Читать книгу Vertrou nie op prinse - Evelyn Wessels - Страница 6

2

Оглавление

Vryday 15 Julie is 'n tipes Kaapse winterdag met grys lug en sagte reën. Die vyfster-hotel in die voorstrandgebied waarby Louise deur Ryk Hofmeyr se personeel inbespreek is, is ’n verrassing en heerlike genot vir haar. Sy is nie gewoond aan sulke luukse verblyf nie. Louise se pa was ’n predikant in die Vrystaat en is op ’n jeugdige leeftyd aan ’n hartaanval oorlede. Haar ma moes haar alleen grootmaak, en hoewel dié as weduwee ’n baie suksesvolle loopbaan in die onderwys gehad het en nou skoolhoof van ’n groot en bekende meisieskool in Bloemfontein is, was dinge nooit baie breed nie.

Sy verlustig haar in die pragtige kamer met ’n uitsig oor die Kaapse hawe en in die uitstekende diens, waar – so voel dit vir haar – jou geringste wens onmiddellik deur die personeel uitgevoer word. So, dit is soos die Hofmeyrs lewe, dink sy. Hulle ken geen ander werklikheid nie. Geen wonder Ryk Hofmeyr het ’n reputasie vir arrogansie en meerderwaardigheid nie.

Volgens die aanwysings wat sy by haar ma se adres in Bloemfontein ontvang het, moes sy ’n taxi na die Van der Byl-Hofmeyr Trust-gebou neem. Sy verkies egter om ondanks die grou weer net na ontbyt vanaf die voorstrandgebied na die stad op te stap. Sy trek haar goeie Britse reënjas aan, maar soos so dikwels in die Kaap gebeur, het dit skielik opgehou reën. Louise adem die vars oggendlug met die reënwasem diep in. Sy kies die Heerengracht en dan Adderleystraat tot naby die Groote Kerk, en draai dan oos na die pleintjie waar die Van der Byl-Hofmeyr Trust in ’n pragtig gerestoureerde Victoriaanse gebou gehuisves word.

Toe sy deur die dubbele glasdeure stap, wag veiligheidspersoneel haar in, en toe sy haar naam verstrek, is dit duidelik dat hulle haar verwag. Sy word deurgewys na die outydse hysbak en aangesê om na die boonste, die sesde verdieping te gaan. Op die houtpaneel met vergulde gebou-aanwysings pryk by die sesde vlak net dié woorde – Mnr. R. Hofmeyr.

Toe sy bo by die hysbak uitstap, bevind sy haar in ’n luukse vertrek wat eerder na ’n weelderige salon as ’n kantoor lyk. Dit is ovaalvormig met ’n onopsigtelike maar dik woltapyt en pragtige los symatte wat hier en daar gestrooi lê. Die mure bestaan uit roomkleurige panele en die plafon is wit met Victoriaanse gipsdetail versier. Louise merk onmiddellik die pragtige en waardevolle skilderye teen die mure op, elk belig deur sy eie diskrete portretligstafie in brons. Die skilderye moet deel uitmaak van die versameling waaroor sy hoop om aangestel te word. Tussen die panele lei deure in verskillende rigtings uit. Die vertrek is duidelik ’n sentrale ruimte – sonder vensters – waarvandaan die vertrekke aan die buitekant van die gebou uitgaan. Op die ver punt van die ovaal sit twee elegante dames by twee Victoriaanse mahonielessenaars. Dit pas by die elegansie van die vertrek, wat terselfdertyd met die modernste rekenaartegnologie toegerus is. Lugreëling beheer die temperatuur, alle klank is gedemp en die lig strelend op die oog.

Die twee vroue kyk na haar en glimlag. “Juffrou Le Roux? Kan ek u jas neem?” vra ’n donkerkop en kom na haar aangestap. “Sit gerus, meneer Lander sal nou by u wees. Ek is mevrou Smit en dit is mejuffrou Ismael.”

In die middel van die vertrek, onder die glaskandelaar, is ’n groepie antieke meubels om ’n ronde okkerneuthout-tafel gerangskik. Die houtstoele en sofa is in koningsblou fluweel oorgetrek, die gestoffeerde meubels in Sanderson-linne. Louise gaan sit op een van die gemakstoele. Sy haal haar CV uit haar aktetas, eintlik net om te maak asof sy iets het om te doen. As sy genoeg kan konsentreer, kan sy haar dalk voorberei op vrae wat uit die CV kan voortvloei.

Sy tuur oor die CV se bladsye na die skilderye teen die muur. In die prominentste posisie, aan die sykant van die ovaal, is die portret van sir Henry van der Byl deur Sargent – sy herken die skilder se styl én die onderwerp se gesig uit foto’s wat sy al van hom gesien het. Reg oorkant is ’n portret van ’n jonger man, sy vermoed sir Henry se skoonseun, Alexander Hofmeyr. Sy staan op en gaan voor die tweede skildery staan. Dit is inderdaad die De Laszlo-portret waarvan James gepraat het. Alexander Hofmeyr het ’n sterk, ietwat meedoënlose gesig. Seker die resultaat van sy lewensondervinding, vermoed sy – hy moes sterk wees om die skandaal van sy vrou se vlug te trotseer en sy seuns alleen en verantwoordelik groot te maak. Hy het blykbaar daarin geslaag.

Een van die deure naby die twee vroue se lessenaars gaan oop en ’n lang blonde man kom met ’n vriendelike glimlag en uitgestrekte hand na haar toe aan. “Juffrou Le Roux, ek is Martin Lander, meneer Hofmeyr se privaat sekretaris. Hy is ongelukkig ’n bietjie laat – seker die voorreg van die baas – maar ek bestel intussen vir ons tee. Ek hoop nie u is haastig nie?”

