om heelpad saam te gaan Heathrow toe. Hulle kan haar ook met die klomp bagasie op die bus help. Hulle praat nie veel gedurende die reis nie, almal deeglik bewus daarvan dat hul paadjies nou gaan skei en dat hulle mekaar waarskynlik maar selde in die toekoms sal sien. Daar is gelukkig e-pos, troos hulle mekaar.

James het haar die oggend gebel om tot siens te sê en haar volledige uitslae, wat hy as haar tutor ontvang het, oor te dra. “Very good marks, my dear. You can be proud of yourself.”

Dit is maar ’n bedremmelde groepie wat mekaar by die versperring waar sy moet deurgaan na haar vlug groet. Hulle druk mekaar styf vas en belowe om gereeld in kontak te bly. Audrey gaan haar voorberei op die groot Britse staatsdienseksamen en daarna die nog mededingender Foreign Office-eksamen. Sy wil haar graag by die diplomatieke diens aansluit. Anjeli gaan terug na Indië – sy het ’n pos by ’n universiteit in Bombaai gekry. Heinrich bly vir eers op Oxford aan, sy studie nog nie voltooi nie.

Net voordat sy deurstap, hoor sy iemand haar naam roep. James kom uitasem na hulle aangehardloop. “Die bleddie trein was laat – soos gewoonlik,” hyg hy. “Ek moes darem self kom groet.” Hy omhels Louise en druk haar styf teen hom vas. Toe sy na sy gesig opkyk, sien sy dat hy trane in sy oë het.

“Jou afspraak by Ryk is gereël vir die vyftiende Julie, om tienuur die oggend. Dit gee jou twee weke voor die tyd by die huis. Jy moet jou by die Van der Byl-Hofmeyr Trust-gebou in Kaapstad aanmeld. Dit is die familiemaatskappy wat na die Hofmeyrs se persoonlike finansiële belange omsien, afgesien van hul belange in die vele ander maatskappye.” Hy stop ’n nota met die besonderhede vir die afspraak in haar hand.

Terwyl sy deurstap na die vertrekuitgang, roep hy agterna: “Sê groete vir Ryk – ek verlang na hom. En, o ja, hy het ’n baie gawe – en aantreklike – privaat sekretaris, Martin Lander. Hy sal vir jou ’n groot steun wees!”

Vertrou nie op prinse

Подняться наверх