Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen - Страница 9

Оглавление

Prinses Untombinde

Fanie Viljoen

“Op die grens van die land,” fluister die ou man vir die groepie Zoeloe-seuns, “is daar ’n poel water. Diep en donker . . . maar beeldskoon. Die water in die poel is soeter as enigiets wat mens al ooit gedrink het. Maar dit is nie ’n plek vir mense nie. Dit is die blyplek van ’n monster!”

Die seuns snak na hul asems. Hul oë is skielik groot. Maar hul aandag word vinnig afgetrek toe hulle ’n takkie hoor kraak.

“Wie is dit?” vra een.

Hulle sien net hoe iemand vinnig weghardloop. Maar hulle doen niks aan haar nie, want sy is prinses Untombinde, die koning se mooiste dogter.

Untombinde se asem jaag. Sy kan nie glo wat sy gehoor het nie. ’n Beeldskone poel met soet water? Sy wil gaan kyk. Nou dadelik! Sy is tog nie bang vir ’n monster nie. Dis dalk net ’n ouvroupraatjie!

“Nee, nooit!” roep haar pa, koning Usikulumi, toe hy van haar plan hoor. “Jy bly weg daar, hoor jy vir my?”

Untombinde knik stil. Sy weet sy moet haar pa gehoorsaam, maar sy kan nie van die poel vergeet nie. Sy dink elke dag daaraan. Sy droom selfs daarvan. Sy wíl die plek sien.

Die volgende jaar vra sy haar pa weer of sy kan gaan. Dalk stem hy nou in. Maar haar pa is vasbeslote. Sy mag nie gaan nie.

Nog ’n jaar gaan verby. Steeds bly die poel in Untombinde se gedagtes.

Weer gaan vra sy haar pa. Die koning kan sy dogter se geneul naderhand nie meer hanteer nie. “Nou ja, toe! Gaan kyk hoe lyk dit by die poel. Maar wees tog versigtig, my kind.”

Untombinde wil uit haar vel spring, so gelukkig is sy. Sy kry nog tweehonderd jongmeisies om saam met haar te gaan. Hulle dans en sing uitbundig op hul reis na die gevaarlike poel.

“Wie van ons is die mooiste?” vra die meisies toe hulle ’n paar handelaars op die pad teëkom.

“Untombinde, natuurlik!” roep hulle. “Sy is so mooi soos die voëls wat in die riete speel.”

Toe sy dit hoor, is prinses Untombinde baie bly. Maar sommige van die meisies wat dit hoor, word sommer vies. Hulle gryp die handelaars en vermoor hulle op die plek.

Voor sononder kom Untombinde en die meisies by die poel aan. Hulle loop nou stadig. Versigtig. Hulle kyk om hulle rond. Dit is regtigwaar die mooiste plek wat hulle al ooit gesien het. Die lug hier is heerlik koel. Die water blink asof die son self daaruit skyn. Groen plante omring die poel en bosse blomme hang teen die kranse af.

Warm geloop, haal die meisies hul koper arm- en nekbande af. Hulle trek hul klere ook uit en spring in die poel se water. Hul vrolike stemme eggo teen die vertes. Hulle plas en speel totdat hulle moeg is.

Hoekom is die mense dan so bang vir die plek? wonder Untombinde nog. Toe hoor sy een van die meisies benoud roep: “Waar is ons klere?”

“Ons arm- en nekbande is ook weg!” roep nog een toe sy uit die poel klim.

Die deurmekaar stemme warrel al om Untombinde. Sy sien haar klere is ook weg.

“Wat gaan ons doen?” roep een van die meisies.

“Wie het dit gevat?” vra nog een.

“Daar is niemand anders as ons hier nie.”

Skielik daal ’n bo-aardse stilte om hulle neer. En dan sê een: “Dis die monster wat in die poel bly. Hy het ons goed gevat.”

Die meisies begin gil van vrees. Waar is hy? Waar is die monster? En kan daar werklik iets lelik bly op so ’n mooi plek?

“Ons moet vir hom sê ons is jammer ons het sy blyplek onteer,” roep ’n benoude stem. Een-een begin die meisies om verskoning vra. En een-een kom hulle klere, arm- en nekbande terug.