Hy is lig, selfs blosend van gelaat, en het ’n seunsagtige voorkoms maar met ’n sterk ken wat manlikheid aan sy gesig verleen, en ’n lenige, sportiewe gestalte. Sy opvallendste eienskap is egter sy ongewone, helderblou oë wat dit vir Louise moeilik maak om weg te kyk van sy vriendelike blik. As die mense dink Ryk Hofmeyr is Suid-Afrika se manlike sekssimbool, dink sy, kan hulle maar wag totdat hulle sy sekretaris raakloop! Na ’n oomblik onthou sy dat hy haar iets gevra het. “Nee,” glimlag sy, “ek het nie ander afsprake vanoggend nie. Ek is geheel en al tot jul beskikking. Julle het my tog spesiaal laat afvlieg vir die geleentheid, of hoe!”

Martin draai na die skildery waarna Louise gestaan en kyk het toe hy die vertrek binnegekom het. “Dit is Alexander Hofmeyr,” sê hy, “sir Henry van der Byl se skoonseun. Sy rol in die opbou van die familiefortuin word dikwels onderskat. Dit was hy wat die oorspronklike Van der Byl-fortuin suksesvol in ander vertakkings uitgebou het. Met die opkoms van Afrikaanse sakeondernemings in die eerste drie dekades van die eeu was hy ’n sleutelfiguur in die stigting van Afrikaans-gerigte banke, versekeringsmaatskappye, bouverenigings, beleggingsmaatskappye, mediagroepe en so meer, en so het hy die werklike grondslag vir die Hofmeyrs se sakeryk gelê. Ryk Hofmeyr, my baas, se pa het dit verder op internasionale vlak uitgebou. Alexander Hofmeyr was in baie opsigte ’n uitsonderlike man.” Hy glimlag vir Louise en laat haar weer by die ronde tafel plaasneem.

Martin Lander het ’n donkerblou formele langbroek aan, met ’n wit hemp en sydas met ’n paisleymotief in wynrooi, donkerblou en ougoud. Sy afgeronde voorkoms pas by die ambience van die kantore.

Louise voel skielik bly dat sy haar Chanel-styl pakkie in ’n grysbontstof (wat haar grys oë ten beste afwys) vir die geleentheid aangetrek het. Sy het haar dik, donkerblonde hare agteroor gekam en dit hang los op haar skouers. Sy weet dat haar ouma se goue antieke oorkrabbertjies die ligter sonstrepe daarin aksentueer. Haar ma het dit spesiaal vir die geleentheid vir haar geleen. Sy kan nie help om op te let dat Martin Lander se blik telkens goedkeurend na haar terugkeer nie.

Wanneer mevrou Smit die keurige skinkbord inbring, skink hy soos ’n goeie gasheer self die tee in die fyn porseleinkoppies en bied vir haar ook tuisgebakte koekies aan.

“Mevrou Smit sorg dat ons nooit sonder die heerlikste tuisgebak hier op kantoor is nie,” sê hy en glimlag teenoor die middeljarige vrou, wat blosend sy kompliment aanhoor.

Dit is vir Louise duidelik dat hy baie goeie menseverhoudinge met die personeel handhaaf. “Moes jy ook hierheen kom vir ’n onderhoud voordat jy aangestel is?” vra sy na ’n kort stilte om die gesprek aan die gang te hou. Effe laat voeg sy by, “meneer Lander?”, om die informele “jy” te probeer besweer.

“Noem my Martin. Ek hoop ons gaan binnekort kollegas wees. Maar nee,” vervolg hy, “ek en Ryk – meneer Hofmeyr – ken mekaar van universiteitsdae af, hoewel ons nie juis vriende was in ons tyd op Stellenbosch nie. Maar ons was saam in die koshuis en het saam rugby gespeel. Uiteraard het ons verder in verskillende kringe beweeg. Hy was ’n miljoenêr wat hom voorberei het vir ’n bevoorregte lewe as die “Prins van Schoongelegen”, soos hy bekend staan. My familie was Hongaarse vlugtelinge ná die 1956-opstand. Ek het ’n meer loopbaangerigte studie in die handelswetenskappe gevolg. Ná Stellenbosch is hy Oxford toe om sy bevoorregte opvoeding voort te sit en ek het in die finansiële bestuur van Leycester & Walker, die internasionale kunsveilingmaatskappy, se Johannesburgse kantoor gaan werk. Uit die aard van die maatskappy se fokus het ek gou ’n groot belangstelling in mooi goed – kuns, meubels, porselein, glasware, alles wat ons verhandel het – ontwikkel. Ná Ryk se terugkeer na Suid-Afrika het hy natuurlik een van ons spesiale kliënte geword, een van dié vir wie ons laat weet het as daar iets baie spesiaals op die veiling was. Miskien omdat dit rugbaar geword het dat ek hom ’n bietjie ken, het ek sy kontakpersoon by Leycester & Walker geword en ons het taamlik baie met mekaar te doen gekry. Ek kon hom ook na restoureerders en ander deskundiges verwys wanneer hy hulle nodig gekry het. Na ’n paar jaar het hy my gevra of ek nie vir hom wil kom werk nie, en ek het ingestem. Ek is baie gelukkig hier; ons is ’n goeie span.”

