Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen - Страница 6

Оглавление

Natiki

’n Namkwalandse storie

Die Kalahari-aandson sak weg agter die doringbome. Die jagters kom terug uit die veld. Op die werf lag en gesels mense.

Natiki se twee susters en haar ma vryf hulle lywe in met vet. Hulle maak hulle mooi, want dis vanaand die dans van die volmaan.

Natiki se hart brand om ook na die groot dansparty te gaan, maar toe sy haar ma vra of sy dan nie ook kan gaan nie, sê haar ma net: “Gaan haal die bokke en sorg dat jy hulle voor donker by die skerm het. Bring hout saam en maak ’n groot vuur om die wilde diere weg te hou.”

Haar ma en haar twee susters het baie sleg gewerk met Natiki. Hulle was jaloers op haar omdat sy mooier as die twee oudste susters was, en hulle was bang dat ’n jong jagter dalk eerste in háár sou sin kry op die dansparty.

Natiki is toe maar veld in. Toe sy met die bokke op die werf kom, is haar ma en haar susters al weg.

Sy sit die handvol ystervarkpenne wat sy opgetel het op die kookskerm neer. Sy breek die hout, sy pak die vuur aan en maak dit brand.

Toe dit klaar is, smeer sy haar lyf in met vet totdat haar vel nes koper lyk. Sy borsel haar hare met ’n kriebossie uit en sy smeer ’n mengsel van fyn geel houtbas en vet aan haar gesig. Om haar nek het sy haar kraletjies van volstruiseierdop. Sy ryg stringe kraletjies in haar hare en sy maak stringe uitgedroogde springbokoortjies met sade in aan haar bene vas.

Heel laaste steek sy die ystervarkpenne in haar velsakkie.

Toe die maan al hoog sit, vat sy die pad. Soos sy loop, kap sy af en toe ’n ystervarkpen in die grond sodat sy die pad terug kan kry.

Toe sy op die hoogtetjie kom en die groot vure van die dansparty sien brand, raak sy ’n bietjie skrikkerig. Wat sal haar ma en haar susters sê? Maar toe ruik sy die vleis op die kole en haar voete dans hierdie kant toe en daardie kant toe, en die springbokoortjies sjirr-sjirr aan haar enkels.

Toe sy op die werf kom, bly sy eers eenkant staan. Daar is haar ma en haar susters, sien sy. Maar húlle wonder saam met die ander vroue wie die meisie is wat so alleen en vreemd by die dansparty aangekom het.

Natiki gaan staan by die vroue wat sing en hande klap. Sy sing saam, sy klap haar hande, en haar voete is lig. ’n Jong jagter lag met haar toe hy verbydans. Sy oë bly op haar.

Toe dit baie laat word, begin gaap Natiki se susters sulke lang-lang gape. Dit laat hulle nog leliker lyk. Natiki se ma kyk die ding so en sê toe vir hulle: “Vat nog van die vleis vir julle, dan loop ons huis toe.” En hulle is daar weg.


Natiki het nog lank saam met die ander vroue gesing en hande geklap.

Toe almal uitgeval het, kom die jong jagter na haar toe. “Ek loop saam,” sê hy.

Soos hulle al met die ystervarkpenne langs terugloop huis toe, vertel Natiki hom alles van haar twee susters en haar ma wat so sleg met haar werk. En hoe kwaad haar ma sal wees as sy agterkom Natiki het na die dans toe weggeloop.

Toe sê die jagter: “Dan vat ek jou van hulle af weg. Ek sal self met jou ma oor die groot saak praat.”

Natiki se ma en haar susters hoor die stemme van ver af aankom.

“Dis seker sy wat saam met een van die jagters huis toe kom,” sê die jonger suster.

“Nee, wie sal saam met háár loop?” vra die oudste suster, wat baie jaloers is op Natiki.

Skielik staan Natiki en die jong jagter voor hulle in die rooi gloed van die vuur. Nou lyk sy eers mooi.

“Jou nare kind, wat het jy aangevang?” begin haar ma sommer te raas.

Toe die jong jagter sien hoe Natiki langs hom begin bewe, gaan staan hy voor haar ma. “Ek vat Natiki vanaand vir goed weg,” sê hy. “En ek sal sorg dat haar potte nooit leeg is nie.”

“Jy sal sien hoe sleg sy is!” raas haar ma nog vir oulaas en spring op om Natiki en die jong jagter van mekaar te skei. Maar Natiki is te rats vir haar. Sy spring vinnig weg en gaan staan agter die jagter. Nou kan haar ma niks meer doen nie.

So is Natiki toe weg saam met die jagter na die werf van sy eie mense, ver daarvandaan.

En elke agtermiddag as haar ma en haar susters met groot dragte hout op hul rûe huis toe beur, brom die twee susters: “Natiki, Natiki, eendag sal ons jou kry . . .”

Maar Natiki was vrolik en gelukkig. Sy het goed vir haar man en kinders gesorg. En dit was nes die jagter gesê het: daar was altyd vleis in haar potte.

(Uit: Die Madiba-boek. Tafelberg-Uitgewers. 2002)

Vertaler: Glaudien Kotzé

Gesels in julle groepe oor die volgende:

1.Aan watter Europese storie laat hierdie verhaal julle dink?

2.Bespreek die ooreenkomste en die verskille.

Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal

Подняться наверх