Maar Untombinde trek haar skouers trots terug. “Ek is ’n prinses. Mooier as enigeen van julle. Ek vra vir niemand om verskoning nie!”

Meteens is daar ’n onaardse gerammel. Die water van die poel begin borrel. Donkerte val oor die rotswande, die plante, die water. Voëls vlieg verskrik op en verdwyn.

Die meisies gryp mekaar vas. Vrees brand in hulle oë.

En dan styg iets uit die water. Dis ’n kop oortrek met alge en wiere, oë wat woedend blits en ’n oop, honger bek.

Voor Untombinde kan keer, skiet die monster se hand na haar toe uit. Dit gryp haar vas, so styf, so styf dat sy nie eens kan beweeg nie. En voor sy kan gil, stop die monster haar in sy mond en sluk haar in.

Die koning is op sy knieë toe hy die nuus hoor. “Ek het geweet ek moes haar nie laat gaan nie. My prinses! My mooiste prinses!” Dae lank huil hy oor Untombinde. En toe besluit hy: Ek sal wraak neem.


“Kry my sterkste krygers! Almal van hulle!” beveel hy. “Stuur hulle na die poel toe. Maak daardie monster dood.” Met skerpgemaakte spiese swerm die soldate oor die vlaktes. Hulle voete dreun dat jy hulle van ver af kan hoor.

By die poel begin die water weer borrel. Mis rol oor die klippe. Blomme vou hul kelke toe. Donker sak neer . . . en die glimmende oë van die monster verskyn bo die water.

Die krygers kom skaars by die poel aan toe die bloedbad begin. Een na die ander vreet die monster hulle op. Hulle is magteloos teen sy vreeslike krag.

En toe alles weer stil is, staan net die monster daar by die poel. Om hom lê die oorblyfsels van die krygers. Maar die monster het nog nie genoeg gehad nie. Woedend blaas hy deur sy neus. Sy oë blits. “Hoekom los hierdie mense my nie in vrede nie?” grom hy. “Ek sal hulle almal van kant maak!” Hy gee die eerste tree. Sy maag is swaar van al die mense wat hy verorber het, maar dit pla hom nie. Hy sukkel voort, reguit na die kraal van die koning. So ver as wat hy loop, eet hy alles wat voorkom. Mense, honde, beeste.

Sy maag word swaarder en swaarder, maar hy loop verder. Teen die tyd dat hy voor die koning staan, kan die monster skaars beweeg.

“Dis jy!” roep die koning toe hy in die monster se wrede oë kyk. “Jy het my dogter se lewe geneem.”

Die monster grom een keer hard. Die grond bewe onder die koning se voete, maar hy staan sterk. Hy lig sy ken dapper. En in sy hande blits daar nou ’n assegaai. Hy tree vorentoe. Die monster wil keer, maar te laat . . . die lem kerf hom oop – van sy keel tot by sy maag. En meteens bondel ’n klomp lywe na buite.

Untombinde en die krygers lê eers net daar in die stof. Toe begin hulle stadig beweeg . . . weg van die dooie monster af.

Opmerking: In Untombinde se verhaal is die monster se naam “Isikqukqumadevu”. Dit word nie genoem in die verhaal nie om lees te vergemaklik.

Woordverklarings

alge – waterplant

assegaai – Zoeloe-spies

onteer – beroof van eer; skend

oorblyfsels – reste, dit wat oorgebly het

teëkom – ontmoet

vasbeslote – jy het ’n vaste besluit geneem; jy gaan nie jou besluit verander nie

wiere – waterplant

Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:

1.Wie is die hoofkarakter in hierdie verhaal? Gee bewyse.

2.Hoekom wil Untombinde se pa haar nie na die poel toe laat gaan nie?

3.Wat gebeur met Untombinde?

4.Hoe voel die koning toe hy hoor van sy dogter se dood?

5.Werk die koning se plan om wraak te neem? Motiveer jou antwoord.

6.Watter bekende sprokie eindig amper soos hierdie verhaal?

7.Watter les kan jy leer uit die verhaal?

Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal

Подняться наверх