Louise wil antwoord dat sy kan sien hoekom hulle so ’n goeie span moet wees: hy wat Martin is, tree met sy vriendelikheid en hoflikheid waarskynlik as buffer vir die arrogante Ryk Hofmeyr op en hanteer en bemiddel al sy kwasterigheid. Sy besef gelukkig betyds dat dit waarskynlik nie ’n gepaste opmerking sal wees net voor ’n onderhoud met die man nie. Martin is blykbaar ’n lojale werknemer en vriend van sy baas. Sy volstaan dus deur gelykmatig op te merk: “Ek het verstaan dat meneer Hofmeyr soms ’n moeilike persoon kan wees.”

Martin haal sy skouers op. “’n Hofmeyr van Schoongelegen kan seker nie anders as om ’n bietjie arrogant te wees nie. Hy het egter ’n baie goeie hart,” sê hy bedaard. “Terwyl ons nou vir Ryk – meneer Hofmeyr – wag, kom ek gaan wys jou ons jongste projek,” vervolg hy. “Dit sal jou as voornemende kuratrise interesseer.”

Hy help Louise om uit die stoel op te staan. Hulle stap deur ’n dubbeldeur uit die ovaal vertrek in by wat duidelik ’n klein raadsaal is, met ’n lang stinkhouttafel en tradisionele riempiestoele.

Teen die mure hang portrette van mans, wat sy aan hul voorkoms herken as waarskynlik nog Van der Byls of Hofmeyrs. Langs die een punt van die tafel staan ’n reuse houtesel met ’n lewensgrootte skildery van ’n beeldskone jong vrou. Sy het donker hare in Edwardiaanse styl in ’n groot, los bolla op haar kop, pragtige blou oë en is in ’n elegante lang, wit somertabberd geklee met ’n toegevoude wit sonsambreeltjie in haar hand. Die agtergrond is ’n groen tuin of woud met groot bome en enkele peoniebosse; voor haar op ’n klippaadjie staan ’n klein wit-en-bruin brakkie met ’n lewendige gesiggie, die een oortjie opgeslaan. Hy lyk of hy half terugkyk na sy meesteres. Die pragtige gesig van die vrou en die detail van die rok laat Louise aan die beroemde portrette van die keiserin Elisabeth van Oostenryk en Eugénie van Frankryk deur Winterhalter dink. Dit is egter duidelik ’n post-Victoriaanse portret hierdie. Dit kan net die Claude Becker wees, besluit sy.

Op daardie oomblik kom Ryk Hofmeyr die vertrek binne. “O, jy wys vir juffrou Le Roux ons nuwe speelding,” merk hy teenoor Martin op. “Ryk Hofmeyr,” sê hy en steek sy hand na Louise uit.

Sy voel lus om iets soos “ek sien so” te sê. Omdat hy so dikwels in die nuus is – wie het nie al sy foto êrens gesien nie? – kan daar geen twyfel daaroor bestaan nie. Sy bedink haar egter betyds en volstaan met ’n saaklike: “Aangename kennis, meneer Hofmeyr.”

Ryk Hofmeyr is korter as wat sy verwag het, so net onder die outydse ses voet sou sy dink, en ’n hele entjie korter as sy privaat sekretaris. Hy is ook nie so formeel soos Martin aangetrek nie. Hy dra ’n vaal olyfgroen chino, ’n bypassende geruite hemp en ’n mooi Italiaanse trui, wat hy nou uittrek. Sy moet egter toegee dat die bohaai oor sy voorkoms nie oordrewe is nie. Hy lyk inderdaad soos ’n tydskrifmodel, met die lyf van ’n tennisspeler eerder as ’n rugbyspeler: breë skouers en skraal heupe, swart hare wat natuurlik krul sodat ’n mens jou kon voorstel dat dit spesiaal vir ’n fotogeleentheid voorberei is, en fynbesnede maar ferm gelaatstrekke. Hy en Martin se kontrasterende voorkoms – die een blond en bloesend, die ander donker en ferm – wys mekaar ten beste af. Miskien is dit wat Martin bedoel het toe hy gesê het hulle is ’n goeie span, dink sy ’n oomblik geamuseer. Wat die twee mans deel, is die onwaarskynlike blou van hul blik. Hul oë is so ’n uitsonderlike blou dat dit amper ’n hipnotiserende ervaring is om so onder vier oë gespreek te word. Wat egter heeltemal afwesig is in Ryk Hofmeyr se blik, is die duidelike waardering wat Martin vir háár voorkoms en teenwoordigheid het.

“So, juffrou Le Roux, wat is u professionele indruk van hierdie werk?” vra Ryk Hofmeyr en beduie na die skildery terwyl hy sy een wenkbrou skepties lig. Louise weet die formele onderhoud het nou begin. Hulle gaan sit by die konferensietafel.

“Ek dink dit is pragtig,” sê sy dadelik, “een van die beste voorbeelde van Becker se werk wat ek nog gesien het, persoonlik of in afbeeldinge.”

“O,” sê hy oor haar kop teenoor Martin, “sy herken nogal die werk van Claude Becker. Of het jy haar die wenk gegee?”

Martin skud sy kop ontkennend en Louise voel hoe die verontwaardiging in haar ontplof.

“Meneer Hofmeyr,” sê sy met kille ontsteltenis, “ek is ’n kunsgeskiedkundige. Ek het Kunsgeskiedenis as hoofvak op universiteit geneem en daarna ’n nagraadse kwalifikasie aan ú alma mater, die Universiteit van Oxford, behaal. Ek kan nie insien hoe u dit kan oorweeg om my aan te stel as u so verras is dat ek die werk van een van die belangrikste portrettiste van die afgelope tweehonderd jaar herken nie!”

