Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen - Страница 7

Оглавление

’n Volksverhaal of legende is ’n verhaal wat nie op die werklikheid berus nie, maar deur mense van geslag tot geslag oorvertel is.

•Die doel van ’n volksverhaal is om die gehoor te vermaak.

•Dit is gewoonlik baie kort en maak baie van dialoog en handeling gebruik.

•Dit word in die verledetydsvorm geskryf.

•Frases en liedjies word herhaal om belangrike dele in die verhaal uit te lig.

•So ’n legende gee dikwels ’n verduideliking van waarom dinge vandag is soos dit is.

•Dit dra dikwels ’n lewensles oor.

Antjie Somers

Andries Somers was ’n voorman onder die Strand se vissers.Wie kon ’n treknet soos hy vasvat? Wie kon ’n spaan soos hy laat sak? Nee, niemand nie. En dapper! Waar iemand ingevaar gekom het, was Andries Somers eerste by. Nes ’n see-eend kon hy swem, en talle drenkelinge het hy land toe gebring as die ander al lankal moedverlore was.

Maar afguns is daar altyd, en skoorsoek is g’n kuns nie. Eendag op die strand pak ’n klomp vissers hom. Andries laat nie met hom speel nie. Hulle kantel voor sy vuiste, maar een bly stil lê waar sy kop ’n klip gevang het. Andries moet vlug, anders hang die mense hom dalk op.

Hy kry ’n sisrok van sy suster. Hy bind ’n kopdoek om. Hy haak ’n mandjie oor sy arm. Toe kies hy koers, diep die binneland in.

Op ’n plaas agter die berge gaan verhuur hy homself.En hy werk weer soos net hy kan. Van die voordag staan hy bak tot dit laat word in die aand. Wingerd spit of pars of mis ry – maak nie saak wat hulle doen nie. Andries Somers word die voorman op die plaas.

Maar die afguns het fyn ore en ’n storie baie tonge, en voor lank skinder die mense kliphard onder mekaar.

“Vertel ons, Andries, van die sisrok wat jy in jou huis wegbêre,” por die ene.

“En die kopdoek, Andries Somers? Of is jou naam dalk eintlik Antjie?” pla ’n ander.

“Antjie Somers! Antjie Somers!” koggel hulle.

Andries Somers laat sy kop sak en maak of hy nie hoor nie, want naderhand kom daar weer nuwe rusie. Maar die derde dag toe kan hy hul geterg nie meer verduur nie. Daardie aand pak hy sy bondel en maak dat hy daar wegkom.


Nooit weer keer Andries terug nie. Nêrens slaan sy spoor weer uit nie. Hy het soos ’n gees verdwyn.

Maar al meer vertel die kinders wat saans teen die berg gaan hout soek van ’n ou vrou wat hulle verjaag.

“Sy’t ’n rooi kopdoek,” sê een kind.

“Sy’t ’n sisrok met groot strepe.”

“Sy’t ’n lang mes.”

“En ’n mandjie.”

“En ’n streepsak oor haar skouer.”

“Sy wil ons vang en in haar sak prop!” kerm hulle.

En die grootmense skud kop.

“Dit is daardie Antjie Somers,” sê hulle onder mekaar.

Andries Somers raak vergete: dapper Andries, flukse Andries, Andries wat altyd kon voorvat. Maar een storie word al luider, en word geslagte lank oorvertel: “Antjie Somers! Antjie Somers! Antjie Somers gaan jou vang!”

(Uit: Die mooiste Afrikaanse Sprokies. Human & Rousseau. 2003)

Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:

1.Lees weer die kenmerke van volksverhale. Watter kenmerke is in hierdie verhaal van toepassing?

2.Andries Somers was baie goed in sy werk. Watter taak kon hy die beste doen waar ander mense al tou opgegooi het?

3.Andries kon baie goed swem. Watter tipe beeldspraak gebruik die skrywer om te beskryf hoe Andries swem? Skryf hierdie voorbeeld van beeldspraak neer.

4.Wat word met die volgende sinne in paragraaf 2 bedoel?

•“. . . , en skoorsoek is g’n kuns nie.” (par. 2)

•“Andries laat nie met hom speel nie.” (par. 2)

•“Hulle kantel voor sy vuiste.” (par. 2)

5.Nog ’n kenmerk van volksverhale is beeldspraak soos vergelykings, metafore en personifikasie wat gebruik word. Soek voorbeelde van beeldspraak.

6.Wat beteken dit as ’n mens sê ’n storie “word geslagte lank oorvertel”?

7.Watter lewensles leer julle uit hierdie verhaal?

Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal

Подняться наверх