Die waarheid is dat, hoewel sy natuurlik van Becker geweet het, sy beslis nie die portret so onmiddellik sou kon plaas as James nie vir haar die verhaal van Becker se verbintenis met die Hofmeyrs vertel het nie. In sekere sin was Ryk Hofmeyr in die kol – sy het ’n wenk gehad, nie van Martin nie maar van James af, en uit nuuskierigheid het sy spesiaal nagelees oor Becker se werk en afbeeldinge van sy bekendste skilderye bestudeer. Dit is inderdaad die rede waarom sy so onmiddellik seker was dat dit ’n uitstaande voorbeeld van Claude Becker se werk is. Sy sou dít egter nooit teenoor hierdie onuitstaanbare, arrogante man erken nie.

Hy kyk haar koel, selfs ietwat lui aan. “My verskoning, juffroutjie, ek het net my verrassing uitgespreek, nie bedoel om u professionele bekwaamheid in twyfel te trek nie. Herken u dalk die besondere portret?”

“Nee,” sê sy, “ek het nog geen afbeelding van hierdie skildery teëgekom nie. Maar die Britse kunshistorikus Walters meld wel dat hy bevoorreg was om ’n besondere mooi portret deur Becker van mevrou Laura Hofmeyr van die Kaap de Goede Hoop te sien, voordat dit na Suid-Afrika geneem is. Ek wonder dus of dit nie die portret van u voorsaat is nie? Ek weet net nie hoekom u dan sou sê dat dit ’n ‘nuwe’ speelding is nie. Dit was tog seker al die tyd in u familie, of is dit ’n misplaaste veronderstelling?” Steeds laat sy nie blyk dat James vir haar die hele storie vertel het nie. Sy moet net onthou om hom te waarsku dat hy tog nie met die sak patats voor Ryk Hofmeyr uitkom nie.

“Ja,” sê hy, “dit is my oumagrootjie, Laura Georgiana Henrietta van der Byl Hofmeyr. Die skildery was om die een of ander rede jare der jare weggepak. Martin, met sy kunshistoriese agtergrond, het ook op ’n verwysing daarna afgekom en wou nie rus voordat ons dit gevind het nie. Dit kon nie hoër of laer nie. Hy het ’n hele speurtog en ’n soektog aan die gang gesit, deur ou dokumentasie en deur die kelders en solders van Schoongelegen. Daar is, soos jy sal sien, baie moontlike opgaarplekke in die huis en op die plaas. Uiteindelik het sy moeite hom geloon en het ons dit opgespoor. Dit is herstel en gister hier afgelewer. Ons vat dit eersdaags na Schoongelegen waar dit na al die jare ’n ereplek sal kry.”

“Was dit erg beskadig oor die jare heen?” wil sy weet.

“Nee, eintlik glad nie; dit moes net behoorlik skoongemaak word en ’n bietjie liefdevolle versorging kry.”

“Dit is pragtig gedoen,” sê Louise, “dit lyk of dit nou pas geskilder is. Wie het dit vir u gedoen?”

“’n Kontak van Martin,” sê hy en knik na sy privaat sekretaris, “volgens hom die beste restoureerder in die land, die gravin Falconeri.”

“Jy sal haar waarskynlik binnekort ontmoet. Sy doen heelwat werk in die versameling vir ons,” sê Martin.

Louise besef dat Martin en Ryk Hofmeyr ten spyte van haar uitbarsting praat asof sy reeds die pos gekry het. Die vraag is, wil sy vir die arrogante vent werk? Sal hy nie so op haar senuwees werk dat sy dit nie kan uitstaan nie? Aan die ander kant is die werk self, om na die versameling om te sien en orde daarin te skep, presies wat sy graag wil doen. En Martin is so innemend – en natuurlik baie aantreklik. James het mos gesê hy sal vir haar ’n groot steun wees.

Ryk Hofmeyr onderbreek haar gedagtes. “Hoe lyk dit, juffroutjie, in watter mate stel jy belang in die werk? Ek weet James het aan jou verduidelik wat ons wil hê: iemand wat die versameling behoorlik sal katalogiseer, sodat ons nie weer op speurtogte hoef te gaan om lank verlore kunsskatte terug te vind nie; iemand met die nodige kennis om dit behoorlik in stand te hou en as langtermynprojek te bestuur, hoewel laasgenoemde nie ’n deurslaggewende vereiste is nie; iemand om die versameling en sy geskiedenis, provenance, en so meer behoorlik te boekstaaf in ’n mooi boek met behoorlike illustrasies. Wat ek nie wil hê nie, is ’n fly by night, iemand wat ’n bietjie op ’n ryk man se wynplaas wil kom bly ‘vir die ervaring’, wat ’n lekker verposing soek ná haar verblyf in die buiteland, en ’n paar maande later soos ’n vlinder na die volgende aanloklikheid dartel. Ek soek commitment; ek soek ten minste ’n paar jaar van jou lewe.”

Die verontwaardiging oor sy kwalik bedekte aanklagte gee Louise die moed om reguit te antwoord: “Ja, ek stel beslis belang in die pos. Om na so ’n versameling om te sien, is presies wat ek graag wil doen. Na wat ek verneem en gelees het, en selfs net die bietjie wat ek hier in die kantore kon waarneem, is dit ’n wonderlike versameling en sal dit ’n voorreg wees om met die werke om te gaan. Maar ek het ’n paar vrae, selfs voorwaardes – dit kan u verras, meneer Hofmeyr. Ten eerste het niemand nog na ’n salaris verwys nie. Ek sal eers ’n geskrewe aanbod met ’n goed uitgestipte pakket moet sien voordat ek finaal kan besluit. Ek weet dat geld nie vir u ’n probleem is nie, maar hier waar ek my eerste pennies self moet verdien, is dit vir my nogal ’n beduidende faktor. Ten tweede, James het gesê u wil hê ek moet op die plaas inwoon. Nou ja, dit is seker wel, soos u te kenne gee, dat duisende meisies vanoor Suid-Afrika – ag, wat praat ek, vanoor die hele wêreld – sal spring vir die geleentheid om by die ‘Prins van Schoongelegen’ in sy ‘paleis’ in te trek, maar ék het ernstige voorbehoude! U praat van commitment – ja, ek is gereed om ’n aantal jare aan hierdie projek te wy, moontlik selfs om dit my lewenstaak te maak, maar ek is nie gereed om my hele lewe, my privaat sowel as professionele lewe, deur Schoongelegen se mense en eise te laat insluk nie. Ek sou dus verkies om op lang termyn nié in te woon nie. Ek kan nie ontken dat dit my nou baie goed sal pas nie – dit sal uiteraard gerieflik wees en ek hoef my nie te bekommer oor verblyf in die Kaap nie. Maar ek wil dit duidelik maak dat die instemming om in te woon nie ’n langtermyn verbintenis is nie. Ten derde is ek nie ’n ‘juffoutjie’ nie. Ek vind die aanspreekvorm onaanvaarbaar hovaardig en meerderwaardig.”

Sy is ’n bietjie geskok oor wat alles uitgekom het, maar besluit om haar man te staan. Sy sien dat Martin breed glimlag. Ryk Hofmeyr se gesig verraai geen uitdrukking afgesien van ’n baie beperkte belangstelling nie.

“U sal nou maar moet besluit of u my nog wil aanstel,” sluit sy met beslistheid in haar stem af, terwyl haar hart in haar keel klop.

“Wel,” antwoord Ryk Hofmeyr, klaarblyklik onverstoord, in ’n rustige stem, “u kwalifikasies, soos u self gemeld het, en u getuigskrifte is uitstekend. Veral aangesien een van hulle van James Hilton is, ’n persoon wie se oordeel ek absoluut vertrou, sal ek u wél graag wou aanstel. Natuurlik sal niemand verwag dat u sonder ’n geskrewe aanbod ’n finale yea of nay moet sê nie. Ek sal sorg dat u dit in die hand het voordat u môre op die vliegtuig klim. Wat die ‘juffroutjie’ betref – ek moet erken dat ek deur u klein postuur verlei is tot die aanspreekvorm.”

“Klein maar giftig,” waarsku Louise, “soos ’n knopiespinnekop, het my nefies altyd gesê.”

“Dit was – ’n onaanvaarbare, verstaan ek – toespeling op u voorkoms, eerder as u status,” vervolg Ryk Hofmeyr. “Dit sal nie weer gebeur nie.” Sy mondhoeke verraai geen glimlag nie en sy stem bly ernstig, maar sy is seker dat sy blou oë geamuseer blink. Martin draai sy kop heeltemal weg. Lag die twee mans nou saam vir haar? wonder Louise.

“Die probleem sal natuurlik opgelos word as ons mekaar op die voornaam aanspreek,” sê Ryk Hofmeyr, “en ek sal probeer om geen verkleinvorme te gebruik nie. Ons gemeenskaplike vriend James sal in elk geval nooit sulke formaliteit tussen ons duld nie.” ’n Klein glimlaggie verskyn nou wel om sy mond.

Louise glimlag verlig terug. Haar vermetelheid het beslis goeie vrugte afgewerp. Daar is nou groter gemaklikheid tussen hulle.

Die interkom gons en mejuffrou Ismael kondig aan dat ene meneer Wilson opgedaag het om Martin te spreek. Martin verskoon hom en verlaat die vertrek. Louise staan verlig op. Sy lei af die ietwat onkonvensionele onderhoud is verby.

Ryk staan ook op, maar voordat sy haar hand kan uitsteek, vra hy: “Het jy ’n afspraak vanaand en hou jy van opera?”

Ietwat oorbluf, antwoord sy: “Nee, ek het niks anders gereël nie. Ek het nie geweet wat julle alles van my sou verwag nie. En ja, ek is mal oor opera!”

“Ek het gedink dit kan nie anders met ’n goeie vriendin van James nie,” glimlag hy.

“Ek voel verantwoordelik om seker te maak jy geniet jou verblyf hier, en ek het kaartjies vir Così fan tutte vanaand in die Kunstekaap. Kan ek jou kom oplaai?” vra hy.

“Dit sal heerlik wees. Dit is een van my gunstelinge,” sê sy. “Maar ek het nie aandklere saamgebring nie.”

“My gunsteling ook, en jy lyk baie deftig, jy hoef niks anders aan te trek nie. So halfagt? Die operahuis is baie na aan jou hotel.”

“Dankie, ek sien baie daarna uit.”

Hulle skud hand en sy draai om om by die deur uit te gaan. Met die deur oop in haar hand, hoor sy hom weer met haar praat. Sy draai terug. Hy kyk haar vraend maar tog geamuseer aan.

“Ek is seker James het jou die hele storie van my oumagrootjie,” hy knik met sy kop na die skildery, “en Claude Becker vertel. Hy is te gefassineer daarmee om dit nie te gedoen het nie.”

Louise voel hoe sy bloos. Sy moet seker maar eerlik wees. “Ja,” sê sy en trek haar mond selfbewus verskonend, “hy het. Maar ek het regtig ook die opmerking oor die skildery in Walters se boek gelees – dit was nie versinsel nie.”

“Ek het geen oomblik daaraan getwyfel nie,” sê Ryk Hofmeyr en lag haar met sy blinkblou oë toe sodat sy skielik nie baie vas op haar voete voel nie.

* * *

Terug by die hotel verklee Louise haar in gemakliker klere en geniet ’n heerlike, ligte maaltyd by een van die hotel se restaurante. Met registrasie het die ontvangsdame aan haar verduidelik dat al haar etes by haar verblyf ingesluit is, solank sy dit in die hotel nuttig. Van der Byl-Hofmeyr sou alle rekeninge betaal.

By die hotel se concierge verduidelik sy dat sy na winkels met ou juweliersware, estate jewellery, soek en vra of hulle iets kan aanbeveel. Sy soek iets om darem haar voorkoms vir die aand se uitgaan so ’n bietjie te verglinster. Die vrou beveel dadelik aan dat sy in Langstraat moet opstap. “Baie van die antiekwinkels daar hou ook juwele aan.”

Sy bring ’n genotvolle middag deur. Afgesien van die antiekwinkels is daar ook heelwat tweedehandse boekwinkels en sy moet haar dwing om op haar horlosie te kyk om nie alle sin vir tyd te verloor nie. In ’n antiekwinkel met die reuk van vervloë tye en geparste roosblare vind sy presies wat sy soek: ’n pragtige ou halssnoer en oorkrabbertjies van markesiet wat amper soos diamantjies glinster.

Terug by die hotel kan sy net ’n halfuur rus voordat sy moet bad en aantrek vir die aand. Sy is verplig om dieselfde grys boucléromp van die oggend weer aan te trek, maar die baadjie verruil sy vir ’n silwergrys syhemp wat sy as alternatief vir die onderhoud saamgebring het omdat die Kaapse weer so onvoorspelbaar is. Hierby sal sy haar grys kassemier serape-mantel dra. Dit was ’n verjaardagpresent van James in Engeland, “omdat dit so mooi by jou oë pas”. Sy kam haar goudblink hare op in ’n Franse rol wat haar altyd elegant laat voel. Die nuwe halssnoer en oorkrabbertjies het presies die gewenste effek – hulle verleen net die nodige tikkie glinstering aan haar hals en ore. Wanneer sy haar in die spieël bekyk, dink Louise taamlik ingenome dat selfs Ryk Hofmeyr nie skaam hoef te voel om vanaand saam met haar gesien te word nie.

Sy gaan in die hysbak af en wag vir hom in die voorportaal. Dit is met iets soos kinderlike opgewondenheid dat sy deur die hotel se groot glasvensters die middernagblou Rolls-Royce sien wat in die hotel se aanrit opry. ’n Chauffeur klim uit en hou die deur oop vir Ryk Hofmeyr, deftig in ’n donker pak.

Toe hy by haar kom, sê sy reguit: “Ek het nog nooit in ’n Rolls-Royce gery nie!”

“Vanaand is die aand,” glimlag hy en vergesel haar na buite. Die chauffeur hou vir haar die deur oop en Ryk wag totdat sy haar in die luukse sitplekke tuismaak voordat hy omloop en aan die ander kant inklim. Hy stel haar aan Gerald, die chauffeur, voor.

Voor die operahuis word hulle met groot grasie afgelaai en die Rolls-Royce vertrek weer.

“Gaan Gerald nou al die pad terug na Schoongelegen en dan kom hy ons weer na die uitvoering haal?” vra Louise.

“Nee, dit is nie regtig te ver om van Schoongelegen af te kom nie, maar ons het ook ’n huis in Oranjezicht vir geleenthede soos dié, wanneer ons in die stad moet wees. Dit is net ’n paar minute soontoe. Gerald gaan nou ’n lekker aandete geniet en die aand voor die televisie deurbring. Dan is hy weer hier om ons op te laai wanneer die vertoning verby is.”

Hulle stap die trap op voor die Kunstekaap-teater en dan deur die glasdeure na binne. Onmiddellik flits ’n kameralig op hulle.

“O, my wêreld,” lag Louise, “as dit nou in die koerant ver-skyn, gaan almal wonder wie die nuwe vrou aan jou sy is. Min weet hulle ek is maar net ’n voornemende werknemer!”

“Die foto sal my reputasie as metgesel van skoonhede geen kwaad doen nie,” antwoord Ryk galant.

Louise voel hoe haar gesig effens warm word na die onverwagte kompliment.

Hulle neem hul plekke in kort voordat die ouverture begin. Louise sak terug in haar sitplek en laat die lieflike musiek oor haar spoel. Dan begin Mozart se komiese drama oor liefde en verraad. Louise wag vir haar gunsteling-arias in die eerste bedryf. In “Soave sia il vento” sing die ouer Don Alfonso en die twee jong susters, Dorabella en Fiordiligi, die twee jong mans – verloof aan die twee meisies – ’n goeie skeepsreis met gunstige winde toe. Die lieflike trio gly lig en melodieus oor die gehoor. ’n Mens hoor as ’t ware die boot deur die golwe vaar.

Die musiek is verruklik en Louise voel heeltemal betower. Skielik word sy bewus van ’n geamuseerde blik op haar. Verontwaardig loer sy na haar metgesel. “Is jy dan nie meegevoer deur die musiek nie?” vra sy toe die applous losbars.

“O, absoluut,” sê Ryk droog, en kyk belangstellend na die verhoog. Fiordiligi se “Come scoglio” – onveranderlik soos ’n rots is haar liefde vir Guglielmo, verklaar sy – is nog ’n hoogtepunt. En wanneer Ferrando weer oor sy liefde vir Dorabella sing, “Un aura amorosa”, vergeet Louise vir die oomblik van die man langs haar en ervaar net die genot van die hemelse melodie, waarin Mozart die idealiserende liefde van ’n man vir ’n vrou vasgevang het.

Pouse is dit vir Louise asof sy uit ’n ondersese droomwêreld opstyg en deur die watervlak van die werklikheid breek. Sy tuur lighoofdig om haar toe die gehoorsaal se ligte aanflits. “O, dit was onbeskryflik!” sug sy in vervoering.

“Kom ons gaan drink koffie,” sê Ryk en hulle beweeg stadig saam met die stroom mense uit die gehoorsaal na die foyer.

Terwyl hulle koffie drink, bespreek hulle eers die produksie en die gehalte van die sangers. Dan vra Louise uit die bloute ’n vraag wat sy nog die hele dag brand om te vra: “Ek weet van James dat jou oumagrootjie die Kaap – en haar familie – saam met Claude Becker verlaat het. Het sy nooit weer na Suid-Afrika teruggekeer nie?”

“Sy het wel,” sê Ryk. “Haar pa, sir Henry, het mos ’n beroerte gekry net nadat sy haar man – my oupagrootjie – verlaat het. Dit was in 1911, dink ek. Sir Henry was toe ’n algehele invalide, maar het nog vyf jaar gelewe. In 1916, dus in die middel van die Eerste Wêreldoorlog, is hy oorlede. Die Beckers het hulle aan die begin van die oorlog in neutrale Switserland, Claude Becker se vaderland, gevestig. Ek sê ‘die Beckers’, maar omdat my oupagrootjie nie van haar wou skei nie, is Laura en Becker nooit wettig getroud nie. Sy het blykbaar in die omgang as ‘madame Becker’ bekend gestaan, maar wettig het sy altyd mevrou Hofmeyr gebly. Dit was destyds moeilik om te skei en omdat my oupagrootjie die onskuldige party was, kon sy hom nie vir ’n egskeiding dagvaar nie; hy moes háár dagvaar en hy het geweier om dit te doen.”

Louise knik simpatiek – sy weet nie watter party van die driehoek sy die jammerste kry nie.

“Nou ja, na haar pa se dood het hulle weer hier in die Kaap opgeduik. Sy het ’n saak aanhangig gemaak om as sy enigste dogter ’n deel van sir Henry se boedel te bekom. As ’n vrou wat in sonde met ’n kunstenaar saamgeleef het, is ek bevrees, het sy nou nie juis geloofwaardigheid hier in die Kaap de Goede Hoop gehad nie. Die hof het beveel dat sir Henry se testament gehandhaaf word. Die boedel is deur haar man, Alexander Hofmeyr, beheer en sou dan oorgaan na hul twee seuns. Sy het nie ’n pennie gekry nie. Haar betoog dat die testament voor haar skeiding van haar man gemaak is en dat haar pa haar nooit sonder vermoëns sou gelaat het nie, het nie opgegaan nie. Die hof het besluit as haar pa sy boedel reeds voordat sy haar man verlaat het, aan hom toevertrou het, sou hy dit des te meer wou doen nadat sy met die kunstenaar weggeloop het en haar kinders agtergelaat het. Die Beckers is toe weer druipstert hier weg, terug na Switserland. Daarna het hulle, sover ek weet, nooit weer teruggekeer nie. Die twee seuntjies het ook nooit weer hul ma gesien nie.”

“Het Laura en Becker materieel swaar gekry?” vra Louise.

“Nie aanvanklik nie. Soos jy weet, was Becker ’n baie suksesvolle kunstenaar en hulle kon heeltemal goed lewe, hoewel nou nie in die weelde waaraan sy saam met haar pa gewoond was nie. Maar die storie het nogal ’n nare nadraai. ’n Paar jaar later het Becker die een of ander geesteskwaal ontwikkel. Hy is in ’n sanatorium opgeneem, en sy broer het beheer oor sy sake verkry. Omdat Laura nie wettig met hom getroud was nie, het sy geen wetlike aanspraak gehad nie.”

“Die arme vrou! Wat het van haar geword?”

“Sy het blykbaar baie swaar gekry, maar later het dit weer beter gegaan. Ek sal jou miskien eendag die dokumentasie daaroor in Schoongelegen se biblioteek wys. Dit is baie interessant. Sy is in 1935 in Genève oorlede.”

Die klokkies in die teater begin lui; hulle sit hul koppies neer en beweeg terug na hul sitplekke.

Louise verdiep haar in die tweede helfte met sy donker sy wat dié betrokke produksie duidelik na vore bring. Hoewel die gehoor heelwat lag, veral vir die bediende, Despina, se manewales, word hulle ontstellend gekonfronteer met die feilbaarheid en verraad van die swakke vlees. Don Alfonso het ’n weddenskap met die jong mans aangegaan dat hul geliefdes nie aan hulle getrou sou bly as hulle weggaan nie, en dit word duidelik dat hy die weddenskap gaan wen. Selfs Fiordiligi, wat haar liefde vir Guglielmo so selfversekerd met ’n rots vergelyk het, weifel en val uiteindelik voor die romantiese aanslag van haar “Albaniese” minnaar, in werklikheid haar suster se vermomde verloofde. Die mans word geheel en al ontgogel. Aan die einde is daar sprake van vergifnis, maar dit is nie heeltemal duidelik wie by wie gaan uitkom nie, en die verhaal laat maar ’n wrang smaak in die mond. Die produksie, stem Louise en Ryk uiteindelik saam, was egter uitstekend.

Toe hulle uitstap, reën dit weer en Gerald wag met sambrele vir hulle by die teater se uitgang. Hulle stap af na die groot donkerblou motor en Louise sak genoeglik terug in die sagte sitplekke. Ryk gooi ’n kniekombers oor haar skoot. Wat ’n lewe, dink sy behaaglik, terwyl die voertuig stil-stil deur die nat strate gly. Rykdom is uiters verleidelik! Ryk staar by die motorvenster uit. Dit lyk nie of hy van haar teenwoordigheid bewus is nie. By die hotel klim hy egter uit en vergesel haar tot in die foyer.

“Dit was vir my ’n wonderlike aand,” sê sy opreg. “Ek waardeer jou gasvryheid ontsettend.”

“Ek het dit ook geniet,” sê Ryk. Anders as vroeër die aand, merk sy egter weer iets neerbuigends, meewarigs in sy houding op toe hy vir haar knik en terug na sy motor uitstap.

Louise sien deur die groot, nat foyervensters hoe Gerald spring om vir hom die deur oop te hou terwyl hy inklim. Sal ek jou ooit kleinkry, meneer Hofmeyr? wonder sy. Die een oomblik sjarmant en vriendelik, die volgende hovaardig en meewarig. Jou voet, besluit sy skielik vererg, ek sál my weg deur hierdie situasie en hierdie wêreld vind sónder dat jy my ontstel.

In haar kamer vind sy dat sy te opgewen is om aan die slaap te raak. Sy haal haar sketsboek uit, wat sy altyd as ’n soort terapie by haar hou, en begin met ’n potlood skets. Dit is Ryk Hofmeyr se fynbesnede gesig wat onder haar vaardige hande gestalte aanneem. Die swart krullerige hare om die gladde voorkop, die fyn geboë neus, ferm ken, mooi mond. Met die grys potlood op die wit bladsy kry sy dit reg om iets van die besonderse blik van die helderblou oë voor te stel. Toe die kop en skouers voltooi is, vind sy dat sy langsaan nog ’n gesig begin teken. Dit is ’n seunsagtiger gesig, tog veronderstel dit ’n groter gestalte, ’n blonde kuif wat oor die hoë voorkop val, ’n sagte lyn by die wange maar ’n sterk ken. Weer worstel sy ’n bietjie met die presiese blik van die oë. Terwyl Ryk Hofmeyr se uitdrukking een van geslotenheid, ondeurdringbaarheid, onpeilbaarheid is, is daar op Martin Lander se gesig ’n sekere welwillendheid, amper weerloosheid te bespeur.

Wat vandag ook al oplewer, dink sy terwyl sy die sketsboek wegpak toe die vaak haar begin oorval, dit is wragtig twee mooi mans wat sy ontmoet het – dit is vir seker. En twee teenpole: die een so deursigtig vriendelik en aangenaam; die ander kan haar lelik die joos in maak, maar tog ook baie sjarmant wees. Sy sug en maak haar oë toe.

* * *

Die volgende oggend sit Louise na ontbyt met haar bagasie in die foyer en wag. Sy hoop hulle het gereël dat iemand haar lughawe toe neem. Dit is wat sy afgelei het uit die aanwysings wat sy in Bloemfontein ontvang het, maar niemand het weer daarna verwys nie.

Sy sien ’n silwergrys Renault Scenic voor die hotel stilhou en spring verlig op. Dit is die lenige gestalte van Martin Lander wat uitklim. Sy gesig helder op toe hy haar sien. “Ek het sommer self gekom om jou lughawe toe te neem,” sê hy. “Hier is jou werkaanbod.” Hy druk ’n verseëlde wit koevert in haar hand. Dan tel hy haar tas en handbagasie op en begin uitstap na sy motor toe. “Kom, ons kan in die motor gesels.”

Dit neem skaars twintig minute van die stad na die Kaapse lughawe. “Ek hoor Ryk het jou gisteraand opera toe geneem,” sê hy. “Het jy dit geniet?”

“O, ontsettend; dit was wonderlik!” antwoord Louise.

“Die opera of die geselskap?”

Verbeel sy haar of is daar ’n tikkie norsheid in sy vraag? Kan dit wees dat Martin ’n bietjie jaloers is op sy baas – en dit oor haar? Hulle het mekaar almal gister die eerste keer ontmoet!

“Die produksie was fantasties, en Così fan tutte is in elk geval my gunsteling onder Mozart se operas; my gasheer was – ewe galant,” antwoord sy versigtig.

Sy kan sien hoe hy ontspan na die omsigtige, nie-oordadige antwoord. Hy draai sy kop heeltemal na haar sodat sy ’n bietjie senuweeagtig oor die verkeer word, en glimlag stralend.

“Maak oop die koevert, sodat jy kan sien of jy by ons wil kom werk,” moedig hy haar aan.

Sy sou verkies om dit in privaatheid te doen, maar sien nie kans om hom teleur te stel nie. Sy skeur die koevert oop en lees die uiteensetting op een bladsy. Die betrokke bedrae slaan haar asem weg. Dit is meer as wat sy ooit sou kon droom en die aanbod sluit ook ’n motor in. Dit is duidelik dat as Ryk Hofmeyr iets wil hê, hy nie baie dinge in sy pad laat staan nie.

“Die salaris is meer as wat ek sou kon droom,” antwoord sy eerlik maar versigtig, “maar ek wil darem net die hele opset met my ma bespreek. Sy is my beste raadgewer.” Na ’n oomblik stilte gaan sy voort: “Julle mag intimiderend wees, maar ek dink ek sien kans vir julle.”

Martin Lander flits weer sy skitterende glimlag na haar kant toe, en dié keer glimlag sy terug.

Vertrou nie op prinse

Подняться наверх